Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 7 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 6
ОглавлениеIn hierdie module gaan jy van tradisies leer.
Luister na ’n drama wat vertel hoe ’n tradisie iewers in Afrika ontstaan het. Luister aandagtig vir inligting voordat jy vrae beantwoord.
Oefen jou leesbegrip en lees ’n kortverhaal oor ’n Ndebele-tradisie. Lees ’n gedig oor iemand van Finland. Jy gaan ook jou kennis van voornaamwoorde uitbrei.
Gebruik jou taalvaardighede en skryf ’n dialoog tussen karakters in ’n kortverhaal. Voer hierdie dialoog op.
Doen ’n hersieningsoefening oor spelling en idiomatiese taal. Sluit die module af met die lees van ’n volksverhaal uit jou Piekfyn Afrikaans Leesboek en beantwoord vrae daaroor.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
na ’n drama luister
oor die drama gesels
vrae oor die drama beantwoord
voornaamwoorde reg gebruik.
Preluister: Voorspel waaroor die teks gaan.
Kyk na die prentjie. Gesels met jou maat oor die volgende:
Wie dink jy is die persoon in die illustrasie? Waarom sê jy so?
Wat doen die persoon? Gee redes vir jou antwoord.
Watter dier sit voor die tafel?
Waarom dink jy is hierdie dier vasgemaak?
Die volgende woordverklarings gaan jou help om die teks beter te verstaan.
inboorling (native) – oorspronklike inwoner van ’n land, streek
smul (tuck in) – lekker eet, die ete geniet
verantwoordelike (responsible) – dit is sy werk
Tydens luister
Jou onderwyser gaan ’n drama, “ ’n Nuwe tradisie”, voorlees. Jy moet aandagtig vir inligting luister. Doen die volgende:
Luister eers net as jou onderwyser die drama lees.
Daarna gaan jy die vrae deurlees.
Jou onderwyser gaan dan die drama weer voorlees. Lees dan die drama saam met jou onderwyser.
Maak notas soos jy luister.
Beantwoord dan die vrae in jou werkboek.
’n Nuwe tradisie
Agtergrond:
Iewers in Afrika. Die inheemse stam hou ’n fees vir hulle koning.
Karakterlys:
Indoena : Koning se raadgewer. Hy reël ook die fees. Ongeveer 49 jaar oud.
Koning : Die koning van die inheemse stam. Ongeveer 50 jaar oud. Hy is baie streng. Almal is bang vir hom.
Indoena : So ja, alles moet nou net goed gaan. Dit is die koning se dag.
Koning : Indoena, is alles reg? Ek soek nie probleme nie.
Indoena : Ja, my koning. Kyk, die tafel kreun onder die lekker kos.
(’n Pikswart kat kom skielik onder die tafel uit, spring op die tafel en begin smul aan die vleis. Die koning se glimlag verdwyn.)
Indoena : (Verskrik en bang) Jammer, Koning. (Blitsvinnig vang hy die kat.)
Koning : Maak die kat aan die paal vas! Hier, vat hierdie riem! Hy sal daar bly tot die fees klaar is.
Indoena : So ja, nou kan ons aangaan met die fees. Sorg dat daai kat elke jaar vasgemaak word. Dit is nou ’n tradisie vir hierdie fees!
(Henry October. Ongepubliseer)
Postluister: Beantwoord die volgende vrae oor die luisterteks.
Vrae oor die inhoud
1. Vir wie word die fees gehou? (1)
2. Skryf twee dinge neer wat die kat gedoen het voordat hy gevang is. (2)
3. Watter kleur was die kat? (1)
4. Waaraan is die kat vasgemaak? (1)
5. Vir hoe lank is die kat aan die paal vasgemaak? (1)
Wat dink jy?
6. Kies die regte antwoord. (1)
’n Indoena is iemand . . .
a. wat vir ’n koning raad gee.
b. wat die kos maak.
c. wat ’n kat vang.
7. “Die leser weet in watter land die tradisie begin het.”
a.Is hierdie sin waar of onwaar ? (1)
b. Skryf ’n woord neer om jou antwoord te bewys. (1)
8. Beskryf in jou eie woorde wat die volgende sin beteken: (2)
“. . . die lang tafel wat kreun onder die gewig van al die eetgoed.”
