Читать книгу Ware verhale van geloof - Helana Olivier - Страница 9
4
Оглавление’n Onsigbare voorsprong
David Schlachter
Die lewe is vol verrassings. En met al die druk wat vandag op ons is, kan dit moeilik wees om jou drome na te jaag. Maar een ding wat ek geleer het, is: As jy die Here in berekening bring, sal onsekerhede oor die dag van môre deur hoop oortref word, en vandag se uitdagings sal met vreugde gevul word.
Wat doen ’n mens as ’n geleentheid wat jou hele lewe binne ’n oomblik kan verander onverwags in jou skoot val? Die meeste van ons sal die kans aangryp en daarmee begin hardloop. Maar nie elke kans werk uit soos ons verwag het nie, en nie al die lewensveranderende scenario’s bring ’n verbetering nie. Net die Here kan ’n geleentheid skep wat in elke aspek volmaak is en al die begeertes van jou hart vervul.
Op my kort lewenspad van 22 jaar was dit dalk nog nie vir my nodig om regtig groot besluite te neem nie, maar vele van my klein besluite het tot groot veranderings in my lewe gelei. Ek het eenkeer gehoor ons kan nie insien hoe die legkaart gaan lyk terwyl ons nog net een stukkie in ons hand het nie. Maar pas al die stukkies inmekaar, dan sien jy die hele prent! Die lewe is ’n dag-vir-dag-ervaring, en al kan dinge soos geld en ’n graad ons help, is daar steeds ’n deel van ons wat ware geluk en tevredenheid soek. My lewenspad tot dusver was vol verrassings en onverwagte kronkels en draaie. Maar wanneer ek vandag terugkyk, kan ek sien hoe die Here sy hand die hele tyd oor my gehou het. Ek moet eerlikwaar sê: As dit nie vir Hom was nie, sou ek glad nie kon kom tot waar ek nou is nie. Ek wil graag twee jaar in die verlede teruggaan en my ervaring met jou deel oor hoe daar skielik aan ’n mens se hartsbegeertes voldoen kan word. Ek hoop jy sal sien hoe verwikkeld die werking van die Here in ons lewe is en dat Hy waarlik vir ons die heel beste wil gee.
Nadat ek klaar was met skool en my eerste jaar in argitektuur voltooi het, het ek by ’n kruispad gekom. Ek het besef argitektuur is nie vir my nie. Moes ek dit los en ’n ander graadkursus volg? Of moes ek die onbekende invaar en ’n droom wat ek al lank gekoester het, begin najaag? Ek het geweet die Here is by alles betrokke, maar ek het ook geweet as ek dit op ’n onbekende pad wou waag, ek vir seker moes weet wie Hy is en watter rol Hy in my lewe vervul voordat ek die lewenspel verder speel. Ek onthou nou nog die gevoel van onsekerheid. Was ek op die regte plek in my lewe? Neem ek die regte besluite? Ek het net geweet iéts moet verander.
Ek het besluit om ’n geloofsprong te waag en my graadstudie te staak. Jy sien, om te sing was nog altyd my eerste passie. Ek wou ’n jaar lank op my sang fokus, maar ek wou ook vasstel of daar nie iets anders was waarvoor ek net so lief kan wees soos vir sing nie. As ek dit sou ontdek, wou ek vasstel of dit die moeite werd sou wees om dit op te volg.
Die jaar het vir my goed begin. In my eerste jaar op universiteit het ek twee sangafrigters van Reach the stars, Cindy Dickinson en Denise Ostler, ontmoet. Hulle het my gedurig aangespoor om iets met my liefde vir sang te doen. Hulle het soms vir ons korporatiewe optredes gereël, en toe ook ons eerste gereelde optredes in ’n restaurant, elke Sondagaand vir drie maande.
