Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 7 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 4
ОглавлениеBegin en gesels in groepe oor atletiek. Kyk en bespreek die foto’s. Luister na ’n storie oor ’n resies tussen twee atlete, en vertel die storie aan jou maats oor.
Die vak Afrikaans het ook reëls soos atletiek. Oefen jou spelling, uitspraak en woordsoorte (selfstandige en byvoeglike naamwoorde) en jy is ook ’n wenner!
Skrywers kan karakters op interessante maniere aan jou bekendstel. Lees ’n kortverhaal en kyk of jy met die kenmerke en karakters saamstem.
Lees ’n strooibiljet en skryf ’n verhalende paragraaf oor ’n sportdag. Kyk of jy ’n wenner is en sluit die module met ’n taaloefening af.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
verskillende foto’s in jou groep bespreek
iemand in ’n toespraak aan jou maats bekendstel
’n luistertoets doen.
Die vakansie is verby. Almal oefen al vir atletiek. Kyk na die volgende foto’s en gesels daaroor.
Groepbespreking
Vertel wat jy in elke foto sien.
Aan watter items kan atlete deelneem?
Wat is ’n baanitem en wat is ’n velditem?
Wanneer wen jy in elke item?
Watter soort reëls is daar vir baanitems?
Neem jy aan atletiek deel? Gee ’n rede vir jou antwoord.
Watter item is vir jou die lekkerste om na te kyk of aan deel te neem?
Preluister
Kyk na die prentjie:
Wie dink jy is die twee seuns?
Waarmee dink jy is hulle besig? Hoekom sê jy so?
Hoe dink jy voel die twee?
Die titel van die storie is “Die Wedloop”. Waaroor dink jy gaan die storie?
Maak ’n lysie van dinge in die prentjie wat jou aan die titel “Die Wedloop” laat dink.
Luistertoets
Jou onderwyser gaan ’n gedeelte (extract) uit ’n storie, “Die Wedloop”, voorlees. Doen die volgende:
Luister baie mooi terwyl die teks die eerste keer voorgelees word. Jy mag nie nou skryf nie.
Lees dan die vrae in jou boek. Dit vertel jou wat belangrik is. Jy kan nou notas maak.
Jou onderwyser gaan die teks ’n tweede keer voorlees. Maak notas.
Beantwoord dan die vrae in jou werkboek. Jy kan jou notas gebruik as jy die vrae beantwoord.
Lees die volgende woordverklarings saam met jou maat deur en bespreek dit.
droog hardloop – weghardloop
hoendervleis – om bang te wees
my geld is op jou – ek glo in jou/ek weet jy gaan wen
om jou lyf vet te smeer – hier bedoel hy: Is jy reg vir vinnig hardloop?
op die lyn gaan sak – voor die wegspringlyn in die wegspringposisie gaan staan of kniel
verhoed – keer dat iets gebeur
vrees – baie bang wees
wedloop – resies
Postluister
Beantwoord die volgende vrae op jou eie in jou werkboek.
Vrae oor die inhoud
1. Aan watter sportsoort neem Salmon deel? (1)
2.Wie glo dat Salmon die resies (race ) sal wen? (1)
3. Vir hoe lank is Salmon al vir hierdie resies bang? (1)
4. Vir wie is Salmon bang? Skryf sy naam en van neer. (1)
Maak afleidings
5. Kies die regte antwoord. (1)
Die woorde: “Het jy jou lyf vet gesmeer?” beteken . . .
a. sy lyf blink van die vet.
b. hy is reg vir vinnig hardloop.
c. hy hardloop weg.
d. hy is baie vet.
6.Is die volgende waar of onwaar ? Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
Salmon het vir mense vertel dat hy bang is.
7. Hoekom is Salmon “hoendervleis”? (1)
8. Hoe weet jy dat Salmon nie lus is om hierdie resies te hardloop nie? (1)
Hoe voel jy daaroor?
9. Dink jy dat die onderwyser ook bang is vir hierdie resies? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
10. Dink jy Salmon het rede gehad om bang te wees vir hierdie resies? (1)
Totaal: 10 punte
Vertel die storie oor
Kan jy die storie onthou? Vertel dit vir jou maat oor. Jy kan die volgende raamwerk gebruik:
Salmon se onderwyser wil weet . . . Hy glo dat Salmon . . . Daarna gee Meneer hom ’n ligte . . .
