Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal - Henk Viljoen - Страница 4
ОглавлениеJy is nou amptelik ’n tiener, jy het hoërskoolstatus bereik en die lewe is ’n fees. Regtig? Watse probleme kan daar dan wees? Het jy dalk draadjies aan jou tande of het jy dalk jou pa se motor gestamp? Ons gaan hierdie probleme van nader bekyk.
Ons begin met hersiening van jou leesvaardighede en die leesproses en leer van paragraafskakeling en die skryfproses. Om dit in te oefen skryf jy paragrawe en ’n opstel.
Jy lees ook ’n kortvehaal oor ’n tiener wat die onskuld vanself is en hoor hoe lelik almal met haar is. In die proses leer jy wat ’n monoloog is en ondersoek vertellers, handeling en karakteriseringstegnieke in ’n verhaal. Jy lees ook ’n gedig oor ’n tiener se nuwe gedaante in “Die nuwe ek” van Sunette du Plessis wat in die Piekfyn Afrikaans Leesboek verskyn.
Jy doen verder ’n luistertoets en hersien die selfstandige en byvoeglike naamwoord.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
leesvaardighede en die leesproses onder die knie kry
inligtingsteks lees en vrae beantwoord
die selfstandige naamwoord ondersoek
groepbespreking hou.
Lees Pitkos om leesvaardighede en die leesproses te hersien.
Pitkos
Leesvaardighede
Vluglees
Vluglees is wanneer jy vinnig (vlugtig) deur ’n teks gaan om uit te vind waaroor dit handel. Jy gaan soos volg te werk:
Lees eers die opskrif en dan die eerste paragraaf. Die eerste paragraaf is die inleidende paragraaf en vertel waaroor die leesstuk handel.
Lees dan subopskrifte (paragraafopskrifte). Dit gee ’n opsomming van waaroor die paragraaf handel.
Indien daar nie subopskrifte is nie, lees jy die eerste sin van elke paragraaf. Dit is gewoonlik die hoofsin en vertel jou wat jy in die paragraaf kan verwag.
Lees dan die slotparagraaf – dit gee dikwels ’n opsomming van die teks.
Waarom moet jy ’n teks vluglees wanneer jy ’n stilleesoefening doen?
Jy lees om . . .
’n idee of ’n prentjie te kry waaroor die teks handel.
’n idee te kry van hoe moeilik of maklik die teks is.
jou voor te berei vir die vrae wat jy moet beantwoord.
Soeklees
Dit is wanneer jy na spesifieke inligting soek sonder om die teks aandagtig deur te lees.
Ons gebruik soeklees gedurig wanneer ons na inligting in ʼn woordeboek, op die internet, in ʼn telefoongids soek. Dit is wanneer jou oog vinnig oor die inligting beweeg sonder om dit regtig te lees – jou oog is net ingestel om een spesifieke woord/datum/nommer/naam raak te sien.
Aandagtige lees
Dit is wanneer die teks deeglik gelees word om die inhoud te verstaan.
Die leesproses
Prelees
Voordat ons begin lees, gesels ons oor die teks, kyk na illustrasies, prente, titel en subtitel en ander opskrifte – ons maak afleidings.
Ons vluglees en soeklees om te kyk na tekskenmerke en om die hoofgedagtes vas te stel.
Ons maak voorspellings wat in die teks gaan staan.
Tydens lees
Lees aandagtig om die inhoud te verstaan.
Maak afleidings en bepaal die betekenis van onbekende woorde.
Herlees en visualiseer die inhoud.
Lei betekenis af en vra vrae.
Som hoof- en ondersteunende gedagtes op.
Postlees
Vluglees en soeklees om vrae te beantwoord en afleidings en gevolgtrekkings te maak.
Ontwikkel kritiese taalbewustheid, soos onderskei tussen feite en menings, wat is direkte en geïmpliseerde betekenis, vergelyk en maak afleidings en gevolgtrekkings.
Hoe prelees jy ’n boek?
In Pitkos het julle gesien hoe ’n mens ’n teks prelees. Dit werk dieselfde wanneer jy ’n boek van die rak af haal om te lees – dit kan ’n storieboek wees of ’n boek wat jy gebruik om navorsing te doen. Gaan so te werk:
Kyk na die voorblad:Lees die titel, kyk na die illustrasie, kyk wie die skrywers is. Wat vertel dit vir jou?
Kyk na die agterblad:Kyk na die uitleg en illustrasies.Wie is die uitgewers?Lees die opsommende gedeelte.Gee dit jou ’n idee wat om van die inhoud te verwag?
Blaai om. Die eerste bladsy is die titelblad. Wat sê die uitleg vir jou? Is hier ekstra inligting?
Blaai na die inhoudsopgawe:Lees die titels van die hoofstukke.Lees die onderafdelings van elke hoofstuk indien dit gegee word.Wat vertel dit vir jou oor die inhoud van die boek? Sal dit aan jou verwagtinge voldoen?Is daar ’n indeks of ander afdelings wat die leser kan help?
Blaai na die agterkant van die boek:Kyk na die indeks indien daar een is – lyk dit volledig?Kyk na die ander afdelings. Watter afdelings is daar en sal dit die leser help? Hoe volledig is dit?
Groepwerk: prelees ’n boek.
Vorm groepe van 5 tot 6. Julle gaan nou julle handboek, Piekfyn Afrikaans graad 8, volgens hierdie riglyne ondersoek. Wys ’n groepleier aan. Die taak van die groepleier is om die groep deur hierdie verskillende stappe te lei.
Prelees die volgende teks saam met ’n maat.
Kyk na die illustrasie en lees die opskrif van die teks:
Waaroor gaan die teks?
Weet jy iets van die onderwerp? Vertel jou maat.
Hoeveel van jou maats moes met hierdie probleem worstel?
Vluglees die teks.
Het julle ’n idee gevorm waaroor die teks gaan? Bespreek dit en voorspel. Wanneer ons klaar gelees het, kan julle kyk of julle reg was.
Lees die teks aandagtig deur.
Draadjies hoef nie afskuwelik te wees nie
’n Mooi glimlag is ’n wenner – dit verbeter jou selfvertroue en aantreklikheid.
Vra maar vir menige tieners wat draadjies dra.
Reguit tande kan ook voorkom dat jy later in jou lewe sekere gesondheidsprobleme ontwikkel.
Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging van Ortodontiste (SAVO) is die meerderheid pasiënte tieners.
’n Ortondontis wat in Centurion praktiseer, sê jou tienerjare, wanneer jou mond nog nie klaar ontwikkel is nie, is die perfekte ryd om ’n slegte gebit reg te maak.
Die goeie nuus vir tieners is dat toestelle of draadjies nie meer so lelik en ongemaklik is as wat dit vroeër jare was nie. “Die metaal-aanhegtings is kleiner en tandkleurig. Dit is minder opsigtelik.”
Sy sê dat 11- tot 15-jariges dit geniet om verskillende kleure rekkies te kies om op hulle aanhegtings te plaas. Daarteenoor verkies 16-jariges dit gewoonlik om so min moontlik aandag op hul draadjies te vestig en vra vir die minder opvallende opsies.
Die probleem met skewe tande
As jou tande skeef is, beïnvloed dit baie meer as net jou glimlag.
Dit beteken jy byt sleg.
Dit is moeilik om skoon te hou.
Skewe tande is meer geneig tot tandvleisprobleme en afslyting.
Skewe voortande word makliker gebreek tydens kontaksport of in ongelukke.
Later in jou lewe kan skewe tande lei tot kaak- en gewrigsprobleme. Dit kan ook die rede vir kroniese hoofpyn wees.
Skewe tande is soms die oorsaak dat tieners nie meer wil glimlag nie en baie selfbewus is.
Leesbegrip: beantwoord die volgende vrae.
Vrae oor die inhoud
1. Na watter “draadjies” verwys die opskrif?
2. Wanneer is die beste tyd om “draadjies” te dra? Hoekom is dit die beste tyd?
Maak afleidings
3. Hoekom dink jy sal 11- tot 15-jariges gekleurde rekkies verkies terwyl 16-jariges dit glad nie wil hê nie?
4. Waarvoor staan SAVO?
5. Hoekom is dit nuttig vir ’n rugbyspeler om nie skewe voortande te hê nie?
6. Wat kan ’n rugbyspeler doen om sy tande te beskerm?
7. Party mense het permanent hoofpyn. Wat kan, volgens hierdie inligtingteks, ’n moontlike oorsaak van so ’n hoofpyn wees?
Hoe voel jy daaroor?
8. Die nadeel van skewe tande word in hierdie teks gegee. Wat dink jy, is die grootste nadeel wat skewe tande inhou?
Hersien die selfstandige naamwoord, wat in In ’n neutdop verduidelik word. Kyk ook na die Taalgids wat agter in die boek verskyn.
Woordsoorte: Die selfstandige naamwoord
’n Selfstandige naamwoord kan gewoonlik saam met die lidwoorde ’n en die gebruik word. Dit kan ook in die meervoud en verkleining geskryf word. Kyk na die volgende verskillende soorte selfstandige naamwoorde:
’n Soortnaam is die naam van ’n voorwerp waaraan jy kan vat of wat jy kan sien, byvoorbeeld: kind, broer, rugbywedstryd, skool.
Eiename is die name van mense, diere, plekke, ensovoorts, byvoorbeeld: Tebogo, Namibië, Kaapstad, Nancy, Drakensberg.
’n Versamelnaam is ’n woord wat ’n versameling van dieselfde tipe voorwerpe of mense aandui. Byvoorbeeld: ’n Klomp wasgoed word ’n bondel genoem. Ook: ’n Stapel klippe. ’n Swerm voëls. ’n Oes mielies. ’n Vloot skepe. ’n Sak aartappels. ’n Trop ape. ’n Bundel gedigte. ’n Swerm voëls/bye. ’n Baksel koekies. ’n Kolonie miere. ’n Skool visse. ’n Bos sleutels. ’n Span osse.
Abstrakte selfstandige naamwoorde verwys na dinge waaraan ’n mens nie kan vat, kan sien of kan ruik nie. Dit is woorde soos liefde, ongeduld, woede.
Massaname is die name van items wat moeilik getel kan word, byvoorbeeld: uraan, goud.
Agtervoegsels soos -e, -s, -ere, -ers, -ens, -’s, -te of -de kan gebruik word om meervoud by selfstandige naamwoorde aan te dui, byvoorbeeld: professore; baddens.
(Onthou, nie alle selfstandige naamwoorde het ’n meervoudsvorm nie, byvoorbeeld: geld, water, liefde.)
Sommige woorde het meer as een meervoudsvorm (wisselvorm)
fisikusse – fisici; memorandums – memoranda; sentrums – sentra; laboratoriums – laboratoria
Woorde met twee meervoude wat ’n verskil in betekenis het
gif/giwwe – maak dood; gifte – geskenke
letter/lettere – letterkunde; letters – klanktekens
raad/rade – soos stadsrade; raadgewings – advies
rug/rûe – liggaamsdeel; rûens – randjies
Verkleining
In Afrikaans word verkleining gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -ie, -etjie en -kie aangedui. In baie gevalle word die woord “klein” saam met die verkleinwoord gebruik, byvoorbeeld: die klein seuntjie; ’n geringe poginkie; die kort boompie; ’n klein mannetjie.
Geslag
Die volgende postmorfeme word gebruik om die teenoorgestelde geslag (vroulik) by die selfstandige naamwoord aan te dui:
-e: eggenoot – eggenote
-es: eienaar – eienares
-euse vir woorde wat eindig met -eur: masseur – masseuse
-in: Jood – Jodin
-ise: donateur – donatrise
-ster: skrywer – skryfster
-te: vir woorde wat eindig met -is: pianis – pianiste
-vin vir woorde wat eindig met -f: wolf – wolvin
In sommige gevalle word
aparte woorde gebruik: ram – ooi; bul – koei; hings – merrie
die woord vrou gebruik: buurman – buurvrou
dame of vroulike voor ’n woord geplaas: dokter – vroulike dokter
Beantwoord die volgende taalvrae.
1. Kies die versamelname wat by die volgende pas:
stel • bende • span • klas
a. ’n Klomp sokkerspelers wat altyd saam oefen en wedstryde speel, vorm ’n . . .
b. Wanneer iemand sê ’n mens het mooi tande sê hulle: “Ai, maar jy het darem ’n mooi . . . tande!”
c. ’n Klomp skollies wat saamwerk om ander skade aan te doen is ’n . . .
d. In die begin van die jaar verdeel hulle die leerders. ’n Klomp leerders saam vorm ’n . . .
2. Party selfstandige naamwoorde het twee verskillende meervoude wat soms verskillende betekenis het. Kies die woord wat in die volgende sin pas:
a. ’n Mens kan die vliegtuig se motors/motore skaars hoor.
b. Ons woon langs die snelweg en die motors/motore lawaai vreeslik.
c. Die skepe se motors/motore dreun wanneer hulle in die nag verbyvaar.
3. Skryf die verkleinwoorde en meervoude van die woorde tussen hakies:
’n Klein (tandmuis) het vir my boetie twee (muntstuk) in sy klein (skoen) gelos. Hy was só bly dat hy albei sy (hand) geklap het en sy (haasbek) het van oor tot oor geglimlag. Ons het die piekpklein (muis) se twee rye (spoor) deur die botter gevolg. Maar wat ons gesien het, is twee yslike (oor) wat agter die kas weggekruip het.
4. Skryf die teenoorgestelde geslag van die woorde tussen hakies neer:
Op die plaas is daar ’n (bul), ’n (hen), en ’n (hings). Die boer is ’n (oujongkêrel) omdat hy nie graag ’n (skoonma) wil hê nie.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
luisterbegrip doen
groepbespreking hou
groepbegeleide lees doen
die byvoeglike naamwoord ondersoek.
Luisterbegrip: luister fyn.
Jou onderwyser gaan ’n teks voorlees waar ’n dokter ’n paar vrae wat tieners oor draadjies het, beantwoord. Jy moet net luister en dan die vrae beantwoord.
Gaan soos volg te werk:
Die luisterteks gaan een keer aan die klas voorgelees word sodat jy ʼn geheelbeeld van die inhoud kan kry. Jy mag geen aantekeninge maak nie.
Daarna gaan die onderwyser die vrae saam met die klas deurlees. Jy mag nog steeds geen aantekeninge maak nie.
Wanneer die onderwyser die luisterteks vir ʼn tweede maal aan die klas voorlees, mag jy aantekeninge op ʼn aparte stuk papier maak.
Hierna moet jy die vrae skriftelik beantwoord. Dit sal deur jou onderwyser geassesseer word.
Vrae
Vrae oor die inhoud
1. Vir hoe lank is ’n mens se mond sensitief nadat jy draadjies gekry het? (1)
2. Watter dele van ’n mond raak sensitief direk ná ’n mens draadjies gekry het? (2)
3. Som kortliks drie van die vrae op wat in hierdie teks beantwoord word. (3)
Maak afleidings
4. Wie is die “draadjiesdokter” na wie die opskrif verwys? (1)
5. Hoekom is dit belangrik dat ’n mens jou tande moet vlos as jy draadjies het? (2)
6. Kan ’n mens die afleiding maak dat mense wat draadjies dra in die verlede “vasgehaak” het as hulle gesoen het? Hoekom?/Hoekom nie? (2)
7. Wanneer kan draadjies ’n mens se stem beïnvloed? (1)
Hoe voel jy daaroor?
8. Wat is jou gevoel oor draadjies aan die tande? Dink jy dit is ’n goeie ding of nie? Verduidelik jou antwoord. (1)
9. Dink jy hierdie inligtingsteks is belangrik vir tieners? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
10.Dink jy tieners let op hoe ander se tande lyk? Verduidelik jou antwoord. (1)
Totaal: 15 punte
Wat is ortodonsie?
Ortodonsie is die tandheelkundige veld wat spesialiseer in die behandeling van skewe tande, skewe of onderontwikkelde kake en sekere gesigdefekte.
Groepbespreking
Hou ’n dinkskrum oor die onderstaande vrae. Elke groeplid móét ’n antwoord op elke vraag gee. Skryf die antwoord van die groep op elke vraag neer. Wanneer almal klaar is, moet groepe terugvoering gee.
Hoe gereeld besoek julle die tandarts?
Hoe belangrik is ’n mooi glimlag regtig?
Hoe gereeld borsel julle tande?
Wie van julle vlos julle tande?
Dra mense draadjies net om mooier te lyk of is dit soms nodig vir gesondheidsredes? Verduidelik.
Wie van julle het draadjies of ken iemand wat draadjies dra?
Hoe ervaar mense wat draadjies dra dit: is dit moeite, ongemaklik; laat dit hulle lelik en skaam voel?
Dink julle dit is die moeite werd om vir ’n ruk ongemak te ervaar en lelik te voel wanneer ’n mens draadjies in jou tande het? Is die beloning die moeite werd?
Wat van kinders met misvormde tande wat nie ’n ortodontis kan bekostig nie? Wat dink julle is die oplossing?
Formele assessering
Julle groepdeelname gaan deur julle onderwyser geassesseer word.
Lees In ’n neutedop om ’n paar nuwe dinge oor die byvoeglike naamwoord en lidwoorde te leer. Raadpleeg ook die Taalgids agter in jou boek vir verdere inligting.
Woordsoorte: Die byvoeglike naamwoord
Die byvoeglike naamwoord beskryf ’n selfstandige naamwoord. Ons beskryf, byvoorbeeld, ’n spotprent as humoristies: Die humoristiese spotprent het ’n groot opskudding veroorsaak.
Byvoeglike naamwoorde wat vóór die selfstandige naamwoorde staan wat hulle bepaal, word attributief gebruik, byvoorbeeld: Die stukkende taxi.
Byvoeglike naamwoorde wat ná die selfstandige naamwoorde staan wat hulle bepaal, word predikatief gebruik, byvoorbeeld: Die taxi lyk stukkend.
Die byvoeglike naamwoord het trappe van vergelyking. Hou die volgende in gedagte by trappe van vergelyking:
Byvoeglike naamwoorde wat op ’n -s eindig, kry steeds -ste in die oortreffende trap, byvoorbeeld: snaaks – snaakser – snaaksste.
Byvoeglike naamwoorde wat uit meer as een greep bestaan en op ’n -e eindig, kry die woorde meer en mees in die vergelykende en oortreffende trap onderskeidelik, byvoorbeeld: tevrede – meer tevrede – die mees tevrede.
Byvoeglike naamwoorde wat op ’n -u eindig, kry in die oortreffende trap ’n dubbel -uu, byvoorbeeld: sku – skuer – die skuuste.
Die lidwoord die word altyd in die oortreffende trap gebruik, byvoorbeeld: die mooiste meisie; die mees tevrede persoon.
Die byvoeglike naamwoord kan ook ’n versterkte vorm (intensiewe vorm) hê. Die intensiewe vorm word altyd as een woord geskryf, byvoorbeeld: wawydoop; kuikenswak; purperpers; potblou; goudgeel; piepklein.
Die byvoeglike naamwoord kan letterlik of figuurlik gebruik word, byvoorbeeld:Die gesin is baie arm. (Letterlik: hulle het nie geld nie.)Die arme gesin het dit maar swaar. (Figuurlik: die gesin word bejammer).
Let op die gebruik van die -e by die byvoeglike naamwoord. In hierdie geval word die byvoeglike naamwoord verbuig (en is dit ’n verboë vorm).
Lidwoord
Die bepaalde lidwoord verwys na ’n spesifieke onderwerp of voorwerp, byvoorbeeld: Die bestuurder jaag onverskillig met haar taxi.
Die onbepaalde lidwoord verwys na ’n onbekende onderwerp of voorwerp. Dit kan enigiets wees, byvoorbeeld: ’n Taxi kan ’n gevaar op die pad wees.
Aanwysende woord
Byvoorbeeld: Hierdie taxi is pas van die pad afgetrek. Daardie passasier klim in die taxi in. Dié uil skreeu tot laat saans.
Groepbegeleide lees
Lees die volgende inligtingsteks in julle groep. Elke groeplid kry ’n beurt om dit hardop voor te lees. Terwyl die een lees, volg die ander in hulle boeke. Hou aan totdat almal in die groep die teks vlot kan lees.
Wat is die reëls van draadjies?
Die behandeling behels dat draadjies of plaatjies gedra word en in sommige gevalle is chirurgie nodig om die kakebeen te herbelyn. Behandeling duur gewoonlik 12 tot 30 maande.
As jy ’n paar maklike reëls volg, sal die behandeling makliker gaan en goeie resultate lewer:
Doen alles presies soos die ortodontis vir jou sê, byvoorbeeld dat jy jou rekkies dra soos dit voorgeskry word.
Vermy harde en taai kos wat jou aanhegtings en draadjies kan breek en die behandelingstyd kan verleng.
Moenie jou naels of pen kou nie.
Hou jou draadjies altyd skoon deur reg te borsel en te vlos.
Dra altyd ’n mondskerm tydens kontaksport.
Besoek elke ses maande jou tandarts.
Beantwoord die volgende taalvrae.
1. Gee die regte vorm van die byvoeglike naamwoord tussen hakies:
a. (Hard) neute kan jou tande breek. Die neut is (hard).
b. As jy (sensitief) tande het, moet jy versigtig wees, want suur goed maak dit nog (sensitief). Dan praat ek nie eens van roomys nie – as ek roomys eet, voel my tande die (sensitief).
c. Deesdae is wit tande nie meer goed genoeg nie, te danke aan advertensies moet dit (intensiewe vorm van wit) wees.
d. (Kou) naels lyk nie goed nie.
e. (Borsel) tande laat ’n mens altyd goed voel.
2. Voltooi die volgende sinne deur die regte intensiewe vorm neer te skryf:
a. As ek nou (eerlik) moet wees, het ek eers gedink alles gaan (glad) verloop. Maar toe ek by die ortodontis se spreekkamer instap, is die spreekkamer (vol).
b. Ek het (regop) op my stoel gaan sit en my mond was (droog).
c. Toe die dag verby is, het die (arm) pasiënte huis toe gegaan en die (ryk) ortodontis is bank toe.
3. Skryf die trappe van vergelyking van die volgende woorde tussen hakies:
a. Ek was bang, die outjie langs my (bang), maar die dogtertjie in die hoek was die heel (bang). Ek het skielik baie (oud) as gewoonlik gevoel. Wat lê vir ons voor?
b. My draadjies was die (los) wat dit nog ooit was en dit het nie reg gevoel nie.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
aaneenskakelende paragrawe skryf.
Skryf paragrawe
Jy het reeds in graad 7 paragrawe geskryf. Lees nou die inligting in Pitkos deur voordat jy weer ’n skryfstuk aanpak.
Pitkos
Paragrawe
’n Paragraaf bevat net een kerngedagte. Die ander sinne in die paragraaf moet oor dieselfde onderwerp handel en die kerngedagte ondersteun. Al die sinne van ’n paragraaf vorm dus ’n eenheid.
Die kernsin wat die kerngedagte bevat, kan die eerste sin van die paragraaf wees, of dit kan in die middel of aan die einde van die paragraaf geplaas word.
Die sinne moet so gerangskik word dat hulle op mekaar volg. Jy moet dus deurentyd aandag aan skakeling tussen die sinne skenk. Gebruik die skakelwoorde wat hierna gegee word.
Gee ook aandag aan sinslengte. Wissel die lengte van die sinne. Party sinne moet langer en ander korter wees.
Paragrawe kan op een van die volgende maniere skakel
Aaneenskakelend: Hierdie soort paragrawe sluit by mekaar aan, omdat dit met skakelwoorde aan mekaar verbind word. Woorde soos Hierna. . . of Vervolgens . . . of Nog iets . . . gaan verseker dat jy ’n aaneenskakelende paragraaf skryf.
Teenstellend: ’n Teenstellende paragraaf staan in direkte kontras met die vorige een, alhoewel sulke paragrawe nog oor dieselfde onderwerp handel. Jy gaan hier net ’n ander gedagte wat teenoor die vorige gedagte staan, bespreek. Skakelwoorde wat jy kan gebruik, is woorde soos Maar . . . Hierteenoor . . . ’n Ander mening . . . Anders gestel . . .
Redegewend: Hierdie soort paragraaf gee ’n rede of oorsaak van dit wat in die vorige paragraaf beskryf is. Skakelwoorde soos Die rede hiervoor is . . . Daarom . . . lei redegewende paragrawe in.
Skryf paragrawe.
Ons het nou heelwat oor tandartse en ortodontiste gepraat. Skryf twee paragrawe waarin jy een van die volgende bespreek: ’n slegte ervaring/jou eerste ervaring/wat jy hoor van tandartse/’n goeie ervaring/’n interessante ervaring. Elke paragraaf moet 8 tot 12 sinne lank wees.
Die stappe van prosesskryf
Dit is baie belangrik dat jy eers jou paragrawe deeglik moet beplan volgens die stappe van prosesskryf. Gebruik die volgende wenke as kontrolelys.
Preskryf
Besluit watter tipe paragrawe jy gaan skryf. Kyk weer na Pitkos hierbo.
Kies twee kerngedagtes oor die onderwerp – elke kerngedagte vorm een paragraaf. Skryf ondersteunende gedagtes vir elke kerngedagte neer.
Beplan en skryf
Wanneer jy al die ondersteunende gedagtes agtermekaar het, kan jy die paragrawe begin skryf. Skryf nou in volsinne.
Die eerste sin van elke paragraaf moet die kerngedagte van dié paragraaf bevat. Toets nou of die ander sinne van elke paragraaf dié hoofgedagte ondersteun en daarop uitbrei.
Hersien, redigeer, proeflees en bied aan
Lees jou paragraaf aandagtig deur en maak al jou foute reg, soos spelling, leestekens, woordorde en die volgorde van jou sinne. Gebruik ’n woordeboek as jy onseker is.
Skryf die paragrawe oor en lees dit nog ’n keer deur.
Gee jou werk dan vir jou maat sodat hy/sy dit kan redigeer en assesseer. Kyk na die aanbevelings wat jou maat gemaak het en bring dit aan as dit vir jou reg is.
Skryf hierna die paragrawe weer netjies oor. Skryf die opskrif/ onderwerp en datum boaan jou werk.
Maatassessering
Die Pitkos kan gebruik word om jou maat se paragrawe deur te gaan.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
met ’n monoloog kennismaak
soeklees en vluglees om vrae oor die verhaal te beantwoord
die verhaal vir hardoplees voorberei.
Hierdie is ’n verhaal oor ’n gebeurtenis in ’n tiener se lewe – en sy is in gesprek met haarself en haar ma. Dit word ook ’n monoloog genoem. Lees in In ’n neutedop wat ’n monoloog is.
Die monoloog
’n Monoloog (mono = een) is ’n ononderbroke gepraat van een persoon of karakter. So ’n gesprek wek ook die indruk dat dit ’n gedagtereeks is.
Drie soorte monoloë word onderskei:
’n Monoloog waar ’n karakter teenoor ander denkbeeldige karakter/s speel. Dit vereis dat die karakter denkbeeldige oogkontak en dialoog met ander karakter/s het.
’n Alleenspraak verwys na dié soort monoloog waar ’n karakter self ’n oplossing vir ’n konfliksituasie probeer vind.
Dan is daar die soort monoloog waar die gehoor die medekarakter/s is. Hier moet gedurig kontak met die gehoor behou word en soms kan gehoorreaksie verwag word.
Die onderstaande monoloog “Dit was net ’n skrapie” is ’n kombinasie van twee soorte monoloë. Die karakter probeer eers self ’n oplossing vind vir die situasie waarin sy verkeer. Teen die einde reageer sy op haar ma wat roep en as denkbeeldige karakter ’n tipe gesprek voer.
Prelees saam met ’n maat.
Lees die titel en bestudeer die illustrasie:
Wat sien julle in die illustrasie? Noem dit op.
Watter verband is daar tussen die titel en die illustrasie?
Wie is die persoon wat van iets beskuldig word? Hoe weet julle dit?
Wie dink julle is die skuldige party hier? Hoekom sê julle so?
Het so iets al by julle huise gebeur?
Lees die volgende verhaal saam met jou onderwyser.
Dit was net ’n skrapie
Dis nou ’n mooi gemors! Pa is soos ’n beer met ’n seer tand! Ma snuif en staar in die verte in . . .
Dis in elk geval ’n ou bakkie . . . en mens sien amper nie eers die skrapie nie. Oukei dan, die duik! Hoe moes ek weet daar’s ’n boom? Daar was nie gister ene nie. En vir wat moet ek leer bestuur? Ek’s nou eers 14. Dis nog vier jaar voor ek ’n lisensie kan kry. Vier jaar is lank. Vier jaar gelede was ek nog ’n bogsnuiter!
En nou soek Pa R500,00 by my. Waar op aarde moet ek R500,00 kry? Dis heeltemal onregverdig. Hy pik altyd op my. Ousus is die witbroodjie, sy . . . sy maak nooit ’n fout nie. Sy ry so staaadig . . . En sy kry die briek altyd betyds in die hande.
Nou ja, Pa soek vanaand ’n plan by my. Op skrif nogal. En nee, nie op die rekenaar getik nie, in jou eie handskrif, Petronella Magrieta! Dis tyd dat julle kinders weer terugkeer na basiese dinge! Na WAARDES, na RESPEK, na MANIERE!
Oe, my kop pyn skoon. Wat kan ek doen? Melkterte bak. Ag tog, dit sal seker 100 melkterte moet wees. Wie op aarde gaan 100 melkterte koop? Waar gaan ek geld kry vir die bestanddele? Nee wat . . . simpel plan, ek hou nie eens van koekbak nie.
Konsert hou? Sommer in die garage! Aha! Dan nooi ek die hele buurt se kleintjies. Ek kan R5,00 toegang vra, net 100 kinders en my kop is deur. Wat sal ek opvoer? Ag, ek vat sommer die trommel vol ou klere, en dan improviseer ek. Wag! Hulle kan die ou klere aantrek, en self die konsert hou! Heng, Pa gaan so beïndruk wees . . . entrepreneur, ondernemingsgees! Perfekte plan! Daarso Papsielief – R500,00 op die kop!
Ek’s hier, Ma! Ek’s net klaar met my plan vir Pa . . . Pa se plan? Maar ek het – ’n Wat? ’n Groentetuin?! Waar? In die agterplaas? Saad? Ma!!! Ek weet niks van ’n groentetuin af nie . . . Nee!! Dit sal nie werk nie . . . Wie gaan spit? Ma!!!! Ek gril vir grond! Daar’s wurms in en alles! Ag, sê vir Pa Ma dink nie dis ’n goeie plan nie!!
Ma moet my help! Seblief!!! Ek smeek Ma!! Ek’s eintlik ’n kunstenaar . . . en kunstenaars krap nie in grond rond nie . . .
Maaa!!!
(Mari Weber, ongepubliseer)
Kenmerke van literêre tekste
Vertellersperspektief
Die eerstepersoonsverteller (ek-verteller, interne verteller) is een van die karakters in die verhaal. Hierdie tipe verteller is nie baie objektief nie, is gebind aan tyd en plek en weet nie altyd wat ander karakters dink en voel nie.
Derdepersoonsverteller: Die skrywer beskryf die verhaal deur die oë van een van die karakters in die verhaal. Hy/sy kyk ook na gebeure uit die perspektief van die karakter.
Die alomteenwoordige verteller is nie ’n karakter in die verhaal nie. Hy/sy staan buite die verhaal en beskou die verhaal vanuit ’n objektiewe posisie. Hy/sy is nie aan tyd en plek gebonde nie, en kan beskryf wat op dieselfde oomblik op meer as een plek in die verhaal plaasvind.
Gedagtespraak
Dit wat die karakter dink kan ook as innerlike dialoog beskou word. Dialoog is deel van die handeling omdat dit gebeure kan laat plaasvind. Dialoog openbaar ook karaktereienskappe en wat ’n karakter dink.
Handeling
Handeling of aksie is die gebeure wat in ’n verhaal plaasvind. Die een handeling kan ’n reaksie by sekere karakters veroorsaak en daardeur hulle handeling verder beïnvloed of selfs die verloop van gebeure in ’n ander rigting stuur. Ons kry die volgende soorte handeling:
Uiterlike handeling is dit wat jy kan sien: gesigsuitdrukking, bewegings en gebare van karakters.
Innerlike handeling vind in die karakters se gedagtes plaas – dit is karakters se emosies en denke.
Karakteriseringstegnieke
Karakters word gewoonlik uiterlik en innerlik beskryf. Ons leer karakters op die volgende maniere ken:
Hoe hy/sy self optree, houding en gebare.
Wat die verteller van die karakters sê.
Wat die ander karakters van hom/haar sê.
Wat die karakter self van hom/haar sê.
Lees die monoloog nou weer aandagtig op jou eie deur en beantwoord die vrae in jou werkboek.
1. In hierdie monoloog kom slegs een karakter voor.
a. Is hierdie karakter ’n seun of ’n meisie? Motiveer jou antwoord.
b. Hoe oud is hierdie karakter?
c. Het die karakter enige ander broers of susters? Wie is die jongste?
2. Watter plan het die pa toe in die mou gevoer?
3. Watter drie dinge wou die pa sy dogter leer?
4. Lees die titel. In watter paragraaf word die titel verduidelik?
5. Die spreker se ouers ervaar verskillende emosies.
a. Skryf die uitdrukking neer wat die pa se emosie beskryf.
b. Wat beteken die uitdrukking?
c. Watter emosie beleef die ma? Haal ’n woord uit die teks aan om jou antwoord te bewys.
6. Skryf ’n beter Afrikaanse woord vir die skuinsgedrukte woord neer.
“En sy kry die briek altyd betyds in die hande.”
7. In paragraaf 3 is “staaadig” verkeerd gespel. Waarom?
8. Wat het waarskynlik gebeur dat die bakkie die “skrapie” opgedoen het?
9. In paragraaf 3 voel die spreker dat sy onregverdig behandel word.
a. Wat laat haar voel dat sy onregverdig behandel word?
b. Dink jy sy het rede om so te voel? Motiveer.
10.Hou jy van die hoofkarakter? Hoekom?/Hoekom nie?
11.Dink jy dit is reg dat die pa verwag dat sy dogter ook moet help om die skade aan die bakkie te betaal? Verduidelik jou antwoord.
Hardoplees
Gebruik nou die monoloog as teks en gaan berei dit voor vir hardoplees wat formeel geassesseer gaan word. Gebruik die wenke in Pitkos wanneer jy jou voorbereiding doen. Pitkos gee ook wenke hoe jy moet staan wanneer jy hardoplees in die klas.
Pitkos
Wanneer jy hardoplees
Voorkoms: Fisieke voorkoms (soos ’n slordige houding, kleredrag of haarstyl) kan die aandag van die vertolking aftrek. Jou voorkoms en houding moet nie die gehoor se aandag van die inhoud van jou leeswerk of jou aanbieding aftrek nie.
Boekgreep: Hou die boek gemaklik vas sodat jy die teks kan volg sonder om jou kop te ver af te buig en kontak met die gehoor versteur. Moenie jou kop agter die boek wegsteek nie. Blaai gemaklik en sonder onderbreking na die volgende bladsy.
Gehoorkontak: Gehoorkontak by vertolkende lees beteken dat jy vooruit moet kan lees. Kyk op na die gehoor, sê ’n paar woorde aan die gehoor om hul reaksie te monitor voordat jou oë weer die teks in die boek volg. Maak met die gehoor kontak deur jou stem te projekteer.
Leesvermoë: Hierdie is vertolkende voorlees, nie ’n toets vir vloeiende lees nie. Lees vloeiend, korrek, entoesiasties en vooruit.
Lyftaal: Jou liggaamstaal moet natuurlik en ontspanne wees. Toon inlewing en meelewing, al is dit net om die skouer te lig.
Begrip en interpretasie: Lees is die oordra van idees eerder as die blote oordrag van woorde. Jy moet aan die gehoor kan oordra dat jy die teks verstaan. Die teks het ’n besondere aard, stemming en boodskap wat jy moet kan oordra.
Vertelling en dialoog: ’n Teks bevat sowel verhalende as vertellende gedeeltes. Jy moet die teks só voorlees dat dit vir die gehoor duidelik is wanneer ’n karakter aan die woord is en wanneer ’n verhalende deel gelees word. Beheer jou emosie by dialooggedeeltes.
Stemgebruik: Jou stem moet hoorbaar, verstaanbaar en met ’n natuurlike aanslag wees. Maak gebruik van tempowisseling om die gehoor se aandag te behou. Moenie te vinnig praat nie, want die inhoud kan verlore gaan. Korrekte frasering en pousering, asook vloeiende en natuurlike lees, versterk begrip van die inhoud.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die stappe van prosesskryf volg
’n verhalende of beskrywende opstel skryf.
Ons het in die vorige aktiwiteit van ’n tiener se probleme gelees toe sy haar pa se bakkie gestamp het omdat sy vergeet het om die handrem op te trek. Was jy al in ’n soortgelyke situasie? Het jy al probeer motor bestuur?
Skryf oor ’n snaakse episode wat plaasgevind het toe jy probeer motor bestuur het. Jou opstel moet aan die volgende vereistes voldoen:
Dit hoef nie regtig te gebeur het nie, maar jy moet van ’n eerstepersoonsverteller gebruik maak – dit moet klink of dit jou eie storie is.
Kry ’n treffende titel vir jou opstel.
Blaai terug na aktiwiteit 3 en volg die stappe van prosesskryf.
Sorg dat jou paragrawe logies op mekaar volg.
Let daarop dat elke paragraaf se inleidende sin die kerngedagte bevat. Die ander sinne moet ondersteunende besonderhede verskaf.
Maak gebruik van verbindingswoorde wanneer jy sinne en paragrawe by mekaar laat aansluit.
Wissel jou sinslengtes en ook jou sinsoorte af.
Jou opstel moet 200 tot 250 woorde lank wees.
Formele assessering
Jou onderwyser gaan van ’n rubriek gebruik maak om jou opstel te assesseer.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
preleesvrae beantwoord
’n gedig saam met jou maat paarlees
vrae beantwoord
’n paragraaf skryf.
Preleesvrae
Is jy tevrede met jouself – hoe jy lyk, hoe jy klink, jou persoonlikheid?
Wat is daar wat jy graag sal wil verander?
Hoe dink jy sal dit jou lewe beïnvloed as jy dit kan verander?
Paarlees ’n gedig.
Paarlees die gedig “Die nuwe ek” van Sunette du Plessis in die Piekfyn Afrikaans Leesboek saam met ’n maat. Begin saam hardop lees en pas julle leesspoed aan sodat julle elke woord saam lees. Wanneer julle die gedig vlot kan lees, moet elkeen ’n beurt kry om dit hardop voor te lees.
Postlees: Beantwoord vrae en skryf ’n paragraaf.
Beantwoord die vrae in die Piekfyn Afrikaans Leesboek.
Skryf ’n paragraaf oor hoe jy jouself sou wou verander. Jy kan dieselfde titel as die gedig of jou eie titel gebruik. Jou paragraaf moet 120-140 woorde lank wees. Maak ook gebruik van die stappe van prosesskryf. Pitkos gee ’n verduideliking van wat ’n samehangende paragraaf is.
Pitkos
’n Samehangende paragraaf is ’n paragraaf waar een sin by ’n vorige aansluit sodat die paragraaf een groot geheel of samehang vorm. Dit word verkry deur een hoofsin (kernsin) te hê wat die hoofgedagte van die paragraaf vorm. Al die ander sinne in die paragraaf brei uit op hierdie hoofgedagte – ons noem hulle bygedagtes. Laat jou sinne by mekaar aansluit. Maak gebruik van verbindingswoorde soos voegwoorde en betreklike voornaamwoorde.