Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal - Henk Viljoen - Страница 5

Оглавление

Ons word daagliks gebombardeer met slegte nuus van aardverwarming, ’n waterskaarste, armoede en allerhande rampe wat ons kan tref. En dan besef ’n mens: jy is eintlik weerloos, want daar is niks wat jy mens alleen kan doen om dinge te verander nie.

Die module skop af met vier spotprente wat julle moet ontleed. Julle leer wat die eienskappe van ’n spotprent is en hoe ’n spotprent benader moet word. Dan moet jy ’n paar vrae beantwoord.

Jy luister ook na ’n toespraak wat die burgemeester gelewer het, lees dit self en ontleed die toespraak dan met behulp van ’n paar vrae. Daarna gaan jy natuurlik jou eie toespraak skryf en aan die klas lewer.

Ons kyk ook na innerlike konflik in ’n kortverhaal van Fanie Viljoen wat in die Piekfyn Afrikaans Leesboek verskyn.

Taalstrukture wat behandel word, is woordvorming, waar jy leer hoe om nuwe woorde te vorm deur middel van afleiding, samestelling en samestellende afleiding. Jy leer ook wat die verskil tussen ’n simpleks en ’n kompleks is en wat die betekeniswaarde van sekere voor- en agtervoegsels is. Laastens leer jy om kritiese taalbewustheid aan te kweek wanneer jy die verskil tussen letterlike en figuurlike taalgebruik leer en dit ook toepas.



In hierdie aktiwiteit gaan jy

 spotprente bestudeer

 sosiale kwessies soos menseregte bespreek

 taalstrategieë korrek gebruik.


Pitkos

Spotprente en prentgrappe

 Spotprente en prentgrappe soos “Die lewe is ’n kaaskrul” se doel is om die leser te vermaak.

 Dit spot gewoonlik met ’n situasie. Hierdie situasie kan ’n alledaagse probleem soos omgewingsbesoedeling of slaggate wees. Politiek en politieke figure loop gereeld onder die spotprenttekenaar se pen deur.

 Dit is belangrik dat die leser weet wat in die nuus aangaan om spotprente reg te interpreteer, aangesien dit gewoonlik gebaseer is op ’n berig wat vroeër in die koerant verskyn het of ’n insident wat op daardie tydstip nuuswaardig is.

 ’n Spotprent kan uit ’n illustrasie en ’n praatborrel met teks bestaan, of selfs teksloos wees.

 Die spotprentkunstenaar Frans Esterhuyse het ’n kenmerkende skaam kat (jy sien nooit die kat se gesig nie). Hierdie kat of selfs die Beeld se uithangbord gee die leser agtergrond waaroor die spotprent handel.

Prelees saam met ’n maat.

Bekyk die vier spotprente en voorspel waaroor elke spotprent handel. Nadat julle die vrae beantwoord het, sal julle weet of julle reg geraai het.

Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.

Spotprent 1


1. Watter probleem kry in spotprent 1 aandag? Noem alles wat met die probleem te doen het.

2. Die tekenaar moet sorg dat die leser weet waaroor die spotprent gaan. Wat gebruik hy om die leser in te lig?

3. Kleur speel ’n belangrike rol in die spotprent. Wat word daardeur beklemtoon?

4. Wat sê vir die leser dat daar baie beweging op die stortingsterrein is?

Spotprent 2


5. Watter verband is daar tussen spotprent 1 en 2?

6. Wat gebeur alles wat bydra tot die probleem wat die aarde het? Noem dit.

7. Watter rol speel die kat regs onder om by te dra tot die atmosfeer?

8. Op watter maniere word die frustrasie en woede van die aarde uitgedruk?

Spotprent 3


9. Watter kontras bemerk jy tussen spotprent 2 en 3?

10.Wie is hier aan die praat?

11.Waarmee dink jy word die mense gelukgewens? Hoe weet jy dit?

12.Waarvoor word daar vir hulle dankie gesê?

13.Wie dink jy is hierdie mense? Hoe weet jy dit?

14.Ons sien weer die kat in hierdie spotprent. Watter bydrae lewer die kat tot hierdie spotprent?

Spotprent 4


15.Ken jy die fabel van haas en skilpad wat resies gehardloop het? As jy nie weet nie, vra jou maat langsaan om jou te vertel.

a. Wie dink jy het hierdie resies gewen – haas of skilpad? Hoekom het hy gewen?