Salmon antwoord . . . Hy kry sommer hoendervleis, want . . . Hy is die afgelope . . .
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou vertelling formeel assesseer vir Taak 1 van kwartaal 1.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
woorde reg spel
woorde reg uitspreek
’n woordeboek reg gebruik.
In atletiek moet jy by die reëls hou. Gaan nou In ’n neutedop deur. In ’n taal moet jy reg spel. Die Taalgids agter in die boek kan jou ook hiermee help.
Spelling
Vokale/klinkers (vowels) is klanke soos a, e, i, o en u.
Konsonante/medeklinkers (consonants) is klanke soos m, t, l, z, r, ng.
Diftonge/tweeklanke (diphthongs) is klanke soos aai, ooi, ui. Byvoorbeeld: laai, mooi, trui.
Klankgrepe is wanneer woorde volgens klanke, soos jy dit uitspreek, opgedeel word, byvoorbeeld: hulle – hu/le; lekkerste – le/ker/ste
Lettergrepe is wanneer woorde volgens hulle spelling verdeel word, byvoorbeeld: hulle – hul/le; lekkerste – lek/ker/ste
Oop lettergrepe is wanneer die lettergreep op ’n vokaal eindig, byvoorbeeld: be-ne.
’n Geslote lettergreep eindig op ’n konsonant, byvoorbeeld: hoen-der
Wanneer ons woorde uitspreek: klankverskynsels
Ontronding is wanneer ’n ronde klank soos uu of ui as ie of y uitgespreek word, byvoorbeeld vuur – vier; huis – hys.
Oorronding is wanneer klanke soos ee en ie as eu en uu uitgespreek word, byvoorbeeld: beer – beur; vier – vuur.
Assimilasie is wanneer party klanke in ’n woord nie uitgespreek word nie en dus nie gehoor word nie. Kyk na die volgende voorbeelde: Sy het hom (hetom) leer ken as die (assie) persoon wat maats maak met die (medie) kinders (kinners) van die (vannie) omgewing.
Beantwoord die volgende taalvrae op jou eie.
1.Teken die volgende tabel in jou werkboek oor. Breek die woorde in lettergrepe op. Skryf ook of die lettergrepe oop of geslote is. (Die eerste voorbeeld is vir jou gedoen.)
Woord | Lettergrepe | Oop of geslote |
a. gebeur | ge/beur | Oop/geslote |
b. vandag | ||
c. hoendervleis |
2.Breek die skuinsgedrukte woorde in klankgrepe op.
a.Die atlete moet vinnig by die wegspringplek aantree.
b.Vandag gaan Salmon hulle almal weghardloop.
c.Die atletiekspanne het by die atletiekstadion aangekom.
3. Lees die volgende sinne. Beantwoord dan die vrae.
Die seun het sy sak met die duur hardloopskoene gaan bêre. Al die ander atlete sit onder die boom en weg van die miere. Eenkant leun die afrigter teen die boom.
a.As die woord “duur” verkeerd uitgespreek (ontrond ) word, word dit ’n woord met ’n ander betekenis. Skryf die woord neer en maak ’n sin daarmee.
b.Die woord “miere” kan oorrond word. Maak ’n sin met die nuwe woord.
4.In die volgende paragraaf kom 16 spelfoute voor. Skryf die woorde oor en maak die spelfoute reg.
Die atlete se famielie het na die byeenkoms kom kyk. Die afrigter is beryd om gelt op Salmon te wet. Hy is dootseeker hy gaan wen. Salmon het sy midiseine teen ferkoue gedrink en foel al baie beeter.
Die vure brand al vir die boereworsrolle agter die pilaare.
Fyf atlete mag aan die veltitems deelneem. Die afsetter skied ’n skoot sodat almal geleik kan
wegspring. Die klank is hart genoeg sodat almal dit kan hoor. Die atleet fal oor sy eie voete.
In ’n neutedop hieronder vertel jou meer van die sinsoorte. Lees dit deur voordat jy die vraag daarna beantwoord.
Die sinsoorte
Dit is maklik om die vier sinsoorte uit te ken:
Die stelsin maak ’n stelling (sê iets) en eindig met ’n punt: Ek is veertien jaar oud.
Die vraagsin vra ’n vraag en eindig altyd met ’n vraagteken: Hoe oud is jy?
