Читать книгу Ware verhale van geloof - Helana Olivier - Страница 7

2

Оглавление

Selfbeheptheid sal handuit ruk

Debbie (Bingham) Nicholson

Vir elke aksie is daar ’n reaksie. Kitsbevrediging bring net tydelike verligting of plesier. En selfsugtige keuses hou enorme gevolge vir jou in en leer jou harde en blywende lesse.

Ek onthou bevoorregte kinderjare met ongelooflike geleenthede en ’n toegewyde en ondersteunende familie wat hulleself afgeskeep het ter wille van my loopbaan. Ek dink met dankbaarheid terug aan ’n LO-opvoeder wat reeds in die laerskool my talent vir gimnastiek raakgesien het. Ek is so dankbaar vir my ma wat sy raad gevolg het. Drie maal per week het sy haar drie kinders in die motor gelaai en die 30 kilometer na die gimnastiekskool gery. Daar het sy twee uur geduldig saam met die res van haar kroos gewag terwyl ek oefen. Daarna het sy ons drie weer in die kar geboender vir die terugtog.

Ek het ’n natuurlike aanleg vir gimnastiek gehad. Wanneer ek nie by die gimnasium was nie, het ek by die huis geoefen – elke keer wanneer ek die kans gekry het. Dit was vir my lekker om aan kompetisies deel te neem. Wanneer die toeskouers se aandag op my was, het die adrenalien deur my liggaam gepomp. Binne ’n jaar was ek die nasionale kampioen in my ouderdomsgroep. Aan dié titel het ek deur al my laerskooljare heen vasgeklou.

Teen daardie tyd was ek vyf keer per week in die gimnasium. My lewe het gedraai om oefen. Ek het geen tyd vir ander buitemuurse aktiwiteite gehad nie. Buiten in die klaskamer, het ek ook nie juis interaksie met ander kinders van my ouderdom gehad nie. Ek het al die partytjies, oorslaapaande en naweekpret misgeloop. My lewe was van vroeg af reeds eendimensioneel. Maar ek het gefloreer op die opwinding van wen; op die adrenalien; op die gevoel om op die podium te klim en die skare se applous te ontvang. Op veertien het Suid-Afrika se nasionale gimnastiekafrigter my raakgesien en in haar oefengroep opgeneem. Wat ’n voorreg en eer! Dit het meegebring dat ek ons huis moes verlaat en in Johannesburg gaan bly. My afrigter het ’n pleegfamilie gevind wat bereid was om my by hulle in die huis te neem. Voordat ek tot verhaal kon kom, was ek ingeskryf by ’n nuwe skool, ver van my ouerhuis af – ’n vreemdeling op ’n vreemde plek, in ’n gimnasium waar ek saam met die bestes in Suid-Afrika afgerig is.

Dit was groot spronge vir ’n skaam, onseker en beskermde jong meisie. Ek kon dit regkry om die indruk te skep dat ek in beheer van my lewe was, maar eintlik het ek leeg gevoel. Ek was bang, eensaam en siek van verlange. Die gimnasium was my skuilplek. Terwyl ek geoefen het, is my gedagtes ten volle in beslag geneem deur die motivering om die beste te wees. Ek kon sewe dae per week, vier uur per dag daarheen ontsnap.

In die volgende drie jaar het ek die voorreg gehad om as ’n lid van die Springbokspan deel te neem. Ons is afgerig deur Nellie Snyman, die wonderlikste afrigter ooit. Hierdie vrou het haar lewe gewy aan, ja, opgeoffer vir ons ses meisies. Ter wille van haar het ons met volle oorgawe geoefen, het ons bloed, sweet en trane gestort. Ons was ’n hegte groep wat saam gewerk en met mekaar meegeding het. Dit was ’n uitdaging en terselfdertyd uiters bevredigend. Ons het gestreef na volmaaktheid, en gedy op die gloed van oorwinning, op die voorreg om op nog ’n podium te klim om die goue medalje te ontvang. Om te wen was alles. Ek het geleef om te wen en gewen asof my lewe daarvan afhang.

Op sewentien was ek op die kruin van my loopbaan en reeds bekend in die land. Danksy sekere sportfotograwe en TVkameramanne het ek as “Suid-Afrika se goue meisie” bekend geraak. Ek was altyd reg vir die kameras en gretig om die skare te bekoor. Ek het uitgeblink in my spel met my bewonderaars. Nadat ek ’n hele paar kontrakte as model aangebied is, het ek ’n rol gekry in ’n Suid-Afrikaanse fliek – ironies genoeg met die titel Winners 2 – asook in ’n teaterproduksie met die naam Director of the opera. Die ouderdomsbeperking van hierdie produksie was hoër as my ouderdom in daardie stadium. Dit was soos ’n droom … die pers, die paparazzi en die gewildheid. Ek was die middelpunt van aandag en belangstelling, en só het ek ook geleef. Die wêreld was aan my voete.