16.Daar is ’n spreekwoord wat sê “Hoe meer haas, hoe minder spoed.” Wat beteken dit?

17.Wat beteken die ringe en sterre wat bokant haas geteken is?

18.Wat dink jy het met haas gebeur? Hoe weet jy dit?

19.Watter verband is daar tussen die opmerking van die skilpad en die koerantopskrif links bo in die hoek van die spotprent?

20.Wat dink jy het die spotprenttekenaar vir die koerantleser probeer sê?


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 na ’n toespraak luister

 ’n toespraak lees

 ’n groepbespreking oor die toespraak hou

 meer van woordvorming leer

 vrae oor taalstrukture beantwoord.

Luister na ’n toespraak.

Hoërskool Langverwagt het verlede week hulle vyftigste verjaardag gevier. Hulle het besluit om hulle vieringe spesiaal te maak deur hulp te gee aan die arm gemeenskappe in hulle omgewing. Die burgemeester het die opening van die verrigtinge bygewoon en ’n toespraak gelewer. Luister terwyl jou onderwyser dit voorlees.

Die skoolhoof, mnr. Fortuin, personeel, ouers en leerders.

In al die groot stede van die wêreld sien jy hulle: tenger lyfies, honger oë en stukkende klere. Hulle het gebarste voetjies en ’n vals dapperheid teen ’n wrede wêreld. Hierdie kinders wie se situasie skynbaar onveranderlik is, staan altyd met uitgestrekte hande wat vra. Hulle knaag aan jou gewete en kom karring aan jou gemoedsrus.

Armoede is ’n realiteit en het uitreik nodig soos Hoërskool Langverwagt doen.

Weet ons hoe erg dit daarbuite gaan? Weet ons hoeveel armes daar regtig is?

Wanneer ons so in die winkels staan om kos te koop, dink ons ooit aan hierdie gesiggies? Ons magies is vol, ons het ’n warm bed in die kamer, ons het dalk ’n selfoon en ’n rekenaar . . . maar wat van hulle daar buite?

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan Noordwes-Universiteit, noem dat die werkloosheidsyfer tans 24% is, maar dat kenners meen die werklike syfer kan tot 40% wees. Ongeveer 46% van die huishoudings in Mpumalanga, byvoorbeeld, leef onder die armoedegrens.

Die vraag is nou – wat kan ons doen?

Statistieke op die vigswebtuiste www.khomanani.org.za het my man nogal geskok. Hier het hy gelees dat meer as 15 miljoen kinders onder die ouderdom van 18 jaar wêreldwyd reeds teen die einde van 2004 wees was, omdat hulle ouers dood is aan vigs.

Wanneer ek aan die armes begin dink, is dit vir my emosioneel uitputtend. Dit het vererger toe ek een aand aan tafel ons Somerson Nuus van 15 Februarie 2014 oopslaan. Die woorde van Elsabe Coetzee het my bygebly: “Ná daai kyk in daardie leë donker ogies was my lewe nie meer dieselfde nie.” Elsabe het dit nie daar gelos nie. Sy het begin werk om hierdie arm wesies sonder kos en klere te versorg. Sy het vir hulle gegee wat hulle nodig het: kos en klere. Uitreik het plaasgevind.

Die ergste is, die probleem is nie net in Suid-Afrika nie.

Wanneer ek hierdie dinge op televisie sien en in koerante lees, kry my daaglikse brood nuwe betekenis. Met ’n onlangse soeksessie op die internet, kom ek toevallig op www.mieliestronk.com af . Hier lees ek dat dit nie snaaks is as kinders so jonk as 4 jaar in lande in die Ooste in gevaarlike omstandighede in myne of met insekdoders werk nie. En dit terwyl kinderarbeid onwettig is. Tog is hierdie kinders se ouers dankbaar omdat die kinders “uitgehuur” word om geld te verdien. Armoede is ’n realiteit.

Armoede kring net wyer uit. Wat sal die statistiek vandag wees?

Ek dink die tyd het aangebreek dat ons wat het, bietjie meer moet insit om te help om hierdie armoedekring nouer te maak.

Moenie die kop wegdraai nie. Kyk in daardie leë, honger ogies. Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, maar die arme s’n ook nie. Dit sal meer betekenis hê.

Groepbespreking

Lees die toespraak weer hardop in julle groepe en kry antwoorde op die volgende vrae. Elke groep moet terugvoering gee:

 Skryf woorde neer wat julle nie verstaan nie. Gebruik ’n woordeboek en slaan die betekenis na.

 Wat is die onderwerp van hierdie toespraak?

 Die spreker doen ’n beroep op die gehoor. Wat vra sy en wat is haar boodskap?

 Is hierdie taal formeel of informeel? Skryf gedeeltes uit die toespraak neer as bewys van julle anwoord.

 Hoe verskil die trant van hierdie toespraak van ’n gewone inligtingsteks? Dink aan die volgende:Wat maak hierdie toespraak meer persoonlik van aard as ’n gewone koerantberig?’n Koerantberig moet objektief wees – is hierdie toespraak objektief of subjektief? Gee bewyse uit die toespraak.

 Uit hoeveel hoofpunte bestaan hierdie toespraak? Skryf hulle neer.

 Maak die spreker van feite gebruik om haar stellings te staaf of raai sy sommer? Gee voorbeelde.

 Watter rol speel die vrae wat kort-kort gevra word? Is dit vrae waarop direkte antwoorde gegee kan word? Wat noem ’n mens sulke vrae?

 Gee voorbeelde waar die spreker op die gehoor se emosies werk. Is dit suksesvol?

 Bespreek die inleiding en die slot. Is dit geslaagd en vang dit die gehoor se aandag vas? Laat dit die gehoor nadink? Motiveer julle antwoord.

 Vorm hierdie toespraak ’n eenheid, met ander woorde, sluit die inleiding en slot by mekaar aan? Verduidelik julle antwoord.

In In ’n neutedop word verduidelik hoe woorde in Afrikaans gevorm word. Gaan dit deeglik saam met jou onderwyser deur. Raadpleeg ook die Taalgids agter in die boek.


Woordvorming

Deur middel van woordvorming word nuwe woorde gevorm. Jy moet die volgende terminologie omtrent woordvorming ken en verstaan:

 Stam (basisvorm) van ’n woord: Dit is die kleinste deeltjie van ’n woord wat betekenis het. Die betekenis moet ooreenstem met die betekenis van die nuwe woord, byvoorbeeld: die stam van speler is speel.

 ’n Simpleks bestaan slegs uit die stam van ’n woord. Dit is ’n woord wat nie in kleiner betekenisvolle dele verdeel kan word nie, byvoorbeeld: motor; pampoen; tafel; stoel.

 Affikse sluit die volgende in:’n Premorfeem (voorvoegsel of prefiks) staan voor die stam, byvoorbeeld: versoek, misverstand.’n Postmorfeem (agtervoegsel of suffiks) staan agter die stam, byvoorbeeld: sukkelaar, ontwikkeling.’n Metamorfeem kom voor wanneer sommige woorde gevorm word deur die klinker (vokaal) van die stam/basis te verander. Dit staan ook as klinkerwisseling bekend. Die twee woorde moet met mekaar verband hou, byvoorbeeld: bid – gebede, bedelaar; skiet – skoot, skut, uitskot; sny – snit, gesnede; byt – gebit, beitel; gryp – greep; meet – maat; wreek – wraak, wrok.

 Voor- en agtervoegsels het ’n betekenisfunksie

aarts- (eerste, vernaamste): aartsvader, aartsengel

ant- (teen): antwoord

anti- (teen): antirookveldtog, antigeweld

on- (sleg/nie): onding, onmenslik

mis- (sleg): misdaad, misstap

tele- (ver): telefoon, telegram, televisie

her- (weer): herstel, herwin

ver- (oor): verguld, versilwer

be- (voorsien van): bevlek, bekroon

Die woord ongelukkig het dus soos volg tot stand gekom:

on- – voorvoegsel/premorfeem/prefiks

geluk – basisvorm/stam

(k) – hier het die konsonant as gevolg van die spelling verdubbel

-ig – agtervoegsel/postmorfeem/suffiks

 ’n Kompleks bestaan uit een of meer as een stam plus morfeme. Voorbeelde van komplekse is:Afleiding: Stam plus ’n pre- en/of postmorfeem (voor- en/of agtervoegsel), byvoorbeeld: pampoene; motors; tafeltjie; stoeltjie; vroue. Die woord dwing is deur klinkerverandering na dwang verander; dus is dit ook ’n afleiding.Samestelling: Dit bestaan uit twee of meer stamme, byvoorbeeld: skoolhemp; hempsmou. Kern en bepaler: Elke samestelling het ’n kern (belangrikste deel van die woord wat gewoonlik laaste in die woord staan) en die bepaler wat gewoonlik eerste staan, bv. in die woord speelbal is bal die kern en speel die bepaler.Samestellende afleiding: Dit bestaan uit twee of meer stamme plus voor- en/of agtervoegsels, byvoorbeeld: dikvellig; dakligte; hempsmoue.’n Voegsel of verbindingsklank kom slegs in komplekse voor of tussen bepaalde stamme. Hierdie verbindingsklanke het geen betekeniswaarde nie. Dit verbind slegs woorddele. Byvoorbeeld: arbeidsgeskil, heldedaad, kinderboek.

Beantwoord die taalvrae.

1. Vorm samestellings van die stamme tussen hakies.

a. Die (vy + boom) staan net buite sy (kamer + venster).

b. Aan die (wes + grens) van Johannesburg is Randburg.

c. Die spreker se (lewe + skets) is vooraf gegee.

d. Die burgemeester se (nooi + van) is Ngwenya.

e. ’n Burgemeester moet ook maar ’n (lewe + polis) uitneem indien hy/sy dalk in ’n ongeluk beland.

2. Skryf of die volgende woorde ’n afleiding, samestelling of samestellende afleiding is:

a. soeksessie

b. stukkende

c. selfoon

d. kinderarbeid

e. wêreldwyd

3. Skryf die stam van die skuinsgedrukte woorde neer:

a.Die situasie is onveranderlik.

b.Kenners sê die probleem is baie groot.

c.Kinderarbeid is onwettig.

d.Dit kring al wyer uit.

e.Dit is emosioneel uitputtend.

4. Watter van die volgende woorde is simplekse of komplekse?

a. emosioneel

b. honger

c. wegdraai

5. Skryf die regte vorm van die woord tussen hakies neer.

a. Die (ry) na Mpumalanga was uitputtend.

b. Die polisie ry te perd en staan dus bekend as die (ry) polisie.

c. Die (skiet) het ’n (skiet) met sy geweer geskiet.

6. Watter betekenisfunksie vervul die skuinsgedrukte voor- en agtervoegsels in die volgende woorde?

a.Die kinders in die myne werk in onmenslike omstandighede.

b.Ons moet die kwessie van armoede herdink en die mense bemagtig om hulleself te help.

7. Die woord “armoedekring” is ’n samestelling. Watter deel is die kern en watter die bepaler?


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 navorsing doen

 ’n toespraak skryf en lewer.

Oorreed jou gehoor: Skryf en lewer ’n toespraak.

Nou is die kans om jou eie toespraak te skryf en aan die klas te lewer. Kies enige van die spotprente in aktiwiteit 1, neem standpunt in en oortuig die gehoor van jou standpunt. Byvoorbeeld spotprent 3: Ons paraplegiese atlete verdien meer heldeverering as ons sokker- en rugbyhelde. Onthou die volgende:

 Jy sal navorsing moet doen sodat jy jou gehoor met feite kan oortuig.

 Jou toespraak moet 2 tot 3 minute lank duur.

 Onthou wie jou teikengroep is. Pas jou toespraak daarby aan.

 Hou jou sinne kort – dit is makliker om te volg.

Gebruik die wenke in Pitkos wanneer jy vir jou oorredingstoespraak voorberei. Maak gebruik van die stappe van prosesskryf wanneer jy jou toespraak skryf.


Pitkos

Oorredingstoespraak

Voorkoms en houding

Netheid, selfvertroue en jou liggaamshouding is belangrik. Indien dit nie jou toespraak ondersteun nie, kan dit die gehoor irriteer en dan sal hulle nie na jou luister nie.

Struktuur

 ’n Toespraak bestaan gewoonlik uit die volgende dele:

 Inleiding: Stel die doel, onderwerp en standpunt van jou toespraak duidelik en dadelik aan die gehoor. Die inleidende sinne moet verband hou met jou onderwerp en standpunte.

 Liggaam/inhoudsgedeelte: By redevoering moet jou argument/e sterk deurkom. Jou redenasies moet logies volg, en jou argumentering moet duidelik ontwikkel. Moenie van die onderwerp afdwaal nie.

 Slot: Die slot moet treffend en kort wees. Waak teen woordelikse herhaling van argumente. Jou motivering, oorreding of standpunt/e behoort hier weer bevestig te word.

Inhoud

 Gebruik tegnieke om die gehoor te oorreed – maak ’n stelling en staaf dit met bewyse.

 Gee erkenning aan die bronne wat jy tydens jou navorsing gebruik het.

 Gebruik voorbeelde en navorsing uit jou eie ervaringsveld.

 ’n Gehoor hou van humor, maar sorg dat dit die inhoud ondersteun.

Stem, spraak en uitspraak

 Projekteer jou stem sodat almal jou duidelik kan hoor.

 Artikuleer duidelik en waak teen ontronding.

 Handhaaf ’n gepaste tempo en gebruik pousering effektief.

 Gebruik frasering, woord- en sinsklem gemaklik en korrek.

 Styl

 ’n Oorredende styl is nie ’n voordrag- of leesstyl nie, maar is soos ’n natuurlike praatstyl.

 Gebruik oorredende tegnieke soos herhaling, klem en tempowisseling om die gehoor te beïnvloed.

Taalgebruik

 Korrekte, ryk en interessante taalgebruik is belangrik.

 Maak seker jou woordeskat is treffend en jou taalgebruik effektief, bondig en verstaanbaar. Vermy clichés.

Gebare en notas

Gebare moet spontaan, ondersteunend en effektief wees. Jou notas moet nie die gehoor se aandag aftrek nie. Vermy dus helderkleurige of slordige en vuil kaartjies. Kyk ook na die korrekte grootte.

Gehoorkontak

 Behou oogkontak met die gehoor.

 Wees natuurlik, entoesiasties en goed voorbereid – dan het jy selfvertroue.

 Oortuig jou gehoor. Betrek jou gehoor by die probleem, die argument en die oplossing.

Maat- en formele assessering

Gebruik die wenke in Pitkos en stel ’n kontrolelys saam waarvolgens julle mekaar se toesprake kan assesseer. Let veral op na aanbiedingsvaardighede soos oogkontak, liggaamstaal, stemtoon en pousering. Jou onderwyser gaan jou toespraak daarna formeel assesseer


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 taalstrukture hersien.

Spotprent 1

1. “Stortingsterrein”

a.Skryf die basisvorme van die woord neer.

b.Skryf die verbindingsklank neer.

c.Is dit ’n samestelling of ’n samestellende afleiding ?

2. Die woord “gas” kan twee verskillende meervoude hê. Maak ’n sin met elke meervoud sodat ’n mens kan agterkom dat daar ’n verskil in betekenis tussen die twee woorde is.

3. Die werkwoord “lewer” kan ook as ’n selfstandige naamwoord gebruik word. Maak ’n sin om die verskil in betekenis uit te wys.

4. Skryf die meervoud en verkleining van die volgende woorde wat uit die spotprent afgelei kan word:

a. televisiestel

b. man

c. lig

d. antenna

e. masjien

f. rommelhoop


Spotprent 2

5. Skryf ’n voorbeeld neer van ’n aanwysende woord in die spraakborrel.

6. Skryf die trappe van vergelyking van “moeg” neer.

7. Die aarde se hare is maar yl. Die woord “yl” kan ook ’n ander betekenis hê. Maak ’n sin om te wys hoe hierdie betekenis verskil.

8. Skryf die verkleinwoord van die volgende:

a. storm

b. orkaan

c. veldbrand

d. vloed

e. rook

f. kat

Spotprent 3

9. Waarom word daar ’n uitroepteken agter die woorde in die spraakborrel geskryf?

10.Maak vir die kat ’n spraakborrel en skryf neer wat hy gesê het. Onthou om die regte leestekens te gebruik.

11.Iemand wat die gebruik van al twee sy arms of al twee sy bene verloor het, noem ons ’n . . .

’n Persoon van wie al vier sy ledemate verlam is, word ’n . . . genoem.

12.Skryf die meervoud en verkleining van “glimlag”, “rolstoel” en “kruk” neer.

Spotprent 4

Lees eers wat letterlike en figuurlik taalgebruik is soos dit In ’n neutedop en die Taalgids verduidelik word.


Letterlike betekenis is die betekenis presies soos die woord sê. Die letterlike betekenis van die woorde dit is nag is: die son het gesak en dit is stikdonker.

Figuurlike betekenis is ’n verdere (beeldende) betekenis wat die woord kry. Dit is nag kan figuurlik beteken dit is ’n tyd van swaarkry.

