Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 5

(Kwartaal 1: Week 1 en 2)

Оглавление

Dinge wat ons geniet

Wat gaan jy leer?

In hierdie module doen jy ’n luisteroefening oor dans en daarna neem jy deel aan ’n groepbespreking. Jy gaan lees oor die ontwikkeling van verskillende dansvorme en ook lees oor moderne dansstyle.

Jy gaan ook jou mening in ’n leesbegripsoefening gee oor jou gunstelingmusiekvorm en -dansstyl. Terwyl jy lees en kyk, skryf en gemotiveerde standpunte inneem, sal jy jou taal- en skryfvaardighede ontwikkel.

Geniet dit om ’n skets, ’n volksverhaal en ’n gedig te lees en om ’n advertensie te ontwerp en skryf. Ten slotte gaan jy jou eie kort storie skryf.

Aktiwiteit 1: Luister na en praat oor dans
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•Lees en kyk•aandagtig luister vir spesifieke inligting•deelneem aan ’n groepbespreking, jou mening lug en na ander s’n luister, en gevolgtrekkings maak•’n tabel korrek voltooi•definisies uitbrei na paragrawe•nuwe/onbekende woorde wat met musiek en dans verband hou, en woorde wat dikwels verkeerd gespel word, herken en gebruik.

Mense dans al deur die eeue heen. Rotstekeninge wat duisende jare oud is, beeld mense uit in formasies wat na dans lyk. Dans is die beweging wat ’n mens saam met musiek maak. Die bewegings van die voete en liggaam kan deur een persoon, ’n paar of ’n groep uitgevoer word. Verskillende dansstyle het in verskillende wêrelddele ontwikkel.

Luisteroefening

Teken die tabel oor in jou werkboek. Luister aandagtig na inligting oor verskillende danssoorte wat jou onderwyser vir jou gaan voorlees en voltooi die tabel terwyl jy luister. Die eerste dans is as ’n voorbeeld vir jou ingevul.

DansTyd van ontstaanLand van oorsprongWat kan jy aflei oor die bewegings van die dans?
1. Wals17de eeuFrankryk1-2-3-tydmaat
2. Tango
3. Volkspele
4. Kwaito
5. Kwasa-Kwasa
6. Breakdance
7. Ruk-en-rol
8. Twist
9. Disko

Luisterbegrip

Jou onderwyser gaan weer die teks aan jou voorlees. Volg nou die stappe van die luisterproses:

 •Jou onderwyser lees die teks – jy moet luister en notas afneem.

 •Dan gaan jou onderwyser die vrae saam met jou lees en verduidelik.

 •Beantwoord daarna die vrae in jou werkboek.

Luisterbegripsvrae
1.Watter dans kan maklik aangeleer word? (1)
2.Verduidelik hoe die dans “ruk-en-rol” aan sy naam gekom. (1)
3.In watter land kan jy aflei het ruk-en-rol ontstaan? (1)
4.Watter dans word gekenmerk deur robotbewegings? (1)
5.Vir watter soort dans is John Travolta veral bekend? (1)
6.Is volkspele oorspronklik van Suid-Afrika? Motiveer jou antwoord. (2)
7.“Kwaito” is nie net ’n dans nie. Stem jy saam hiermee? Gee ’n rede vir jou antwoord .(2) Hoekom het die “twist” as dans ongewild geraak? (1)
Totaal: 10 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan hierdie aktiwiteit formeel assesseer.

Neem deel aan ’n groepbespreking

Lees Pitkos voordat julle met die groepbespreking begin sodat julle weet hoe om so ’n bespreking te doen.

Pitkos

Groepgesprek

 •Luister aandagtig na wat ’n maat sê of vertel.

 •Neem deel aan die gesprek of bespreking deur jou eie mening te gee en ander s’n te respekteer.

 •Hou gesprekke vol – vul gapings of stiltes sodat die gesprek vloei; moedig ’n spreker aan.

 •Pas beurtnemingskonvensies toe (elkeen moet ’n beurt kry om te praat).

 •Verdedig jou standpunt en onderhandel as een van jou maats nie saamstem nie.

 •Bevraagteken iemand anders se standpunt op ’n hoflike wyse.

 •Deel idees en ervarings.

Opdrag: Kyk na visuele tekste – praat oor ’n advertensie

 •Werk saam met jou maat of in jou groep.

 •Kies die dansstyl uit die onderstaande lys wat pas by elk van die illustrasies in die advertensie hieronder.

 •Beskryf dan elke styl in julle eie woorde (gebruik byvoeglike naamwoorde en bywoorde om die danse te beskryf).

 •Herrangskik die danse soos in die tabel (1-9) hieronder genoem volgens die style wat bymekaar pas en gee ’n rede vir julle keuse.

 •Groepe kan beskrywings vergelyk.

wals / tango / volkspele / kwaito / ballet / manyisa / samba /breakdance / ruk-en-rol / twist / disko / gumboot-dans / vastrap /kwasa-kwasa / rumba / twalatsa

Beantwoord ook die volgende vrae:

 •Wat is die doel van die advertensie?

 •Trek die advertensie jou aandag?

 •Wie is die teikengroep van die advertensie?

 •Is die boodskap van die advertensie duidelik?

Formele assessering: Jou onderwyser kan julle groepgesprek formeel assesseer.

Aktiwiteit 2: Lees oor Afrika-danse
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•’n leesbegripsoefening doen•leesstrategieë leer en reg gebruik•jou woordeskat uitbrei•spelling- en taalkonvensies inskerp•woorde wat verwar (homofone en homonieme) korrek gebruik.

Leesbegrip

Prelees: Voordat jy ’n leesbegripsoefening doen, moet jy eers In ’n neutedop aandagtig lees om seker te maak jy ken die leesstrategieë, asook die stappe om ’n leesbegripsoefening te doen.