Ses maande voordat ek matriek moes skryf en net voor die laaste internasionale kompetisie van die jaar, het ek egter besluit om gimnastiek te laat vaar. Ek wou ophou gimnastiek doen terwyl ek nog op die kruin was. ’n Agent in wie ek ’n weersin gehad het, het beheer van my sake oorgeneem. Ons het ’n uitval gehad, en daarna het ek my aan alles onttrek. Maar ek het geen alternatiewe plan vir my toekoms gehad nie. Die een dag was ek nog ’n heldin, en net die volgende dag … ’n nul.

Die besluit om my rug te draai op alles wat positief in my lewe was en só iets te bewys aan die mense wat ek verafsku het, sou baie jare later met vernietigende gevolge weer opduik. Gevolge wat ek sou kon vermy het as ek die lesse van selfbeheptheid vroeër in my lewe geleer het.

Daar was skielik ’n groot leemte in my lewe. “Wat nou?” het ek gewonder. “Wat moet ek doen met al die vry ure in my dag? Wat moet ek met my lewe maak?”

Tot in daardie stadium het ek altyd gedoen wat vir my voorgesê is. En ek het goed daarin gevaar. Maar ek het alles agtergelaat. Ek moes skielik aanbeweeg, ’n nuwe begin maak. Ek het geen idee gehad wat ek met die res van my lewe wou doen nie. ’n Selfgesentreerde vrees het my beetgepak. Ek het verloor wat ek gehad het – sukses, talent, bekwaamheid. En nie bereik wat ek so graag wou gehad het nie – nog meer erkenning en nog meer sukses. Die vrees dat my lewe nie aan ander se verwagtings sou voldoen nie, was besig om my grootste nagmerrie te word.

My liggaamlike lewensreël van vier uur per dag, sewe dae per week in die gimnasium was iets van die verlede. Ek het my heeltemal aan die kalklig onttrek. Ek het dus hope vrye tyd gehad om aan my “ek”-obsessie af te staan. Dit was al mate van beheer wat ek oor gehad het. Ek het my waarde gemeet aan wat ander mense van my gedink het. Alles het om my beeld en prestasies gedraai. Ek het my innerlike bevrediging buite myself gesoek. Maar ek moes hard soek. My obsessie met myself en my beeld het my op die pad na selfvernietiging laat beland. Dit het begin met die angsgedagte dat ek vet sou word. Ek het gesien wat met sommige van die ander gimnaste gebeur het nadat hulle opgehou het om so intensief te oefen. My selfbeheptheid het my begin verteer, en my angs is vererger deur die vrees dat ek nie meer so gewild sou wees nie. Omdat ek mislukking gevrees het, het ek bang geword om dit in die buitewêreld te waag. Eindelose ure lank het ek niks gedoen nie, uitgestel en vermy, my oor my beeld gekwel. Tog het ek prikkels van sukses ervaar saam met elke sprankie erkenning, soos wanneer ek gewig verloor het.

My obsessie met kos het my nuwe loopbaan geword. Om ’n ete oor te slaan was deel van die oefening. Ek was net so toegewy aan my doelwit om nie vet te word nie – aan my hongerstaking – as wat ek vroeër aan my gimnastiek was. Ek sou enigiets doen om nie te eet nie. Ek het my afgesonder sodat ek nie saam met ander aan tafel moes sit en eet nie. Wanneer ek na ’n restaurant saamgenooi is, was ek vol verskonings. Dit was vir my heerlik wanneer iemand opgemerk het ek het gewig verloor. Saam met die hongerpyne het ek gevoel ek bereik iets. Dit was vir my ’n oorwinning. ’n Gevoel van euforie het my oorweldig en vir my die krag gegee om voort te gaan. Ek het myself aanhou uithonger, in afwagting van die volgende erkenning en oorwinning. Só het ek die aandag gekry waaraan ek gewoond was, al het dit het vanuit ’n negatiewe hoek gekom. Die ontkenningsiekte het my verslaaf. My hegte familie- en vriendekring se lewe is daardeur ontwrig, maar die hele tyd was ek totaal onbewus van wat ek besig was om te word en van die hartseer wat ek veroorsaak het. Ek was ’n gevangene in my eie liggaam. My lewe het bestaan uit leuens en kompulsiewe en obsessiewe gedrag. Ek het die soort mens geword wat ek nog altyd verafsku het.

In 1977 is ek in die hospitaal opgeneem. Daar het ’n artikel in die koerante verskyn wat ’n naam en ’n beskrywing aan my siekte gekoppel het – anorexia nervosa. Weens my jarelange innerlike stryd teen my gewig het ek myself baie liggaamlike en emosionele skade aangedoen. Op die ou end was ek ’n wrak. Ek moes tussen lewe en dood kies. My lewe is heeltemal oorgeneem deur een enkele obsessie. En hoe meer ek dit probeer beheer het, hoe meer het dit my beheer. Daar was min van my selfbeeld oor, en ek was bang dat ek nooit weer die beste sou wees in wat ek ook al sou aanpak nie. Dit het my in ’n kluisenaar laat ontaard.

Ek moes hierdie gevoel afskud, maar ek het nog altyd ongemaklik gevoel tussen mense. So dikwels het ek gevoel ek is net nie goed genoeg nie.

Een aand by een van my vriende se mondigwordingspartytjie het iemand vir my ’n drankie aangebied, my heel eerste kennismaking ooit met alkohol. Miskien moet ek liewer sê, my heel ergste kennismaking. Van die eerste slukkie af het ek ’n gevoel gekry wat my uitkyk op die lewe verander het. Dit het vir my moed gegee, en selfvertroue.

Tydelike verligting was binne my bereik. Ek het die perfekte medisyne gekry. Drank het vir my die selfvertroue gegee om uit my dop te kruip en die wêreld te verower. Van ’n nul tot ’n heldin in een aand! Uiteindelik het ek gekry waarna ek gehunker het – hierdie vloeistof wat my gevoel oor die lewe kon verander. Só het ek toe die middelpunt van elke partytjie geword. Ek het elke verskoning en elke geleentheid om te drink aangegryp. Ek het gevoel ek is onmisbaar.

In die volgende fase van my lewe het ek so baie begin drink dat ek, voordat ek tot verhaal kon kom, elke dag van die week die hele dag lank gedrink het. My verslawing was heeltemal buite my beheer. Ek was vasgewikkel in die ontkenning dat ek my obsessie met kos vervang het met die drang om te drink. Baie jare lank het ek staatgemaak op ’n middel wat my denke verander het om my beter te laat voel. Ek was heeltemal onbewus van wat besig was om met my te gebeur. Ek het nie besef wat ek doen nie. My familie en hegte vriende het probeer ingryp, maar ek het my weer eens onttrek. Elke keer het ek verhuis onder die vals indruk dat ek net ’n nuwe begin op ’n ander plek nodig het. Ek het glad nie besef eksélf was die probleem wat telkens saam getrek het nie.

Ek kon glad nie verantwoordelikheid aanvaar nie. Ek het nooit helder genoeg gedink nie. Ek het nie oor genoeg eerlikheid beskik om my situasie te erken nie. Dit alles was die gevolg van my swak keuses.

My lewe het só voortgeduur … tot op een uitsonderlike dag. ’n Kennis, wat ek nou graag my aardse engel wil noem, het tot my redding gekom. Sy het lank toegekyk hoe ek in die diepste wanhoop wegsink, maar op ’n dag het sy na my uitgereik. Sy het my onvoorwaardelik liefgehad en my aanvaar.

Die eerste ruk het sy net haar tyd opgeoffer om by my te wees. Sy het niks van my verwag in ruil hiervoor nie. Mettertyd kon ek dit waag om haar te vertrou. Ek het my diepste vrese en geheime met haar begin deel. Dit was iets wat ek nog nooit voorheen kon doen nie. Ek kon eenvoudig nie myself vir iemand anders oopstel nie. Ek het altyd gedink om hulp te soek is ’n swakheid. Deur my probleme met iemand anders te deel, het daar egter vir my ’n lig opgegaan. My las was skielik ligter. Ek was so siek soos my geheime, en ek het ’n ongelooflike gevoel van vryheid ervaar die oomblik toe ek dit kon deel met iemand wat ek vertrou het.

Ek was lank so onafhanklik dat ek gedink het my wilskrag is sterk genoeg om vir my beheer oor my lewe te gee. Maar selfbeheptheid sal die een of ander tyd handuit ruk. Ek kon nie verder nie, en in my wanhoop het ek my oorgegee aan die vertroue dat daar iets moet wees wat groter as ek is en wat my kan help. Ek het alle vertroue in myself verloor. In my wanhoop was ek bereid om enigiets te doen. Ek het gesteun op my nuwe vriendin met haar kalmte van gees, want ek wou hê wat sy gehad het.

Op ’n dag het sy onomwonde vir my vertel dat God vir haar gedoen het wat sy nie vir haarself kon doen nie. Haar wil as mens het haar in die steek gelaat.

My hele lewe lank het die woord God ’n weersin by my gewek. Die sinspeling dat daar dalk ’n persoonlike God vir my is, het hierdie gevoel net laat verskerp.

“Hoekom kies jy nie jou eie beeld van God nie?” het sy voorgestel.

Al wat ek moes doen, was om bereid te wees om te glo in ’n krag wat groter as ek is. Dit was al wat van my kant af nodig was om ’n nuwe begin te maak. Dalk kon ek bou op die volkome bereidheid wat ek in my vriendin gesien het. Aanvaarding was regtig moeilik vir so ’n hardkoppige, selfsugtige jong vrou soos ek, iemand wat altyd alles op “haar manier” gedoen het.

Ná ’n lang worsteling met die bekende gedagte van “Laat los en laat God,” het ek my uiteindelik aan Hom oorgegee. Uiteindelik het ek in die sonlig gestaan. ’n Nuwe wêreld het voor my ontvou. Hoe blind was ek nie!

Ek het ’n ongelooflike gevoel van vryheid ervaar. My obsessies en my selfsug het afgeneem. My vrees vir mense en die lewe het vervaag, en my selfbeheptheid is vervang met die behoefte om na ander uit te reik en my insig met hulle te deel. Ek het my tekortkomings vreesloos in die oë gekyk, en ingestem dat my nuutgevonde God dit uit my lewe kon wegneem.

Ek moes leer om nederig en eerlik oor myself te wees. Ek moes myself ten volle aanvaar en my foute erken. Dit was ’n lang en taai, maar tog ook ’n eenvoudige proses. Dit het aan my die vryheid gegee om aan te gaan met my lewe, om die verlede agter my te sit, om nie vooruit te dink aan die toekoms nie, maar om te leer om vandag te leef.

Dit is nie altyd maklik om die regte keuse te maak nie – veral nie wanneer jy volgens geestelike beginsels in ’n materialistiese wêreld wil leef nie. Ek betrap my dikwels dat ek die beheer oor my lewe wil terugneem. Maar my bewustelike kontak met die Here hou my op die grond. Hy hou my nederig, eerlik en gewillig om die beheer oor my lewe uit liefde en met dankbaarheid in sy hande terug te gee.

Hierdie “nuwe ek” is besig om te ontwikkel in die mens wat ek van geboorte af bedoel is om te wees. Liefde is ’n nuwe grens wat ek besig is om oor te steek. Ek leer nog om myself lief te hê, en om die liefde wat ek ontvang vrylik aan ander uit te deel.

My verhouding met God is heg en persoonlik. Hy vergesel my deur die goeie en die slegte tye. Ek vra gereeld sy beskerming en versorging voordat ek uitgaan met die verwagting dat daar nog ’n fantastiese dag op my wag. Hoe die dag ook al verloop, ek sê vir die Here dankie daarvoor. Ek leer al hoe meer wie ek regtig is, en ek aanvaar myself met al my foute. Ek streef liewer na vordering as na volmaaktheid. Daar is tog net Een wat volmaak is.

Ek het vandag baie om voor dankbaar te wees.

Eerstens sê ek vir God dankie. Hy het my geestelik herstel en vir my vrede gegee.

Tweedens sê ek vir my man en my twee dogters dankie. Hulle lewe het in tye van wanhoop net so onbeheerbaar soos myne geword. Ek het julle baie lief.

Ek is onbeskryflik dankbaar teenoor die wonderlike mense wat my liefgehad het toe dit vir my onmoontlik was om myself lief te hê, en wat vir my die pad na God toe aangewys het.

Deesdae leef ek elke dag volgens God se plan. Ek hou my lewe eenvoudig en leef van dag tot dag. Ek sal God ewig dankbaar wees vir my radikaal nuwe gesindheid, vir sy Gees wat voortdurend in my lewe werk en my altyd herinner om nie die deur na my verlede – toe ek ’n lewe van vernietiging en duisternis geleef het – gesluit te hou nie.

Geloof sonder dade is immers dood. Ek het ’n passie om my verhaal van hoop met ander mense te deel. Ek wil graag ander mense wat met verslawings worstel, help om die oorwinning te behaal.

Vandag bestaan ek nie net nie. Ek lééf!

Aan God al die eer!

Ware verhale van geloof

Подняться наверх