Читать книгу Veearts-vriende 2: Tania en die perdry-kompetisie - Helen Brain - Страница 6
Оглавление4
’n Onwelkome gas
“Tania!” roep Arabella ’n paar dae later teen die trappe op. “Unathi het ’n bietjie verlof geneem en ek het iemand nodig om my vir ’n paar uur te help.”
Tania spring gretig op. Sy sit vas met wiskunde-huiswerk en haar druppende niggie, Fifi, of te wel Foefie, hang irriterend om haar rond. Sedert haar tannie ’n nuwe werk gekry het, moet Fifi middae na skool by hulle bly – en Tania kan net nie van haar ontslae raak nie. Maar sy gaan nie vir haar ma wys hoe graag sy die werk wil hê nie.
“Ek kan dalk help. Gaan ma my betaal?” roep sy terug.
“Dieselfde wat ek jou betaal om die hondekos weg te pak, vyftig rand ’n uur.”
“Sestig,” sê Tania. “En dubbel vir oortyd. Perde is duur, weet Ma?”
“Thieth, Tania,” sê Fifi en skud haar kop toe Tania met die trap afhardloop. “Jy moenie vir jou mammie geld vra nie. Jy moet ’n gawe, behulpthame meithie weeth.”
Tania ignoreer haar. ’n Paar uur se vrede sonder Foefie en ’n kans om geld te verdien is al wat sy nodig het.
In die hospitaal trek Tania ’n wit jas aan en is gou baie besig. Arabella het die oggend honde gesteriliseer en Tania se eerste taak is om te kyk dat hulle behoorlik wakker is van die narkose.
Sy is verbaas om te sien hulle sit almal regop en waai hulle sterte. Tania is seker sy sal nie so opgewek wees na ’n operasie nie. Sy kyk dat hulle nie hulle steke uitgetrek en hulle pleisters afgekou het nie. Dan gee sy vir elkeen ’n bakkie water.
In die laaste hok is ’n jong Labradortjie. Hy het ’n paar dae tevore iets vrots geëet terwyl hulle gaan stap het, en was baie siek toe sy eienaar hom inbring. Hy is steeds op ’n drup, maar lyk baie beter.
Tania vryf sy sagte koppie. “Hallo, Spuddie. Hoe voel jy vandag, jong?” Spuddie waai sy stertjie en lek haar hand. “Ma sê jy kan vandag ’n bietjie kos kry omdat jy nie meer opgooi nie.”
Tania skep ’n paar lepels spesiale dieet-kos in ’n bakkie en gee dit vir die hondjie. Hy verslind dit sonder om te stop om asem te haal. Dis duidelik sy eetlus is terug.
’n Paar minute later gaan die spreekkamer se deur oop. “Tania, kan jy gou hier kom help?” roep Arabella.
Arabella is in die spreekkamer saam met mevrou Van Heerden en Flaffie, ’n vyftig kilogram Rottweiler met ’n vieslike houding en ’n stink asem. Hy is gemuilband, maar grom en knor steeds. Sy eienaar is ’n klein, fyn vroutjie en daar’s nie ’n manier sy sal die hond kan vashou terwyl Arabella hom ondersoek nie.
“Hy’t ’n abses in sy mond,” sê Arabella vir Tania. “Ek sal hom ’n antibiotika-inspuiting moet gee. As dit oor ’n paar dae nie opklaar nie, sal ek hom moet verdoof en die tand uittrek.”
“Sal hy oukei wees, Dok?” vra mevrou Van Heerden. “Is dit hoekom hy in so ’n slegte bui is. Is dit gevaarlik?”
Arabella kners op haar tande. “Net vir my,” sê sy en kyk na die kwaai hond. Sy trek ’n handskoen aan en trek vloeistof op uit ’n botteltjie in die inspuitingnaald. “Reg, Tania, jy en mevrou Van Heerden moet sy kop styf vashou.”