9.Voltooi die volgende sin: Die koning se glimlag het verdwyn, want hy . . . (1)
Wat dink jy van die storie?
10. Watter tradisie het die mense begin volg? Skryf jou antwoord in twee sinne. (2)
11. Dink jy dit is reg dat die kat aan ’n paal vasgemaak word? Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
Totaal: 15 punte
Gesels in groepe:
Watter tradisies (vaste gewoontes) het julle familie?
Stem jy saam met julle tradisies? Waarom sê jy so?
Sal jy die tradisies vir jou kinders leer? Hoekom sê jy so?
Taal in konteks: Voornaamwoorde
Lees In ’n neutedop en die Taalgids om meer van voornaamwoorde te leer.
Voornaamwoorde
’n Persoonlike voornaamwoord staan in die plek van die selfstandige naamwoord. Byvoorbeeld: Die seun se hande is vuil. Hy moet sy hande was.
Onpersoonlike voornaamwoord kom gewoonlik by natuurverskynsels voor. Byvoorbeeld: Dit reën. Dit gaan sneeu. Daar word vertel dat tradisies lankal begin het.
Besitlike voornaamwoord dui besitting aan. Byvoorbeeld: Dit is my boek. Dit is myne. (Wenk: Vra die vraag: wie se?)
Die betreklike voornaamwoord het betrekking op (relates to) die selfstandige naamwoord vroeër in die sin. Dit tree ook as skakelwoord (conjunction) op. As ’n voorsetsel saam met die voornaamwoord gebruik word, moet jy tussen mense, diere en dinge onderskei. Byvoorbeeld: Waarop sit jy? (Die woord waarop verwys na die voorwerp/ding). Op wie kan jy staatmaak? (Die woorde op wie verwys na ’n mens).
Vraende voornaamwoord: Lui ’n vraagsin in. Byvoorbeeld: Waar is die badkamer en seep? Wie gebruik die vuil handdoek? Hoe was ’n mens jou hande behoorlik?
Aanwysende voornaamwoord: Kinders leer gewoonlik hard, maar daardie een was lui.
Beantwoord die volgende vrae oor die voornaamwoord in jou werkboek.
1.Skryf voornaamwoorde vir die woorde tussen hakies neer.
a. Die indoena moes die fees reël; dit was (die indoena se) werk.
b. ’n Skare mense het die fees bygewoon; (die skare mense) was baie honger.
c. Die inboorlinge hou ’n fees vir (die inboorlinge se) koning.
2.Kies die korrekte woord .
a. Die kat is die koning (se/s’n) enigste kat, dit is (hom se/syne).
b. Almal hou van die kos; (dit/hulle) is lekker.
c. ’n Mens moet mooi dink wat (jy/jou) vir (jou/jy) vriende van (jou/jy) tradisies vertel.
d. Die katwyfie het (sy/haar) kleintjies in die bosse weggesteek.
3.Kies die korrekte woord .
a. Die storie (wat na/waarna) julle luister, gaan oor tradisies.
b. Die koning (van wie/waarvan) hulle praat, is van Afrika.
c. (Na wat/waarna) soek die indoena?
d. Die tafel (op wat/waarop) die kos is, is baie lank.
Beantwoord ook die volgende vrae.
4.In die luisterteks het jy intensiewe vorme soos pikswart en seepglad gehoor. Skryf intensiewe vorme vir die woorde tussen hakies.
a. Dit is ’n (baie nuwe) tafeldoek.
b. Die koning se mond is (baie vol) kos.
c. Dit is ’n (baie vet) hoender wat hulle eet.
5.Kies die regte spelling tussen hakies.
a. Dit is maklik om ’n fees te (reël/reel).
b. Die mense eet (vleis/flys).
c. Daar is nie baie (palle/pale) om die kat aan vas te maak nie.
d. Al twee die koning se (hanne/hande) is vol kos.
e. Die klein (koningkie/koninkie) is kwaad.
6.Skryf die teenoorgestelde vir die woorde tussen hakies.
a. Tradisies is (onbekende) gewoontes.
b. Die fees het baie (laat) begin.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n kortverhaal lees
vrae oor die kortverhaal beantwoord
taalvrae beantwoord.
Elke kultuurgroep het sy eie tradisies. Lees die volgende storie wat oor ’n Ndebele-tradisie gaan. Jou onderwyser gaan vir jou meer inligting gee. Jy kan ook self inligting gaan opsoek.
Prelees: Voorspel waaroor die storie gaan.
Kyk na die prentjies by die storie hieronder. Gesels met jou maat oor die vrae.
Vertel wat in die eerste prentjie gebeur.
Kyk na die tweede prentjie: Dink jy hulle hou van mekaar? Waarom sê jy so?
Tydens lees
Soek- en vluglees die storie vir die volgende antwoorde:
Wie het eerste deur die rivier gestap in paragraaf 1?
Waarheen het hulle in paragraaf 2 gestap?
Wie is die skrywer van die storie?
Elemente in ’n kortverhaal
Ruimte is die plek waar die verhaal geplaas word of afspeel.
Karakters is die persone wat in die verhaal optree. Daar is hoofkarakters en bykarakters.
Konflik is die stryd of botsing wat tussen karakters of groepe en hul omstandighede plaasvind.
Intrige is die verloop van gebeure in die verhaal. Hoe die verhaal gebeur.
Lees eers die volgende uittreksel van ’n kortverhaal:
Qina en Awande
1Die een wat deur die stamvader aangestel is, bring die abakhetua met hul komberse en isonyana oor hul koppe tot by die rivier. “Kyk af, en volg my deur die ukuwela tot bo op die berg,” sê hy. Hy stap eerste deur die rivier.
2Nat, koud en uitasem (breathless) kom almal by die umphadu aan. Hul ouer broers en pa’s wag al. Hulle herken twee dinge: die reuk van gekookte pampoen, en die geheime taal van dié wat reeds deur die inisiasie is. Niemand het gedink hulle gaan vir twee maande in winterweer sonder ’n draad klere wees nie.
3Qina het uitgevind wie Zama is. “Ek is hier om te veg, en jóú te verslaan. Jy sien, Awande is mýne. Sy is lief vir my. Ek gaan met haar trou, nie jy nie.” Zama het later moed opgegee, want Qina wen elke keer die stokgevegte en jagtogte.
4Twee maande later word die seremonie gehou. Die ou komberse word verbrand. Die jong manne is nou mans. Hul ken ook die geheime taal.
5Die groep stap terug na hul huise. ’n Nuwe kombers en naam wag vir hulle . . .
6Awande, reeds in tradisionele Ndebele-klere, staan langs Zama se ma. “Awande, ontmoet my seun . . .” Zama val haar dadelik in die rede. “Nee, Moeder, ek kan nie met haar trou nie. Sy is nie vir my lief nie.” Hy draai na Awande: “Jy is vry om te gaan, Qina wag vir jou. Jy is vir hom lief, nie vir my nie.” Awande hardloop dadelik na Qina se huis.
7“Welkom terug, my seun. Jou nuwe naam is nou Akhumzi. Hier’s ’n nuwe kombers, sê sy ma.” Awande gaan staan agter hom. “Wel, soos jou nuwe naam het ons ’n huis om te bou,” fluister sy agter Akhumzi. Hy draai om en omhels (embrace) haar.
8“Ek sal altyd my verfkuns verf waar jy is,” verseker sy hom.
(Nelius du Preez. Ongepubliseer)
abakhetua – groepie jongmans, geïnisieerdes
isonyana – grashoofband, tipe kopbedekking van gras gemaak
stamvader – hoof van ’n stam
ukuwela – steek die rivier oor
umphadu – die inisiëringsplek in die berge wat ’n geheim is
Postlees
Beantwoord die volgende literêre vrae oor die kortverhaal.
1. Wie is die hoofkarakter in hierdie storie?
2. Skryf die name van die ander karakters neer.
3. Waar speel paragraaf 1 tot 4 af?
4. Die hoofkarakter is in konflik met iemand.
a. Met wie “baklei” hy letterlik en figuurlik?
b. Waaroor/oor wie baklei die hoofkarakter?