In ’n neutedop
Vluglees is wanneer jy ’n teks net vlugtig (vinnig) lees om vas te stel waaroor die teks gaan.
Soeklees is wanneer jy na spesifieke inligting soek sonder om die teks noukeurig deur te lees.
Aandagtige lees is wanneer jy die teks deeglik lees om die inhoud te verstaan en om die inligting te kan weergee.
Onthou die volgende stappe wanneer jou leesbegrip getoets word:
•Probeer om die titel te verstaan om ’n idee van die leesstuk se inhoud te kry.
•Lees die eerste paragraaf (inleiding) en die laaste paragraaf (slot).
•Lees die eerste sin van elke paragraaf om jou begrip van die inhoud uit te brei.
•Die hele leesstuk moet nou aandagtig deurgelees word om vrae te beantwoord en die kerngedagte of tema van die teks te identifiseer.
•Onderstreep die woorde en/of frases wat jy nie verstaan nie om meer aandag daaraan te gee.
•Lees die vrae versigtig deur sodat jy ’n idee kry van die antwoorde wat jy moet soek.
•Nadat al die vrae beantwoord is, lees jy elke vraag en antwoord weer van vooraf deur; kyk nou ook vir verkeerde spelling en leestekenfoute.

Tydens lees: Lees die teks op jou eie of saam met ’n maat. Maak notas van woorde/frases wat jy nie verstaan nie sodat jy dit in ’n woordeboek kan naslaan.

Afrika-danse


1Afrika bestaan uit meer as 53 lande en die mense verskil baie, maar dans is ’n deel van almal se lewe. Dans in Afrika sluit aktiwiteite van geboorte tot die dood in. Wanneer ’n kind gebore of iemand begrawe word, is daar ’n dans. Sommige danse is vir puberteitsrites (puberty rites) en inlywingseremonies (initiation ceremonies). Sommige is vir die voorbereiding van jag, oorlog en vir aanbidding. Die meeste Afrika-danse is in stamrituele gewortel.

2Sommige dansstyle word as begeleiding (accompaniment) vir storievertelling of gedigte gebruik en ander word deur kruiekenners, sjamaans en genesers vir die genesing van siektes gebruik. Daar is danse wat mans en vroue eer, getroud of ongetroud. Sommige is slegs om gaste te verwelkom of wanneer ’n nuwe leier sy amp aanvaar. Afrika-dansers sien nie dans en musiek as aparte (separate) dinge nie. Dit word as twee komponente wat bymekaar pas gesien.

3Kenmerke van Afrika-danse:

 •Gebruik natuurlike buigings van die liggaam.

 •Dans naby die vloer sodat dit gravitasie komplementeer eerder as om dit uit te daag.

 •Nabootsing en dramatisering van die natuur (voëls, diere, insekte of plante) of elemente soos vuur, water, aarde en lug.

 •Danse het oor die algemeen ’n tema (vrugbaarheid, hofmaking, werk, hiërargie, ens.) en doel (protes, sosialisering, feesviering, bevraagteken van sosiale kwessies, ens.).

4Elemente van Afrika-danse sluit ook die volgende in:

 •Die deelnemers – is hulle jonk of oud, vroulik of manlik?

 •Die plek waar die dans plaasvind (oop vlaktes, bergagtig, strand, bos, buite, binne, teater, ens.)

 •Die gebruik van verskeidenheid, repetisie, kontras, oorgang, sekwensie, klimaks, balans en harmonie.

 •Die estetika (aesthetics) en tegniek van die spesifieke dans.

5’n Goeie voorbeeld van ’n rituele dans is die medisynelied van die Khoisan. Hulle was jagters en versamelaars wat nie ’n koning of leiers gehad het nie. Verskillende groepe het verskillende gelowe en gode gehad, maar hulle geloof was deel van hulle alledaagse lewe. Hulle rotstekeninge en die medisynelied is bewys hiervan.

6Almal, behalwe die baie oues of baie jonges, neem aan die medisynelied deel. Daar is verskeie redes vir die dans – om die bonatuurlike in hul wêreldse bestaan te betrek vir hulle jagondervinding, om die geeste te beïnvloed sodat hulle nie die lewendiges sal skade aanrig nie en om siekes te genees. Die dans vind tydens die aand plaas en kan tot die vroeë oggendure duur. Alhoewel daar baie variasies (variations) van passies is, word daar algemeen van sirkels (een of baie), sang en klappatrone gebruik gemaak. Daar is ook verskillende rolle vir mans, vrouens en natuurlik die medisyneman. Dit is die elemente wat in ritualistiese (ritual) danse in baie samelewings (societies) gevind word.

Postlees: Beantwoord die volgende leesbegripsvrae in jou werkboek.
1.Wat beteken die volgende woorde?
a)ritueel (par. 1)
b)sjamaan (par. 2) (2)
2.Gee sinonieme vir die volgende woorde:
a)repetisie (par. 4)
b)sekwensie (par. 4) (2)
3.In paragraaf 3 staan: “Dans naby die vloer sodat dit gravitasie komplementeer …” Wat beteken dit? Kies een van die volgende:
a)Die dans is baie laag op die vloer en in verhouding met swaartekrag.
b)Die vloer waarop gedans word, het ’n groot aantrekkingskrag.
c)Die dans en die aarde se swaartekrag werk teen mekaar. (1)
4.Watter twee kenmerke van die Khoisan word in paragraaf 5 uitgelig? (2)
5.Lees paragraaf 2. Skryf in jou eie woorde hoe Afrika-dansers dans en musiek sien. (1)
6.Hoe leef ’n mens as jy in “harmonie” (par. 4) leef? (1)
7.Wanneer sal ’n stam moontlik ’n inlywingseremonie hou? (2)
8.Uit watter woord in paragraaf 5 kan jy aflei dat die Khoisan se geloof deel was van hulle belewing van hul omgewing? Wat dien as bewys van hierdie eenheid? (2)
9.Noem vier redes waarom die medisynelied gedans word .(4)
10.Waarom kan die medisynelied as ’n “ritualistiese dans” beskryf word? Verduidelik jou antwoord. (2)
11.Wat word bedoel wanneer daar na die “estetika” (par. 4) van ’n dans verwys word? (1)
(Totaal: 10 punte: 20÷2)

Taalstrukture en -konvensies

In In ’n neutedop wat volg, is daar ’n paar taalkonvensies wat jy moet ken. Gaan dit noukeurig deur en beantwoord die vrae wat daarna volg. Leer al die moeilike spelwoorde.

