Читать книгу Abel se dogters - Helene de Kock - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

Haar brakke, dink Adelien en staar met verstomming na die twee skepseltjies in die kartondoos langs haar bed. Want Henk het “sy liefste meisie” se brakke gisteraand gebring met twee pakke hondekos daarby. En instruksies: Sóveel vir Mietsie en ’n bietjie meer vir Keiser.

“Is dit hulle name?” het Adelien verstom gevra.

“Voorlopig, maar nou moet ek ry. Ek het twee studente wat my kom sien.”

“Ja, maar …”

“Vergeet van ‘maar’,” het hy gesê en haar kaplaks op haar mond gesoen.

Toe hy uit is, het sy die bondeltjies hond meewarig beskou. “Nou ja, nou moet ek julle so gou moontlik op die plaas kry.”

Maar dit, het sy geweet, is die minste van haar probleme. Klein hondjies is lank nie klein jakkalsies nie. Want iets kou aan haar bestaan. ’n Knaende besef dat sy innerlik eintlik wegkruipertjie speel met Henk. Hy voel dit aan, weet sy. Maar sy is nie gereed om die petalje, soos wat sy aan haar en Roald se plannetjie dink, met Henk te deel nie. Dis net te laf vir woorde. Buitendien, as alles goed gaan, sal die petalje in die niet verdwyn. En dit gaan goed op Stille Weide. Sy hoor dit elke keer dat sy bel om met Christelle of haar pa te praat. Pa Abel klink effens meer opgeruimd en Christelle gesels op haar ou babbelende trant.

“Steek jy vir my iets weg, Chrissie?” wil Adelien een oggend vroeg weet toe sy bel net voordat sy moet gaan klas gee. “Hoe voel jy regtig?”

Christelle het ’n suggie gegee. “Soms voel ek miserabel en ander tye kan dit weer gaan, Adie.” En toe heel onverwags: “Meneer stuur vir jou groete … Ek dag dan julle praat baie met mekaar?”

“Maar ons práát!” glip die leuentjie verskrik uit. “Om die waarheid te sê, ek het nou net met hom gepraat en …”

“Het hy jou saamgevra Kaap toe?” wil Christelle gretig weet.

Adelien gun haarself ’n stonde se nadenke. “Nee … e … jy weet mos dis nou onmoontlik vir my om weg te gaan.”

“Hm … Wel, dalk sou hy jou graag wou vra. Hy loop juis deesdae met ’n hanglip rond.”

“Pla dit jou?” wil Adelien angstig weet. Sou die kind nou wéér haar hart op die man gesit het, of wat?

“Nee wat,” sug Christelle weer. “Wat my pla, is daai ellendige Frans Mahler. Ek kan eenvoudig nie glo dat iemand wat ’n mens van jou babadae af ken, die kluts so kan kwytraak nie!”

“Wat het hy dan gedoen?”

“Dis om van naar te word! Hy vrek glo oor daai simpel Fourie-meisiekind. Mevrou Fourie wat langs Meneer woon se kleindogter. Die ergste is dat sy hom matriekafskeid toe gevra het!”

“Dis … dis … wel dis gemeen, is dit nie? Sy weet tog seker jy en hy het iets aangehad!” is al wat Adelien kan uitkry. Sy het tog in die stilligheid gehoop dat dinge tussen die aantreklike vaalkuif Frans en haar sussie sal regkom.

“Dis baie dom! sou ek sê,” trek Christelle ergerlik los. “Want as hy oor ’n paar weke van plan verander, sal dit te laat wees!”

“Hoe so?”

“Ek het klaar vir Janneman Ferreira gevra om saam met my te gaan!”

“Daardie kranige rugbyspeler van Harrismith se hoërskool?”

“Einste. En ek belowe jou, hy’s by ‘smart’ verby! Regtig cool, hoor!”

En ’n effens wilde javel, soos wat stories loop. Maar Adelien antwoord versigtig: “Mooi so … Daar’s mos baie visse in die see, Chrissie. ’n Mens laat nie toe dat ’n man met jou speel nie!”

“Veral nie as sy naam Frans Mahler is nie,” antwoord Christelle dapper, maar Adelien hoor die ligte bewing in die teerjong stem. Frans is glad nie vergete nie, dit weet sy. Solank Roald net nie weer die teiken van die kind se gefrustreerde gevoelens word nie. Die gesprek bly haar by toe sy al die eerste klas gegee het en terug is op kantoor om stapels nasienwerk af te handel. Heeldag tob sy daaroor. Dinge moenie nou weer lol by die huis nie. Dis moeilik genoeg soos wat dit is: Sy wat hier vanuit Pretoria die tekens moet lees en haar pa en suster daar op die plaas wat soos hande uit die donker na haar tas.

Toe sy by haar woonstel kom, sak sy in die naaste stoel neer. Dié ding is besig om haar te dreineer. Sy kan haar glad nie distansieer van die situasie op Stille Weide nie. Afstand of te not, sy sal ten minste moet probeer om haar vinger op die pols van die huis op die plaas te hou. Oplaas bel sy na Roald se huis toe. Sit seker voor die televisie noudat dit skoolvakansie is, dink sy met onverwagse vertedering.

“Netso,” erken hy onverstoord toe sy hom skalks daarna vra. “Ek kyk ’n video. Dis snerpend koud en ek sit met drie reisdekens oor my bene. Dis nou te laat om die kaggel aan te steek.”

“Waarna kyk jy?” vra sy verwonderd, kan hom net sien sit, so toegewikkel in die komberse, sy donker kuif deurmekaar bo die blink, intense oë.

“Robin Hood, Prince of Thieves …” antwoord hy mymerend.

Haar mond plooi in ’n sagte glimlag. “O, ek is net so mal oor daardie verhaal. En ek dink dié prent het die romantiek mooi vasgevang en …”

“Wie sê ék is mal oor die prent?” vra hy tergend.

“Ek hoor dit mos,” sê sy afgehaal.

“Waarom? Was daar iets in my stem wat jou dit laat dink?”

“Wel … ja …”

“H’m … Jy weet wat sê hulle, nè? ’n Mens luister na ’n kennis se woorde, maar na ’n vriend se stem … Is ons vriende, Adelien?”

’n Klein stilte stol. Toe sê sy: “Ek dink so, Roald. Ek dink ons verstaan mekaar.”

“H’m … Ek sal dit glo as jy my kan sê waarom jy geskakel het.”

Dit slaan haar stom. Slim man, dink sy ergerlik. Nou kan ek glad nie na Christelle uitvra nie anders dink hy ek wil net praat omdat ek oor my sussie bekommerd is … En dit word stil in haar binneste: Dit is hoegenaamd nie al rede nie, laat sy dit nou maar eerlik erken. Laat sy met hierdie man ook liefs eerlik wees. Wat kan sy immers verloor?

“Ek het jou gebel,” sê sy, “omdat ek graag wil weet wat maak ’n adjunkhoof as die skool se deure gesluit het.”

Hy lag agter in sy keel. “Sluit ’n skool se deure ooit?”

“Sê jy my …” lag sy speels saam.

Hy gee ’n klein suggie. “Nie regtig nie, Adelien. Dis nogal soos ’n huishouding. Daar’s nie einde aan nie. Die kinders is wel weg, maar daar’s baie wat ek nog graag wil doen. Maar eers gaan ek ’n paar dae lank rus en dan gaan ek Kaap toe.”

“Na wie toe?” glip dit uit.

“O, maar jy’s nuuskierig! Weet daardie Henk ou dat jy so uitvraerig is oor my?”

“Nee.”

“Nee? Wanneer gaan jy hom van ons vertel?”

“Daar is nie ’n óns nie!” keer sy vinnig en wens meteens sy kon wegglip uit die gesprek sonder dat hy dit agterkom.

“Ja,” stem hy sag saam, “maar net ek en jy weet dit! Jou pa en Christelle en sommer die dorpsmense ook, dink daar’s groot dinge aan die kom tussen jou en my!”

“Regtig?” En toe hy swyg, groet sy flouerig: “Nag, Roald, geniet die Kaap.”

“Dit gaan koud en nat wees.”

“Ek … dag jy’s gewoond daaraan?”

“Die winter is op sy grouste as ’n mens nie in die somer hout bymekaar gemaak het nie.”

“Waarvan praat jy?”

“Van Langenhoven. Hy’t gesê ’n mens moet in die somer hout bymekaar maak om in die winter by die vuur te kan sit.”

“En het jy dan nie?”

“Nee, nog nie juis nie …” Hy klink traag om te verduidelik, sê toe tog kripties: “Dit lyk my al die hout is nou nat. Ek sal moet wag vir nog ’n somer.”

“En intussen doodgaan van die koue?”

“Dit hang af.”

“Van die Kaapse kuier?”

“Moontlik, ja …”

“Nag, Roald,” sê sy weer en dié keer sit sy die gehoorbuis sag neer. Maar sy bly nog lank sit, arms oorkruis oor haar bors, wenkbroue diep gekeep. Waaroor het ons gepraat? wonder sy verslae. Nie van hout of die seisoene nie, dis vir seker. Eindelik kom sy met ’n rukbeweging orent. Die man is enigmaties, besluit sy vies. Ek sal hom nooit verstaan nie. Gee my duisend maal eerder Henk wat my elke dag wys waar sy hart sit.

Asof in antwoord, begin Keiser, neus in die lug, kerm. Mietsie val ook dadelik in. Kos, dink Adelien en sug. Waarom voel ek nou nie juis moederlik teenoor die tweetjies nie? Dis ’n hengse werk om na hulle te kyk. En hulle vra baie aandag. Ek is nie gereed vir sulke klein goedjies nie, het sy gisteraand teenoor Christelle gebieg toe sy huis toe bel. Jy en Pa en Anna sal jul lyf moet reghou om hondjies groot te maak. Maar haar sus was dadelik liries: Ag moedertjie tog, wanneer bring jy hulle? So gou ek kan, het sy weer gesug.

Toe Henk haar die aand kom haal om by sy ma te gaan kuier, soen sy hom spontaan toe sy die voordeur oopmaak.

“Waaraan het ek dit te danke?” wil hy ingenome weet.

“Is dit nie hoe ’n man gegroet wil word nie?”

“Natuurlik … Maar dit het nie vantevore so natuurlik gekom nie, het dit?”

“Hoe dikker die vriendskap, hoe sappiger die soene, nie waar nie!” lag sy en duik onder sy arm deur om haar jas van die haak agter die deur af te haal. Hy vang haar vas teen hom.

“Moenie, Adelien! Ek is verby die stadium dat ek wil grappies maak. Ek wil nou weet!”

Die heftigheid van sy woorde laat haar verstil en sy teug diep na asem voordat sy met versigtige erns antwoord: “Ek voel aangetrokke tot jou omdat jy so oop is, Henk. Ek weet waar ek met jou staan en eintlik weet jy ook. Dis net dat ek nie aan kitsprosesse glo nie. Stap vir stap … asseblief …”

“En hierdie is ’n stap vorentoe?” vra hy met soveel desperate hoop dat sy hom liefkry. Sy lig haar hand en vee dit sag oor sy gesig.

“Ja, ek dink so, Henk. Ek voel goed by jou!”

Hy kyk lank en intens na haar voordat hy haar hand vat en die deur agter hulle toetrek. “Kom ons groet die brakkies en dan gaan ons. My ma het ’n swartwoudkoek gebak. Spesiaal vir jou. Enne, dis nie al nie, maar die res is ’n verrassing!”

Sarah Verwey het weer eens haarself oortref, besef Adelien toe sy in die knus meenthuis by die teetafel gaan aansit. Die fynste Royal Albert teestel is uitgehaal. Op ’n kristalbord staan ’n romerige sjokoladekonkoksie en daar is veerligte pasteitjies.

“Tante het vreeslik baie moeite gedoen!” betig sy glimlaggend. “Is dit dan ’n spesiale okkasie as ek kom kuier?”

“In die oortreffende trap,” glimlag die vrou en haar blik speel liefkosend tussen haar seun en Adelien. Sy skink tee en sny die koek, bied heerlike groot stukke aan. En sy vra uit. Na die plaas, na Abel en na al Abel se dogters. Die name Bernadette en Christelle rol gemaklik oor haar lippe. Henk moes haar vooraf ook weer baie vertel het, besef Adelien. Meer as net die inhoud van die paar kere dat sy self met Sarah daaroor gepraat het. Dat sy en haar leefwêreld ’n warm besprekingspunt tussen ma en seun is, word vir haar algaande al duideliker. Veral toe Sarah versigtig begin uitvra na Christelle se gemoedstoestand. Adelien huiwer ’n oomblik voordat sy antwoord. Maar toe sy eers begin praat, besef sy dat sy lankal hunker na ’n vrou se oor.

“Wel … dis moeilik om te sê, maar Christelle klink tog nou meer gebalanseerd. Nou die aand toe ons gesels het, het sy ewe entoesiasties uitgewei oor die outjie saam met wie sy matriekafskeid toe gaan.”

“Het sy al ’n rok?” vra Sarah Verwey.

Adelien se oë rek verskrik. “Nee …” Sy vee met ’n handpalm oor haar oë. “Liewe aarde tog … ek het nog glad nie eens daaraan gedink nie …” En toe kom die woorde sommer: “Ek weet nie wat dit met my is nie, maar ek dink selde aan sulke praktiese dinge. Dis verkeerd, ek weet, en ek sal moet verbeter wat dit aan betref en …”

Sarah raak sag met haar vingers aan Adelien se skouer. “Eet eers nog ’n stukkie koek en dan gesels ons weer daaroor. So ’n saak het buitendien twee koppe nodig!”

Haar rustige stem en speelse woorde kalmeer Adelien en toe sy haar kom kry, smul sy aan ’n tweede yslike porsie en drink ’n paar koppies rooibostee ná mekaar. Sy voel effens ongemaklik daarna, maar ignoreer die gevoel. Henk sit haar met ’n stil glimlaggie en betrag. Dis toe hulle die teegoed agtertoe gedra het en weer kom sit, dat Sarah haar verras met ’n groterige pakkie toegedraai in blomryke geskenkpapier met ’n fraai goue strik.

“En nou? Ek verjaar mos nie!” lag Adelien.

“Nee, maar dit lyk asof jy ’n verjaardag nodig het. Maak oop!”

Adelien se asem slaan weg toe sy die papier oopvou en ’n donssagte, papawerrooi trui daaruit haal. Sy ma het dit self gebrei, vertel Henk trots, klop Sarah saggies op die skouer.

“Hou jy daarvan?” wil die vrou gretig weet.

“Ek … is gek daarna …” fluister Adelien en voel bewoë. Wanneer laas het enigiemand, behalwe Anna, ooit vir haar iets gegee met soveel moederlike besorgdheid as hierdie vrou met haar sprekende blou oë nes haar seun s’n? Haar tong wil knoop toe sy weer praat. “Dis … dis ongelooflik mooi … en ek het juis ’n tekort aan so iets in my kas. Hoe kan ek u ooit bedank?”

“Trek dit aan wanneer jy lus kry, dan is ek tevrede!” glimlag Sarah.

“Ek sal vir seker!” sê Adelien en staan op om Sarah ’n soen te gee, die trui vasgeklem teen haar bors.

“Wat van my?” vra Henk onnutsig. “Ek het geduldig die hele, moeisame breiproses aanskou!”

Adelien gee hom onverwags ’n klapsoen. “En tjoepstil gebly daaroor! Jy is ’n man van vele geheime, lyk dit my!”

Henk maak plegtig keel skoon. “Dis meer ’n kwessie van talente as geheime. My ma is een van daardie mense wat ’n stuk lap en ’n mooi lyf bymekaar kan bring op ’n wonderbaarlike manier!”

“Hoe nou …?”

“Ag, hy bedoel maar net dat ek af en toe ook klere maak,” sê Sarah. “En ek het daaraan gedink om vir jou iets te maak vir julle departementsdinee. Dis nou as jy my sal toelaat … Ek weet dis nog lank voor die tyd maar …” Die vrou kyk so smekend na haar dat sy vermurwe. Al voel dit nou asof dinge so ’n bietjie onder haar uitglip. Asof die beheer van sake uit haar hande geneem word.

“Ek … hét eintlik al ’n rok,” begin sy maar die teleurstelling lê so vlak in die ouer vrou se oë dat sy haar besin. “Maar ek sal nooit nee dankie sê vir ’n nuwe ding nie!”

“Wonderlik!” Daar is eintlik kleur op Sarah se wange, so ingenome is sy. “Wag, ek bring sommer gou ’n paar patroonboeke en dan kyk jy of daar iets is waarvan jy hou!”

Adelien bêre die mooi trui en sit saam met Henk en wag dat Sarah die boeke kry. Hy sug ligweg en sê sag: “My ma kan soms ’n bietjie oorweldigend wees, ek weet.”

“Miskien,” gee Adelien eerlik toe. “En ek moet sê, dis vir my vreemd om iemand te hê wat so meelewend in my doen en late belangstel.”

“Verdra dit maar, asseblief,” smeek hy opeens liggeraak en steek ’n hand na haar uit. En Adelien vat dadelik sy vingers vas.

“Natuurlik. Dis nie onwelkom nie, ek is net ongewoond daaraan.”

Toe Sarah kom, haar arms vol patroonboeke, staan Henk op en gaan sit voor die televisie. Die vroue blaai en kyk en gesels en op die ou einde geniet Adelien dit baie. Dis laataand toe Adelien eindelik besluit op ’n nousluitende nommertjie met bandjies oor die skouers en ’n kort baadjie daarby. In swart? vra Sarah. Dit sal jou ligte gelaatskleur vlei. Dankie, sê Adelien.

Dis lekker, dink sy toe sy oplaas in die bed lê. Sarah Verwey gaan dalk nog ’n groot rol in my lewe speel en dis dalk goed dat ons nou al dinge saam doen. Sy raak aan die slaap met ’n gevoel van welsaligheid en skrik haar vroegoggend boeglam toe Keiser en Mietsie in die vroeë oggenduur ’n keel opsit. Sy kom stram orent en neem hulle by die agterdeur uit na die klein agterplasie waarop haar woonstel uitloop, wag bibberend terwyl die hondjies vieserig pote optel op die stukkie gras en uiteindelik doen wat hulle moet doen. Dit voel of sy skaars weer gelê het, toe die telefoon skril lui.

Dis Anna en sy klink skoon uitasem, praat asof ’n trein haar jaag. “Adie, jy moet kom! Christelle se rok vir die matriekafskeid is iets vreesliks!”

“Wat … Hoe dan so?”

“Sy’t vir haar ’n rok laat maak by daai nuwe vrou wat anderkant ou Sieberhage se winkel bly. Ek hoor sy maak al die grênd mense se klere.”

“Nou maar dan kan dit mos nie te erg wees nie!”

Anna snuif ergerlik. “Auk! Die toppie is baie klein. Jou pa se sakdoeke is groter. En hy moes baie geld betaal vir amper niks! Ek weet nie hoe gaan ek maak om Chrissie se kop reg te kry nie. Jy moet my kom help!”

“Wat sê Pa Abel?” vra Adelien, opeens kilnugter.

“Aag, jy weet hoe praat hy. Net so piep-piep soos ’n kuiken. Chrissie luister nie vir hom nie!” En toe Adelien magteloos swyg: “Jy moet huis toe kom, Adie! Chrissie kan nie met daardie rok matriekafskeid toe gaan nie! Die hele wêreld gaan praat … En jy weet, as die praat eers aan ’n meisiekind vassit, dan was dit nie weer af nie!”

“Wag,” keer Adelien opeens benoud, “ek moet dink.”

“Daar’s nie tyd vir nonsies nie,” brom Anna, altyd vies oor ’n getob. “Jy moet kom!”

Dis Donderdag, dink Adelien. As sy môre ry en Sondagaand terugkom … Anna is reg. Sy sal moet gaan. Buitendien kan sy dan van die hondjies ontslae raak. “Goed,” sug sy en Anna druk haar dit eers weer op die hart dat die kom góú moet wees, voordat sy neersit.

Dis kompleet of die vier mure van die kamer al nader skuiwe en Adelien spring vervaard uit die bed. Dis of dit sommer op die krop van haar maag begin pyn. Ek sien nie kans nie! skree haar binneste. Hoe op aarde gaan ek in die bestek van ’n naweek vir Christelle oortuig dat die rok wat sy laat maak het ’n totale ramp is? Want Anna sal nie oordryf nie. Daardie vrou se kop is reg.

Sy kyk op haar horlosie. Sesuur. Nog tyd om tot verhaal te kom voordat sy moet gaan klasgee. Maar ’n oomblik se respyt is haar nie beskore nie. Sy is kwalik klaar gestort toe daar aan die voordeur gehamer word. En toe sy oopmaak, staan Bernadette daar met bewende lippe en rooigehuilde oë.

“Hallo, vreemdeling,” sug Adelien en trek haar na binne, vou haar ’n oomblik vertroostend teen haar vas, voel hoe die ontstemde meisie haar kop met die rooibruin hare in haar nek druk. “Wat makeer?” vra sy sommer self ook ontstig. “Of liewer … waarom sien ek jou amper nooit?”

Bernadette se slanke lyf ruk van die snikke. “Ag, hou op verwyt! Ek is besig … soos … soos wat jy goed weet! Die koshuis hou my heeldag op my tone en om in die regte te studeer, is ook geen grap nie!”

“Huil jy omdat jy primaria is of omdat jy die reg as loopbaan gekies het?” vra Adelien lakoniek, maar haak ’n arm om die dun middeltjie toe sy kombuis toe loop.

Haar suster gaan sit by die tafel en vee haar oë af, maar Adelien merk dat daar terstond weer nuwe trane opwel. “Nee, dis natúúrlik nie waarom ek huil nie!” kap Bernadette ergerlik terug.

“Dirk Joubert?!” skiet Adelien ’n skoot in die donker en sien die onmiddellike kramp van hartseer op die mooi gesig. Skrik gryp aan haar hart en sy kom sit dig by haar. “Bernatjie, wat is dit?”

Die liefdevolle stemtoon laat haar suster met snakkende oorgawe huil. Adelien staan solank op, sit die ketel aan en maak roosterbrood, dis eers toe hulle met die eetgoed en koffie voor hulle sit, dat Bernadette bedaar. “Ag Adie, ek het so amper-amper … aan Dirk toegegee!”

Adelien voel die klamp om haar keel. ’n Woede so oud soos die berge stoot soos lawa in haar op. Sy moet diep teug na asem toe sy vra: “En hét julle toe?”

Bernadette skud haar kop so heftig dat die kort rooibruin krulle dans. “Nee … Nee, ons het nie.”

Verligting druis driftig deur Adelien, maar wis nie geheel en al die blinde angs uit nie. Die woorde tuimel onbeteueld oor haar lippe: “En waarom nogal nie? Almal doen dit tog!”

“Ek … soek nie jou sarkasme nie!” snik Bernadette weer, snuit haar neus en kyk betraand op. “Ek dag jy weet iets van sielkunde af!”

“O, ek weet wel!” antwoord Adelien, self op die rand van ’n huilbui. “Maar jy is nie nou in konsultasie nie en … en ek is te blindweg betrokke! My hemel, Bernadette, jy is my suster en ek is lief vir jou! Ek wil nie hóór dat ’n man soos Dirk Joubert by jou geslaap het nie!”

’n Stilte stol en versmelt weer. Bernadette sluk swaar. “Ek kan jou ten minste sê waarom hy toe nié het nie. Dis omdat …” sy sluk weer, “omdat ek nie wou nie. Want dis net nie ék nie.” Toe Adelien bleek bly swyg, voeg sy beteuterd by: “Daar is nog altyd mense soos ek … en jy.”

Adelien leun vorentoe, elmboë op die tafel. “En hoe is ons nogal?”

Bernadette, haar blus blykbaar uit, skud net haar kop. “Ons is net anders, nie beter nie. Ons dink anders oor dinge.”

“Ons het ander oortuigings, ja … Maar afgesien daarvan, die meisie wat haarself aan Dirk Joubert gee, is baie dom. Sy soort soek net lyf en as die lyf begin sak, soek hy elders. Dis wat ek hoor, Bernatjie, en uit meer as een oord. Glo my, nie eens die sanksie van ’n huwelik sal hom meer méns laat word nie. Op die oomblik is hy net man en jagter. Party mans bly dit hul lewe lank. Hulle leer nooit om mens én medemens ook te wees nie!”

“Ek verstaan jou nie,” mompel Bernadette en begin weer trane uit die groenbruin oë afvee.

“Jy wil nie verstaan nie … Dirk Joubert is slegte nuus vir enige vrou, Bernadette. En hy sal dit bly solank as wat hy net sy eie begeertes voorop stel.”

Die stilte is lank en droewig en nog voordat sy praat, weet Adelien wat Bernadette gaan sê. “Maar … ek vóél nog vir hom, Adelien! Ek kan dit nie help nie! Hy … hy het net iets wat my bly aantrek!”

“Ek besef dit,” antwoord sy stadig, “anders sou jy nie in dié toestand wees nie!”

“Wat moet ek doen?”

“Kalm bly en jou kop gebruik. Maar wag, ek moet nou gaan klas gee. Later gesels ons weer.”

Dis toe dat Bernadette die boks met die twee hondjies raak sien en haar gesig helder dadelik op. “Ek wou sê iets ruik soos hond … Waar op aarde kry jy hulle?”

“Lang storie,” sug Adelien en is verplig om eers te wag dat Bernadette klaar groet en pamperlang aan die brakke.

Toe Adelien in haar kantoor instap, voel dit asof sy kilometers ver stywebeen gehardloop het. Die hele oggend was ’n hinderniswedren. Die honde se nagtelike uitstappie, Anna se oproep, Bernadette se liefdespaniek en oplaas die groot klasse vol energieke studente was genoeg om haar tot op die bodem uit te put. Sy sak in die stoel agter haar lessenaar neer. En toe daar ’n kloppie aan die deur is en Henk se bekende, liewe gesig inloer, bars sy in trane uit. Deur ’n waas sien sy sy stomme verbasing. Hy kom in, maak die deur toe en kom trek haar op tot teenaan hom.

“Huil maar,” sê hy rustig. Sy gee haar oor aan die gawe uitnodiging en snik teen sy skouer. Eindelik begin sy snuiwend vertel van die oggend se emosionele eskapades. Hy luister aandagtig en sit sy hande in ’n gedetermineerde gebaar op haar skouers.

“Vanaand vertrek ek en jy en ons vat die brakkies en gaan haal vir Christelle op Stille Weide. Môre meet my ma haar en soek ’n patroon uit wat paslik is. Sondag vat ons haar terug. En volgende week wy ons aan Bernadette se probleem.”

Sy maak haar mond in protes oop, maar hy soen dit toe. En toe sy haar weer kom kry, het hy die leisels stewig oorgeneem. Hierdie naweek is dit Stille Weide toe, en basta.

Abel se dogters

Подняться наверх