’n Stereotipe

Dit is ’n oorvereenvoudigde beeld wat ’n mens het van ’n tipe persoon/’n groep persone. So byvoorbeeld is ’n mens geneig om te dink dat mense met ’n fisiese gestremdheid (blindes, parapleë) ook verstandelik gestremd is.

13.Skilpad praat van haas. Woordspeling is wanneer ’n woord meer as een betekenis het en só in ’n sin gebruik word dat albei betekenisse van toepassing is. Hier het ons ’n goeie voorbeeld van woordspeling. Verduidelik.

14.Maak jou eie sin van die woord “selde”.

15.Lees die woord “dodetal”.

a. Skryf die basisvorme van die woord neer.

b. Is dit ’n samestelling of ’n samestellende afleiding?

c. Watter gedeelte is die kern en watter die bepaler?

16.Skryf die afkorting in die spotprent in woorde uit sodat dit steeds in die sin pas.

17.Skryf die meervoud van “skilpad” en “haas” neer.

18.Skryf die trappe van vergelyking van “goed” neer.

19.Maak twee sinne om die twee betekenisse van “haas” te verduidelik.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 preleesvrae beantwoord

 ’n kortverhaal uit die Piekfyn Afrikaans Leesboek lees

 konflik en karakter in die verhaal saam met die groep bespreek.

Prelees

Beantwoord die volgende vrae saam met ’n maat.

 Watter rol vervul ’n ouma en ’n oupa in ’n kind se lewe? Dink julle hulle is belangrik? Hoekom?/Hoekom nie?

 Is kinders gewoonlik lief vir hulle oumas en oupas? Hoekom?

 Watter eienskappe moet ’n liewe ouma hê?

 Is een van julle bang vir julle oumas en/of oupas? Hoekom?

Begeleide lees

Volg in julle boeke wanneer julle onderwyser vir julle ’n verhaal van Fanie Viljoen, genaamd “Ouma Bangmaak se mensbome” wat in die Piekfyn Afrikaans Leesboek verskyn, voorlees. Lees die verhaal daarna op julle eie deur voordat julle die vrae in die leesboek beantwoord.

Is daar konflik in die verhaal?

Alhoewel die ouma nie veel gepraat het nie, is die verhaal gelaai met konflik. Lees wat In ’n neutedop oor konflik sê:


Spanning word gewoonlik deur konflik veroorsaak

Ons kry twee soorte konflik:

 Uiterlike konflik: wanneer daar botsing is wat jy kan waarneem, soos wanneer twee karakters fisies stry of selfs wanneer hulle nie met mekaar wil praat nie.

 Innerlike konflik is wanneer daar konflik binne ’n karakter plaasvind, byvoorbeeld wanneer jy ’n moelike besluit moet neem, of wanneer jy weet jy was die oorsaak van iemand se hartseer.

Wat veroorsaak konflik? Dit word veroorsaak deur byvoorbeeld botsende emosies, wanneer ’n mens ’n doelwit wil bereik en nie ander in ag neem nie, en wanneer daar verskille tussen karakters is.

Die gevolge van konflik - dit lei tot verdere handeling en versnel of vertraag gebeure in ’n verhaal.

Bespreek die volgende in julle groep. Elke groep moet teen die einde terugvoering gee:

 Is daar konflik tussen ouma Tommie en haar kleinseun? Verduidelik. Wat noem ons hierdie soort konflik?

 Waarom, dink julle, is daar konflik?

 Die verteller het geweldige innerlike konflik ervaar. Skryf neer wat hom alles kon ontstel het, wat hy alles gedink het en hoekom ons dit innerlike konflik noem.

 Dink julle ouma Tommie het enigsins innerlike konflik ervaar? Hoekom?/Hoekom nie?

Kom ons fokus op ouma Tommie.

 Skryf soveel as moontlik karaktereienskappe van ouma Tommie neer.

 Hoekom, dink julle, het sy in die slot vir haar kleinseun – in die middel van die nag - ’n boom geplant?

 Hou julle van ouma Tommie? Hoekom?/Hoekom nie?

 Watter invloed, dink julle, het sy op haar kleinseun gehad?

Skryf twee paragrawe

Skryf ’n paragraaf van 120 tot 140 woorde oor ouma Tommie en een paragraaf oor die konflik in die verhaal. Maak gebruik van die stappe van prosesskryf.

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal

Подняться наверх