Читать книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou - Страница 7
HOOFSTUK 4
ОглавлениеDie kleuterskool is een van die heel lekkerste plekke op aarde. Dit is ’n huis met ’n draadheining om en agter die heining is ’n klein berg. Op die klippe van die berg lê daar dassies. Die dassies praat met my, hulle sê ek moet vir juffrou Adrie luister.
Daar is ’n gat in die draad agter die skool. Ek kruip maklik deur die gat en klim tot bo. Partykeer val ek, maar ek staan weer op en dan hou ek aan die gras vas, want iemand roep my van daar bo af. Ek kyk op en in die son sien ek dit is oom Johan wat daar bo staan. Hy hou sy arms oop, en ek is so bly, want dit is die eerste keer dat ek hom hier buite sien, hy was nog altyd net in my kamer.
Oom Johan het my hand gevat en vir my ’n storie vertel. Toe het hy weer saam met my afgegaan na die skool toe. Juffrou Adrie het gevra waar was ek, en toe sê ek vir haar niks van oom Johan nie, en ook nie van die gat in die draad nie. En ek het gekyk en kon sien oom Johan wag vir my daar by die swaaie.
Ek eet my Marmite-toebroodjies en drink my rooi koeldrank op ’n klip naby die swaaie. Oom Johan sit langs my. Hy sê ek moet oppas vir van die seuns, hulle is baie stout. Ook daardie ene met die wit, wit hare. Dit maak my ’n bietjie kwaad, want ek hou daarvan as daai seuntjie my vang as ons soen-touchies speel. Die ander kinders roep ek moet kom saam speel, maar ek wil nie. Ek moet plek maak op die klip, want Lisa en tannie Anna wil ook daarop sit.
My nuwe vriende was wel nooit saam met ons in die motor nie, maar ek het nooit gewonder hoe hulle by die kleuterskool kom nie; net geweet hulle sou daar wees. My ma het my altyd afgelaai en dan het oom Johan vir my by die klip gewuif, asof ek hom jare laas gesien het. Hy het altyd sy bolhoed afgehaal en ’n galante buiging gemaak. Die wete dat hulle daar was, het my veilig laat voel. Die vrees vir alleenheid het in hierdie hoop vervaag.
My ouers het beurte gemaak om ons vir vakansies weg te neem – albei kon nie saamgaan nie, want iemand moes agterbly om in die kafee te werk. My ma se vakansies was altyd na haar suster in Durban. My ma was een van tien kinders, vyf seuns en vyf dogters, en tannie Sue was seker die onnutsigste van die lot. Ons het altyd vet pret saam met haar gehad, en sy het dit reggekry om iets moois, of iets snaaks, in byna alles te sien.
Die rit Durban toe was altyd avontuurlik. Ek en my boetie het baklei oor wie voor sit, maar eintlik wou ek agter sit, want Lisa het soms saamgery. Dit is nou as daar plek was, want my ma kon vir ’n hele gemeente pak. Die padkos het ook baie plek geneem. Dit was so lekker om langs die pad te stop om in my ma se gekookte eiers en frikkadelle in te vaar.
Oom Johan het altyd langs die pad vir my gewag, en as die motor tot stilstand gekom het, was hy eerste by die deur. Ek was versigtig om nie te opgewonde te wees nie, maar hy het geweet dat ek bly was om hom te sien. Ek het dan gemaak asof ek wil gaan piepie, net om ’n rukkie alleen saam met hom te wees. “Kyk Lisa mooi na jou?” sou hy dan vra.
Saans het ek by my ma geslaap, en dit het die man met die sekel weggehou. Ek het veilig gevoel by Mamma, al het ek geweet die donker man staan by die deur. Ek kon hom sien en hy vir my.
Pa se vakansies was blindelings. Hy het net die woonwa gehaak en in die pad geval – die eerste en beste stopplek was waar ons daardie aand sou oorbly. My pa het ook ligter gepak en daar was genoeg plek vir oom Johan in die motor – Pappa se rooi gevaar. Ek en oom Johan het duimgevegte gehou, want dit was ’n stil speletjie. Oom Johan het my altyd laat wen en as ek opgewonde oor my oorwinning geraak het, sou my Pa vir my in die truspieëltjie kyk en vra: “Tinna, wat maak jy?”
Ek het dit geniet om te gaan kampeer. Om ’n tent op te slaan en in ’n woonwapark te slaap was vir my iets heel eksoties. Ons het soms gaan visvang en dan het my pa my geleer om die stok te hanteer. Ek was tóg sy prinses en hy wou net goed wees vir my, maar ek het nooit van my belofte vergeet nie: Ek sal vir niemand vertel nie. Oom Johan het vir my gepreek en gesê ek moet die tye saam met my pa waardeer. Ek het, en daarom het ek dit geniet om saam met my pa dinge te doen.
Uiteindelik is ek groot genoeg om vir die eerste keer skool toe te gaan! En ek het in ’n blou skoolrokkie gepronk, dieselfde blou as my broer se skoolhemp. My ma het wel gehuil toe sy my by die skoolhek afsien, ek ook ’n bietjie, maar toe het ek dapper met ’n bruin tassie in my hand na die skoolgebou gestap.
Die juffrou het wit krulhare gehad en sy was baie gaaf en het so mooi aangetrek. Maar as sy kwaad geword het, was sy nie meer mooi nie. Dan moes jy jou hand uitsteek en sy het jou met ’n liniaal op jou hand geslaan.
Ek wou heeltyd net by Juffrou wees, want sy het gevra hoe dit met my gaan, en haar arms het so sag gevoel, met so ’n mooi sagte stem.
Juffrou het my geleer hoe om my naam te skryf, en toe ek dit die eerste keer regkry, toe ek my naam op die bord skryf, kyk ek om en deur die venster sien ek vir oom Johan. Hy kyk vir my en lag. Van toe af was hy altyd daar. Hy het altyd by die venster agter in die klaskamer gestaan, en ek het kort-kort omgedraai en geloer of hy nog daar was. Hy het sy kop geknik en ek het dan hard op my werk gekonsentreer.
Mamma sit met toe oë op die bank. Die musiek speel hard. Sy speel baie hierdie liedjie, “Across the Bridge” van Jim Reeves. Mamma sing die woorde saam: “I have lived a life of sin, in this world I’m living in …”
Ek gaan lê op my bed en luister na Mamma se musiek. Ek ken ook die woorde. Partykeer speel Mamma ook “Take My Hand, Precious Lord”, maar die meeste kere “Across the Bridge”. Dan kom sit Mamma by my op die bed met haar Bybel en wag dat die liedjie klaar speel. Ons sing dan die laaste stuk saam: “Across the bridge there is no more sorrow …” Mamma lees lank uit die Bybel. Ek luister na hoe die asem oor haar lippe blaas as sy “v” sê. “Vvvreemdeling,” sê Mamma en “vvvriendelik”. Partykeer raak ek aan die slaap terwyl Mamma lees; partykeer gooi Mamma eers sout in my bed voordat ek inkruip. Sy sê dis om my in die nag te help. Pappa skud sy kop as hy dit sien en hy klap sy tong asof hy kwaad is.
Ek het daarvan gedroom om ’n beroemde balletdanser te word. Die droom kom eintlik van my ma af; sy het my van kleins af laat les neem. En hoe graag het ek nie in ’n swart “swembroekie” met pienk kouse en stomppunt-balletskoene geparadeer nie. Met elke eksamen het my ma vir my die mooiste rokkies gemaak, eenkeer een van ligblou satyn waarin ek soos ’n prinses gewag het dat my onderdane my ring kom soen.
Maar die eksamens was elke keer ietwat van ’n ontnugtering. My danse sou ek perfek doen, maar ná elke ronde was die beoordelaars van mening dat ek daarby baat sou vind as ek my gewig dophou. Hoe kon ek nou help dat ek ’n Griek vir ’n pa het wat boonop ’n kafee besit? Kaas-en-tamatie-roosterbroodjies was my lewe! Was dit nou ’n sonde om my pa se besigheid te ondersteun?
In die oefensessies het Lisa dikwels saam gedans. Sy was nogal goed vir iemand wat skaars begin het. Soms het sy my in die eksamens gelei deur agter die beoordelaars te dans. Ek sou nou en dan oogkontak met die beoordelaars verbreek om vinnig te sien of ek by Lisa bybly. Ek het dit vreeslik geniet om te dans, en om dit saam met Lisa te doen was nog spesialer.
My ma wou ook bitter graag hê ek moes klavierlesse neem. Ek het nie juis daarvoor lus gehad nie, maar het ingestem om haar gelukkig te hou. Die onderwyseres was so ’n kort vroutjie. Vriendelik maar streng. Ek het dit meer geniet om die klas by te woon as om by die huis te oefen – my ma het my elke dag ’n uur lank laat oefen. Dieselfde liedjies oor en oor.
Met die oefenry het tannie Anna langs die klavier kom staan met haar hand op die kap en dan so ritmies met haar naels getik sodat ek op die maat van die musiek kon bly. Stiptelik om drie moes ek Mozart speel. Sug. Ek het geweet as ek ’n fout maak, sal sy my vingers vaskap. Dis hoekom ek maar die hele uur bly oefen het, want ek was bang vir tannie Anna en my ma. Ek wou nie een van hulle kwaad maak nie.
In standerd een was ek en my ma in ’n motorongeluk. My ma het toe ’n kombi gehad en ons was daarmee op pad na my boetie in Bloemfontein. Hy kon net een naweek in ’n maand huis toe kom. Ek het voor gesit met my kassetspelertjie op my skoot. Ek het my ma gevra watter tape ek eerste moet speel, die Leon Schuster of die Carike Keuzenkamp. Sy het ’n paar sekondes afgekyk, en toe sy opkyk, was sy in die verkeerde baan. Sy het die stuurwiel gepluk en die kombi het omgeslaan, drie maal gerol voordat dit in die mielieland langs die pad weer op sy wiele beland het. My kop het die voorruit stukkend geslaan en ’n stuk glas het in my kop bly steek. Iemand het by ons stilgehou en ons in hul kar ingehelp. Die bloed het oor my gesig gestroom. My ma het haar trui teen my kop gedruk.
Die mense het ons by my pa se kafee afgelaai, en my pa het my dokter toe geneem. Dis toe dat ek begin wonder het of my ma my wou doodmaak, want hoekom het sy nie saam gegaan nie. Dit was verskriklik seer toe die dokter steke insit. En hy het nie eens my oë toegedruk nie, ek kan tot vandag nie glo dat hy my daardie naald laat sien het nie. Ek het my ma nie meer vertrou nie.
Ek moes lank by die huis in my bed bly. My bene was vol pers kolle en ek kon niks proe nie. Harsingskudding, het die dokter gesê, dis hoekom. Lisa, wat heeltyd in die kamer was, het gesê ek moet ’n ander geur koeldrank probeer, maar ek kon steeds niks proe nie.
Oom Johan het op my bed kom sit en stories vertel, soos net hy kon. Soms het Maria by die deur ingeloer met ’n vraende uitdrukking op haar gesig. Sy moes seker gewonder het met wie ek so sit en gesels, maar sy het nooit vrae gevra nie. Ek dink sy het geweet dit maak my gelukkig, wat dit ook al was.
“Kyk, daar’s jou ma weer,” sou oom Johan sê, en dan het ons deur die venster gekyk na my ma wat in die tuin werk. “Daardie ma van jou het groen vingers,” het hy gesê. En sy het die een prys na die ander met haar mooi tuin gewen. Sy was ’n ander mens as sy in die tuin gewerk het. Haar oë het altyd geblink. Sy was gelukkig. Ek het soms probeer help, maar altyd net ’n gemors gemaak. Sy het egter nooit kwaad geword nie, eerder gehelp en my gewys hoe ek te werk moes gaan. Oom Johan het daardie eienskap van my ma aangeprys, en so baie bygedra tot die herstel van die verhouding tussen ons.
Daar is haaie in die swembad! Toe Pappa sy rug draai, was hulle daar. Waar was hulle dan toe hy nog hier gestaan het en kyk dat ek my lengtes swem?
Swem is my gunsteling-sport, en ek moet altyd wen. Dis gewoonlik ek teen my maatjie Jolanda, ons kom altyd gelyk. Ek wil haar klop, dis hoekom ek so hard oefen.
Elke aand wanneer Pappa by die huis kom, laat hy my lengtes swem. Hy is my afrigter en vir hom swem ek asof ek aan die Olimpiese Spele deelneem. Ek mag nie moeg raak nie, dis so lekker as Pappa trots is op my. Hy loop op en af langs die swembad terwyl ek swem. Mooi so, Tinna, sê hy. Partykeer sê hy ook vinniger, vinniger!
Maar nou is die swembad vol haaie. Die voordeur is toe; Pappa het gesê ek het genoeg geoefen vir die dag. Kyk hoe swem die haaie in sirkels en kyk vir my. In die blou swembadlig kan ek hulle sien. Pappa! skreeu ek. Pappa! Ek kan nie sonder Pappa swem nie. Hy moet hier wees. Net hy kan die haaie laat weggaan.
Kom! roep Pappa en hou die wit Ford-bakkie se deur oop. Ek hardloop en trap teen die kant van die bakkie om op sy skoot te kom. So leer Pappa my bestuur. Ek kan nog nie die ratte doen of die petrol trap nie, maar ek kan die stuurwiel draai.
Ek mag nie in die dorp bestuur nie, maar as ons Thaba ’Nchu Sun toe ry, dan laat hy my die stuurwiel draai. Dis baie lekker as ons casino toe gaan, want dan gaan speel ek en Boetie videospeletjies terwyl Pappa en Mamma by die masjiene is.
Ook as ons na my oupa-hulle op Dewetsdorp gaan, laat Pappa my bestuur. Maar dit is ’n baie kort entjie. Laat ek die rat ook doen, Pappa? vra ek dan. Dan sê Pappa ek moet geduldig wees, eendag sal ek dit alles kan doen. Dan dink ek aan daardie dag dat ek self Dewetsdorp toe sal ry.
Ek was seker so tien jaar oud toe my ma ’n psigiater gaan sien. Ek het nie juis geweet wat ’n psigiater is, of waarom my ma hom gaan sien het nie. In my agterkop het ek die idee gehad dat dit oor my ouers se rusies gaan, en die vrees het in my begin oplaai. Toe my ma boonop hospitaal toe moes gaan, was ek te bang om in haar oë te kyk.
Ek onthou hoe alleen my ma in die hospitaal gelyk het; hoe haar oë gesmeek het dat sy huis toe geneem moet word. My pa het gesê die dokter sê sy is paranoïes. Hy het dit aan my probeer verduidelik deur te sê my ma dink partykeer hy wil haar doodmaak, en dat sy selfs partykeer dink hy wil mý doodmaak.
Ek het geweet waarvan hy praat, want daar was tye dat ek nie by my ma wou wees nie. Dit is wanneer sy vir my so vreemd was dat ek nie geweet het wie sy was nie, en dit het my bang gemaak. Die ontstellendste was dat sy ná ’n ruk weer haar ou self was en gemaak het asof niks gebeur het nie. Dit het my ontsettend verwar. En toe ek later koshuis toe is, het dit my ma se siekte vererger. En dit het juis gebeur toe ek op my gelukkigste was.
In standerd drie is ek weg van Wepener. My ouers het besluit ek moet na ’n kosskool in Bloemfontein waar my broer reeds op skool was. Hoewel ek na die “beste meisieskool” gestuur is, was ek verpletter. Ek wou nie gaan nie. Ek wou nie van my huis af weggaan nie. Ek was bang vir nuwe dinge, nuwe mense. Ek was egter nog banger dat oom Johan-hulle nie sou saamgaan nie.
My eerste dag in die stadskool was ’n deurmekaarspul. Ek het nie geweet na watter klaskamers ek moes gaan nie, my pampoenkleurige rok was myle te groot, en die verskriklik baie kinders het my benoud gemaak. Ek het stil en bang in die ry geloop – dit was ’n groot nuwe wêreld. In elke klaskamer het ek deur die vensters gekyk of ek oom Johan-hulle sien. Pouses het ek na die hokkieveld gedwaal om na hulle te soek, maar hulle was skoonveld.
“Moenie huil nie, Tinna,” het my pa vir my gesê toe hy my by die skool afgelaai het, maar ek het gehuil soos selde tevore. My ma het vir my belgeld saamgestuur en ek het haar elke oggend voor skool gebel, en dan weer in die middae ná skool en saans voor ek gaan slaap het. Die gangprefek in die koshuis was van Wepener en ek het haar darem geken, maar andersins was alles en almal vir my vreemd. Dit was vir my moeilik om in die oggende op te kom en ek het in my klere geslaap sodat ek so lank moontlik kon bly lê onder my groen duvet met die oranje blomme. Ek het oneindig na my ouers verlang. Die koshuis het vir my soos ’n tronk gevoel en elke aand het ek gebid dat my pa my sal kom haal.
Die derde aand in die koshuis het ek om middernag wakker geword. Ek moes badkamer toe, maar die lang donker gang het my teruggehou, want die man met die sekel was daar! Boonop kon ek nie die lig aanskakel nie, want ek sou my kamermaat wakker maak. Knyp-knyp het ek gewik en geweeg … sal ek of sal ek nie? Maar ek móét nou badkamer toe of …
Toe hoor ek dit: “Hartjie, kom ek loop saam met jou.” Dit was oom Johan! Ek was so dankbaar en verlig. Hy het my hand geneem en ons het die gang saam aangedurf. “Waar was Oom die hele tyd?” het ek gevra. “Ag, hartjie, ons wou hê jy moes eers alles leer ken sonder dat ons jou pla, maar ons is altyd by jou, al sien jy ons nie.” Oom Johan het my hand voor die badkamerdeur gelos en ek het sonder enige vrees ingegaan.
Oom Johan se verskyning laat my die nuwe skool in ’n heel ander lig sien. Ek is gaande daaroor! Ja, dit is nou nie so lekker sonder seuns nie, maar dis ten minste een van die stad se beste skole. Ek is trots op my pampoenrok. Dit is vir my belangrik om stiptelik, ordentlik en gedissiplineerd te wees. Ek leer wat Christenskap werklik beteken, wat dit is om jou naaste lief te hê en in ag te neem, om op te staan uit respek as ’n onderwyser verby jou loop en dat dit ’n groot eer is om die skoollied te sing.
Oom Johan-hulle spot soms met van die juffrouens wanneer hulle besig is om op die bord te skryf of uit ’n boek te lees. Dan trek oom Johan die eienaardigste gesigte, of hy loop saggies tot by die juffrou en sit sy bolhoed op haar kop. Ek moet baie hard probeer om my lag in te hou, want uitskryfwerk wil ek nie kry nie. Dit is hoe jy hier gestraf word. Maar aan die ander kant, skryf maak my gelukkig. Ek gee dus glad nie om dat oom Johan sy bes probeer om my te laat lag nie.
Dis net die naaldwerkklas wat nie so lekker is nie. Selfs tannie Anna probeer my help met die steke en die uitsnywerk – sy het seker gesien ek vorder stadig. Kan eintlik nie glo sy help my nie, die ou kwaaitjie. Maar as ek na haar luister, kry ek die werk reg. En dalk word sy minder kwaai as ek doen wat sy sê.
Die kunsklas is ’n groot avontuur. Lisa kan nie glo wat ek alles met ’n potlood op papier regkry nie. Soms sit ek skelm vir haar ’n stuk papier en ’n potlood op die grond neer, want sy hou van teken. Ek kan nie altyd uitmaak wat sy teken nie, maar ek maak ’n punt daarvan om haar te prys. Sy is ’n sussie vir my en ek sal haar altyd beskerm.
Pouses speel ek met my nuwe vriende, maar ek is altyd bewus daarvan dat oom Johan-hulle iewers naby is om my dop te hou. Partykeer sit hy by ons op die hokkieveld terwyl almal velletjies mooi skryfpapier uitruil. Ek maak asof hy nie daar is nie, maak net so nou en dan oogkontak. Dit pla my nie meer dat niemand anders hulle kan sien nie, want eintlik is dit vir my lekker dat ek die uitverkorene is, die enigste een wat hulle aandag kan geniet.
Dis nog nie vir my lekker in die koshuis nie, maar reeds baie beter as in die begin. Ek is steeds nie gewoond aan die klokke wat my lewe beheer nie, en al die studietye is hoogs irriterend. Mamma het my geleer om hardop te leer, maar hier moet ons ure lank doodstil in ’n studiesaal sit. Dit maak my waansinnig. Gelukkig het Mamma met die koshuismoeder kom praat en nou kan ek in my kamer leer. Dit is soveel beter.
Noudat dit vir my lekkerder is op skool kom oom Johan-hulle net pouses kuier. Hulle wil hê ek moet goed doen, daarom gun hulle my die tyd. Maar ek kan steeds nie wag dat Pappa my Vrydae kom haal nie. Wanneer ek hom sien, bokspring my hart van blydskap. Dis lekker om dan saam met hom te gaan inkopies doen, maar eintlik wil ek net huis toe. Ek pak Donderdae al my tas en slaap soms met my skoolklere aan sodat ek nie iets vergeet nie.
Maar Maandag is dit weer terug hok toe. Wat dit vir my makliker maak, is die kosblik met tjips en lekkergoed en koeldrank wat Mamma vir my inpak. As Pappa my groet, druk hy ook altyd sakgeld in my hand. Maar ek weet ook ek sal dan vir juffrou Swanepoel weer sien. Sy is so ’n kort juffrou wat biologie gee. Ek wil baie graag goed doen in haar vak; ek wil baie graag dat juffrou Swanepoel vir my lief raak.
Ek wil ook baie graag soos oom Johan wees: vriendelik met almal, altyd gereed met ’n grappie. Dis seker hoekom mense dink ek is die nar van die klas, want deesdae maak ek ook met almal grappies. Jy kan maar sê ek gee die kinders rede om te glimlag. Eintlik is dit oom Johan wat my so maak.
Ek ruk van die skrik toe my naam oor die koshuis se interkom geroep word: “Harriet Christou, daar is voordeur vir jou.” Wie kan dit dan wees, want dis die middel van die week?
By die voordeur sien ek my broer se metaalblou Ford Capri staan by die hek. Wanneer laas het ek hom gesien! Ek hardloop met die paadjie af, maar by die hek steek ek in my spore vas. Mamma klim stadig uit die motor. Sy het ’n groot oranje trui oor haar nagrok aan, haar hare staan wild om haar kop en sy het my broer se nommerelf-tekkies aan.
Kan dit regtig my ma wees? Sy wat so gesteld is op haar grimering en hare … Ek hoop nie iemand anders sien haar so nie, maar wat op aarde gaan aan?
My broer neem my ma aan haar arm en my ma kyk stadig op na my, vee ’n sliert van haar voorkop. “Ek het jou pa gelos,” sê sy.
Wat? Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Ek kyk na my broer, maar hy kyk weg en ek weet wat sy sê, is waar. Ons is nie meer ’n happy family nie. Ons is nie meer wat ek gedink het ons is nie.
“Ma?” sê ek. “Moeksie?” Ek druk haar teen my vas, voel hoe koud en benerig haar lyf is.
“Toemaar, Poppie,” sê my ma. “Moenie bekommerd wees nie, Poppie. Moenie.”
“Maar wat gaan Moeksie nou maak? Waar gaan Mamma nou heen?” Ek voel hoe ’n onbeheerbare woede van my besit neem. Ek is woedend vir my ma omdat sy toelaat dat so iets gebeur, vir my pa wat iets – wat? – gedoen het om haar sover te laat gaan. Ek wil wegkom van die hele gekke spul. Eintlik wil ek nie weet wat aangaan nie, ek wil niks met die gedoente te make hê nie.
My ma klim terug in die motor. My broer slaan sy deur toe en trek weg. Ek sien die motor verdwyn. Ek begin huil. Eers sagte snikke, maar toe huil ek met alles in my.
Ek weet nie hoe lank ek daar by die koshuishek gestaan het nie. Ek het eers weer bewus geraak van wat om my aangaan toe ek ’n hand op my skouer voel. “Hartjie, ons is hier vir jou as jy wil praat.” Dit was oom Johan.
Ek het sy hand geneem en ons het na die tennisbane toe gestap. “Hoekom, Oom?” het ek gevra. “Hoekom moet my ouers só baklei? Waar gaan ek nou bly?”
“Hartjie, ek ken nie al die antwoorde op jou vrae nie, maar dinge gebeur met ’n doel. Jy moet net nie ophou glo nie.”
Radeloos het ek gesoek na iets wat my pyn sou herlei. Ek het ’n tak van die naaste boom afgeruk en onophoudelik my bene gekrap. Dit wou nie seer genoeg maak nie, en ek het ’n skerp klip opgetel. “Hou tog op, Hartjie,” het oom Johan gesmeek, maar die seer in my hart moes uit. Ek het die klip so hard moontlik in my dy ingedruk en ná ’n rukkie het daar ’n bietjie bloed uitgesypel. Eers toe ek die bloed sien, het ek rustiger geraak.
Daardie aand gebruik ek my snoepiegeld om my pa te bel. Die sentrale sê die lyn bly beset. Ek bel drie keer voordat my pa antwoord. Ek huil so dat ek nie kan praat nie. “Gaan alles oukei wees, Pappa?” is al wat ek uiteindelik uitkry.
“Moenie alles glo wat jou ma sê nie,” sê my pa. “Maar alles sal oukei wees.”
My lewe verander ingrypend, ek word ’n ander mens. Ek het belangstelling in my skoolwerk verloor en gee glad nie meer om om goeie punte te behaal nie. Ek het na ’n niemandsland verhuis waar net ek en oom Johan-hulle bestaan. Hulle is die enigstes wat ek nog kan vertrou; hulle maak my nooit seer nie.
My ma het ’n rukkie by vriende gebly totdat sy ’n werk by ’n kitskosrestaurant in Bloemfontein gekry het en in ’n woonstel bokant die restaurant ingetrek het. Ek moet nou naweke by my pa op Wepener gaan kuier, en dit is aaklig om sonder my ma in die groot huis te wees. Ek gaan saans by my pa inkruip, want die man met die sekel is steeds daar in die gang. Ek help my pa naweke in die winkel, maar eet seker meer van die voorraad op as wat ek verkoop. Op ’n manier is dit tog lekker om alleen by my pa te wees, en oom Johan meng nooit in as ek by Pappa is nie. Hy gun my altyd die ruimte as iets vir my kosbaar is, maar hy is altyd daar om ’n ogie te hou.
Maria vra elke keer hoe dit met my ma gaan, en dan jok ek maar en sê dit gaan goed. Ek probeer in elk geval om nie aan my ma te dink as ek by my pa is nie en andersom as ek by haar is. Dis nie dat ek nie vir hulle omgee nie, maar ek wil drink wat die een in daardie stadium vir my skink.
’n Maand of ses nadat my ouers uitmekaar is, kom ek by ons huis op Wepener en kry ’n vreemde vrou in die sitkamer. “O, Tinna,” sê my pa, “dis tannie Ansie. Ansie, dis nou my dogter, Harriet.”
Dit was gou duidelik dat die tannie nie maar net ’n toevallige kuiergas was nie, sy was my pa se nuwe metgesel. Skaars ses maande en hy het al iemand anders! Het my ma dan so min vir hom beteken?
Ek het uit die staanspoor niks van haar gehou nie. Hoewel ek niks van haar geweet het nie, het ek in my kop klaar besluit. Van toe af het ek enige verskoning gebruik om eerder by my ma te bly as om Wepener toe te gaan. Maar ek kon dit nie oor my hart kry om die waarheid vir my ma te vertel nie. Dit sou haar knak.
Toe ek uiteindelik een naweek my mond verbypraat, kon ek die seer in my ma se oë sien. Ek moes haar toe noodgedwonge alles vertel, en ek het nog kwater en kwater vir my pa geraak omdat hy my in daardie situasie laat beland het. Dis nie asof hy gesê het ek mag nie vir haar sê nie, maar omdat ek die verantwoordelikheid teenoor haar gevoel het, het dit my nog woedender gemaak.
Ek het gesien hoe my ma verkrummel. Ek wou haar vashou, maar Moeksie het toe lankal nie meer daarvan gehou om vasgehou te word nie. Ons het net daar teenoor mekaar gesit en huil, elkeen op sy eie stoel met ons hande wat mekaar vertroos. Daardie aand, en nog ’n hele paar aande daarna, het ek gelê en luister hoe sy haarself aan die slaap huil.
Al wat dit vir my moontlik gemaak het om terug te gaan na my pa, was die feit dat oom Johan elke keer belowe het hulle gaan saam. Die ander vrou se teenwoordigheid het dit nie maklik gemaak nie; sy was kortaf met my en ek met haar. Dit het gevoel asof sy my ma se plek wou inneem en alles oorneem en maak asof my ma nooit bestaan het nie.
Ek het ook dikwels siek geword as ek van haar kos geëet het, en ek het doodeenvoudig geglo sy gooi gif daarby. Ek was oortuig dat sy my wou doodmaak. Soms het ek dan net gemaak asof ek eet, en as hulle nie kyk nie het ek die kos in ’n plastieksak gegooi wat ek by my gehad het. Party Maandae was ek so uitgehonger van die hele naweek se min eet dat ek die eerste pouse al my koshuisbroodjies verslind het. Oom Johan het my probeer oortuig dat daar niks in haar kos was nie, maar ek het vas bly glo sy wou my vergiftig. Ek het geglo sy wou van my ontslae raak om my pa vir haarself te hê. Lisa het my soms gesmeek om iets te eet, maar ek het verseg om toe te gee. Ek moes vir my ma bly leef, sy het my nodig gehad.
In daardie tyd was die koshuis my toevlug. Vrydae wou ek iewers op die skoolterrein wegkruip sodat ek net nie weer Wepener toe moes gaan nie. Ek wou nie gaan na die plek wat eers my ouerhuis was nie. Dit was nie meer mý huis nie. Ek was sonder gesin en sonder huis. Soms het ek van my vriende gesmeek om saam met my huis toe te gaan.
Die bakkie se enjin dreun buite en ek hardloop kombuisdeur toe. Pappa sit al agter die stuurwiel; tannie Ansie staan aan die ander kant. “Ons is vanmiddag terug,” sê Pappa en klap die deur toe. Tannie Ansie hou haar hand teen haar voorkop en kyk kwaai na my. Pappa kyk net voor hom uit.
“Moet nou nie staan en moeilik wees nie, Harriet,” sê tannie Ansie. “Jou pa het mos nou gepraat.”
My pa kyk oor sy skouer agtertoe en die tannie klim in. Sy klap haar deur hard; ek weet my pa hou nie daarvan nie. Die bakkie begin agteruit ry. Hulle ry sonder my. My pa kyk nie eens na my nie. Ek kyk hoe die bakkie met die paadjie afry en om die huis verdwyn. Ek hoor hoe hulle wegry.
Daar is iets soos ’n bol dorings in my bors. Op die kombuistafel lê ’n messie, die hef is koel in my hand. Ek loop oor die wit gras na die tuinhuisie in die middel van die grasperk, langs die mopkopboom. Lisa sit op ’n kruiwa en kyk na my. Sy huil. Moenie, Harriet, nee, sê Lisa. Ek druk die messie se punt onder die vel op my bobeen in en ’n groot druppel donkerrooi bloed kom uit. Die druppel bly ’n rukkie net daar sit voordat dit teen my been afloop. Lisa huil harder, maar ek weet nie wat ek anders kan doen nie. Ek kyk na die bloed, maar ek sien net my pa in die Ford-bakkie, hoe hy en die tannie wegry. Die tuinhuisie se deur gaan oop. Hartjie, sit neer daardie mes. Dis oom Johan. Hy loop tot langs die kruiwa en kyk na my. Tannie Anna is agter hom. Wat sal jy nou vir ’n ou man luister, sê sy. Sny! Sny! Laat jy leegbloei, meisiekind, dis al wat help. Jou stupid ou man! skreeu ek. Jou vieslike, vieslike ding wat wegry en my net so los. Maar oom Johan word nie kwaad nie. Hartjie, sê hy. Hartjie.
My ma, wat ’n gesiene vrou in die gemeenskap was, moet nou in ’n takeaway-plek werk, vir ’n salaris waarmee sy nie eens haarself kan onderhou nie, wat nog van my. Ek kry soms skaam om te sê waar my ma werk. Lisa neem my saans na my ma se kamer, en ek bly dan in die deur staan terwyl sy my ma se trane afvee. My ma is ’n sterk vrou, maar sy is ook weerloos in die nag.
In die skool het ek fokus verloor. Baie keer staar ek net by die venster uit terwyl die juffrouens klasgee. Hulle sê ek het rooihakskene, maar verliefdheid is geensins my probleem nie. Ek kan nie konsentreer nie, al is oom Johan-hulle daar. Wat het geword van die bruisende, borrelende persoonlikheid? Die een wat aan alles deelneem? Die een wat nie bang is om die juffrouens uit te daag nie?
Die dag toe ek as hoofrasieleier gekies is, wou ek nie eers opgewonde raak nie. Dis die ou Harriet wat gekies is, het ek gedink. Ek het my glimlaggie aangeplak en gemaak asof ek in ekstase was. Dit was immers ’n groot eer om uit al die kinders gekies te word.
My ouers se egskeiding het my hart geknak. Ek was nie meer die mens wat ek eintlik moes wees nie, ek was net ’n bondel vrees in ’n vel. Dae het soos maande gevoel en die begeerte om weg te loop het gereeld in my binneste opgeborrel. Ek wou van die seer en warrelwinde van vrae ontvlug, maar daar was ook ’n stem in my wat gesê het ek moes bly loop al was my hart verlam.