Ek het ook in die fisioterapieafdeling van die St Augustine-hospitaal begin werk omdat ek wou vasstel of ek dalk fisioterapie wou gaan studeer. Ek het nog altyd daarin belanggestel, maar ek kon my nie voorstel dat ek dit lank sou kon doen nie.
In daardie tyd het ek ook weer begin studeer. Ek wou natuurwetenskappe op matriekvlak binne vier maande met ’n A-simbool slaag. Ek het gedink dit is nogal optimisties, want ek het in graad nege laas natuurwetenskappe as vak gehad, maar ek het nogtans probeer. Min het ek geweet al hierdie nuwe ervarings wat ek in daardie jaar aangegryp het trapklippe was op pad na die belangrikste rede waarom ek ’n gap-jaar moes neem.
Met die jaar wat so vlot verloop en die tyd wat gevlieg het, was die eerste vyf maande gou verby. Ek het die natuurwetenskapkursus voltooi, die Sondagoptredes was besig om tot ’n einde te kom en ek het min of meer opgehou om by die hospitaal te werk. Al het ek daarin belanggestel, het ek gou agtergekom ek is nie so lief vir fisioterapie as om te sing nie. Daar was ses maande van die jaar oor, maar my plan van aksie was nog nie vir my duidelik nie. Ek het darem geweet ek wou al my aandag by my sang bepaal. Dit was immers my hoofprojek vir die jaar.
Op 27 Junie 2008, ’n Vrydag, het ek die oggend opgestaan en my dag begin beplan. Dit was die eerste dag van die Mr Price Pro-kompetisie. My vriende sou my teen tienuur kom oplaai sodat ons die dag saam by die kompetisie kon geniet. Maar daardie dag het nie naastenby soos ’n ontspanne dag op die strand geëindig nie. Teen ongeveer halfelf het my vriende my gebel en verskoning gemaak omdat hulle my nog nie kom oplaai het nie. Een van hulle het nog vir sy neefs wag. Dit het my laat besluit om solank vir Denise te bel om te hoor hoe dit met haar gaan en om oor die Sondagaand se optrede in die restaurant te gesels. Ek wou ook sommer met haar gesels oor wat ek in die volgende ses maande sou doen. Op die een of ander manier het ons oor oudisies begin praat. Denise het my vertel dat een van hulle ander studente by die Bat-sentrum is om ’n oudisie te doen vir High School Musical, ’n realiteitsprogram wat die volgende Augustus deur M-Net uitgesaai sou word. Ek het niks daarvan geweet nie en toe op hulle webwerf na inligting gaan soek. Daar het dit duidelik gestaan: “As jy wil sing, dans of toneelspeel, is hierdie geleentheid vir jou.”
’n Vlam het in my begin brand. Ek het net geweet dit was iets wat ek móés doen. Ek het nie geweet watter lied ek vir die oudisie moes sing of wat ek moes aantrek nie. Ek het my vriende ge-sms dat ek nie meer strand toe kon nie en gaan aantrek. Op pad uit het ek by my pa, wat so pas by die huis gekom het, verbygeskuur en half grappig vir hom gesê: “Sien jou later, Pa. Ek’s op pad na ’n oudisie toe.”
Gelukkig het ek betyds by die Bat-sentrum aangekom. Hulle het die oudisie oop gehou vir dié wat nog op skool was. Ek was die laaste een wat ’n inskrywingsvorm ingevul het. Hulle het my gevra om voor oudisiekamer C te gaan wag. Ek was onder die indruk dat ek iets uit ’n musiekblyspel moes sing, en het gedink “Come what may” uit Moulin Rouge sou goed werk. Omdat ek taamlik laat daar opgedaag het, het ek gou aan die beurt gekom. Ek het my lied vinnig klaar gesing, en toe sê hulle ek moet dadelik gaan na waar almal bymekaar is. Hulle moes net wag vir die lys van die vrou wat na my oudisie geluister het voordat hulle kon besluit wie deurgaan na die volgende ronde. Ek was skaars vyf minute daar toe ek hoor hoe my naam uitgeroep word. Wat ’n verrassing! Alles was vir my half onwerklik. Ek kon nie glo wat gebeur nie, maar ek was baie opgewonde. Ek was een van die 50 kandidate in Durban wat sou deurgaan na die opleidingsronde van die volgende naweek. Toe ek met die goeie nuus by die huis kom, was my gesin almal effens verward daaroor. Ek het hulle immers nie voor die tyd gesê ek gaan vir ’n oudisie nie. Hulle almal het egter besef dit was iets baie spesiaals en het my ongelooflik baie ondersteun.
Die volgende dag het ek vreeslik opgewonde by die opleidingsronde opgedaag. Ons moes ’n hiphop-dansroetine en ’n lied uit High School Musical aanleer. Toe moes ons ons oudisielied sing, hierdie keer voor die beoordelaarspaneel en ’n hele paar televisiekameras. Dit was nie meer so gemaklik en ontspanne nie. Dit het vir my gevoel of ek in ’n droom leef, want ek het nog altyd na programme soos Idols en So you think you can dance gekyk en maar net gedroom oor hoe fantasties dit moet wees om nuwe dansroetines en nuwe liedjies te leer.
Die Saterdag moes ons die dans en liedjie aanleer. Hulle het ons in groepe ingedeel en die choreograaf het vir ons die bewegings gewys. Gelukkig was my groep vol lewe en bereid om hard te werk en uit te blink. Dit was natuurlik baie belangrik in daardie kompetisie aangesien die beoordelaars sommer dadelik kon sien wie lui is en wie nie die kompetisie ernstig opneem nie. Ná ure se repeteer het ons die dag op ’n hoë noot afgesluit. Ons almal het uitgesien na die laaste dag van die opleiding en om te sien wie die top-40 sou haal.
Dit het só gewerk: Elke groep het vir die beoordelaars gedans, en daarna het elke deelnemer alleen sy of haar oudisielied gesing. Die beoordelaars het dan besluit wie is in en wie is uit. Uit, en jy gaan huis toe. In, en jy bly daar om later die middag die lied te sing wat hulle vir ons geleer het. Dit was tyd om uit te blink, en hulle het blykbaar van ons dansitem gehou. Met my lied het dit nie so goed gegaan as wat ek beplan het nie. Dit het natuurlik nie gehelp dat ek twee sleutels te laag begin het nie. Ek kon maar net hoop hulle sou iets in my raaksien. Gelukkig hét hulle, en ek is deur na die finale ronde in Durban.
In dié ronde moes ek die High School Musical-lied sing wat hulle ons geleer het. Nadat ons almal gesing het, het die beoordelaars omtrent ’n uur lank beraadslaag. Uiteindelik het ek gehoor ek het die top-40 gehaal, wat in Kaapstad sou meeding.
Die week in die Kaap was moordend, maar ek het dit reggekry om deur te dring en is aangewys as een van die top-18. Dit het beteken die oudisiefase was verby. Ons klompie sou deelneem aan die realiteitsprogram. Dit sou regstreeks opgeneem word voor ’n gehoor wat op die ou end sou bepaal waar elkeen van ons in die kompetisie eindig.
Afgesien daarvan dat daar ’n gehoor sou wees en dat dit oor situasies en mense gegaan het, het die realiteitsprogram ook in ander opsigte voldoen aan wat dit veronderstel was om te wees. My werklikheid is onder my uitgepluk, en ek het skielik met ’n stapel leë bladsye in my verhaal gesit wat vol geskryf moes word. Daar was ook die klomp verborge ideale in my – ideale waaroor ek gewonder of ek hulle ooit sou kon bereik – wat skielik almal in my hande gegee is. Die opwinding in my het verhoed dat die werklikheid van die situasie onmiddellik tot my kon deurdring. Die Here het egter gesorg dat ek nie te veel daaroor dink, begin twyfel en só die nuwe geleenthede wat oor my pad gekom het, verongeluk nie.
Een ideaal was dat ek kon uitvind hoe dit voel om onafhanklik te wees. Ek het al begin wonder op watter ouderdom ek dit sou ervaar. Ek het geweet as ek my ouerhuis verlaat, sal dit die begin van ’n nuwe fase in my lewe wees. Die opvallendste ideaal wat vervul is, was dat ek skielik elke dag kon sing – nie net by die huis nie, maar terwyl ek werk en groei na iets met vastigheid. Ek wou ook graag begin geld verdien om myself te onderhou en ’n slag my pa te help. Ek het werklik geglo dat ek deur daardie program – of ek nou sou wen of nie – ander geleenthede sou kry.
Die realiteitsprogram self het baie uitdagings gebied. My natuurlike liefde vir musiek en sang is gestimuleer deurdat ek vier jaar lank die lofsang in my pa se kerk gelei het. Dit is verder versterk deur sporadiese korporatiewe optredes en die restaurantkontrak saam met my sangafrigters, Cindy en Denise. Maar om van sing-onder-die-stort te vorder tot jou-hart-uit-sing voor vreemdelinge en TV-spanne is beslis nie so maklik soos ek gedink het dit sou wees terwyl ek na hierdie soort programme gekyk het nie. En tog, skielik kon ek elke week saam met professionele mense sing en dans en toneelspeel. Ek het elke oomblik daarvan geniet. Selfs al het ek voortdurend druk ervaar, was ek ten volle bewus van die ongelooflike ervaring wat ek opdoen en van die geleenthede wat daaruit sou kon voortvloei. Dit was dus nooit regtig vir my ’n probleem nie. Elke week het nuwe uitdagings gebring, en hoe langer ek vasgebyt het, hoe meer was daar week ná week op die spel. Maar ek het ook al hoe meer gewoond geraak aan die roetine. Al die TV-kameras het ’n mens later skoon laat tuis voel. Dit was anders as ’n paar maande vroeër, toe ons gevoel het of ons op ’n vreemde planeet beland het.
Dit het ses weke geduur om die top-18 na die top-6 te verminder. Terwyl ons besig was om nuwe liedjies en dansroetines aan te leer en voor gehore op te tree, het ek begin besef dit was die begin van groot dinge. Alles het so vinnig gebeur en steeds so onwerklik gevoel. Al wat ek geweet het, was dat ek my allerbes sou doen en werklik hard sou werk. Die res was in die hande van die beoordelaars en die publiek – en bowenal in die hande van die Here. Selfs op die laaste aand was ek nie seker wie sou wen nie. Ek het geweet daar sou beslis mense wees wat nie met die finale keuse sou saamstem nie. Dit was eers toe hulle op die punt was om die wenner aan te kondig dat ’n gevoel van vrede oor my gespoel het. Toe ek my naam hoor, was dit so onwerklik. Ek kon nie glo ek het die rol van Troy gekry nie! Ek dink nou nog terug aan hoe dankbaar ek oor hierdie rol was, en omdat my drome besig was om waar te word. Die Here het seker geglimlag, want Hy het geweet dit was nog maar net die begin vir my.
Ek en Carmen moes die week nadat ons gewen het in Johannesburg bly om beskikbaar te wees vir die pers en ander media. Stadig het dit tot my deurgedring wat met my gebeur het. Ons het ook ons nuwe agent ontmoet en ons laaste blog vir die High School Musical-webwerf geskryf. Ná daardie week is ek huis toe. ’n Plaaslike tydskrif, The Ridge, het ’n onderhoud met my gevoer. Toe ek die foto van my en my hond op die tydskrif se voorblad sien en al die koerantartikels lees, het dit my herinner aan alles wat ek beleef het. Die seepbel van my beskutte lewe tydens die realiteitsprogram het egter gebars. Ek sou binnekort my musiekteaterdebuut maak en elke aand op ’n reusagtige verhoog voor 2 000 mense optree. Daar was ek, klein David, besig om my in al hierdie nuwe avonture en opwindende daaglikse geleenthede te begewe.
Al wat ek kan sê, is dat die Here my toegelaat het om elke dag te geniet soos dit verloop het. Ek het geleef met die vaste wete dat ek maar kan ontspan omdat Hy my sou lei en voor my oë vir my nuwe geleenthede sou skep. My vertroue in die Here groei nou nog elke dag, en ek laat Hom toe om met my lewe te maak wat Hy wil. Nou, meer as twee jaar later, voel ek steeds nederig. Ek besef ek verdien nie die eer vir wat ek tot dusver bereik het nie. Dit is vir my duidelik dat die Here die pad berei het vir alles wat met my gebeur het. Geen geluk of toeval of bygelowe sou my so in verwondering kon laat staan het oor alles wat in my lewe gebeur het nie.
Ek is dankbaar dat ek sekere lesse vroeg in my lewe al geleer het. Een waarheid wat ek besef het, is dat die tyd vinnig verbygaan. As ons ons oor die toekoms bekommer, of ons verknies oor wat ons in die verlede misgeloop het, gaan ons die kans verbeur om die hede vas te gryp en elke oomblik van ons lewe so spesiaal moontlik te maak. Ek weet ek het nog baie om te leer, maar die Here hou aan om vir my te wys hoe getrou Hy is. Hy vervul my hartsbegeertes in soveel besonderhede. Die een oomblik het ek nog gedink ek sal nooit die kans kry om te sing nie, en toe het ek my skielik midde-in ’n lewe van musiek en dans bevind.
Soos baie van julle seker ook, het my begeerte om te reis van my geboorte af saam met my gegroei. Maar buiten ’n fantastiese sporttoer na Argentinië – wat aan my bevestig het hoe graag ek wil reis – het ek net binne die grense van Suid-Afrika gereis. Dit was egter op die punt om te verander. Terwyl ons High School Musical in Johannesburg opgevoer het, het die vervaardigers opwindende nuus met ons gedeel. China het belanggestel om die opvoering by hulle aan te bied. Daar was ’n span afgevaardigdes wat ’n vertoning sou bywoon. Nie lank nadat hulle ons gesien het nie, het ons aansoek gedoen vir visums om China te besoek.
In Junie 2009 het ek saam met die geselskap op my eerste avontuur na Asië vertrek – ’n wêreld so ver verwyderd van ons s’n en tog net ’n halwe dagreis ver. Ek was op pad na die plek wat ek dink het ek net sou kon sien deur ’n baie diep gat in my sandkas te grawe. Hoe ongelooflik! Ek is betaal om te doen waarvoor ek lief is én ek het die kans gekry om die wêreld te sien! Boonop het ek die geleentheid gekry om my liefde vir dans uit te leef, want terwyl ons nog met High School Musical besig was, het ek ’n oudisie vir die musiekblyspel Cats gedoen en ’n rol gekry. Dit het vir my die kans gegee om, omring van beroepsdansers, deel te wees van ’n dansgegronde musiekblyspel. Toe ek hoor hoe veeleisend die opvoering is, het ek geweet dit sou my net nog verder voorberei vir die vereistes van die bedryf.
Nadat ek die rol in Cats gekry het, was ek verseker van werk vir agt maande ná die speelvak van High School Musical tot ’n einde sou kom. In hierdie bedryf word jy as baie bevoorreg beskou wanneer jy werk kry vir ses maande nadat jou huidige kontrak verstryk. Maar daar het dit nie geëindig nie. Voordat Cats begin het, terwyl ons nog aan High School Musical gerepeteer het, en voordat ons na Sjanghai sou vertrek, het ’n produksiespan uit Londen daar opgedaag om oudisies vir Grease te hou. Dit sou vertonings in Kaapstad en Johannesburg insluit, asook toere na Nieu-Seeland en Hongkong. Omdat ek nog net die fliek gesien het, het ek nie juis geweet vir watter rol om ’n oudisie af te lê nie. Ek het ’n bietjie raad gevra, en is aangeraai om ’n oudisie vir die rol van Doody of Roger te doen.
Ná die uitputtendste oudisie ooit, kon ons maar net aangaan met ons lewe … en wag. Maar kort ná ons terugkeer uit Sjanghai het ek gehoor ek het die rol van Eugene in Grease gekry. Al was dit nie die rol waarvoor ek ’n oudisie gedoen het nie, was ek baie dankbaar dat ek deel van daardie ongelooflike musiekblyspel kon wees. Ek was tog ’n bietjie bekommerd dat dit dalk nie so ’n goeie besluit vir my loopbaan sou wees nie, maar nadat ek meer oor die rol uitgevind en met ’n paar betroubare vriende in die bedryf gesels het, het ek besef dit sou die perfekte geleentheid wees om my veelsydigheid te wys, ’n komiese rol te vertolk en my vermoë om toneel te speel te ontwikkel. Dit sou ook die tydperk waarvoor ek reeds werk gehad het van agt maande tot vyftien maande verleng – ’n fantastiese manier om jou loopbaan aan die gang te kry. Dit was die Here se manier om vir my te wys Hy sal altyd vir my voorsien.
Deel van die prys wat ek in die High School Musical-realiteitsprogram gewen het, was ’n vakansie van vyf dae vir twee in Londen, met ’n West End-vertoning van ons keuse ingesluit. Ek het besluit om te wag totdat ek langer as vyf dae in Londen kon bly sodat ek by al my familie en vriende daar kon gaan kuier.
Met die wete dat ek vir langer as ’n jaar werk sou hê, het ek kort nadat ek van Sjanghai teruggekeer het vir drie en ’n half weke Londen toe vertrek. Ek het soveel moontlik West End-opvoerings gaan kyk, uiteindelik my wonderlike familie daar ontmoet en my tyd in Londen ten volle geniet. Ons het my mondigwording daar gevier en dit was vir my ’n onvergeetlike ervaring. Ek was in ’n land wat ek van kleins af al wou besoek, omring van familie, goeie vriende uit my kinderdae (wat daarheen verhuis het), en vriende wat ek ontmoet het sedert ek in die vermaaklikheidsbedryf begin werk het. Dit het vir my gevoel asof my verlede, hede en toekoms alles op daardie dag bymekaargekom het. Ek was verstom oor hoe vinnig dinge in ’n kort tydjie verander het.
Ek onthou ek het ná my vakansie op ’n Vrydagoggend in Suid-Afrika aangekom, en die Maandag het ons aan Cats begin repeteer. Die volgende ses weke was baie taai, met repetisies ses dae per week van halftien die oggend tot sesuur in die aand. In dié tyd het ek gevorder van iemand wat in sy lewe nog nooit ’n dansles gehad het nie tot ’n deelnemer aan een van die mees gesogte musiekblyspele vir dansers. Boonop was ek vir die eerste keer ’n instaanspeler vir drie verskillende rolle. Ek het soveel geleer en so baie gegroei. Ek het die uitdagings van elke dag geniet – die stryd met beserings of die nabetragting ná elke vertoning oor die hoeveelheid werk wat dit van begin tot einde van ons geverg het. Dit was ’n verstommende ses maande wat ek vir altyd in my hart sal bewaar. My familie in die musiekwêreld was ook besig om uit te brei. Met twee produksies agter my naam het ek tuis begin voel in ’n bedryf waarvan ek as kind bitter min geweet het.
Toe Cats klaar was, het ek die kans gekry om drie weke huis toe te gaan. Ek kon saam met almal kuier en het heerlike tye saam met my familie en hegte vriende deurgebring. Daarna is ek Kaapstad toe om aan Grease te begin repeteer. Met die jong en energieke rolverdeling het ons van die begin af geweet dit sou spesiaal wees. Ons sou weer saam met ’n West End-produksiespan werk, en ek was opgewonde om te sien hoe die opvoering sou verloop. Ons het vyf weke lank gerepeteer, en van Februarie tot Junie 2010 in Kaapstad en Johannesburg opgetree.
In hierdie stadium van my lewe het ek ’n geestelike transformasie ondergaan. Ek het die Here nie net gedien nie, maar Hom werklik leer ken. Ek het soveel gegroei in my verhouding met Hom deur tyd vir Hom opsy te sit en Hom toe te laat om kennis en openbaring in my hart uit te stort. Ek kan eerlik sê dit was van die heel beste maande van my lewe.
Die einde van die Suid-Afrikaanse speelvak van Grease het te gou aangebreek. Dit het beteken ons sou begin toer. Ons het in Nieu-Seeland begin, waar ons ’n maand lank opgetree het. Ná die laaste vertoning het ek twee weke lank daar agtergebly om die res van Nieu-Seeland te verken. Toe is ek twee weke lank huis toe. Daarna is ons Hongkong toe, die stad wat bekend is daarvoor dat dit nooit slaap nie. Die vyf weke daar het vir my verbygevlieg, en voor ek my kom kry, was ek op ’n vliegtuig na Korea om vir my broer Paul, skoonsuster, Gerri, en hulle nuwe baba, Olivia, te gaan kuier. Hulle gee al die afgelope ses jaar onderwys in Korea en besoek Suid-Afrika net een keer per jaar. Maar ek wou nog altyd by hulle gaan kuier het, en omdat Korea so naby aan Hongkong is, het ek gedink dit sou die perfekte geleentheid wees. Nieu-Seeland, Hongkong en toe die geleentheid om waardevolle tyd saam met my dierbare familie in Korea deur te bring – iets wat onmoontlik gelyk het, het ’n werklikheid geword. Boonop is ek, terwyl ek in Hongkong was, weer die rol van Troy aangebied vir ’n speelvak van High School Musical in Taiwan. Dit het beteken ek moes vyf dae Taiwan toe gaan vir ontmoetings met die media. Daardie vyf dae het in die middel van my vakansie in Korea geval. Die tydsberekening kon nie beter gewees het nie. Ek is vir ’n week Korea toe, daarna was ek vyf dae in Taiwan, en toe is ek terug na Korea voordat ek huis toe moes gaan.
Só gaan my reis voort. Elke oggend word ek wakker met nuwe uitdagings om te trotseer en met nuwe verlangens wat my hart vul. Mense vra my dikwels of ek bekommerd is oor my toekoms of wat my plan B is. Ek kan eerlikwaar sê ek weet die toekoms is belangrik, maar ek weet ook die Here sê vir my ek moet my nie oor môre bekommer nie. Ek kan tog nie regtig raai wat die toekoms gaan bring nie. Ek glo vas dat as ons te veel oor môre tob, ons tyd verloor wat vir vandag bedoel is. Ek verstaan ons almal is in verskillende stadiums van ons lewe en dat ons almal soggens in verskillende situasies en omstandighede wakker word. Een ding bly egter altyd dieselfde – die Here leef en Hy is elke dag met ons. My wens is dat ek elke oggend sal wakker word met die vuur en die passie waarmee die Heilige Gees my voed. Dat ek vir niks bang sal wees nie, nie net omdat ek seker is Hy leef en dat Hy my liefhet nie, maar omdat ek weet watter soort mens ek is noudat Hy in my leef. Die Here is die onsigbare voorsprong in my lewe. Of dit nou in stille aanbidding is of in die manier waarop Hy my wildste drome waar maak, dit is aan sý belofte dat ek vashou – dat Hy vir ewig by my sal wees.