Читать книгу Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford - Страница 7

Оглавление
Die Vrouemonument troon uit oor die plat Vrystaatse landskap kort ná sy oprigting in 1913.

Inleiding


DIE TRAUMATIESE UITWERKING WAT DIE ANGLO-BOEREOORLOG van 1899 tot 1902 op die meeste gewone Afrikaners gehad het, is al dikwels as die uitstaande kenmerk van hierdie bittere konflik bestempel. Herinneringe aan die oorlog het onafhanklik van formele herdenkings in die algemene geheue bly voortleef. Tog beskik herdenkings, en veral eeufeesvierings, oor die potensiaal om meer as blote rituele te wees. Dit kan lei tot ’n vars blik op die geskiedenis wat ons in staat stel om bestaande persepsies oor gebeure en mense uit die verlede te heroorweeg. Hiermee in gedagte, kan genoem word dat die publikasie van Die oorlog kom huis toe saamval met die 100-jarige herdenking van die oprigting van die Vrouemonument in Bloemfontein in 1913.

Soos ander onlangse geskiedkundige werke, is hierdie boek ’n produk van ons tyd – ’n era waarin talle eeufeesvierings van belangrike momente in die Suid-Afrikaanse geskiedenis reeds plaasgevind het. Aan die begin van die 21ste eeu was daar herdenkings van die Anglo-Boereoorlog (sommiges noem dit ook die Suid-Afrikaanse Oorlog), die Bhambatha-rebellie in Natal in 1906, die stigting van die African National Congress in 1912 en die promulgering van die Wet op Naturellegrondgebied in 1913. In die nabye toekoms wag nóg herdenkings, byvoorbeeld van die Afrikanerrebellie van 1914 – aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog – en die stigting van die eertydse Nasionale Party, ook in 1914. In die lig van die meer onlangse geskiedenis sal laasgenoemde herdenking waarskynlik ’n relatief afgeskaalde geleentheid wees.

As ’n mens die omvang en belang van herdenkings moet vergelyk, word die onthulling van die Vrouemonument en ander geleenthede deur die Groot Trek-herdenking van 1938 oorskadu. Aan die hart van die simboliese ossewatrek het die ontwaking van ’n sluimerende Afrikanernasionalisme gelê. Dit het op ’n grootse gebeurtenis uit die verlede gesteun om ’n volk in beweging te bring. So ’n oormatige vertoon van oordrewe nasionalisme sou onvanpas voorkom in ons huidige, meer skeptiese tydsgewrig. Nietemin bly dit ’n voorbeeld van hoe geskiedkundige herdenkings altyd deur die bril van die hede bekyk word.

Waarom moet die oprigting van die Vrouemonument herdenk word in ’n Suid-Afrika wat sedert 1913 soveel verander het? Is die nalatenskap van die monument nog relevant, en indien wel, watter betekenis het dit 100 jaar later vir gewone Suid-Afrikaners?

Om hierdie vrae te beantwoord, delf die bydraers tot hierdie boek in die waaisand van die geheue om vas te stel hoe die Vrouemonument gedurende bepalende geskiedkundige fases sedert 1913 beleef is. Daar word gekyk na op wie die monument aanvanklik gerig was, wat die monument deur die loop van die 20ste eeu versinnebeeld het en wat dit vandag vir ons sê. Die oorlog kom huis toe bied ’n perspektief op hierdie spesifieke nalatenskap van die konflik, maar ondersoek ook die kompleksiteite en teenstrydighede van die oorlogservaring waaruit blywende gedenkrituele ontstaan het.

Die boek poog om lesers meer as die blote verhaal agter hierdie ikoniese oorlogsmonument te vertel. Dit spreek vanself dat die Vrouemonument – met die emosionele, politieke, kulturele en ander herinneringe wat daaraan gekoppel is – ’n eie openbare geskiedenis sal beliggaam. Dit bied egter ook ’n blik op die uiterste omstandighede waaraan ’n kwesbare burgerlike samelewing, getref deur die skok van ’n volskaalse moderne oorlog, blootgestel is. Die oorlog van 1899 tot 1902 was meer as net ’n enkele stryd of ’n geveg tussen twee leërs aan die front. In hierdie geval het ook gewone mense – wit en swart, vroue en kinders, families en individue – die sterftes en lyding ervaar wat veroorsaak is deur vyandelikhede wat veel wyer as die slagveld gestrek het.

Die wêrelde wat in hierdie boek ontsluit word, is hoofsaaklik dié van vroue en gesinnewat geweldige ontwrigting beleef het. Hoewel die lot van weerlose slagoffers beskryf word, ontleed Die oorlog kom huis toe ook die onvoorspelbare aard van die spanning wat ’n oorlogservaring meebring. Met ander woorde, in plaas daarvan om oorbekende geskiedkundige interpretasies te versterk wat vroue en kinders se lewens tot passiewe lyding en opoffering verskraal, ondersoek ons ook op watter maniere hulle volhard en oorleef het – aspekte wat maar te dikwels verontagsaam of vergeet word.

Wanneer hulle die tragedie van die oorlog onder die loep neem, kyk die bydraers na die pogings van diegene wat hulle probeer berus het by die onsekerheid wat met inname en besetting gepaardgaan. Húl oorlog was die stryd om ’n draaglike en menswaardige bestaan te voer in ’n omgedolwe landskap gekenmerk deur botsende belange – verset en aanvaarding, weerstand en samewerking, interaksie en onttrekking, brose sekerhede en groot vertwyfeling, hoop en wanhoop. As ons lesers enigiets van hierdie volskaalse of totale oorlog in Suid-Afrika wil onthou of herdenk, hoop ons hulle sal hulle genoop voel om na te dink oor wat konflik aan ongewapende burgerlikes doen.

In die hoofstukke wat volg, gee die bydraers aandag aan die rol wat geslag in die oorlogstyd gespeel het en aan die beproewinge van ’n besonderse, vooraanstaande Boerevrou wat eerder deur die veld sou swerf as om in ’n konsentrasiekamp opgesluit te word. Die kampe verteenwoordig natuurlik ’n omstrede aspek van die oorlog. Vir langer as ’n eeu het die konsentrasiekampe kommentaar en verontwaardiging by geskiedkundiges, politici en sensitiewe Afrikaners uitgelok.

Wanneer die doel en aard van die konsentrasiekampe, sowel as die redes vir die oprigting daarvan, bespreek word, volg ons ’n breë benadering. Ons bevraagteken ook die aanname dat die kampstelsel nie voor die vredesverklaring in Mei 1902 beeïndig kon word nie. Dié aanname is gebaseer op die argument dat die oorlog geen ander koers sou kon inslaan gedurende die noodlottige koue winter van 1901 nie. Die ontwikkeling en spesifieke dinamika van die swart kampe word op dieselfde wyse benader. Anders as wat algemeen geglo word, het geskiedkundige werke al etlike dekades lank dié kampe se bestaan gedokumenteer. Hierdie boek wys dat die wit en swart kampe meer verweef was en dat daar groter interaksie tussen hul onderskeie inwoners was as wat dikwels aangeneem word.

Ons neem ook bestek op van die gesinslewe in die konsentrasiekampe. Hoewel daar in die verlede al baie oor die kampe geskryf is, is weinig bekend oor die sogenaamde kampkinders. Om te vergoed vir hierdie geskiedkundige versuim, bied dié boek insig in kinders se ervaring van die konsentrasiekampe – hoe hulle hulself in daardie omstandighede gehandhaaf het en oorleef het. Dit het tyd geword om aan te beweeg van die beperkte perspektief waarvolgens hul teenwoordigheid bloot in terme van uitgeteerde, dooie liggaampies gereken word.

Die soeklig val verder op die komplekse binnewerkinge van die kampe. Die alledaagse lewe van die inwoners word ondersoek, asook hoe die verskillende mediese kulture van die Boerevroue en die Britse kampadministrasie die houdings ten opsigte van heling en die herstelproses beïnvloed het. Ten slotte wys ons op die verband tussen die verskrikking van die oorlog en die gebruik van galgehumor om die uiterste omstandighede te probeer troef. Ons oorweeg die rol wat die komiese verbeelding gespeel het toe die Boerebevolking ná vredesluiting die onmiddellike gevolge van die oorlog moes hanteer.

Soos Die oorlog kom huis toe aantoon, is daar tussen 1899 en 1902 op verskeie fronte geveg. Aangesien die gevegsfront en die tuisfront dikwels nie van mekaar losgemaak kon word nie, was die Anglo-Boereoorlog dus ’n heftige stryd met talle fasette en verskillende gesigte, waarvan sommige hier uitgebeeld word. Ons nooi lesers uit om, weer eens, Suid-Afrika se volskaalse oorlog te herbesoek.

ALBERT GRUNDLINGH EN BILL NASSON

Boerefamilies klou vas aan ’n paar besittings terwyl hulle na die Pietermaritzburg-kamp stap.
Die oorlog kom huis toe

Подняться наверх