Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 7

(Kwartaal 1: Week 3 en 4)

Оглавление

Almal hou van die taal van musiek

Wat gaan jy leer?

Almal hou van musiek, maar nie almal hou van dieselfde soort musiek nie. Hierdie module begin met ’n luisterbegripsoefening oor musiek en ’n mondelinge aanbieding oor jou gunstelingliedjie of -musikant en jy maak ’n dagboekinskrywing. Jy doen weer ’n luisteroefening en berei ’n teks voor vir hardoplees. Jy skryf twee briewe: ’n uitnodigingsbrief en ’n brief van waardering.

Jy gaan lees van liedjies en musikante. Jy doen ook ’n leesbegrips­oefening om leesbegripstrategieë in te oefen. Ons almal ken ’n vuvuzela – lees ’n uittreksel uit ’n jeugroman Vuvuzela om letterkunde beter te verstaan. Dan is dit weer tyd om ’n gedig te lees en vir die inskerping van verskeie taalstrukture. Jy moet ’n spotprent en ’n paar advertensies ontleed om jou kyk- en taalbegrip te bevorder. Jy sluit die module af met selfstandige lees – geniet die verhaal “Die goue kitaar”.

Aktiwiteit 1: Luister na ’n voorlesing
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•aandagtig luister na ’n leesteks•notas maak•vrae beantwoord.

Jou onderwyser gaan ’n teks oor musiek aan jou voorlees. Onthou jy die stappe van die luisterproses? Lees die stappe hieronder.

Luisterproses

 •Jou onderwyser gaan eers die teks lees. Jy moet net luister.

 •Dan gaan jou onderwyser die vrae saam met jou lees en verduidelik.

 •Jy gaan weer na die leesstuk luister. Jy mag dan notas afneem.

 •Jy gaan dan die vrae in jou werkboek beantwoord.


Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.
1.Die storie oor die geskiedenis van musiek begin met die woorde “Waar het musiek begin?” Watter twee moontlikhede noem die skrywer waar musiek kon begin het? (2)
2.Wat word in Afrika tradisioneel geglo is die ontstaan van musiek? (1)
3.Noem drie soorte tradisionele danse van die Amerikaanse Indiane. (3)
4.Wat is ’n “argeologiese vonds”? (1)
5.Wanneer is iets “antiek”? (1)
6.Waarop dui die verwysings na musiekinstrumente en liedere in die Bybel? (1)
7.Wat dink jy word met “natuurgebonde gemeenskappe” bedoel? (1)
(Totaal: 10 punte)
Formele assessering: Jou onderwyser kan hierdie luistertoets formeel assesseer.
Aktiwiteit 2: Lewer ’n praatjie en skryf
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•Skryf en aanbied•Taalstrukture en -konvensies•’n foto-collage saamstel en daaroor praat•’n dagboekinskrywing maak•sinsoorte inoefen.

Die Idols-kompetisie is wêreldwyd bekend. Suid-Afrika het ook al ’n klompie Idols-sangsterre. Dink maar aan deelnemers soos Heinz Winkler, Brandon October, Elvis Blue, Karin Kortje, Crushanda Forbes, Dave van Vuuren en nog baie ander. Wie was jou gunsteling?

Lees die onderstaande teks saam met jou maat deur.

Platinum vir Elvis Blue


Johannesburg – Byna ’n jaar nadat Elvis Blue tot die Idols-wenner gekroon is, het hy die eerste Idol geword wie se eerste album ná die kompetisie platinumstatus bereik het. “Ek sou dit in my wildste drome nie kon dink nie,” het hy gister gesê.

Want nie so lank gelede nie, het Jan Hoogendyk, toe nog nie bekend as Elvis Blue nie, gesukkel om ’n sangloopbaan (singing career) te begin. Hy het selfs daaraan gedink om op te hou sing. In dié stadium het hy en sy vrou, Chireze, in George gebly. “Sy het by ’n Hospice gewerk en daar was ’n seuntjie, Elvis Blaauw (10), wat van geboorte af ’n vigslyer was. Ek het baie vir dié seuntjie gaan sing. Hy wou so graag keyboard speel.

“Ons het altyd gespot en gesê hy het die beste stage-naam, ons sal dit net na Elvis Blue verander. Myne sal nie werk nie, want ek is Jan Hoogendyk.”

Hy bly ’n rukkie stil voordat hy sê: “In die middel van sy 11de jaar is hy dood. Toe ek ’n Idols-naam moet kies, was daar nie twyfel nie dat dít die beste naam sou wees.” Hy het ’n maand nadat hy as die wenner aangewys is die album Elvis Blue uitgereik, óók ’n eerste vir ’n Idols-wenner.

In die 12 jaar voor die Idols-kompetisie het ’n paar albums nie verkoop nie, maar nou gaan hy ’n groot partytjie hou, het Hoogendyk opgewonde gesê. Maar tyd vir niksdoen is daar nie eintlik nie.

Hoogendyk het beplan om sy musiek-akademie van Alexandra na Zandspruit te skuif en dan konserte te hou. Boonop is hy aangewys as ambassadeur vir die 46664-armband-projek. Daarby is hy reeds besig om aan sy nuwe album te werk wat hopelik vroeg in 2012 op die rakke sal wees.

“Ek het die afgelope jaar baie geskryf. Hierdie week neem ek saam met Dan Patlansky, ’n ou vriend, ’n liedjie of wat op en sal in die nuwe jaar die beste liedjies vir die nuwe album kies.”

(Verwerk van Nuus24. November 2011)

Mondelinge aanbieding

Stel ’n foto-komposisie (collage) saam van jou gunsteling Idols-wenner of enige ander sanger/

sangeres. Die komposisie moet die kyker meer inligting gee oor wie die ster is soos die berig oor Elvis Blue. Berei ’n mondelinge aanbieding oor die foto-komposisie voor. Jou praatjie moet 2 tot 3 minute duur.

Onthou ook die volgende vir hierdie opdrag:

 •Die foto-komposisie moet duidelik en interessant wees.

 •Versamel genoeg inligting.

 •Ontwikkel ’n raamwerk vir jou praatjie en neem die tydsduur (2 tot 3 minute) in ag.

 •Oefen jou praatjie voor ’n spieël, voor een van jou vriende of jou ouers.

 •Praat met entoesiasme en selfvertroue.

Pitkos

Riglyne vir voorbereide praatjies

 •Jy moet genoeg inligting oor en idees vir jou onderwerp insamel.

 •Jy hoef nie jou voorbereide praatjie te memoriseer nie, maar ken die inhoud!

 •Maak gebruik van notas of indekskaartjies waarop jy kerngedagtes aanteken vir jou aanbieding.

 •Maak seker dat jy jou inligting deeglik ken en verstaan – dan sal jy jou praatjie met selfvertroue aanbied.

Jy gaan volgens die volgende kriteria geassesseer word:

 •Die gehoor moet die foto-komposisie tydens die praatjie kan sien.

 •Moenie te vinnig of te stadig praat nie.

 •Maak seker dat jy duidelik en hoorbaar praat.

 •Oefen die gebruik van klem en toon sodat jou stem natuurlik klink.

 •Gebruik jou notas of indekskaartjies op so ’n wyse dat dit nie steurend is nie. Hou jou notas op borshoogte vas.

 •Hoofgedagtes moet logies op mekaar volg en onthou ’n goeie inleiding en slot.

 •Die aanbieding moet binne die bepaalde tydsduur aangebied word.

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou praatjie formeel assesseer.

Maak ’n dagboekinskrywing

Jy het ’n konsert van jou gunstelingsanger bygewoon. Maak ’n dagboekinskrywing (90 tot 100 woorde) oor hoe jy gevoel het en wat jy alles ervaar het/wie jy daar ontmoet het. Kyk na die voorbeeld van ’n dagboekinskrywing:



Lees Pitkos voordat jy met jou dagboekinskrywing begin.

Pitkos

’n Dagboek is ’n persoonlike verslag van jou eie ervarings, gedagtes en emosies. Die inskrywings vir elke dag is kort en bondig. Maar al skryf ons bondig oor iets, moet dit steeds volsinne wees. Doen dit soos volg:

 •Skryf die dag en datum boaan jou inskrywing.

 •Skryf altyd in die eerste persoon, gebruik ek/my.

 •Skryf in die verlede tyd oor gebeure wat reeds plaasgevind het en in die toekomende tyd oor gebeure wat nog moet plaasvind.

 •Gevoelens wat jy nou ondervind, word in die teenwoordige tyd beskryf.

 •Noem jou ouers en vriende op die name wat jy hulle gewoonlik noem, byvoorbeeld Ouma, nie my ouma nie.

 •Gebruik byvoeglike naamwoorde, leestekens (!/?) en aksenttekens (dié) asook hoofletters (AG NEE) om oortuigend te skryf, maar moenie oorboord gaan daarmee nie.

 •Gebruik vrae en wense om gevoelens oor te dra, byvoorbeeld: Hoekom gebeur sulke dinge met my?

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou dagboekinskrywing formeel assesseer.

Sinsoorte en woordeskat

In Afrikaans onderskei ons tussen die volgende sinsoorte:

 •stelsin (maak ’n stelling/mededeling): Musiek is gewild by oud en jonk.

 •vraagsin (om inligting te bekom): Wie wil saam konsert toe gaan?

 •bevelsin (iets moet dringend gedoen word): Dans reg!

 •uitroep (dui emosie aan soos liefde, pyn): Eina, jy trap op my tone!

 •begroeting (tyd en persoon gegroet, genoem): Middag, kinders!

Lees eers die volgende inligting oor die Idols-wenner Karin Kortje voordat jy die taalvrae beantwoord.

Karin sing soos ’n nagtegaal

Sy was skaars ’n week oud toe haar ma (13) haar op die trap van ’n kinderhuis in Elsiesrivier in Kaapstad gelos het. ’n Vrywilliger (volunteer) daar het die babatjie jammer gekry en haar huis toe geneem.

So het Margaret en Nicholas Kortjé die meisietjie soos hulle eie kind grootgemaak in die Grabouw-vallei. ’n Bietjie meer as twintig jaar later is daardie meisie een van Suid-Afrika se nuwe supersterre. Maar sy was geen modepoppie toe dié enkelma uit ’n sinkdakhuisie in ’n woongebied buite Grabouw in die Wes-Kaap vir die Idols-kompetisie van 2005 ingeskryf het nie.

Toe sy begin met die Shirley Bassey-treffer “Never, Never, Never” kon kykers skaars hul ore glo. Ook die normaalweg kritiese en snedige (vicious) beoordelaars kon nie haar lof genoeg besing nie.

Van toe af het Suid-Afrikaners lief geword vir Karin Kortjé met haar ongelooflike (incredible) sangtalent en baie mense het saam met haar van vreugde gehuil toe sy as die wenner van Idols 2005 aangewys is.

Karin Kortjé het haar eie plekkie tussen die sterre ingeneem. Haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

(Verwerk uit: Huisgenoot)

Taal in konteks
1.Gee ’n voorbeeld uit die artikel van ’n stelsin.
2.Kies die korrekte woord tussen hakies.
•Karin Kortjé is ’n gewilde sangeres, daarom kan sy maar (vergeet/verkeerd) om soos ’n gewone mens rond te loop.
•Mans kan nie helder (dink/denk) wanneer hulle haar sien nie.
•Daar is maar min mense wat nie (ken/weet) wie sy is nie.
•Karin kan nie meer (onthou/behou) wanneer sy laas (ongesiens/ongehoord) in die stad rondgeloop het nie.
•Mense (erken/herken) haar gewoonlik en stop om haar handtekening te vra.
•Sy glo egter dat dit haar eie (keuse/kies) was.
•Sy geniet haar aanhangers, daarom sal jy haar nooit hoor (kla/klae) oor hulle nie.
•Dit klink mos nou na iemand wat haar (leeftyd/lewe) geniet!
Self-/maatassessering: Sien jou eie of jou maat se antwoorde volgens die onderwyser se memorandum na.
Aktiwiteit 3: Lees berigte vir begrip
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Skryf en aanbied•Taalstrukture en -konvensies•tekste vluglees, soeklees en aandagtig lees•die strekking van ’n leesteks bepaal•afleidings maak•die korrekte gebruik van “wanneer”, “toe” en “dan” in die verskillende tye leer•’n brief van waardering skryf.

Leesstrategieë

Vluglees die eerste berig om die strekking van die inhoud te bepaal.


“Lion”-lied se geld oplaas na familie

Londen. – Met die lied “The lion sleeps tonight”, wat meer as 60 jaar gelede deur Solomon Linda geskryf is, is meer as $72 miljoen (ongeveer R500 miljoen) verdien.

Nie ’n sent daarvan het egter aan die Zoeloe-skrywer, wat die liedjie vir 10 sjielings verkoop het, gegaan nie. Die eienaar van Gallo Records het besluit om die regte (rights) van die lied aan Linda se dogters te gee, 25 jaar ná sy dood.

“Dit is hoog tyd dat Linda se familie vergoeding (compensation) kry,” het Owen Dean, Gallo se prokureur, gesê.

(Uit: http://www.news24.com/Beeld/Plus/0,,3-175_1375738,00.html)

Mondelinge aanbieding

Gee ’n kort mondelinge opsomming van die inhoud van die beriggie.

Lees nou die volgende koerantberig aandagtig deur met die doel om dit te begryp.

“The lion sleeps tonight” is eg Suid-Afrikaans

1 1Ná sewe dekades het regverdigheid uitein­delik geseëvier vir Solomon Linda, die skrywer wie se liedjie “Mbube” die inspirasie was vir die internasionale treffer “The lion sleeps tonight”. Dié lied kan as eg Suid-Afrikaans beskryf word.

2 2Linda se oorlewende familie, sy drie dogters, Delphi, Elizabeth en Fildah, sal vergoed word vir al die jare wat hulle nie tantième (royalties) ontvang het nie en hulle sal in die toekoms ook tantième ontvang vir die gebruik van die liedjie.

3 3Daar is onlangs tydens ’n mediakonferensie by die kantore van Spoor & Fisher-proku­reurs aangekondig dat al die partye in die saak Griesel vs. Walt Disney Enterprises ’n skikking (settlement) bereik het.

4 4Mnr. Stephanus Griesel, die eksekuteur van Linda se boedel, het met Abilene Music, Disney Enterprises, NuMetro en David Gresham Entertainment ’n skikkingsooreen­koms aangegaan. Gresham Entertainment het dié liedjie plaaslik namens Abilene Music versprei.

5 5’n Hulpfonds is gestig in die naam van die Linda-familie om hulle belange te beskerm. Mnr. Nic Motsatse, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro), sal die voorsitter van die fonds wees.

6 6Die liedjie “Mbube” (Zoeloe vir “leeu”) is die eerste keer in 1939 deur Linda opgeneem. Dit was een van Gallotone Records se eerste topverkopers in die Afrika-mark. In 1949 het die liedjie in die Amerikaanse volksanger Pete Seeger se hande beland en hy het dit as “Wimoweh” getranskribreer en opgeneem.

7 7Die liedjie is in 1961 weer deur George Weiss verwerk tot “The lion sleeps tonight”, maar die basiese melodie was steeds dié van die oorspronklike “Mbube”.

8 8Verskeie weergawes (versions) van “Mbube” is sedert 1939 opgeneem, maar die oorspronklike komponis is in 1962 as ’n arme met net R142 in sy bankrekening dood.

9 9Mnr. Owen Dean, voorsitter van Spoor & Fisher, het gesê hy glo daar is baie bereik deur dié saak namens Linda en sy familie te wen. “Ons het bewys dat die internasionale treffer (hit) “The lion sleeps tonight” gegrond is op Linda se werk, dat hy medeskrywer van dié treffer is en dat dit daarom ’n eg Suid-Afrikaanse liedjie is. Dit is werklik iets om op trots te wees,” het hy gesê.

(Van: www.news24.com/Beeld/wêreld)

Woordeverklarings
dekade – tydperk van tien jaar
eksekuteur – persoon wat deur die hooggeregshof gemagtig is om ’n boedel te beredder
getranskribeer – oorskryf/oorbring in ’n ander vorm, byvoorbeeld ’n musiekstuk
internasionaal – iets waarin meer as een nasie ’n belang het/waaraan meer as een nasie deelneem
komponis – iemand wat musiek skryf
skikking – as ’n mens iets oplos deur van albei kante toe te gee
tantième – aandeel wat ’n skrywer of ander kunstenaar uit die verkoop of uitvoering van sy werk kry
tragedie – ’n gebeurtenis met ’n ongelukkige afloop
treffer – iets wat baie gou populêr word, soos ’n liedjie
verwerking – handeling van te verwerk/hersien

Beantwoord die volgende leesbegripsvrae in jou werkboek.
1.Wie was Solomon Linda en watter bekende lied is deur hom geskryf?
2.Vir hoeveel geld het Linda die lied verkoop? Hoeveel geld is sedertdien met die lied verdien?
3.Watter onregverdigheid het met betrekking tot die regte van die lied ontstaan?
4.Hoe is Linda se familie vergoed?
5.Hoe gaan die familie se belange beskerm word?
6.Wat beteken “Mbube” in Afrikaans? Skryf nog twee name neer waaronder die lied bekend staan in ander lande.
7.Watter ooreenkoms is daar tussen die oorspronklike lied en die twee verwerkings?
8.Wat is tragies van die lewe van die oorspronklike komponis?
9.Die doel van ’n teks is belangrik. Wat is die doel van hierdie berig? Gee ’n rede vir jou antwoord.
10.Watter waarde, dink jy, moet hierdie lied vandag vir Suid-Afrikaners hê? Hoekom sê jy so?
Taal in konteks
1Vul wanneer/dan/toe op die regte plekke in:
a)Linda was ’n arm man … hy dood is.
b)Die Linda-dogters moet eers ’n skikking bereik, … kan ’n mens sê regverdigheid seëvier uiteindelik.
c)Linda se dogters sal vergoed word vir al die jare … ’n hulpfonds in hul naam gestig word.
d)Linda se dogters is vergoed vir al die jare … ’n hulpfonds in hul naam gestig is.
e)Almal was bly … die skikking bereik is.
f)Almal sal bly wees … die skikking bereik word.
In ’n neutedop
Die korrekte gebruik van die woorde “wanneer”, “toe” en “dan”Die gebruik van “wanneer”, “toe” of “dan” in ’n sin word bepaal deur die tydsaspek wat aangedui word, byvoorbeeld:
Teenwoordige tydToe sê ek vir hom hy moet sy veters vasmaak.Wanneer hulle kom, moet jy my roep.
Verlede tydLiziwe het geslaap toe die rowers ingebreek het.Wanneer het hulle gekom?
Toekomende tydOns moet die boom afkap wanneer dit winter is.As jy graad 9 slaag, sal jy Afrikaans vlot kan praat.

