Читать книгу Die oorlog kom huis toe - Helen Bradford - Страница 6

Voorwoord

Оглавление

HIERDIE VERSAMELING BYDRAES IS ’n betekenisvolle herwaardering van die Anglo-Boereoorlog wat die burgerlike ervaring daarvan as troosteloos, maar ook draaglik, uitbeeld. Met ’n fokus op die lot van vroue en hul gesinne belig die skrywers nie slegs hul slagofferskap nie, maar – selfs belangriker – ook hul vermoëns om in eie reg op te tree. Deur ’n intensiewe studie van geskrewe en fotografiese argiefmateriaal bied die skrywers ’n onbevange beskrywing wat lesers in staat stel om die subtiliteite in die verhouding tussen geslag, ras en klas binne die konteks van ’n koloniale oorlog te kan verstaan.

Die gehalte van die foto’s en die detail wat aan die lig kom, is verstommend. ’n Mens sien vroue en jong dogters met huishoudelike artikels soos ’n besem, emmer, stoel, kom-bers en ’n pot. Hulle lyk asof hulle by die huis is. Maar hul huise bestaan nie meer nie – dit is as deel van die verskroeide aarde-beleid vernietig of onder protes agtergelaat. Hul tuiste is nou tente, tydelike skuilings vir vlugtelinge wat in konsentrasiekampe beland het. Op die foto’s verraai die blik van hierdie mense sowel vrees as vasberadenheid – die feilbaarheid én die krag van diegene wat deur hul omstandighede ’n verandering ondergaan het.

Soos met ’n terugflits in ’n rolprent, gebruik die boek die inwyding van die Vroue-monument in 1913 as ’n simboliese vertrekpunt. Die eeufeesviering word subtiel in verband gebring met ’n komplekse en ysingwekkende koloniale oorlog en die daaropvolgende opkoms van segregasionistiese nasionalisme. Die gebruik van konsentrasiekampe was een metode van imperiale oorlogvoering, wat hoofsaaklik (hoewel volgens een bydraer nie uitsluitlik nie) bedoel was vir burgerlikes, veral vroue en kinders, ongeag of hulle swart of wit was. Die gevolge van die verskroeide aarde-beleid, wat deur die Britse leër op ’n toenemend professionele wyse toegepas is, het veel wyer gestrek as die onmenslike lyding van die vroue en kinders. Hul aanhouding het ook ’n blywende letsel op die land se geskiedenis gelaat.

Nog ’n opvallende terugflits in dié verband fokus op die oorsprong van die kampe. Volgens die politieke filosoof Hannah Arendt het konsentrasiekampe ontstaan lank voordat die totalitêre regerings van die twintigste eeu dit in ’n belangrike staatsinstelling omskep het. Dit was nie gevangenisse nie en was eerder daarop gerig om “ongewenste persone” te hanteer – individue wat in hul eie land alle wetlike regte en identiteit verloor het.[1] Arendt was een van die geleerdes wat die opkoms van konsentrasiekampe foutiewelik aan die Anglo-Boereoorlog toegeskryf het. Die kampe het in werklikheid elders ontstaan – in 1896 in Kuba onder die Spaanse generaal Valeriano Weyler y Nicolau. Dié stelsel is in Suid-Afrika aangepas en oor die daaropvolgende twee dekades wêreldwyd geïmplementeer. Trouens, hulle bestaan vandag nog.

Wat presies het gebeur? Burgerlikes – veral vroue, kinders en bejaardes – is geïnterneer en as die vyand behandel aangesien hulle hulle in ’n oorlogsituasie bevind het. Die nie-strydendes het begin gewoond raak aan wat as ’t ware ’n noodtoestand of krygswet was, omdat dit deel van die koloniale opset en die aanloop tot ’n volskaalse oorlog was. Hulle is onderwerp aan onmenslike ontberings, waaronder die verlies aan vryheid, skeiding van hul geliefdes, ellendige en onhigiëniese lewensomstandighede, voedseltekorte, oorbewoning en siektes. Hulle moes oorleef onder ’n beleid wat nie oorspronklik bedoel was om hulle te laat ly of sterf nie. Hul aanhouding het om administratiewe of militêre redes plaasgevind, maar was nie wettig nie omdat hulle nooit verhoor of veroordeel is nie.

Dit is belangrik om kortliks stil te staan by wat in Kuba gebeur het. In die middel van die 1890’s het die Spaanse leër se konsep van ’n “konsentrasie van burgerlikes” tot die instelling van kampe, wat reconcentrados genoem is, gelei. Generaal Weyler se idee was om burgerlikes te skei van die rebelle wat die Spaanse koloniale bewind teëgestaan het. Hy het dit gedoen onder die voorwendsel dat hulle sodoende beskerm sou word teen die verskroeide aarde-beleid wat die Kubaanse opstand sou beëindig. Hulle sou in ’n soort ballingskap geïsoleer word. Individue moes dus uit hul huise verwyder en elders heen weggevoer word. Weyler het besef dat die Kubaanse rebelle teruggeval het op guerrillataktiek en vrywillig of andersins deur burgerlikes gevoed is. Om die oorlog te kon wen, het Weyler besluit om daardie bronne af te sny deur die burgerlike bevolking te hervestig en die eiland in sones te verdeel. In Maart 1898 het ’n ooggetuie, die Amerikaanse senator Redfield Proctor, gesê dit is “not peace, nor is it war. It is desolation and distress, misery and starvation” met elke “woman and child and every domestic animal under guard…It is concentration and desolation”.[2]

Die massamedia het in hierdie tyd sy beslag gekry en joernaliste kon aan ’n wêreldwye gehoor verslag doen oor die Kubane se lyding. Politieke uitwissing is voorts deur die toenemend professionele oorlogsfotografie gedek.

Die Spaanse imperiale mag se verweer was dat sy Kubaanse vyande barbare was. Nietemin is van “beskaafde” lande verwag om daarteen beswaar te maak en tussenbeide te tree. Die Kubane het gehoop dat Amerika hul onafhanklikheid sou erken, maar in plaas daarvan het die Amerikaners die eiland teen die wil van sy inwoners ingeneem en ’n de facto Amerikaanse protektoraat afgedwing. Dit het teen 1898 ten minste ’n einde aan die gedwonge verskuiwings gebring.

Weyler het ’n taktiek geïmplementeer wat hy op ’n kleiner skaal in die Verenigde State toegepas gesien het. Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog van 1861 tot 1865 was hy Spanje se militêre attaché in Washington en ’n vurige bewonderaar van generaal William Sherman, wat dié taktiek gebruik het teen burgerlikes wat die Uniemagte vyandig-gesind was. In spesifiek Missouri is burgerlikes verskuif en in sogenaamde “poste” geplaas. Owerhede kon die gebruik van uiterste geweld teen burgerlikes regverdig op grond van die rasseklimaat van die tyd, veral waar die verowerdes nie Christene was nie. In Kuba was die bevolking egter van Europese afkoms en Christelik.

Om weer tot Suid-Afrika terug te keer: Dit is handig om te onthou dat Weyler volgens die algemene Britse (en Amerikaanse) mening as ’n “butcher” en ’n “brute” beskou is.[3] Die Cape Argus van 26 Maart 1897 het Spanje as ’n “disgrace to civilisation” beskryf. Kort hierna het dieselfde soort oorsake tot dieselfde soort gevolge gelei – die koloniale oorlog tussen Boer en Brit sou nóg ’n konsentrasiekampstelsel meebring. Lloyd George, ’n lid van die Britse opposisie, was bewus van wat in Suid-Afrika aan die gebeur was toe hy op 25 Julie 1900 sy kommer teenoor die Britse Laerhuis uitgespreek het en verklaar het dat dit vir hom lyk asof Brittanje geleidelik Spanje se beleid in Kuba begin volg het.[4] Op daardie tydstip was dit dalk nog nie heeltemal die geval nie, maar die militêre mislukkings van generaal Frederick Roberts en die naderende aankoms van generaal Horatio Kitchener in Suid-Afrika sou spoedig die lot van die Boere- en swart bevolking bepaal.

Hierdie sosiale geskiedenis is presies en oorspronklik in hoe dit ’n volskaalse oorlog herbesoek. Dit was ’n konflik wat gekenmerk is deur die verwoesting van plase, die slag van diere, wydverspreide brandstigting en interpersoonlike geweld tussen mans en vroue. Die bydraers se omsigtige ondersoek dek temas soos die komplekse verhouding tussen medemenslikheid en verengelsing: Die Britse owerhede kon slegs eersgenoemde aanvaar omdat hulle verwag het dat dit tot laasgenoemde sou lei. Die skrywers laat ook die stemme van aangehoudenes uit hul hospitaalbeddens, skole en aanbiddingsplekke hoor, asook in hul liefdesverhoudings en hul sterfte. Sodoende skep hulle ’n beeld wat deurgaans deur ryk dokumentêre en visuele bronne geïllustreer word.

Alles kom in die somer van 1900 tot ontplooiing. Die Britte het ’n militêre voor-sprong op die Boere. Hulle beheer die stede en spoorwegnetwerk, maar het nog lank nie die oorlog gewen nie. Gevolglik begin hulle om krygsgevangenes na St Helena, Bermuda en Indië te deporteer. Vir diegene wat bereid is om oor te gee, word beskerming in die kampe aangebied. Nietemin maak die guerrillamagte die lewe steeds baie moeilik vir die Britse leër en word die idee van gesinne wat in kampe aangehou word as ’n uitbreiding van die verskroeide aarde-beleid beskou. Die Britte glo dat die enigste lewensvatbare oplossing is om plase en oeste te vernietig sodat voorrade aan die Boeremagte afgesny word.

Kitchener wil hierdie probleem oplos wanneer hy teen die einde van 1900 die bevel oorneem. Vir hom is daar geen onskuldige bystanders onder die Boerebevolking nie – en die getuienis van diegene wat hulle verset, soos in hierdie boek bespreek word, bewys nie die teendeel nie! Kitchener fokus daarop om Boereweerstand te ontmoedig, en insinueer ten spyte van bewyse dat die joiners self interneringskampe vir hul gesinne voorgestel het. In werklikheid word feitlik die hele bevolking gyselaar gehou. Wit en swart mense word almal as krygsgevangenes beskou en aan wrede vergeldingsmaatreëls onderwerp. Boonop word die kampe bestuur deur die Britse leër, wat sy eie strafmaatreëls ten doel het.

Dít was die atmosfeer en diegene wat soos slagoffers voorgekom het, het dienooreenkomstig opgetree. Nonnie de la Rey is van besondere belang. Sou sy gevange geneem word, wou sy as ’n krygsgevangene beskou word. Dit sou verseker dat sy óf deur die eerste Geneefse Konvensie beskerm word, óf as neutraal beskou sou word deur die humanitêre wette wat losweg gedurende die oorlog gegeld het. Nonnie was ’n produk van die Boere se heersende patriargale stelsel en het haarself as ’n “man” beskou – in die praktyk was sy ’n plaasvervanger vir haar man in sy afwesigheid. Al kon sy nie verwag dat die Britte dié besluit sou respekteer nie, het sy voortgegaan om haar man op kommando te ondersteun. Bowenal was dit ter wille van hierdie aktiewe rol wat sy kon speel dat sy geweier het om in die kampe aangehou te word.

Soos uit die boek blyk, het die Britte die Boere as primitiewe en onbeheerste sensuele wesens beskou met ’n sterk sin vir gesinswaardes wat slegs die knie sou buig as hul bloedfamilie te na gekom word. Teen die eeuwending is daar soms na “Boer herds” of “Boer flocks”[5] verwys, ’n benaming wat gespruit het uit sosiaal-Darwinistiese idees oor menslike evolusie en wat die vyand op ’n submenslike vlak geplaas het. Met weinig ander keuse as om hulle te onderwerp, is hulle in kampe opgesluit wat aan ’n soort menslike dieretuin herinner het. Daar is hulle as deel van ’n onverskillige proses geregistreer en in tente gehuisves; hulle het rantsoenkoepons ontvang en blote name op lyste geword.

Nóg Roberts, nóg Kitchener het aan die gevolge van hul opdragte gedink. Om burgerlikes in oorvol woonkwartiere met gebrekkige sanitasie te prop en hul voedsel tot verlaagde militêre rantsoene te beperk, kon slegs op rampspoed afstuur. Meer Britse soldate het reeds aan siektes gesterf as in gevegte, wat nie ’n vreemde verskynsel in negentiende-eeuse oorlogvoering was nie. In die kampe het vroue, kinders en bejaardes dieselfde lot te beurt geval. Noodlottige uitbrake van masels was algemeen en sou later simbolies word van die traumatiese kamplewe.

In die herfs van 1900 het hoë sterftesyfers ’n beroering veroorsaak onder pasifistiese groepe in Londen, soos die South African Conciliation Committee. Emily Hobhouse, die stigter van die South African Women and Children Distress Fund, het in hierdie komitee gedien. Sy het in Desember 1900 in Suid-Afrika aangekom en ’n verslag oor toestande in die konsentrasiekampe opgestel, wat as ’n aanklag teen die kampe gedien het. Hoewel dit nie heeltemal anti-Brits was nie, is dit tot voordeel van nie net die Boere gebruik nie, maar ook van lande wat hulle teen Groot-Brittanje verset het (die eerste vertaling van die verslag het uit Frankryk gekom). Hoewel Hobhouse in 1901 uit Suid-Afrika verban is op haar tweede reis na die land, is haar boodskap in haar tuisland gehoor. Die leier van die Liberale Party, sir Henry Campbell-Bannerman, het hom skerp teen die gebruik van “barbaarse metodes”[6] uitgespreek en het Hobhouse se verslag openbaar gemaak, wat tot ’n parlementêre ondersoek gelei het.

Die ondersoek het gefokus op die hopelose situasie in wit kampe. Tog het dit in die afsonderlike kampe wat vir swart mense opgerig is selfs slegter gegaan. Hul wonings en erwe is ook afgebrand. Hulle het in die kampe gewerk en moes nie net na hul eie gesinne omsien nie, maar ook in sekere behoeftes van die Britse leër voorsien. Die hoë sterftesyfers in die swart kampe is grootliks deur wit waarnemers oorgesien en het weinig protes of ooggetuieverslae uitgelok.

Die Britte het instinktief probeer om hulle te verontskuldig deur die Boere vir die onhigiëniese toestande in die kampe te blameer. Hul skynbare oningeligtheid en onbeskaafdheid is as die oorsaak van die probleme beskou. In teenstelling tot Victoriaanse Britse waardes wat die landelike leefwyse geïdealiseer en teenoor die industriële stede gestel het, is die Boere dikwels as agterlike plattelanders uitgebeeld wat in onsindelike omstandighede geleef het en beswaarlik die kos wat aan hulle verskaf is, kon voorberei of hul kinders kon versorg.

Om dit te probeer verklaar, plaas die bydraers tot hierdie boek die lot van vroue, kinders, swart bediendes, wit base, siekes, versorgers en vroeë filantrope binne ’n breër refleksie op die oorlog. Lesers word die getuies van die trauma, die veerkragtigheid, die wanhoop, die verlies en die beproewings van hul daaglikse bestaan. Daarby word ’n blik gebied op die eentonige lewe waaruit die gedagte van “doringdraadsindroom” ontstaan het waarmee vele gevangenes goed bekend was.

Soos die bydraes aandui, het die omstandighede in die kampe geleidelik met verloop van die oorlog verbeter. Teen 1902 is verpleegsters en onderwysers uit Engeland aangestel om na die siekes en kinders om te sien. Was dit deel van die tradisie van Protestantse barmhartigheid? Was dit ’n aspek van die beskawende verligting? Bes moontlik nie. Benewens ander kulturele ingrypings, sou die Engelse taal byvoorbeeld Afrikaans vervang. Tog het die politieke situasie ironies genoeg ook toe begin verander, omdat burgerlikes wie se plase verwoes is in daardie stadium nie meer weggevoer en geïnterneer is nie. Oorgawe deur die Boeremagte het gekom te midde van hierdie verspreiding van burgerlikes en die afname in die laaste kommandoweerstand.

Teen daardie tyd het die Engelse onbewustelik slagoffers geskep oor wie die Afrikaners later sou rou. Die konsentrasiekampe het groter momentum aan wit Afrikaner-nasionalisme gegee as enige ander aspek van hul koloniale ervaring. Globaal gesproke was die fokus ook nou nie meer op Kuba nie. Hoewel die pro-Boerebeweging ontstaan het uit protes teen die Britse Ryk en kolonialisme, het sy verreikende besware – al was dit soms oordrewe – teen wat as misdade beskou is, ’n geldige grondslag gehad.

Vir die September-uitgawe van L’Assiette au Beurre in 1901 (wat spoedig in Nederlands vertaal is), het die kunstenaar Jean Veber ’n aantal onsmaaklike illustrasies gemaak van die “herkonsentrasiekampe in die Transvaal”, soos toe daarna verwys is. Die tekeninge het uitbeeldings ingesluit van vroue wat treur oor die kinderlykies wat om hulle versprei lê en van Engelse soldate wat hulle slaan of hul kinders wegneem. By die illustrasies was daar onderskrifte uit Kitchener se verslae aan die War Office in Londen waarin die Boerevroue se voorregte beklemtoon is, soos die “spacious tents where air and freshness are in abundance” en die kampe waar opgeruimde ma’s maklik die “melancholy of their predicament” kon vergeet’.[7]

Het hierdie ontstellende uitbeeldings dalk die risiko ingehou dat uiterste vorms van propaganda die publiek se mening oor werklike vergrype sou temper? Sou sulke propaganda nie onvermydelik die openbare mening oor burgerlikes wat oorlogslagoffers word beïnvloed nie? Sou die Boere, wat die slagoffers van Britse aanslae was, nie moontlik wraak neem op swart mense omdat die Britte hulle teen die republikeinse magte gebruik het nie? Kon ’n mens steeds die etiek van ’n oorlog bevraagteken as die strydende partye nie meer die enigste rolspelers was nie? Was dit ooit ’n opsie om die idee van ’n regverdige of onregverdige oorlog te oorweeg? Van hierdie oomblik af sou die gebruik van konsentrasiekampe immers deel vorm van die masjinerie van oorlogvoering. Die kampe van die Balkan-oorloë en die Eerste Wêreldoorlog sou op dié van Kuba en Suid-Afrika volg.

Die internering van “verdagte” burgerlikes en hul hantering as krygsgevangenes (al was dit strydig met die internasionale reg) was daarom algemeen onder al die strydende magte in die Eerste Wêreldoorlog. In besette lande was verdagte burgerlikes ook die slagoffers van weerwraak en is hulle soms gedeporteer en/of na werkkampe gestuur. Die internering van nie-vegtendes as ’n manier om die vyand te verswak was nog altyd ’n strategiese metode van oorlogvoering. Die gevangeneming van soldate was ook nie ’n nuwigheid nie. Daarteenoor het die konsentrasiekampstelsel wat op die konflikte in Kuba en Suid-Afrika gevolg het ’n innovasie in oorlogvoering verteenwoordig: Gewone burgerlikes het nou ook die slagoffers van ’n volskaalse oorlog geword. Hul kampe het ’n integrale deel van die kultuur van gewapende konflik geraak.

Tussen 1896 (die Kubaanse Oorlog) en 1918 (die einde van die Eerste Wêreldoorlog) het die Anglo-Boereoorlog ook in vele opsigte bygedra tot veranderinge in die wyse waarop oorlog gevoer is. In Suid-Afrika het die deportasie en internering van burgerlikes nie tot massa-uitwissing gelei nie. Die toestande het egter wel uitgeloop op ’n oorlog teen die burgerlike bevolking wat deur uiterste geweld gekenmerk is. Terselfdertyd was hierdie kampe nog nie sinoniem met die latere georganiseerde stelsels van konsentrasiekampe nie. In die Anglo-Boereoorlog was die bestuur van die kampe lukraak en ongekoördineer, soos duidelik uit hierdie boek blyk. Nietemin was dit steeds ’n volskaalse of totale oorlog…en dít vereis dat die vyand geïnterneer word, ongeag of dit soldate is wat in gevegte gevange geneem word of burgerlikes wat as die vyand beskou en behandel word – ongewapende soldate wat haat, verset en stilswye as wapens ingespan het om terug te veg en hul veerkragtigheid te bewys.

Die Boeregemeenskap in die Suid-Afrikaanse republieke is nie aan ’n volksmoord blootgestel, soos wat die Armeniërs van Turkye byvoorbeeld in die Eerste Wêreldoorlog beleef het nie. Hul ervaring was een van vernedering. Die oorsake daarvan was nie onbeplande of doelbewuste wreedheid nie, maar eerder die wese van oorlogbeleid in besette gebiede, naamlik inperking en afsondering. Dit is op hierdie pad wat die tragedies en verskrikking van die geviktimiseerde vroue en gesinne in die Anglo-Boereoorlog gevind sal word.

ANNETTE BECKER is ’n professor in moderne geskiedenis aan die Paris West University Nanterre La Défense en ’n senior lid van die l’Institut Universitaire de France. As ’n sosiale en kultuurhistorikus wat fokus op volskaalse oorloë in die twintigste eeu, is sy ’n kenner op die gebied van die invloed van geweld op burgerlikes onder militêre besetting. Becker is een van die stigters van die Museum of the Great War in noordelike Frankryk, die Historial de la Grande Guerre, in Peronne, Somme. Van haar onlangse publikasies sluit in ’n studie van die Franse digter Guillaume Apollinaire se ervarings in die Eerste Wêreldoorlog, naamlik Apollinaire: Une Biographie de Guerre 1914–1918 (2009).

Die oorlog kom huis toe

Подняться наверх