In ’n neutedop
Skryftekens
Deelteken (¨): Die deelteken word gebruik om ’n nuwe lettergreep aan te dui, byvoorbeeld re/ën, o/ë. Leer die volgende:dieet – diëteeet – geëetfinansieel – finansiëleprieel – priëlesubsidieer – subsidiëringGeen deeltekens nie: doopseel, universeel
Kappie (^): Die kappie dui ’n lang, gerekte klank aan, byvoorbeeld: wêreld, bêre, brûe, rûe, miljoenêr, sekondêr, primêr.
Die volgende woorde word nié met ’n kappie geskryf nie: vlermuis, kombers, pers, stert, perde, regverdig, ster, ens.
Koppelteken (-): Die koppelteken word gebruik in ’n samestelling wat een woord behoort te wees, maar weens uitspraakverwarring nie as een woord geskryf kan word nie, byvoorbeeld see-eend, na-aap. Dit word ook gebruik•om lees te vergemaklik: Ermelo-inwoner•as weglaatteken: sit- en slaapkamer•as afbreekteken aan die einde van ’n reël: Ons moet die koppelteken korrek gebruik.
Onthou: Hooftelwoorde waarin die voegwoord en voorkom, kan los of met koppeltekens geskryf word: ses en sewentig/ses-en-sewentig
Spelling
Woorde wat eindig op ’n -d en -t
Tussen die slotklanke van hand, band, hond, kat en kant is daar geen verskil nie. Die meervoudsvorme is hande, bande, honde, kat(t)e en kante. Daarom word hand, band en hond met ’n -d en kat en kant met ’n -t geskryf. Die oorspronklike woord en sy samestellings, afleidings en verboë vorme moet sover moontlik op dieselfde manier gespel word.
Betekenisleer
Homofone
Hierdie woorde klink dieselfde, maar die betekenis en die spelling verskil, byvoorbeeld:•Die danser vertel ’n leuen vir sy afrigter omdat hy laat is. Nou leun hy teen die muur sodat ons hom moet jammer kry.•’n Regter vel ’n vonnis. Die son skyn baie fel hier in Afrika en ’n mens kan maklik sonskade kry.
Homonieme
Dit is woorde wat dieselfde klink en dieselfde gespel word, maar dit het verskillende betekenisse, byvoorbeeld:•Ek gaan nou huis toe. Maak asseblief die deur toe.•Dansuitrustings is deesdae baie duur. Die dansweek duur slegs een week.•Die ouddanser het waardevolle raad aan die dansers gegee. Die Raad het besluit dat die danskompetisie in Kaapstad sal plaasvind.•’n Harder is ’n soort vis, maar jy sal harder moet probeer indien jy hom wil vang!

Beantwoord die vrae in jou werkboek. Skryf die sinne oor en kies die korrekte spelwyse en/of skryfteken.
1.Dansers (reis/rys) baie vir optredes. (1)
2.Tydens optredes sien hulle hulle (famielies/families) maar min. (1)
3.Dansers kry genoeg oefening, daarom is hulle gewoonlik (maar/maer). (1)
4.Hulle tree gewoonlik in teaters op, nie in die (veld/velt) nie. (1)
5.Dit is belangrik dat dansers al van vroeg deur hulle (mas/ma’s) gestuur word vir danslesse. (1)
6.Die (Le Rouxs/Le Roux’s) is baie bekend in danskringe. (1)
7.Kinders (naaap/na-aap) graag die dansers nadat hulle ’n vertoning gesien het. (1)
8.Dansers is (finansieel/finansiël) goed daaraan toe, want hulle tariewe is hoog. (1)
9.Soms bestaan ’n dansgroep uit (een- en twintig/een-en-twintig) lede .(1)
10.’n Goeie danser kan ook ’n bekende (stêr/ster) word. (1)
11.Kies die korrekte vorm van die woord tussen hakies:
As ’n mens na ’n stamdans van ’n ander (land/lant) kyk, kan jy verstaan waaroor dit gaan, al is die (agtergrond/agtergront) en oorsprong nie (bekend/bekent) aan jou nie. Al ken jy nie die mense nie, kan jy agterkom of die stamdansers (bid/bit) of (kwaad/kwaat) is. (5)
(Totaal: 15 punte)
Formele assessering: Jou onderwyser kan hierdie aktiwiteit formeel assesseer vir Taak 3 (kwartaal 1) van die assesseringsprogram.

Aktiwiteit 3: Sê jou sê
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Skryf en aanbied•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•’n advertensie ontwerp en skryf•’n liedjie lees vir begrip en waardering•jou woordeskat uitbrei•idiome en idiomatiese•nuwe/onbekende woorde wat met musiek en dans verband hou, en woorde wat dikwels verkeerd gespel word, herken en gebruik.

Julle weet hoe mense van mekaar kan verskil as dit kom by keuses maak. Alle tieners hou van gemaklike klere, maar kyk net hoe verskil hulle klere wanneer hulle by ’n jol opdaag! Die meeste tieners hou van dans, maar gee hulle die kans om te dans – hulle gaan beslis nie dieselfde bewegings maak nie!

Sê jou sê in groepe: Kry jou skryfgoed bymekaar en skryf twee van jou gunstelinge onder die volgende opskrifte neer:

 •Beste sanger of musiekgroep

 •Lekkerste jolplek

 •Beste tydverdryf

Verdeel in groepe en gee elkeen in die groep ’n beurt om vir die klas een gunsteling te noem en te sê waarom hy/sy dit bo die ander verkies.

Ontwerp ’n advertensie

 •Kyk na advertensies in koerante en tydskrifte.

 •Watter dinge in ’n advertensie trek jou aandag? Let op die volgende: opskrifte en subopskrifte, lettertipes en -groottes, illustrasies/grafika, die gebruik van kleur, slagspreuke, trefwoorde of -frases, ensovoorts.

 •Hoekom trek dit jou aandag?

 •Is daar iets in die advertensies wat jou oorreed om van die produk/diens gebruik te maak of die geleentheid by te woon?

 •Gesels met jou maats daaroor.

Kies een van jou gunstelinge wat jy tydens die groepgesprek geïdentifiseer het en ontwerp ’n adverten­sie daarvoor. Voordat jy met die opdrag begin, moet jy eers Pitkos aandagtig deurlees. Sorg dat jou advertensie aan al die vereistes voldoen, want jou onderwyser kan dit moontlik formeel assesseer.

Pitkos

Riglyne vir advertensies (tekskenmerke)

 •Wat is die doel van die advertensie?

 •Wie is die teikengroep van die advertensie?

 •Die advertensie se boodskap is duidelik vir die ontvanger/leser/kyker.

 •Die advertensie het woorde/teks wat die ontvanger/leser/kyker sal oorreed.

 •Maak die skrywer gebruik van gevoelstaal?

 •Illustrasies, grafiese materiaal en die skriftelike teks is duidelik en betekenisvol.

 •Die komposisie (uitleg) van die advertensies is gepas.

 •Het jy jou spelling, woordkeuse en punktuasie nagegaan?

Formele assessering: Jou onderwyser gaan jou advertensie formeel assesseer.

Opdrag: Vertaling

Lees die volgende gedeelte oor die oorsprong van die Suid-Afrikaanse gumboot-dans en kyk of jy die liedjie eers in Engels en dan in Afrikaans kan vertaal.

Dit is nie net smaak in klere, pret of musiek wat verskil nie. Daar is in elke kultuur tradisies, plekke en voorwerpe waaraan waarde geheg word. So ontstaan die Suid-Afrikaanse gumboot-dans wat wêreldwyd bekend is.

Dié dansstyl is deur Suid-Afrikaanse mynwerkers ontwikkel. Hierdie werkers moes om finansiële redes weggaan van hulle gesinne en in die goud- en steenkoolmyne gaan werk. Hulle was maande lank van die huis af weg en moes onder gevaarlike toestande werk. Hulle werksklere het bestaan uit oorpakke, bandanas vir die sweet, harde hoede en rubberstewels (gumboots) vir beskerming. Hierdie werkers is nie toegelaat om met mekaar te praat terwyl hulle ondergronds (underground) gewerk het nie. So het hulle deur middel van die rubberstewels begin kommunikeer.

Sommige werkgewers het agtergekom dat hier ’n nuwe dansstyl aan die ontwikkel was. Hulle het die werkers in groepe laat dans om besoekers aan die myne te vermaak.

Woordeverklarings
aanhang – gewildheid, ondersteuning
bandanas – gekleurde sysakdoeke met wit of geel kolle wat as tjalie of nekdoek gebruik kan word
gumboot – dans: rubbersteweldans; gumboots word ook oorskoene of rubberskoene genoem

Die volgende is ’n liedjie wat saam met ’n gumboot-dans gesing word.

Mahlalela


Hee mahlalela

Hamb’uyo sebenza

Hee mahlalela

Hamb’uyo sebenza

Hee hee

Hee mahlalela

Hamb’ uyo sebenza

Hee mahlalela

Hamb’ uyo sebenza

Engelse vertaling:

Loafer go and work

Mahlalela … loafer

Hamba … go

Uyo … yes

Sebenza … work

Opdrag: Vertaal die lied eers volledig in Engels en dan in gepaste Afrikaans in die groepe waarin julle reeds gewerk het. Lees julle vertalings aan die klas voor.

Woordeskat

Woordeskatuitbreidings
Baie note op sy sang hê – baie te sê hê.
Die onderstaande idiome kan gebruik word in jou alledaagse taalgebruik, voorbereide mondelinge aanbiedings en skryfwerk.
Elke voël sing soos hy gebek is – elke mens handel volgens sy eie insigte en geaardheid.
Na iemand se pype dans – doen alles wat ’n ander een sê.
’n Ou viool kan ook nuwe liedjies speel – ’n ou mens kan ook iets moois lewer.
Sy sing ’n te hoë noot – verwys na iemand wat te ambisieus is.
Te dom om voor die duiwel te dans – baie dom.
Aktiwiteit 4: Leer taalstrukture vir praat en skryf
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•jou leesbegrip oefen•leestekens reg in sinne gebruik.

Prelees

Om vrae oor ’n leesteks noukeurig te beantwoord, moet jy weet watter soort vrae jy gaan kry om te beantwoord. Lees Pitkos om seker te maak jy verstaan leesbegripsvrae.

Pitkos

Watter soort begripsvrae kan gevra word?

 •Eenwoord-antwoorde: Wanneer die vraag net een woord as antwoord vereis, moet jy nie ’n sin skryf nie – net die woord!

 •Volsin-antwoorde: Skryf volsinne sonder enige spel- en leestekenfoute, anders verloor jy punte. Die punte toegeken vir die vraag sal bepaal hoeveel inligting/feite jy in die sin moet weergee.

 •Aanhalings uit die teks: Gebruik aanhalingstekens reg wanneer jy ’n woord, ’n sin of ’n gedeelte van ’n sin moet aanhaal, byvoorbeeld: “Doen jou navorsing.” Let op die dubbele aanhalingstekens.

 •Meerkeusevrae: Die opdrag moet baie goed verstaan word – anders maak jy die verkeerde keuse. Die verskillende antwoorde kan jou deurmekaar maak as jy nie die vraag reg gelees het nie.

 •Waar of onwaar: Wanneer jy jou keuse maak, is dit noodsaaklik om dit te motiveer met inligting uit die teks: gewoonlik word geen punte toegeken indien jy nie sê hoekom iets “waar” of “onwaar” is nie.

Tydens lees

Lees die volgende artikel oor ’n besondere danssoort aandagtig deur en beantwoord die vrae daarna. Maak notas van moeilike woorde wat jy nie verstaan nie.

Krump is hier

’n Dans wat jou lewe gaan verander …

Krump het sy oorsprong in clowning, ’n dansstyl wat in 1992 deur ’n hip-hop clown, Thomas (Tommy the Clown) Johnson, in Compton, Kalifornië begin is.

Tommy wou jongmense van die straat af en uit gangs uit hou deur ’n alternatiewe (alternative) lewenstyl deur middel van dans te skep. Dié jongmense het nie genoeg geld of opsies vir alternatiewe tipes vermaak nie. Tommy self was ’n rukkie in die tronk, en het besluit om sy lewe reg te ruk.

Hip-Hop Clowns & Entertainment Inc. verskaf vermaak by kinderpartytjies en parades. Die clowns gebruik ballonne, towerkunsies en gesigverf in hulle dans-shows. Die bewegings is geïnspireer deur onder andere Michael Jackson en B-Boys, en die klere deur Bozo the Clown.

Reënboogpruike (rainbow-coloured wigs) en rooi neuse is kenmerkend.

Krump het uit dié styl ontwikkel. Dit is meer atleties, amper soos ’n aggressiewe tipe breakdance-oorlog. Dit het ontstaan tydens Dance-off battle zones, wat deur Tommy gereël is, en het ’n nuwe dansstyl tot gevolg gehad. Krump het ’n rou energie. Kyk byvoorbeeld na musiekvideo’s soos Missy Elliott se “I’m really hot” en die Black Eyed Peas se “Hey mama”.

Die gesigverf is belangrik. Clowns verf hulle gesigte soos narre, terwyl “krumpers” se gesigverf meer soos dié van vegters is, en aan Afrika se stamdanse herinner.


(Verwerk uit: Jip, Beeld)

Postlees: Skryf die antwoorde in jou werkboek.
1.Wie het hierdie dansstyl ontwikkel?
2.Noem twee redes waarom hy hierdie dansstyl ontwikkel het.
3.Hoekom het hy op dans as alternatiewe lewenstyl besluit? Gee jou mening.
4.Hoekom, dink jy, wou hy só jongmense van die straat af hou?
5.Noem drie eienskappe van krump.
6.Sê of die volgende stellings waar of onwaar is. Motiveer jou antwoord deur ’n aanhaling uit die artikel.
a)Tommy wou die jeug deur middel van hierdie dans leer oorlog voer.
b)Krumpers lyk soos gevegsoldate.
7.Gee een woord uit die leesstuk vir elk van die volgende:
a)Vrye keuse om iets te doen of nie te doen nie
b)Stryd, botsing tussen mense
8.Ontleed die inligting van die artikel wat jy gelees het en kies die korrekte antwoord uit die volgende moontlikhede.
Krump is …
a)’n rustige dans wat vir jongmense bedoel is.
b)soos ’n oorlogsdans wat baie energie verg.
c)ontwikkel vir die ryk jongmense in Kalifornië.
d)’n ou dans wat weer populêr geword het in 1992.
9.In hierdie teks kom heelwat Engelse woorde voor. Gebruik ’n tweetalige woordeboek om die Afrikaanse ekwivalente na te slaan van:
a)clown
b)gangs
10.Dink jy krump is gewild in Suid-Afrika? Hoekom?/Hoekom nie?

Leestekens

Leestekens is belangrik wanneer jy lees en skryf. Om leestekens tydens lees reg te vertolk en in skryf reg te gebruik, moet jy sekere leesteken-konvensies ken. Lees die inhoud van In ’n neutedop aandagtig deur.

In ’n neutedop
Leestekens/Punktuasie
Punt (.): Sinne eindig altyd met ’n punt, al is dit net een woord: Hallo. Dit word ook by die meeste afkortings gebruik: dept., pres.Komma (,): Plaas kommas tussen ’n reeks selfstandige naamwoorde, tussen twee werkwoorde, asook tussen opeenvolgende byvoeglike naamwoorde en bywoorde: Griet dans vooroor, agteroor, (bywoorde) swaai haar heupe en spring in die lug op. Onthou om piesangs, appels, perskes en lemoene te koop (selfstandige naamwoorde).Plaas ’n komma tussen twee gesegdes: Toe Griet in die lug opspring, was Malan nie daar om haar te vang nie.Plaas ’n komma voor of na die naam van iemand wat aangespreek word: Malan, het jy nie gesien toe Griet spring nie?Vraagteken (?): Kom aan die einde van ’n vraagsin voor: Hoe was die dans?Uitroepteken (!): Kom aan die einde van ’n bevelsin, opdrag en uitroepsin voor: Moenie so vals sing nie!

In die volgende paragraaf kort daar leestekens (punte, kommas, vraagtekens en uitroeptekens). Skryf die paragraaf oor in jou werkboek en voeg die gepaste leestekens in. Lees die paragraaf hardop en maak seker jy neem die leestekens in ag.

Waar kom dans vandaan?

In die meeste lande is daar ’n tradisionele soort dans wat oor baie jare ontwikkel het Dié danse het dikwels van godsdienstige of stamrituele tot komplekse danssoorte ontwikkel So kry mens verskillende danse uit Europa Oos-Asië Suidoos-Asië Indië en Afrika In watter land ’n mens ook al woonagtig is almal stem saam: om te dans is lekker

Selfstandige lees

Lees nou die pragtige gedig “Lya Konnokos” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek. Op watter soort dans word hier gefokus? Watter stylfiguur word in die gedig baie gebruik? Waarom dink jy word dit so baie gebruik? Beantwoord die res van die vrae wat in die leesboek is.

