Читать книгу Die bleek man op my hakke - Harriet Christou - Страница 6
HOOFSTUK 3
ОглавлениеDeesdae woon ek in ’n woonstel in Bloemfontein en werk as ’n klerk by ’n psigiater. In 2007 is ek die eerste keer in ’n staatshospitaal vir skisofrenie behandel, maar as ek my medikasie gereeld neem, kry ek dit reg om normaal te funksioneer. Ek het geleer om saam met die stemme in my kop te lewe – om die waarheid te sê is hulle ’n onmisbare deel van my. Die donker man besoek my steeds van tyd tot tyd, maar ek is sterker as ooit. Ek het geleer om my siekte te hanteer; dit hanteer my nie meer nie. Ek is nie meer ’n slaaf van die vrees wat my drie-en-twintig jaar gelede beetgepak het nie.
Ek onthou dele van my lewe, skerwe, wat ek dink te make het met waar dit alles begin het. Soos die ding met Maria en die matras. Maria sou wag tot my ma en pa gery het en dan gaan sit sy my matras in die son. Dit is omdat ek te bang is om in die donker badkamer toe te gaan. Ek knyp en probeer uithou, maar dan word my bed so warm en nat en later ook koud. Ek bly dan in die bed lê omdat ek bang is vir wat Mamma of Pappa sal sê.
Maria baklei nooit met my daaroor nie. Sy sê ook vir niemand nie, dit is ons geheim. Ek is lief vir Maria en sy vir my; Maria met haar groot sagte lyf, haar wit baret en blou overall. Sy loop kaalvoet in die huis, maar as sy na haar huis toe gaan, trek sy haar swart kerkskoene aan.
Eendag het Mamma die matras gesien en gevra hoekom. Maria het gesê die matras soek die fresh air. Toe loop Mamma net aan. Maria het toe swartsakke gaan haal. Ek het haar gehelp om die matras in te dra, dit was swaar. Maria het baie poeier op die matras gegooi en die swartsakke daarop gesit, toe die laken. Sy het gesê ek kan nou maar piepie, sy sal elke keer net die lakens afhaal.
Pappa vra vir Maria wat sy met al die swartsakke maak. Sy het gesê dis vir die takke en die gras wat Thomas sny. Pappa het na Maria gekyk asof hy haar nie glo nie, maar niks verder gesê nie. Ek het gewens Maria vra my hoekom ek in my bed piepie, maar sy het nie. Ek weet ook nie of ek vir haar sal sê nie, want ek het mos belowe ek sal vir niemand sê nie.
Ek en Maria is in die sitkamer, ek met my kryt en inkleurboek, sy kyk The Bold and the Beautiful. Ek sing: “My naam is Liewe Heksie en Levinia is my naam …” Mamma het belowe dat ons na die nuwe Liewe Heksie-video kan kyk, maar sy het netnou gebel en gesê sy kan nie kom nie. Sy het gesê Pappa-hulle het nou eers uit Bloemfontein gery en sy kan nie die winkel alleen los nie, maar ons kan ’n ander aand daarna kyk. Pappa is Bloemfontein toe om stock te gaan koop en my boetie by die skool te gaan haal. Boetie kom net naweke huis toe met sy kleurbaadjie met die blou en goue strepies. Maar nou is hulle laat omdat die kar ’n pap wiel gekry het.
Nou gaan Maria vir my badwater intap. Sy sê my pa-hulle gaan eers laat kom, want om die stock af te laai en te tel vat lank, jy moet na die geld en die strokies kyk en alles. My pa was streng daarop. Hy sê nie alle Grieke is skelm nie. My pa is lief vir die kafee en die mense hou van hom. Hulle lag en groet hom met harde stemme as hulle inkom en hy staan daar altyd met ’n kortbroek en rugbykouse met ’n swart kam in sy een kous.
Die water is warm en ek klim stadig in die bad. Boetie sê as jy te lank in die water lê, word jy ’n vis. Ek lê in die warm water en kyk na my tone. Ek wil nie dat my voete ’n visstert word nie. Ek tel my hande op en toe sien ek dit: die vel is so dik en wit en gekreukel. Ek word ’n vis!
Ek spring dadelik uit die bad en gryp na die handdoek op die tafeltjie langs die bad, maar ek het vergeet dat die handdoek oor Mamma se porseleinvoëltjies gelê het, en daar val een van hulle op die harde vloer. Een vlerk af. Mamma gaan raas, sy gaan raas, sy gaan raas … Sy is so lief vir hierdie voëltjies. Sy sê dit pas perfek by die grys teëls en babapienk gordyne. Ek buk om dit op te tel, maar toe ek daaraan raak, begin die duif koer en ek skrik, kyk vervaard rond. Ek moes my verbeel het. Ek tel dit weer op … en weer: koer-koer, koer-koer! Kliphard koer die duif en kyk my kwaai aan met sy gaatjiesoë.
Ek gryp die handdoek drafstap na my kamer. Met ’n half afgedroogde lyfie spring ek in my slaapklere, loop na Maria en probeer maak asof niks gebeur het nie. Maar Maria moes gesien het iets is verkeerd. “Nonna, jy lyk soos ’n spook,” sê sy. “O lokile?”
Natuurlik is ek glad nie oukei nie. Daar het ’n porseleinduifie – ’n ornament! – vir my staan en geluide maak. Maar sal ek dit nou vir Maria vertel? Sy sal vir my lag. En dalk hét ek my net verbeel.
Maar dit was die begin van ’n nuwe patroon. Badtyd het die voëltjies vir my bly loer en ek het naderhand gesorg dat ek iets oor hulle gooi voordat ek in die bad geklim het. Maar sodra my lyf in die water was, het die gekoer begin. Soms het ek glad nie gewas nie, want ek wou net wegkom van die gekoer. Soms het my ma ingekom en terwyl sy met my praat, het hulle gekoer. Ek was absoluut verward – hóór my ma dit dan nie? Hoe kán sy dit dan nie hoor nie?
Eers toe ek al die duifies stukkend gegooi het, het die gekoer opgehou. My ma het dae later eers agtergekom dat die voëltjies weg is, want my ouers het hulle eie badkamer gehad. Toe sy vir Maria beskuldig, moes ek maar met die waarheid vorendag kom. Ek kon nie dat Maria die blaam dra nie. “Mamma, ek het dit gebreek,” het ek gesê – het ek met trots gesê.
My ma kon nie verstaan hoekom ek nie spyt was nie, maar al wat vir my saak gemaak het, was dat ek weer in vrede kon bad.
As dit naweek is, braai Pappa. Dan kom oom Leon kuier en Mamma maak baie lekker slaai. Oom Leon help eers vir Mamma in die kombuis en dan kom staan hy by Pappa by die vuur. Oom Leon is nie oud nie en hy lag baie. Partykeer speel hy saam met ons wegkruipertjie, maar net as Boetie ook by is. Partykeer sit ek op die groen bank met my poppe en sing vir hulle hoeka-toeka-ja-ja. Dan klap oom Leon hande en skreeu ênkôr!, ênkôr! wat beteken baie mooi, baie mooi.
As ons braai, eet ons altyd buite, al het my ma die tafel gedek. My pa kan baie goed vleis braai, lekker sag met net genoeg sout. En dan bring Mamma haar lekker wortelslaai en sy sê sy hoop dit is lekker al weet sy dit is lekker.
Een aand terwyl my pa gebraai het en ma slaai gemaak het, het ek op die groen bank gaan sit en sing, dié keer nie hoeka-toeka nie, maar ook ’n liedjie van tannie Carike, en oom Leon het baie hard hande geklap. Hy het gekom en my ’n drukkie gegee, maar hy het my baie lank vasgehou. En hy het so gevryf. Maar toe streel sy hand so oor my bors en dit sak laer en laer. Hy het sy vinger op sy mond gesit en vir my gefluister: “Jy’s ’n mooi dogtertjie, moenie bang wees nie.” Ek het nie gehou van wat hy doen nie. Dit het my ongemaklik laat voel, want hy het regtig hard gevryf. Sy hande was hard.
Gelukkig het my ma toe na my geroep en hy het my dadelik laat los. Maar hy ruk my toe aan my arm terug. “Dis ons geheim, nè,” sê hy toe. “Jou ma sal jou in elk geval nie glo nie.”
Ek het my kop geknik en vinnig weggehardloop. Ek was nog nooit so bly om my ma te sien nie.
Dit was ook die einde van die salige vleisbraaie. Ek het nooit weer by hulle aangesluit nie, nooit weer op die groen bank gaan speel nie. Ek het eerder in my kamer weggekruip, maar ek het geweet hy sal altyd kom inloer wanneer hy op pad toilet toe is of so iets.
Hy het ook daarna altyd vir my geskenkies gebring en soms ’n geldjie in my hand gestop. Dit was baie oulike geskenke en ek het op ’n manier weer van hom begin hou. Dit was een rede hoekom ek nooit vir iemand vertel het nie. Ook omdat ek geweet het my ouers sou my nie glo nie. Hulle was mal oor hom en het goeie vriende geword.
Daar kom weer kwaai stemme uit Mamma-hulle se kamer. Baklei hulle oor my? Is dit my skuld? Ek klim van my bed af om die bruin koffertjie te kry. Ek weet wat daarin is: vetkryt, inkleurboeke, tekenpapier en ’n skêrtjie. Dis die skêrtjie wat ek wil hê. Ek hoor die stemme in die kamer; ek maak die skêrtjie se mond oop. Met twee vingers van my ander hand druk ek die vel op my knie dat dit so ’n bultjie staan. Die skêrtjie byt in die bultjie in. Daar kom bloed uit. Dit is seer maar ook nie seer nie. En ek hoor nie meer die geraas in die kamer nie.
Die kamerdeur klap en Mamma kom verbygeloop. Ek kan sien sy het gehuil. Sy stop. Sy sien my knie en vra wat gebeur het. Ek begin huil. Van my trane drup op my knie en die bloed word so waterig teen my been af. Mamma bring ’n bakkie met water en Dettol, en met watte druk sy teen die seerplek op my knie. Dit brand en ek huil nog meer. Ek huil totdat Mamma ’n pleister opplak en toe is al my huil verby.
Elke keer as my ouers baklei het, of as ek bang was, het ek myself seergemaak. Nie noodwendig deur myself te sny nie, soms was dit ook deur myself te byt of my kop teen die muur te stamp. Die fisieke pyn het die werklikheid verdring.
Ek het dikwels voorgegee dat ek geval het. Vir party mense sou dit lyk of ek aandag gesoek het. Wie weet, dalk het ek, maar om seer te kry, was ’n moet vir my. Dit het my vir ’n ruk emosieloos laat voel. Die wêreld daar buite was ’n lelike plek vir my. Die kamer in my kop was my toevlug en ek het geleer om in my kop veilig te voel as my hart uit vrees om uitkoms smeek.
My ouers het my na ’n sielkundige in Bloemfontein geneem – ’n koddige vroutjie wat my met karretjies laat speel het. Ek moes lyntekeninge maak en dit uitknip. Ons het nie veel woorde gewissel nie, want ek het lankal na die kamer in my kop geëmigreer. Niemand sou weet wat my binnegoed breekbaar maak nie.
Mamma het vir my ’n bedlampie gekoop, een met ’n Mickey Mouse op. Ek los dit nou elke aand aan en dan kom die voetstappe nie meer nie. Maar nou kom Mamma ook nie meer by my sit nie. Ek weet nie wat die slegste is nie, die voetstappe of Mamma wat nie meer kom nie. Mamma sê sy doen wat vir ons almal goed is.
Drie aande terug het die mense weer kom kuier. Hulle het my baie bang gemaak, veral die man met die sekel. Vir hom is ek die heel bangste. Ek het my oë met my hande toegedruk en eers ná ’n lang ruk gekyk, maar hulle was nog daar. Hulle het gelag, maar ek het niks gesê nie.
Nou weet ek die mense sal daar wees as ek kamer toe gaan. Hulle kom altyd wanneer Pappa sy en Mamma se kamerdeur toetrek. Dan kom die ou oom met sy swart bolhoed en bruin onderbaadjie eerste en hy dans so met sy hande so weg van hom. Die dogtertjie met die wit hare is skaam en sy is altyd agter die oom. Dan skreeu die baba ook en daarvan hou ek nie. Die tannie wat die baba vashou, hou ook nie van my nie, sy kyk so vir my.
Gister het die baba weer so geskreeu en toe vra ek die tannie sy moet dat hy stilbly, want Pappa-hulle gaan wakker word. Dit was die eerste keer dat ek met hulle gepraat het. Toe praat die tannie ook met my. Sy is net so kwaai soos sy lyk. Sy sê ek is jaloers en ek wil haar baba seermaak. Toe sê die ou oom nee sy moet stilbly. Moenie so met die kind praat nie, sê die oom, want sy het niks aan jou gedoen nie. Ek hou van die oom, want hy is aan my kant. Ek hou nou baie van hom.
Ek het tog uiteindelik aan die besoekers in my kamer gewoond geraak. Ek kon my verwonder aan hoe die ou oom my boekrak bestudeer en die klein dogtertjie met my poppe speel. Nie dat ek juis daarvan gehou het nie, want ek was heilig op my poppe. Die tannie het my voortdurend dopgehou. Haar oë was kil. Sy het kort, bruin hare gehad en ’n helder bloes met blomme daarop gedra. Haar parfuum was iets tussen Red Door en aangebrande rys. Dit het my naar gemaak.
Maar die vrees vir hulle het verdwyn en plek gemaak vir nuuskierigheid. Ek wou weet wie die snaakse karakters was en waar hulle vandaan kom. Ek het hulle nagte deur aangestaar, na hul manier van loop en watse gebare hulle maak. Maar as hulle vir my gekyk het, het ek altyd afgekyk. Dit het ’n hele ruk geduur voordat ek aan hul kuiertjies gewoond geraak het. Ek het geweet hulle kom, en ek moes net kies of ek daarmee wou saamlewe of nie.
“Aangenaam, ek is oom Johan,” sê die oom en hou sy hand na my uit. Ek weet nie of ek sy hand moet vat of nie, dis só oud en vol plooie. Toe sien ek sy oë, dit lyk asof die blou lug in sy oë is, dit is so blou, blou. “Kyk, poppie, die oom se hand gaan afval as jy hom nie nou vasdruk nie,” sê hy. Hy lag. Ek lag ook en vat sy hand. Dit is grof en koud.
Oom Johan wys met sy vinger na die klein dogtertjie. “Daar is Lisa,” sê hy. “Sy is maar ’n skaam enetjie.”
Ek klim uit my bed en stap na Lisa toe. Dis die eerste keer dat ek dit doen. Sy sit by die pophuis. “Jy’s mooi,” sê ek, en haal my beste pop uit en sê sy mag daarmee speel.
Die oom praat weer. “O, gats,” sê hy. “Voor ek uitgeskel word, dis tannie Anna.” Hy wys na die tannie. Die tannie draai haar rug na ons.
“Sy kan maar nors raak, so moenie alles glo wat sy sê nie,” sê oom Johan.
“Hallo, Tannie,” sê ek.
“Ek ken jou soort, jy lyk maar net so soet, maar agter toe deure is jy lekker stout,” sê die tannie.
“Issie,” sê ek. “Ek is nie stout nie.” En toe vra ek vir die oom: “Oom Johan, hoekom hou sy nie van my nie?”
“Ag, my hartjie, dis seker die baba. Moeilike kind daardie. Hou nooit op skree nie. Maar tussen my en jou: ek dink sy is nie lekker daar bo nie.” Die oom praat saggies en maak met sy vinger sulke kringetjies langs sy kop.
Lisa het my pop aangetrek en uitgetrek en weer aangetrek. Ek kan sien sy speel baie lekker.
Dit is koud en ek klim weer in my bed. Oom Johan kom langs my sit. “Wie is julle, Oom?” vra ek. “Waar woon julle? En hoekom sien Pappa julle nie?”
“Ons is gestuur om ’n ogie oor jou te hou,” sê oom Johan. “Dit maak nie saak waar ons vandaan kom nie, solank jy in ons glo.”
Toe raak tannie Anna baie kwaad. “Twak! Vertel vir die kind die waarheid,” sê sy. “Kom, vertel haar. Vertel van die gat in die muur en dat hy haar dophou.”
Die oom sal my nou moet vertel, want ek raak baie bang.
Hy knik en klop met sy hand op my duvet. “Daar is ’n gat, hartjie,” sê hy. “Daar is ’n gat. Maar hy kyk net soms of jy slapies. Jy hoef nie vir hom bang te wees nie.”
“Is dit die man met die sekel?” vra ek.
“Ja, hartjie. Hy hou nie van lig nie, daarom kom hy net in die nag. Ons het gewag tot jy sy voetstappe hoor. Nou weet ons dat jy in ons glo.”
“Ek hou nie van hom nie. Hy maak my bang.”
Oom Johan skuif nader. Sy growwe hand vat aan my wang en hy kyk in my oë en sê saggies: “Hartjie, ons sal nou by jou bly tot jy slapies.”
Ek kyk vir oom Johan, en voel nie meer bang nie. Ek vertrou hom. Ek kruip onder my pienk duvet in en hy trek my toe. Hy wil die bedlampie afsit, maar ek sê hy moet dit asseblief aan los. Hy knik.
Toe dink ek weer aan die gat in die muur en sit regop. “Waar is die gat, Oom?”
Oom Johan skud sy kop. Hy loop na die muur – dis ’n houtmuur – en haal my ballerina-sertifikaat af.
Hy is reg, daar is ’n gat! So groot soos ’n gholfballetjie; ek kan dit met my eie oë sien. “Kan hy deur goed sien, oom Johan?” vra ek.
“Ja, Black Boy het super powers,” sê die oom. “Maar hy sal jou nooit seermaak nie, want ons waak oor jou.”
Ek hou nie van hom nie. Ek wil nie hê iemand moet vir my kyk nie.
Oom Johan sit die sertifikaat terug en tel Lisa op my bed om langs my te lê. “Jy’s ook mooi,” sê Lisa saggies.
Nadat ek hulle leer ken het, kon ek saans nie meer wag vir hul verskyning nie. Oom Johan het altyd vir my die snaaksste slaaptydstories vertel. Hy wou my aan die slaap maak, maar ek het my telkens wakker gelag. Hy kon ’n storie soos ’n fliek voor jou laat afspeel. Ek kon die feetjies met hul hoëhakskoene sien, die kabouters wat kaalvoet met hul Armani-pakkies gespog het, en die wit perd met die goue tande.
Lisa het elke aand langs my gelê. Tannie Anna was nie baie gaande daaroor nie en sy het my gedurig daarvan beskuldig dat ek haar kind wil steel. Maar Lisa was nie haar kind nie. Sy het my dit self gesê, en ek het haar geglo. Oom Johan moes ons soms stilmaak, want Klaasvakie sou weer koers kry van die geraas. Ek wou egter nie ophou gesels nie, want hul teenwoordigheid het my siel gevoed.
My bedlampie het die man met die sekel weggehou, maar die gat in die muur het bevestig dat hy wel daar is. Ek het soms in die dag daarna gestaar; gewonder hoekom my broer dit nie kon sien nie, want hy moes tog van sy kamer af na myne kon deurkyk. Ek het ook gewonder of my ma van die gat weet, want sy het die sertifikaat daar gehang.
Die gat was pikswart. Ek wou eenkeer my vinger daarin druk, maar net toe roep Maria my. Ek het yskoud geword, en dit nooit weer probeer nie.
My kuiergaste was mense wat in my geglo het en na my geluister het. Ek kon vir hulle vertel wat my hart gekneus het. Ek het hulle met alles vertrou, selfs die pyn oor oom Leon en sy hande. Ek het verlang na hulle, wou net by hulle wees. Ek het veilig by hulle gevoel, maar my bedlampie moes aanbly.
In my eie familie, my geliefdes, het ek vertroue verloor. Hulle was die mense wat my nie wou glo nie, en ek wou so graag iemand hê wat my glo. My kamer het ’n skatkis vol geheime geword, geheime wat ek stil bewaar het.