Читать книгу Helene de Kock Omnibus 6 - Helene de Kock - Страница 5

2

Оглавление

“Ek weet darem nie of dit die regte ding is nie,” sê Jessica seker al vir die sewende keer sedert sy en Karel uit Potchefstroom vertrek het Bethlehem toe.

Hy glimlag geduldig, byna asof hy nie eens haar woorde hoor nie. Maar toe sy weer begin torring dat dit darem nie regverdig is om so uit die bloute ’n gas huis toe te bring nie, lag hy sommer hard. Dis ’n diep, gelukkige geluid en sy besef dat dit moontlik die eerste maal is dat sy hom so onbevange hoor lag.

“Dis nie uit die bloute nie, beste professor. My ma weet al jare lank dat jy die een of ander tyd na Populier toe gebring sal word. Jy sien, Jessica, ek het haar altyd alles van jou vertel. My ma, Anna, is die wonderlikste mens. As sy na jou luister, vou sy haar hande in haar skoot en hou jou vas met haar oë. En wat jy sê, bly net by haar. Jy sal van haar hou, ek weet.”

Sy luister ontroerd na hom. Hy is baie lief vir sy ma, besef sy. Hy dra ’n geborgenheid in hom rond wat niks met hiper-aanhanklikheid te doen het nie; ’n byna onaantasbare wete dat hy as mens geliefd is. Sy loer na sy netjiese profiel, kyk toe weer weg oor die deinings van geel, oesryp koring wat anderkant Kroonstad lê. En ’n diep, redelose verlange oorval haar. Dis wat ek mis, dink sy droef. Na al die jare wéét ek weer dat ek iemand is wat daarna smag om onvoorwaardelik bemin te word. Hierdie man ook. Karel soek na liefde. En hy weet te goed wat hy wil hê. Juis dit beklem haar. Sy begin stadig soek na woorde.

“Karel, jou ma klink na ’n wonderlike vrou. Ek wil nie graag hê dat sy onder ’n wanindruk moet verkeer nie.”

Dié keer kyk sy hom reguit aan en in die oomblik dat hy sy kop na haar toe draai, is sy gesig stroef. Maar toe glimlag hy weer, sy blik op die teerpad wat swart deur die geel koring streep.

“Ontspan, Jessica. Geniet net die Kersfees op Populier, toe wat.” Hy lig sy hand van die stuur om baie sag aan haar arm te raak. “Ek ken jou, professor. Ek weet dat jy en Kiewiet eenders is.”

“Kiewiet?” vra sy verbaas en tog effens gefassineerd.

“My broer, ja. Kyk, daar is ek en Adam – en dan is daar Kiewiet.”

“Jonger as jy?”

“Die oudste van ons drie,” sê hy kortweg en ’n frons keep tussen sy wenkbroue. “En ons noem hom nie verniet Kiewiet nie. Enige plaaskind weet hoe vol kinkels kiewiete is. As jy op sy nes afkom, sal hy sommer op jou afduik met ’n skril geskree.”

“Maak julle Kiewiet dan ook so?” lag Jessica.

“Ja,” antwoord hy sonder skroom, maak ’n halwe handgebaartjie bo die stuur en trek toe net sy skouers op. “Ag, wel, Kiewiet is nou maar Kiewiet. En dan is daar Adam, die prokureur. ’n Koel maar gawe ou. Jy sal van hom en sy vrou hou.”

“Julle klink na ’n lekker klomp,” sê sy. “Ek hoop tog regtig nie ek versteur die gesinseenheid of so nie. Jy weet ek is ’n vreemdeling.”

“Lank nie meer nie,” verseker hy haar ietwat heftig, hou sy oë stip op die pad. “Dis net jý wat moet mak word, Jessica. Ek sê jou weer: ek kén jou. Van die eerste dag dat ek in jou klas ingestap het, het ek geweet wat agter jou koel grys blik op slot gehou word.”

“Wat?” vra sy skerp; opeens weer beklemd. Miskien was dit tog ’n fout om saam te kom. Maar hy en mevrou Geyer het só aangehou.

Natuurlik gaan jy saam, het sy gepor. Ek gaan buitendien Kersfees na my suster in Bloemfontein en dan sit jy sielsalleen hier. Die bure sal omsien na ons plek.