Tania vat Flaffie se halsband styf vas en Arabella steek die naald versigtig deur sy vel. Hy gee net een brul en ruk los. Die volgende oomblik swaai hy en stamp Arabella om. Hy staan en grom bo haar, terwyl stinkende speeksel uit sy bek op Arabella se wit jas drup.
“Sit, Flaffie!” skreeu mevrou Van Heerden. Sy gryp Flaffie se kop en trek hom weg. Arabella kom sukkelend orent en skuif haar bril reg.
“Jammer, Dok,” maak mevrou Van Heerden verskoning. “Hy’t ons onkant gevang. Kan jy hom ’n bietjie stywer vashou, meisie?”
“Kom ons probeer nog een keer,” sê Arabella en kyk wantrouig na die groot hond.
Mevrou Van Heerden kry Flaffie in ’n stewige greep beet en Tania vat sy halsband. Hulle hou asem op vir Arabella se tweede probeerslag. Hierdie keer steek sy vinnig en spuit die medisyne in. Flaffie kerm en skud sy kop en spat hulle nat met sy walglike stink speeksel.
“Gross,” piep Tania.
“Jammer, Dok!” gil mevrou Van Heerden.
“Wel, dit sal nou die ding doen,” sê Arabella en vee haar bril met ’n papierhanddoek af. “Alles in ’n dag se werk. Sit hom in die motor terwyl ek opruim en sy pille kry. Tania, hou vir mevrou Van Heerden die deur oop.”
Die wagkamer sit vol mense en Flaffie kan nie wag om uit die operasiekamer te kom nie. Hy druk verby ’n deftige vrou en haar dogter wat by die deur inkom. Tania se hart sink. Dis die verwaande meisie van die ryskool. Shardonnay.
“Watse vieslike reuk is dit?” vra Shardonnay en kyk Tania op en af. “Het jy in iets getrap?”
Tania bloos. “Dis niks. Ek bedoel dit is iets, maar dis nie ek nie … Ek het nie in iets getrap nie …”
“Ons is nuut hier in die dorp en my opregte Chihauhua eet net Costalot-hondekos,” sê die deftige vrou vir Ilona, die ontvangsdame. “Ek is nie seker of so ’n klein praktykie dit sal aanhou nie, maar ek benodig ’n pak daarvan, en ’n vlooi- en bosluishalsband.”
“Costalot?” sê Ilona. “Ons het agter daarvan. Ek gaan kry gou.”
Net toe kom Arabella uit die operasiekamer met ’n pilhouer. “Tania, vat hierdie asseblief vir mevrou Van Heerden. Sy’s in haar motor.”
Die deftige vrou staar na haar. “Arabella? Ek sou jou enige plek herken het!”
Arabella staar terug. “Um …”
“Dis ek, dommie. Liberty.”
“Liberty van Rensburg? Ons was saam op skool?”
“Presies, behalwe ek is nou Liberty Barker-Polls. Ek is met Roddy Barker-Polls getroud – jy moes al van hom in die koerante gelees het – groot besigheidsman?”
“Goeie hemel,” sê Arabella en tree terug om behoorlik na die glansende vrou te kyk. “Jy lyk fantasties. Ek het jou nie herken nie.”
“Ons was almal net babavet en bossiekoppe in graad sewe, was ons nie?” grinnik Liberty. “Ek moet sê, jy’t niks verander nie. En dit is seker jou dogter?”
Tania is verstom. Het hierdie vrou hulle nou net beledig?
“Dis my dogter, Shardonnay,” sê Liberty en druk die meisie vorentoe. “Skat, dis my oudste vriendin, Arabella. Shardonnay is mal oor diere, nè?”
“Bly om jou te ontmoet,” sê Shardonnay en gooi haar lang, blonde vlegsel oor haar skouer. “Jy’s iets in jou hare.”
Arabella lyk verbouereerd. Sy gryp ’n tissue van die toonbank af en vee die stinkende slym uit haar hare. “Dis my dogter, Tania. Sy’t vandag hier gehelp.”
