Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 9

(Kwartaal 1: Week 5 en 6)

Оглавление

Weet jy wat jy teken?

Wat gaan jy leer?

Het jy al ooit ’n kontrak geteken? In hierdie module doen jy heelwat aktiwiteite wat gaan oor kontrakte en jou regte indien daar ’n geskil (dispute) ontstaan. Jy gaan aandagtig na ’n dialoog luister en mondeling daarop reageer. Daarna gaan jy die dialoog saam met ’n maat rolspeel en veral let op praatvaardighede en hoe jy ’n mondelinge aanbieding doen. Jy gaan dan ’n verslag oor die geskil moet skryf.

Jou leesbegripstrategieë kry aandag wanneer jy ’n indiensnemingskontrak van ’n toeroperateur aandagtig lees en vrae daaroor beantwoord.

Ken jy fossielparke? Fossiele en spore is net soos ’n tekening met ’n storie. ’n Roetekaart neem jou op verskeie maniere na die Weskus Fossielpark en jou eie roetekaart gaan maats help om by hul eie besienswaardigheid uit te kom. Lees hoe digters gebeurtenisse in digvorm met beeldryke taalgebruik uitbeeld.

Wat taalstrukture betref, leer jy meer van spelreëls, hoofletters en byvoeglike naamwoorde.

Vir selfstandige lees gaan jy “Lerato se son” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek vir genot, waardering en begrip lees.

Aktiwiteit 1: Luister na ’n gesprek en skryf daaroor
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•Skryf en aanbied•Taalstrukture en -konvensies•’n telefoongesprek/dialoog hardop lees•die telefoongesprek rolspeel•krities na die gesprek (dialoog) luister en daarop reageer•die gesprek oorskryf in die indirekte rede.

Lees ’n telefoongesprek (dialoog) hardop (rolspel)

Die volgende telefoongesprek is gevoer tussen ’n verteenwoordiger van Mgadi-Gadi Toeroperateurs en ’n kliënt. Die kliënt het ’n paar weke gelede ’n telefoniese bespreking gemaak vir ’n toer na die Weskus Fossielpark en die deposito sewe dae na die gesprek via die internet oorbetaal. Sedertdien het sy nog geen bevestiging van die toeroperateur ontvang nie. Sy het besluit om navraag te doen.

Let op die volgende tydens die rolspel:

 •Dit is ’n formele gesprek – jy moet dus ’n formele gesprekstyl gebruik.

 •Let op die aanspreekvorme.

 •Wees versigtig met die uitspraak van woorde.

 •Praat duidelik en let op jou stemtoon en praattempo.

 •Let op jou liggaamshouding.


OPERATEUR: Goeiemiddag, waarmee kan ek help?

KLIËNT: Middag, ek wil asseblief navraag doen oor my bespreking by die Weskus Fossielpark.

OPERATEUR: Gee my u besprekingsnommer.

KLIËNT: Sekerlik. Dit is WF 3503.

OPERATEUR: Dame, u bespreking het verval weens laat betaling.

KLIËNT: Maar het u my deposito ontvang?

OPERATEUR: Wettiglik (legally), soos ons aan u verduidelik het, gaan daar ’n 10%-fooi op u deposito gehef word vir laat betaling en kansellasie. Ons finansiële afdeling sal die balans so spoedig moontlik aan u terugbetaal.

KLIËNT: Meneer, ek en u het ’n mondelinge kontrak gesluit vir sekere dienste wat u moet lewer. U het dit nie gelewer nie. Hiermee kanselleer ék dus nou die ooreenkoms (agreement) en ek eis my volle terugbetaling!

OPERATEUR: Dame, in die brosjure is daar in kleinskrif bepalings en voorwaardes aangedui. Ongelukkig is u bespreking dienooreenkomstig (accordingly) gekanselleer.

KLIËNT: Meneer, ek en u het ’n wedersydse (mutual) ooreenkoms gehad. U het dit onregmatig (illegally) gekanselleer. Ek dring daarop aan dat u my volle deposito terugbetaal. Indien nie, sal ek verdere stappe moet neem teen u maatskappy.

Klasgesprek – gesels oor die geskil (dispute)

Dit is duidelik dat daar ’n geskil tussen die twee partye ontstaan het. Weet julle wat ’n geskil beteken? Die woordeboek omskryf dit as ’n rusie, twis of onenigheid. Maak notas wanneer julle oor die volgende vrae praat.

 •Wie dink julle is reg? Die operateur of die kliënt?

 •Watter wedersydse ooreenkoms het daar tussen die twee partye bestaan?

