Читать книгу Veearts-vriende 2: Tania en die perdry-kompetisie - Helen Brain - Страница 5
Оглавление3
Heerlike Snotterbel
Tania kan nie wag om haar ma van Oreo te vertel nie, maar Arabella is in ’n slegte bui. Sy het ’n lang dag in die dierekliniek gehad en Prof is laat vir ete.
“Waar’s julle pa?” vra sy en slaan die houtlepel op die kombuistafel. “Aandete is geruïneer en ek het iets spesiaals gemaak.”
“Iets walgliks spesiaal?” vra Tobie en rol sy oë.
Arabella ignoreer haar oudste kind. “Weet julle wat? Ek dink ons begin net eet. Julle pa is baie laat. Sit, kinders, ek skep op.”
Tania en Tobie bekyk die kos met wantroue. Die enigste een wat uitsien daarna is die aap. Hy spring op die tafel en gryp ’n visvinger uit die bak.
“Tiek, jy weet Bieber word nie toegelaat tydens maaltye nie,” sê Arabella geïrriteerd. “Vat hom uit en sluit die deur.”
“Waar’t jy hom gesit?” vra Tania toe Tiek in die kombuis kom.
“In die sitkamer. Hy kyk Jackass.”
Pan lag. “Sit julle rêrig die TV aan net vir die aap?”
“Enigiets om hom stil te kry,” sê Arabella en skep die visvingers in. Hulle krul al op aan die punte en het die meeste van hulle krummels verloor.
“Wat gaan aan met die visvingers, Ma?” vra Tania. “Dit lyk of hulle brandsiekte het.”
“Moenie laf wees nie, Tania,” sê Arabella en skep ’n dik, grys homp iets in elke bord. “Visvingers en mash. Jou gunsteling.”
“Miskien toe ek vyf was en voor ek Pan se sjef se kos geproe het,” sê Tania.
“Wel, Pan se sjef is nie heeldag besig om siek diere te versorg nie,” sê Arabella met stywe lippe. “En ek wed jou Pan se sjef het nog nooit gehoor van hierdie delikate dis wat ek vanaand gemaak het nie. Hier is my piece de resistance,” sê sy en lig die deksel van die laaste bak. “Snotterbel!”
Die vier kinders staar na die hoop drillerige groen goed onder in die bak.
“Snotterbel?” sê Tania. “Ek’t nog nooit daarvan gehoor nie.”
“Dis ’n inheemse Suid-Afrikaanse plant. Dis die nuwe super-kos.”
“Dit lyk soos papegaai-poepoe,” sê Tobie.
“Waar’t Ma dit gekry?” vra Tania terwyl sy dit steek-steek met haar vurk. “Verkoop hulle dit by Pick n Pay?”
“Nee, dit staan hier buite die garage. Ek gee hulle van my wurmpiepie en dit groei soos onkruid.”
“Wurmpiepie?” sê Tiek, en lyk ’n bietjie bleek. “Ek eet nie snot en wurmpiepie nie.”
“Dis nie snot nie, Nikolaas. Dis Snotterbel,” sê Arabella beslis, terwyl sy die borde aangee. “In elk geval, ek het dit afgewas. Nou toe, almal, geniet dit.”
“Wie spoel die toilet?” vra Tania toe die waterpype in die plafon begin ratel.
Tiek lyk ingenome met homself. “Bieber, natuurlik. Hy begin dit nou regkry. Vanmiddag het hy ’n nommer …”
“Tiek, dis nou genoeg!” snou Arabella. “Ons wil nie hoor van jou aap se toiletgewoontes nie.”
Voor Tiek iets kan sê, hoor hulle ’n motor in die oprit stilhou. Professor Winterbach kom stralend by die agterdeur in.
“’Naand, familie, ek sien julle het reeds begin. Mooi, mooi.”
“Ons kon nie langer vir jou wag nie, skat,” sê Arabella ysig. “Ek hoop jy’s honger.”
Die prof gee net een kyk na die jammerlike klomp bakke kos en bring ’n wind op. “Ag nee, liefie, te veel kroeg-grondboontjies. Was vanmiddag by ’n kollege-reünie. Wonderlike tyd gehad. Wonderlik!”
“Wel,” sê Arabella, “meer vir my.” Sy pluk haar servet uit asof dit ’n flitsmes is en val haar kos met mening aan. Die kinders hou haar versigtig dop terwyl sy elke mond vol van die groen slym kou. Tania wag tot sy nie kyk nie en glip hare onder die tafel in waar Vlooie, haar hond, dit opslurp.
“A, Tobie, ek het ’n geskenk vir jou, seun.” Die prof slaan Tobie so hard op die rug dat hy amper stik. “My oudkollega, goeie doktor Grimbeeck, moet volgende week na ’n aftree-oord gaan. Eksentrieke ou heer. Hy’t my iets gegee wat hy nie kan saamvat nie.”
“Arme ou doktor Grimbeeck,” sê Arabella toe die prof garage toe trippel. “So ’n liewe ou man, en heeltemal alleen in die wêreld. Geen familie en niemand om vir hom tuisgemaakte kos te gee nie. Ek sal volgende week vir hom gaan kuier en ’n vleisbroodjie saamvat.”
Tobie grinnik. “Will Ma hom dood hê?”
“Oor my perd, Ma,” sê Tania. “Ek het vandag met mevrou Bunhoffer gepraat – Ma weet, daardie mooi Duitse vrou, Oreo se eienaar?”
“Hmm,” sê Arabella. Sy luister nie. “Wat MAAK julle pa in die garage?”
Hulle hoor skuur- en kraakgeluide. “Hel en Verdomme!” skel die prof.
Iets krys, en hy kom ingestrompel met ’n enorme voëlhok.
’n Gehawende African Grey sit op sy dwarshoutjie. “Vir jou, Tobie,” sê die prof met oopgespreide arms soos ’n sexy model by ’n motorskou.
“Nee. Nee. Nee!” skreeu Arabella. “NIKS MEER DIERE NIE! Ek het dit een keer gesê, ek het dit ’n duisend keer gesê. Maar julle luister nie. Wie maak skoon agter hulle en gee hulle kos en tel hulle gemors op? EK, dis wie!”
Die gesin ignoreer hierdie uitbarsting wat hulle al so baie gehoor het.
“Vir my, Pa?” vra Tobie en sy bleeksiel-gesig helder op van plesier. “Ek sal hom in my kamer by Hawking sit, miskien paar hulle nog.”
Die papegaai kyk na Tobie met sy kraalogies. “Hel en Verdomme,” krys hy. “Pi is gelyk aan drie punt een vier een vyf nege twee ses vyf.”
Almal lag.
“Wel, miskien kan hy vir ’n rukkie hier bly. Tot ons vir hom ’n ander huis gekry het,” sê Arabella. “Laat ek gou na hom kyk.”
Sy gaan na die hok toe en begin die deurtjie oopmaak.
“Nie so ’n goeie idee nie, my liewe vrou,” sê die prof met ’n hik. “Hy hou nie van dames nie.”
“Ag nonsens, ek het al baie papegaaie behandel. Jy moet hulle net reg hanteer.” Sy maak die deurtjie groter oop en steek haar hand uit na die papegaai. Hy grom en skarrel weg op sy stokkie.
“Kom nou, jong,” sê sy. “Laat ek na jou kyk.”
Die papegaai buig sy kop af.
“Moet ek jou koppie krap?” vra Arabella en steek haar hand uit.
Hy hap na haar hand.
“Eina!” piep sy. “Hy’t my gebyt!”
Tobie staan op en druk sy ma weg. “Laat ek probeer.” Hy buk af en fluister vir die papegaai. Die papegaai kyk na hom en ontspan sy deurmekaar vere. Tobie steek sy hand versigtig in die hok.
“Op,” sê Tobie. “Oppies.”
Die papegaai spring op Tobie se hand. Tobie haal hom uit en vryf sy kop.
“Ons sal nooit oorgee nie,” krys die papegaai in ’n klinkende stem. “Ons sal hulle op die strande beveg …”
“Wat’s sy naam, Pa?” vra Tiek.
“Doktor Grimbeeck het hom na sy gunsteling wetenskaplike vernoem, Richard Dawkins.”
“Dis skreeusnaaks,” giggel Pan. Nou het jy sowaar ’n Hawking en ’n Dawkins. And they’ll both be squawking.”
Dawkins vryf sy kop teen Tobie se vinger. “Ons sal NOOIT oorgee nie,” sê hy tevrede.
“As Tobie ’n nuwe troeteldier kan kry, wil ek ook een hê,” sê Tania. “Oor my perd, Ma, Oreo is te koop …”
“Tania, dit gaan jare vat voor jy genoeg gespaar het vir ’n perd. Kom ons praat liewer nader aan die tyd weer daaroor. So wie wil nog Snotterbel hê?”
“Dis oukei,” sê Tania vies toe sy en Pan na ete in haar kamer is. “As sy nie daaroor wil praat nie, praat ek ook nie daaroor nie. Ek verkoop net alles wat ek nie wil hê nie en verras haar met die volle tienduisend rand.”
“Goeie plan,” sê Pan terwyl sy Tania se hangkas oopmaak. “Kom ons kyk wat het jy hier wat ons kan verkoop.”