Читать книгу Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford - Страница 10

Оглавление

TOE DIE EERSTE SKOTE VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG op 12 Oktober 1899 by Kraaipan suid van Mafeking geklap het, kon nie Boer of Brit voorsien watter skade dié oorlog sou aanrig nie. Teen die einde van die stryd sou duisende hektare grond braak lê, duisende wit en swart mense ontheem wees en nog duisende gesterf het. Benewens die slagting in die vlaktes en op die koppies, sou die verskroeide aarde-beleid en die konsentrasiekampe ’n diep merk op Suid-Afrika se fisieke en geestelike landskap laat.

Die meeste van die kampe was binne die grense van die twee Boererepublieke van die Transvaal en die Vrystaat geleë, maar daar was ook groot kampe in Natal en die Oos-Kaap. Teen die einde van die oorlog was daar 50 kampe vir wit burgerlikes en 64 vir swart burgerlikes. Meer as 4 000 Boerevroue en bykans 22 000 kinders sou in die kampe sterf. Hoewel daar nie presiese syfers is nie, word gereken dat tussen 15 000 en 20 000 swart mense, van wie die meeste ook kinders was, in die swart kampe gesterf het – in totaal dus waarskynlik oor die 40 000 mense.

Wat was die onmiddellike, maar ook die meer verwyderde, oorsake van die konsentrasiekampe wat sedert die tweede helfte van 1900 deur die Britte opgerig is? Was die kampstelsel ’n noodwendige uitvloeisel van die oorlog of was daar ’n geleentheid om dit te voorkom? In watter mate het die beleid voldoen aan die reëls van beskaafde oorlogvoering wat daardie tyd geheers het? Hierdie hoofstuk gaan ondersoek instel na al dié vrae.

Wanneer professionele soldate begin oorlog maak

Die Boeremagte in ’n aanvalsposisie by Mafeking, wat ’n tyd lank deur hulle beleër is.

Die Britse leër en ander weermagte op die Europese vasteland het gedurende die laat 19de eeu toenemend ’n professionele inslag gekry. Oorlog was nou al hoe minder ’n lukrake aangeleentheid waartydens die vyand eenvoudig al stormlopend oorrompel moes word. Hierin kan een van die meer verwyderde oorsake van die konsentrasiekampe gevind word.

In die lig van die groot aantal militêre ekspedisies waarby die Britse Ryk betrokke was, het dit noodsaaklik geword om oorlogvoering op ’n stewiger, meer omvattende en gevarieerde grondslag te plaas. Verskillende ekspedisies het verskillende benaderings geverg en militêre beplanning is dienooreenkomstig aangepas. Bevelstrukture, logistiek en strategieë is op ’n burokratiese wyse bepaal, met sekere uitkomste in gedagte.

Militêre professionaliteit het ’n bepaalde kultuur geskep wat sterk klem geplaas het op instrumentele rasionaliteit – die oortuiging dat die doel die middele heilig. Dit het tot so ’n mate posgevat dat ander oorwegings algaande eenkant toe geskuif is. Dit het onder meer veroorsaak dat militêre personeel die verantwoordelikheid oorgeneem het om die burgerlike bevolking te organiseer in gevalle waar die vyandelikhede van die gevegsfront na die samelewing oorgespoel het – wat toenemend die geval was.

’n Brug oor die Vaalrivier wat deur die republikeinse magte opgeblaas is.

As professionele soldate het die leër se leierskap gereken hulle is bevoeg om ook burgerlike aangeleenthede te hanteer. Daar is min oor die potensiële kompleksiteit van sulke ondernemings besin. Dié ingesteldheid het dit relatief maklik gemaak om ekstreme maatreëls toe te pas en het dit as ’t ware geregverdig. ’n Akademiese uiteensetting van dié ingesteldheid voer aan dat “militaries, because violence is their business, do not need external ideologies or motivations to encourage excess; and their basic assumptions (the military culture) that develop to handle it may be sufficient in themselves”.[1]

Dit was ’n voorafskaduwing van wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika sou gebeur toe die burgerlike bevolking van die twee Boererepublieke onder militêre heerskappy gekom het. Dit was ook nie ’n uitsonderlike geval nie, want voorlopers hiervan kon elders gevind word.

Die professionalisering van leërs het byvoorbeeld ’n rol gespeel in die reconcentrados of konsentrasiekampe wat Spanje gedurende ’n veldtog in 1896 tot 1897 in Kuba opgerig het. Die Spaanse magte was onder leiding van generaal Valeriano Weyler, wat in Februarie 1896 na Kuba gestuur is om die rebellie te onderdruk wat die vorige jaar daar uitgebreek het. Die Kubaanse rebelle het gebuit, huise afgebrand, tabakplantasies en suikermeule vernietig, treine verwoes en brûe opgeblaas. Weyler het probeer om die opstand onder beheer te kry deur die aantal gebiede te beperk waar konflik plaasgevind het. Hy het die eiland gevolglik in verskillende sektore verdeel en daardie dele gefortifiseer. Die rebelle se vernietigingswerk is met nog hewiger verwoesting begroet.

’n Kommando slaan kamp op by een van hul laers waar hulle tussendeur afgesaal en gerus het.

Weyler se mees omstrede stap was om alle nie-vegtendes in konsentrasiekampe te plaas wat uit klein hutte in beskermde dorpe bestaan het. Die inwoners se eie huise is afgebrand en hul vee weggevoer. Die sterftesyfer was besonder hoog: Ongeveer 125 000 mense het in dié kampe gesterf. ’n Stigma van uitermatige wreedheid het aan Weyler se metodes gekleef.

Die Cape Times het sy optrede in 1897 as ’n skandvlek op die reputasie van die kwansuis beskaafde Spaanse volk beskryf. Gedurende die Anglo-Boereoorlog het die bekende Kaapse politikus John Xavier Merriman verontwaardig in ’n brief aan sy ma geskryf: “What can an Englishman say of our doings in the Free State, burning, plundering and turning helpless women and children adrift in this weather. Doing as Weyler did when he made the reconcentrados in Cuba.”[2] Die invloedryke David Lloyd George het in Julie 1900 in die Britse Laerhuis ook gesê dat dit lyk asof die leierskap van die Britse leër in Weyler se voetspore gevolg het.

Benewens die gebeure in Kuba, is soortgelyke tendense in oorlogvoering ook te bespeur in die oorlog wat Amerika in 1899 tot 1902 teen die Filippyne gevoer het, waar dele van die burgerlike bevolking ook aan die kortste ent getrek het.

Die kampe in die Transvaal en die Vrystaat was dus onder meer deel van ’n breër patroon wat te make het met die groter professionalisering van leërs en militêre sake. Die tendens sou hom ook in ander wêrelddele uitspeel en daar is wyd in die pers daaroor berig. Alhoewel die leierskap van die Britse leër hul beleid nie doelbewus op Weyler s’n geskoei het nie, was daar tog ’n algemene bewussyn van die rigting waarin oorlogvoering aan die einde van die 19de eeu begin ontwikkel het.

Die eerste voorsmaak van verowering, ofskoon dit nie bestem was om ’n soete oorwinning te wees nie: ’n parade op Hoffman-plein in Bloemfontein nadat die Britse magte die Vrystaatse hoofstad in Maart 1900 ingeneem het.
Heel links: Veldmaarskalk lord “Bobs” Roberts, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika vanaf Januarie 1900, was nie om dowe neute ’n veteraan van Brittanje se vroeëre koloniale oorloë nie. Sy vorige ervaring met die onderdrukking van aanslae teen die Britse Ryk in Indië, Afganistan en Abessinië het hom goed te staan gekom. Links: Die bittereinder-generaal Christiaan de Wet, ’n gedugte teëstander wat die Britse magte hoofbrekens besorg het.

Wapenneerlêers en die ontstaan van die konsentrasiekampe

Nadat die republikeinse hoofstede (Bloemfontein in die Vrystaat op 13 Maart 1900 en Pretoria in die Transvaal op 5 Junie 1900) ingeneem is, het die Britse opperbevel geglo die formele anneksasies van die Republieke wat daarop sou volg, sou die einde van oorlog beteken. Hulle was nie voorbereid op die bewegingsoorlog wat Boereleiers soos generaals Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha van stapel sou stuur en wat die Britse leër nog twee jaar lank sou frustreer nie. Dit was egter ’n uitgedunde Boeremag wat hulle in die guerrillafase tot mobiele oorlogvoering verbind het.

Bykans 26% van diegene wat krygspligtig was met die uitbreek van die oorlog en ongeveer 40% van diegene wat aanvanklik gemobiliseer is, het die wapen vrywillig neergelê. Dit was in reaksie op lord Roberts, die Britse bevelvoerder, se proklamasie dat diegene wat die eed van neutraliteit aflê, toegelaat sou word om na hul plase terug te keer en nie verder aan die oorlog hoef deel te neem nie. Een van die meer onmiddellike oorsake van die konsentrasiekampe hou verband met hierdie poging deur die Britse leër om die Boeremagte onderling te verdeel.

In die praktyk het dinge egter nie so vlot verloop nie en diegene wat die wapen neergelê het, het onder aansienlike druk van sowel die Boere- as die Britse magte gekom. Die Boere-magte het nie die eed van neutraliteit erken nie en het die wapenneerlêers (“hendsoppers” in die volksmond) gedwing om weer by die kommando’s aan te sluit. Die Britte, weer, het – omdat hulle in talle distrikte nie volkome militêre beheer kon uitoefen nie – dikwels in gebreke gebly om wapenneerlêers te beskerm. Tog het hulle steeds daarop aangedring dat die eed van neutraliteit eerbiedig moes word. Dit het die wapenneerlêers in ’n netelige posisie geplaas. Sommiges het hulle weer by die Boeremagte aangesluit, terwyl ander onder moeilike omstandighede probeer het om nie opnuut by die stryd betrokke te raak nie. Hul geledere het gegroei namate burgers oorlogsmoeg geraak het.

Om die nodige erkenning aan die wapenneerlêers te gee, moes die Britse owerheid daadwerklike beskermingsmaatreëls vir hulle instel. Generaal EY Brabant (bevelvoerder van Brabant’s Horse, ’n Kaapse koloniale regiment) het dit reeds op 13 Mei 1900 ingesien toe hy voorgestel het dat die Vrystaatse wapenneerlêers ter beskerming na ’n plek naby die Vrystaatse grens gestuur moes word. Brabant het geglo dat Aliwal-Noord, wat aan die Kaapse kant van die Oranjerivier geleë was, ’n geskikte plek sou wees.

Boerekrygsgevangenes by die Broadwood-kamp op die eiland St Helena. Talle bittereinders onder die krygsgevangenes het tot die einde bly weier om die eed van getrouheid te onderteken.
Hierdie mans in die Irene-kamp in Pretoria was waarskynlik wapenneerlêers wat Britse gesag aanvaar het.

Sir Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris, was in beginsel ten gunste van Brabant se voorstel, maar het getwyfel aan die praktiese uitvoerbaarheid daarvan. Roberts het dieselfde bekommernis gehad en ook gesê so ’n beleid kan moontlik die hand van die Boereleiers versterk omdat hulle die burgers dan kon wysmaak dat hulle as krygsgevangenes na die Kaapkolonie gestuur sou word as hulle die wapen neerlê. Tog het die Britse opperbevel besef dat Brabant se voorstel baie meriete gehad het en die enigste praktiese oplossing was om die wapenneerlêers van die gevegsterrein te verwyder. Milner het aangevoer dat as dit nie gedoen word nie, kon die oorlog onbepaald voortduur.

’n Ander hoë offisier, luitenant-generaal Redvers Buller, het Brabant se mening gedeel en voorgestel dat die wapenneerlêers tesame met hul vee na Natal gestuur word, waar hulle op die onbesette plase van Natalse rebelle gevestig kon word. Teen 25 Julie 1900 is een persoon op dié wyse hervestig, maar voordat die beleid verder uitgevoer kon word, het Buller eers die goedkeuring van die Natalse regering probeer kry. Dié het egter grondige besware daarteen geopper en ook bedenkinge gehad oor die militêre owerheid se vermoë om so ’n beleid korrek uit te voer.

Teen Augustus 1900 het die Britse militêre owerheid nog nie ’n doeltreffende manier gehad om die wapenneerlêers te beskerm nie. Die Britse optrede is inteendeel gekenmerk deur futiele vergeldingsmaatreëls teenoor diegene wat daarvan verdink is dat hulle die eed van neutraliteit verbreek het. By gebrek aan Britse beskerming het sommige wapenneerlêers toe na die dorpe en stede onder Britse beheer gevlug. Die distrikskommissarisse het dit aangemoedig, omdat dit die enigste manier was waarop wapenneerlêers beskerm kon word. In Pretoria is die wapenneerlêers in leë huise gehuisves en het hulle rantsoene ter waarde van 2 sjielings en ’n sikspens per dag ontvang. Die militêre owerheid het ook ’n skema beraam om hulle in munisipale diens te neem – enersyds om te vergoed vir die rantsoene wat aan hulle gegee is en andersyds sodat hulle geld kon verdien. Dié skema het egter min aftrek gekry en ten spyte daarvan dat 2 000 kennisgewings versprei is, het slegs twaalf individue hulle aangemeld (en van dié twaalf wou ses voormanne wees).

