Читать книгу Veearts-vriende 2: Tania en die perdry-kompetisie - Helen Brain - Страница 4
Оглавление2
Tania maak ’n plan
’n Rukkie later sit Tania en Pan op ’n bankie in die parkeerarea terwyl hulle vir Pan se au pair wag.
“Ek kan dit nie glo nie,” grinnik Tania. “Ek het haar net gevra en sy’t ja gesê. Ek kan nie wag om hom te ry nie. Ek gaan my ma vra of ek elke dag kan kom. Dan sal mevrou Bunhoffer sien hoe goed ek hom hanteer en vir my ’n spesiale prys gee. Ek weet.”
“Ek hoop so,” sê Pan en maak haar Coke-blikkie oop. “Kyk, hier kom die nuwe meisie. Ek wonder wat’s haar naam?”
Die meisie kom vanaf die stalle aangeslenter. Sy is beeldskoon, met lang, blonde hare in ’n dik vlegsel, seegroen oë en ’n gloeiende vel.
“Haai,” sê sy met ’n lui stem en gaan leun teen die muur langs Pan en Tania se bankie. “Ek’s Shardonnay. Waaroor praat julle?”
“Niks,” mompel Tania. Sy het gesien hoe die meisie vir haar lag en sy gaan nie vriendelik wees nie.
“Ons praat sommer net,” sê Pan. “Wil jy ’n slukkie Coke hê?”
Shardonnay trek haar lieflike neus op. “Nee, ek raak nie aan daai goed nie. Dit maak vet,” sê sy en kyk Tania op en af. “Jou perd wat jy gery het?”
Tania bloos. “Nee, dis die skool s’n, McTavish.”
“Die skool s’n?” Shardonnay lig haar wenkbroue. “Ernstig? Jy’t nie jou eie perd nie?”
“Nee, nog nie, maar …”
“Ag shame,” val Shardonnay haar in die rede. “Ek sal dit nie oorleef as ek nie my eie perd het nie. Ek huur op die oomblik die Chestnut, maar my pa gaan vir my ’n perd koop sodra die regte een verbykom. Hy sê die prys maak nie saak nie – ons is van Johannesburg. My afrigter het gesê ek gaan nog in die Olimpiese Spele ry. Anyway, ek moet gaan. Hier’s my ma.”
Sy gooi haar vlegsel oor haar skouer en loop na die SUV wat so pas by die hek ingery het. Dan draai sy na Tania en sê smalend: “Nice rybroek.”
Tania voel hoe haar wange gloei van woede.
Pan klop haar op die skouer. “Ignoreer haar, sy’s ’n regte koei.”
“Ek MOET net vir Oreo koop. Ek is moeg daarvan om die bespotting van die ryskool te wees. Maar waar gaan ek drieduisend rand kry? Eintlik het ek vyfduisend-vyfhonderd nodig vir Oreo. Dis te sê as my ma haar belofte hou en die ander helfte betaal.”
“Hmm,” sê Pan. “Kom ons dink. Jy het reeds ’n werk by jou ma in die kliniek. Reg?”
“Ja, maar dis net sulke los werkies af en toe. Dit gaan forever vat om soveel geld te verdien.”
“Het jy iets wat jy kan verkoop?”
Tania snork. “Jy bedoel my broer? Of sy aap?”
Pan giggel. “Nee, man, ek bedoel iets soos PC games of klere of ou speelgoed. Mense betaal goeie geld daarvoor.”
Tania weet haar kamer is ’n gemors, maar daar behoort iets te wees wat sy nie meer nodig het nie.
“Ek sê jou wat,” sê Pan. “Kom ons vra jou ma of ek kan oorslaap, dan help ek jou om deur jou goed te gaan. Ons kan op Gumtree adverteer.”
Oreo runnik oor die heining. Tania glimlag. “Sien, Oreo dink ook dis ’n goeie idee.”