Karel is terstond genooi om aandete saam met hulle te geniet en is slaapplek in die groot huis aangebied. En vanoggend, dink Jessica met skielike paniek, het ek sonder slag of stoot saam met hom in die motor geklim. Hierdie man wat ek ken, maar ook nie ken nie. Sy sluk droog. “Wat … weet jy van my?” vra sy.

Hy bly ’n lang ruk stil asof hy eers sy woorde rangskik, en sy kan al die bloupers van die Maluti’s op die kim uitmaak toe hy sê: “Genoeg om te begryp dat jy bang is, Jessica. En al wat ek vra, is dat jy my sal toelaat om dáár te wees, vir jou.”

“Dis mooi … en gaaf, Karel, maar onrealisties. En onregverdig teenoor jou. Ek kan jou niks bied nie.”

Sy merk met diep spyt dat sy kneukels skielik wit om die stuurwiel knel en sy maak ’n oomblik haar oë toe. Liewer eerlik wees, maan sy haarself. En dink weer: ek moes nooit gekom het nie.

“Luister, Jessica,” sê hy in so ’n gemoedelike stemtoon dat sy verbaas na hom draai, “ek is ’n groot man. Ek kies self wat ek wil en wat ek nie wil nie. Ek wil jou vriend wees.”

Hy steek sy linkerhand na haar toe uit en sonder om ’n oomblik verder te twyfel, vat sy sy vingers vas. Hulle sit ’n hele ent so en dit pla glad nie. Sy kyk rustig om haar na die Oos-Vrystaatse somer wat goudgeel om hulle dein. Hier en daar steek die dak van ’n plaashuis bo klompe diepgroen bome uit en hoe nader hulle aan die berge kom, hoe stiller word Jessica. Dié wêreld is vir haar nuut en dit slaan haar asem weg. Hulle ry anderkant Bethlehem deur Slabberts se sandsteenkoppe en klowe, draai links by ’n grondpad in wat deur die geil lande kronkel en onverwags in ’n digte groen kom uitmond.

Sy sien dadelik waar die plek sy naam gekry het. Lang blinkblaar-kerspopuliere staan in ’n ry en droom rondom ’n mosgroen dam. Wilde-eende fladder op uit die riete aan die oewer toe hulle verbyry en ’n klompie bleshoendertjies kolk onrustig op die water.

“Dis mooi,” adem Jessica, “en so vredig!”

Karel knik net glimlaggend, ry stadig om die groot dam om die knikke in die sandpad te vermy. Agter die kerspopuliere is daar ’n oopte met drie groot grasdakrondawels. Die deure loop uit op ’n lapa onder ’n hoë, spits grasdak. Dis ’n vreemde, interessante woonplek, en sy leun nuuskierig vorentoe om beter te kan sien. Eenkant merk sy ’n outydse klein bakoond en braaiplek wat gitswart van die roet is. Hier word sekerlik nét buite geleef, dink sy met ’n roering van opwinding. Hoe heerlik moet dit wees om onder die koel grasdakke te sit en te luister na die wind in die populiere. Maar Karel ry verby en sy sit half teleurgesteld terug.

“Wie se plek …?”

“Kiewiet s’n,” sê hy kortaf, en beduie na waar die pad wegraak in ’n digte laning groot populiere. Die stamme is knoetsig van ouderdom, die takke bo soos vingers verstrengel. “Kyk, Jessica, dis een van die langste lanings in die kontrei. Dit loop om die voet van die sandsteenkop tot by die huis.” Hy ry stadig en hou eensklaps stil sodat die koel stilte deur die oopgedraaide ruite teen hulle aandruk. “Jessica, jy moet nie te veel verwag nie. Ons is eenvoudige mense,” sê hy. “Maar in my ma se huis is daar baie liefde en baie kos.”

Sy lag, raak speels gerusstellend aan sy hand wat op die stuur rus. “Dit klink al hoe beter, Karel. Ek is seker ek gaan dit baie geniet hier by julle.”

Sy snap wat hy bedoel toe die laning skielik oopmaak en ’n groot, oop werf met ’n vierkantige sandsteenhuis voor hulle lê. Die voordeur sit presies in die middel, met drie outydse skuifraamvensters aan weerskante. Die rooi sinkdak het ’n hoë nok en daar is glad nie ’n stoep nie. ’n Mens trap, lyk dit vir haar, vanuit die voorhuis tot in die tuin. En die tuin is bloot ’n groot grasperk deur rye geel en rooi kannas omraam. Dis kompleet asof die plek gestroop is van enige voorgee. Daar is geen versiersels nie en tog is dit ’n sieraad; dit besef Jessica toe hy reg voor die voordeur op die gras stilhou en ’n vrou die deur wawyd oopgooi.