Die Britse owerheid kon egter op lang termyn onmoontlik al die wapenneerlêers in dorpe en stede akkommodeer. In die eerste plek was behuising ’n probleem en in die tweede plek kon hulle ook nie hul vee saambring nie. Gevolglik was daar toenemend steun vir die idee van beskermingskampe. As dít suksesvol uitgevoer kon word, sou dit in groot mate die Britse owerheid se probleem met die wapenneerlêers oplos. Op 23 Augustus 1900 het Milner vir Roberts verwittig: “I think, if once we can make up our minds to a camp or camps in South Africa, we shall find it an absolute advantage in this respect . . . My idea is that many of the more pacific of them [die burgers] would be protected against being again commandeered and, at the same time, would not be sent out of the country. Both of these objects would be secured by keeping them in custody in South Africa.”[3]

Roberts het Milner se voorstelle gesteun en het dit oorweeg om soortgelyke kampe in die Transvaal op te rig. Die kamp by Bloemfontein het in September 1900 tot stand gekom en op 22 September is dit amptelik bekendgemaak dat kampe vir wapenneerlêers in Bloemfontein en Pretoria opgerig gaan word. In Pretoria is wapenneerlêers in ’n sogenaamde “Rest Camp” (ruskamp) gehuisves wat vantevore as ’n deurgangskamp vir Boerekrygsgevangenes gedien het. Die wapenneerlêers wat in die “Rest Camp” gehuisves is, is later na die Irene-konsentrasiekamp naby Pretoria oorgeplaas.

Hierdie beskermingskampe het wel die wapenneerlêers se veiligheid verseker, maar dit was ook nodig dat daar vir hul vee voorsiening gemaak moes word. Roberts het bepaal dat waar wapenneerlêers se vee deur die militêre owerhede benodig word, ’n geldige bewys daarvoor uitgereik moes word. Waar die vee nie benodig is nie, sou een of twee lede van ’n familie of ’n aantal wapenneerlêers toegelaat word om op die plase agter te bly en die vee op te pas. Vir dié doel sou hulle ’n beskermingspas kry. Talle wapenneerlêers was egter huiwerig om op hul plase aan te bly, omdat hulle bang was dat hulle deur die Boeremagte opgekommandeer sou word of hul vee sonder vergoeding deur die Britse kolonnes weggevoer sou word. Van die wapenneerlêers het daarom ’n paar skape en beeste na die kampe saamgeneem en dit in die nabye omgewing opgepas.

Amptelik is die kampe slegs vir wapenneerlêers – en by implikasie hul gesinne – opgerig. Terselfdertyd is vroue en kinders wat deur die verskroeide aarde-beleid dakloos gelaat is, ook daarheen gestuur of gedwing om daar ’n heenkome te vind. Daar was dus nie ’n wesenlike verskil tussen die beskermingskampe en konsentrasiekampe nie. Die Britte het dit ook as “refugee camps” (vlugtelingkampe) bestempel, maar dis ’n misleidende term omdat dit impliseer dat die vroue hulle vrywillig en as “vlugtelinge” daar aangemeld het, terwyl hulle in werklikheid van hul plase afgejaag en gedwing is om na die kampe te gaan.

Een van die honderde Boereopstalle wat in vlamme opgegaan het.

Daar kan daarom aangevoer word dat die latere en meer uitgebreide konsentrasiekampbeleid teruggevoer kan word tot hierdie pogings om wapenneerlêers te beskerm. Anders gestel, die wapenneerlêers het tot die ontstaan van die konsentrasiekampstelsel bygedra, al was dit op ’n indirekte en onbewustelike wyse, omdat die Britse owerheid genoodsaak was om beskermingskampe vir hulle op te rig waarin daar terselfdertyd ook hawelose vroue en kinders van lojale republikeinse burgers geplaas is.

Wapenneerlêers kan ook in ’n ander opsig met die kampe verbind word. Sogenaamde burgervredeskomitees, wat uit wapenneerlêers bestaan het, is in samewerking met die Britse owerhede gestig met die doel om die burgers te velde te probeer oortuig dat die stryd verlore was en hulle die wapen moes neerlê. Die vredeskomitees se pogings was grootliks tevergeefs. Etlike republikeinse leiers, asook latere geskiedskrywers, glo lede van die vredeskomitees het die idee van konsentrasiekampe by lord Kitchener, Roberts se opvolger, geplant. Meyer de Kock, ’n burger van Belfast wat as vredesgesant opgetree het en later met sy lewe daarvoor moes boet, word spesifiek daarvan verdink dat hy dié idee aan die Britte verkoop het. Daar is egter nie oortuigende bewyse hiervoor nie. Kitchener het reeds vóór sy ontmoeting met die vredeskomitees dit ernstig oorweeg om die kampe uit te brei. Wat wel waar is, is dat sommige wapenneerlêers hulle ten gunste van so ’n beleid uitgespreek het.

Die verskroeide aarde-beleid en die kampe

Benewens die situasie met die wapenneerlêers het die Britte ook al hoe drastieser oorlogsmaatreëls begin toepas namate Boereleiers hulle tot guerrillaoorlogvoering gewend het. As bevelvoerder van die Britse magte het Roberts reeds so vroeg as Maart 1900 beveel dat plaashuise as ’n strafmaatreël vir voortgesette weerstand afgebrand kon word. Dit was bedoel vir gevalle waar kommandolede plaashuise gebruik het as skuilings en om aanvalle op Britse kolonnes en verbindingslinies te loods.

Onder Kitchener is plaashuise veral vanaf Januarie 1901 voor die voet verwoes en is daar geen poging aangewend om eers vas te stel of die huise wel vir militêre doeleindes gebruik is nie. Kitchener se ondergeskiktes het met sy goedkeuring eenvoudig na willekeur verwoesting gesaai. Nagenoeg 30 000 huise is afgebrand en tot 40 dorpe het deurgeloop. Daar moes geen heenkome vir die burgers te velde wees nie.

Heel links: Die kerk in die Vrystaatse dorp Lindley is deur die Britse magte verwoes. Links: Britse soldate verlaat ’n plaaswerf wat hulle aan die brand gesteek het.
Heel links: ’n gestroopte woonhuis. Links: graansakke wat uitgedra en verbrand word.

Dié beleid is in die algemeen hardvogtig deurgevoer deur soldate wat dit as hul professionele plig beskou het en soms selfs sadistiese plesier daaruit geput het. In dié verband het ’n Britse soldaat geskryf: “You should have seen the Royal Irish on the loot. They helped the people out with their stuff by heaving heavy bureaus bodily through the windows, putting pickaxes through melodians and such like wantonness. I heard one yell: ‘Begory Jim, here is a nice carpet . . . Oi’ll take it home for the ould woman. Lend a hand here!’ R-r-r-rip! Up came a handsome pole carpet in strips. And so the work went on, the officers standing by laughing at the costly fun their men were having.”[4]

Dié soort vernielsug het ’n diepe indruk gelaat op die Boerevroue wat dit moes gade-slaan. Só het een verklaar: “Daar staan ek toe, omring deur my kindertjies terwyl die wrede soldate my eiendom plunder. Huisraad, klere, kos, alles word op ’n hoop gegooi en aan die brand gesteek . . . Hoe ek hulle ook al smeek om ’n paar oudhede te behou, hulle weier aaneen”.[5] Sulke tonele het hulle gereeld in die twee Republieke afgespeel en die vernedering wat dit meegebring het, het in latere jare ’n vrugbare teelaarde vir Afrikaners se gemeenskaplike gewroeg en wrokkigheid jeens “die Engelse” geskep.

Van Britse kant is aangevoer dat die militêre opperbevel gedwing is om die vroue weens humanitêre redes in hul sorg te neem nadat die Boere tot mobiele oorlogvoering oorgegaan het. Die argument dat hulle nie weerloos in die veld gelaat kon word nie, is egter misleidend. Die Britse magte het plase as ’n militêre maatreël afgebrand omdat hulle nie die kommando’s te velde kon oorwin nie. Die oprigting van konsentrasiekampe het die Britse owerhede in staat gestel om wit sowel as swart burgerlikes (hoofsaaklik vroue en kinders) om militêre redes van die plase te verwyder. Deur dít te doen, het die swaartepunt van die oorlog – wat voorheen suiwer op krygsvoering gerig was – verskuif om nou ook burgerlikes in te sluit.

Hierdie mans wat saam met hul gesinne in die Bloemfonteinse kamp afgeneem is, het hulle waarskynlik aan die Britse magte oorgegee. Die doel van die eerste konsentrasiekampe was om beskerming aan sulke wapenneerlêers te bied deur hulle in te perk.

’n Sekondêre faktor was gesetel in sekere Britse persepsies oor die Boere se verhoudings met hul vroue. Die Britse owerhede het naamlik gehoop dat die teenwoordigheid van die vroue in die kampe van die burgers sou oorreed om die kommando’s te verlaat om by hulle aan te sluit. Hierdie oortuiging het onder meer berus op die onderliggende siening van sekere Britte dat die Boere nie net baie huisvas was nie, maar ook aardse, sensuele wesens was wat hulle moeilik van seks weerhou het. Daar is gevolglik gereken dat die vroue in die kampe ’n sterk aantrekkingskrag vir hul mans sou inhou. Hoewel ’n verlangende Boer reeds vroeg in die oorlog beskryf het hoe sy vrou in haar afwesigheid elke dag vir hom mooier word, was die Boere se wellus toe nooit so groot soos die aanmatiging waaraan sommige Britte hulle skuldig gemaak het nie.[6]

Hierdie vorm van seksuele politiek het misluk aangesien die aanhouding van hul vroue en kinders nie daarin geslaag het om die Boere te oortuig om hul kommando’s te verlaat nie. Inteendeel, die wete dat die Britse magte na hul gesinne omsien, op welke wyse ook al, en die feit dat hul plase reeds vernietig is, het die Boerekrygers eerder aangespoor om aan te hou veg. Hulle het immers al hoe minder gehad om te verloor. In dié opsig het die kampe dus eerder die oorlog verleng as dit verkort.

Alhoewel Kitchener nie verantwoordelik was vir die oprigting van die eerste kampe nie, het hy gedurende 1901 ’n groot rol in die uitbreiding van die kampstelsel gespeel. Hy het oor die algemeen ’n lae dunk van die Boerebevolking gehad en het hulle as “barbare met net ’n dun lagie vernis oor” beskryf.[7] Bittereinder-vroue wat ’n uitdagende en weerspannige houding teenoor die militêre owerhede ingeneem het, was eweneens vir hom ’n bewys van agterlikheid en barbaarsheid. Volgens Kitchener was dit die gevolg van ’n afgesonderde plattelandse leefwyse wat ver van beskawingsinvloede verwyder was. By tye het hy sover gegaan om wat hy beskou het as die onhigiëniese gewoontes van die vroue in die kampe te blameer vir hul kinders se sterftes. Hy het selfs gedreig om sommige van hulle van manslag aan te kla.

Oorlogslagoffers: ’n Vrou rou saam met haar jong kinders by die graf van ’n familielid in die Bethulie-kamp.

Hierdie ingesteldheid was nie net kenmerkend van talle Britse imperialiste nie, maar werp ook lig op hul afstandelikheid teenoor vroue in die algemeen. Ná die verlies van ’n jeugliefde het Kitchener nooit weer emosioneel by ’n vrou betrokke geraak nie en slegs ongetroude mans in sy binnekring toegelaat. Trouens, hy het gedink die afwesigheid van vroue in sy lewe het juis sy militêre loopbaan bevorder. Hy het feitlik nooit onderhoude aan vroue toegestaan nie. Hierdie persoonlike dinamika, wat geensins uitsonderlik onder geharde Britse militariste van daardie tyd was nie, bied een verklaring vir waarom die lot van die Boerevroue kwalik in Kitchener se gemoed sou figureer. Al wat vir hom en diegene soos hy saak gemaak het, was dat beleid uitgevoer moes word.

Talle Britse offisiere het ’n ekstreme standpunt gehuldig oor hoe burgerlikes gedurende die oorlog behandel moes word. Een offisier het dit prontuit gestel dat “war is war and humanity is rot”.[8] Hierdie uitgangspunt skep die indruk dat enige maatreëls of optrede eenvoudig aanvaarbaar was. In Brittanje self was daar egter onder die Liberale opposisieparty besondere ongemak oor dié situasie en in 1901 is daar in die Britse parlement retories gevra en geantwoord: “When is a war not a war? When it is carried on by methods of barbarism in South Africa.”[9]

Tot watter mate was daar sprake van uitermate wrede optrede in hierdie konflik? Die enigste manier om dít vas te stel, is om te let op die internasionale maatstawwe vir oorlogvoering wat destyds gegeld het.

Met tente en lakens as enigste beskutting word Boeregesinne na die Pinetown-kamp in Natal vervoer.

Aan die einde van Julie 1899, net meer as twee maande voor die uitbreek van die oorlog, het verteenwoordigers van 24 lande die Eerste Haagse Konvensie onderteken. Dié konvensie het gepoog om die wyse waarop oorlog gevoer word volgens sekere regsbeginsels te reguleer. Brittanje het nie al die bepalings van die Haagse Konvensie onderteken nie en nie een van die twee Boererepublieke het die samesprekings bygewoon nie. Dit het beteken dat die Haagse Konvensie tegnies gesproke nie op die Anglo-Boereoorlog betrekking gehad het nie, omdat die konvensie stipuleer dat albei strydende partye dit moes onderskryf voordat dit op hulle van toepassing kon wees. Dit het egter nie verhinder dat albei partye hulle gedurende die oorlog op die konvensie beroep het om oorlogsgebruike te probeer regverdig nie.

Artikel 23 van die Haagse Konvensie bepaal dat ’n vyand se persoonlike eiendom nie vernietig mag word as dit vanuit ’n militêre oogpunt nie absoluut noodsaaklik is nie. Ten opsigte van hul verskroeide aarde-beleid kon die Britte aanvoer dat plase as militêre skuilings gebruik is, maar hulle het ook meermale plase afgebrand sonder enige bewys dat burgers dit vir militêre doeleindes gebruik het of dat die vroue op die plase as spioene opgetree het. In hierdie gevalle was die optrede deur die Britse magte ’n oortreding van dié betrokke klousule in die Haagse Konvensie. Wat daarop gevolg het – die wegvoering en aanhouding van vroue en kinders in konsentrasiekampe – was ’n oortreding van ’n ander orde wat katastrofale gevolge sou hê.

Vroue en kinders op die altaar van ’n vryheidstryd?

In die geskiedskrywing word dikwels gevra of sekere gebeure noodwendig – en as ’t ware lotsgebonde – sou gebeur het en of ander besluite of optredes moontlik tot ’n ander stel uitkomste kon gelei het. Sulke vrae kan as blote spekulasie afgemaak word, maar ons kan wel ons insig in sekere gebeure verruim en verdiep deur alternatiewe uitkomste te oorweeg.

Oor die kampe word dikwels gevra of die tragiese sterftes in die fel winter van 1901 nie voorkom kon geword het nie. By terugskouing blyk dit dat die geskiedenis moontlik in ’n ander rigting gestuur sou kon word by ’n geleentheid op 28 Februarie 1901 waar Kitchener en generaal Louis Botha in Middelburg vergader het. Dié ontmoeting het voortgespruit uit Kitchener se begeerte om ’n lang, uitgerekte stryd te verhinder, terwyl Botha voelers wou uitsteek om vas te stel watter vredesvoorwaardes die Britte in die vooruitsig gestel het. Volgens ’n boodskap wat Botha se vrou, Annie, aan Kitchener oorgedra het, was hy oortuig van die noodsaak van vrede. Hoewel Botha van mening was dat die Republieke hul onafhanklikheid moes behou, was hy gretig om uit te vind of daar enige ander uitweg was.

Met hul ontmoeting het Kitchener vir Botha probeer oorreed om nie weer die wa-penneerlêers op te kommandeer nie, terwyl hy onderneem het om nie die plase van vegtende burgers af te brand as hulle nie aktief deur hul families gehelp word nie. So ’n reëling sou egter moeilik in die praktyk toegepas kon word en Botha het boonop vas geglo dat hy as Boeregeneraal regtens by magte is om die wapenneerlêers weer op te kommandeer.

Heel links: Generaal Louis Botha het met die Britse opperbevel onderhandel, maar kon nie daarin slaag om vroeër in die oorlog ’n vredesooreenkoms te bereik nie. Die koste van sy mislukte samesprekings in Middelburg met lord Kitchener in Februarie 1901 sou deur burgerlikes gedra word. Links: Veldmaarskalk lord Kitchener.

Die Britte het ook ’n aantal voorwaardes vir vrede neergelê en onder meer ’n soort semi-verteenwoordigende regering aangebied. Botha het egter aangevoer dat ’n volk wat vir sy onafhanklikheid veg, nie enige voorwaardes kon aanvaar wat nie republikeinse onafhanklikheid as grondslag het nie. Onafhanklikheid was ononderhandelbaar en die onderhandelinge het gevolglik ná ’n kort briefwisseling doodgeloop. Botha het geredeneer dat waar menslike pogings tot vrede gefaal het, die saak dan in die hande van God gelaat moes word.

Die tyd vir vrede het wel aangebreek toe die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 onderteken is. Ironies genoeg het die voorwaardes waaronder die Boere toe vrede gemaak het nie veel verskil van die aanbod wat in Februarie 1901 gemaak is nie. Hulle moes hul onafhanklikheid prysgee en ’n vorm van selfregering onder die Britse kroon aanvaar, terwyl ander kwessies soos onder meer amnestie aan Kaapse rebelle, vergoeding vir verliese en die posisie van swart mense ook breedweg ooreengestem het met die voorwaardes wat by Middelburg bespreek is.

Annie Botha, die generaalsvrou wat nie net vir haar smaak in hoede bekend was nie.

Die vraag wat dan ontstaan, is: Watter baat het die Boereleierskap daarby gevind om die oorlog vir nog 15 maande voort te sit, veral in die lig van die sterftes in die kampe en die gebrek aan enige wesenlike verskille tussen die twee stelle vredesaanbiedinge? Ná die mislukte Middelburgse samesprekings het die oorlog in felheid toegeneem en die sterftes van vroue en kinders het die hoogte in geskiet tydens die smartlike winter van 1901.

Die onvermoë van die twee militêre bevelvoerders om vroeër tot ’n haalbare ooreenkoms te gekom het, lê aan die wortel hiervan. Vir Botha het die voortsetting van die oorlog en die aandrang op republikeinse onafhanklikheid voorrang geniet. Die geharde militaris Kitchener, wat boonop nie ’n vry hand in die onderhandelinge gehad het nie en deurentyd die wense van politici soos Milner (wat sy bedenkinge oor die samesprekings gehad het) in ag moes neem, het daarna op sy reeds gebaande weg van plaasverbranding en wegvoerings na kampe voortgegaan. Indien die Boerekrygers nie oop was vir oortuiging nie, sou hulle volgens Kitchener met die gevolge van hul besluit moes saamleef. Natuurlik kon nóg Kitchener nóg Botha in Februarie 1901 voorspel het watter besonder koue winter dit sou wees. Dit was egter ook nie asof die kwessie van burgerlikes voorop in hul gedagtes was nie.

Huisvesting in die kampe het nie altyd net uit tente bestaan nie. In sommige kampe is selfs vaste strukture opgerig.

Die kampbewoners is hierna gedurig as speelbal gebruik. Kitchener het in Desember 1901, ná herhaalde klagtes oor die toestande in die kampe, aan die Boereleiers gesê as hulle so besorg was daaroor, kon hulle maar self na hul landgenote omsien en dat hy derhalwe nie die kampe verder gaan uitbrei nie. Botha het in ’n brief gesê hy vind dit ironies dat Kitchener so ’n beleid wou uitvoer in ’n stadium toe die kommando’s al hoe minder middele gehad het om selfs net hulself te onderhou, terwyl hy die vroue en kinders aan die begin van die guerrillastryd – toe die Boere moontlik nog in staat sou wees om na hul families om te sien – juis na die kampe weggevoer het. Te midde van die onderskeie militêre bevelvoerders se wedersydse aantygings en verwyte het die vroue en kinders steeds die spit afgebyt.

As die relatief klein verskille in die vredesvoorwaardes van Middelburg en Vereeniging in ag geneem word, kan aangevoer word dat die kampinwoners onbewustelik op die altaar van ’n vryheidstryd geplaas is. Die geleentheid was daar om die oorlog vroeër tot ’n einde te bring, maar dit is nie aangegryp nie aangesien militêre en politieke prioriteite aan albei kante die botoon gevoer het. Hoewel militêre bevelvoerders dit nie noodwendig só ingesien het nie, was dit ’n potensiële draaipunt in die oorlog wat ’n wesenlike verskil sou kon maak.

Wapenneerlêers en krygsgevangenes wat die eed van neutraliteit afgelê het, is toegelaat om by hul gesinne in die kampe aan te sluit. Dit was heel moontlik die geval met hierdie man.
Daar was duidelik geen tekort aan vreedsame mans in “Peace Street” nie, soos hierdie straat in die Winburg-kamp genoem is.

Terselfdertyd moet die oorvloedige bewyse in berekening gebring word dat die vroue in die kampe oorwegend ten gunste van die voortsetting van die stryd was en hul mans ook daarin aangemoedig het. Onder die bittereinder-mans was daar ook geensins berou omdat hulle met die guerrillastryd voortgegaan het nie en die sterftes in die kampe is uitsluitlik voor die deur van die Britse magte gelê. Deur met die stryd te volhard, het die bittereinders seker gemaak dat hulle nie kort ná die Middelburg-samesprekings op die slagveld deur die Britte oorrompel is nie, wat moontlik tot selfs nog swakker vredesvoorwaardes sou kon gelei het. Die bittereinders se vernuftige krygskuns en verbasende uithouvermoë sou nie slegs in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd die verbeelding aangryp.

Hoewel daar aan Britse kant onderlinge spanning tussen Kitchener en Milner geheers het oor hoe die oorlog gevoer moes word om die Boeremagte te onderwerp, is daar nooit ernstig oorweeg om die plaasverbrandings – die grondliggende rede vir die kampe – stop te sit nie. Selfs nadat dit geblyk het dat die beleid nie die gewenste uitwerking gehad het nie, is die Britte steeds nie van stryk gebring nie.

Die kampe het ’n verwyderde oorsprong gehad in die veranderende patrone van Westerse oorlogvoering in die laat 19de eeu. In Suid-Afrika self het ontwikkelinge rakende die wapenneerlêers en die Britse opperbevel se verskroeide aarde-beleid die grondslag vir die oprigting van kampe gevorm.

Die wyse waarop burgerlike vroue van meet af aan by die vyandelikhede betrek is, was nie in ooreenstemming met die destydse konvensies van oorlogvoering nie. Dit het egter nie die Britse opperbevel gekeer nie en toe die kampstelsel eers van die grond af gekom het, was dit moeilik omkeerbaar. Die enigste geleentheid om dit moontlik te beëindig, is ook nie aange-gryp nie aangesien militêre en politieke prioriteite aan beide kante die toon aangegee het.

Die dramatiese gebeure wat op die Vrystaatse en Transvaalse slagvelde plaasgevind het, sou op lang termyn belangrike gevolge inhou. Gedurende die 1930’s en 1940’s is die tragiek van die kampe gebruik as een van die ideologiese boublokke om die robuuste Afrikanernasionalisme van dié tyd te stut. Die verterende emosies wat die konsentrasiekampe onder Afrikaners losgemaak het, was bestem om ’n lang skaduwee in die toekoms te werp.


Die oorlog kom huis toe

Подняться наверх