Beantwoord die volgende kontekstuele vrae oor die kortverhaal.
5. Watter twee dinge het die jongmanne oor hulle koppe gehad? Skryf Afrikaanse name neer. (1)
6. Wie het eerste deur die rivier gestap? (1)
7.Skryf die drie woorde neer wat beskryf hoe die jong seuns gevoel het toe hul by die umphadu aangekom het. (3)
8. Wie het daar vir die jong seuns gewag? (1)
9. Watter twee dinge het die jong seuns eerste herken? (2)
10.Wat bewys Qina se optrede in paragraaf 3 van hom as persoon? Kies die antwoord: Hy is doelgerig/weet nie wat hy wil hê nie . (2)
11. Kies die regte antwoord. (1)
Die uitdrukking “sonder ’n draad klere” beteken . . .
a. die klere hang op ’n draad.
b. hulle klere is weg.
c. hulle het geen klere aan nie.
12. Die jong mans het nuwe komberse gekry direk nadat hulle die ander komberse verbrand het.
a.Is hierdie sin waar of onwaar ? (1)
b. In watter paragraaf het jy jou antwoord gekry? (1)
13. Hoekom dink jy het Qina nou ’n nuwe naam? (1)
14. Sal jy graag so ’n inisiasieskool wil bywoon? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
Totaal: 15 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 3 in kwartaal 1.
Taal in konteks
Beantwoord die volgende taalvrae in jou werkboek.
15. Skryf antonieme vir die skuinsgedrukte woorde neer.
a.Dit is nat en koud .
b.Ek is hier om te wen .
c.Die ou komberse word verbrand.
16. Teken die volgende tabel in jou boek oor. Vul die regte woorde in.
Enkelvoud | Meervoud | Verkleining |
a. taal | ||
b. | komberse | |
c. | pa’s |
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n gedig lees
vrae oor die gedig beantwoord.
Prelees
Gesels met jou maat oor die volgende:
Wie hou daarvan om na rympies te luister?
Kyk na die illustrasie. Waaroor dink jy gaan die gedig wat jy gaan lees?
Kan jy aflei van watter land die man in die illustrasie is? Kies die regte antwoord: Finland/Venesië/Frankryk.
Beskryf die man se gesigsuitdrukking.
Kyk na die gedig se vorm.Hoeveel versreëls en strofes het die gedig?Waarom dink jy is daar nie ’n titel nie?Gesels oor die gedig se rym.
Beurtlees: Maak nou beurte en lees die gedig saam met jou maat deur.
1Vir ’n opgevoede Fin
2maak die lewe weinig sin.
3Hy wil weet of hy ’n vis is
4of familie van ’n Rus is.
5Met die spelling
6van die woord
7sal hy weet waar hy behoort.
8Want begin hy met ’n V
9sê die arme man: “O wee!”
10En dan weet hy mos beslis
11hy’s familie van ’n vis,
12want ’n snoek en kabeljou
13is gemaak om aan te kou.
14Maar begin hy met ’n F
15kom uiteind’lik die besef
16dat ’n Fin tog wel ’n mens is
17en dat Rusland
18oor die grens is
19en dat vis so lekker smaak,
20want dis vir die mens gemaak.
(Philip de Vos. Uit: Mallemeuleman. Human & Rousseau. 2004)
grens (border) – wat twee lande van mekaar skei
opgevoede (well brought up/educated) – het goeie maniere
Rus (Russian) – iemand van Rusland
uiteind’lik – korter weergawe van “uiteindelik”
weinig (few) – baie min
Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.
1.Skryf die woord neer wat bewys dat die Fin goeie maniere het.
2. Watter woord in die gedig beteken dieselfde as “baie min”?
3. Kies die regte antwoord: Die hoofgedagte van hierdie gedig is . . .
a. ’n Vis wat in Rusland bly.
b. ’n Persoon van Finland wat van vis hou.
c. ’n Persoon wat wil weet hoe ’n woord gespel word.
4. Wat sal vir die Fin die antwoord op sy vraag gee?
5.Watter uitroep gee die Fin as die spelling met “V ” begin?