Skryf ’n brief van waardering

As Suid-Afrikaners kan ons elkeen opreg trots wees om die lied “The lion sleeps tonight” as deel van ons inheemse musiekskat te hê. Skryf ’n formele brief (inhoud 140 tot 160 woorde) van waardering aan mnr. Owen Dean omdat die skikking van die saak ten gunste was van die Linda-familie en baie vir Suid-Afrika beteken.

Bestudeer die formaat en inhoud van die formele brief voordat jy joune skryf.

In ’n neutedop


Skryf jou brief volgens die stappe van prosesskryf

Lees Pitkos aandagtig deur sodat jy prosesskryf deeglik verstaan. Vra jou onderwyser indien jy nie seker is van die stappe nie.

Pitkos

Prosesskryf

Preskryf

 •Kyk na die formaat en register van die betrokke teks.

 •Besluit op die doel, teikengroep en konteks.

 •Hou ’n dinkskrum oor die onderwerp – gebruik ’n kopkaart.

Beplanning

 •Gebruik die idees waarop jy in die preskryfstadium besluit het en skep ’n raamwerk vir die teks.

 •Identifiseer hoofgedagtes en ondersteunende idees.

 •Rangskik die idees in ’n logiese volgorde.

Skryf ’n konsep

 •Skryf ’n eerste poging en hou die doel, teikengroep en onderwerp in gedagte.

 •Kies woorde wat pas by die onderwerp.

 •Organiseer jou idees in ’n logiese volgorde.

 •Lees jou eerste probeerslag deur en kry terugvoer van jou onderwyser en klasmaats.

Hersiening, redigering, proeflees en aanbieding

 •Kyk weer na jou woordkeuse, sin- en paragraafstrukture, spelling en leestekens.

•Kyk na die volgorde en samehang van paragrawe.
•Skakel dubbelsinnigheid, woordoortolligheid en beledigende taal uit.
•Berei ’n finale weergawe voor vir assessering.
•Bied die teks netjies aan.

Formele assessering: Jou onderwyser gaan jou brief van waardering assesseer vir die formele assesseringsprogram.

Aktiwiteit 4: Lees letterkundetekste
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•’n uittreksel uit ’n jeugroman lees•die kenmerke van ’n prosateks leer•karakter, intrige, ruimte, die agtergrond en die verteller identifiseer•die tema/boodskap van die verhaal verduidelik•kontekstuele vrae beantwoord.

Lees in In ’n neutedop wat die algemene kenmerke van ’n prosateks (roman, jeugverhaal, kortverhaal) is.

In ’n neutedop
Kenmerke van ’n prosateks
•Agtergrond of konteks: Dit is die gebeure/situasie vooraf wat iets bepaal het.•Intrige: ’n Reeks gebeure of situasies waarop ’n verhaal of drama gebaseer word; storielyn; verhaal verloop.•Karakter: ’n Persoon in ’n toneelstuk/roman/kortverhaal.•Ruimte/milieu: Dit is waar die gebeure afspeel.•Verteller: Wie vertel die verhaal? Is dit ’n eerstepersoonsverteller (ook genoem ek-verteller) of ’n derdepersoonsverteller?

Prelees: Klasgesprek


 •Die jeugroman se titel is Vuvuzela. Waaroor dink jy gaan hierdie verhaal dus?

 •Aan watter groot gebeurtenis van 2010 herinner dit ’n mens?

 •Wat kan jy daarvan onthou?

 •Hoe het jy gevoel op daardie stadium?

Tydens begeleide lees (hardoplees)

 •Lees die uittreksel uit die jeugroman Vuvuzela deur Engela van Rooyen saam met jou onderwyser.

 •Maak aantekeninge van moeilike woorde terwyl julle lees.

 •Let op aspekte soos die karakters, hul taalgebruik en die agtergrond van die verhaal.

Vuvuzela (’n uittreksel)

So het almal ietsie aangedra. Maar om die orphans te godisa het nie gemaak dat die mense minder geskinder het van moswi Mama nie. Oor ’n sangoma wat haarself nie kon heal nie, en wat gejok het toe sy sê dat daar nie ’n man is wat haar lyf warm maak nie. Sis Kate het gepraat van “four little words” en haar batho-ba-re-mond het spits in haar gesig getrek.

Daardie tyd was Senke te klein om te verstaan dat dit die vier woorde is wat met AIDS afgekort word.

Ná daardie Sunday vier jaar terug toe Ntatemogolo en die ander step relatives alles kom vat het, tot Mama se papiere en haar Death Certificate, het Buti gesukkel tot hy weer vir hulle ’n plekkietjie gehad het. In Plastic View, oor hier nie rent is nie.

En Buti is ball clever, soccer clever.

Partykeer speel Buti in ’n local game op die nuwe veld in die plek van iemand wat siek geword het of wat moet werk. As Buti vorentoe spring om die bal met sy knie of sy voorkop te slaan, of as hy dit bo-oor die goalies se koppe en uitgestrekte hande skop, word sy nek dik en vol are en sy mond skrou wyd. Dan word hy ’n chief, dan is hy groter as wat Rhoo Radebe of Dr Sixteen Valve Khumalo gewees het.

Eenkeer het die manager van die team van ’n league vir Buti gesien en hy wou hom hê, maar Buti het gesê hy het te veel troubles, hy kan nie oefen nie en hy sal te veel matches mis. Senke het geweet dis oor hóm.

Dit was ’n groot dag, daardie dag van die Soccer Bid vir Twenty-Ten. Oral was daar ietsie aan die gang om die uitslag uit te watch. In die townships was dit vol by elke plek, dit was net music en colours en stemme en lag.

Buti en Senke het by Sis Kate se plek gewag waar die sjebien se TV met ’n extension cord uitgebring is sodat almal kon sien. Hulle was later moeg gewag en hulle monde was lam geblaas op die vuvuzelas, toe die man met die envelope op die TV screen verskyn. Hy het dit stadig, baie stadig uitgetrek tot die woorde South Africa daarop wys. En toe het hoor en sien vergaan soos almal bokspring en amandla!-vuis in die lug steek en swing en dans met hoë knieë.

Toe Madiba op die screen verskyn met sy oë wat skreef van die lag, toe hy die trophy hoog in die lug hou – net daar het die plan soos ’n weerligvoël in Senke se kop geskiet. Sy plan om vir sy Buti ’n groot surprise te gee … iets wat hy nooit sal vergeet nie, al word hy ’n ou mkhulu met ’n grys baardjie.

(Uit: Vuvuzela)

Postlees

Beantwoord die vrae in jou werkboek.
1.Binne watter ruimte speel hierdie kortverhaal af?
2.Noem die karakters in hierdie verhaal.
3.a)Watter atmosfeer heers onder die mense buite Sis Kate se sjebien?
b)Waarom het dié atmosfeer daar geheers?
c)Gee ’n aanhaling uit die teks om die atmosfeer te bewys.
4.Waarmee het die mense so geraas terwyl hulle gewag het?
5.Hoekom dink jy het die man op die TV-skerm die koevert baie stadig uitgetrek?
6.Hoe het die mense aan hulle blydskap uiting gegee na die bekendmaking van die uitslag?
7.Wie is Madiba wat op die skerm verskyn het?
8.Hoe weet jy Madiba het ook in die blydskap oor die uitslag gedeel?
9.Wat dink jy is die plan wat in Senke se gedagtes opgekom het en wat vir Buti ’n groot verrassing moes wees?
10.Bespreek die taalgebruik in die verhaal Vuvuzela. Dink jy die taalgebruik is funksioneel? Hoekom?/Hoekom nie?
11.Het hierdie groot gebeurtenis ubuntu in ons land bevorder? Gee jou mening.

Lees ’n gedig

’n Komponis is iemand wat musiek skryf. Lees nou die volgende gedig oor so ’n persoon en beantwoord dan die vrae.

Komponis


die note bly swenk, swalk

en swerm in my kop:

tjilpende swaels in die wind

hopelik kom hul nou

tot rus op ’n notebalk:

drade wat sing in die wind

Daniel Hugo

Lees nou eers In ’n neutedop aandagtig saam met jou onderwyser deur om ’n paar poëtiese begrippe te leer.

In ’n neutedop
Strofes
’n Koeplet is ’n strofe wat uit twee versreëls bestaan.
’n Tersine is ’n strofe wat uit drie versreëls bestaan.
’n Kwatryn is ’n strofe wat uit vier versreëls bestaan.
Beeldspraak
Vergelyking: Hier word twee sake van verskillende of uiteenlopende aard op grond van ’n enkele ooreenkoms of ooreenkomste met mekaar vergelyk of selfs gelyk gestel. Die woorde soos, as, nes, net soos is jou leidrade.
Personifikasie: Hierdie vorm van beeldspraak kom in die vergelyking en metafoor voor. Ons personifieer wanneer ons aan die natuur, lewelose voorwerpe, diere en abstrakte begrippe die eienskappe en handelinge van lewende wesens gee.
Metafoor: In teenstelling met die vergelyking, stel die metafoor een saak direk in die plek van ’n ander.
Stylfigure
Klanknabootsing is die taalverskynsel wanneer woorde gevorm word na aanleiding van klanke, soos zoem, wroem, klik-klak.
Halfrym is wanneer slegs vokale of konsonante in ’n versreël herhaal word:
Alliterasie is die herhaling van konsonante in dieselfde reël, veral as dit aan die begin van ’n beklemtoonde lettergreep is: “as hy weer by die plaas kom pla”.
Assonansie is die herhaling van vokale in dieselfde reël, maar onthou, dit gaan oor klank, nie letters nie. Die uitdrukking “die deler is so goed soos die steler” maak byvoorbeeld van assonansie gebruik, maar dit is net die lang e-klank wat deel vorm van die assonansie.
Onthou: Wanneer jy alliterasie of assonansie aanhaal, moet jy aanhalingstekens gebruik en jy moet die spesifieke klanke onderstreep.

Postlees

Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.
1.Lees die titel van die gedig. Wat doen ’n komponis?
2.Gee ’n voorbeeld (een woord) van klanknabootsing in die gedig.
3.Skryf die voorbeeld van personifikasie in strofe 2 neer.
4.Wat word in strofe 1 metafories aan mekaar gelykgestel?
5.Kan jy voorspel waaroor die gedig gaan volgens die titel?
6.In die eerste tersine is alliterasie. Skryf die woorde neer, onderstreep die klank en gee ’n rede waarom die digter dit gebruik.
7.Wat is die tema van die gedig?
8.Waarom dink jy is dit gepas dat die digter van klanknabootsing gebruik maak?
9.Dink jy die beeld van die “swaels” (versreël 3) is geslaagd in die gedig? Hoekom?/Hoekom nie?
Aktiwiteit 5: Lees met begrip
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•’n feitelike teks lees vir begrip•leesbegripsvrae beantwoord•verskillende taalvorme en sinstrukture (teenwoordige-, verlede- en toekomendetydsvorm) leer.

Prelees

In die storie Vuvuzela lees ons dat die mense van die townships op die vuvuzelas geblaas het totdat hulle monde lam geblaas was terwyl hulle vir die uitslag gewag het. Lees die volgende feitelike teks oor die ontstaan van die vuvuzela.

Tydens lees

Maak beurte om die teks hardop voor te lees.

Waar kom die vuvuzela vandaan?

1 1Een van die belangrikste dinge van Suid-Afrika se suksesvolle bod vir die 2010 Wêreldbeker was die baie aandag wat die vuvuzela gekry het.

2 2Vuvuzelas bestaan van lankal af, maar dit het op Saterdag 15 Mei 2004, toe die wenland aangekondig is, eers belangrik geword vir die meeste mense.