 •Hoekom is dit belangrik om die kleinskrif op ’n brosjure of kontrak te lees?

 •Is die kliënt geregtig om haar volle deposito terug te eis? Hoekom?/Hoekom nie?

Formele assessering: Jou onderwyser kan die gesprek formeel assesseer.

Oefen direkte en indirekte rede

Die telefoongesprek is in die direkte rede geskryf. Skryf die operateur en die kliënt se woorde oor in die indirekte rede in jou werkboek. Lees eers In ’n neutedop sodat jy seker is wat die verskil tussen direkte en indirekte rede is.

In ’n neutedop
Direkte en indirekte redeWanneer iemand se direkte woorde in ’n verslag oorgedra word, noem ons dit die indirekte rede. Dan verander die voornaamwoorde, byvoorbeeld:
ek word hy/syjy word hy/sy
ons word jullejulle word hulle
A kan ook ’n bevel aan B gee, byvoorbeeld: “Bring die kaart vir my!” In die indirekte rede verander so ’n bevelsin dan soos volg: A beveel B om die kaart te bring. Let op dat daar nie meer aanhalingstekens of ’n uitroepteken is nie, want daar is nie meer ’n direkte bevel nie – dit word indirek gerapporteer.Onthou! Oppas vir woorde wat “tyd” en “plek” aandui, asook voornaamwoorde, want hulle verander wanneer die direkte rede in die indirekte rede herskryf word, byvoorbeeld:“Ek sal die deposito môre oorbetaal.” – A sê dat hy die deposito die volgende dag sal oorbetaal./A sê hy sal die deposito die volgende dag oorbetaal.
ek word hy/syjy word hy/sy
ons word jullejulle word hulle
myne word syne/harejoune word syne/hare
nou word toegister word die vorige dag
volgende jaar word die jaar daarnamôre word die volgende dag
verlede jaar word die vorige jaarvanjaar word daardie jaar
vandag word daardie dagoormôre word oor twee dae
hier word daarhierdie word daardie
hierheen word daarheenhiernatoe word daarnatoe
Aktiwiteit 2: Skryf ’n verslag
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Skryf en aanbied•Taalstrukture en -konvensies•’n verslag skryf volgens doel en teikengroep•korrekte woordkeuse en sinstrukture gebruik•die stappe van prosesskryf volg.

Skryf ’n verslag oor die geskil

Julle het nou oor die geskil gesels en notas van julle bevindings gemaak. Skryf ’n formele verslag oor die bevindings van die geskil (140 tot 160 woorde).

Volg die stappe van prosesskryf: beplan, skryf jou eerste probeerslag, hersien jou verslag en kyk na jou spelling, woordkeuse, sinne en leestekengebruik; skryf dit dan netjies oor en bied dit aan vir jou onderwyser om te assesseer.


In ’n neutedop
’n Verslag is ’n formele dokument. Jou taalgebruik en trant moet dus formeel en onpersoonlik (impersonal) wees. Let ook op die volgende:
•Gebruik die teenwoordige tyd.•Skryf in die derde persoon (hy/sy).•Beskryf wat daar tussen die partye gebeur het.•Die beskrywing moet feitelik wees – die inligting moet korrek wees.
Formaat
•Gee jou verslag ’n titel.•Skryf in die inleidingsparagraaf kortliks waaroor die verslag gaan en wat die doel van die verslag is.•In die inhoudsparagrawe gee jy meer besonderhede (wie/hoekom/waar/wanneer/wat/hoe).•In die slotparagraaf gee jy jou bevindings (findings) en gevolgtrekking (conclusion).•Jy mag opskrifte in jou verslag gebruik.•Onderteken die verslag en voorsien dit van ’n datum.
Paragraafkonvensies
Die struktuur van ’n paragraaf moet aan die volgende vereistes voldoen:
•Gepaste woordkeuse, goeie sinskonstruksie en korrekte leestekens.•Skryf ’n paragraaf met kern- en ondersteunende sinne.•Organiseer jou idees in ’n logiese volgorde.•Gebruik verbindingswoorde.

Let op die volgende raamwerk vir ’n formele verslag.

Treffende opskrif1. Inleiding (doel van die verslag)2. Verskaf kortliks inligting oor die vrae: wie/wat/waar/wanneer (die vrae kan subopskrifte wees).3. Verskaf nou meer inligting deur uit te brei op die vrae; beskryf dit in meer besonderhede.4. Skryf ’n treffende slot wat alles saamvat.5. Sluit gepaste visuele materiaal in wat inligting verduidelik en die aanbieding interessant en aantreklik maak (indien dit nodig is).

Formele assessering: Jou onderwyser gaan jou verslag formeel assesseer.

Aktiwiteit 3: Verstaan ’n kontrak
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•’n kontrak lees vir begrip•leesstrategieë soos vluglees, soeklees en aandagtige lees toepas•afleidings maak•die betekenis van woorde en frases gee•’n roetekaart interpreteer•begrips- en taalvrae beantwoord.

Prelees

In Aktiwiteit 1 het jy ’n telefoongesprek oor die verbreking van ’n kontrak gelees. Lees nou ’n indiensnemingskontrak wat ’n werkgewer, Mgadi-Gadi Toeroperateurs, en ’n voornemende werknemer moet onderteken.

Lees Pitkos om die kenmerke van ’n kontrak te verstaan.

Pitkos

Kenmerke van ’n kontrak

 •’n Kontrak is ’n ooreenkoms, verdrag (meestal skriftelik).

 •’n Mondelinge kontrak is ook wettig.

 •Die taalgebruik is formeel en feitelik.

 •Vereiste inligting vir ’n kontrak:

 •Name (partye, getuies)

 •Bepalings en voorwaardes (die inhoud van die kontrak)

 •Handtekeninge van betrokke partye

 •Datum en plek (wanneer en waar die kontrak geteken word)

Tydens lees

Maak ’n lys van die woorde/frases wat jy nie verstaan nie. Slaan dit na in ’n woordeboek en skryf dit neer in jou werkboek.

Indiensnemingskontrak
Die volgende partye kom ooreen soos volg:
Mgadi-Gadi Toeroperateurs, hierna verwys as “die werkgewer”, handeldrywend (trading as) as Mgadi-Gadi Edms. Bpk., no. 0000111, registrasie in RSA
EN
Johannes Samuels ID 8910060088099, hierna verwys as “die werknemer”.
Pligte
1. Dat die werknemer se pligte die volgende sal wees:
1.1 Om op te tree as toergids (tour guide) vir die kliënte (toeriste) van Mgadi-Gadi Toeroperateurs.
1.2 Om 24 uur aan diens te wees tydens safari’s.
1.3 Om noodhulp (first aid) te verleen aan kliënte wat dit tydens ’n safari nodig mag kry.
1.4 Om kliënte se belange altyd eerste te stel.
Voorwaardes
1.Die partye kom ooreen dat die werknemer tydens safari’s sy bestuurderslisensie en registrasiebesonderhede as toergids in sy besit sal hê.
2.Die werknemer sal geen roekelose (reckless) of gewaagde (dangerous) insidente met sy kliënte naby wilde diere toelaat of sy kliënte in enige gevaar stel nie.
3.Die werkgewer sal die werknemer vir LBS* en werkloosheidsversekering (unemployment insurance) registreer.
4.Die ooreenkoms is geldig vir 2 (twee) jaar na ’n proefperiode van 3 (drie) maande waartydens die werkgewer die ooreenkoms nietig (invalid) kan verklaar sou die werknemer nie aan die vereistes voldoen nie.
5.Die werknemer onderneem om alle eiendom van die werkgewer, roerend (moveable) of onroerend (immovable), te beskerm.
Werksure
1.Die werknemer sal bepaalde ure as toergids aan diens wees vir sy werksverpligtinge:
1.1 Maandag tot Sondag, 05:00 tot 21:30
1.2 Sewe (7) werksdae, dan twee (2) dae af, dan weer sewe (7) dae.
Verlof
1. Die werknemer se jaarlikse verlof beloop 20 (twintig) werksdae ’n jaar, 12 (twaalf) dae siekteverlof per jaar en 2 (twee) dae familiegeleentheidsverlof per jaar.
Diensbeëindiging
1.Enige van die partye kan die diensooreenkoms beëindig deur een week skriftelike kennis te gee gedurende die eerste ses maande van diens en vier weke kennis daarna.
Algemeen
1.Enige wysigings (amendments) aan hierdie ooreenkoms sal slegs geldig wees indien die wysigings skriftelik is, ooreengekom en geteken deur albei partye.
Die partye kies hulle domicilium citandi as volg:
Werkgewer: Bokspruitlaagte, Alldays
Werknemer: Nelson Mandelalaan 123, Groenkloof, Tshwane
Werknemer
Aldus geteken te .................................... op ....................................
Werkgewer
Aldus geteken te .................................... op ....................................
Getuies:
1. ....................................
2. ....................................
*LBS: lopende betaalstelsel (vir inkomstebelasting)

Woordeskatuitbreiding
Leer die volgende frases/vaste uitdrukkings wat in kontrakte gebruik kan word.
• Dienste volgens kontrak lewer.• Hy werk op kontrak.• ’n Kontrak aangaan.• ’n Kontrak sluit vir die bou van ’n huis.• ’n Kontrak verbreek, opsê.• ’n Kontrak is bindend.• ’n Kontrak sluit met iemand.• Sorg dat jou kontrak skriftelik opgestel word.• Volgens kontrak die diens verrig.

Postlees

Beantwoord die volgende leesbegripsvrae in jou werkboek.
1.Soeklees die kontrak vir die volgende antwoorde.
a)Wat is die naam van die toeroperateur?
b)Op hoeveel dae ’n jaar is die werknemer geregtig om byvoorbeeld ’n begrafnis by te woon?
c)Vir hoe lank is die ooreenkoms geldig?
2.Som die pligte van die werknemer op in twintig woorde.
3.Wat word bedoel met ’n “proefperiode”?
4.Waarom is daar ’n sterretjie voor die woord “LBS”? Wat word die sterretjie genoem?
5.Wat is die verskil tussen ’n “kliënt” en ’n “klant”? Is dit reg dat daar in hierdie kontrak van ’n “kliënt” gepraat word? Gee ’n rede vir jou antwoord.
6.Waarom dink jy is dit nodig dat die toergids gedurende ’n safari sy/haar bestuurderslisensie moet kan toon?
7.Die kontrak stipuleer dat die toergids ’n noodhulpsertifikaat moet hê. Waarom dink jy is dit nodig?
8.Kyk na die woord “domicilium”.
a)Aan watter taal is “domicilium” ontleen?
b)Wat dink jy beteken die woord?
c)Pas die woord binne konteks van die teks? Gee ’n rede vir jou antwoord.
9.Wat word bedoel met “roerende of onroerende” eiendom? Verduidelik dit in jou eie woorde.
10.Dink jy dit is billik vir ’n toergids om 24 uur aan diens te wees? Hoekom?/Hoekom nie?
11.Sou jy hierdie kontrak aanvaar het indien jy die aansoeker was? Hoekom?/Hoekom nie?

’n Koerantberig en visuele teks

In die voorafgaande tekste is daar verwys na die Weskus Fossielpark. Lees eers die berig en kyk dan na die roetekaart hieronder. Beantwoord daarna die begripsvrae.

Weskus Fossielpark

1 1Langebaanweg aan die Kaapse Weskus bied ’n onvergeetlike ervaring. Die Weskus Fossielpark kan hier besoek word. Hierdie gebied is een van die fossielareas wat die rykste is aan fossiele van 5 miljoen jaar oud.

2 2Om by die fossielpark uit te kom, moet jy die Weskuspad vir ongeveer 110 km volg in ’n noordelike rigting vanaf Kaapstad. Draai dan regs by die Hopefield-afdraaipad. Net voor die Langebaanweg-lugmagbasis aan die regterkant is die ingang na die park.

3 3Hierdie gebied is landwyd en selfs wêreldwyd bekend, omdat dit die mens blootstel aan die tydperk voordat mense begin het om hul eie gereedskap te maak. Die Weskus het toe heelwat anders gelyk. Daar was beslis nie winkelsentrums en paaie soos vandag nie!

4 4Wat hierdie gebied uniek (unique) maak, is die paar voetspore, ook bekend as “Eva se spore”, wat vir ongeveer 117 000 jaar bewaar gebly het. Hierdie voetspore het verseker dat Suid-Afrika se plek op die tydkaart (timeline) van ons samelewing se begin gevestig is.

5 5Hier kan toeriste na die ryk fossiele en geologiese geskiedenis van ons samelewing kyk. Hierdie gebied van 14 ha is in 1996 tot nasionale gedenkwaardigheid (national monument) verklaar.

(Verwerk uit: Die Burger)

Vrae
1.Watter tipe ervaring bied die Weskus Fossielpark vir ’n besoeker? (1)
2.In watter rigting vanaf Kaapstad moet jy ry om by die fossielpark uit te kom? (1)
3.Skryf of die volgende waar of onwaar is. Gee ’n rede vir jou antwoord.
Die afstand vanaf Kaapstad na die fossielpark is ongeveer 115 km. (2)
4.Watter bekende baken/instelling is net ná die ingang na die park opgerig? (1)
5.Wat dink jy maak hierdie fossielpark anders as ander parke? (2)
6.Hierdie toeriste-aantreklikheid bied nog twee dinge waarna ’n mens kan gaan kyk. Noem hierdie twee dinge. (2)
7.Gee die betekenis van “fossiel”. Verduidelik dit in een sin. (2)
8.Wat dink jy bedoel die skrywer met die “tydkaart van ons samelewing”? (1)
Kyk na ’n roetekaart
9.In die koerantberig verwys die skrywer na die Weskuspad. Op die roetekaart is verskeie paaie soos die R27, R45, N7, N1 en die N2. Watter een van hierdie is die Weskuspad? (1)
10.Links onder op die roetekaart kom ’n N met ’n pyl voor. Wat is die funksie hiervan? (1)
11.Gee ’n ander benaming vir die “getallelyn” wat links onder voorkom. Wat is die doel van ’n getallelyn op ’n kaart? (2)
12.Wat is die verskil tussen ’n roetekaart en ’n padkaart? (2)
13.Volgens die koerantberig is die Weskus Fossielpark in 1996 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Wat word bedoel met “nasionale gedenkwaardigheid”? (2)
Totaal: (20÷2) 10 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan hierdie aktiwiteit formeel assesseer.

Verrykingsaktiwiteit

 •Watter bekende of interessante besienswaardigheid kom in julle omgewing voor?

 •Teken ’n roetekaart na hierdie besienswaardigheid vanaf:

 •julle skool

 •jou huis.

 •Gee volledige instruksies hoe om by die besienswaardigheid uit te kom. Hou die volgende in gedagte:

 •Rigting vanaf skool/huis

 •Straatname

 •Roetename soos R27, N1

 •Bekende bakens langs die pad

Taal in konteks

Lees In ’n neutedop om meer te leer van hoofletters.

In ’n neutedop
Woorde met hoofletters
Daar is ’n klomp reëls oor die gebruik van hoofletters. Kom ons kyk na ’n paar:
•Woorde aan die begin van sinne. Byvoorbeeld: Hierdie gebied …•Eiename soos Langebaan, Moorreesburg, Suid-Afrika.•As ’n sin met ’n syfer, getal of simbool begin, kry die daaropvolgende woord nie ’n hoofletter nie. Byvoorbeeld: 115 miljoen jaar oue fossiele is hier te vinde.•Sinne wat met die lidwoord ’n begin, word gevolg deur ’n hoofletterwoord. Byvoorbeeld: ’n Merkwaardige paar spore …•Elke deel van vanne wat uit twee losgeskrewe dele bestaan, begin met ’n hoofletter, byvoorbeeld De Villiers. Maar wanneer die van voorafgegaan word deur ’n voorletter of voornaam word die eerste deel met ’n kleinletter geskryf, soos Zelda de Villiers of Z. de Villiers.•Die benamings van bevolkingsgroepe en lede van sulke groepe, byvoorbeeld Vendas, die Namibiër, Nguni’s, die Portugees.•Name van wette soos die Wet op Skole, die Wysigingswet op Meetstandaarde.•Geografiese name soos Gariepdam, Atlantiese Oseaan, Koue Bokkeveld.•Die name van hemelliggame en sterrestelsels: Op die platteland is die Suiderkruis en die Melkweg baie helder.
Die volgende woorde word vas geskryf:
•Samestellings van twee of meer selfstandige naamwoorde soos fossielpark, fossielareas, winkelsentrum.•Samestellings met ’n eienaam en ’n selfstandige naamwoord soos Langebaanweg.•Samestellings met -kant as die tweede gedeelte soos bokant, onderkant.•Samestellings tussen ’n bywoord en toe soos boontoe, ondertoe, soontoe.
Onthou: ’n Selfstandige naamwoord + toe is altyd twee woorde. Byvoorbeeld: huis toe, skool toe, werk toe.

Vrae

1. Verbeter die volgende sinne deur hoofletters by die korrekte woorde te gebruik.
a) mnr. achmat samsodien van hopeville nooi alle mense na die weskus fossielpark uit.
b) daar is engelse, san en ander bevolkingsgroepe te vinde in suid-afrika.
c) ’n kundige persoon het die fossiele noukeurig bestudeer.
d) die plaaslike hoërskool op langebaan hou gereeld uitstappies na plaaslike besienswaardighede.
e) de roubain is nog ’n bekende inwoner van die gebied wat gereeld britse toeriste by die weskus gastehuis op malmesbury ontvang.
f) koue atlantiese seestrome skrik meisie de lange nie af om in die see te swem nie.
2. Maak sinne met die volgende woorde om verskillende betekenisse aan te dui.
a) groen mielie/groenmielie d) pad langs/padlangs
b) wilde beeste/wildebeeste e) skoon skip/skoonskip
c) suur lemoen/suurlemoen
3. Kies die korrekte spelling van die volgende woorde tussen hakies:
a) Voordat ons die (fossiel park/fossielpark) gaan besoek, moet ons eers (skooltoe/skool toe) gaan sodat ons (aan wesig/aanwesig) gemerk kan word.
b) Die voetspore loop (vorentoe/voren toe) in die rigting van die see.
c) Die park se (grensgebied/grens gebied) strek oor 14 hektaar.
d) Dit is onbekend of die voetspore (aan een/aaneen) of (agter mekaar/agtermekaar) loop.
e) Baie kinders is maar (agter af/agteraf) tydens uitstappies deur mekaar gedurig sleg te sê.
f) Die (op skrif/opskrif) in die koerant dui duidelik aan dat die argeoloog al die gegewens (op skrif/opskrif) gestel het.

Aktiwiteit 4: Lees gedigte
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•gedigte lees vir begrip, genot en waardering•leesstrategieë toepas en afleidings maak•begrippe van poësie soos vergelyking, metafoor en personifikasie verstaan•kontekstuele vrae beantwoord.

Prelees

In die vorige aktiwiteite het jy van die voetspore by die Weskus Fossielpark gehoor. Die bekende digter Lucas Malan het ’n gedig oor hierdie voetspore geskryf. Malan bly ook naby hierdie fossielpark op die dorpie Darling. Kyk of jy die dorpie op die roetekaart kan opspoor.

Lees die gedig noukeurig deur.

Spore

Lucas Malan

1 1Die Stormkaap se grootste baken

2 2staan nog rotsvas deur die eeue.

3 3Wind en weer dek steeds die tafel

4 4met ’n sagte, sneeuwit laken;

5 5en onder in die hawe skel die meeue

6 6nes in Van der Stel se tyd rondom ’n skuit

7 7om binnegoed van tjokka, elf en snoek

8 8op elke vissersboot te buit.

9 9Dié suidpunt dra vandag nog tekens

10 10van die mens se kennis en sy moed;

11 11van seevaders wat – willens en wetens –

12 12alles gewaag het, hul lewe en hul goed,

13 13om self op hierdie woeste kontinent

14 14’n spoor te laat. Dit word vertel in ou verhale,

15 15dit staan geskryf in brief en dokument.

16 16Maar lank voor Dias met sy skip ’n kaart

17 17en roete op papier wou skryf, lankal vóór

18 18die Rijger, Drommedaris en die Goeie Hoop

19 19sou anker gooi, het daar by Langebaan se meer

20 20’n vrou van Afrika in skulpwit klei ’n spoor

21 21getrap. Omdat ons van klippe iets moet leer,

22 22sal Eva Khoisan nou vir ewig see toe loop.


Tydens lees

Lees In ’n neutedop aandagtig deur sodat jy beeldspraak (vergelyking, metafoor, personifikasie) deeglik verstaan.

In ’n neutedop
Beeldspraak
Die vergelyking
Hier word twee sake van verskillende of uiteenlopende aard op grond van enkele ooreenkomste met mekaar vergelyk of selfs gelyk gestel. Die woorde soos, as, nes, net soos is jou leidrade.
Metafoor
In teenstelling met die vergelyking stel die metafoor een saak direk in die plek van ’n ander.
VergelykingMetafoor
Die saak en beeld is langs mekaar, byvoorbeeld: Van der Stel is so dom soos ’n esel.Die beeld is in die plek van die saak, byvoorbeeld: Van der Stel is ’n esel.
VergelykingMetafoor
Vergelykings is breed, epies, rustig, traag.Metafore is kompak, beknop, kernagtig, vinniger as die vergelyking.
Dit maak gebruik van verbindingswoorde soos soos, nes, net soos.Dit het geen verbindingskakel/s nie – die een ding is die ander ding.
Personifikasie
Hierdie vorm van beeldspraak beteken in werklikheid vermensliking. Personifikasie is wanneer ons aan die natuur of aan lewelose voorwerpe, diere en abstrakte begrippe menslike eienskappe toeskryf, byvoorbeeld: Die see staar met groen jaloerse oë na ons.

Postlees

Beantwoord die volgende vrae oor die gedig “Spore” in jou werkboek.
1.Waarna verwys die titel?
2.Na watter bekende baken word daar in versreël 1 verwys?
3.Is die beeldspraak wat in versreël 3 en 4 voorkom vergelyking, metafoor of personifikasie? Hoekom sê jy so?
4.Verklaar kortliks die beeldspraak in versreël 3 en 4.
5.Gee ’n voorbeeld van ’n vergelyking in die eerste strofe.
6.Na watter hawe verwys versreël 5?
7.Watter gevoel dra die meeue se geskel vir jou oor?
8.Versreël 9 verwys na ’n spesifieke suidpunt.
a)Na watter suidpunt verwys hierdie versreël?
b)Op watter wyse beklemtoon die digter “suidpunt”?
9.Waarna verwys “kennis” en “moed” in versreël 10?
10.Seevaders moes baie gevare tydens hul ontdekkingsreise trotseer. Wat, volgens die gedig, moes hulle trotseer?
11.“… ’n spoor te laat” in versreël 14 word figuurlik gebruik.
a)Skryf ’n gedeelte uit die gedig neer waar “spoor” letterlik gebruik word.
b)Op watter drie maniere het die seevaders hul “spoor gelaat”?
12.Strofe 1 en 2 beskryf hoe die “Stormkaap” in die seevaders se tyd gelyk het.
a)Watter verskil is daar tussen die inhoud van hierdie twee strofes en strofe 3?
b)Die digter gebruik ’n voegwoord om hierdie verandering aan te dui. Skryf die voegwoord neer.
c)In versreël 17 gebruik die digter weer die akuutaksent. Waarom?
13.Na watter “klippe” verwys versreël 21?
14.Waarom dink jy het die argeoloë die persoon juis “Eva Khoisan” gedoop?
15.Verklaar die slotreël kortliks in jou eie woorde.
Selfassessering: Sien jou antwoorde na volgens die onderwyser se memorandum.

Taal in konteks

Leer van die byvoeglike naamwoord in In ’n neutedop.

In ’n neutedop
Byvoeglike naamwoordDie byvoeglike naamwoord word gebruik om die selfstandige naamwoord te beskryf.•Die voetspore is oud. (oud beskryf die voetspore)•Die grootste baken staan nog deur die eeue heen. (grootste beskryf die baken)
Die byvoeglike naamwoord kan voor óf agter die selfstandige naamwoord staan. Byvoorbeeld:•Die voetspore is oud. (agter)•Die ou voetspore. (voor)
Trappe van vergelyking het betrekking op bywoorde en op byvoeglike naamwoorde en word gebruik wanneer twee of meer dinge met mekaar vergelyk word: Morné teken mooi, Vusi teken mooier, maar Mohammed teken die mooiste.
Wanneer twee sake met mekaar vergelyk word, word die vergrotende trap gebruik (mooier). Die oortreffende trap word gebruik wanneer meer as twee sake vergelyk word (die mooiste). Die lidwoord die word altyd saam met die oortreffende trap gebruik.
Onthou: As die bywoord of byvoeglike naamwoord op ’n -s eindig, verdubbel die s in die oortreffende trap, byvoorbeeld: Ek is vies, maar hy is die viesste van ons drie.
Meerlettergrepige woorde wat op ’n -e eindig, gebruik meer en mees vooraf. Morné is opgewonde, Sabiya is meer opgewonde, maar Tiloshnee is die mees opgewonde.
Belangrik:
•Jy kan nie meer en mees saam met woorde gebruik wat reeds in trappe van vergelyking gebruik is nie. Jy kan nie sê dis die mees snaaksste grap wat jy al gehoor het nie.
•Hoe kan ook by die vergrotende trap gebruik word: Hoe langer jy op die internet werk, hoe duurder is jou telefoonrekening.
Leer die volgende trappe van vergelyking.
Stellende trapVergrotende trapOortreffende trap
armarmerarmste
baiemeermeeste
bangbangerbangste
benoudbenouderbenoudste
besigbesigerbesigste
beslisbeslisterbeslisste
dapperdapperderdapperste
dofdowwerdofste
droefdroewerdroefste
droogdroërdroogste
fraaifraaierfraaiste
gladgladdergladste
verleëmeer verleëmees verleë
welgesteldemeer welgesteldemees welgestelde/welgesteldste
Intensiewe vormeSoms is dit nodig om ’n bepaalde situasie te beklemtoon. Intensiewe vorme word vir dié doel gebruik, byvoorbeeld: goudgeel, potblou, kliphard. Het jy geweet intensiewe vorme is ook samestellings?
Leer die volgende intensiewe vorme.
beeldskoonbrandmaerdoodnugter
blitsvinnigbroodnodigdoodseker
bloedjonkdolgraagdoodsiek
bloedmindolleegdoodstil
bloedrooidoodbangdoodtevrede
bloedweinigdoodeerlikgoudgeel/borriegeel
borriegeeldoodernstigkuikenswak
botstildoodgewoonmuisstil
bottoedoodmakliksilwerskoon
brandarmdoodmoegtjoepstil
Onthou: Intensiewe vorme word altyd as een woord geskryf.

Die volgende taalvrae oor die byvoeglike naamwoorde word in konteks van die gedig gevra.

Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.
16.Skryf die intensiewe vorme neer wat in die gedig voorkom.
17.Skryf die byvoeglike naamwoorde neer wat voorkom in
a)versreël 1 en
b)versreël 14.
18.Skryf die korrekte vorm van die byvoeglike naamwoord neer in die volgende sinne:
a)Dit word vertel in ou verhale; die verhale is …
b)Die kinders op die uitstappie is laf; dit is … kinders.
c)Die seewind is ’n koue wind; die wind is …
d)Eva se voetspore is wyd uitmekaar; dit is … voetspore.
e)Dias was ’n … seevader; hy is dus braaf.
19.Skryf intensiewe vorme vir die onderstaande woorde. Gebruik enige vyf van hierdie woorde in goeie sinne.
bitter, groen, fyn, hoog, blou, mak, gerus, orent, droog, oud, klaar, hard, rond, swaar
20.Voltooi die volgende vergelykings.
a)Eva se voetspore is so oud soos die …
b)Dias was so dapper soos ’n …
c)Die wolke oor Tafelberg is so wit soos …
d)Die water is so blou soos die …
e)Die antieke geskrifte is geel soos …
21.Skryf die volgende paragraaf in jou boek oor en dui die regte vorm van die woorde tussen hakies aan.
Sedert die (vroeg) jare word daar al gesels oor die Stormkaap. Die (wild) seewinde het al baie (trots) seevaarders na hul asems laat snak. Die (dapper) van hierdie seevaarders was seker Dias. Hy het hom (baie vaal) geskrik as die golwe (baie hoog) deur die winde aangejaag word.
Op ’n (baie donker) nag kan mens na die (beroemd) suidoostewind luister. Hierdie sterk winde kan selfs (hoog) bome laat knak. ’n (Jonk) persoon sal nie weet wat hom tref nie.
Daaglikse assessering: Sien jou antwoorde volgens die onderwyser se memorandum na.

Taalspeletjie


Intensiewe vorme-speletjie

 •Knip 20 kaartjies van 10 cm x 5 cm uit kartonpapier.

 •Knip voorbeelde van byvoeglike naamwoorde uit koerante en tydskrifte en indien nodig, vergroot dit op ’n kopieermasjien.

 •Plak die byvoeglike naamwoorde op die kaartjies.

 •Hou die kaartjies onderstebo. Plaas dan ’n kaartjie met ’n byvoeglike naamwoord na bo op die tafel neer. Die leerder wat die korrekte intensiewe vorm eerste kan weergee, kry een punt. Kyk wie kan die meeste punte kry.

 •Speel nou met ’n ander maat in die groep se kaartjies.

Aktiwiteit 5: Lees ’n kortverhaal (selfstandige lees)
In hierdie aktiwiteit gaan jy
• Lees en kyk• Skryf en aanbied•’n kortverhaal aandagtig stillees•kenmerke van ’n kortverhaal ondersoek•let op karakter, konflik, tema en boodskap•notas (sinne) skryf.

Prelees

Die kortverhaal wat jy in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek gaan lees, se titel is “Lerato se son”. Kyk eers na die illustrasie en beantwoord die vrae saam met jou maat.

 •Waarna dink jy kyk die karakter? Noem alles waarna jy dink sy kyk.

 •Wat kan jy uit die karakter se gesigsuitdrukking aflei oor hoe sy voel?

 •Hoekom dink jy is daar mensfigure op die wolke?

 •Watter houding neem elk van die figure in?

 •Kan jy voorspel wat moontlik met hulle kon gebeur het?

Tydens lees

Onthou jy nog die kenmerke van ’n kortverhaal? Kyk weer na die volgende vereistes.

 •Kortverhale se intrige en spanningslyn is duidelik.

 •Innerlike en uiterlike handelinge kom voor.

 •Daar is gewoonlik een hoofkarakter en newekarakters.

 •Dit kan in die verlede of teenwoordige tyd geskryf word.

Postlees

Opdrag: Skryf nou 2 tot 3 sinne oor elk van die kenmerke soos dit op hierdie kortverhaal van toepassing is.


Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх