Читать книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou - Страница 4
HOOFSTUK 1
ОглавлениеWanneer bloed by badkrane uitkom, weet ek dis sulke tyd. Dit help ook nie juis om my oë toe te druk nie. Dis hoekom ek maar van my bed opgestaan het en my psigiater gebel het; vir haar gesê het ek het selfmoordgedagtes en dat ek my weer begin sny het. Sy het gesê ek moet dadelik hospitaal toe kom, sy sal reël en of daar iemand is wat my kan vat.
Gysbert het my Oranjehospitaal toe gebring. Ek is met my kar Checkers toe waar hy werk, en in sy etenstyd het ons gou gery.
“Jy moet ’n week in die hospitaal gaan rus,” het die psigiater by ontvangs gesê. Dis die eerste keer dat ek hom daar gesien het, so ’n vet dokter met ’n blink kop. “Rus,” het hy gesê, asof ek nie weet wat dit beteken nie.
Gysbert het onder een van die lae boompies voor die hospitaal stilgehou. Hoe goed ken ek nie al die stowwerige gebou met sy rooi bakstene nie. Ek het net my handsak by my; die dokter het gesê ek hoef nie klere te vat nie, daar is klere. Ons moet na Blok C toe gaan.
By die ingang is ’n man met die groen oorbaadjie en swart langbroek wat dié hospitaal se verpleërs dra. Ek groet vir Gysbert. Hy en my ma sal gou weer kom kuier, sê hy. Die verpleër sê ek moet saamkom na die vrouesaal, en ek loop agter hom in ’n lang gang af. By die ingang sien ek teen die muur ’n houer waarop daar staan: Free condoms. Ek bly omkyk daarna; ek kan dit nie glo nie.
Ons loop verby ’n sitkamertjie met ’n TV wat in ’n hok van yster en glas is. Dis ’n platskerm-TV, sien ek. Aitsa, die staat upgrade ook deesdae. Hulle kan nou al flatscreens bekostig.
Die verpleër sê ek moet kom, en ek stap maar agter hom aan tot waar ’n paar verpleegsters by ’n toonbank sit. Een met ’n groot bos krulhare wat You sit en lees, kyk verbaas op toe ons aankom. Sy kyk my op en af. “Die dame hoort nie hier nie,” sê sy. Langs haar is ’n TV-skerm waarop sy kan sien wat in verskillende vertrekke in die hospitaal aangaan. Wat het ons hier, ’n tronk?
Ek verstaan nie juis hoekom sy dit sê nie, maar dit voel goed om ’n dame genoem te word. Een van die ander susters beveel my om te sit. Ek het nog geen idee waar ek is nie; al wat ek weet, is dat ek hulp gaan kry.
Die susters is besig om vir hulle koffie te maak, sien ek. As ek ook maar ’n beker koffie kan kry, maar dit lyk of hulle klaar van my vergeet het.
Toe sien ek dit, regs van my: ’n traliehek! Is ek dan nou regtig in ’n tronk? Ek staan op en nou sien ek ook die mense anderkant die hek. Een vir een kom hulle nader, die voorste een so wragtig waar bostukloos, net met ’n bruin romp aan. “Haai, kyk,” skreeu sy hard. “Ons het ’n nuwe maatjie bygekry!” Sy het net twee tande in haar mond.
Ek hoort nie hier nie, dink ek, en voel hoe my moed soos ’n verlepte blom op die blink teëlvloer voor my val. Ek staar na die vrou met die kaal bolyf. Haar hare is bo kort, half gebraid, half ingesit. Sy is seker so vyf-en-veertig.
Ek draai om na die verpleegsters. Ek het nie eens klere nie, dink ek. “Kan ek vir my klere gaan haal?” vra ek.
“Nee, hier is klere vir almal,” sê die verpleegster met die krullebos.
Wat? Klere vir almal, maar een van die pasiënte loop dan byna kaal rond?
“Kom,” sê krullebos. “Ons sal jou later uitsort. Kyk maar ’n rukkie TV totdat die pasiënte se slaaptyd verby is, van halfeen tot drie is dit slaaptyd.” Sy wys vir my waar die rookarea is.
“Thank the Lord!” sê ek kliphard. Daar is tien pakkies sigarette in my handsak en ek begin dadelik om die een sigaret na die ander te rook. Ek het geen benul van tyd nie, want my horlosie het die gees gegee. Pakkie nommer twee maak egter baie gou sy verskyning.