3 3Maar wat is ’n vuvuzela? Dit is ’n verlengde trompet-tipe instrument wat groot lip- en longkapasiteit vereis om te blaas. Die klank klink min of meer soos ’n diep mishoring (foghorn) of die getrompetter van ’n olifant.

4 4Dit word gewoonlik by sokkerwedstryde gebruik waar iemand daarop blaas om soveel as moontlik geraas te maak. In hierdie opsig is die vuvuzela baie suksesvol.

5 5Die oorsprong (origin) van die vuvuzela lê diep gewortel in Afrika-geskiedenis, toe ’n koedoe-horing gebruik is om mense bymekaar te roep vir belangrike vergaderings. Wat die vuvuzela ook gewild maak, is die Afrika-geloof dat ’n groot lawaai ’n bobbejaan kan doodmaak. Daarom word die vuvuzela veral gedurende die laaste kwart van die sokkerwedstryd gebruik om die opponent se “dood” te veroorsaak.

6 6Die woord vuvuzela beteken geraas wanneer dit uit Zoeloe vertaal word. Vuvuzelas word deur Neil van Schalkwyk en Beville Bachman van Masincedane Sport, ’n plaaslike sportpromosiemaatskappy, vervaardig. Hierdie maatskappy word deur SAB Miller ondersteun vir die beskerming van die vuvuzela se patentreg (patent right). Die vuvuzela het die amptelike instrument van die 2010 Sokkerwêreldbeker geword.


(Verwerk uit: www.sa2010blog.com)

Postlees: Beantwoord die leesbegripsvrae in jou werkboek.
1.Skryf ’n kort definisie van ’n vuvuzela.
2.Waarmee word die geluid van die vuvuzela vergelyk?
3.Noem ’n noodsaaklike vereiste vir die blaas van die vuvuzela.
4.Waarvoor word die vuvuzela gebruik?
5.Verduidelik waar die vuvuzela sy oorsprong gehad het.
6.Wat beteken “vuvuzela” in Afrikaans?
7.Watter verantwoordelikheid het SAB Miller aanvaar met betrekking tot die vuvuzela?
8.Is dit volgens jou gepas om ’n vuvuzela aan die einde van ’n wedstryd te blaas? Hoekom?/Hoekom nie?

Taal in konteks

Lees In ’n neutedop aandagtig deur voordat jy die taalvrae beantwoord.

In ’n neutedop
Tydsvorme
Tyd het in Afrikaans betrekking op die vorm van die werkwoord van ’n sin en die woordorde. Ons onderskei tussen drie tye:
•teenwoordige tyd
•verlede tyd
•toekomende tyd.
In die teenwoordige tyd gebeur die handeling nou, byvoorbeeld: Ek doen my huiswerk./Jy sing ’n liedjie.
In die verlede tyd het die handeling al klaar plaasgevind en word het en ge- in die meeste gevalle gebruik om die verlede tyd aan te dui, byvoorbeeld: Ek het my huiswerk gedoen./Jy het ’n liedjie gesing.
Wanneer ons in die toekomende tyd skryf, moet die handeling nog plaasvind en word sal gebruik om die toekomende tyd aan te dui, byvoorbeeld: Ek sal my huiswerk doen./Jy sal ’n liedjie sing.
Onthou: Die woordorde verander as die sinne in die verlede tyd en die toekomende tyd geskryf word. Die werkwoord skuif na die einde van die sin.

Beantwoord nou die volgende taalvrae in jou werkboek.
9.Skryf die volgende sinne in die verlede tyd.
a)Die oorsprong van die vuvuzela lê diep gewortel in Afrika-geskiedenis.
b)Hulle hoop dat die vuvuzela die amptelike instrument van die 2010 Sokkerwêreldbeker sal word.
c)In hierdie opsig is die vuvuzela uiters suksesvol.
d)Dit word gewoonlik by sokkerwedstryde gebruik.
10.Skryf die volgende sinne in die toekomende tyd.
a)Die oorsprong van die vuvuzela lê diep gewortel in Afrika-geskiedenis.
b)In hierdie opsig is die vuvuzela uiters suksesvol.
c)Die vuvuzela word gedurende die laaste kwart van ’n sokkerwedstryd gebruik.
d)Ek wil baie graag na ’n sokkerwedstryd gaan kyk.
11.Skryf die volgende sinne in die teenwoordige tyd.
a)In die townships sal almal op vuvuzelas blaas.
b)Die klank het soos die getrompetter van ’n olifant geklink.
c)Ek het vreeslik opgewonde geraak oor die wedstryd.
d)Almal glo daar is baie bereik deur die aanbieding van die Wêreldbeker.
Aktiwiteit 6: Lees hardop en skryf
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Luister en praat•Skryf en aanbied•’n teks hardoplees•praatvaardighede korrek gebruik•let op die uitspraak van woorde•’n uitnodigingsbrief volgens die stappe van prosesskryf skryf.

Hardoplees

Berei ’n teks oor musiek/’n musiekinstrument of dans voor (3 paragrawe/5-10 sinne) om hardop in die klas te kom lees. Gaan soos volg te werk:

 •Hersien in In ’n neutedop klanke sodat jy woorde korrek kan uitspreek.

 •Lees die teks sag vir jouself deur.

 •Onderstreep die woorde wat jy moeilik vind om uit te spreek.

 •Vra ’n maat om jou met dié woorde te help.

 •Lees die teks nou hardop aan jou maat/s voor.

 •Jou maat gebruik Pitkos hieronder om jou te assesseer en aanbevelings te maak.

 •Lees die teks weer sag vir jouself deur en gebruik jou maat se aanbevelings.

 •Gaan oefen dit tuis voor ’n spieël en konsentreer slegs op stem- en leesvaardighede.

In ’n neutedop
Klanke in Afrikaans
Dit is belangrik dat jy weet hoe klanke in Afrikaans uitgespreek word, want praat en skryf verskil.
Vokale (klinkers)Klinkers gee aan ’n woord sy klank en daarom vorm hulle die kern van elke lettergreep. Die klinkers word deur die letters a, e, i, o, u voorgestel, maar in uitspraak is daar sowat twintig klinkers. Hier is die mees algemene:
Kort a-klank: gat, kas, maklikLang aa-klank: gate, vaak, gejaagd
Kort e-klank: vet, mes, tjekLang ee-klank: keer, neer, weetgierig
Kort o-klank: bos, kos, hardkoppigLang oo-klank: boom, bome, grootliks
Kort u-klank: brul, vrugte, kultuurLang uu-klank: muur, mure, natuur
Die i-klank: vis, bedel, boekeDie ie-klank: drie, familie, piekniek
Die oe-klank: boeke, skoen, goedDie eu-klank: deur, steun, reusagtig
Diftonge (tweeklanke)Moenie lang klinkers met tweeklanke verwar nie. Wanneer ons “daar” uitspreek, is dit twee letters, maar een klank. Maar spreek die woord “slaai” uit en dis duidelik dat die vokaalklank aan die einde ’n draai vat! Daar is ’n samesmelting van twee vokaalklanke om ’n tweeklank/diftong te vorm. Ons hoor nie twee vokaalklanke nie, maar ’n samesmelting van twee klanke in dieselfde lettergreep.
ou – goud, koud, vroulikui – huis, muis, luisterei/y – brei, leier, prys, myne
ai – baieaai – draai, haai, kraaieeu – leeu, sneeu, eeu
ooi – mooi, gooi, rooioei – bloei, groei, koeioi – toiings
Konsonante (medeklinkers)By konsonante word met uitspraak die asemstroom heeltemal of gedeeltelik afgesluit. Hulle is: b, c, d, f, g, h, j, k, l, m, n, p, q, r, s, t, v, w, x, z en gh in ghoen; ch in China; ng in wang; sj in sjoe!; tj in tjek en ts in tsetse-vlieg.

Pitkos

Wenke vir hardoplees

 •Spreek die woorde korrek uit.

 •Lees vloeiend en gevoelvol.

 •Lees hoorbaar.

 •Vertolk die teks reg – let op na die beklemtoning van woorde, intonasie, tempo, frasering en sinsritme.

 •Maak oogkontak met die gehoor.

 •Gebruik gepaste gesigspel.

 •Maak gebruik van frasering, met ander woorde, skep pouses op die regte plekke.

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou hardoplees formeel assesseer.

Skryf ’n uitnodigingsbrief

Pitkos

Onthou die volgende aspekte wanneer jy ’n formele brief skryf:

 •Die formaat van die brief (kyk weer na die formaat van die brief van waardering)

 •Die doel en teikengroep

 •Akkurate taalstrukture en woordkeuses

 •Formele trant en styl/register

 •Korrekte leestekens

 •Gepaste lengte

’n Formele uitnodigingsbrief

 •Jy nooi iemand na ’n funksie of geleentheid; gee die rede vir die uitnodiging.

 •Verskaf alle belangrike inligting oor die geleentheid – waar, wanneer, hoe laat, kleredragvereistes, RSVP.

 •Skryf saaklik en op die man af.

 •Aanspreekvorm is u, nie jy/jou nie.

 •Skryf ’n goeie inleidende paragraaf – sê kortliks wat die doel van die brief is.

 •Slotparagraaf – kort, een of twee sinne.

Gebruik die volgende raamwerk vir ’n uitnodigingsbrief aan jou gunstelingorkes/-sanger waarin jy hom/haar/hulle uitnooi om by die skool te kom optree. Volg die stappe van prosesskryf. Lengte

160 tot 180 woorde.


Gebruik die volgende kontrolelys voordat jy jou brief vir finale assessering inhandig.

KriteriaJaNee
Jou adres is aan die bokant, regs geskryf.
Die datum is volledig uitgeskryf.
Die straatadres is korrek geskryf.
Die titel van die geadresseerde is in blokformaat teen die linkerkant geskryf.
Geen punktuasie word by die adresse gebruik nie.
Gebruik “meneer” as aanspreekvorm indien jy onseker is oor die persoon aan wie jy die brief rig.
Die opskrif volg ná die aanspreekvorm en word onderstreep of in hoofletters geskryf.
Die opskrif som kortliks die inhoud van jou brief op.
Die inleidende paragraaf brei op die opskrif uit.
Elke paragraaf brei uit op ’n ander aspek van die opskrif.
’n Reël word na elke paragraaf oopgelaat.
Jy het die brief ná “Die uwe” onderteken.
Jou naam is uitgeskryf, onder jou handtekening.

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou brief formeel assesseer.
Aktiwiteit 7: Kyk na spotprente en advertensies met begrip
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•Taalstrukture en -konvensies•die kenmerke van ’n spotprent leer en dit reg interpreteer•begripsvrae beantwoord oor ’n spotprent en advertensies•idiome leer•taalvrae beantwoord.

Kyk na spotprente

Versamel spotprente in koerante en tydskrifte. Bespreek die volgende vrae met ’n maat:

 •Waaroor gaan die spotprente?

 •Is dit werklike karakters of gebeure wat in die spotprente voorgestel word?

 •Hoekom dink julle het die kunstenaar ’n spotprent van die persoon/persone/gebeure geteken?

 •Hoe voel julle oor die spotprent? Slaag die spotprent in sy doel?

Lees nou In ’n neutedop aandagtig deur.

In ’n neutedop
Wat is ’n spotprent?
•’n Spotprent is ’n humoristiese voorstelling van ’n situasie.•Spotprente verskaf vermaak, maar dit is ook ’n manier om satiriese boodskappe oor te dra.•Politieke of situasiegerigte spotprente moet binne die konteks van hul agtergrond gesien word.•’n Spotprent kan slegs ’n tekening wees, of spraakborrels kan gebruik word, of dit kan onderskrifte hê.
Hoe bestudeer ek ’n spotprent?
Karakters
•Is hulle karakters in eie reg of verteenwoordig hulle stereotipes?•Kan ek iets uit ’n karakter se gesigsuitdrukking of liggaamshouding aflei?
Agtergrond/omgewing
•Waar speel die situasie af?•Is die karakters op feite of fiksie gebaseer?
Taalgebruik
•Word gebruikstaal, sleng of Standaardafrikaans gebruik?•Hoe beïnvloed leestekengebruik die atmosfeer of stemming?
Doel
•Is die doel om op te voed, in te lig, te vermaak of te spot?•Het die spotprenttekenaar in sy/haar doel geslaag?•Dra die spotprent ’n boodskap oor?

Kyk aandagtig na die spotprent en beantwoord die vrae.


1.Kan jy aflei waaroor die spotprent gaan?
2.Wat dink jy is die doel van die spotprent?
3.Na watter gebeurtenis, dink jy, verwys die spotprent?
4.Wat kan jy aflei uit die gesigsuitdrukking van die karikatuur (aardbolmannetjie)?
5.Waaruit kan jy aflei dat die effek van die blaasinstrument ’n geweldige uitwerking het?
Noem al die dinge wat jy kan waarneem.
6.Hoe voel jy oor die spotprent? Hou jy daarvan? Hoekom?/Hoekom nie?

Selfstandige naamwoorde

In hierdie aktiwiteit leer jy meer van selfstandige naamwoorde. In ’n neutedop gee jou meer inligting daaroor. Lees dit aandagtig saam met jou onderwyser deur.

In ’n neutedop
Die volgende selfstandige naamwoorde (s.nwe.) kom voor in Afrikaans:
•Soortname: maan, kombuis, motor, bal, vrou
•Abstrakte s.nwe.: liefde, haat, vriendskap•Stofname: koper, goud, silwer•Versamelname: ’n trop skape, ’n swerm bye, ’n bondel gras•Eiename: Katrien, Josef, Suid-Afrika, Kaapstad
Wenke
•Selfstandige naamwoorde word saam met die lidwoorde ’n en die gebruik.•Selfstandige naamwoorde het meervoud en verkleining, byvoorbeeld: kind – kinders – kindjie boom – bome – boompie•Stofname het nie ’n meervouds- en verkleiningsvorm nie.



(Uit: Beeld)

Beantwoord die volgende taalvrae in jou werkboek.
1.Gee die meervoudsvorm van die volgende woorde.
a)dansgeselskap
b)fees
c)kerslig
d)kersligweek
e)melodie
f)kontantkroeg (6)
2.Gee die verkleiningsvorm van die volgende woorde.
a)hoogtepunte
b)skop
c)vers
d)besprekings
e)orkes
f)vere (6)
3.Gee die vroulike geslag van die woorde tussen hakies.
a)Die bekende (sanger) tree Vrydag, 24 Februarie by die Staatsteater op.
b)Die (volstruismannetjie) word as simbool gebruik vir die KKNK.
c)Bespreek nou by Computicket om bekende (akteurs) te sien. (3)
4.Skryf ’n vraagsin uit enige van die voorafgaande advertensies neer. (1)
5.Skryf die volgende sinne oor. Voeg die regte leestekens en hoofletters in en skryf ook neer watter soort sin dit is.
a)Jy moet die blou hond gaan sien
b)Pasop vanjaar gaan die vere waai
c)Gewilde operas en balletopvoerings is by die Staatsteater te sien (4)
6.Verduidelik die betekenis van die volgende idiome.
a)’n Ander deuntjie sing.
b)Dis elke dag dieselfde ou deuntjie.
c)Vir geld kan ’n mens die duiwel laat dans.
d)Sy gesang is uit. (4÷2=2)
7.Kies die korrekte woord.
a)’n Mens kan kaartjies (bekom/ontkom) by Computicket.
b)Hy is ’n sanger van (beroep/oproep).
c)Jak de Priester gaan (daagliks/alledaags) by die KKNK optree.
d)Hy is ’n talentvolle (musikant/musikus).
e)Hoera! (Eindelik/Eintlik) is dit tyd vir die KKNK.
f)Die KKNK-feesgangers het die fees (merkbaar/merkwaardig) geniet. (6÷2=3)
8.Lees weer die advertensie oor Jak de Priester. Skryf vyf selfstandige naamwoorde neer. (5)
Totaal: 15 (30÷2) punte

Aktiwiteit 8: Lees ’n sprokie
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•Lees en kyk•’n sprokie aandagtig stillees saam met jou onderwyser•kenmerke van ’n sprokie ondersoek•let op tema en boodskap•’n kort opsomming van die sprokie maak.


Prelees

 •Baie mense speel musiekinstrumente. Is jy dalk ’n musikant? Vertel jou maats daarvan.

 •Van watter soort musiek hou jy? Hoekom?

 •Dink jy musiek kan ’n goeie of slegte uitwerking op mense hê? Hoekom sê jy so?

 •Kyk na die illustrasie. Waaroor dink jy gaan die sprokie deur net na die illustrasie te kyk?

 •Watter instrument word in die illustrasie aangedui? Dink jy die instrument gaan in dié sprokie towerkrag hê? Gee ’n rede hoekom jy so sê.

Tydens groepbegeleide lees

Jy gaan nou saam met jou onderwyser die sprokie “Die skoenmaker se ghitaar” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek lees. Luister en lees aandagtig en maak notas van die moeilike/onbekende woorde terwyl jy lees. Jy kan die woorde later in jou persoonlike woordelys skryf.

Postlees: Maak ’n opsomming van die sprokie

Jy moet die kerngedagtes van die sprokie opsom. Lees Pitkos om te weet hoe om kerngedagtes in ’n teks te soek.

Pitkos

Kerngedagtes

 •Probeer bepaal wat die onderwerp van ’n paragraaf is.

 •Soek die sin wat die paragraaf se inhoud die beste saamvat (gewoonlik die eerste of laaste sin).

 •Probeer ’n titel vir die paragraaf gee.

 •Soek die verband tussen die eerste en laaste sin van ’n paragraaf.

Skryf nou jou opsomming (50 tot 60 woorde). Gaan soos volg te werk:

 •Lees die paragrawe noukeurig deur.

 •Onderstreep die kernsin of hoofgedagte in elke paragraaf.

 •Skryf elke kernsin/hoofgedagte in jou eie woorde neer. (Jy mag van kernwoorde gebruik maak in jou eie sin.)

 •Skryf die sinne puntsgewys onder mekaar neer en tel die woorde.

 •Skryf die sinne oor in ’n samehangende (cohesive) paragraaf.

Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх