Читать книгу Abel se dogters - Helene de Kock - Страница 7
Hoofstuk 3
ОглавлениеAdelien laai vir Nomsa by die koshuis af, beloof om een aand saam met haar te gaan fliek en sug van verligting toe sy eindelik haar woonsteldeur agter haar toetrek. Sy is by kapot verby. Die rit terug Pretoria toe was lank en die pad besig en vol swaar voertuie. Daarby was die afgelope dae ’n senutoets soos min. Sy en Roald Henning het inderdaad die een spreekwoordelike haas ná die ander uit die hoed gehaal. Maar vir iemand wat nie aan die toorkuns gewoond is nie, was dit nogal moeilik. Om enigeen om die bos te lei, al is die bedoeling hoe rein, was nog altyd vir Adelien haas onmoontlik. Maar dit moes net, troos sy haarself. Al wat sy nou kan hoop, is dat die nuus nie sal trek nie. Dit sal chaos afgee as Henk moet weet wat sy en Roald probeer doen het. Alhoewel Roald juis ewe koeltjies voorgestel het dat sy dié gelukkige man, soos hy na Henk verwys het, deeglik inlig …
“Kyk die saak staan so,” het Roald daardie dag in sy kantoor aan haar probeer verduidelik, “ek vermoed dat Christelle in haar hart der harte steeds smoorverlief is op Frans Mahler. Dink mooi: sy ken hom mos haar lewe lank. Hy was ’n ruk gelede mos hoofseun, sportman van faam, redenaar par excellence, en so meer. Aan die firmament van hierdie skool was hy ’n groot ster en nou swot hy nog medies ook.”
“Kom tot die punt,” het sy hom kortaf in die rede geval, maar goed besef waarheen hy stuur. Daarby was sy ergerlik dat hy haar goed vertel wat sy eintlik eerder moes gesnap het.
“Die punt,” het hy onverstoord voortgegaan,” is dat Christelle haar … e … aangetrokkenheid tot Frans nou op my geprojekteer het. Ek is iemand na wie sy opsien en ek is uit die aard van die saak gedurig in haar nabyheid.”
Adelien het hom met ’n nadenkende fronsie betrag. “Jy bedoel sy ervaar die verwerping so intens dat sy dit nie eens aan haarself wil erken nie en dus vinnig ’n geskikte plaasvervanger gesoek het?”
“Een op wie sy haar romantiese hart kan uitstort. Dis so eenvoudig soos dit, Adelien. En dis nie ’n onoplosbare probleem nie. Christelle is eintlik ’n verstandige kind. Op die oomblik ry haar gesonde verstand wel saam met haar hart skoppelmaai, maar as sy eers gedink het oor die saak, sal haar kop weer begin regeer.”
“En waar pas die haas in?”
“Wel … die onmoontlike moet gebeur, sien. Tog is dit eintlik maklik. Ek kom môreaand op die plaas aan met ’n bos rooi rose. Vir jou, natuurlik.”
“Vir my?!” Sy was heel onthuts.
“Ja. Op die oog af sal ek in jou geïnteresseerd wees. Sommer baie ook. Ek neem jou uit vir ete, ek kuier tot die kaggel se kooltjies pers word en les bes, ek kyk na jou met leepoë.”
“Ek begryp nie,” het sy moedswillig gekeer.
“Natuurlik begryp jy, Adelien. Dis dwingend noodsaaklik dat Christelle die boodskap kry dat ’n onderwyser in ’n ander wentelbaan as ’n leerder is. Sy weet dit eintlik, want sy’s reg grootgemaak. Maar sy moet dit sien ook.”
“Ek weet dit, maar wat jy voorstel is … is nie moontlik nie,” het Adelien floutjies gekeer. “Ek … het ’n verhouding. Wel, op ’n manier …”
“Ek weet dit ook. Nomsa het vir Anna vertel en Anna het dit suutjies weer aan my huishulp, Maria, oorgedra. Hulle is mos kleinniggies.”
Adelien het stom gesit, toe onverhoeds begin lag. Juis op die oomblik dat tant Geertjie tee ingebring het. Die vroutjie is bloesend van opwinding daar uit, barstens toe vol vrae waarop sy sommer self antwoorde gaan bedink. Môre weet die hele dorp hoe lekker lag die adjunkhoof saam met die onderhoofmeisie se suster, het Adelien geweet. En toe maar gekapituleer. Enigiets om Christelle se dwase koppie weer reg te kry. En sy sal maar aan Henk moet verduidelik.
Maar dis juis die punt, dink sy nou moeg. Sy tap die bad vol en gooi byna die helfte van ’n peperduur bottel Franse badolie daarin. Sit eers ’n rukkie in die warm geurigheid en ontspan voordat sy haar gedagtes toelaat om soekend oor die afgelope paar dae te gaan.
Die haas uit die hoed het almal geflous – so wil dit voorkom. Pa Abel inkluis. Roald was Vrydagaand op die drumpel met die rooi rose en al. Christelle het die deur oopgemaak en kon kwalik haar asem terugkry toe hy duidelik sê: “Hallo, Christelle, ek het jou mooi suster kom haal. Sit solank dié rose vir haar in water. Yskoue water, hoor. En gooi sommer ’n bietjie bleikmiddel ook in. My ma het altyd beweer dit laat die blomme langer hou.”
Christelle het dit bleek by hom geneem en sonder ’n woord gemaak soos hy gesê het. Sy het feitlik dadelik die boodskap gekry, het Roald tevrede beduie toe hy en Adelien die pad vat in sy ouerige wit Merc.
“Ek is nie so seker nie,” het sy geantwoord. “Christelle gaan moeilik wees, ek weet dit sommer.”
“Wel, wat sê jou handboeke van sulke gevalle? Laat dit uitwoed en verleen steun, of iets in daardie lyn, nie waar nie?”
“Dis hoegenaamd nie so simplisties nie!” het sy haar gewip, haar lam geskrik toe hy sy hand vlugtig, paaiend op haar knie laat rus.
“Ek weet,” het hy net gesê en in stilte verder bestuur. Maar toe hulle die restaurant op die dorp binnestap, het die krapperigheid in haar binneste tog bedaar. Roald was ’n aangename tafelgenoot, die kerslig het loom oor sy hoë voorkop en sterk ken gespeel – en die kos was heerlik. Tarentaalpastei en klein aartappeltjies in pietersieliebotter. Krakerige blaarslaai met ’n eier-en-mayonnaise-sous. Sy het haar hele porsie opgeëet en ’n vreemde rustigheid het oor haar toegesak. So asof sy skielik ’n oubekende vertrek binnegestap het. Sy wou-wou wonder hieroor, maar hy het so onderhoudend gesels oor wyn en die Kaapse disse wat sy ma altyd gemaak het, dat sy eers later weer aan dié sensasie gedink het. Maar hy moes ’n uitdrukking op haar gesig gewaar het, want hy het skielik sy relaas oor waterblommetjiebredie en pinotage onderbreek.
“Waaraan dink jy?”
“Aan … aan wat jy sê …”
Sy sensitiewe mond het geroer. “Nou toe nou … Dan kan die meisie met die oop gesig tóg jok ook …”
“Ek jok nie … ek … Nou goed dan … Ek dink aan die hoop werk wat vir my wag.”
“En aan die man wat sekerlik vir jou wag.” Dit was nie ’n bedekte vraag nie. Dit was ’n stelling.
“Ja,” kon sy net knik. En gewens dat dit werklik waar was. Henk verdien dat sy aan hom moet dink. Maar sy het haar gedagtes bymekaar gekry en oor die onderwys begin uitvra. Hy het dadelik gefrons en gesug. “Kom ons praat oor iets anders. Die onderwys is nou te chaoties vir woorde … enne … dis nie die onnies se skuld nie.” Nog voordat sy kon reageer, het hy ’n grappie oor ’n dom onderwyser vertel wat haar laat skud het van die lag en toe tog wel die gesprek heel onverwags laat plons in die diep waters van die opvoedkunde. Hy het hartstogtelik gepraat, sy donker oë vol vonke en die netjiese hande het met ferm gebare beklemtoon. Sy het gedink: ’n Interessante man. By hom sal ’n vrou nooit verveeld wees nie. Maar – by Henk ook nie, het haar lojale hart gou-gou vermaan.
Dit is net die haas-uit-die-hoed-storie wat haar effens geïrriteerd laat voel. Die onmoontlike, het hy dit daardie dag by die skool genoem. By implikasie onmoontlik vir ’n man om op Adelien Buitendag verlief te raak, of wat? Hoe dit ook al sy, sy sal eerlik moet wees daaromtrent. En dis nou juis die ding … Sy tap nog warm water, sak lui terug in die lekkerte daarvan. En wonder. Sy weet nie of sy werklik lus het om vir Henk van hierdie situasie met al sy kompleksiteite te vertel nie. Dis mos nou verby. Sy sal nie gou weer plaas toe gaan nie en Roald sal bepaald nie hierheen kom nie. Christelle ook nie. Sy het botweg geweier om die vakansie Pretoria toe te kom.
Adelien maak haar oë toe. Dit was ’n moeilike tydjie, erken sy aan haarself. Christelle was eers botswyend, toe openlik beskuldigend en later huilerig. Pa Abel was eers vaagweg simpatiek, toe ergerlik en oplaas, ná ’n gesprek met Adelien, so half en half op die randjie van begrip. Dat so ’n ingewikkelde toestand onder sy dak kon ontstaan, was duidelik vir hom verwarrend. Waarom moet Christelle nou moeilik wees? wou hy gebelgd weet. Sy was altyd so ’n maklike kind …
Dis toe dat Adelien kwaai met hom gepraat het: “Pa, ek kan begryp dat Pa hierdie sakie moeilik hanteer, maar probeer asseblief net verstaan dat Pa se drie dogters ingewikkelde wesens is wat werklik aandag nodig het … Pa, ons het sonder ’n ma grootgeword en … en ons is vróúe!”
Dit was, het sy wrang besef, die eerste maal dat sy só met haar pa gepraat het. Sy was self so ontsteld soos ’n mens wat ná ’n lang innerlike worsteling dit vir die eerste maal regkry om ’n kwelling te verwoord. En sy het met spyt gesien hoedat sy maer, songelooide gesig saamkramp.
“Het ek dan nooit aan julle aandag gegee nie, Adie?” wou hy met wrang verontwaardiging weet. En het toe self die vraag kopskuddend beantwoord: “Toemaar, ek weet … Ek eet soms self my binneste daaroor uit. Eintlik was ek ’n afwesige vader …”
Dat hy die kwessie so eksak kon bewoord, al was dit in ’n selfbejammerende toon, het Adelien vir ’n oomblik met ’n stomme swye geslaan. Onredelike woede ook. Hoe kon hy daar sit en sito-sito erken dat hy sy drie dogters aan die genade van hul eie wroegende grootword oorgelaat het? Hoe durf hy ná al die lange jare dit sommer net bely en … en dan soetjies wil beding hoe om die ou sakie gou-gou reg te stel? Adelien het haar eie wrangheid met moeite weggesluk, stip na sy geboë grys kop gestaar toe sy praat.
“Ag, Pa … Kom ons laat dit daar. Besef asseblief net een ding: Christelle het nóú aandag nodig!”
Hy het swaar geknik, sy mond diep ingekeep. “Roep haar,” het hy net gesê.
“Moet ek bly?” wou sy huiwerig weet.
“Nee, roep haar net. Môre, oormôre ry jy weer en dan’s dit weer net ek en sy.”
Wat presies gesê is, weet Adelien nie. Sy het Christelle gaan roep en Pa Abel en sy jongste was vir ’n korte kwartiertjie agter ’n toe studeerkamerdeur. Daarna het Christelle gangaf gestoom en haar deur het geklap. Adelien het Abel driftig sien aanstryk oor die werf in die rigting van die skuur. Hy moet heel buite karakter kwaai geklink het en Christelle moes haar juis daarom pap geskrik het. Maar laat in die nag het sy bedremmeld en kennelik voos gehuil Adelien se kamer binnegesluip. “Slaap jy al?”
“Nee, kom maar in,” het sy gefluister.
Tot haar verbasing het Christelle saggies langs haar in die groot bed ingeglip, nes van ouds toe sy alleenklein en verlore was. “Is … is jy en Meneer ernstig?” wou sy met ’n wankelrige stemmetjie weet en Adelien het die fyn meisielyf langs haar voel ruk. Sy is net ’n kind, het Adelien rou besef.
Nee, wou sy sê. Nee, my liefie, ek speel sommer – soos toe Christelle klein was. Maar sy kon nie. “Ja …” het sy skor gesê. “Ek en … Roald … verstaan mekaar.”
Die geruk het weer begin, ’n gesnuif ook. Huil jou uit, het sy met oneindige deernis gedink. Huil maar liewer nou … Toe het sy ’n arm uitgestoot en Christelle se bewende skouers nader aan haar getrek, haar lippe op die klamwarm voorkop gesit. “Toe nou maar … ek weet dit kom as ’n skok vir jou.”
“Julle … julle lag julle seker siek vir my!” het dit opeens gegriefd gekom.
“Waaroor sal ons lag?” wou Adelien met geveinsde verbasing weet.
“Jy … weet mos,” het sy gesmoord in die kussing gemompel.
“O … Nee, Christelle, ek glo nie Roald weet eens dat jy baie van hom hou nie … Wel, ’n bietjie verlief is op hom nie … En ek sal hom mos nooit sê nie!”
Christelle het swaar gesug en stywer teen haar ousus genestel. Adelien het ’n gewigtige verligting deur haar voel stoot. Dankie tog dat dit lyk asof Roald reg was. Frans Junior is steeds nie vergete nie, anders sou Christelle nie so gedwee kom inkruip het nie. Dalk is hy net nog nie vergewe nie. Wat sou tussen dié tweetjies gebeur het? Frans is mos ’n oulike kind … Wel, seker ook nie meer heeltemal kind nie. Hy … is op universiteit, het sy met ’n skok besef. Al ’n gesoute mediese student. Eintlik het sy dit geweet, net vir baie lank nie daaraan gedink nie. Maar die jongmeisie wat so styf teen haar lê se asemhaling het rustig geraak en syself het weggedommel met die voorneme om tog eendag uit te vind wat Frans nou eintlik gesondig het om Christelle so om te krap.
Maar dit pla my steeds dat ek moes lieg en liég, dink Adelien toe sy eindelik uit die bad klim. Maar hoe anders gemaak? Dit het immers gewerk. Sy droog vinnig af en trek haar nagklere en japon aan. Sy probeer om nie verder te dink aan die aande wat gevolg het nie. Maar toe sy in die knap klein kombuisie staan en koffie maak, dring die gedagtes hulle een vir een aan haar op.
Roald het inderdaad nie op hom laat wag nie. Hy het haar die laaste drie aande ook kom uitneem, soos haar Pa Abel tevrede opgemerk het. Dis goed, het hy gesê, dat die man jou kom uithaal. Jy sit hoeka al lank op die rak. Adelien het haar bloediglik vererg en wou-wou net weer iets laat glip van ’n blonde, gawe professor wat haar buitendien amper elke aand in Pretoria kom uithaal en wat nog, toe sy haar mond vasgeklamp het. Hoe is dit dat sy nou eers agterkom hoe ongenadiglik taktloos Pa Abel ook kan wees?
“Dit lyk my selfs sielkundiges gaan blind deur die lewe!” het sy teenoor Roald uitgevaar toe hulle dié aand op pad was fliek toe. Sonder dat sy dit vooraf bedink het, het sy hom klinkklaar vertel presies wat sy nou eers, in hierdie late stadium, by haar pa waarneem: dat hy in sy eie verdriet verdrink het in ’n tyd toe daar g’n grootmens naby was om hom te red nie en dat hy nou onder op die bodem van sy eie bestaan rondwaad terwyl sy dogters spartel om kop bo water te hou! Hy moes destyds vir berading gegaan het … Sy het gevoel hoe haar wange warm word terwyl sy praat en haar asem het gejaag. Roald het die motor geparkeer en doodstil voor hom sit en kyk. Die eensklapse swye in die motor het haar soos ’n skoot koue water getref.
“Ek is jammer,” het sy lamlendig beduie. “Ek moet nie so voor jou van my pa praat nie!”
“Jy is baie besorgd oor hom,” het hy sag geantwoord. “Maar jy moet ophou om jouself te verknies oor iets waarvoor jy nie verantwoordelik was of is nie. Elke mens loop sy eie pad, Adelien. Ons kan dit vir mekaar probeer makliker maak, maar op die ou einde sal jou pa moet leer dat hy alleen sal moet vasskop en boontoe beur as hy weer asem wil kry.”
“Ek weet,” het sy driftig geantwoord, “maar ek dink nie soseer aan hom as aan … aan ons drie nie. Christelle is van balans af, Bernadette dink die lewe is ’n speletjie en ek … ek het in ’n wasige kokon van my studies en die akademie geleef totdat … totdat Henk sy verskyning gemaak het.” Sy wou haar tong afbyt. Van erg na erger. Wat gaan sy vanaand nog alles uitlap? En toe sy in ’n kort oomblik tot besinning kom: Nie veel nie. In Adelien Buitendag se lewetjie het daar nog nie juis iets aardskuddends gebeur nie.
En dis wat haar op hierdie aand in haar woonstel knus by die universiteit ook ontstig. Die feit dat sy nog nie juis geleef het nie. O, sy het wel baie gedóén, ja. So soos wanneer ’n mens die instruksies van ’n handboek volg. Skoolgegaan, graad gekry, nog een en nóg een – en toe ’n blyplek van haar eie. En nou’t sy op ’n manier ’n kêrel ook. Ewe paslik, ’n professor. So reg uit die boek. As dit nou net nie vir daardie rukkie op die plaas en die ontmoeting met die donkerkop-onderwyser was nie.
Roald het daardie aand toe hulle gaan fliek het net so agter in sy keel gelag toe sy van Henk praat, uitgeklim en eers toe hulle aanstap na die ingang, sag gevra: “Wanneer het dié Henk nou eintlik sy verskyning gemaak?”
“Vroeër vanjaar,” het sy stug geantwoord. En toe, met ’n hovaardige klankie: “Hy’s ’n professor.”
“Nou toe nou,” was Roald se allerenigste kommentaar. Daarna het hy net oor flieks gepraat. En soos wat dit vir Adelien geklink het, kon hy omtrent ’n gids skryf oor al die films van toeka en nou. Sy het gefassineerd geluister. Kundig is die man voorwaar, het sy besluit. Sowat van weet-waarvan-hy-praat, darem. Syself is nie ’n vreeslike filmentoesias nie, maar kan ’n boeiende storielyn waardeer – en as die held nog Mel Gibson is óók … Sy het die aand gate uit geniet. Dit was ’n knap riller en die spel onoortreflik, soos wat Roald wel vooraf gesê het. Hy het agterna in ’n klein koffiekroegie langs die dorpshotel nog ’n paar interessanthede uitgelig wat sy nie eens raak gesien het gedurende die vertoning nie. Soos dat die regisseur doelbewus gebruik gemaak het van skerp lig en skadublou tonele en dat die film juis in Manhattan afspeel waar die strakheid van die argitektuur bydra tot die atmosfeer.
“Dit lyk my jy is visueel veel meer geletterd as ek,” het sy gesê. “Ek is meer iemand vir woorde. Prentjies flits dikwels te vinnig vir my. Dis seker maar omdat ek altyd eerder verkies het om te lees.”
Hulle het lank gesels, soos ou vriende. En die aand daarna het hulle in dieselfde koffiekroegie gesit en skaak speel, naderhand ’n klompie toeskouers gehad ook. Sy het hom geklop en met geamuseerde satisfaksie gemerk dat hy ’n bietjie vieserig is daaroor. Die laaste aand het hulle naby Clarens gaan eet in ’n ou, witgekalkte plaashuis langs ’n dam met eende en bosluisvoëls wat die wilgers in die skemerte pienkwit toepak. Die gasvrou het vir hulle skaapboud en geelrys en die soetste karamelpampoen gebring wat Adelien nog ooit geëet het. “Soos toffies … Onthou jy daai soort wat pouses so teen mens se verhemelte bly sit het en dan suig jy heeltyd daaraan tot die soet weg is?”
Hy het net geglimlag. Dis toe dat sy besef het dat hy besonder stil was. Totdat sy hom daarna gevra het …
“Miskien omdat jy nou weer teruggaan,” het hy lakoniek gesê. “Nou’s dit weer net ek en die leë huis langs die skool.”
’n Vreemde verleentheid het haar gepak. Vir ’n oomblik het sy glad nie geweet wat om te sê nie. Toe het sy net ’n skouer opgehaal. “Dit laat ek my nie vertel nie. ’n Man soos jy sal nie lank alleen wees nie, Roald.”
“En hoe ’n man is ek?” wou hy ongeërg weet, een wenkbrou hoog gelig.
“Ek weet nie,” het sy met bot eerlikheid geantwoord. “Jy word nie maklik gelees nie.”
Sy gesig het verstil. “Dis reg,” het hy gesê. En toe: “Wat gaan ons vir nagereg eet? Roomys en gemmersous of die broodpoeding?”
Sommerso. En dit was die einde van enige verdieping in hul gesprek. Ook was dit die einde van ’n kamma verhouding, dink Adelien. Dit help nie eens sy mors twee gedagtes daarop nie …
Sy staan op om die koffiebeker te was en daar is ’n ligte raps aan die deur. Toe sy oopmaak, staan Henk daar. Sy blonde kuif is deurmekaar en hy is geklee in ’n sweetpakbroek en ’n T-hemp wat effens span oor sy fris boarms.
“Ek weet ek is ontydig,” groet hy en glimlag seunsagtig. “Maar ek moes net kom toe ek nou vir Nomsa by die hoekkafee raakloop en sy my sê jy’s terug.” En toe Adelien hom net bly aanstaar: “Sy’t gaan lekkergoed koop …”
“Al weer,” glimlag Adelien terug. “Kom binne …”
“Hallo,” groet hy weer en trek haar dadelik in sy arms. Sy mond is op hare nog voordat sy mooi kan dink. Hy soen soos iemand wat diep omgee, flits dit deur haar kop. Soos ’n mens wat gesoek en gevind het. Die gedagte ontroer haar eensklaps sodat sy haar oorgee en haar arms om sy nek skuif. Hy lag bly in haar nek.
“Adelien …! Ek het my gek verlang na jou!”
Sy gooi haar kop agteroor en lag ook. “Dit voel bepaald so, Henk!” Sy woel haar los en trek hom aan die hand kombuis toe. “Sit. Ek maak koffie.” En toe sy oë met warm waardering oor haar sagte blou japon en warm wange gaan: “Miskien moet ek eers iets gaan aantrek …”
Hy lag hardop. “Sal dit help? Jou meer weerbaar maak?”
“Teen wat?” spot sy verleë saam.
“’n Bose man wat snags van jou droom!”
“Henk!” snak sy, vat die ketel mis en hy lag weer.
“Adelien, jy maak al weer asof ek jou heel eerste kêrel is!”
Sy verstil, vat toe die ketel se handvatsel stewig vas en gaan tap water in. Eers toe sy die bekers reggesit het en die water fluiterig begin kook, kyk sy skuinsweg oor haar skouer na hom: “Maar jy is mos!”
Hy staan op en gee twee tree tot by haar, draai haar aan haar skouers na hom toe. “Adelien, ek is mal oor jou! Ek dink nie ek wil meer sonder jou wees nie. Hierdie rukkie dat jy weg was, het my dwalend gehad en …”
“Stadig …” keer sy benoud, maar die warm emosie in sy blou oë sit tog haar hart op loop.
“Waarom?” vra hy sag. “Ons is volwasse mense, Adelien. En … ek het byna die eerste dag al geweet dat ek jou wil hê. Kom ons trou in Desember.”
Haar mond gaan oop en hy buk vinnig, plaas sy lippe oor hare, trek haar teen hom vas. Maar sy rem vervaard terug, tuur stip in sy oë.
“Henk … Ek … ek moet eers dink …”
Sy mond pluk wrang, maar sy stem is teer. “Dit het ek verwag, my skat. Jy is ’n diep denker, amper ’n filosoof …”
“Maar jy is tog ’n bietjie geraak dat ek nie dadelik ja sê nie?” vra sy kalmer. Sy gesig lyk so beteuterd en op impuls steek sy haar hand uit, vee sag oor sy voorkop en deur sy syige, blonde kuif. Hy vang haar vingers vas en soen die punte innig.
“Toemaar, ek verstaan,” glimlag hy sag. “En buitendien, ek weet ek gaan wen!”
Die woord tref haar skielik. Wen? Hy laat dit klink asof hy kompetisie het. En hy het nie. Nie regtig nie … Maar Roald se effens skewe glimlag flits voor haar oë verby die een aand toe sy hom so lekker gepiets het met die skaak. Eers was daar die kinderlike ergerlikheid omdat hy verloor het en toe ’n vreemde, gefassineerde uitdrukking in daardie swartbruin oë. So asof hy in ’n kramp van onverwagse emosie ’n flits van openbaring beleef. Jy hou nie daarvan om te verloor nie, het sy sag geglimlag. Watter man onder manne hou daarvan? het hy kamma kwaad gebrom en toe ook maar gelag. Roald Henning, dink sy, ’n man onder manne. En tog, Henk Verwey val ook in daardie kategorie. Dit ly geen twyfel nie.
“Waaraan dink jy?” wil hy skerpsinnig weet, sy hande warm op haar skouers.
Sy teug diep na asem. “Aan die rukkie tuis,” begin sy, maar dis of alles wat sy wil sê, al die baie woorde wat die ure saam met Roald oordek, soos skape voor ’n hek saambondel. Net drie glip uit: “Só baie dinge …”
“Vertel,” sê hy soos male van te vore.
Sy draai om, sit die kokende ketel af en dis eers toe hulle weerskante van die klein ronde tafel met hul bekers sit, dat sy huiwerig begin: “Dis die ding met Christelle … Dit was moeilik om haar tot ander insigte te bring, weet jy.”
“Kan ’n mens?” vra hy met vernoude oë. “’n Tiener se hart is soos ’n wilde bok. Keer jy dié kant, spring hy daai kant toe. Jy weet dit mos ook.”
Hy’s so skerp, dink sy versigtig maar knik instemmend. “Jy het reg, dit was nie maklik nie. Maar dit lyk my tog asof ek geslaag het om haar te laat dink oor die saak.”
“Hoe het jy dit gedoen?” wil hy weet.
Ons, wil sy sê, óns het dit gedoen … Maar sy suig haar lip in, haal haar skouers op. “Ons sal moet sien of dit gaan werk, Henk. ’n Mens praat en praat met ’n kind soos Christelle en dan kan jy net wag.” Dit is immers waar, dink sy wrang, al is dit nie die volle waarheid nie. En so onbehoorlik soos wat dit sekerlik is, kan ek om die dood nie nou vir Henk van Roald vertel nie. En ek wil nie eers probéér om hierdie huiwering te ontleed nie …
“Sê my eers waar kan ek ’n goeie waghond koop?” keer sy die gesprek skoon weg. “Enne … ’n klein hondjie ook. ’n Keffertjie wat snags in die huis kan geraas maak as iets kom pla.”
Hy klink verbaas. “Hier?! Jy wil tog seker nie ’n groot hond hier in die …”
“Dis vir Stille Weide. Kan jy glo dat ons nooit weer ’n hond aangeskaf het ná … Jy sien, ná my ma se dood, is die hond ook sommer net dood. En toe …”
“Ek sien,” antwoord hy sag. “En toe ek nou die dag praat oor die veiligheidsituasie het julle begin dink, nie waar nie?”
“Ja …” knik sy.
“’n Vriend van my boer met herdershonde en ek dink mens kan seker ’n klein hondjie sommer by ’n troeteldierwinkel koop.”
“As ek die geld voorskiet, sal jy dit vir my doen?”
“Met liefde,” sê hy en trek haar bo-oor die tafel nader. Toe hul gesigte feitlik teen mekaar is, steun sy soos wat die tafel se rand haar in die ribbes vang en hy lag. Blaas vir haar ’n soentjie. “Ek gaan net môre vir my liefste meisie twee brakke koop! En los maar die geld.”