Aktiwiteit 5: Taal in konteks
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Taalstrukture en -konvensies•jou woordeskat uitbrei•die meervouds-, verkleinings- en geslagsvorme in Afrikaans leer.

Woordeskatuitbreidings
In hierdie module het jy baie oor dans en musiek gelees en gepraat. Nou moet ons ’n spellys oor die onderwerp saamstel. Hier volg ’n lys van beroepe in die musiekwêreld wat julle kan help. Jy moet jou spellys self aanvul met woorde oor musiek en dans wat in die module voorkom.
’n Choreograaf is ’n skepper van ’n dans, ballet.
’n Dirigent is ’n leier van ’n koor, orkes.
’n Instrumentalis is ’n bespeler van ’n musiekinstrument.
’n Maestro is ’n beroemde musikus, leermeester, dirigent.
’n Musikant is iemand wat vir sy beroep musiek maak.
’n Musikus is ’n persoon met ’n besondere kennis van die wetenskap en beoefening van musiek; hy/sy kan self ook musiek maak.
’n Slagwerker is ’n bespeler van slaginstrumente.

Leer meer van meervoude, verkleining en geslag

In Afrikaans het selfstandige naamwoorde verskillende agtervoegsels of verbuigings om meervoude en verkleinwoorde te vorm. Lees die inhoud van In ’n neutedop noukeurig deur. Leer die spelling van die woorde.

In ’n neutedop
Meervoude en verkleining
Let op na die volgende:
Meervoude kom in Afrikaans voor by selfstandige naamwoorde. Meervoude word aangedui deur een van die volgende agtervoegsels -e, -s, -ere, -ers, -’s, -te, -de, -ens en -hede aan te las by die woorde. Leer die volgende meervoudsvorme.
-e-s
vlooivlooiekoningkonings
visvissepiesangpiesangs
knieknieëmotormotors
boombomeonderwyseronderwysers
-ere-ers
liedliederekindkinders
volkvolkerekalfkalwers
-’s-te
mama’sligligte
fotofoto’sgesiggesigte
-de-ens
hemphemdevrouvrouens
hoofhoofdenooinooiens
-ede
besigheidbesighede
moontlikheidmoontlikhede
oog/oëLe Roux/Le Rouxs
Cilliers/Cilliers’soorlog/oorloë
Du Preez/Du Preezspad/paaie
Du Toit/Du Toitsskip/skepe
gat/gatestad/stede
glas/glase
Onthou: Nie alle selfstandige naamwoorde het ’n meervoudsvorm nie, byvoorbeeld goud, haat, liefde.
Verkleining in Afrikaans word gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -ie, -pie, -etjie en -kie aangedui. In sommige gevalle word die word “klein” saam met die verkleinwoord gebruik.
-tjie-jie
vloervloertjiehoedhoedjie
oupaoupatjiekatkatjie
mandjiemandjietjiepresentpresentjie
-pie-kie
boomboompiekoningkoninkie
armarmpiehoringhorinkie
oomoompiepiesangpiesankie
-ie
hoekhoekie
dorpdorpie
-etjie-’tjie
ringringetjiemama’tjie
slangslangetjiepapa’tjie
longlongetjiefotofoto’tjie
Verkleining van ’n woord wat in meervoudsvorm is:
honde/hondjiesslange/slangetjies

Opdrag: Voltooi die volgende tabel in jou werkboek deur die korrekte meervouds- en verkleiningsvorme in te vul.

BasisMeervoudVerkleinwoord
1. stamdansstamdansestamdansie
2. dansstyl
3. musiekvideo
4. lewe
5. pruik
6. jongmens
7. kindergesig
8. tronk
9. ballon
10. pad
11. straat

Leer in In ’n neutedop hoe geslag in Afrikaans aangedui word.

In ’n neutedop
Geslag in Afrikaans word gevorm deur
• twee aparte woorde te gebruik, byvoorbeeld broer – suster; ram – ooi; swaer – skoonsuster.• die agtervoegsels -in, -es, -e, -esse, -ster, -trise of -te by die manlike vorm van die woord te voeg, byvoorbeeld boer – boerin; held – heldin; bestuurder – bestuurderes; digter – digteres; verleier – verleidster; verpleër – verpleegster; redakteur – redaktrise.• deur vrou(e)- vooraan te plaas, byvoorbeeld vrouetolk en vroue-prokureur.• deur die woord -wyfie by te voeg, byvoorbeeld tierwyfie, makouwyfie.
Twee aparte woorde (familielede)
vadermoederbruidegombruid
oupaoumawewenaarweduwee
seundogterbuurmanbuurvrou
kleinseunkleindogterheerdame
swaerskoonsusterkêrelnooi
stiefvaderstiefmoedergasheergasvrou
neefniggie
-in-es
vriendvriendinbestuurderbestuurderes
heldheldinprinsprinses
kelnerkelnerinonderwyseronderwyseres
-e-ster
prinsipaalprinsipalewerkerwerkster
eggenooteggenoteverpleërverpleegster
presidentpresidente
-esse-trise
bibliotekarisbibliotekaresseakteuraktrise
sekretarissekretaressedirekteurdirektrise
-te
orrelisorreliste
pianispianiste

Beantwoord die volgende vrae saam met ’n maat.
1.Wat noem ons …
a)’n vrou wat ’n sanger op ’n klavier begelei?
b)’n vrou wat ’n blommewinkel besit?
c)’n vrou met bruin hare?
d)’n vrou wat ’n klag indien?
e)’n vrou wat as die eerste burger van ’n dorp of stad optree?
Aktiwiteit 6: Lees ’n skets
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•die leesproses en leesstrategieë gebruik om ’n skets te verstaan•voorspel wat in die skets gebeur•die skets aandagtig lees en afleidings maak•oplet na stereotipering, ruimte, gebeure, tyd en die verteller•kontekstuele vrae beantwoord•’n volksverhaal lees en vergelyk met ’n kortverhaal•jou eie kort storie skryf.

Pitkos

Wat is ’n skets?

 •’n Skets is ’n kort prosastuk. Dit verskil van ’n kortverhaal omdat dit nie baie aandag aan gebeure (intrige) gee nie. Daar is ook min karakterisering in ’n skets.

 •In ’n skets is daar ’n beskrywing van ’n enkele situasie, gebeurtenis of toneel wat die leser ’n nuwe kyk/perspektief daarop gee.

 •Meestal verander die verteller se houding jeens die onderwerp met die verloop van die storie.

 Kenmerke van ’n skets•Die titel gee ’n aanduiding van die inhoud van die skets.•Die eerste paragraaf/sinne sluit aan by die titel. Dit berei ons voor op die res van die inhoud. Dit skep atmosfeer en gee inligting omtrent die verteller se houding jeens die onderwerp.•Die res van die paragrawe sluit by mekaar aan – elkeen fokus op ’n hoofgedagte.•Die taalgebruik ondersteun die atmosfeer en dra die boodskap duidelik oor.•Beeldspraak en stylfigure word effektief gebruik.•Die slot verskil van die begin van die skets omdat die verteller nou anders voel.

Prelees

 •Kyk na die illustrasie en lees die titel van die skets. Kan jy voorspel waaroor die skets gaan?

 •Lees die eerste twee paragrawe. Woodhill Estate is een van Pretoria se woonbuurte. Watter soort woonbuurt is dit volgens die inligting in die teks? Hoekom word dit ’n “Estate” genoem?

 •Watter soort argitektuur dink jy kom meestal voor in hierdie woonarea? (Kyk na die illustrasie en maak ’n afleiding.) Is dit eie aan Suid-Afrika? Motiveer jou antwoord.

 •Tieners hou daarvan om geassosieer te word met bekende etikette/handelsname. Gee dit status aan ’n mens? Gee jou opinie hieroor.

 •Is die sosiale groep wat in die teks voorkom net beperk tot Pretoria? Gee jou mening hieroor.

Daardie Livingstone-gevoel

deur Dana Snyman


Malan en Ina-Mari ontdek nou Afrika.

Ek was nou die aand by dié twee. Hulle het mos onlangs laat huis bou in Woodhill Estate, ’n tamaaie plek met sentrale verhitting, ’n ondergrondse wynkelder en ’n binnehof met ’n spuitfontein in die middel.

Maar daardie spuitfontein waai binnekort, sê Ina-Mari. In die plek daarvan kom hierdie amazing tradisionele houtfiguur wat hulle by ’n Lozikunstenaar in Zambië geruil het vir ’n draagbare CD-speler en twee denimlangbroeke; nou laas toe hulle met die Landie op in Afrika was.

Nee, hulle het nie Kilimandjaro gaan klim nie. Hulle het die berg net in die verte gesien, sê Malan. Maar hulle gaan dit beslis aanstaande jaar saam met sy Investec-pelle klim. (Klein-Malan is wel op die oomblik saam met leerders van die Hoërskool Waterkloof op die berg.)

Kili is amazing, sê Ina-Mari. Dis so ’n spiritual plek.

Die lekkerste van Afrika te ontdek, sê Malan, is dat jy deesdae heelpad teerpad kan ry, deur Botswana en Zambië tot in Tanzanië. En oral is hierdie nice lodges, sê hy. Hulle absolute gunsteling is die Chobe River Lodge naby Kasane. As jy daar op die Chobe se stoep met ’n gin en tonic in die hand sit, sê hy, weet jy jy is in die ware Afrika – Livingstone se Afrika. Die Krugerwildtuin is nie die ware Afrika nie, sê hy. Die Kruger het hopeloos te gekommersialiseer geraak.

Die Chobe, sê Ina-Mari, het ook hierdie amazing “shoppie” waar sy vir haar hierdie absolutely amazing Armanihelmet gekoop het, nes die een wat Meryl Streep in Out of Africa gedra het.

Ons weet nie van al die armoede noord van ons nie, sê Malan. Diepsloot se HOP-huisies is niks teen wat jy in Zambië en Tanzanië sien nie. Dit was vir hulle ’n eye-opener, sê hy. Die mense bly in kleihutte en het nie geld nie. Net om iets te besit, ruil hulle maklik-maklik hul beelde en ander curios vir klere en goed.

Êrens in Zambië, sê Ina-Mari, loop daar ’n ou met ’n Diesel-T-shirt wat sy vir hierdie amazing Lungulaswaard verruil het. Êrens is daar ook ’n ou wat na Theuns Jordaan luister, sê Malan, want hulle het vergeet om hul Theuns-CD uit die speler te haal toe hulle dit vir die Lozihoutfiguur verruil het.

Hy is net oor een ding spyt, sê Malan. Hy sou graag sy quad bike wou saamgeneem het. Daarom gaan hy en Klein-Malan maar in Augustus met die bikes op die trailer Mosambiek toe. (Malan sê hy hoor Kortbroek gaan dalk weer die strande oopstel vir 4x4’s noudat hy Minister van Omgewingsake en Toerisme is.)

Ina-Mari sê sy gaan nie saam Mosambiek toe nie want Jahn, haar binnehuisargitek, kom haar help. Hulle gaan die huis hierdie Afrika-feeling gee, sê sy. Sy het klaar begin om die binnemure hierdie amazing warm Afrika-kleure te laat verf; oker en blou en geel. Sy het ook reeds ’n amazing leerbank bestel, en sy gaan hulle ou Savanne-stel laat oortrek met hierdie amazing goue fluweel met swart luiperdkolle op.

In Desember gaan hulle beslis Zanzibar ontdek, sê Malan. Hulle wou eers met die Landie deur Zim en Malawi tot in Dar ry, maar hy is nie lus vir Zim se dinge nie.

Hy verstaan die swartmense nie, sê Malan.

(Uit: Uit die binneland. Human & Rousseau. 2005)

PostleesWerk nou in pare. Beantwoord die vrae in julle werkboeke.
1.Vluglees die teks vir die volgende inligting:
a)Wie is die hoofkarakters?
b)Noem die twee ruimtes (agtergrond) waarna in die skets verwys word.
c)Met watter sosiale groep word die spot gedryf?
d)Watter kleur is “oker”?
2.Soeklees die teks vir woorde wat verband hou met bekende mode-etikette (“labels”). Skryf dit neer.
3.a)Maak ’n lys van die dinge waarmee die Malan-gesin Afrika assosieer.
b)Waarmee assosieer jy Afrika?
4.Wie is Meryl Streep en waarna verwys Out of Africa?
5.Skryf die volgende woorde voluit neer en sê waarna elkeen verwys.
a)Kili
b)Landie
6.Vervang “amazing” met gepaste Afrikaanse woorde. Probeer om dieselfde woord nie meer as een keer te gebruik nie.
a)“… hierdie amazing tradisionele houtfiguur …”
b)“… hierdie amazing ‘shoppie’ …”
c)“Sy het ook reeds hierdie amazing leerbank bestel …”
7.Om krities te lees, moet die leser verstaan wat die skrywer/verteller sê en hoekom hy dit sê. Watter boodskap wil die skrywer aan die leser oordra? Stem jy daarmee saam? Motiveer jou standpunt/mening.
8.Is die titel van die teks gepas? Motiveer jou antwoord.
9.In die teks word die woord “amazing” heelwat gebruik. Wat sê dit van die karakter wat dit gebruik?
10.Die titel van die skets is “Daardie Livingstone-gevoel”.
a)Wie was Livingstone?
b)Waarna verwys die “gevoel” in die titel?
c)Sluit die eerste sin aan by die titel?
11.Wat is die algemene trant van hierdie skets?
12.In die skets is daar baie Engelse woorde. Is dit slengtaal, swak of aanvaarbare taalgebruik?
13.Hoe voel die skrywer oor die onderwerp? Kies een van die moontlikhede en motiveer waarom jy dit gekies het.
a)Hy skryf graag oor die mense wat in die Woodhill-omgewing woon.
b)Hy toon simpatie met die mense se wanbegrip van Afrika.
c)Hy beklemtoon sekere mense se kunsmatige waardes.
d)Hy beskryf die Woodhill-mense se reis en ervarings in Afrika.
14.Kan jy met een van die karakters en hul sienings en waardes identifiseer? Motiveer jou antwoord.
15.“As jy daar op die Chobe se stoep met ’n gin en tonic in die hand sit, sê hy, weet jy jy is in die ware Afrika – Livingstone se Afrika.” Wat is ironies omtrent hierdie stelling? Onthou dat ironie ’n stylmiddel is wat skrywers en digters gebruik wanneer hulle ter wille van effek die teenoorgestelde sê van dit wat bedoel word.
16.Is daar stereotipering in die skets? Verduidelik.
Oefen dialoog
17.Skryf die laaste drie paragrawe in dialoogvorm. Begin so:
Ina-Mari sê: “Ek gaan nie saam … ”Malan sê: “Ons gaan in Desember … ”Malan sê: “Ek … ”

Lees, waardeer en verstaan ’n volksverhaal

In jou Piekfyn Afrikaans Leesboek is verskeie kortverhale en volksverhale opgeneem, maar weet jy wat die verskil tussen ’n kortverhaal en ’n volksverhaal is? Kyk saam met ’n maat na die volgende tabel.

KortverhaalVolksverhaal
Dit sluit in moderne kortverhale soos satires, reisverhale, sketse, ensovoorts.Dit sluit in sprokies, mites, legendes, fabels, belewenisse en sages.
Het ontstaan as skriftelike literatuur.Het ontstaan as mondelinge literatuur wat van geslag tot geslag oorvertel is.
Kortverhale het ’n verskeidenheid doelstellings en temas.Die doel van volksverhale is om die gehoor te vermaak en om ’n lewensles te leer.
Kortverhale wissel van kort tot lank, die intrige en spanningslyn is duidelik, innerlike en uiterlike handelinge kom voor.Dit is baie kort, daar is min intrige (patroon van gebeure) en dit maak hoofsaaklik van dialoog en handeling gebruik.
Die karakters is gewoonlik mense en daar is gewoonlik een hoofkarakter en newekarakters.Karakters is sprokiesfigure, diere, dinge uit die natuur.
Dit kan in die verlede of teenwoordige tyd geskryf word.Dit word gewoonlik in die verlede tyd vertel.
Karakters het name wat hulle ook soms karakteriseer.Karakters het nie eiename nie en staan bloot bekend as byvoorbeeld “die vrou”, “die jakkals”, ensovoorts.
Herhaling kan gebruik word ter wille van beklemtoning.Frases, woorde, liedjies word herhaal om belangrike dele uit te lig.

Groepbegeleide lees

Beurtlees die verhaal “Melina sing ’n noot” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek. Beantwoord die volgende vrae in julle groepe.

 •Dink julle die verhaal is ’n tipiese kortverhaal of ’n volksverhaal?

 •Wie is die hoofkarakter in die verhaal?

 •Wat was die hoofkarakter se droom?

 •Word daar van herhaling in die verhaal gebruik gemaak? Gee voorbeelde.

 •Wil hierdie verhaal vir die leser ’n les leer? Hoekom sê julle so?

 •Was hierdie verhaal vir julle humoristies (snaaks)? Hoekom sê julle so?

 •Het Melina se droom waar geword? Verduidelik.


Skryf jou eie storie

Jy het die verhaal “Melina sing ’n noot” gelees en daaroor gesels. Skryf nou vir huiswerk jou eie kort storie oor ’n fiktiewe karakter en gebeure. Jou verhaal moet ongeveer drie (3) bladsye (± 20 paragrawe) lank wees. Jou onderwyser kan dalk besluit om dit formeel te assesseer.

Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх