Читать книгу Helene de Kock Keur 1 - Helene de Kock - Страница 7

4

Оглавление

Daar hang ’n stilte tussen Dai en Sylvia. Dis asof die woorde van sy huweliksaansoek die hele vertrek vol lê . . .

“Sien jy kans om met my te trou . . .?” het hy gevra, en nou voel dit vir hom asof hy die woorde kan hoor weerklink – dof teen die ougoudkleurige linneplakpapier teen die muur, en helder oor die wit en swart note van die klavier. Dit tik ’n malle wysie uit op die kristaldruppels van die kandelaber en laat die gordyne ritsel . . . totdat dit vir Dai voel asof die lug rondom hom skel vibreer. Hy staan skielik op, druk sy hande soos ’n aggressiewe skoolseun in sy sakke.

“Is dit vir jou moeilik om nee te sê sonder om my kwansuis seer te maak?” vra hy kortweg sodat sy na hom opkyk.

“Nee, Dai, dis moeilik om ja te sê sonder dat ek weet wat jy my van Martine wou vertel . . .”

Hy loop tot by die klavier, vee afwesig met sy hand oor die oop klawers, kom terug en gaan sit weer.

“Ek sal jou nog alles vertel. Maar een ding moet jy weet – Martine het niks met jou te make nie. Ek weet ek stel dit kru, maar ek sal nie toelaat dat jy jou een enkele dag oor haar doen en late kwel nie. Indien jy met my . . . e . . . trou, Sylvia, sal jy my vrou wees en dus geregtig op al my lojaliteit en beskerming. Dié gee ek aan jou onvoorwaardelik en te alle tye . . .”

“Waarom ék . . .?” vra sy sag, en Dai kry ’n suur laggie.

“Dis darem nie ’n vraag wat ’n meisie behoort te vra nie, maar aangesien . . .”

“Daar is geen liefde nie . . . daarom moet ek weet!” knip sy sy halwe protes kort.

Dai sit ietwat uit die veld geslaan. Praat toe met sy oë op die kristalkandelaber, wat die laaste splintertjie daglig opvang.

“Ja . . . ja, jy moet weet. My keuse het op jou geval omdat jy verstandig is; jy is aantreklik, gesofistikeerd sonder om styf te wees, lojaal . . . bekwaam . . . Kortom, Sylvia, jy is die geskikte vrou vir my.”

Sonder om in die minste op dié relaas te reageer, sê sy net:

“Vertel my van Martine. Dis mos die rooikop wat destyds . . .”

“Bokant my bed gehang het,” antwoord hy droogweg. “Ek weet ek was die spot van die hospitaal daaroor! Plaas van dat ek my toe daaraan steur, het ek dit van minder belang geag. Ek het dit toegelaat om te ontwikkel en die groeikrag daarvan onderskat. ’n Mens moet ’n rankplant nooit te veel aanmoediging gee nie . . .”

“Het jy haar dan nie liefgehad nie . . .?”

Hy sit ’n rukkie doodstil.

“Wat ek vir haar gevoel het, was nie liefde nie, Sylvia. Dit kon nie gewees het nie, want daar was geen vreugde of pyn nie . . . Maar nou moet ek erken dat ek glad nie weet hoe die liefde voel nie. Miskien gee ek dit maar net geen vatkans nie . . .” Dai glo homself. Dis nie dat hy oneerlik is nie – dis net dat hy nie weet dat die liefde geen toestemming vra nie. Dit wag ook nie op herkenning nie. En Sylvia is naas goeie ou Rieta die eerste meisie wat geen vinger lig om sy hartsnare te roer nie. Dit verwar hom grootliks. Behalwe die feit dat hy in Sylvia die onweerstaanbare kombinasie herken van ’n geesgenoot, en die allerlieflikste vroulikheid, veroorsaak die aanskoue van haar slanke figuur in die onvleiende uniform by hom ’n soort verwarring van sinne – ’n skielike deernis, ’n wonderlike weekheid van hart . . .

Ek sal vir haar baie goed wees, besluit hy. Wat hierdie goedheid alles behels, weet hy nie, want in die Deetlefs-huis in Pretoria was daar geen deernis nie en ook geen weekheid nie. Net ’n soort gedrewe liefde, wat, as dit sou ontleed word, die sterkste vorm van besitlikheid is. Daar was geen uitreik na mekaar, geen omgang met die waardes van skoonheid en goedheid nie, sodat hy later feitlik geen prikkels van buite kon verwerk nie, en die plek en betekenis van dinge in sý lewenspatroon, aan hom grootliks verlore gegaan het. So was dit dan dat Martine se groeiende teenwoordigheid in sy lewe vir hom niks geïmpliseer het nie . . .

Hy vertel dit aan Sylvia. Dit is ’n ontsettende verligting om die eerste maal in sy bestaan hierdie ding, wat selfs vir hóm so lank verskuil was, oop te spalk en vas te pen. Hy doen dit met deeglike begrip vir die gekompliseerdheid daarvan, en met groot eerlikheid aangaande homself sodat Sylvia haar in die stilligheid verwonder.

“Ek besef dat heelwat seker voor my eie deur gelê kan word, Sylvia. Ek moes my eenvoudig van dié hele betrokkenheid losgemaak het . . . maar ek het geen voorkennis gehad nie – miskien spruit voorkennis uit insig . . .?” Dit laat hom ’n rukkie lank peins. Dan lag hy skielik, vee met sy hand oor sy gesig in ’n vermoeide gebaar. “Weet jy, ek was selfs ’n gedweë tiener. Daar was by my geen natuurlike verset nie. My eie wense het min of meer altyd gestrook met die van my ma. My pa s’n ook. Hy het hom nie met my bemoei nie, en ek was grootliks aan myself oorgelaat. Afgesien van een ding: ek sou ’n dokter moet word. Dit is onomwonde aan my gestel dat ek medies sal studeer. Dit het my gepas, want ek wóú dit doen . . .” Hy sug.

“As ek nou daaroor besin, is dit vir my duidelik dat dit net genade is wat my gebring het waar ek is. Ek het werklik nog altyd alles gehad wat ek begeer. Ek ys as ek dink waar dit my kón gelei het . . .”

“Miskien is daar tog iets goeds in jou!” spot Sylvia liggies en hy glimlag skeef. “Die wonder is dat dít bewaar gebly het. Maar sê my, waar pas Martine in?”

“Ag, sy was maar altyd daar. Sy is my ma se beste vriendin se dogter. Eers het sy oral agter my aangedraf terwyl daar speels na my verwys is as haar groot boetie!” Sy mond wring in suur herinnering. “En later is daar gesuggereer dat ék my verniet verbeel ek is haar broer. Broers kyk nie só na hul susters nie! Natuurlik het ek my dikwels aan haar verwonder, want sy is regtig baie mooi. Later het ek haar begin uitneem, meestal op my ma se aandrang. As ek nog dink om iemand te vra vir ’n geleentheid, het sy dit klaar gedoen. Dis skrikwekkend om te dink dat dit my nie juis gehinder het nie! Miskien omdat Martine so ’n treffer is . . . sy het die soort gesig wat opslae maak, en ek moet seker maar die sensasie geniet het . . .?” Hy staan op, skakel ’n muurlampie aan en kom sit langs haar op die fyn bankie. Hy draai hom skuins en sit sy hand agter haar skouers op die leuning. “Weet net een ding: jy kom nie tussen my en Martine nie, en as jy besluit om met my te trou, sal dit jou nie berou nie. Daarvoor sal ék sorg!” Hy kom orent en trek haar saam. “Kom ons gaan eet. Dan sal ek jou tuis besorg. Jy het tyd nodig om te dink . . .”

“Nee, Dai, ek het klaar besluit,” sê sy en kyk op na hom, haar oë ’n helder viooltjiepers. Die lig van die enkele lampie blink sag op haar swart hare en laat haar bleek vel gloei.

“Hét jy?” vra Dai met skielike skrik in sy binneste. Dit voel asof wat hy sê, wanklankig is, maar sy gesig is heeltemal onleesbaar soos wanneer hy langs ’n pasiënt se bed staan. En Sylvia gewaar net die geslotenheid van sy houding. ’n Klein suggie ontsnap haar.

“Ja wat, ek het klaar besluit. Aangesien daar geen liefde is nie, is daar mos nie rede tot spel nie!”

“Wát het jy besluit?” vra Dai sag, selfs vriendelik. Maar hy voel asof hy haar kan skud. Daar is ’n draaiende gevoel op sy maag, wat aan honger te wyte kan wees. Hy sien hoe ’n blos uit haar nek kruip en sy kyk af.

“Ek sal met jou trou, Dai. Maar op die voorwaardes wat jy gestel het: Ons . . . ons leef elkeen ons eie lewe. Ek sal graag met my werk wil aangaan . . .”

Dai neem ’n lang, diep asem. Dit voel vir hom asof hy ’n lang tyd ’n groot tekort aan suurstof gehad het. Hy lig sy sterk, sensitiewe hande en plaas hulle aan weerskante van haar kop. Haar hare is sag en syerig onder sy vingers. Toe soen hy haar versigtig op haar voorkop.

“Natúúrlik kan jy daarmee aangaan! Ons spring mos nie uit blinde verliefdheid in hierdie ding nie! Dit is ’n helder, oop saak dié. ’n Gelyk pad . . . Begryp?”

Sy knik haar kop tussen sy hande.

“Sylvia . . . baie dankie . . .” Sy stem is hees sodat hy moet keel skoonmaak. Hy gryp in sy gedagtes na iets om te sê, sommer iets banaals, want as hy een oomblik langer haar hare onder sy hande moet voel, gaan hy haar soen – op daardie beweeglike mond wat soveel verklap sonder dat sy ’n woord hoef te sê. En dit sal verkeerd wees, dink hy. Ek sal haar nooit met oorgawe soen sonder dat ek haar kan verseker van ’n liefde wat nimmermeer vergaan nie. Hy weet nie dat dit die eerste, en miskien die suiwerste bewys van die liefde, is nie – dié fyn koestering, dié stille konsiderasie . . .

“Kom,” sê hy in ’n alledaagse stem. “Jy kan kies waar jy wil gaan eet!”

Sy kyk af na haar uniform.

“Ek kan nie só na ’n deftige plek gaan nie. Maar daar is ’n kafeetjie waar ons as verpleegsters altyd gaan eet. Dis so tussen Guy’s Hospital en die kliniek geleë . . .” Sy loer na hom. “Hulle spesialiseer in aartappelskyfies en eiers!”

Dai sien hoe die bord met sappige biefstuk en slaai voor sy oë verdof.

“Ek hou baie van aartappelskyfies en eiers,” sê hy sedig. “Dis ’n baie . . . e . . . substansiële gereg!”

’n Halfuur later stap hulle die dof verligte plekkie binne. Dis die ene chroomstoeltjies, deurgetrapte linoleum en oliekleedjies. Daar sit ’n klompie verpleegsters, wat blykbaar hul aandete kom nuttig voordat hulle op nagdiens gaan. Hul hare is netjies gekam en hulle lyk vars en uitgerus. Hulle gesels met lus. Toe Dai en Sylvia by ’n hoektafeltjie gaan sit, hou hulle op met praat en staar nuuskierig na die lang, ligte man by die bekende suster Saunders. Sonder skroom plaas Dai sy hand oor hare, wat op die tafel lê, druk dit met mening asof hy iets dringends aan haar wil oordra.

“Al weet ek en jy dat ons verhouding . . . e . . . klinies van aard is,” glimlag hy met haar terwyl sy oë hare gevange hou, “is dit ’n wete wat net vir ons twee bedoel is. Ek wil hê die buitewêreld moet dink dat ons gelukkig is. Dis tog die waarheid, is dit nie? Ons ís gelukkig. So ’n kalm, rustige verhouding het ek nog altyd begeer, en jy?”

“Natuurlik,” sê sy. “Ons beeld na buite is mos belangrik!” Toe lig sy haar hand in ’n groet aan die verpleegstertjies, wat hulle met groot oë aangaap. Wat ’n fantastiese brokkie nuus! Hulle sien jou waarlik die afsydige suster Saunders met die asemrowende blonde man sit en handjies hou, en dan gee sy nog erkenning aan hul teenwoordigheid ook! Tog jammer dat hulle oor tien minute moet aanmeld . . .

Dai en Sylvia sit glimlaggend en kyk hoe die jong verpleegstertjies ná nog ’n paar steelse blikke, hul rekening vereffen en uitloop. Toe is hulle alleen. Dai weet nie mooi wat om van Sylvia se laaste woorde te dink nie, maar besluit om dit liewer net daar te laat.

Die kafee-eienaar sien hulle en groet Sylvia op ’n vrolike Cockney-manier:

“’Ello ducks! Who’s the swell guv’ner with ye?” En hy kom nader om, vadoek op die heup en tong in die kies, na Dai te kyk. Sy klein ogies tas oor die deftige pak klere en gestreepte das.

“Looks O.K. to me!” is sy kommentaar voordat Sylvia hom nog kan antwoord.

“Dit is dokter Deetlefs, Higgins. My . . . my verloofde . . .” verduidelik Sylvia, en Dai kyk geamuseerd na haar verleë gesig.

Higgins fluit geoefend deur sy voortande.

“Ye never say! Ye’ll have the usual, Oi s’pose? It’s on the ’ouse! Oh, an’ Oi’ll make it double for the doc!” sê hy met ’n meerderwaardige snuif en sonder om na Dai te kyk. Toe gil hy na agter: “Chips-’n-eggs! One single an’ one double!”

Toe begluur hy Dai reg van voor en blaas kwaai deur sy neus soos ’n voël wie se kleintjie bedreig word:

“Yer not the first doc who’ve come an’ gone before me eyes! Ye’ll never let her down, will ye?”

Daar trek geen spier op Dai se gesig nie; hy sit net effens terug in sy stoel. Hy sien dat alle kleur stadig uit Sylvia se gesig vloei. Hy kyk Mister Higgins reg in die oë.

“Ek sweer ek sal haar nooit verlaat nie,” sê hy sedig.

Mister Higgins kry ’n skewetandlaggie, toe vee hy deeglik met sy vadoek oor die oliekleedjie en verdwyn na die kombuis.

“Moet jou nie aan hom steur nie!” sê Sylvia dadelik, maar haar gesig bly stroef. “Hy verbeel hom hy is die beskermheer van al die hospitaalmeisies wat hier kom eet. Hy reken dis al manier hoe hy kan verseker dat ons vir hom goed sal wees as hy siek word!” Sy bly angsvallig stil, hou haar oë op die wit papierservet, wat haar skraal vingers oop en toe vou.

“Sylvia!” Dai se stem is skaars ’n fluistering, maar hy het haar ferm aangespreek. Daar is ’n streng trek om sy mond wat alle voorgee uit haar houding laat wyk. Sy word stil en weerloos, vat haar boarms met haar hande vas. “Vertel my die waarheid . . .” sê hy deernisvol.

Sy neem ’n sidderende asem, bly inmekaar sit asof sy vasgekeer is. En Dai help haar:

“Jy is agt en twintig, mooi, bekwaam en ongetroud. Daar móét iets gebeur het . . .”

Higgins bring hul kos en plak Dai s’n met oordrewe swier voor hom neer.

“Strike me dead if false Oi swear . . .!” sing hy deur die hoek van sy mond. Toe loop hy agtertoe.

Dit bring ’n effense laggie na Sylvia se mond, toe sê sy:

“’n Kampvegter soos min! Die verpleegsters noem hom ou Hospital-Higgins . . . Hy verbeel hom al wat broek dra, is ’n bedreiging vir sy ‘nursies’!”

Dai se lippe trek in ’n skewe laggie, maar sy oë is niks geamuseerd nie.

“Moenie my ontwyk nie, Sylvia! Ek . . . wil nie met ’n vreemdeling in die huwelik tree nie. Ek kan jou nie probeer begryp as ek niks van jou weet nie. En in óns huwelik, Sylvia, moet daar allereers plek wees vir begrip.”

Hy sien hoe sy stil raak in die middel van sy woorde, en haar kalmte terugvind. Sy neem haar mes en vurk en begin die aartappelskyfies op haar bord versigtig in fyn stukkies sny.

“Onthou jy Henry Radcliffe?” vra sy.

“Die patoloog? Hy werk mos vir ons ook, nè? Is dit dieselfde man wat by Guy’s Hospital was en ook ’n deeltydse dosentepos gehad het?”

“Dis reg. Hy het nou nog ’n deeltydse pos daar . . .” Sy hou op werskaf op haar bord, kyk stip na die tamatiesousbottel in die middel van die geruite kleedjie. “Ek . . . ons het lank ’n verhouding gehad . . .”

“Hoe lank?”

“Vandat ek klaargemaak het as suster tot sowat vyf jaar gelede . . .”

“En jy’s nou nog so kleinserig daaroor?” hou Dai genadeloos aan.

Sy los die eetgerei op haar bord, druk haar hande in twee vuisies teen haar kuiltjie.

“Ons sou trou . . . maar hy wou nie verloof raak nie . . . het gesê hy glo nie daarin nie . . .”

Dai se gesig word klipsteenhard; dit lyk asof daar groewe langs sy neus afloop, maar dié keer bly hy stil.

“. . . Almal het geweet ons gaan uit . . . en . . . ek het begin dink dat daar werklik iets moois van gaan kom . . . Hy het my nooit rede gegee om iets anders te vermoed nie . . . miskien was ek naïef. Ja, noudat ek daaroor dink – ek wás naïef! Ek het gedink hy is romanties toe hy voorstel dat ons in Gretna Green moet gaan trou . . .!”

“Gretna Gr. . .” Dai blaas sy asem in ’n sisgeluid uit. “Jy’s nie ernstig nie! Dis mos die plek vir ouens wat wil wegloop om te trou! ’n Hoefsmid voltrek die huwelik en die altaar is ’n aambeeld, of so iets, nè?”

“Min of meer, ja . . . In die ou dae het paartjies met kar en perde daarheen gejaag en gewoonlik die verwoede ouerpare met so ’n halfuurtjie geklop! Soms is hulle voorgespring . . . Treurig, dink ek. Dit moet vreeslik opwindend gewees het om na ’n wilde jaagtog oor die Skotse grens uitasem voor die aambeeld te gaan staan en hartstogtelik beloftes af te lê . . .!”

Dai gaan aan die lag.

“Sylvia, Sylvia! Ek sou nooit kon dink dat jý . . .”

Sy glimlag klein met die hoeke van haar mond sodat die kuiltjies in haar linkerwang beklemtoon word. En sy hou ’n hand op om hom te laat bedaar.

“Wag! Jy het nog nie die eintlike storie gehoor nie. Alles het glad verloop. Deesdae moet ’n mens darem ’n lisensie hê, weet jy . . .? Maar twee dae voordat ons sou gaan, kry ek ’n brief van hom wat sê ons moet die trouery so ’n bietjie uitstel . . . die ‘uitstappie’, soos hy dit genoem het . . . want hy gaan vir ’n week of twee na Edinburg. Hy kom daarvandaan, hy het eers daar gewerk. Ag nou ja, ná drie weke kom hy toe terug en kondig wyd en syd in Guy’s aan dat hy getroud is met Lord McKinnan se dogter. Die meisie wat so goed ski. Daar is dikwels foto’s van haar in die koerante. Ek het dit seker heel laaste van almal gehoor – en wel in die operasiesaal by ’n narkotiseur! Henry het nooit eens weer na my gekyk nie, nie eens om te verduidelik nie. Ons het sedertdien nog nie weer ’n woord gewissel nie. In elk geval nie alléén nie . . .

Dai sit haar ongelowig en aanstaar. Toe los hy ’n kragwoord, wat haar verbaas laat opkyk. Maar hy begin bedaard eet en net die ferm trek om sy mond is ’n teken van sy ontsteltenis. Toe hy klaar is, stoot hy die vetterige bord verlig eenkant toe.

“Dit is dus die rede waarom jy jou pos by Guy’s prysgegee het die oomblik toe dit moontlik was?”

Sy knik net.

“Ek het gewonder presies wanneer ons moet trou,” sê hy onverwags. “Maar nou weet ek!”

“O?”

“Dis vandag Dinsdag. Wat van Saterdag? Daar is nie meer iemand wie se goedkeuring jy wil hê nie, nè?”

“Nee, niemand nie . . .”

“Nou maar dan is dit afgespreek. Ek sal Hugo en Sanet vra om as getuies op te tree . . . maar ons nooi niemand meer nie.”

Sy eet vinnig klaar, en hy sê aan haar sy moet wag terwyl hy betaal vir hul ete. Sy sien hoe hy toonbank toe stap en hoor hoe Higgins wysieloos tussen sy tande begin fluit. Dan praat Dai ’n paar woorde met hom, en sy sien met verbasing hoe sy mond ’n O vorm en toe in ’n breë lag trek.

“Ek het belowe om die trousertifikaat Maandag aan hom te kom wys!” lag hy toe hy hom by haar voeg, en sy giggel. Dis ’n sagte, lekker geluidjie wat in sy hart kruip . . .

Buite op die sypaadjie kyk hy af op die swartkop hier by sy skouer, en haak toe gemoedelik by haar in.

Hoe heerlik is dit nie saam met haar nie, dink hy. Sy verwag heeltemal niks van my nie. My stiltes vloei ongehinderd deur haar. As sy met my praat, is dit rustig en oor sinvolle dinge. En as sy na my kyk, is dit nie met die hoop om passie te wek nie. Ek is by haar net so op my gemak as by ou Rieta. Met dieselfde opregtheid waarmee hy dít dink, weet hy dat daar ’n vonk skuil in die aanraking van haar arm deur syne . . . maar hy skryf dit bloot daaraan toe dat Sylvia baie, baie mooier as Rieta is, en hy dink werklik dat hy hierdie ding in sy lewe benader met die deurdagte eksaktheid wat so ’n groot stap verg.

Saterdag daag in ’n wolk van fyn reën, wat opklaar toe die son behoorlik uit is. Die ligte windjie speel ’n skitterspel met die nat blare, en waai die oggend sprankelskoon.

My troudag! dink Dai met ’n verwondering wat hom week maak. En dit sonder enige dwaling van sy hart! Hy gaan trou met persoog-Sylvia. Sylvia, wat geen aansprake maak nie . . .

Met ’n beker koffie in sy hand staan hy en uitkyk op die begroeide vierkant buite. Die oggend is die klein binnetuin vol, en die vreugde van ’n nuwe dag lê blinknat op die blomryke struike, die paar potpalms en die strokie kweek rondom die vaal plaveistene . . . En daar staan ’n klein onrus in hom op. Diep in hom is ’n vermoede dat Sylvia wel die enigste vrou is met wie hy kans sien om sy lewe te deel, maar sy verstand weet dat hy vandag trou om die inmenging van sy moeder te besweer. Hy is besig om die lewe te dwing om in ’n groefie te hardloop soos ’n speelding op ’n spoortjie. Kan dit seën wegdra? Meteens glip ’n paar vroeë sonstrale langs die muur af en vlek die donker affodille goudgeel . . . en kol-kol begin die kleure in die tuintjie blom, soos die son sy seën vir die dag uitspreek.

Hy sit sy koffiebeker ergerlik op die vensterbank neer sodat daar ’n bietjie uitspat, en stut weerskante daarvan met sy vingerpunte. Sy mond is saamgepers. Dit móét net seën wegdra! dink hy benoud. Ek sal sórg daarvoor! Ek minag tog nie die huweliksformulier nie. Maar geen formule of formulier kan die liefde laat ontkiem nie, sê sy gewete triomfantelik. Liefde! smaal hy innerlik. Hierdie ding doen ek nugter en met die allerheiligste voornemens! En jou bedoelinge? koggel sy hart. Jy trou met suster Saunders omdat jy ’n buffer wil hê tussen jou en Martine. Dat sy ook slanke Sylvia met die pers oë is, begin jy maar nou eers raak sien. En dit ontstel jou meer as wat jy wil erken! Op jóú blinde aandrang het sy jou huis gemeubileer en nou praat die stoele, die matte, die kaste van haar . . .

Hy draai stadig om en laat sy oë oor die vertrek dwaal. Dis ’n deftige, nee, ’n uiters elegante vertrek, met warm ondertone. ’n Kamer waarin ’n mens graag wil vertoef – want dit stem ’n mens rustig, maar blus nie jou denke nie. Die pragtige ou goud-en-rooi patroon van die Aubusson-mat is interessant ook. En as ’n mens uit die vertrek is, kan jy nooit die patroon helder voor die gees roep nie, net die aangename effek bly jou by. Al die ander meubels en ornamente in die vertrek sluit in volkome harmonie daarby aan. Die sagte, moderne gemakstoele, die hoepelbeen-sofas en -stoeltjies, die twee Sheratontafeltjies en die indrukwekkende vleuelklavier lyk tuis bymekaar. En die moderne skilderye vorm ’n verrassende maar passende kontras met die geheel.

Dai steek sy hande in sy kamerjas se sakke en drentel na die studeerkamer. In die deur bly hy staan. Hier lyk dit weer asof daar ’n sterk, manlike hand aan die werk was. Die sterk, byna growwe lyne van die lessenaar en ingeboude kaste, die aardsheid van die pottebakkersornamente en sy rye en rye leerbandboeke, wat hy met die skip laat kom het . . . Daar is twee leerleunstoele en ’n divan met ’n bokhaardeken oor. Die vertrek ruik selfs effens na leer, soos die binnekant van ’n duur nuwe motor. Dis ’n plek wat geheel en al aan ’n man behoort. Hoeveel vroue, wonder hy ’n bietjie geamuseerd, sou dit kon weerstaan om so ’n ietsie van hul eie smaak hier te laat botvier? As sy moeder of Martine . . . Hy snuif ergerlik deur sy neus en draai sommer om.

Hy kyk op sy horlosie en besef dat hy sal moet spring om klaar te kry. Hy doen dit dan ook, spring twee-twee die trappe op, en bly huiwerig op die trapportaal staan. Die deur heel op regterhand lei na Sylvia se slaapkamer. Van vanaand af sal dit háár kamer wees. Op ingewing draai Dai die knop en stap binne. Dis ’n droomkamer in skakerings van lila en turkoois. Vir perfekte kleurbalans is daar hier en daar ’n stukkie olyfgroen – in ’n satynkussing, ’n Venesiaanse glasfiguurtjie, ’n sylappie op ’n marmertafeltjie. Sylvia het dié kamer binne die bestek van drie dae reggekry. Eers wou sy maar in haar eie woonstel bly woon totdat alles agtermekaar is. Sy het jou waarlik koeltjies voorgestel dat sy maar net sowel ’n rukkie in haar eie plek kon aanbly . . .

Dít was darem te veel vir hom. Hy het haar verstom aangekyk en gedink: Daarvoor het ek nou seker gevra! Maar hy het heel beredeneerd geantwoord:

“Kyk, Sylvia, ek en my trouery mag vir jou ietwat onkonvensioneel voorkom, maar ek is geen koue vis nie! Van Saterdag af is jy my vrou en woon jy onder my dak, begryp jy?”

Sy het met ’n klein gebaartjie ’n paar los haartjies agter haar oor ingestoot, haar kennetjie effens gelig en kalm gesê:

“Ek begryp, Dai. Daar is niks wat vir my onduidelik is nie!”

Dai kyk weer na die yslike ou koperbed wat in die middel van die kamer staan. Drie dae gelede het Sylvia dit by ’n veiling van Christie’s gekoop. Hy het laterig ingekom van die kliniek af en haar hier aangetref, waar sy besig was om ’n handgeweefde turkooiskleurige bedsprei oor te gooi. Hy het verras bly staan. Die bloubont mat met die effekleurige turkoois matjies, los rondgestrooi, en die sagte gordyne van dieselfde skakerings as die bedsprei . . . dit was pragtig! Maar hy kon om die dood nie help om ’n glimlaggie te kry oor die grootte van die bed nie. Sy het sy oog gevang en hy moes sluk aan sy geamuseerdheid, maar ’n vuurrooi blos het op haar wange uitgeslaan.

“Ek hou van spasie!” het sy verdedigend gesê. “Ek wou nog áltyd op so ’n bed slaap . . .” Sy het baie soos ’n klein dogtertjie gelyk, wat betrap is op iets ongehoords. Sy het die bedsprei teen haar aan gedruk en half gekrenk, half verdedigend na hom gestaar met groot viooltjie-oë . . .

Dai het heeltemal binnegekom, tot by die bed gestap en met sy vingers die matras gevoel, gedruk-druk op die sponssagtheid daarvan. Toe het hy sy arms oor sy bors gevou en sedig gesê:

“Ek wou ook nog altyd op só ’n bed slaap, weet jy!”

Sy het verbouereerd bly staan, die bedsprei laat glip en haar hande om die sierlike kopervoetenent van die bed geklem . . .

Hy het vooroor geleun en met sy vingers op haar ken getik.

“Leer my ken, Sylvia! Dis vir my lekker om jou te terg!”

Inteendeel, dink Dai, waar hy weer in die turkoois kamer staan, dis vir my onbeskryflik lekker om net aan haar te dink! Sy wek by my ’n gevoel van gemeensaamheid, van rus en kalmte, van . . . van kameraadskap.

Só staan Daïrus Deetlefs en pluis die saak van heeltemal die verkeerde kant af uit. Hy is soos ’n boer wat ’n mielie op sy blare beoordeel en skoon vergeet dat die vrug toegevou teenaan die stam sit. Hy verbeel hom dat hy geen dwaling van die hart ondervind nie, en hy verwar hierdie dwaling van die hart met wat Martine by hom gewek het – ’n rustelose opwinding waarvan die fut gou verdwyn. Hy vergeet dat al hierdie dinge wat Sylvia hom bring, juis is wat die hart toevou en van só ’n dwaling bewaar. Van die ware liefdesdwaling weet hy nog niks . . .

Helene de Kock Keur 1

Подняться наверх