Читать книгу Ware verhale van geloof - Helana Olivier - Страница 8
3
ОглавлениеAsseblief
Ria Mills
As jy God jou éérste keuse maak, is al die ander keuses baie makliker. Dan kom die meeste ander dinge vanself.
Wanneer ’n mens deur ’n groot beproewing gegaan het, wanneer iets ongelooflik hartseer in jou lewe gebeur het, of wanneer jy ’n buitengewoon traumatiese ervaring beleef het, vra mense dikwels vir jou een of meer van die volgende vrae:
Watter keuse(s) het jy gemaak toe dit met jou gebeur het?
Hoe het hierdie keuse(s) jou lewe tot dusver beïnvloed?
Watter uitdaging(s) moes jy oorkom nadat jy jou keuse(s) gemaak het?
Wat sou, na jou mening, die gevolge gewees het as jy ’n teenoorgestelde rigting ingeslaan het?
Op die meeste van hierdie vrae is my antwoord eenvoudig: Ek weet nie regtig nie, want die meeste van hierdie keuses is waarskynlik vír my gemaak deur my Skepper wat weet wat die beste vir my is. Hý het oorgeneem en namens my besluite geneem toe ek heeltemal te verbyster en ontsteld was om self enige keuses te maak.
Die gevolge as ek ’n ander koers ingeslaan het? Ek sou gesink het. Ek sou vergaan het. Ek sou in wanhoop verdrink het.
Hierdie verhaal is nie werklik my verhaal nie. Ek is nie die hoofkarakter in hierdie storie nie. Die hoofkarakters is my seun, ja, veral hy, en my man. Hulle twee speel die hoofrolle. Ek deel slegs my emosies oor wat met hulle gebeur het.
Soms word ’n mens – gelukkig of ongelukkig – nie ’n kans gegun om van die heel grootste keuses in die lewe self te maak nie. Jy as mens word maar net toegelaat om ander keuses oor spesifieke omstandighede te maak, want die groot Meester self besluit wat met jou sal gebeur. Hy gee jou dan die ruimte om klein of groot besluite rondom sý heel grootste besluit te neem. My nederige ondervinding was dat God deurentyd dáár is om oor te neem wanneer jy tot niks meer in staat is nie en maar net kan smeek: Asseblief, asseblief, asseblief … Dit is hoe ek my rol in hierdie verhaal ervaar het.
Hierdie kort verhaal oor die keuses in my lewe begin ongeveer tien jaar gelede. Om presies te wees, nege jaar en tien maande gelede.
Dit sou vervelend en waardeloos wees om te vertel van al die keuses wat ek voor daardie tyd gemaak het. Vroeër was my keuses altyd so maklik. Ek het grootgeword in ’n huis waar ek van kleins af geweet en geglo het daar is ’n Skepper wat altyd daar is vir dié wat glo. Ook my laerskool- en hoërskooljare is deur Christelike onderrig gekenmerk. Die lewe was altyd maklik. Ek kon my wense en hoop en bekommernisse vir God gee, en Hy sou voorsien. Daar was nooit ’n probleem hiermee nie. Alles sou goed afloop – en het ook gewoonlik goed afgeloop.
Toe ek eers my eie familie het, was my keuses steeds so maklik. Weer het alles net goed verloop. Ons kinders het goed gevaar in alles wat hulle gedoen het. Soms selfs bogemiddeld goed. My man het ons goed versorg en was baie lief vir ons. Weer eens was my keuses so voor die hand liggend. Dit was baie maklik om in die genade van God te glo. Nooit was ons voor enige ernstige keuses gestel wat ons alledaagse lewe en/of ons geloofslewe radikaal kon beïnvloed nie.
Ek het wel van tyd tot tyd in die Bybel van belangrike, aartsbelangrike en geloofsbelangrike en lewensbelangrike, besluite en keuses gelees. Soms het ek ’n minuut of twee daaroor nagedink, dit in my gemoed rondgerol, maar dan weer daarvan vergeet.
Ek het gelees van Petrus se keuse om eerder te lieg oor sy verhouding met Jesus. Ek het gelees van Jona se keuse om van God af weg te vlug en eerder die gevare van die see aan te durf. Ek het gelees van Moses wat besluit het om die rots te slaan in plaas daarvan om dit net met sy staf aan te raak … en van die volk Israel se sinlose besluit om ’n goue kalf te bou. Ek het gelees van Judas se keuse om Jesus te verraai. Ek het hulle selfs in my gedagtes veroordeel … maar ek hoef my keuses nooit in tye van volslae wanhoop te gemaak het nie. Ek was nooit in “ek sien nie hiervoor kans nie”-omstandighede nie. My lewe was sonder wanhoop. En my keuses daarom baie maklik.
Wanneer ek gelees het van Abraham wat moes besluit of hy sy seun sou offer, het ek gou-gou omgeblaai. Wat ’n angswekkende, bomenslike en ondenkbare keuse om te maak! Maria se keuses ná Jesus se kruisiging het my met bewondering en ootmoed vervul. My grootste vrees vandat ek kan onthou, is en was nog altyd dat ek ’n kind aan die dood sou moes afstaan. Daar was geen groter vrees in my lewe nie.
Op een angswekkende, ondenkbaar-skrikwekkende dag … of was dit dae … weke? – ek kon in daardie tyd nie tussen dae, nagte, weke of ure onderskei nie – moes ek egter ’n besluit neem. My seun was in ’n ernstige ongeluk. Daar was egter nie een breukdeel van ’n sekonde enige twyfel in my gemoed nie. My keuse was die lewe – ongeag die toekoms. Ek het geweet God kan nie ingeperk word nie. Hy is nie plek- of tydgebonde nie. Hy sal ook in die toekoms daar wees, ongeag …
Op 8 Desember 2000 was my seun, toe ’n huisdokter in ’n klein plattelandse hospitaal op die grens van Swaziland, in ’n motorongeluk betrokke. Hy het agter die stuurwiel aan die slaap geraak terwyl hy oppad terug was hospitaal toe. Hy het ’n nekbesering opgedoen, maar daar was Goddank geen skade aan sy rugmurg nie. Hy sou nie verlam wees nie.
Die dag ná die ongeluk is hy teater toe vir ’n operasie om die onstabiele breuk in sy nek te stabiliseer. Tydens of direk ná die operasie het ’n bloedklont in die pons van sy breinstam vasgesteek. My kind het ’n beroerte gehad. Hy was maar 26 jaar oud en in lewensgevaar … maande lank.
Mense vertel soms dat alles in ’n tyd soos hierdie vir hulle “onwerklik” voel, asof dit ’n rolprent is wat voor hulle afspeel. Nie een van hierdie oomblikke was vir my “soos ’n droom” of “’n totale onwerklikheid” nie. Elke oomblik was brutaal, skrikwekkend, waar, eg, folterend. Al wat ek kon bid, oor en oor en oor, was die niksseggende woordjie asseblief. Weer en weer het ek asseblief gefluister … en gewag en geweet dat God Almagtig die keuse moes en sou maak. Daar was te veel én te min wat ek wou vra en bid. Buitendien het ek nie geweet presies waarvoor ek moes vra nie. Ek het geen benul gehad wat die prognose of die gevolge van ’n bloedklont in die pons van die breinstam was nie. Al keuse wat ek in my onkunde gehad – en uitgeoefen – het, was om die God van lewe en dood met die woord asseblief te vertrou. ’n Ander, waarskynlik-naïewe, keuse was om onmiddellik ná die ongeluk in ’n Ou-Testamentiese mode in te gaan. Ek wat nooit voorheen voor so ’n angswekkende keuse in my lewe te staan gekom het nie, het probeer om met God te onderhandel. “As ek dit of dat nóóit óóit weer in my lewe sal doen of sê nie, of as ek dit of dat wél sou doen of sê, sal U dan asseblief my kind laat leef?” Wat kon ek opoffer of prysgee wat waardevol genoeg sou wees om vir my kind se lewe te betaal? Ek was dwaser as Jona en Petrus en Moses saam!
Dit is tog vreemd dat ek by tye sommige beeldmateriaal van die film waarmee ek in daardie stadium gewerk het, skerp onthou het. Die tema van die film was: Hoe die aarde gebore is. Dit het gegaan oor hoe alles, volgens die slim mense, ontstaan het. Ek het gedink aan die uitbeelding van die massiewe kragte en uitbarstings wat die aarde en see help vorm het … wat vastelande van mekaar losgeskeur en die see verskuif het … En elke keer wanneer ek angsbevange gebid het om my kind terug te kry, het ek onthou van ’n gewone mens se uitbeelding van die almag en krag van die almagtige God. En elke keer het ek geweet Hý wat dít kon doen, kan maar net dink aan my kind en hy sal gesond word … hy sal loop en praat en lag en leef.
Wanneer alles rondom my inmekaargetuimel het, het ek onthou van ’n mensgemaakte film oor hoe God orde uit onbeskryflike wanorde kon skep, orde wat ’n mens se verstand te bowe gaan. “Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees.’ En daar was lig” (Gen 1:2–3). Hoe vreemd dat spesifiek híérdie beeld keer op keer in my gedagtes opgekom het.
Daar was ook een baie, baie kort gedeelte in die Nuwe Testament wat ek oor en oor gelees het, wat ek weer en weer in my gedagtes herhaal het, soos die eggo tussen kranse waarvan jy die einde nie kan hoor nie. Ja, ek het veral aan hierdie paar woorde vasgehou.
Hoe vreemd, ook, dat dit nie die gedeelte was oor Jaïrus se dogtertjie wat uit die dood opgewek is nie. Dit was ook nie Lasarus se verhaal of die verhaal van die belangrike man wie se seun gesond gemaak is nadat Jesus die duiwels uit hom verdryf het nie. Dit was nie een van die wonderlike wonderwerkverhale oor siek mense nie.
Ek het vasgehou aan Markus 4:35–41, wat vir ons vertel dat Jesus die storm stil gemaak het. Aan spesifiek hierdie woorde het ek vasgeklou: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” (v 40). Uit die hele Bybel was hierdie tien woorde my keuse, my anker wanneer ek wou sink.
Die ure en dae in die intensiewesorgeenheid van twee hospitale het weke geword en die weke maande … en steeds het ek vasgeklou aan hierdie twee sinnetjies in die dik Bybel, met sy duisende ander bemoedigende verse. Hierdie tien woorde was egter vir my genoeg.
In hierdie tyd het daar ook ander, vreemde keuses oor my pad gekom.
My seun het in een stadium ’n kamer met ’n man van Joodse afkoms gedeel. Dié man se broer was ’n rabbi. Eendag het die rabbi vir my gevra of hy vir my seun kon bid. Die vraag was eenvoudig, maar die keuse ongelooflik moeilik in my deurmekaar gemoed. As ek ja sou sê, sou God my straf en my kind laat sterf? As ek nee sou sê, sou God dán my kind laat sterf?
Daar was ook ander soortgelyke keuses: die Hindoe-vrou wat vir my seun wou bid en hom wou seën; die vrou van een van die susterkerke wat vir ons die nagmaal by sy bed wou bedien; die vier vroue wat my na hulle huis genooi en vir my gevra het om my sondes aan hulle te bely sodat hulle vir my kon bid en my seun gesond kon word. Wat moes ek kies? Sou my kind sterf as ek op al hierdie versoeke, of op party daarvan, ja sou antwoord? Of sou hy sterf as ek nee sou sê?
Wie sou my tog die regte antwoord kon gee en my in die regte rigting kon lei? Watter keuse sou die regte een wees? Moes ek my leraar vra, of moes ek wag dat die regte antwoord aan my geopenbaar word? Was hierdie vreemde versoeke en omstandighede dalk ’n direkte aanslag van die Bose? Hoe moes ek hierdie situasies met wysheid en insig en veral met die regte keuses hanteer?
Ek het toe nie geweet nie en weet nou nog nie of ek in my menslike swakheid die regte keuses gemaak het of nie. Wat ek wél weet, is dat God se almag en genade en liefde groter as ons verkeerdste keuses in die lewe is.
As ek nou terugkyk op daardie tyd toe die vernietigendste storm denkbaar in ons as familie se lewe losgebars het, toe ons byna vergaan het, probeer ek dink aan keuses wat ons bewustelik gemaak het, maar ook aan die keuses wat ons onbewustelik gemaak het.
My pragtige seun het binne ’n oogwink verander van ’n lewenslustige, jong, dinamiese mediese dokter in iemand wat toegesluit was in sy eie liggaam. Hy kon nie self asemhaal nie. Hy kon nie beweeg nie. Hy kon nie sluk nie, nie eens sy eie speeksel nie. Ons het nie geweet of hy kon sien of hoor nie. Ons het nie geweet of hy sou bly leef nie. Die dokters was eerlik met ons. Hulle het ons nie veel hoop gegee nie.
Ons seun is gediagnoseer met die gevreesde en uiters seldsame inkluissindroom. In Engels word dit locked-in syndrome of a man in a barrel genoem. Mediese handboeke beskryf hierdie toestand soos volg:
Inkluissindroom is ’n katastrofiese toestand wat keer dat die pasiënt enige spiere van die liggaam willekeurig kan beweeg, buiten oogbewegings. Gevolglik kan die pasiënt nie beweeg of praat nie, al is ’n mate van kommunikasie moontlik deur die oë te knip of te beweeg. Ten spyte van die verpletterende verlies aan funksies, is mense met inkluissindroom ten volle by hulle bewussyn. Hulle kan normaal dink en redeneer. Gelukkig kom inkluissindroom uiters selde voor. Ongeveer 40–70% van mense wat aan inkluissindroom ly, sterf binne ’n kort tydjie aan die besering wat die oorsaak van die sindroom was.
Vir my was die situasie beslis ’n werklikheid, maar wanneer ek nou terugkyk, was my emosies nie werklik in pas met die werklikheid nie. Ek het alles – veral my keuses oor wat ek mág of móés doen, of nié mag gedoen het nie – probeer rasionaliseer en “verwerklik”, sonder enige sukses.
Op pad na die hospitaal waar my seun gelê het, was daar ’n Katolieke kerkie, en elke dag het ek daar stilgehou, ingestap en gebid. My gewone asseblief-gebed. Selfs dit was aan die begin vir my moeilik. Skielik was ook dít iets waaroor ek ’n bewustelike besluit moes neem. En die vraag was: Moes ek nie eerder soek na ’n Protestantse kerk wat dálk oopstaan en daar gaan bid nie? Hoe belaglik was my vrese en vertwyfelings oor die keuses wat ek moes maak! Hoe verward was ek nie!
Die keuses wat ek van dag tot dag moes maak, is noodwendig beïnvloed deur wat al die mense rondom my met hulle goeie bedoelings gesê het, ook vir my. Woorde soos: “Hierdie dinge gebeur nét met mense wat dit kan dra. Ek sal nooit so iets kan oorleef nie.” Wanneer ek hierdie woorde gehoor het, het die vertwyfeling my dadelik weer getref: Wat het ek tog gedoen? Was ek dalk arrogant? Toets my God my op so ’n ontstellende manier om te sien of ek wél so ’n beproewing kan hanteer? Het ek iewers langs die pad ’n verkeerde keuse gemaak?
Ander woorde wat lank by my vasgesteek het, was: “Ja, sulke dinge gebeur met ’n mens om jou terug te roep na God toe, om jou – en ons almal – daarop te wys dat ons anders moet begin leef, dat ons ons weë moet verander. As ons en al sy vriende dit nie as ’n wake-up call beleef en sien nie, sal níks ons seker ooit terugbring na God toe nie.” Dan het ek gedink: Het ek dan so ver van my God af weggedwaal dat Hy iets so skrikwekkend moes gebruik om my na Hom toe terug te bring? Watter verskriklike sondige keuse, of keuses, het ek dan gemaak dat Hy hierdie verskrikking oor ons moes bring? Ander het gesê: “Ja, ’n mens moet seker nooit te trots op jou kinders wees nie. ’n Mens weet nooit wat met hulle kan gebeur nie.” O Vader, asseblief, asseblief, asseblief … Vergewe my as ek te trots op my kind was, as my handel en wandel en keuses U kwaad gemaak het!
Hierdie gedagtes het my laat voel soos ’n kind wat op die strand probeer om die dammetjie wat hy gebou het vol seewater te maak. Met sy emmertjie hardloop hy heen en weer tussen die see en die dammetjie. Die see word nie leeg nie en sy dammetjie word nie vol nie. Die hele situasie en al die verwarrende emosies was so geheel en al tevergeefs.
Ek het 22 maande lank elke liewe dag by die hospitaal gesit. Meestal van nege-uur in die oggend tot nege-uur in die aand. Ek was uit vrye keuse daar. Ek het besluit om my lewe op hold te sit. Nie omdat ek dapper of spesiaal was nie, maar eenvoudig omdat my hele lewe in daardie 22 maande gefokus was op wat op elke oomblik van die dag met my kind kon gebeur. Wat was sy liggaamstemperatuur? Wat was die persentasie suurstofabsorbsie in sy liggaam? Sou hy dalk net vandag self begin sluk? Of, wonder bo alle wondere, sou daar dalk net vandag iewers – asseblief, asseblief, asseblief – ’n flikkering van beweging in sy liggaam wees? Sou hy dalk vandag op ’n manier kon aandui dat hy ons kan hoor … dat hy ons kan sien?
My keuses wat uit nood gebore is, het egter nie by my kind se ongeluk, die 22 maande in die hospitaal en die maande daarna, of met sy voortslepende rehabilitasie begin en geëindig nie. ’n Jaar gelede is ek en my seun – wat nou in ’n rolstoel is en slegs sy linkerhand en -arm kan beweeg – tydens ’n gewapende rooftog in ons huis aangehou. My man is tydens die rooftog geskiet en het sy een nier as gevolg daarvan verloor.
Weer eens het daar maande in die hospitaal gevolg. Wéér het al die clichés in my ore opgeklink. En wéér het ek voor moordende keuses te staan gekom.
Maar wéér het God my keuses namens my gemaak toe ek te verward was om dit self te doen.
In sy almag het God my geleer dat ek nooit self die keuse tussen bitterheid of vertroue, angs of vrede in my gemoed hoef te maak nie, want as ’n mens aanhou asseblief vra, sal jy nooit bitter word nie. As jy aanhou asseblief vra, hou die angs nie vir altyd nie. Die keuse is eintlik so maklik.
Ons elkeen, ook jy, het die keuse oor wat ons gaan doen wanneer iets pynlik in ons lewe gebeur het. Ons het áltyd verskillende en verskeie keuses – ongeag die omstandighede. Jy kan kies om vir die res van jou lewe kwaad of hartseer of bang of bekommerd of veeleisend te wees. Of jy kan kies om te wéét dat niks in hierdie lewe toevallig gebeur nie. Jy kán doelbewus kies om te soek vir genade en vrede. Jy kan ontdek dat wonderwerke nie altyd die volgende dag gebeur nie, ook nie op die oomblik dat jy daarvoor vra nie. Jy leer dat ’n wonderwerk so klein of so enorm groot kan wees soos die flikkering van beweging in jou kind se linkerduim – waarmee hy ’n boek kan begin skryf. ’n Wonderwerk kan ook gebeur in die vorm van ’n slukbeweging of een asemteug sonder ’n ventilator. Jy leer dat die woorde van jou gebed nie dramaties en hoogdrawend hoef te wees nie. Soms is die woord asseblief genoeg.
Ek het geleer nie een van die clichés wat mense so graag gebruik, kan bly staan voor God se genade nie, want Hy laat nie altyd dinge gebeur om mense te straf nie. Soms gebeur dinge om mense slegs in ’n ander rigting te stuur. Daarna, ten spyte van ons gebreke, gee Hy vir ons arendsvlerke om hoog en ver bo die negatiewe uit te styg.
Deur my beproewings heen het my keuses weer makliker geraak, want ek het die genade ontvang om te weet: As jy God jou éérste keuse maak, is al die ander keuses baie makliker. Dan kom die meeste ander dinge vanself.
Daarom hou my storie nie hier op nie. My storie het maar so pas eers begin!