Die bevelsin gee ’n opdrag en eindig gewoonlik met ’n uitroepteken: Tel op die papier!
Die uitroepsin word gebruik om byvoorbeeld te wys dat iemand verbaas/hartseer/kwaad is en eindig met ’n uitroepteken: Kyk hoe lyk die speelgrond!
5. Lees die volgende sinne deur en beantwoord die vrae.
1. Die afrigter vra: “Salmon, is jy reg vir die 100 meter?”.
2. “Sjoe, hier is baie mense vandag!”
3. Die hele dorp sien uit na hierdie wedloop.
a.Skryf ’n voorbeeld van ’n vraagsin uit die gedeelte neer.
b.Kies die regte antwoord: Die tweede sin is ’n voorbeeld van ’n vraagsin/uitroepsin/stelsin.
c.Skryf die tweede sin oor in die verlede tyd .
d.Skryf die laaste sin oor in die toekomende tyd .
Kan jy ’n woordeboek gebruik? Kyk na die volgende gedeelte uit ’n woordeboek
bang1, (geselst.), (w), ge-. Vrees.
bang2, (b), -e; -er, -ste. Bevrees, benoud; benouend; bang MAAK, vrees inboesem; bang PRAAT, deur gepraat iem. bang maak; bangheid
geld´1, (s), -e. 1. Goud, silwer, koper of enige ander metaal of mengsel van metale wat deur die staat gemunt is. 2. Algemene betaal- of ruilmiddel (metaal of papier). 3. Rykdom, vermoë; geldsom; 4. Tarief, vergoeding, betaling; AGTER geld wees, net in geld belangstel; die geld BRAND in sy hand, hy wil net die geld uitgee/spandeer.
hard´loop, ge-. Die bene vinnig voortbeweeg, ..loper; ..lopery.
Beantwoord die volgende vrae oor die woordeboekgedeelte.
6.Hoeveel verskillende betekenisse (meanings ) het die woord “bang”?
7. Verander die woord “hardloop” sodat dit in die volgende sin pas:
Hierdie (hardloop) in die gange moet nou end kry.
8.Skryf een idioom (expression ) en sy betekenis neer waarin die woord “geld” gebruik word.
9. Waarvoor staan die afkorting “iem.”? Skryf die woord uit.
10. Breek die woord “hardlopery” op in lettergrepe.
11. Die woord “bang” het trappe van vergelyking. Skryf dit neer.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die selfstandige en byvoeglike naamwoord korrek gebruik.
In die vorige aktiwiteit het jy van spelling en klankverskynsels geleer. In ’n neutedop (en die Taalgids agter in die boek) verduidelik woordsoorte soos selfstandige en byvoeglike naamwoorde.
Selfstandige naamwoord
Ons ken ’n selfstandige naamwoord aan die volgende:
Die lidwoorde “ ’n” en “die” kan voor die woord geskryf word.
Hierdie woorde het gewoonlik ’n meervoud en verkleining.
Dit het dikwels manlike en vroulike geslag, byvoorbeeld: seuns – dogters.
Onthou wanneer jy meervoud of verkleining skryf:
As ʼn woord ʼn kort vokaal het, word die konsonant na die vokaal in die meervoud en verkleining dubbel geskryf, byvoorbeeld kos – kosse, tak – takkies.
As ʼn woord ’n dubbelvokaal het (been), val een vokaal weg as die meervoud geskryf word, byvoorbeeld been – bene, oor – ore.
Soorte selfstandige naamwoorde
Soortname is die name van voorwerpe waaraan jy kan vat en wat jy kan sien, byvoorbeeld: bak, deeg, stoel, seun, ram.
Eiename is die name van mense, diere, plekke, ensovoorts, byvoorbeeld: Salmon, Kaapstad, Suid-Afrika, Drakensberge.
Versamelname is woorde wat ’n versameling van dieselfde tipe voorwerpe of mense aandui, byvoorbeeld: ’n Span osse.
Abstrakte selfstandige naamwoorde is dinge waaraan ’n mense nie kan vat, kan sien of kan ruik nie. Dit is woorde soos liefde, ongeduld, woede.
Byvoeglike naamwoord
’n Byvoeglike naamwoord beskryf die selfstandige naamwoord. Die byvoeglike naamwoord kan voor die selfstandige naamwoord of na die selfstandige naamwoord gebruik word. Byvoorbeeld: Die groot atleet stap na die gewigstootsirkel. Die hoogspringer is lank. Byvoeglike naamwoorde het ook gewoonlik trappe van vergelyking, kan in die intensiewe vorm geskryf word en kan verbuig word.
Trappe van vergelyking
Die gewigstoter is groot, sy maat is groter, maar die afrigter is die grootste. Hoe later jy wakker bly, hoe banger gaan jy word.
Intensiewe vorm
Die byvoeglike naamwoord kan ook in die intensiewe vorm gebruik word, byvoorbeeld: Die voëltjie is baie klein. Die voëltjie is piepklein.
Intensiewe vorme word altyd as een woord geskryf.
Verbuiging
Die boom is hoog. Die hoë boom. Die boek is interessant. Dit is ’n interessante boek.
Beantwoord die volgende taalvrae in jou werkboek.
1.Skryf die meervoud en verkleining van die skuinsgedrukte woorde neer.
a.Die skool neem aan die byeenkoms deel.
b.“Is jou lyf vetgesmeer?” wil die afrigter weet.
c.Salmon se tyd vir die 800 m is baie goed.
d.Die afrigter klop Salmon met sy hand op sy skouer.
e.Die blombedding voor die skool is baie mooi.
2.In die volgende woordblok kom versamelname voor. Skryf die sinne oor en vul die regte versamelnaam in.
hoop skare span sak trop
a. ’n . . . atlete neem aan die interskolebyeenkoms deel.
b. ’n . . . mense kyk na die byeenkoms.
c. Die . . . klippe is baie hoog.
d. ’n . . . lemoene lê eenkant.
3.Skryf die regte vorm van die byvoeglike naamwoord tussen hakies.
a. Die (moeg) atlete rus na die 800 meter.
b. Matthews is ’n (vinnig) atleet wat onmiddellik die voortou neem.
4.Skryf die intensiewe vorm vir die woorde tussen hakies.
a. Salmon is (baie moeg) nadat hy die 1 200 m ook gehardloop het.
b. Die Interskolebyeenkoms is (baie bekend).
5.Kies die korrekte antwoord: Watter intensiewe vorm is nie reg nie?
a.Dit is grafstil soos almal sit en wag.
b.Die kinders sit tjoepstil op die pawiljoen.
c.Die atlete staan botstil voordat hulle wegspring.
d.Niemand beweeg nie, hulle is hondstil .
6.Skryf die regte trap van vergelyking vir die woord tussen hakies neer.
a. Die afrigter is ’n aangename mens, die skoolhoof is die (aangenaam).
b. Hoe (bang) jy voel, hoe (swak) gaan jy presteer.
7. Lees die teks in die eerste kolom en voer dan die opdrag in kolom twee uit.
Mathhews Batswadi a) was/is ’n b) SA-atleet en is in c) 1949 naby Vryburg in Noord-Kaap gebore. Hy was die d) 1ste swart atleet e) vir wie/aan wie Springbokkleure toegeken is.f) Batswadi ontvang in 1977 Springbokkleure.Batswadi het nege g) titles/tietels/titels tussen 1975 en 1980 gewen. h) Hy getree het in 1986 atletiek uit. | a.Kies die regte woord .b.Skryf voluit .c.Skryf volledig in woorde uit.d.Skryf volledig uit.e.Kies die regte woord .f.Skryf in die verlede tyd .g.Kies die regte spelling .h.Skryf in die regte woordorde . |
In hierdie aktiwiteit gaan jy
verskillende leesstrategieë gebruik
tekskenmerke van ’n boek verken
’n kortverhaal lees.
Prelees
Hoe goed ken jy ’n boek se kenmerke (features)? Gesels met jou maat oor die volgende:
Kyk na die Leerderboek se buiteblad:Waar word die titel geskryf?Hoe trek die titel jou aandag?
Gaan na die titelblad:Vertel wat alles op hierdie titelbladsy staan.
Blaai na die indeks agter in die boek.Wat is die doel (purpose) van die indeks?
Blaai nou na die inhoudsopgawe voor in die boek.Uit hoeveel modules bestaan die Leerderboek?Dink jy die inhoudsopgawe kan jou help om iets op te soek? Vertel vir mekaar hoe.
Atlete moet goed vir ’n wedloop voorberei. Dit is ook belangrik dat jy weet hoe om ’n teks reg te lees. In Pitkos word verskillende maniere van lees bespreek.
Vluglees
Lees die titel en besluit wat dit vir jou sê.
Die tegniek van vluglees beteken dat jy net die eerste en die laaste paragraaf heeltemal lees.
Lees daarna net die eerste sin van elke paragraaf.
Kyk dan of jy kan sê oor Wie en Wat die artikel handel en of dit vir jou iets vertel van die Waar, Wanneer en Waarom.
Lees die stuk dan van die begin tot die einde deur en jy sal baie meer daarvan verstaan en onthou.
Aandagtige lees is wanneer die teks deeglik gelees word om die inhoud te verstaan, sodat jy dit vir iemand anders kan vertel en vrae daaroor kan beantwoord.
Vluglees die storie “Voorloper” en beantwoord die volgende vrae.
1. Waaroor dink jy gaan die storie as jy die titel “Voorloper” lees?
2. Wie is die skrywer van die storie?
3. Lees die eerste paragraaf:
a. Wie praat in hierdie paragraaf?
b. Waarmee is hulle besig?
c. In watter graad is hy?
4. Lees die laaste paragraaf:
a. Hoe voel jy as jy hierdie sin lees? Gee ’n rede vir jou antwoord.
b. Wat beteken die sin?
Wanneer ʼn mens ʼn teks aandagtig lees, of na iemand luister, is daar altyd direkte inligting wat gegee word en inligting wat ʼn mens self moet aflei. Jou onderwyser gaan vertel hoe jy afleidings kan maak.
Tydens lees
Jou onderwyser gaan die storie “Voorloper” aan die klas voorlees. Lees aandagtig saam en beantwoord die res van die vrae.
Voorloper
1“Die één wat vandag moeilikheid maak (cause trouble), kry pouse met my te doen! Ek’t nie lus om die hele periode om die veld te draf nie,” waarsku Ruan stomend. Hy haat dit om, soos hy dit stel, “soos ’n gek” om die atletiekbaan te hardloop. Die graad 7C’s sukkel voort.
2“Ek help jou!” roep Dewald hortend.
3“Wat laat jou dink ek’t jóú hulp nodig?” kap hy. “Dit lyk in elk geval nie asof jy dit gaan oorleef nie, jou gesig is so rooi soos ’n tamatie.”
4Die ander lag. Slegs op een gesig is daar tekens van lekkerkry.
5“As julle manne wil gesels, kan ons nog ’n paar rondtes byvoeg?” skreeu die onderwyser, Meneer Retief, van die kantlyn af.
6“Ek vat sommer vir ou Dik Daan ook pouse vas,” mompel Ruan en gedempte snorke en loerende oë ontsnap uit die groep.
7Daan Retief steur hom vandag nie aan hulle nie. Sy oë is op die nuwe outjie wat ’n ent voor die groep hardloop. Hy blaas vinnig en hard op sy fluitjie. Die seuns storm soos besetenes.
8“Prrrrt,” blaas hy weer en hulle draf weer.
9Hy herhaal die oefening ’n paar maal. Dit lyk nie asof die nuwe seun dit eers voel nie.
10Hy hardloop steeds met gemaklike pas en bene van staal.
11“Tweet!”
12Al klaend nael hulle en kyk vraend om toe hy oudergewoonte nie dadelik weer blaas nie. Slegs enkeles neem die uitdaging aan, met die nuwe seun ver vooruit.
13“Wat is jou naam nou weer?” vra hy toe hulle van die veld af kom.
14“Matthews, Meneer.”
15“Is jy familie van Matthews Batswadi?”
16“Meneer?” die oë is poele vol vraagtekens.
17“Ek sal later verduidelik. Kom sien my na skool, ek wil jou inskryf vir die SA-skole se landloopkampioenskappe in Maart in Durban.”
18Die vraagtekens blom stralend.
(Jax Pretorius. 2012. Ongepubliseer)
Die volgende woordverklarings kan jou help om die storie beter te verstaan.
besetenes – kranksinnige/mal mense
enkeles – net ’n paar
gedempte – sagte
gemaklike pas – hardloop sonder om te sukkel
hortend – met rukke, ongelyk, stamp-stamp
klaend – kla die hele tyd
loerende oë – oë wat loer
nael – hardloop vinnig
oudergewoonte – soos jou gewoonte altyd was
poel – vlak plas water
snorke – wanneer die asem skielik deur die neus geforseer word, en veroorsaak gewoonlik ’n geluid – wys dat ’n mens vies/kwaad is
stomend – warm en hy hyg na sy asem
stralend – straal soos ’n lig/is baie vriendelik
strompel – hardloop op bene wat bewe en moeg is
uitdaging (challenge) – ’n toets om te sien wat jy kan doen
5. Kies die korrekte antwoord.
Die woord “hortend” in paragraaf 2 beteken dat die seuns . . .
a. nie ’n stem het nie.
b. baie honger is.
c. uitasem is van die baie oefening.
6. Die onderwyser se bynaam is Dik Daan. Wat kan ons daaruit aflei?
7. Wat word met die vergelyking in paragraaf 7 bedoel?
8. Voltooi die volgende sin. Die metafoor in paragraaf 10, “. . . bene van staal”, beteken . . .
9. Skryf beskrywende woorde uit die verhaal vir die volgende neer.
Matthews het nie ’n idee waarvan die onderwyser praat nie. (paragraaf 16)
Gebruik die volgende wenke oor soeklees om vrae 10-15 te beantwoord.
Hoe om te soeklees
As jy soeklees, beweeg jou oë vinnig oor ’n bladsy of lys op soek na spesifieke inligting.
Soeklees help jou om feite, datums, name of woorde in ’n teks vinnig op te spoor sonder om die teks te probeer lees of die res van die teks te verstaan.
10. In watter graad 7-klas is Ruan?
11. Skryf die vergelyking neer wat die seun se gesig in paragraaf 3 beskryf.
12. Wat is die onderwyser se van?
13.“Klanknabootsing” is wanneer ’n geluid deur woorde nagemaak word, byvoorbeeld: ’n Kat miaau . Skryf die twee woorde neer wat die fluitjie se geluid beskryf.
14. Wanneer is die SA-skole se landloopkampioenskappe?
15. In watter stad vind hierdie kampioenskappe plaas?
Lees saam met ’n maat.
Lees die verhaal hardop saam met jou maat deur. As julle die eerste keer sukkel om dit vlot te lees, probeer weer totdat julle dit foutloos en vloeiend kan lees.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die kenmerke van ’n kortverhaal ondersoek
vrae oor ’n kortverhaal beantwoord.
Jy het nou al die verhaal “Voorloper” gelees. Lees eers In ’n neutedop om meer uit te vind van karakters.
Karakters
Karakters is die persone in ’n verhaal. Party is belangriker as ander. Die hoofkarakters is die belangrikste mense in die storie.
Karakterisering
Wanneer jy iemand leer ken, besluit jy of jy van die persoon hou of nie. Dit werk dieselfde in ’n storie. Hoe leer jy ’n karakter ken in ’n storie? Deur wat hy sê, wat hy doen, wat ander van hom sê en hoe die verteller hom beskryf. Ons noem dit karakterisering.
Lees die storie weer aandagtig op jou eie deur.
Beantwoord die volgende vrae.
1.Karakters is die mense wat in ’n verhaal optree.
a.Skryf die name neer van die belangrikste karakters (most important characters ) in “Voorloper”.
b. Watter karakter is die hoofkarakter (die belangrikste)? Hoekom sê jy so?
c. Die titel “Voorloper” beskryf eintlik een van die karakters. Watter karakter is dit?
2.Karakterisering is die maniere (the ways ) wat ’n skrywer gebruik sodat die leser die karakters in ’n storie kan leer ken. Teken die volgende tabel in jou boek oor en gee voorbeelde uit die storie van hoe jy die karakters leer ken het. Sekere antwoorde is vir jou ingevul.
Ruan | Mnr. Daan Retief | |
Karakter se optrede (handeling) | Is moeg gehardloop. (par 1.) | |
Dink nie veel van die afrigter nie. (par. 6) | ||
Wat kan ons aflei uit wat die karakter sê? | Hy is baasspelerig. (par. 1) | |
Wat sê die verteller van hom? | Hy hou nie van hardloop nie: “Hy haat dit om . . . om die atletiekbaan te hardloop.” |
3.’n Skrywer kan ook beeldspraak soos metafore, vergelykings en personifikasie gebruik om karakters te beskryf. Kies die voorbeeld in kolom B wat by die tipe beeldspraak in kolom A pas.
Kolom ABeeldspraak | Kolom BVoorbeeld |
a. vergelykingb. metafoor | par. 18: “Die vraagtekens blom stralend.”par 3: “Rooi soos ’n tamatie” |
4.Lees weer die vorige vrae en antwoorde. Gebruik hierdie inligting om die storie op te som. Maak gebruik van die volgende raam. Jou opsomming moet ongeveer 40 tot 50 woorde lank wees.
Die verhaal speel af . . .
Die gebeure wat plaasvind, is die volgende: . . .
Die belangrikste karakters is . . . omdat . . .
Die een karakter is . . . en hy . . . (bespreek al die belangrikste karakters op hierdie manier).
5. Kies een van die karakters en vertel vir jou maat hoe jy dink die persoon lyk. Teken hom in jou boek of soek ’n prent van ’n persoon wat soos hy lyk en plak dit in jou boek.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
na ’n strooibiljet kyk en daaroor gesels
vrae oor die strooibiljet beantwoord
’n beskrywende paragraaf skryf.
Atletiekbyeenkomste moet geadverteer word. Lees meer oor ’n strooibiljet in Pitkos.
Strooibiljet
Die doel van ’n strooibiljet is om iemand te oorreed om iets te doen, byvoorbeeld om die kankervereniging te ondersteun.
Onthou die volgende:
Die opskrif/leuse/logo moet aandag trek.
Beskryf die produk kortliks. Die teks moet maklik lees.
Maak ’n lys van die voordele wat aangebied word.
Gee kontakbesonderhede soos ’n telefoonnommer, webwerf en ’n e-pos.
Gebruik verskillende lettertipes, kleure, illustrasies, ens.
Praat direk met die leser.
Gesels met ’n maat
Gebruik die wenke in Pitkos en gesels oor die volgende strooibiljet:
1.Wat is die doel van hierdie strooibiljet?
2.Die opskrif moet die leser se aandag kan trek.
a. Hoe verskil die lettertipe van die opskrif van die lettertipes van die res van die strooibiljet?
b. Hou julle van die manier waarop die ander letters en kleure gebruik is? Hoekom?/Hoekom nie?
3.Prente kan ook die leser se aandag trek.
a. Watter ooreenkoms is daar tussen die opskrif en die tekeninge?
b. Hoekom dink julle is die persone se bolywe aan die bokant van die strooibiljet afgesny?
4. Hoe voel julle as julle die woord “slegs” in die sin “Toegang slegs R10” lees? Hoekom voel julle so?
Leesbegrip
Beantwoord die volgende vrae op jou eie in jou werkboek.
5. By watter skool is die atletiekbyeenkoms? (1)
6. Noem twee maniere hoe jy meer inligting kan kry. (2)
7. Hoeveel verskillende items vind op hierdie dag plaas? Skryf net die getal neer. (1)
8.Skryf ’n woord uit die strooibiljet wat dieselfde as elke jaar beteken. (1)
9. Die atletiekbyeenkoms maak die aand agtuur klaar.
a.Is hierdie stelling waar of onwaar ? (1)
b. Skryf ’n gedeelte uit die strooibiljet om jou antwoord te bewys. (1)
10. Kies die korrekte antwoord. (1)
Die woorde “Almal welkom!” in die groot oranje voetafdruk wil vir die leser sê dat . . .
a. slegs atlete die byeenkoms kan bywoon.
b. slegs die persone in die illustrasie by die byeenkoms is.
c. enige persoon die byeenkoms kan bywoon.
11. Wie dink jy is Estelle de Bruyn? (1)
12. Sal jy die atletiekbyeenkoms bywoon? Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
Totaal: 10 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel vir Taak 3 in kwartaal 1 assesseer.
Skryf ’n verhalende paragraaf
Jy het die atletiekbyeenkoms bygewoon en daar het ’n paar interessante dinge gebeur. Skryf ’n verhalende paragraaf waarin jy in storievorm vertel wat met jou gebeur het. Jou paragraaf moet . . .
ongeveer 100 tot 110 woorde wees.
ongeveer 7 tot 9 sinne wees.
’n goeie opskrif hê.
voegwoorde hê.
in die verlede tyd geskryf word.
Prosesskryf se verskillende stappe kan jou met jou beplanning help:
Preskryf | Besluit op die doel, teikengroep en inhoud.Dink na oor die onderwerp. Skryf jou idees oor in die vorm van ’n kopkaart.Wat is die kenmerke van die teks wat jy moet skryf?Doen navorsing oor die onderwerp as dit nodig is. |
Beplan | Wat is die hoofgedagtes wat jy wil skryf en wat is inligting wat saam met die hoofgedagtes hoort?Rangskik jou hoofgedagtes in volgorde. |
Eerste probeerslag | Kies gepaste woorde wat by jou onderwerp pas.Organiseer jou idees.Lees jou skryfwerk deur.Gee dit vir jou maat om deur te gaan. |
Hersien, redigeer, proeflees en bied aan | Besluit watter van jou maats se idees jy wil gebruik.Verbeter jou woordkeuse en maak seker dat jou spelling reg is.Sorg dat jou sinne kort is en maklik lees. Let op dat jy kommas en punte reg gebruik.Lees dit weer ’n keer deur.Skryf dit finaal oor. |
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou verhalende paragraaf formeel vir Taak 2 in kwartaal 1 assesseer.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
taalkennis toepas.
Taal in konteks
1. Lees die teks in die eerste kolom en voer dan die opdrag in die tweede kolom uit.
Mbulani Mulaudzi, Suid-Afrika se a) iemand wat die beste in die wêreld is oor b) 800 m, het hom c) as gevolg van ’n klein d) ongeluk e) uit/aan die SA-span na die Statebondspele in Indië f) onttrek/vertrek/getrek. | a.Skryf een woord vir die omskrywing.b.Skryf volledig in woorde uit.c.Skryf die regte afkorting .d.Skryf in die verkleining .e.Kies die regte voorsetsel .f.Gebruik die woordeboekuittreksel en kies die regte woord : (6)getrek: Trek van een plek na die volgendeonttrek: Wil nie meer deel wees nievertrek: Kamer, lokaal. Om pad te gee/te ry |
2.Kies die regte spelling tussen hakies. (4)
a. Die (veld/velt) se gras is netjies gesny.
b. Die aflosatleet het die (stokie/stokkie) laat val.
c. ’n Lastige (flieg/vlieg) draai om die atleet.
d. Die (atleete/atlete) moet goed opwarm voor die resies.
3.Verdeel die skuinsgedrukte woorde in lettergrepe . Skryf of die lettergrepe oop of geslote is. (2)
a.Die laerskool is die naaste.
b.Mbulani geniet wedlope .
4.Skryf die regte vorm van die skuinsgedrukte woorde neer. (5)
a.Nie al die atleet is fiks nie, hulle is onfiks deelnemers.
b.Hoe hoog jy spring, hoe suksesvol kan jy wees.
c.Die klein span sit eenkant en ontspan.
5.Verander die stelsin in ’n vraagsin . Die skuinsgedrukte woorde moet die antwoord wees. (1)
Die beamptes het ’n rekenaar gebruik om die wenspan te bepaal.
6.Skryf die sin oor in die verlede tyd . (1)
Die vraagtekens blom stralend.
7.Skryf die sin oor in die toekomende tyd . (1)
Die byeenkoms vind Saterdag plaas.
Totaal: 20 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel vir Taak 3 in kwartaal 1 assesseer.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
bekendstellingskonvensies gebruik
jouself bekend stel
’n storie vertel.
Stel jouself bekend
Jy gaan later in die jaar (Module 15) op ’n meer formele manier leer hoe om iemand bekend te stel. Oefen solank op ’n meer informele manier. Doen die volgende:
Sê wie jy is en waar jy bly.
Waarvan hou jy?
Wat het jy die afgelope vakansie gedoen en waarna sien jy hierdie jaar uit?
Doen die volgende as jy praat:
Praat duidelik en nie te vinnig nie.
Maak seker jy spreek die woorde reg uit.
Storievertelling
Jy gaan ook in Module 6 leer hoe om ’n storie reg te vertel. Vertel nou ’n storie vanuit jou eie ervaring oor ’n atletiekbyeenkoms wat jy bygewoon het. Doen die volgende as jy die storie vertel:
Kyk hoe jy staan.
Praat duidelik, teen ’n goeie tempo en spreek die woorde reg uit.
Jy kan ook gebare gebruik.