Читать книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock - Страница 10

7

Оглавление

Agterna is Jessica spyt. Sy moes nooit die simpel rympie geskryf het om dankie te sê vir die suigstokkies nie. Sy hoor nie ’n dooie woord van Kiewiet nie en aand na aand sit sy saam met mevrou Geyer en kyk hoe Loek se kassie-gesig met die ou dame se emosies toor.

“O,” spot mevrou Geyer soms met haarself, “dat ek nou in hierdie beplooide ou lyf vasgevang moet wees! Kyk, as ek darem jonk was …”

Daniël kom kyk soms saam nuus en is ’n slag by toe sy dit sê. Hy wil geamuseerd weet wat sy nou eintlik sou gedoen het as sy twintig was, aangesien daar reeds soveel meisies om die man draai.

“Soos wié?” vra Jessica skerp nog voordat mevrou Geyer ’n woord kan inkry.

Daniël lag en tik haar speels op haar hand. “Raai wie lees nooit die sosiale nuus nie! Selfs ék weet dat twee gewese skoonheidskoninginne hul strikke vir hom stel, en nou die aand was hy saam met Bernice Jordaan by die Artes-oorhandigings.”

“Bernice Jordaan?” herhaal Jessica verstom. “Jy bedoel daardie dingetjie met die dun armpies wat kort-kort op die modetydskrifte se voorblaaie pryk?”

“Einste,” antwoord Daniël en kyk tergend na haar warm wange. “Die media hou haar voor as een van die mees gesogte modelle in die land, Jessie! Jy en mevrou Geyer sal maar moet vrede maak met die feit dat julle jul held met derduisende ander vroue moet deel, jong.”

Jessica voel hoe haar nek styf word en sy staan vinnig op om te gaan koffie maak. “Ek is g’n aanhanger van Loek de Jager nie, hoor!”

“Haai sies, wat,” laat mevrou Geyer floutjies hoor, maar sug genoeglik toe Loek die kykers met sy fyn siniese glimlaggie ’n aangename aand toewens.

Daniël stap agter Jessica aan kombuis toe en leun arms voor die bors gevou teen ’n kas. Sy voel hoedat sy oë elke klein beweginkie van haar volg en anders as die vorige kere dat hy staan en kyk het hoe sy koffie maak, ontsenu dit haar nie. Sy glimlag skeefweg met hom. Ek raak dit gewoond, dink sy tevrede. Die ding dat Daniël terug is, dat ons met elke nuwe gesprek die seer tussen ons verder oopvlek en dat ons stadigaan besig is om ook helende dinge vir mekaar te sê.

“Waaraan dink jy?” wil Daniël sag weet en raak aan haar lang, los hare toe sy verby hom stap om die ketel af te skakel. Sy neem gou eers vir mevrou Geyer haar koffie en draf haastig terug kombuis toe. Sy leun oor om sy koffie aan te gee en voordat sy vermoed wat hy gaan doen, trek hy haar om die tafel, sit albei hande op haar heupe en kyk op. “Jess, antwoord my.”

Sy aanraking is warm deur die katoen van haar wye, sagte romp en haar hart bons opeens in haar keel. Toe raak sy baie versigtig, net met die punte van haar vingers, aan die kepie tussen sy wenkbroue waar sy destyds graag met haar lippe gestreel het. Jy sal ’n plooi kry as ek die frons nie wegsoen nie, het sy dan altyd gesê.

“Sien jy nou, jy hét ’n plooi gekry. As jy nie oppas nie, is jy een van die dae ’n krom, gryse ou professor vol horingdroë wyshede!” Maar hy draai sy kop weg sonder om eens te glimlag en sy maak sy hande los om langs hom by die tafel te sit.

Dis toe sy vir hom die suiker aangee en hy dit met ’n driftige kopskud van die hand wys, dat hy weer praat: “Jessica, moet my asseblief nie ontwyk nie.” Hy druk liggies met sy vinger net onder die klop van haar kuiltjie. “Ek moet weet wat hier aangaan! Ek kan aan niks begin bou as ek nie grond onder my voete het nie.”

Sy bly lank stil, weeg die woorde in haar kop, voel hoe hulle afsak hart toe soos kluite in ’n dam. “Daniël, daar was ’n tyd toe ek gedink het ek sal sterf sonder jou. Maar ek het dit oorleef. Ek weet nou dat ek sonder jou kan oorleef. Let wel, kán oorleef, nie dat ek noodwendig wil nie. Ek wil, soos wat jy goed weet, iemand in my lewe hê …” Haar stem pols skielik vol emosies en sy bly vervaard stil.

“Gaan voort,” por hy sag, en daar is soveel teerheid in sy blik dat die verwyt wat al so lank smeul, wind kry en vlamvat.

“Jy was nog nooit ’n vlak mens nie! Ek verstaan nog steeds nie, Daniël. Daar moet ’n tyd gewees het, al was dit net vir ’n oomblik, dat jy Danina liefgehad het, genoeg om met haar te trou. Dit kon tog nie net ’n nag se warm pret gewees het nie?”

Hy leun terug in sy stoel, kruis sy hande agter sy kop.

“Nee,” sê hy net toe sy dink dat sy dalk te ver gegaan het. “Dit was nooit, ooit liefde nie. Dit was een onbesonne nag wat tot ’n ander gelei het …”

“Maar waarom?” hou sy vol en haar oë hou syne, hou dit en wag dat sy blik hare moet ontglip. Maar dit gebeur nie. Hy leun selfs nader aan haar sodat sy die liggrys strepies in die blou irisse kan uitmaak.

“Jess, daar was geen rede nie. Geen enkele, sinvolle verduideliking wat ek kan aanvoer nie. Dis juis wat dit so verskriklik maak. Ek was desperaat van verlange na jou, depressief van die lang, nat winter, maar bowenal, Jessica, was ek swak. Swak … ek het nie eens probéér weerstand bied teen Danina se dwingende attensies nie.”

Jessica klem haar koffiebeker styf vas en kyk weg toe sy vra: “Was sy vir jou baie mooi? Ek bedoel, was dit goed tussen julle?”

Hy trek sy asem met ’n ligte snak in, pers sy mond saam sodat sy haastig ’n gebaartjie maak om te keer. “Nee, toe maar, die vraag is buite perke …”

Hy maak haar hande sagkens los van die beker en vou hulle in syne toe. “Nee, Jess, dis juis wat ek die meeste gemis het. Jou onstuitbare eerlikheid. Jou determinasie om tot op die been te dring sodat jy beter kan begryp.” Hy lig onverwags haar hande op, soen haar palms en sy oë is vol rou emosie toe hy weer praat.

“Ek sal nooit anders met jou kan wees as net eerlik nie. Sy was vir my mooi, ja, want ek het nie diep genoeg en lank genoeg gekyk nie. En dit was goed in soverre seks tegnies bevredigend is. Maar weet jy hoe volslae sinneloos is dit met iemand wat bloot ’n liggaam geword het?”

Sy voel die bloed na haar kop stoot. “Nee, ek sal nie weet nie, Daniël. Maar waarom het julle immers nie probeer om die siel van jul huwelik weer op te vang nie?”

Hy gooi sy kop agteroor, staar na die plafon en glimlag wrang. “Die siel is daar of hy’s nie daar nie, Jess. ’n Mens het werklik lief of jy het nie.”

Sy kyk na sy skouers wat effens vooroor gekrom is asof hy bitterlik moeg is en die donker kringe onder sy oë. En sy voel ’n innige jammerte vir hom in haar opstoot. Tog kan sy dit nie verhelp om die laaste woord te probeer inkry nie. “Wat het dan geword,” vra sy met gevoude arms, “van kies wie jy liefhet en bemin dan jou keuse?”

Hy kyk haar waterpas aan, maar weemoed rem aan sy mond. “Dis waarvoor ek te swak was, Jessica. Eers wou ek op jóú nie langer wag nie, en toe wou ek dit met Danina nie uithou nie.” Hy gee ’n blaaslaggie deur sy neus. “Dít, Jess, is die volle waarheid omtrent my.”

“Ek weet,” sê sy opeens bedaard en staan op om hul bekers weer vol koffie te skink. “Miskien het ek dit nog altyd geweet, Daniël, maar ek dink jou brute eerlikheid oor jouself maak dat ’n mens jou dit vergewe nog voordat jy dit mooi snap.”

Hy kom staan vlak by haar toe sy die vol bekers neersit, lig haar gesig na hom toe. “Bedoel jy dit, Jess?”

“Natuurlik,” glimlag sy. “Het jy dan jou laaste huisdans vergeet?” Hy glimlag net verleë, die onthou vlak in sy oë.