Deur ’n hoë venster sien ek ’n tortelduif op ’n muur. Gelukkige voël, dink ek, hy kan vlieg waar hy wil. Ek steek nog ’n sigaret aan en dink aan wat gebeur het.
Ek het vir Carel weer gesien, dis wat gebeur het. Carel van Tonder. En natuurlik het hy my onthou, ons het dan op skool ’n ding aangehad. As ek en Gysbert ook nie so aan en af was nie, het dit nie gebeur nie, maar nadat ek en Carel so ’n bietjie op Facebook gesels het, bel hy my, vra of ek die naweek wil kom braai. Op Brandfort. Sy werk hou daar ’n paartie.
Nou ja, Brandfort is nie ver nie. As dit maar verder was, was ek nie nou in hierdie gemors nie. Maar daar sit ek toe saam met Carel by die paartie. Versigtig vir die drinkery, want ek is op medikasie en als. Twaalfuur het die mans nog gebraai, toe gaan die vroue hotel toe vir cocktails. Toe die mans later daar aankom, sê Carel ek moet nog ’n dop vat. Hy het so aangehou. Toe vat ek maar. Daarvandaan onthou ek niks. Die volgende oggend word ek wakker in Carel se bed. Ek skrik, want ek weet iets het gebeur, spring in my kar en jaag terug.
Drie weke later sê ek vir Jessica wat saam met my werk ek het oorgeslaan. Sy kyk my so. “Jy is swanger, Harriet,” sê sy vir my. “Weet jy dit?”
Ek laat toe maar by die patoloë ’n swangerskaptoets doen en hulle sê ek kan twee dae later vir die uitslag bel. Ek bel toe. “Dis konfidensieel,” sê die vrou van die patoloë.
“Ekskuus,” sê ek, “ek kan jou nie hoor nie?”
“Ons stuur die uitslag na jou huisdokter,” sê sy.
Ek is stom geskrik. Dokter Rut. Sy is my dokter. Ook my baas se vrou. Sy mag om die dood toe nie van die hele ding weet nie. Maar toe ek bel, is sy baie bly en opgewonde vir my part. “Jy is swanger,” sê sy.
Ek het die middag vir Carel gebel. Hy het gevloek. “Dan sal jy maar fokken by my moet kom bly,” het hy gesê.
’n Week later vertel ek dit vir my ma. “Ek gaan môre vir ’n aborsie,” sê ek vir haar. My ma gryp my hande vas. “Ek staan by jou, Poppie,” sê sy. “Ek staan by jou,” en toe begin sy hardop bid, vra dat God ons moet vergewe.
Vroeg die volgende oggend het ek vir Jessica ge-SMS en gesê ek is by ongevalle, ek het begin bloei. Die waarheid was dat ek by die Marie Stopes-kliniek was. Van agtuur tot tienuur gesit voor ek gehelp is. ’n Verpleegster het ’n sonar geneem en gesê ek is sewe weke swanger; gevra of ek wil voortgaan met die aborsie. Sy het my ’n pil gegee wat ek daar moes drink; twee ander vir die volgende dag. Ek het die R800 betaal en terug gegaan werk toe. My kollegas vierkant in die oë gekyk en gesê ek het ’n miskraam gehad.
Daardie aand het ek my die eerste keer in meer as ’n jaar gesny, met ’n skêrtjie aan my binnebene en boarms.
“Visitors vir Christou!”
Ek druk die sigaret vinnig dood. Dit moet my ma wees. By die TV-kamer se deur uit draai jy regs na die wagkamer, en daar is my ma. Ek hardloop in haar arms in.
“Poppie, is jy oukei?”
Ek huil. Gysbert is ook daar; ek groet hom met ’n soentjie, droog my trane met my moue af. “Het jy met my werk gereël vir verlof, Moeks?” vra ek.
“Hoekom is jy nie na die ou saal toe nie?” vra Gysbert. Hy lyk omgekrap.
“Ek is in die psigotiese saal,” sê ek en voeg vinnig by: “Maar ek is nie psigoties nie.”
Ek ken my siekte. Ja, daar is stemme in my kop, maar hulle gaan nooit weg nie. Dit beteken mos nie dat ek heeltyd psigoties is nie. Ek is nie so erg soos die ander mense hier nie. Nie naastenby so erg nie. “Ek weet nie hoekom nie,” sê ek vir Gysbert. “Ek weet nie hoekom hulle my agter tralies sit nie.”