6. Skryf die name van die twee soorte visse neer wat in die gedig genoem word.
7. Watter land is ’n buurland van Finland?
8. Vir wie, volgens die gedig, is visse bedoel?
9. Hou jy van die gedig? Gee ’n rede vir jou antwoord.
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou deelname aan die bespreking assesseer vir Taak 1 in kwartaal 1.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n dialoog skryf en aanbied
jou woordeskat uitbrei.
Skryf ’n dialoog
Kies nou een van die volgende illustrasies. Skryf dan ’n dialoog van ongeveer een bladsy wat tussen die twee karakters plaasvind.
Kyk hoe ’n dialoog geskryf word.
Lees ook die volgende wenke in Pitkos wanneer jy jou dialoog beplan.
Kenmerke van ’n dialoog
Dit is ’n verslag van spreekbeurte tussen twee of meer mense in die orde waarin die gesprek gevoer word en vanuit ’n spreker se perspektief.
Wanneer ’n dialoog geskryf word
Inligting vir sprekers (of die leser) oor hoe om te praat of wat om te doen, moet tussen hakies, direk voor die spreker se woorde, geskryf word.
Gee ’n opsomming voordat die dialoog geskryf word.
Indien die dialoog tussen familie of nabye vriende plaasvind, word ’n gemaklike, informele styl gebruik.
Wanneer die gesprek vreemdelinge insluit, is die praatstyl meer formeel.
Gaan soos volg te werk:
Jou beplanning
Beplan eers jou dialoog. Gebruik ’n kopkaart.
Besluit watter woordeskat jy gaan gebruik. Skryf hierdie woorde neer.
Terwyl jy skryf
Geen aanhalingstekens word gebruik nie.
Die sprekers se name is langs die kantlyn.
’n Dubbelpunt word na die name gebruik.
Laat ʼn reël na elke spreker se woorde oop.
Skryf jou dialoog in blokvorm.
Nadat jy geskryf het
Laat jou maats jou dialoog vir foute deurlees.
Skryf dit netjies oor.
Gee jou beplanning en finale dialoog in vir assessering.Formele assessering: Jou onderwyser kan jou dialoog formeel vir Taak 2 in kwartaal 1 assesseer.
Leer die volgende woordeskat vir ’n klastoets.
Voorsetsels
Hulle stap met komberse oor hulle koppe.
Hulle ken die reuk van pampoen.
Hulle gaan te voet deur die rivier.
Hulle stap terug na hulle huise.
Idiomatiese uitdrukkings met die woord “kat”
die kat uit die boom kyk – om seker te maak van iets
soos kat en hond baklei – baie erg met mekaar baklei
katvoet loop – baie versigtig wees
Diktee
Die jongmanne leer hoe om te veg.
Tradisionele gewoontes is baie belangrik in sekere kulture.
Die inwoners hou jaarliks ’n groot fees.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die dialoog as rolspel aanbied
die regte taal gebruik
beurte maak
liggaamshouding gepas gebruik.
Rolspeel jou dialoog
Gebruik nou jou dialoog en rolspeel dit. Doen die volgende:
Vorm groepies en besluit wie watter rol gaan speel.
Besluit wie se dialoog julle gaan gebruik.
Oefen die dialoog.
Maak seker jy kan die woorde uitspreek.
Gebruik liggaamshouding en gebare.
Julle kan hulpmiddels soos stokke en klere ook gebruik. Wees net versigtig.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
taalkennis toepas.
Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.
As jy sukkel, kan jy die Taalgids agter in die boek gebruik.
Taal in konteks
Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.
1.Kies die regte spelling van die woord tussen hakies. (2)
a. Qina en Zama se (ma’s/maas) wag by die huis.
b. Julle (moed/moet) baie mooi luister.
2.Skryf die afkortings vir die skuinsgedrukte woorde neer. (3)
a.Die geheime plek is iewers in Gauteng .
b.Hulle baklei as gevolg van Awande.
c.Hulle volgende stap is om ’n huis te bou.
3.Skryf ’n Afrikaanse woord vir die Engelse woorde tussen hakies neer. (3)
a.Awanda is (excited ) om vir Qina te sien.
b.Hulle stap (very slow ) terug huis toe.
c.Awande het (immediately ) na Qina se huis gehardloop.
4.Kies die korrekte woord . (4÷2=2)
a. Die jongmanne het nie ’n tekort (aan/in) kos nie.
b. Hulle baklei (met/vir) stokke.
c. Die pikswart kat het ’n tou (om/in) sy nek.
d. Die koning stap eerste (binne/by) die vertrek in.
5.Skryf die getal tussen hakies in woorde uit of vertaal die Engelse woorde in Afrikaans. (4÷2=2)
a. Die broers was (1ste) by die geheime plek.
b. Dit is koud, dit is (17) grade.
c. Dit is nou (08:15) in die oggend.
d.Qina en Zama het vir (two months ) op die berg gebly.
6. Watter idiome word met die volgende illustrasies voorgestel? Skryf die idioom en betekenis neer. Albei idiome het die woord “kat” as basisvorm. (4)
7.Kies die korrekte woord tussen hakies.(4)
a. (Wie vir/vir wie) kies Awande?
b. Die tradisie (wat van/waarvan) ek julle vertel, is baie oud.
c. Die land (van wat/waarvandaan) die koning kom, is Uganda.
d. Awande is haastig om (sy/haar) geliefde te sien.
Totaal: 20 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 3 in kwartaal 1.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n volksverhaal vir genot lees
self ’n storie skryf.
Lees, waardeer en verstaan ’n volksverhaal
In jou Piekfyn Afrikaans Leesboek is verskillende kortverhale en volksverhale opgeneem, maar weet jy wat die verskil tussen ’n kortverhaal en ’n volksverhaal is? Kyk saam met ’n maat na die volgende tabel.
Kortverhaal | Volksverhaal |
Dit sluit in moderne kortverhale soos satires, reisverhale, sketse, ensovoorts. | Dit sluit in sprokies, mites, legendes, fabels, belewenisse en sages. |
Het ontstaan as skriftelike literatuur. | Het ontstaan as mondelinge literatuur wat van geslag tot geslag oorvertel is. |
Kortverhale het verskillende doelstellings en temas. | Die doel van volksverhale is om die gehoor te vermaak en om ’n lewensles te leer. |
Kortverhale wissel van kort tot lank, die intrige en spanningslyn is duidelik en handelinge kom voor. | Dit is baie kort, daar is min gebeure en maak hoofsaaklik van dialoog en handeling gebruik. |
Karakters is gewoonlik mense en daar is gewoonlik een hoofkarakter en newekarakters. | Karakters is sprokiesfigure, diere, dinge uit die natuur. |
Dit kan in die verlede of teenwoordige tyd geskryf word. | Dit word gewoonlik in die verlede tyd vertel. |
Karakters het name wat hulle ook soms karakteriseer. Jy leer die karakters op verskillende maniere ken. | Karakters het nie eiename nie en staan bloot bekend as byvoorbeeld “die vrou”, “die jakkals”, ensovoorts. |
Herhaling kan gebruik word om iets te beklemtoon. | Frases, woorde, liedjies word herhaal om belangrike dele uit te lig. |
Groepbegeleide lees
Beurtlees die verhaal “Kaninu se geheim” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek. Beantwoord die volgende vrae in julle groepe.
Dink julle die verhaal is ’n tipiese kortverhaal of ’n volksverhaal?
Wie is die hoofkarakter in die verhaal?
Wat was die hoofkarakter se geheim?
Word daar van herhaling in die verhaal gebruik gemaak? Gee voorbeelde.
Wil hierdie verhaal vir die leser ’n les leer? Hoekom sê julle so?
Was hierdie verhaal vir julle humoristies (snaaks)? Hoekom sê julle so?
Hoe sou jy gevoel het as jy Kaninu was?
Skryf jou eie storie
Skryf nou vir huiswerk jou eie kort storie oor ’n fiktiewe karakter en gebeure wat spruit uit tradisies en gewoontes uit julle familie of gesin. Jou verhaal moet ongeveer een (1) bladsy (± 6 paragrawe) lank wees. Jou onderwyser kan dalk besluit om dit formeel te assesseer.