Jessica het twee dae voor die dans waterpokkies gekry en haar ma het haar op aandrang van die koshuisdokter dadelik kom haal. Sy sou ten minste tien dae tuis moes bly. Dans was buite die kwessie. Sy sal nooit die mismoedige konsternasie op Daniël se gesig vergeet nie. Hy het kloekmoedig kom kuier en voorgegee dat dit niks is dat hy die Kollegedans sou misloop nie. Maar sy het hom geken; geweet hoe belangrik dit vir die Kollegemanne is om die heerlik oproerige party elke jaar by te woon. Gaan, man, het sy gepor. Vra daai een joolprinses wat so leepoog raak as sy jou sien.

Daniël het sonder slag of stoot die voorstel aanvaar en rondborstig erken dat hy eenvoudig te lus is om koshuisdans toe te gaan om so ’n aanbod te weier. Sy het eers kwaad geword toe hy al weg is; maar na ’n ruk moes sy maar erken: Daniël se spontane eerlikheid ontwapen ’n mens. En dis omdat daar so min bedrog in hom is dat hy so maklik harte verower.

“Sy kon nie eens behoorlik dans nie, weet jy,” sê hy en sy oë pleit so openlik met haar dat sy laggend ’n hand op sy boarm lê.

“Hm, jy het mos die volgende dag al kom vertel hoe miserabel die aand nou kwansuis was!” terg sy, maar hy vlam dadelik op.

“Dit was, ja, want die vroumens kon nie met my praat nie en my huwelik was hel om dieselfde rede!” En toe sy met stomme bedugtheid na hom bly kyk, trek hy haar tot teenaan hom. Sy voel sy hartklop teen haar bors, sy lippe warm teen haar voorkop.

“Jessie,” fluister hy bewend, “ek is nog ek. Windbol en lus vir als wat lekker lyk … maar die hemel hoor my, ek het jou baie lief. En ek het jou baie, baie nodig …”

’n Veerligte rilling trek langs haar rug af. Sy hoor die woorde waarna sy so lank, lank verlang het en met ’n diep asemstoot druk sy haar hande agter om sy rug en hou haar mond vir hom. Hy soen haar sag en toe met drif en toe weer met groot teerheid.

Sy laat rus haar kop op sy skouer en sê stadig: “Jy moet net nie … haastig wees nie, Daniël. Ek het nog tyd nodig.”

Hy sug liggies, maar vee haar hare met ’n glimlag van haar wange weg toe hy in haar oë afkyk. “Ek het geweet jy sal dit sê. En ek belowe jou ek sal geduldig wees. Ek mag jou noot weer verloor nie.”

Dis mevrou Geyer wat eerste die nuwe gemoedelikheid in hul verhouding opmerk en eendag skamper probeer uitvis na die stand van sake. Jessica lag net. “Ons sal maar moet sien, mevrou. Maar ek moet erken op die oomblik geniet ek my en Daniël se herontdekking van mekaar, as ’n mens dit so kan stel.”

“O, dit klink in elk geval erg belowend!” Dan, onverwags op ’n nugterder noot: “Het jy hom al volkome vergewe, Jessica?”

Sy laat haarself toe om sober te dink oor die vraag. Toe lig sy haar bolyf van die handdoek af waar sy langs die swembad lê en skreef haar oë teen die son in toe sy na mevrou Geyer kyk. “Ek dink so,” sê sy eindelik. “Ons is albei soveel meer volwasse as destyds. En hy is bereid om te wag vir my totdat ek voel ek kan sonder voorbehoud na hom toe teruggaan.”

Mevrou Geyer se silwer wenkbroue lig effens en sy vou haar hande inmekaar toe sy versigtig sê: “Jy is klaar terug by hom, Jessica. Jy sal maar moet lig loop, my kind.”

“Hoe bedoel u nou?” vra Jessica half onthuts en sit skielik kiertsregop op die warmgebakte handdoek.

“Net dit. Dat jy klaar baie betrokke is by professor Daniël Krause. Jess, hy kan sy hande kwalik van jou afhou as hy hier is. Jy sien hom elke dag. Miskien moet jy net oppas dat jy nie ongemerk in ’n ding in drywe wat jy later liefs sou wou vermy nie.”

Jessica staar haar stom aan. Protes stoot floutjies in haar op, maar sy sluk dit terug. Die vrou verwoord immers net wat sy self ook aanvoel. Dat sy baie, baie bly is oor die liefdevolle, vleiende aandag wat sy daagliks van Daniël ontvang, dat sy vir die eerste maal in jare weer vroulik en beminlik voel, maar dat sy ook soms wens dat daar ’n klein bietjie afstand, net voorlopig, tussen haar en Daniël kan wees. Sy het tyd nodig om alleen te dink oor hulle, alleen haar gemoed tastend te deursoek.

“Miskien praat ek nou uit my beurt uit,” maak mevrou Geyer verskoning toe Jessica te lank stilbly, maar sy skud haar kop.

“Nee, u is reg. Eintlik besef ek dit ook. Ek is self ’n bietjie geïrriteerd met die feit dat die studente ons al so gou afgepaar het. Daar was nou die dag tot ’n draakstekery met ons in die sosiale kolom van Die Wapad. En dit het my effe bedreig laat voel. So asof my privaat lewe ’n toeskouersport geword het.”

“Só erg is dit darem nou nie,” paai mevrou Geyer. “Ek wil maar net hê dat jy mooi moet luister na wat jou hart vir jou sê. Miskien sal dit goed wees as jy ’n bietjie op Populier kan gaan kuier?”

Jessica het ook al daaraan gedink en besluit om te wag totdat Jansie se baba opdaag. Dan kan sy sommer die nuwe Malantjie gaan bewonder. Al kan sy dan net vir ’n naweek wegkom. Sy het Anna nou een dag gebel om te hoor hoe dit gaan en het die hele verhaal van Jansie se sware dratyd in die somer goedig aangehoor.

Foei, simpatiseer Jessica, en dis toe Anna eensklaps aan die ander kant swyg dat sy sonder skroom begin uitpak. Net soos die eerste dag toe sy Anna Malan ontmoet het, is daar ’n onmiddellike rapport tussen hulle en weet sy dat die ander vrou met hartsoorgawe luister.

Anna wag totdat Jessica die laaste woord oor haar en Daniël gesê het voordat sy kort en kragtig raad gee: Vertrou jou hart, Jessica. Mevrou Geyer is reg. Vergewe en vergeet is alles goed en wel, maar jy moet die man in die eerste plek onversetlik liefhê. So lief dat jy vergeet het waarvoor jy hom eintlik moes vergewe.

So eenvoudig is dit ook nie, dink Jessica een oggend toe sy met haar pienk fiets kampus toe ry. Dis al effens koeler en die akkerbome in Tomstraat begin vergeel. Die straat wemel van die fietse en stringe studente wat aanslenter kampus toe. Sy merk op hoedat sommige van hulle fluister en giggel toe Daniël haar haastig verbysteek op ’n ou swart dikwielfiets en oor sy skouer roep: “Sien jou vanaand! Sewe-uur se kant. Loek de Jager praat en ek moet ook daar wees.”

Twee maal gedurende die dag probeer Jessica hom in die hande kry om te sê dat sy veels te besig is om na televisiesterre te gaan luister, maar verniet. Dan gee hy klas vir die finalejaar LLB’s, dan is hy weg Studentesentrum toe om te gaan eet. En toe mevrou Geyer haar nog boonop by die huis inwag, stralend van opwinding, gee sy op. Na Loek de Jager sal sy maar moet gaan luister. Hulle kan mos maar agterlangs sit, wat. Buitendien sal dit interessant wees om al die ou meisietjies se gekweel aan te hoor as hulle die man sien.

Jessica dra haar hare in ’n streng Franse vlegsel en trek ’n klassieke donkerblou pakkie met ’n wit sybloes aan en net klein pêreloorkrabbetjies. Vanaand wil sy soos ’n professor lyk en Loek de Jager sal sy storie moet ken of sy kap hom aan flenters in besprekingstyd. Hy sal moet leer dat uitgelese gehore na meer as sensasie soek. Ja-nee, Bill Clinton, dink sy grimmig, en bekyk haar koel elegante beeld in die spieël, as jy ooit in die politiek se grofgeskut wil oorleef, sal jy van swaarder kaliber gemaak moet wees. Soos wat dit is, het jy dit nie eintlik gemaak nie.

Van die agtersittery kom niks. Tot mevrou Geyer se stomme vreugde word sy aan Loek de Jager voorgestel, want Daniël is gevra om hom welkom te heet. En omdat Loek regtig nes Loek lyk vanaand, steek Jessica ook ’n skamper hand na hom uit toe Daniël haar formeel as professor Theron voorstel. Loek knip nie ’n oog nie, lig net die gitswart wenkbroue ’n aks toe hy haar vingers tussen syne vasvat. Maar hy draai dadelik na mevrou Geyer om ’n paar hartlike woordjies met dié te praat. Wel, dink Jessica suur geamuseerd, dit klink amper asof Kiewiet aan die woord is. Net so het sy hom mos sien gesels met die oumense by die kerk en die holkranspiekniek – so asof hy vermoed dat hulle naby familie kan wees, en mevrou Geyer straal.

Maar toe hy saam met hulle die Ou Senaatsaal binnestap, het Kiewiet spoorloos verdwyn. Loek de Jager is onmiddellik voelbaar teenwoordig. Hy is ’n imposante man. Koel, seker van homself en tog op die oog af onbewus van die effek wat hy op die gehoor het. Daar is dadelik ’n suisende stilte asof daar pas ’n sluis toegedraai is, en toe Jessica sydelings om haar loer waar sy voor langs mevrou Geyer sit, sien sy die verrukking op die meeste jongmeisiegesigte. Sy sug innerlik. ’n Mens sal die een of ander tyd iets hieroor moet kwytraak. Miskien in Die Wapad se briewekolom. Iets soos: Oppas vir daardie zombie-emosie! Ontworstel jou betyds aan massahipnose. Kyk hoe sit hulle: ken-in-die-hand, verlore-verlief.

Maar toe Daniël, na hy die TV-persoonlikheid amptelik welkom geheet het, langs haar in die bank inskuif, doen Loek de Jager sy ding en Jessica vergeet van die mense om haar. Die man se blinkwakker blik laat jou voel dat hy elke moontlike kans benut om nét met jou oogkontak te maak. Sy mooi stem vul die Ou Senaatsaal en beklemtoon elke woord wat hy met gesag en onbetwisbare insig kwytraak. Daar is nie ’n vervelige oomblik nie. Hy is afwisselend diep ernstig, ligweg uitdagend en baie, baie gevat.

Soms luister die gehoor met plegtige konsentrasie na sy stellings, net om die volgende keer dit met oorgawe uit te skater. Hy doen ’n gewigtige beroep op die studente as veronderstelde demokraties denkendes om aan te hou met praat, aan te hou met kommunikeer om sodoende geweld in die samelewing te besweer. Maar sy slotwoord dra fyn spot en ’n robuuste humor wat Jessica dadelik haar mond laat saampers.

“En verder, dames en here, moet u maar die politici met ’n knippie sout beluister. Daar word mos gesê dat daar drie spesies is waarvan ’n mens nooit seker kan wees of hulle kom of gaan nie: diplomate, vroue en krappe. Politici het óf gearriveer óf is op pad uit. En ons almal weet dat selfs ’n slim vrou soms nie doodseker is watter rigting om in te slaan nie. Vat nou maar vir Maggie Thatcher, haar opponente was selde seker of sy kom of gaan …”

Die feministe jou luidkeels en die macho manne lag sodat Loek sy hande in ’n speelse vredesgebaar lig om die gehoor tot bedaring te bring. Jessica sit met ’n geslote liplaggie en luister en dra sorg dat sy nie een keer direk na Loek kyk nie. Die pes, dink sy, en dít nadat hy duidelik getoon het dat hy nie graag wil hê dit moet voorkom asof ons mekaar ken nie!

Met teetyd staan sy styf langs Daniël sodat hy kort-kort met ingenome besitlikheid ’n arm om haar skouers vou. Maar Loek merk dit óf glad nie op nie, óf hy maak ’n punt daarvan om haar te ignoreer. Hy staan druk in gesprek met ’n klompie belangstellende studente en dosente. Hy raak gou haastig om te vertrek, want dis ’n hele entjie in die donker Johannesburg toe. Jessica stap saam toe Daniël hom by sy knalrooi sportmotor gaan wegsien. Toe sy haar kom kry, sê sy sonder gedagte. “Ry tog mooi. Die paaie is so gevaarlik deesdae.”

“Vrééslik;” stem Loek vroom saam, flits sy beroemde glimlag na haar kant toe en trek seepglad weg in sy blink vuurwa.

Daniël kyk dit effens bot agterna en neem toe die twee vroue huis toe. Hy bly net vir koffie, want hy het hope werk, beduie hy sugtend. Maar toe hy Jessica op die patio nagsoen, gly sy hande met warm drif oor haar rug en heupe. “Jess,” fluister hy teen haar mond, “waarvoor wag ons? Ons mors net tyd.”

Sy druk haar vingers sag oor sy lippe en skud haar kop. “Nog nie, Daniël. Nog nie, asseblief,” sê sy sag en glip binnetoe.

Dis laatnag toe die foon langs haar bed skril en sy vervaard na die gehoorbuis gryp.

“Ek het mooi gery, Maggie,” sê Loek in sy Kiewiet-stem. “Ek dag ek sê jou net.”

“Dankie, Bill,” sê sy suf van die vaak en hoor hom agter in sy keel lag toe hy saggies die gehoorbuis neersit.

Helene de Kock Omnibus 6

Подняться наверх