Sy lyk nie oud nie, dink Jessica verbaas, en hou haar hand uit na die skraal vrou met die donker bolla. Daar kleef ’n tydloosheid aan haar. Haar gesig is besonder mooi met ’n sterk beenstruktuur en groot oë. En ’n sagte, sagte mond.

Sy trek Jessica nader en bekyk haar met ’n bedaarde glimlag. “Ek het geweet jy sou haar bring toe jy sê jy gaan Potch toe, Karel.” En met ’n laggie aan Jessica: “Kom, jou bed is klaar opgemaak. Noem my Anna.” Sy gesels asof hierdie gesprek geen voorloop nodig het nie en Jessica vind dat sy spontaan saampraat. Terwyl Karel aflaai, loop sy soos ’n tevrede kuiken agter Anna Malan aan deur die ruim, skemerige sitkamer en krakende gang wat na die slaapkamers lei. Oral merk sy die Spartaanse eenvoud. Asof die vrou van die huis met een veeg die plek van ornamentasie gestroop het. Tog is daar ’n onmiskenbare warmte in die afgewitte mure, in die enkele antieke familieportret op die punt van die gang en die spierwit, donssagte bed waarheen Anna haar lei. Haar gasvrou stoot die gordyne oop en die sonskyn spoel na binne om ’n gloed uit die plankvloer en die roomwit skaapvelletjie voor die bed te haal. Geen gehekelde lappies êrens nie, sien Jessica. Die bedkassie en spieëlkas se hout is net blinkgevryf. Anna volg haar oë en glimlag.

“Ek is nie een vir valletjies nie,” sê sy sag.

“Ek ook nie,” antwoord Jessica en hulle lag saam soos twee vriendinne wat mekaar se gedagtes ken en verstaan.

Dis ’n oomblik wat die twee vroue albei intuïtief aangryp en dit lui die lekkerste kuiertyd in wat Jessica nog beleef het. Sy het al vergeet hoe dit voel om gekoester te word en dis ontroerend wonderlik om soggens met koffie en beskuit in die sagte wit bed bederf te word. Dis heerlik terapeuties om by die groot tafel in die kombuis te sit en kyk hoe Anna voor die Aga werskaf. Sy bak rysige, melkwit beskuit en die geur lê die ganse huis vol. Jessica eet meer as gewoonlik en keer smiddae soos ’n versadigde kind om op die bed om ’n bietjie te dut.

As sy gevrees het dat Karel haar geheel sou opeis gedurende die kuier, het sy haar misgis. Bedags is hy op Bethlehem in die prokureurskantoor, want Adam is met vakansie. En saans help hy die voorman, Stephen, tot watter tyd by die droogoond. Hy kom laat tuis en luister dan ’n wyle na die vroue se geselsery waar hulle op die houtbank op die grasperk voor die voordeur sit. Soms laat Anna hulle alleen en dan sit Jessica en Karel meesal in rustige stilte en kyk na die sterre wat vlak bo die populiere hang. Of hulle praat gesellige praatjies wat moeiteloos loop soos water oor afdraand akkertjies.

Een aand hou hy sy hand na haar uit en sy vat dit geredelik. Hy vou haar vingers in syne toe en trek haar nader teen sy skouer. “Kuier jy darem lekker hier by ons?” wil hy sag weet.

“Vreeslik lekker, Karel,” sê sy opreg. “Jou ma is werklik wonderlik. En jy is baie goed vir my.”

Hy skuif sy arm om haar en druk haar ’n oomblik teen hom vas. Maar hy laat haar byna dadelik weer gaan en sy is onnoemlik verlig dat hy die aanraking nie verder voer nie. Sy hoor hom saggies sug en dink spytig: Wat is dit met my? Hierdie man is die goedheid vanself. Hy is skerpsinnig, stimulerend en dierbaar.

Maar – kramp dit in haar – hy is nie Daniël nie …

“Jy sukkel om te vergeet van professor Krause, nè?” vra hy sag langs haar, maar dis of die woorde luider word in die stil nag.

“Hoe … weet jy?” vra sy verslae. Hoe kan hy haar gedagtes so lees?

Hy kom staan reg voor haar sodat die lig vanuit die huis op sy gesig val en bitter kepe om sy jong mond maak.

“Almal weet wié, Jessica, maar niemand weet mooi wát nie.”

“Die wié is baie interessanter as die wát, Karel. Daniël Krause is, soos wat jy seker al gehoor het, ’n briljante akademikus en flambojante persoonlikheid. Hy is vir ’n onbepaalde tyd aan die Rijksuniversiteit van Leiden aangestel. Dis hy wat die nuwe werk …”

“Oor die grondslae van persoonlikheidsreg geskryf het? Ja, almal weet dit ook. Maar wat het hy jou aangedoen?”

Haar linkerhand kruip teen haar hals op, vat oplaas die lang vlegsel vas wat oor haar skouer hang. “Goed dan,” sê sy gelate. “Ek sal jou die feite gee, jy moet dit maar self inkleur soos dit jou pas. Wat my betref, is dit gedane sake.”

Toe hy sy arms voor sy bors vou en sy kop aandagtig na haar afbuig, begin sy vertel: “Ons sou trou. Maar Daniël het ’n beurs gekry om sy nagraadse studie aan die Rijksuniversiteit voort te sit en ek was toe nog nie klaar met LLB nie. Hy wou hê ek moes saamgaan Holland toe en ek wou nie. Hy het Holland toe vertrek nadat daar oor en weer trou gesweer is. ’n Paar maande later het ene Danina Verwey ook Holland toe gegaan met ’n beurs. Net voordat ek sou graad kry en Leiden toe gaan, is Daniël en Danina skielik getroud. Ek het verder geleer en is twee jaar later met ’n beurs na Harvard.”

Sy glimlag skielik, gooi die vlegsel met ’n bogie terug oor haar skouer. “En toe ek terugkom daarvandaan, het ek ene Karel Malan ontmoet. So ’n oulike kêrel met blink oë wat baie vrae gevra het.”

“Nou is dit jý wat inkleur!” sê hy met ’n glimlag, maar sy hoor die ondertoon van erns. “Miskien moet jy nie. Nie nou al nie.”

“Jy is reg,” sê sy en tik hom susterlik op die skouer. “’n Mens moet jou tyd gebruik as jy goeie inkleurwerk wil doen.” Toe glip sy verby hom die soel koelte van die huis binne.

Twee dae voor Kersfees neem Anna vir Jessica saam dorp toe. Adam en sy vrou, Jansie, is terug van die see af, en sy vat vir hulle ’n louwarm vars brood saam wat haar skoondogter (maklik ses maande swanger) in ekstase het. Haar wange is bloesend toe sy skamerig bely: “Ek is mal oor my skoonma, professor. Sy bederf my só!”

Anna vryf goedig oor die vroutjie se buik en Adam lag skewerig. Hy is, soos wat Karel gesê het, ’n koel man met ’n droë humorsin. Hy tik Jansie speels op die ken toe hy sê: “Ek wed jou niemand het vir Jessica nog op haar titel aangespreek in ma Anna se huis nie! Dáár is niemand juis iemand nie, nè, my ou ma?”

“Skaam jou, boeta,” glimlag Anna bedaard en pak vir hulle nog ’n paar bottels ingelegde perskes uit.

“Jy’s net jaloers!” lag Jansie en pomp hom in die sy. “Dis net omdat jy en Karel julle verbeel julle is op net soveel aandag as Kiewiet geregtig!”

“Is Kiewiet dan só spesiaal?” glip die vraag uit voordat Jessica kan keer. En sy kan haar dit dalk verbeel, maar daar is ’n siniese plukkie om Adam se mond. Ook Jansie en Anna kyk haar nie direk aan nie.

“Wel, hy is en hy is ook nie,” sê Adam. “En moet nou nie vir my kom sê die woorde klink kripties nie, professor. Wag en kyk self.”

“Kom hy dan huis toe vir Kersfees?” vra Jansie en smeer dik botter op die sagte brood om sommer dadelik te eet.

“Ek weet nie,” antwoord Anna rustig en teug aan haar tee. “Hy laat mos nooit weet nie.”

“Vabond,” brom Adam. “Hy kom ook met moord weg en dit net omdat hy Kiewiet is.” Maar hy kom soen sy ma goedig op haar kroontjie toe hy uitloop om Karel by hul kantoor te gaan ontmoet.

Dis op die punt van Jessica se tong om meer uit te vra oor Kiewiet, maar sy byt die woorde terug. Wat sal sy nou nuuskierig wees oor ’n wildvreemde man? Dis tog duidelik dat sy eie mense nie veel erg aan hom het nie.

Sy verwonder haar opnuut oor Anna se bedaardheid toe hulle Populier toe ry en die vrou glimlaggend beken hoe baie sy uitsien na haar eerste kleinkind se koms. Dié mens het ’n innerlike stilte wat ver anderkant gelatenheid of berusting lê, besef Jessica. Iewers langs die pad moes sy gely en oorleef het.

Sy wil-wil daarna uitvra, maar toe hou Anna langs ’n koringland stil waar die stof hang soos wat twee groot stropers spook om die oes af te kry. Anna klim uit, buk by die venster en sê: “Ek hoor net gou by Stephen hoe ver hulle is. Sit ’n rukkie, hoor!”

Jessica tuur met vernoude oë oor die geelwit branding van die lap koring naaste aan haar en kry die nou bekende geur van ou hout. ’n Briesie laat die blink halms dein en vloei en sy wens skielik om soos ’n kind daarin te spring en weg te raak. Hier sal ’n mens maklik kan vasgroei, dink sy loom. Anna kom klim in en hulle ry haastig huis toe. Sara het vandag vry, beduie Anna, en Karel kom aans terug van die kantoor af om Stephen-hulle by die droogoond te gaan help. Hy sal vroeg wil eet, want die koring is baie klam en hulle sal naglank daar sit.

Jessica het lus om Populier alleen te verken toe haar aanbod van hulp met kos maak van die hand gewys word. Sy en Karel stap saans lang ente, maar nog nooit het hy voorgestel dat hulle in die rigting van Kiewiet se plek loop nie. Nou kies sy koers deur die blougroen skemering van die populierlaning, draf die laaste entjie met die grondpad om die kop langs en is effens uitasem toe sy by die dam kom. Sy loop verby die ry kerspopuliere op die oewer, skrik ’n slag haar hart koud toe ’n paar wildeganse snaterend uit die riete opvlieg en sy voel die pols in haar kuiltjie klop toe sy die oop werf met die drie rondawels betree.

Sy staan ’n rukkie en kyk. Dis so ’n anderster plek. Daar kleef ’n stilte saam met die vars veldgeur aan die ronde sandsteenmure en die dig gedekte grasdakke. Die grond in die lapa is glad gevee asof iemand elke dag met ’n grasbesem kom om die boonste lagie sand en stof te verwyder. Wie Kiewiet ook al is en waar hy hom ook al bevind, hy is nie ’n man wat sy plek ashoop toe sal laat gaan nie. Alles is pynlik netjies. Die vensters blink pas gewas, maar staan bot gesluit en die drie buitedeure is gegrendel. Sy loop tot in die skadu van die lapa se grasdak en kyk ondersoekend rond. Ten spyte van die bekoring, besluit sy, is dit nie ’n plek wat ’n mens welkom heet nie, Dis wel ’n warm nes in die oopte, maar die boodskap is: bly weg!

Sy tuur oor die rooipers dam waar die sakkende son vuurmaak in die water, kyk hoe ’n verdwaalde bosluisvoël verbysweef en verlate in die top van ’n wilg op die oorkantste oewer gaan sit. Hier, dink sy vredig, sal ’n mens kan wegraak, maar hier sal jy ook jouself vind …

Sy skrik op toe ’n motordeur iewers klap, draai vervaard om. Sy is glad nie voorbereid op die verskyning van ’n lang man wat met haastige, knarsende treë om die rondawel kom nie. Hy steek vas en sy hande gaan na sy heupe. Sy stem is yskoud toe hy vra: “Kan ek help?”

Verskeie los gedagtes gaan soos ’n hand vol klappers in haar kop af. Sy het hom met ’n oogopslag herken. Mevrou Geyer se Clark Gable-sonder-snor. Die TV-nuusman Loek de Jager. Dié slag sonder sy deftige pak en das in ’n swart oopnekhemp en effens verweerde denimbroek. Hý met sy brandende swart oë en volmaakte mond, hier op Kiewiet se plek. En hy lyk so tuis. Haar mond sak oop. “Maar … u is mos …”

“Bill Clinton,” sê hy pront en kyk haar sonder die geringste spoor van ’n glimlag aan.

Sy staar terug, merk die bekende trekkie van siniese verveling om die mond. Nou ja, dink sy opeens heeltemal nugter, twéé kan probeer snaaks wees. Sy tik met haar vingers op haar hart. “Maggie Thatcher,” sê sy. “Maar wat maak u so ver van u eie plekkie af?”

Die donker blik vernou toe sy koeltjies op ’n antwoord wag. Toe trek hy argeloos ’n skouer op. “Ek vlug hierheen as ek van Hillary se oorheersing wil wegkom. Dis tog logies. Maar wat maak ú hier? Met al u weliswaar verouderde ervaring in óns veld, behoort u te weet hoe gevaarlik vreemde terrein is?”

“Nie halfpad so gevaarlik soos ’n ambisieuse vrou nie, Billy.” Sy glimlag opeens lief met hom. “Maar toe maar, hier by Kiewiet sal jy veilig wees. Hy duld glo niks nonsens nie. Almal dans na sy pype omdat hy so spesiaal is. Nie dat ék hom al ooit gesien het nie, maar ’n mens sou sweer hy swaai die septer hier. Vreemd dat iemand in sy afwesigheid so kan regeer, nè?”

Toe draai sy om en begin ligvoets wegdraf kerspopuliere se kant toe. Sy is al ’n ent op die oewer weg toe sy Loek de Jager duidelik oor die water hoor skree: “Tata, Maggie!”

“Baai, Bill!” skree sy terug en hol vinniger. Halfpad in die koelte van die digte laan gaan sy brandasem staan. Toe vou sy dubbeld en begin lag. Sal mevrou Geyer nie in die wolke wees as sy haar hiervan vertel nie? Dis nou as sy haar ooit gaan glo. Sy wat Jessica is, het mooi Loek de Jager ontmoet en sy mense noem hom sommer Kiewiet. Dis net logies, soos hy self sou sê, want daardie kiewietnes van ’n plek is die ideale wegkruipplek vir ’n beroemde gesig wat die kollig wil ontwyk. En sy kan dit begryp. Met sy soort voorkoms is hy seker ’n gesogte prooi vir al wat broekjagter en sosiale gryper is.

Jessica skud haar kop vir haarself en stap aan. Wel, ontken kan ’n mens dit nie. Die man is onmoontlik aantreklik en sy kan verstaan dat sekere vroue histeries raak oor hom. Maar, besluit sy toe sy weer begin stap, by my sal niemand hoor dat Kiewiet, alias Loek de Jager alias Bill Clinton, opgedaag het nie.

Hoe nader sy aan die huis kom, hoe sterker word die vermoede dat al die Malans hom in elk geval te wagte is. Hulle beskerm sy privaatheid soos kiewiete wat lamvlerk draaie om die nes gooi om die aandag af te lei. Karel wat van homself en Adam in een asem praat en dan van Kiewiet. Kiewiet wat ’n De Jager is en nie ’n Malan nie. Tog is hy Anna Malan se kind, dit weet sy bo alle twyfel as sy aan die mooi vrou se sterk gelaatstrekke dink. Die groot oë met die digte wimpers ook. Net háre is blou soos Karel s’n. Loek moes sy De Jager-pa se gitswart kyk geërf het.

Sy is so ingedagte dat sy nie vir Karel sien waar hy stil by die voordeur op haar wag nie. Selfs in die laat lig lyk hy bleek en ontstemd. Sou hy ergerlik wees omdat sy alleen gaan stap het?

“Ek was daar by Kiewiet se plek,” bieg sy doodeerlik, maar hy raak lig aan haar skouer.

“Natuurlik, dis baie mooi daar.”

“Nou maar wat pla dan?” vra sy baie sag.

Hy trek sy asem in en sy stem is vol gedempte drif: “Adam het die vakansie by ’n vriend van hom gehoor dat Daniël Krause ook van volgende jaar af by die universiteit van Noordwes aangestel is. En … hy is van sy vrou geskei. Het jy dit gewéét, Jess?”

Dis of die soel skemering plotseling om hulle wegsak. Sy staar blindweg na hom. “Nee …” antwoord sy hees. “Nee, ek gee jou my woord dat ek nie geweet het nie.”

Helene de Kock Omnibus 6

Подняться наверх