“Ons ken mekaar,” sê Shardonnay en wikkel haar perfekte neusie. “Ek het gekyk terwyl sy haar les gehad en ek vir myne gewag het. Ek het nogal gedink jy’s goed vir ’n beginner.”
“Ek’s nie ’n beginner nie. Ek is die beste ruiter in die skool. Dis daai stupid perd wat ek moes ry.”
“Ha-ha-ha,” lag Liberty. “Onthou jy wat mevrou Jackson, ons huishoudkunde-onderwyser altyd gesê het, Arabella? Die swak werker blameer altyd sy gereedskap. Onthou jy hoe’t ons vir haar gelag?”
“Dit was my laaste pasiënt vir die dag,” sê Arabella en kyk op haar rekenaarskerm. “Wil julle gou oorkom vir ’n koppie tee?”
“Ek’s bitterlik besig,” sê Liberty. “Maar ek dink ek kan ’n paar minute afstaan.”
Tania se hart sink. As Shardonnay moet sien hoe oud en deurmekaar hulle huis is, sal sy net nog gemener wees. Haar kamer is gesaai van klere en boeke en CD’s wat sy probeer verkoop. Sy moet aan ’n plan dink om Shardonnay uit haar kamer te hou.
Liberty en Shardonnay volg hulle deur die hek oor die grasperk na die huis toe. Arabella wys vir hulle die bedding Snotterbel en verduidelik hoe gesond dit is. Net toe kom Vlooie blaffend en uitbundig aangehardloop – gevolg deur ’n verlepte Fifi.
“Eeeeuw!” skreeu Shardonnay toe Vlooie met sy modderpote teen haar wit jeans opspring. “Gaan weg, gaan weg!”
“O, thieth!” roep Fifi. “Vlooie het in ietth thtinkth gerol!”
“Tania, gaan maak asseblief vir Vlooie toe,” blits Arabella. “Kyk wat het hy aan jou vriendin se broek gedoen.”
“Sy’s nie my vriendin nie,” brom Tania terwyl sy vir Vlooie aan sy halsband wegsleep. Hoe durf Fifi sê Vlooie het in iets gerol? Hy stink nie. Toe kry sy ’n blink gedagte: as sy hom in haar kamer toemaak, sal Shardonnay nie kan inkom en haar goed kritiseer nie.
Liberty kyk rond in die deurmekaar portaal en toe Tania met die trappe afkom, sê sy: “Julle huis is so ouwêrelds,” en laat dit klink soos iets met ’n aansteeklike siekte.
Net toe kom Tobie ingeslons van die skaakklub. Hy sien vir Shardonnay en sy mond val oop. Hy vryf sy hare plat en bult sy spiere en steek sy maer borskas uit.
“Wel, hallo,” sê hy en maak sy stem diep. “Ek’s Tobias. Wie’s jy?”
Shardonnay loer onder haar wimpers uit en koer: “Ek’s Shardonnay.”
Hierdie girl is amptelik siek, besluit Tania. Sy moet wees as sy met Tobie flirt.
“Tania, ons gaan in die tuin sit,” sê Arabella. “Sal jy asseblief vir ons tee bring?”
“Ek sal, Ma,” sê Tobie met ’n stem wat in ’n piep van opgewondenheid eindig. “Shardonnay, gaan jy my kom help?”
“Ja, graag,” sê sy en draai ’n haarstring om haar vinger.
“Wat ’n oulike seun,” sê Liberty. “Glad nie soos jou dogter nie, nè?”
Tania se foon ping net toe Shardonnay en Tobie by die kombuis in verdwyn. Uitstekend! Die advertensie het gewerk. Iemand gaan haar ou CD’s en PC games kom koop. “Kan julle oor so ’n uur kom?” teks sy terug. Shardonnay behoort dan al weg te wees. Dis rêrig nie nodig vir Shardonnay om te weet sy verkoop haar ou goed om ’n perd te koop nie. Tania sal nooit die einde daarvan hoor nie.