Читать книгу Helene de Kock Keur 1 - Helene de Kock - Страница 9

6

Оглавление

Martine is hier. In Londen. In sý huis. In sý sitkamer!

Dai gaan staan ontredderd in die paadjie van die vierkant, en sien hoe een van die vroue in die sitkamer se skaduwee voor die venster verbybeweeg. Dan nog een en nog een, soos hulle opstaan om hul koffiekoppies neer te sit, of op te tel. Anne en Martine . . . en Sylvia. En hulle gesels. Hy kan die deining en daling van hul stemme deur die dun glasvensters hoor. En Martine se lag, haar lag wat sy gebruik om oomblikke te oorbrug, om ’n bitterskerp woord suursoet te laat klink.

Hy het gewéét hulle sou kom. Sy ma en Martine. Toe hy die kabelgram die Maandag ná hul troue aan sy ma gestuur het, het hy tog geweet sy sou kom kyk of daar nie iets te redde is nie. Sy het immers nog altyd aan die teenvoorstel geglo. Toe klein Dai met sy vlasblonde koppie ’n teddiebeertjie wou hê, het sy hom ’n aitsarige seunjiepop gebring, met blink, swart haartjies en star, blou ogies. Glad, glad nie soos die vuilbruin teddie met die knopiesogies wat hy op ’n Kersboomparty in ’n ander kind se arms gesien het nie. Hy het die pop gevat en sy ma toegelaat om klaar om hom te kloek, gewag tot sy uit die kamer is, en die pop onder die bed ingesteek. Hy het nooit daarmee gespeel nie. En toe sy ma ontsteld probeer vis waarom hy nie van die pop hou nie, het hy bedremmeld geantwoord:

“Dis te mooi om mee te speel . . .”

Jare later wou hy ’n resiesfiets hê om mee skool toe te ry – ’n rietskraal geraamte van ’n ryding wat hy op een vinger kon balanseer. Toe hy aan sy ouers sê dat hy só een tweedehands by ’n maat gekoop het, het sy pa met sy afwesige glimlaggie geknik, hom die genot van sy aankoop toegewens en hom gereed gemaak om na die kliniek te vertrek. Sy ma het eers stilgebly, die stilte oor die etenstafel tussen hulle laat rek, ’n broodrolletjie tussen haar vingers verfrommel. Sy het geprobeer om diplomaties te wees deur geen woord te sê nie, maar haar houding het hom direk geopponeer. Hy het vervaard verskoning gemaak en swembad toe gevlug.

Toe hy die volgende middag uitgelate teen die wind op beur, al met die laning op pad huis toe, het hy haar in die voordeur sien staan. Fyn, keurig, ’n soort onderdrukte opgewondenheid in haar klein handjie teen die swaar houtkosyn – so asof sy haarself moet inhou om hom nie tegemoet te hardloop nie.

Hy het vlak by haar oordrewe gerem met ’n gesjor van die los gruis in die motorpad. Sy het gemaak asof sy die fiets glad nie opmerk nie, en het by hom kom inhaak, waar hy op die hoë saal sit. Hy het byna sy balans kwytgeraak en met ’n sprongetjie weer op sy voete gekom. Die neongroen raamwerk van die fiets het soos ’n jong lat gesidder en uit sy greep geglip, knarsend op die gruis geval. Hy het ontsteld teruggerem om dit op te tel, maar sy het klein en smekend aan sy arm bly hang.

“Ag, lós die ou ding, boetie! Kom kyk wat het ek vir jou!”

Hulle het saam om die hoek van die huis gestap, sy jong mond dun van verset. In die skadu van die bloureënprieel het ’n blinkrooi gevaarte gestaan. Die helder middagson het vonke uit die chroom laat spat. Met sy oë op die motorfiets het hy gevoel hoe dit willoos word binne-in hom. Hoe kón sy! Hy het nog altyd ’n fyn sin gehad vir die paslikheid van dinge. En hierdie . . . hierdie ding het nie gepas nie. Nie by Daïrus Deetlefs nie.

Dit kort werklik nog net ’n lugdraad met ’n plastieklemoentjie op! het hy mopperend gedink. Die ding het meer tooisels as ’n Kersboom! Hy het bewus geword van sy ma, wat steeds soos ’n opgewonde skooldogter aan sy arm bly hang. Met haar goedversorgde vingertjies het sy teatraal oor die breë, swart leersitplek gevee.

“Dis mos nou ’n Deetlefs-ding dié!” het sy selfvoldaan gesê.

Vir die eerste maal het Dai ’n woede oor hom voel kom, ’n kwaadword wat ontspring omdat hy meteens geweet het dat sy ma se sporadiese impulsiwiteit nie spontaan is nie, maar planmatig. Toe het sy hom gelos en haar plat hand ferm oor die sitplek geplaas, haar oë skerp van konsentrasie.

“Óns goed het kwaliteit, Dai!”

Sy het haar hand ’n bietjie oorspeel, want hy was haar eie kind, en sterk soos wat hy haar wil kon aanvoel, het sy eie verset na bo gestoot. Hy wou-wou sy mond oopmaak om sy woede te laat ontsnap, en toe gevoel hoe sy pa se subtiele selfbeheersing oor hom spoel en hom versigtig maak. Hy het nogtans breed bly staan, sy lenige jongmansgewig na die ander been verskuif. Maar hy kon die misnoeë nie keer wat in sy stem deurgeslaan het nie:

“Ma moenie kwaliteit met koste verwar nie . . .”

“Wat bedoel jy?” Sy was dadelik kwaad.

“Ag niks, Ma . . .” het hy ontwykend geantwoord. Om op ’n lang verduideliking in te gaan, sou sinloos wees. Hy weet tog lankal dat sy meer op sy stemtoon ag slaan as op die inhoud van sy woorde. Sy houding grief haar, nie sy argumente nie.

Hy het tot by die motorfiets geloop, hom verbeel dat die antagonisme wat hy teenoor die gevaarte voel, in golwe van brullende geweld uit die chroom-en-rooi na hom terugkaats. En hy hét so ’n afsku daarin . . . in enigiets gewelddadigs . . . Hy het hom al baie die goedige spot van sy maats op die hals gehaal deur reg teen die stroom in antimotorfiets te wees.

“Gaan jy nie ’n draai ry nie, boetie . . .?” het sy ma skielik weer gepleit. “Ek het baie . . .”

“Betaal vir hom!” het hy haar lakoniek onderbreek. “Maar goed dan. Ek sal die duiwel uit hom ry!”

“Dai!”

Haar geskokte roepie is gesmoor deur die plotselinge brul van die masjien toe Dai hom aan die gang skop. Hy het weggetrek dat die prieel blou blommetjies gereën het, en toe het hy die laning na die wit hekke toe oopgekloof met sy geraas. Hy het die motorfiets gery asof hy hom wou inbreek, sy tande opmekaar geklem en bloedrooi in die gesig. ’n Paar bekendes in die buurt het met verbasing gesien én gehoor hoe die bedaarde Daïrus Deetlefs op ’n kragtige motorfiets die wêreld aan die brand jaag – kersregop en met sy vlaswit hare wapperend om sy gesig. Hy het heeltemal anachronisties gelyk, byna soos ’n Middeleeuse ridder op ’n branderplank.

’n Uur later, toe hy die gevaarte in die motorhuis langs sy ma se sportmotor parkeer, het hy finaal geweet dat hy ’n baie romantiese siel is. Hy sal ’n fiets trap dat die wiele sing en die wind fluit, maar op ’n motorfiets bly daar ’n stuk van hom agter. Hy sou dié ding nooit weer ry nie. Die volgende oggend het hy sy ma se oë op hom gevoel toe hy ewe met die groen resiesfiets skool toe ry. Sy moes egter die boodskap verstaan het, want sy het nooit weer na die motorfiets verwys nie. Miskien het sy toe vaagweg begin begryp dat ’n mens ’n onwillige perd nie kan laat drink nie. Maar Anne Deetlefs kon ook subtiel wees, as sy wou . . . en vir jare het die motorfiets daar in die motorhuis bly staan – sonder dat daar ooit weer ’n woord daaroor gewissel is. Maar dit het tussen hulle bly hang, soos iets wat ’n mens onder lede het en enige tyd kan uitslaan met groot ongemak tot gevolg. So het die swyende verwyt dan een van Anne se gesofistikeerde wapens geword. Tog het sy trots gemaak asof daar nooit iets gebeur het nie, en terstond haar aandag aan ’n nuwe strategie gewy. Dai wens met sy hele hart dat dit nou weer wil gebeur, dat daar tog iets moet plaasvind wat hom sal noop om te vergeet van ’n moontlike hereniging van hom en Martine . . .

Dis nie dat hy so iets nie sal kan afweer nie – hy is immers geskool daarin om haar teenvoorstelle te deflekteer. Hy het dit al male sonder tal suksesvol gedoen, maar hierdie keer gaan dit moeilik wees. Dit gaan emosioneel soveel van hom eis – en hy voel reeds soos iemand wat hoog bo die grond dans. En dit alles omdat hý die fout begaan het om te dink dat hy Sylvia as teenvoorstel kon gebruik . . .

Hy wonder meteens waarom Sylvia so ontsteld was voor die ontmoeting met Radcliffe, en toe hy weer dááraan dink, kry hy so ’n gevoel van voldoening dat sy mondhoeke in ’n glimlag lig.

Toe stap hy die huis in, reëlreg na die sitkamer. Hierdie besoek, sê hy aan homself ter versterking, is na alles nie onverwags nie, en die verloop daarvan is baie, baie voorspelbaar . . .

Toe sy lang figuur in die deur bly staan, is daar ’n krakende stilte. Drie paar oë is op hom vasgenael, hóú hom asof hulle bang is dat hy dalk soos die een of ander mitiese godheid in rook kan verander en hulle net so verlaat.

Sylvia sit kersregop op die klavierstoeltjie; haar hande klem haar boarms vas en haar bene is oormekaar geslaan. Sy is nog in uniform en haar hare is effens onnet asof sy dringend besig was toe die gaste opdaag. Hy kan haar gespannenheid oor die vertrek aanvoel, haar oë groot in haar bleek gesig. Hy knipoog skaars merkbaar vir haar, en skielik is daar rapport tussen hulle, meer as wat daar nog ooit was. Hy sien hoe sy innerlik ontspan en ’n geamuseerdheid in haar oë kom.

Martine en sy ma sit saam op ’n bankie. Anne Deetlefs sit enigmaties en glimlag, haar rug heeltemal reguit. Sy lyk asof sy ’n onderhoud toestaan. Martine se mond is halfoop, en toe hy na haar kyk, glimlag sy skitterend en haar oë pruil.

“Jou vabond . . .” adem sy. “Om sommerso te trou sonder om ons eers te vra!”

’n Skewe ding om te sê, maar dit maak die pad oop. Dis byna asof Martine ’n lintknipseremonie waargeneem het. Want Dai kom in, loop tot by Sylvia en druk haar kop teen sy heup aan. Onder sy vingers wat hy om haar ken vou, kan hy die ontstelde klop van haar pols voel.

“Wel, neem jy my kwalik . . .?” daag hy, baie bewus van sy ma se sprekende stilswye. “Dit het net ’n weersiens gekos om ons te laat besef wat ons byna verloor het . . .!”

“’n Weersiens?” vra sy ma vinnig, en Dai glimlag innerlik. Hy het mos geweet sy sou nie lank haar nuuskierigheid kon bedwing nie. Maar sy probeer dit dadelik demp met ’n sagte klag: “Jy het my nog nie gegroet nie, boetie!”

“Daarby kom ons!” sê Dai ferm. “Eerste dinge kom eerste! ’n Weersiens, ja, omdat ek en Sylvia mekaar nie van vandag af ken nie . . .”

Anne Deetlefs staan vinnig op en kom na hom toe asof sy die paar tree tussen hulle nie meer kan verduur nie, asof sy hoop dat haar blote nabyheid magneties op Dai sal inwerk.

“Dit het sý ons ook vertel, maar . . .” begin sy.

Dai los Sylvia saggies en neem sy ma aan die skouers.

“Daar is geen maars nie. Sylvia is my vrou . . .” antwoord hy luiters.

“Ek gaan kos maak!” sê Sylvia en spring op. Anne kyk haar met misnoeë agterna. Hulle hoor haar vinnige voetstappe in die gang en die klik van die kombuisdeur toe sy dit agter haar toemaak. Dai wens met alles wat in hom is dat hy by háár kan wees. Ná ete, wanneer die ander twee na hul verblyfplek vertrek het en hulle alleen is, sal hy hierdie . . . hierdie afstand tussen hom en sy vrou uitwis . . .

Hy druk sy ma ’n oomblik lank teen hom vas, soen haar lig op die mond.

“Dag, my ma. Sit nou dat ons kan klaar praat . . .”

Sy druk met haar klein handjies teen sy bors, lig ’n verontregte gesig na hom.

“Ag, boetie, waarom het jy dan nie maar dié Sylvia huis toe gebring nie? Waar kom sy in elk geval vandaan? Jy kon darem eers gewag het! Miskien anders besluit het . . .”

“Néé, Ma,” antwoord hy haar warboel verwyte kortom. Martine sit ken-in-die-hand en luister asof sy nog nooit iets met Daïrus Deetlefs te doene gehad het nie. Dai frons.

“Ek wil dit nie nou bespreek nie!” sê hy bot. “Trouens, daar is niks meer te sê nie!”

“Ag!” sê sy ma op ’n klein ontploffinkie van haar asem, en gooi haar handjies in die lug. “Die hele affêre is so . . . so bourgeois!”

En dit is vir haar sinoniem met ’n lelike woord, besef Dai. Hy druk sy hande diep in sy sakke. Daar is ’n krieweling langs sy ruggraat af wat hom sy woorde laat afmeet.

“As dit so is, is dit net Ma wat so dink . . .!”

Sy vlieg om en Martine staan op om by die deur uit te glip.

“Dis net waar jy die fout maak!” sê Anne bitsig. “Almal . . .”

“Ek gee werklik nie om wie ‘almal’ is en wat hulle dink nie . . .!”

“Boetie . . .!” Sy kom klem in die ou bekende gebaartjie aan sy boarm. “Ag boetie, moenie dat ons lelik baklei nie! Kom ons . . .”

“Aanvaar dat ek getroud is met die vrou van my keuse . . .”

Hy kyk so ongenaakbaar op haar af dat haar gesig, omraam met die lilagrys haartjies, stil word, en hy sien behoorlik hoe sy haar terugtrek. Sy draai weg van hom, stap na ’n mooi ornamentele vaas op ’n Sheraton-tafeltjie. Sy ruk haar hand weg voordat sy daaraan kan raak, en druk dit voor teen haar bors vas.

“Vergewe my dat ek bedenkinge durf opper!” Haar stem is klein en seergemaak.

Dai druk sy lippe opmekaar en blaas sy asem hard deur sy neus.

“My liewe ma, gee my krediet dat ek darem sóms ’n gelukkige besluit kan neem!”

Daar val ’n klein stiltetjie en Dai neem sy kans waar om ’n bietjie salf te smeer:

“Ag Mams, sy pás by my!” Hy wys met ’n swaai van sy arm na die swart vleuelklavier. “Sy speel pragtig . . . Begelei my soms . . . Ons . . . is nog net nie heeltemal . . . ingeoefen nie!”

Geen reaksie. Soos altyd wanneer hý die een is wat smeek, neem sy die houding aan van iemand wat glad nie weet waarom hy nóú so ’n bohaai maak nie. Laat dit nou die laaste keer wees dat jy dink dat jy só iets sal bereik! dink hy wrewelig en nie sonder hartseer nie.

“Waar is Ma-hulle tuis?” vra hy byna ongeërg.

Daar is ’n speling van emosie op sy ma se gesig toe sy half onsamehangend antwoord:

“Ons het nie eintlik bespreek nie . . . Sy . . . het my die huis gewys!”

Dai voel hoe dit stokstyf word in sy borskas. Dis kompleet asof daar iets oor sy hart span. Hy wens vaagweg sy ma wil ophou om na Sylvia te verwys as “sý”.

“Ja . . .?” kry hy uit. “En hoe hou Ma . . . van ons huis?”

“Ek . . . kan sien dat dit nie jóú smaak is nie, boetie . . . Maar dis nie wat ek nou wou sê nie. Sy het gesê ons kan in die gastekamer slaap. En ék het gevra of Martine in jou studeerkamer kan slaap . . .”

“In my studeerkamer . . .?” herhaal Dai skoon dom. Sy brein voel dik, onmagtig om enige gedagte te formuleer. In sy studeerkamer . . .

Anne kom staan weer digby haar seun, haar gesig kinderlik, vertroulik na hom opgelig.

“Ja . . .” Sy klink half verskonend. “Jy weet mos ek kan nie saam met iemand in ’n kamer slaap nie. Dit pla my . . .”

“Ja . . .” sê hy ook, omdat hy nie in die minste weet wat om anders te sê nie. Sy gedagtes spat rond soos vet op ’n bakplaat. Wát op die aarde nóú? Hy onthou dat sy ouers nie in dieselfde kamer slaap nie. Sy pa slaap in die aantrekkamer, aangrensend aan die hoofslaapkamer. En die turkoois kamer waarin Sylvia slaap, het geen aantrekkamer nie, dink hy onoorspronklik. Hy wonder verward of hy nie maar snags in die spreekkamer sal verdwyn nie, en of hy maar sal ronddwaal tot dit lig word. Toe hy effe tot sy sinne kom, weet hy net een ding en dit is dat enige toenadering nou van die baan af is. Hy sal in die turkoois kamer móét slaap. Voor die deur of in die kas of langs die venster. Of iewers. Want hierdie situasie is in wese nie sý keuse nie, en Sylvia weet dit. Sy sal noodwendig dink dat hy bloot probeer om die skyn te behou deur ook in die kamer te slaap. Het hy dan nie sélf, in domastrante voortvarendheid dit duidelik aan haar gestel dat die buitewêreld moet dink dis ’n konvensionele huwelik nie? En nou weet hy nie hoe om aan haar te bewys dat hy nie ’n trippens omgee wie die wêreld is en wat hulle sê nie . . .

“Waarom het Ma vir Martine saamgebring?” vra hy uiteindelik met meer aggressiwiteit in sy stem as wat hy beplan het.

“Hoe kan jy nou só vra!” verdedig sy kwaad. “Jy weet mos sy sal nie alleen kan bly nie! Sy is van ons afhanklik! Van jou . . .”

“Martine was in haar lewe nog nooit afhanklik nie! Ons sal vir haar ander verblyf moet kry!”

Anne maak asof sy die eerste deel van sy sin nie gehoor het nie en antwoord net op die laaste:

“Nie nóú nie! Miskien so oor ’n paar weke. Gee haar net kans om haar voete te vind . . .”

Met dié kom Sylvia en Martine die sitkamer binne. Dai se oë vlieg na sy vrou se gesig. Daar is hoë kleur op haar wange en haar pers oë is byna swart. Martine kyk van Dai na Sylvia en kry ’n fyn-fyn laggie, eintlik net ’n trek van die mond wat Dai yskoud laat word. Hy ken Martine. Dis haar wil-en-sal teken. Sy het gewerk aan wat sy ook al kom doen het, dié is seker. Daarvan getuig Sylvia se donker oë, wat sy sorgvuldig van Dai wegkeer.

“Julle kan maar kom eet . . .” Haar stem is sag en baie beheers. Hulle stap almal uit, swygend uitgespeel soos ’n klomp akteurs van ’n verhoog af.

Verduiwels! dink Dai, toe hy agter die vrouens aanloop. Wat de . . . het Martine nou kom doen! En hulle gaan onder my dak wees vir . . . vir wie weet hoeveel weke! En elke dag gaan Martine en my ma die ragfyne kommunikasie tussen my en Sylvia omkrap. Byna soos steursenders. Sodra ek probeer om op dieselfde golflengte te kom as my splinternuwe vrou, sal die atmosferiese steurnisse in werking tree! Dai is nie onderhewig aan hoogte-en-diepte-buie nie, maar toe hy agter Sylvia se reguit ruggie aanstap eetkamer toe, sak daar ’n swart bedruktheid op hom toe.

Dis ’n stil maaltyd. Dis asof almal die stof ’n bietjie wil laat sak. Dinge moet ’n bietjie uitgesorteer word . . .

Anne sit soos ’n skaakspeler wat nie die vaagste benul het watter skuif om nou te maak nie. Die opponent is so heel anders as wat sy haar voorgestel het. Sy het haar voorberei op ’n blitstriomf, nie ’n onsekere stryd nie . . .

Martine eet met lus. Sorgvuldig kerf sy die sappige biefstuk in haar bord, haar oë beskeie neergeslaan. En daar is ’n selfvoldaanheid om haar mond wat Dai laat hoendervel word. Hy kan sy kop op ’n blok sit dat Sylvia vannag gaan wakker lê. En hy skrik vir die gedagte. Moenie aannames maak nie! maan hy homself. As sy in die minste ’n gevoel vir jou het, sal sy wakker lê – anders gaan suster Deetlefs slaap . . .!

Sylvia het die tafel met groot sorg en fyn smaak gedek. Dowwe wit porselein op ’n wynrooi tafeldoek, en in die middel van die ronde tafel ’n paar laat wit rose. En uit biefstuk en bevrore groentes het sy ’n spogmaal berei. Daarna volg vanieljeroomys met neute en warm sjokoladesous.

Die geselskap het van ’n dooie stilte af begin prut totdat daar nou ’n redelike vloei van versigtig gekose woorde is. Dis asof almal om verskillende taktiese redes besluit het dat daar vanaand oor één onderwerp genoeg gesê is. Veral Sylvia gesels gaandeweg al hoe gemakliker – tot die ander twee vroue se innige ergernis en Dai se onsterflike dankbaarheid. Sy praat asof Anne en Martine twee minder bekende lede van ’n verlangse familietak is, wat op ’n strawwe toerprogram getrakteer moet word. Hulle móét net, sê sy, die Parlementshuis besoek, die Westminster-abdy, St Paul-katedraal, die National-galery, die Tate-galery, en o, hulle moenie droom om Londen te verlaat as hulle nie die seepkisredenaars van Hyde Park gehoor het nie, of by Dickens se Old Curiosity Shop was nie, en wat van Windsor-kasteel en Fulham-paleis en Hampton Court . . .! En weet hulle dat Mireille Mathieu nou in die Olympia optree . . .?

Martine luister met ’n belangstelling wat sy graag sou wou ontken.

“Jy het mos nog ’n paar dae grasie voordat jy by die ambassade moet begin, nie waar nie?” vra Sylvia aan haar, en skep Dai se derde bakkie nagereg in met ’n kyk van die pers oë, wat Dai stilweg laat sweer dat hy nog sestien sulke bakkies met lus sal verorber as hy net wéér so ’n kyk kan kry op die regte tyd en die regte plek.

Martine gee Sylvia net ’n vinnige knikkie van die kop en bepaal haar verder by haar roomys. Anne sit met ’n lepel en speel. Sylvia het geheel en al die leiding oorgeneem in die gesprek. Trouens, in die hele wisseling van woorde bepaal sý die gang met ’n subtiele doelgerigtheid wat hulle nie by haar sou verwag nie. Dai sou dit wel by die flegmatiese suster Deetlefs verwag het, maar hierdie sprankelende Sylvia stem hom tegelyk bly en onrustig.

Voordat een van hulle nog anders kan wik of weeg, besluit sy dat hulle een aand na die Albert Hall sal gaan vir ’n uitvoering van die Londense Simfonieorkes.

“Nie almal is gaande oor die Londense Simfonieorkes nie . . .!” protesteer Martine liefies.

“Ja-a . . .” aarsel Sylvia, “maar Herbert von Karajan is gasdirigent en byna álmal hou van hóm!” Iets in haar mooi gemoduleerde stem laat dit klink asof Martine bepaald berserk sal wees as sy nie een van die álmal is nie. Dai sien hoe die toorn in gloede uit Martine se nek klim, en moet sluk aan sy lag.

Verder stel Sylvia ’n besoek aan Kew se Koninklike Botaniese Tuine voor, waarop Anne onmiddellik antwoord:

“Ek was al daar. Ek en boetie sal maar iets anders doen . . .”

Sylvia draai haar kop grasieus na haar skoonma.

“Vreemd, ék word nooit moeg daarvoor nie – dit doen mos iets aan ’n mens. Dis sekere tye van die jaar só mooi dat al ’n mens se komplekse sommer vanself verdamp . . .”

“Komplekse . . .?” vra Anne sag en daar is ’n oasetjie van stilte.

Sylvia kry ’n klein laggie.

“Ons het mos maar almal komplekse, nie waar nie?” sê-vra sy met die koelheid van ’n suster Deetlefs, wat Dai laat glimlag.

“Ag wel, as ’n mens natuurlik sélf . . .” begin Anne.

Dai sit sy groot hand met ’n ligte slaggie op die wynrooi tafeldoek neer sodat die lepel in sy bakkie liggies rinkel.

“Ma, Sylvia werk heeldag met mense wat weens die een of ander rede nie heeltemal hulself is nie, en sy ken ’n kompleks as sy hom sien!” Daarmee buig hy sy hoof en dank. Die gebed is soos ’n reëntjie op die skielike smeuling wat sy woorde veroorsaak het, en toe hy weer sy oë oopmaak, is daar net ’n verergdheid op Anne se gesig te bespeur, maar sy sê niks. Hulle help almal opruim, en Sylvia pak die borde en glase in die skottelgoedwasser. Toe spoel sy haar hande in die wasbak af en druk hulle met ’n klein kombuishanddoekie droog, sorgvuldig, byna asof daar iets van die handeling afhang. Toe draai sy haar na die ander drie wat besluiteloos rondstaan.

“Net môre sal ek vir ons plek bespreek vir die Londense Simfonieorkes, en daar is soos gewoonlik ’n paar baie goeie opvoerings aan. Londen bied altyd iets, al woon jy jou lewe lank hier . . .” Sy slaan haar oë af, baie bewus daarvan dat sy maar die insinuasie kon gelos het. Sy sien dit ook in Anne se kyk . . .

Hardop sê Anne aan Dai, haar handjie in ’n veelseggende gebaar op haar voorkop:

“Ek het ’n geweldige hoofpyn . . .”

Haar stemtoon plaas blaam op almal sodat Sylvia skuldig voel. Selfs Martine lyk omgekrap, en Dai trap kriewelrig rond.

“Nou maar dan moet Ma maar gaan slaap!” sê hy kortweg.

“Ja, doen dit,” val Sylvia gemoedelik in. “Ek dink ons is almal ’n bietjie oorvermoeid. Ek gaan ook nou inkruip.” En aan Martine wat half onder Dai se arm staan. “Ek het netnou die divan in die studeerkamer oorgetrek. Jou klere sal jy maar môre in die gastekamer moet hang. Is daar nog iets wat jy nodig het?”

Martine kyk vlugtig na Dai se hand, wat bo haar kop teen die kosyn gestut is, en huiwer.

“Nóg iets . . .?” vra sy met ’n glimlaggie, en met haar kop skeef naby Dai se skouer. “Nee wat, ek het voorlopig nie iets nodig nie, dankie!”

“Nou maar, goeienag dan,” sê Sylvia, en dis ook vir Dai bedoel. Sy wag skaars vir Martine en Dai se groet, en draf ligvoets die trappe op. Bo in haar kamer hoor sy hoe Anne se fyn stappie besadig boontoe kom. Sy gaan staan met haar rug teen die toe deur en luister hoe haar skoonmoeder verbyloop na die gastekamer. En sy voel hoe haar gedrae kalmte, wat haar deur hierdie aand gehelp het, meteens losskiet. Sy wil onbeheers skree, só sterk wek Anne se voetstappe by haar die gevoel dat sy bekruip word. Sy druk haar hand in ’n klapgebaartjie oor haar mond, en haal dit eers weg toe sy die deur langsaan hoor toeknip.

Hoe het die ou tantetjie in die hospitaal nou weer gesê? Pas hom op, ou kindjie! Hy’s veels te mooi! Sy wens sy kon nóú met die vriendelike Vrystaatse tannie gesels. Sy sal sê: Hy’s nie net mooi nie, tannie, hy is lief en dierbaar, vriendelik en baie, baie hoflik. Hy is verterend lojaal, sal selfs ’n ander man beledig as dit om sy Deetlefs-vrou gaan. Maar daar, my liewe tannie, hou dit op. Hy wil nie betrokke wees nie. Maar moenie sleg voel nie, want hy hóú van my! Ek is die geskikte vrou vir hom, sien. Vannag gaan hy selfs my kamer deel, want die omstandighede vereis dit . . .

En toe weerklink Martine se woorde toe hulle alleen in die kombuis was voor aandete, in haar ore:

“Jy moet jouself nie bluf nie . . . e . . . Sylvia . . .”

“Waarom sê jy dit?”

“Dai is nie ’n man wat gebind kan word nie. Dis ’n kwessie van tyd voordat bande hom begin wurg. Vra mý . . .”

Maar sy het nie uitgevra nie, sy het net doodstil aangegaan om die tafel te dek . . .

Dié herinnering maak haar so kwaad dat sy haar verkreukelde uniform afstroop, byna ’n halwe bottel Balmain-badolie in die vuurwarm badwater gooi, en toe net ’n paar minute daarin rondplas. Die geur stoom die hele vertrek vol toe sy klaar is en uiteindelik, gespanne soos ’n snaar, reg in die middel van die groot tweepersoonsbed gaan lê. Daar is net een kussing onder haar kop, die ander een het sy saam met twee donskomberse in die hoek van die kamer neergesit.

Toe sy uiteindelik Dai se swaar manstred op die trappe hoor, maak sy haar oë so styf toe dat daar trane in haar ooghoeke vorm, en sy vee dit vererg met haar voorarm weg. Toe draai sy op haar maag en druk haar gesig half in die kussing . . .

Dai staan ’n oomblik lank op ’n trapportaal en oordink sy onderonsie met Martine. Hy het haar na die studeerkamer vergesel om ’n lampie vir haar by die divan in te prop, want sy wil lees. Hy het die lamp op ’n tafeltjie langs die divan neergesit. Sy het om hom bly draai.

“Kom ons luister eers na die Negende Simfonie, Dai. Almal slaap nou . . . en ek het nog nooit weer daarna geluister sedert . . . sedert jy so skielik weg is nie . . .!”

Hy het hom tot sy volle lengte uitgestrek.

“Martine, ek is nie skielik weg nie. As jy die tekens reg wou lees, sou jy gesien het dat ek in wese lankal weg was!”

Sy het sprakeloos bly staan. Hy ook. Hy het immers geweet sy sou nie opgee nie. Dan dit maar liewer finaal agter die rug kry . . .

Hy was reg ook. Toe sy besef dat hy op ’n soort antwoord van haar wag, het sy ’n weerlose houding ingeslaan, ’n ligte verontregting in haar stem:

“Dai . . . ek het die reg om hierdie . . . hierdie huwelik van jou met jou te bespreek . . .”

“Gaan voort.”

“Wel . . . waar . . . waar kom dié kind vandaan? Dit in die eerste plek en . . .”

“In die eerste plek laat jy jou só deur my ma beïnvloed dat jy jou nugtere denke kwytraak. Sy hou van lankal af vir jou ideale voor wat eintlik geen bestaansreg het nie. In die tweede plek moet jy weet dat ek nie met ’n skooldogter weggeloop het nie. Sylvia is geen kind nie. En wat meer is, sy kom uit die goeie aarde van die Cotswolds. So, jy sien dus dat ek ook van herkoms hou, maar ek kyk nie daarna deur ’n mikroskoop nie. Wat Sylvia is, is vir my genoeg . . .”

Daar was ’n lang stilte.

“Ek dink . . . jy het haar lief . . .” het sy bedruk geantwoord.

“Dis reg!” Daarmee het hy hom omgedraai en kamer toe gegaan, baie bewus daarvan dat alles tussen hom en Martine vir goed voltrek is.

En hier staan hy nou op die trapportaal voor sy vrou se kamer. En hy kry die malle gedagte om hom soos ’n Abessynse slaaf voor sy meesteres se drumpel op te krul. Dis dalk presies wat ek sal móét doen, dink hy met wrange humor. Hy draai die deurknop, en is skaam omdat hy diep binne gewonder het of dit nie dalk gesluit sal wees nie. Maar hy moes geweet het, dit sou nie haar manier wees nie. Toe is hy binne en sy oog val heel eerste op die skraal bondeltjie in die middel van die groot bed. Haar lang swart hare lê los oor haar rug en sy lê met haar gesig in die enkele kussing gedruk. Die ander kussing . . . is by die twee donskomberse op die vloer. Die spreekwoordelike handskoen is neergegooi, en al wat hy nóú kan doen, is om dit maar te laat lê. Want sóveel is duidelik: suster Deetlefs het oorgeneem. Sý het die situasie met gemak gehanteer . . .

Helene de Kock Keur 1

Подняться наверх