Читать книгу Helene de Kock Keur 1 - Helene de Kock - Страница 6

3

Оглавление

Die volgende paar maande verloop voorspelbaar. Daïrus is so besig dat hy feitlik net in die huis in die skilderagtige straatjie slaap. Sylvia bestel sy etes vir hom van ’n nabygeleë restaurant. Soms gaan drink hy ’n vinnige koppie koffie by Hugo en Sanet Malan, en gesels lekker. Maar van die staanspoor af het hy ’n paar uiters kritieke pasiënte, wat al sy aandag verg, en hy het min tyd vir homself. Hy vind sy voete in die kliniek en is verheug dat alles net so gespesialiseerd is as wat Charles-Henry gespog het. Drie maande ná sy aankoms, word die ou tantetjie wat langs hom op die vliegtuig gesit het, tot die kliniek toegelaat met ruggraatprobleme. Sy is verheug om haar blonde reismaat vir ’n dokter te hê, al moet sy nou weke lank daar bly.

Maar Dai is gelukkig. Ten spyte van sy veeleisende werk, is daar ’n rustigheid in hom wat hy nie tevore geken het nie, veral nie die laaste twee jaar nie. Hy voel vry, heeltemal los van enige kwelgedagtes. Hy besef nie in hoe ’n groot mate hy dit aan Sylvia te danke het nie. Sy is die perfekte spreekkamersuster. Sy hou alle onnodige spanninge en konflikte van hom af weg, hanteer moeilike pasiënte met gemak – en dit alles sonder om haar teenwoordigheid ooit voelbaar te maak. Op ’n dag kom hy dit tog agter en is haar baie dankbaar, want dis asof hy ’n emosionele stilstand bereik het, ’n soort tussentoestand waarin hy nie aan die verlede dink nie en hom ook nie oor die toekoms bekommer nie. Hy is onwillig om by enigiets behalwe sy werk betrokke te raak. Die enkele aande wat hy vry het, bring hy in sy studeerkamer deur, wat Sylvia eerste laat herversier het. Dis ’n rustige vertrek waarin hy met sy vakliteratuur kan ontspan of sommer net luilekker kan luister na die ingeboude klanktroustel.

Gaandeweg raak dinge egter meer geroetineerd, en hy het meer vry uurtjies. Sylvia en die binnenshuise versierder se bedrywighede interesseer hom nogal. Hy kan geen fout vind met haar smaak nie, en sy woonplek is vir hom ’n groot plesier. Uiteindelik bly daar nog net die slaapkamers oor om te doen. Hy besef dat Sylvia haar vry dae opoffer om sy woonstel vir hom bewoonbaar te maak, en hy dink daaraan om haar paslik te bedank deur aan haar ’n geskenk te gee en ’n week se verlof voor te stel. Voordat hy egter hieraan volvoering kan gee, gebeur daar iets wat sy rimpellose bestaan heeltemal omkarring.

Een aand kom hy laat tuis na ’n noodoperasie op ’n pasiënt wat inwendig aan die bloei gegaan het. Hy is moeg en bekommerd. Toe hy in die portaal kom, lê daar reg onder die posgleufie in die deur ’n persblou koevert. Sonder dat hy na die handskrif hoef te kyk, weet hy dat dit van sy ma af kom. Hy sug, tel dit op en stap deur na die studeerkamer.

Die inhoud van die brief het ’n uitwerking op hom wat hy nooit sou kon voorspel het nie. Maar nou is dit so dat ’n mens soms die krag van ’n invloed in jou lewe geringskat, om dan later tot die ontdekking te kom dat dit jou gemoedsrus totaal kan versplinter.

Anne Deetlefs skryf dat sy en Martine op ’n uitgebreide reis gaan. Hulle sal drie weke lank in Engeland wees. Miskien bly Martine agter as sy so voel. Sy het lus om ’n onbepaalde tyd lank in Londen te gaan werk. Daar is sterk sprake dat sy ’n pos in die ambassade kan bekom. Dat sy vlot Engels, Duits en Frans praat, is ’n aanbeveling. Dai snork onelegant deur sy neus, gooi die brief op sy lessenaar neer – en voel hoe die ou beklemming weer oor hom toesak. Dis ’n byna kloustrofobiese gevoel.

Hulle sal hom nie uitlos nie! dink hy beangs. Hulle sal hom wragtig nooit uitlos nie! Hulle is net nie mense wat nee vir ’n antwoord aanvaar nie. En praat sal nie help nie. Hy sal sy ma nooit kan oortuig dat Martine liewer nie moet kom nie. Dit sal so goed wees as om die westewind te probeer afkeer, of om die loop van die Teems te probeer verander . . . Hy sal eenvoudig iets ingrypends moet dóén. Iets wat so drasties is dat dit alle kontak tussen hom en Martine sal uitskakel. Mog dit moontlik wees! wens hy byna biddend. Want een ding weet hy: só vasgevang in dié twee vroue se wense kán hy nie meer leef nie. Hy verstom hom by die dag dat hy dit so lank gedwee verdra het . . .

Dit word ’n lang, lang nag waarin Dai glad nie tot ruste kan kom nie. ’n Nag waarin hy werklik worstel met dié probleem. Op die oog af is dit tog eenvoudig: hy hoef maar net die voet dwars te sit. Hy is tog nie iemand wat hom aan die neus laat lei nie. Maar dit is ook so dat hy nooit konfrontasie soek voordat hy daartoe genoodsaak word nie. Miskien, dink hy in die vroeë ure, is dit ’n basiese onvermoë om te weet wanneer om tot direkte konfrontasie oor te gaan. Want as hy sy ma jare gelede al ferm daarop gewys het dat net hý die fyn spel van die liefde speel – hý en die maat van sý keuse – miskien sou dit dan anders gewees het . . .

Al dié spytgedagtes krap aan hom, torring sy gemoed so los dat hy skoon ontwortel voel. So asof hy alle bekende emosies as vreemde gewaarwordinge ervaar. Met skok dink hy dat hy in der waarheid nie weet hoe die liefde voel nie. Vóél ’n mens dit, of wéét ’n mens dit? Of is dit ’n wete wat ’n gevoel losmaak? Al waarvan hy klinkklaar seker is, is dat hy niks, veral nóú, niks vir Martine voel nie! Wat háár aanbetref: ’n mooi ding was nog nooit lelik nie, maar dit is al. Hy het nou net een begeerte en dis om lós te kom. Los van enige verbintenis wat hom hokslaan, op so ’n manier dat hy nie homself kan wees nie.

En hy sal homself nie geleidelik kan losdraai soos wat hy tog onbewustelik gedink het nie. Met een felle slag sal hy alle bande moet breek. Hierdie ding besef hy weer met groot spyt sal nooit in der minne geskik kan word nie. Dit maak hom sielsongelukkig, want hy is geen vegter nie. Alles in hom skram weg van onenigheid, veral tussen hom en dié wat na aan hom is . . .

Eers wanneer die oggendwind eindelik rosige vlieswolkies oor die stad blaas, sien Dai dié kwessie vierkant onder oë. Hy weet presies wat fout is. Hy twyfel ook nie aan die aard van die oplossing nie. Dit sal drasties en doeltreffend moet wees . . .

Die dag begin uit die staanspoor verkeerd. ’n Pasiënt, wat al byna herstel het, sterf skielik. Hy opereer op ’n baie klein seuntjie en vind ’n lelike gewas. Hy doen ’n amputasie, en vyf ure later kan hy aan die ontstelde ouers sê dat die kleinman se kanse redelik is. Die operasielys is lank en veeleisend en daar is net ’n halfuur se speling vir ’n vinnige middagete. Sylvia het vir hom ’n ligte ete bestel.

“Ek het gedink jy sal dalk nie nou ’n groot biefstuk wil inwurg nie, dokter. Daar’s so min tyd,” verduidelik sy.

Dai wikkel hom los uit die groen operasiekleed, haal die pet en masker af en gooi dit eenkant. Hy kyk dankbaar na haar.

“Dis gaaf so, suster.”

Sy knik net en begin koffie skink. Hy kyk na haar slanke wit hande, die pikswart hare teen die blankheid van haar slape. Die eerste maal in weke sien hy haar regtig raak. Watter sieraad van ’n mens, dink hy. Sy is so . . . so bruikbaar, so geheel en al nuttig. En meer nog – as sy ’n man was, sou hulle boesemvriende kon wees!

Toe kom die ander dokters ook ingewaai vir ’n haastige happie, en daar word so tussen die eet van brood en ham net van bekkenbene, gekraakte ribbes, Röntgenstrale en operasies gepraat. Enigiemand wat dit nie gewoond is nie, sal sy kos beswaarlik gesluk kry. Vyftien minute later is dit nog net Dai wat aan sy warm koffie sit en proe.

“Jy het nog net ’n paar minute, dokter,” herinner Sylvia hom sagweg en ruim die laaste paar vuil borde en koppies weg.

Dai loer skuinsweg na haar.

“’n Regte slawedrywer, jý! Sê nou ek verstik omdat ek so vinnig moet eet!”

“Jy sal in goeie hande wees, dokter!” sê sy en glimlag terwyl sy haar hande aan ’n vadoek afdroog.

“Wat wou!” antwoord hy lighartig. “Dié ou spul weet net so ietsie van beendere af. Kom ek wed jou as iemand hoes, dink hulle hy het sy sleutelbeen verstuit!”

“Wel, jou longe sit mos in daardie omgewing!” sê sy gemaak ernstig.

“Nou toe nou!” sê Dai sag en leun agteroor om haar deur vernoude oë te beskou. “Ek het al begin dink jy’s bang vir grappies!”

’n Oomblik lank lyk dit asof sy nie weet wat om te antwoord nie, en daar is ’n effense kleurtjie in haar andersins bleek wange. Dan glimlag sy en dit laat haar vreemd weerloos lyk.

“Nee, jy maak ’n fout. Ek is bang vir erns.”

Toe swaai sy om en loer in die gang af.

“Ek moet gaan skrop,” kondig sy aan. “Hier bring suster Jones al die pasiënt op die trollie!”

My goeie aardbol! dink Dai geamuseerd. Nou net asof ek nie weet die arme pasiënt is in aantog nie, en asof ek nie al jare der jare lank voor ’n operasie geskrop word nie. Sy is so ontwykend as wat kan kom! Nes ’n mens wil gesels, slaan sy op die vlug!

Toe stap Dai op sy tyd na die operasiesaal, staan soos ’n sfinks terwyl Sylvia sy operasieklere vasmaak, en wens sy wil iets verkeerds doen. Hy wens sy laat die masker val of trap op sy toon of iets. Solank hy haar ’n behoorlike afranseling kan gee. Sy is darem só perfek . . .!

Hulle kry vroeër klaar as wat hy gedink het, en hy kan tydsaam by al sy pasiënte inloer. Sylvia doen saam met hom die rondte en is so op datum met alles dat hy feitlik niks aan haar hoef te verduidelik nie.

Dai ry huis toe in ’n beter gemoedstemming as die oggend. Dis asof daar effens lig gekom het – vanwaar weet hy nie, maar dit is daar. Hy weet immers nou dat die saak hanteer kan word. Nee, dit móét nou hanteer word, korrigeer hy homself. En eerlik soos hy is, weet hy dat hy dié saak te lank gelaat het. Die tyd toe hy kon praat en effek verwag, is verby. Hy sal iets moet dóén. Maar dis asof die antwoord hierop net buite sy brein bly hang. Onwillekeurig dink hy aan suster Saunders. Nee, Sylvia. Suster Saunders is by die spreekkamers te vinde. Dis Sylvia wat hy nooit kan vasvat nie. Suster Saunders is vir hom tot groot hulp, maar Sylvia, moet hy erken, irriteer hom. Dis asof hy nie tot haar wese kan deurdring nie. Dis vreemd prikkelend om oor haar te wonder. ’n Mens moet haar tóg kan teken, dink hy. Sy is mooi, sy is bekwaam, sy is vriendelik . . . sy is hom tot hulp. Maar dit alles sê werklik nog niks van háár nie.

Meteens dink hy aan die skeppingswoorde wat oor die vrou uitgespreek is: . . . as hulp vir Adam . . . En, in skielike openbaring, weet hy: Sylvia is die ideale hulp vir hóm. Sy is altyd daar, maar sy eis niks.

Dié gedagte bly in sy kop sit en begin verteer. Die volle implikasie tref hom toe hy die wit sportmotor, wat intussen met die skip gekom het, by die motorhuis intrek. Hy bly sit ’n rukkie agter die stuurwiel en laat sy gedagtes bedaar . . .

Dan klim hy uit en stap deur die begroeide vierkant na die agterdeur. Toe hy deur die klein kombuisie met die donker houtkaste stap, hoor hy die eerste klanke. Dit kom onteenseglik uit die sitkamer. Helder klaviernote, wat soos druppels in ’n poel die hele atmosfeer vloeibaar maak. Dit gee ’n trilling van lewe aan die eksklusiewe woonplekkie en ontstem Dai op ’n vreemde manier. Hy bly ontroerd staan in die portaal met sy hand op die blink gepoleerde trapleuning. En hy luister . . . Chopin se polonaise in C mineur. Dan die nokturne in E mol. En met ’n ongelooflike verandering van aanslag, ’n jubelende jazz-nommertjie . . .

Hy het ’n paar weke gelede genoem dat Sylvia gerus vir hom kan uitkyk vir ’n goeie vleuelklavier. Sy het dit klaarblyklik as verrassing vir hom vandag laat kom. En hy weet dat dit sý is wat speel. Hy wéét dit net. Daar is iets herkenbaars wat uit die musiek vloei en deursypel na die ander vertrekke . . .

Te bang om te roer, staan hy doodstil en luister met oorgawe. Daar is geen vertoon in haar spel nie, maar sy vertolk haar diep verskuilde self in die musiek. Daar is niks eensydigs aan Sylvia nie, besef Dai. Sy is fyn geslyp met baie fasette . . .

Toe kan hy nie meer stilstaan nie. Hy beweeg sag die sitkamer binne. Sy voetstappe maak geen geluid op die sagte Aubusson-mat nie. Die klavier staan teen die agterste binnemuur. Dis ’n pikswart vleuelklavier. En dit ís Sylvia wat speel. Sy hoor hom nie. Maar toe sy meteens ophou speel, gaan hy staan. Sien hoe sy ingedagte met haar lang vingers oor die klawers vee. Sy het nog haar uniform aan en moet sekerlik gejaag het om voor hom hier te kom. Sy maak die boonste keelknopie los en pluk die gestyfde kopdingetjie af. ’n Paar fyn blouswart stringetjies hare kom los en hang swewend om haar gesig. Sy sit die wit mussie ongeërg op die klavier neer en skuif reg om weer te begin.

Voordat haar hande die klawers raak, begin Dai sing:

“Who is Sylvia? What is she? That all our swains commend her . . .?”

Sy diep baritonstem stroom deur die vertrek. Sylvia swaai verskrik om en wil net opvlieg, maar hy druk haar ferm aan die skouers terug.

“Speel!” sê hy en begin weer die lied sing.

Aanvanklik speel sy huiwerig, byna stokkerig, met niks van die spontane vertolking van netnou nie. Maar gaandeweg kom sy onder die bekoring van lied en stem, en teen die tweede strofe het sy vergeet vir wie sy speel. Sy is ’n goeie begeleidster ook, en haar spel smee saam met sy sang, ’n voordrag wat weinig kritiek op ’n konsertverhoog sou uitlok.

Toe dit klaar is, lag sy effens uitasem op in sy gesig. Weg is haar skuheid, haar raak-my-nie-aan-houding.

“Dit was eenvoudig heerlik! Ek het natuurlik geweet jy sing mooi. Maar dis veel meer as dit! Ek is nou lus om jou te vra waarom jy dokter geword het?” sê sy opreg.

Dai lag en steek sy hande in sy sakke, gaan sit op die hoepelbeenstoel vlak langs haar.

“Nee wat, jong, ek sien myself darem nou nie op die operaverhoog nie! Ek sing maar sommerso vir myself en vir my vriende . . . veral my vriendinne . . .!”

Dis asof daar ’n deur toeklap tussen hulle, asof hy meteens heeltemal alleen in die vertrek is. Sy staan op, neem die wit mussie en reik na die leerskouersak wat sy altyd by haar dra.

“Ek moet nou gaan. Dit was voorbarig van my om so te sit en speel. Ek het gedink jy sal eers gaan eet, dokter. Eintlik . . . wou ek net hoor of die klank regtig so goed is as wat dit in Christie’s geklink het . . .”

“Christie’s . . .?” vra hy afwesig terwyl hy sukkel om te probeer peil wát haar op loop gejaag het.

“Ja, hulle het mos elke dag ’n veiling,” sê sy meer bedaard. “Ek het gehoor ’n mens kon vandag op ’n Niendorf-vleuelklavier bie. Gistermiddag het ek na die voorskou gaan kyk en geluister. Ek het mevrou Thatcher gevra om te gaan bie . . .” Sy vou haar hande bedees voor haar en swaai een slanke enkel voor die ander. “Ek . . . ek is bevrees ek het . . . e . . . jý het byna tweeduisend pond daarvoor betaal . . . Eintlik was jy baie gelukkig, daar kon nie baie belangstellendes gewees het nie, want só ’n klavier . . .! En jy hét gesê jy wil ’n goeie een hê . . .” Haar oë is groot en bekommerd in die smal gesig.

Dit word week en warm om Dai se hart, ’n milde gevoel wat hom byna vaderlik laat voel.

“Sit, Sylvia,” sê hy sag.

Sy stoot die klavierstoeltjie in en gaan sit stywerig op ’n fyn tweesitplekbankie. Dai leun agteroor, strek sy lang lyf gewaag op die brose langbeenstoeltjie en kyk dak toe.

“Suster Saunders, hoekom ontspan jy nie? Ek gee jou my woord as gebore en geswore Afrikaner dat ek nie besig is om jou die hof te maak nie! Maar ons is mos vriende, is ons nie?” Toe eers kyk hy weer na haar.

Sy sit stom, haar hele houding boogsnaar gespanne. En haar oë ontwyk hom.

Eienaardig, dink Dai, hoeveel emosie daar in so ’n oënskynlik kalm mens kan skuil. Want dat die emosie daar is, weet hy intuïtief.

“Sylvia . . .?”

“Dokter Deetlefs, ek hou nie van . . .”

“Wie’t gepraat van familiariteite?” val Dai haar ergerlik in die rede. “Dis ’n lamlendige ou argument! Ons is nie altyd op diens nie! En wanneer ek van diens af is, Sylvia, het ek iemand soos jý nodig. Iemand wat vriendskap vooropstel, wat tog nie op loop gaan nie . . .” Hy bly verskrik stil. Wat makeer hom om so te tier? Hy, Daïrus Deetlefs, wat so hoflik is dat hy nie eens sy eie ma kan berispe nie! En hy pleit: “Daar is mos . . . e . . . kameraadskap tussen ons, is daar nie, Sylvia . . .?”

Sy knik, stryk die wit mussie plat tussen haar vingers.

“Ja, natuurlik, dis net . . .”

“Dat jy bang is . . .” vul Dai sag aan. Hy sit vooroor, stut sy elmboë op sy knieë en laat sy ken op sy saamgeklampte hande sak. Hy sien dat sy bleek is; tot haar wange is wit, en ’n fyn blou aartjie loop langs haar slaap. Sy lig haar kop en kyk hom in die oë. Dai se hart draai binne-in hom. Vreemd, dink hy, haar oë is werklik viooltjiekleurig, ’n fluweelpers wat ’n mens die indruk laat kry dat jy al dieper en dieper kan kyk . . .

“Luister na my,” sê hy meteens bruusk. “Ons ken mekaar mos nie van vandag af nie! Ek weet weliswaar nie veel van jou nie . . . en hoe die seerkry gekom het nie . . . maar onthou jy die dag toe ek en Charles-Henry en die ander gaan roei het op die Teems? Jy en suster Stevens en nog twee ander het op die oewer vir ons gesit en skree . . .”

Sy glimlag fyntjies en daar kom ’n sagte kleur op haar wange.

“Hm, en het ons nie geskree nie! Julle het teen Guy’s se huisdokters geroei, en dit was ondenkbaar dat julle moet verloor . . .”

“Moenie my sê dis ál wat jy van daardie dag onthou nie, Sylvia!”

Skielik is dit asof sy ontspan. Haar skouers verloor hul styfheid, en sy vee haar uniform glad oor haar bene toe sy hulle voor haar uitstrek, enkels gekruis.

“Nee, Dai, natuurlik nie. Ons twee het op die een of ander manier daardie dag bymekaar uitgekom en begin gesels. Gaan stap ook. Toe ons weer by die piekniekplek kom, was die ander al weg.” Sy lag skielik spontaan, haar breë wittandlaggie, gooi haar kop terug en druk haar hande teen mekaar – ’n outydse gebaar wat Dai vreemd bekoor. “Ons het myle ver geloop om weer by die hospitaal uit te kom. En jy het my gehelp om by my kamervenster in te klim! Weet jy ooit dat ek lelik geroskam is daaroor? Matrone Barrie het my gesien . . .”

“Nooit!” veins Dai met groot oë, en hy dink: Heksekind! Jy maak verniet asof jy vergeet het ek wou jou soen onder die elmboom voor dieselfde venster! Jy het onder my arm deur geduik en byna deur die ruit gevlieg, laat staan nog die venster! Ek was nogal gekrenk, maar nou weet ek dat ek by dit alles blind was ook!

Hy staan skielik op, steek sy hande in sy sakke en frons effens.

“Dit was kort voor die eindeksamen, nè?”

Sy knik.

“Daarna het ek jou ’n paar maal uitgeneem,” sê Dai asof hy met homself praat. “Een keer na Charles-Henry se partytjie by Hepley Manor, na ’n dans of twee, en een keer na ’n Shakespeare-opvoering . . .”

“The Two Gentlemen of Verona,” sê sy met ’n fyn-fyn laggie in haar pers oë. “En jy het my gevra omdat die lied ‘Who is Sylvia?’ daarin voorkom, want jy was nie bra seker wie jy wou vra nie! In elk geval, jy was in ’n taamlik afwesige bui daardie aand. Ek kan nie onthou of jy elf of twaalf woorde met my gepraat het nie. Maar dit het my nie gehinder nie – ek ken mos julle dokters so voor ’n groot eksamen!”

“Ja . . . dit was kort voor die eksamen,” herhaal Dai lammerig.

“Drie dae, om presies te wees . . .”

“Werklik? Ek moet van lotjie getik gewees het! Ons was nogal Stratford-on-Avon toe vir die okkasie!”

“Ag wel, jy het die afleiding nodig gehad, en toe jy nie weet wie om saam te vra nie, toe val dit jou by dat ‘Who is Sylvia’ maar net sowel Sylvia Saunders kan wees!”

Dai sit doodstil na die matpatroon en kyk.

“Sjoe!” sê hy uiteindelik. “Dit noem ek nou uitvreet met grasie!”

“Hoegenaamd nie! Dis net om jou te wys dat ek net so eerlik is soos jy! Dis maar net dat ek nooit dink dat mense se doen en late noodwendig swaargelaai is aan betekenis nie!”

Dai tik op sy sakke op soek na ’n sigaret. Hy steek een tydsaam op en teug diep, vryf ingedagte oor sy agterkop.

“Wat ek die meeste van jou waardeer, Sylvia,” sê hy, “is dat jy nie dom is nie!”

Voordat sy nog kan reageer, verander hy die onderwerp:

“En wat die klavier betref, ek is jou baie dankbaar, soos trouens met alles wat jy hier vermag het. Ek hét jou mos ’n vry hand gegee, en dis werklik ’n redelike prys vir ’n Niendorf-vleuel. Hy het ’n lieflike klank . . . vol en diep . . .”

“Dan is ek bly,” sê sy en staan op. “Sê my, moet jy nie maar ’n rukkie wag met die twee slaapkamers nie? Dit gaan ook . . . heelwat kos. Veral as jy nog ’n stort in die badkamer ook wil laat aanbring. Ek dink ons moet die ingevoerde Italiaanse teëls ook maar laat staan . . .”

Dai proes van die lag.

“Jy laat my nou aan die hippie dink wat ’n goue ghitaar gekoop het, en toe ses maande lank nie geëet het nie! Lyk my jy wil hê ek moet sing en klavier speel, maar op die grond slaap!”

Hy sien hoe ’n blos oor haar gesig sprei en die verleentheid diep uit haar oë kom. Hoe liggeraak is sy nie! dink hy. Wie sou haar so sku gemaak het?

“Steur jou tog nie aan my nie, Sylvia,” sê hy bedaard. “Ek is ’n welgestelde man en kan werklik bekostig om selfs twéé storte in die badkamer te laat installeer . . .”

Hy hou op met praat en kry die laggie wat hy gesoek het.

“In alle eerlikheid, Sylvia, ek is goed gekussing, soos wat Charles-Henry sou sê. Nie dat dit altyd tot my voordeel was nie. Ek het ’n idee dat dit vormend was in die probleemsituasies in my lewe . . .”

“Soos . . .?” neem sy weer versigtig deel aan die gesprek.

“Voordat ek jou daarvan vertel, wil ek jou eers iets vra. Hou tog op om soos ’n eekhorinkie te verskyn en te verdwyn wanneer ek met jou praat!”

Haar mond gaan oop in verbasing en een hand begin met die boonste uniformknopie vroetel.

“Ek begryp nie . . .?”

Dai gryp die hand speels vas in syne.

“Ja, jy begryp! Moenie so wantrouig wees nie. Die een oomblik is jy nog met my en die volgende sluit jy jouself so af dat dit vir my voel ek praat met myself! En . . . dit kos heelwat mooipraat om jou weer mét my te kry! Hoekom?”

Hy kan behoorlik sien hoe sy weer wegraak, tog trek sy nie haar hand uit syne nie.

“Dit . . . sal ek op ’n ander keer aan jou vertel . . .”

Hy bly na haar kyk, na die pers oë met die lang wimpers, wat klein waaierskadu’tjies op haar wange gooi; die oë wat donker en diep raak sodat hy nie weet wat in haar gedagtes omgaan nie. En iets van hul misterie kom raak veerlig aan sy hart. Dit word die eerste ragfyn gewaarwordinge van ’n emosie wat Dai glad nie ken nie. Dit vang hom onkant, maak hom lighoofdig en beroof hom van rasionele denke sodat hy sommer sê:

“Jy moet vir ons gaan tee maak!”

Sy draai sonder ’n woord om en gaan maak so. Dai sak in ’n stoel neer en hoor hoe sy werskaf in die kombuis. Die teekoppies rinkel en die ketel fluit toe die water kook. En ’n saligheid sak oor sy gemoed. Ek en Sylvia, dink hy tevrede, gaan nog baie groot vriende word. En dit, besluit hy wys, is net die regte basis vir die verhouding wat hy in gedagte het. Want die oplossing van sy probleem het in ’n oogwink by hom opgekom. Die hersenskimmige idee dat hy iets sal moet doen, het ’n plotselinge besluit geword . . .

Toe sy die tee bring en begin skink, sê hy besadig:

“Jy wou netnou weet met watter probleemsituasies ek te kampe het . . .”

“Jy hoef my nie te vertel nie . . .”

’O, maar ek móét!” sê Dai gemoedelik en vat sy tee aan. “Ek dink dis noodsaaklik dat ek jou van Martine vertel . . .”

Dai sien hoe alle uitdrukking uit haar gesig wyk. Sylvia met die pers oë is weg, en dis suster Saunders wat na hom sit en kyk.

“Kom tog terug,” sê hy gelate en roer sy tee. “Kom terug, anders kan ek nie met jou praat nie.”

Sy trek haar asem skerp in en daar gloei kolle op haar wange.

“Jy is onhebbelik, dokter Deetlefs! Ek kan nie besluit of jy skerpsinnig of eiesinnig is nie! Kry jy altyd jou sin?”

Dai bekyk haar onverstoord.

“Meestal, ja! Maar ek gee toe – daar’s kans op verbetering. Dit sal een van jou take wees, hoop ek . . .”

Sy maak haar mond oop om te praat maar hy hou sy hand op.

“Voordat jy my vra wat ek daarmee bedoel, gaan ek jou met ’n teenvraag antwoord. Dink nou goed. Gebruik ons gesprek vanmiddag as basis en laat jou besluit daaruit volg. Wag . . . ek wil myself tóg herhaal: Ek is nie besig om jou die hof te maak nie, so moet dus nie op die vlug slaan nie . . .”

“Ek dink werklik jy’s versigtiger vir my as wat ek vir jou is . . .” glimlag sy.

“Dis moontlik,” beaam Dai ernstig, sit sy teekoppie neer en leun met sy elmboë op sy knieë, sy hande liggies inmekaar gestrengel. Hy klem sy tande, neem toe ’n diep asem.

“Sylvia, sien jy kans om met my te trou?”

Helene de Kock Keur 1

Подняться наверх