Читать книгу Inboekeling - Hans du Plessis - Страница 6
2
Оглавление“Patrys! Maria! Waar is julle?” Die weduwee Coetzee se bekommerde stem. “Is daar fout?”
“Hier is ons, Ma,” antwoord Maria. “Niks fout nie, net Niklaas Opperman.”
“Wat draai julle so? Julle weet mos ek sal bekommerd raak. ’n Wilde dier of ’n rondloper kan julle iets aandoen.” Die weduwee Susanna Coetzee buk onder die laaste lae takke deur en steek uitasem vas. Verbaas bekyk sy die eienaardige groepie voor haar in die oop kol. Sy trek haar asem in en sit haar hande oor haar mond. Die blou oë rek. “Wat is hier aan die gang?” ’n Mens kan sien sy is die Coetzee-susters se ma, dieselfde blonde hare, fyn wipneusie en die mooi mond en wit tande. Skaars veertig.
“Hierdie man het Engela afgeloer toe sy bad.”
“Niklaas lieg, Ma. Hy het die vreemdeling van agter betrek en sommer ’n riem om sy nek gegooi. As Ma my vra, dink ek Niklaas is kwaad omdat hy nie self kon loer nie. Die vreemdeling was seker in sy pad.”
“Jy praat twak,” reageer Niklaas.
Die weduwee sidder, lyk of sy sitplek soek. “Wie is jy?” vra sy vir Japie toe sy eers haar gevoelens effe onder beheer het.
“Japie, Tante, Japie Niemand van Elders.”
“Wat maak jy hier?”
“Ek vlug, Tante.”
“Sien,” sê Niklaas.
“Wag nou, Niklaas. Vlug vir wie, Japie?”
“Hulle het Ouboet doodgeskiet.” Die snik in Japie se stem en die verwarring in sy oë oortuig Susanna Coetzee daarvan dat sy hom kans moet gee om te verduidelik.
Sy weet wat dood is.
Sy en haar oorlede man het minder as ’n jaar gelede eers op Hier kom bly. Eintlik het hulle toe weer teruggekom. Hulle is vroeër oor die berge; hulle het beplan om op hulle eie ’n bestaan elders te gaan soek.
“Trek net oos oor die berge, see se kant toe, dít is eintlik die beloofde land waarvan hulle ons in die kolonie vertel het,” was die algemeenste raad.
En dit sou seker kon gewerk het, maar só maklik was dit nie, veral nie toe die Engelse dreig om die gebied te annekseer nie. Hulle het dan juis weggetrek om onder die Engelse uit te kom. Toe kom die Coetzees weer terug Hier toe.
Die Hierders was dankbaar, want Pieter Coetzee, het ons geweet, was ’n goeie ystersmid en smede was skaars. Hier het ’n smidswinkel bitter nodig gehad. Voordat hy vir Susanna en die dogters ’n huis begin bou het, het hy die smidswinkel opgesit en met die werk begin. Ons wawiele kon weer draai, stukkende implemente kon weer herstel word. Hy kon selfs gewere regmaak.
Toe, seker so ses maande terug, het rondlopers hom een laatmiddag doodgeskiet toe hy op hulle afkom waar hulle beeste probeer roof.
Die patriarg het ’n kommando bymekaar gekry om die bende te gaan straf en die gesteelde vee terug te kry. Hulle het die spoor gevolg, maar die rowers is anderkant die seekoeigat deur die rivier en die spoor het weggeraak.
Die dood was erg, veral vir die Coetzee-vrouens. Susanna het alleen agtergebly met haar twee opgeskote dogters en Patrys. Sy het nie geweet watter kant toe nie. Eintlik het sy opgehou dink, want die hartseer, het sy gesê, was vir haar te erg. As dit nie vir die drie dogters was nie, weet sy nie mooi nie.
Die sieleherder het ernstig met haar kom praat. Haar probeer troos, maar dit het ’n hele paar maande geduur voordat sy kon aanvaar dat hulle alleen op Hier moet bly. Sy sou wel iemand kry om die winkel vir haar te bedryf. Die gebou was klaar en die gereedskap was hier. Dit was immers haar eiendom.
“Ons moet net ’n goeie grofsmid soek,” het die patriarg getroos.
Waar kry ’n mens ’n betroubare smid? Dit is die probleem met ’n klein gemeenskap soos ons s’n: net een skakel raak weg, en die ketting trek nie meer nie.
“Ma?” hoor sy Maria se stem, en Susanna raak weer bewus van die werklikheid hier om haar tussen die bome.
Toe praat die weduwee Coetzee weer met Niklaas: “Klim van jou perd af, Niklaas. Jy moor die arme man. Maak hom los, hy is nie ’n inboekeling nie. Maak hom los, laat ons hom na jou pa toe vat.”
“Ek sal die lus net bietjie skietgee, ek kan hom nie net losmaak nie, hy sal weghol.”
Dit is asof Japie diep na sy asem snak toe Niklaas die riem se punt laat skiet en Maria tot by hom kom om die lus oper te trek, die knoop weg van sy keel af. Dis al asof die vreemdeling self skugter wegdeins van die meisie af, bang lyk vir almal om hom wat so vreemd is.
Omdat ons op Hier nie juis aan geweld gewoond is nie, is ons ook nie oormatig sku vir mekaar nie. Nou nie dat ons nooit handgemeen raak nie. Ons is ook maar net mense, en ons stam darem uit die harde voorpos uit. Party van ons trek al ’n stuk of tien jaar in waens en tente en onder seile agter ons voormanne se neuse aan. Miskien kom ons ook maar so goed met mekaar klaar omdat ons moet. Dit is ons manier van oorleef, ons voortbestaan waarin elkeen sy eie plekkie verstaan; elkeen pas iewers in die groter geheel van Hier in.
“Ons is soos die miere,” sê die patriarg altyd wanneer hy ’n struweling moet oplos. “Julle het mos al gehoor Meester sê die Woord sê ons moet na die miere loop kyk en wys worre. Julle kan mos ’n kolonie miere, as een die pad byster raak, tou die hele spul agter hom aan en die vet koningin vrek van die honger. Almal is eentlik een, dis hoe miere oorleef.”
“En in die liefde,” voeg die sieleherder se mooi vrou dan gewoonlik by.
Maar Japie Niemand is ’n inkommer, hy sal nie verstaan nie. Sy ontmoeting met Niklaas moes vreesaanjaend gewees het, want as jy Niklaas nie ken nie, gaan jy vir sy manier van doen skrik. Aan Japie se dowwe oë en sy oop mond kan ’n mens sien dat hy iets nie so maklik met sy verstand sal kan uitwerk nie. ’n Mens wonder wat is die seun se storie. Hoe daag hy op ’n dag sommer uit die bloute hier op Hier op? Hy is nog nie eers behoorlik man nie.
“Kom, ons gaan praat met Niklaas se pa,” sê Susanna die weduwee. “As jy op soek is na werk, is hy die regte man, want een van sy volk het juis laas week gedros. Kom, Japie.” Susanna Coetzee beduie hom vriendelik agter haar aan en vat liggies aan die riem.
Maria roep vir Engela, en Engela wink vir Patrys, en hulle volg die ander uit die oop kol uit, deur die plaat bome. Toe lê Hier se opstalle voor hulle, rivier se kant toe. Meer as een werf.