Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal - Henk Viljoen - Страница 7

Оглавление

Hoe belangrik is ’n goeie selfbeeld? Waarom ly party mense aan depressie? Dink jy daar is ’n verband tussen depressie en die mens se selfbeeld?

Hierdie module spring weg met ’n sonnet waarin die spreker haar hande van nader beskou. Die sonnet as digvorm is rigied ten opsigte van inhoud en tipografie, en jy gaan uitvind hoe om dit sommer maklik te herken. Jy lees ook ’n volksverhaal in die Piekfyn Afrikaans Leesboek.

Beplan, redigeer en bied verskillende joernaalinskrywings oor al die aktiwiteite aan. Elke aktiwiteit het gerigte vrae wat jy kan gebruik om oor te dink en te skryf.

Leer hoe om hoofgedagtes te identifiseer en die opsomming vinnig baas te raak. Neem deel aan ’n forumbespreking en hou ’n onvoorbereide toespraak. Verder gaan jy koerantberigte ontleed en jou eie skryf.

Woordorde, die werkwoord, deelwoord, voegwoord en die los- en vasskryf van woorde geniet ook aandag.

Die tekste spreek verskillende onderwerpe aan: ’n mens se selfbeeld en hulp vir persone wat aan depressie ly. Onthou: Jy is wat jy van jouself dink!



In hierdie aktiwiteit gaan jy

 na ’n sonnet luister

 die sonnet as digvorm bestudeer

 ’n paragraaf oor die sonnet skryf

 met die joernaalinskrywing kennis maak en die eerste van ses joernaalinskrywings skryf.

Lees die onderstaande In ’n neutedop baie aandagtig deur.


Die sonnet

Die woord “sonnet” beteken “klein liedjie”. Shakespeare het ’n groot liefde vir hierdie gewilde digvorm gehad en daarom word dikwels na die Engelse sonnet as die Shakespeariaanse sonnet verwys.

Engelse en Italiaanse sonnette het dieselfde hoeveelheid versreëls, maar verskil in uiterlike bou of vorm. ’n Sonnet bestaan altyd uit 14 versreëls.

Kenmerke van die Engelse sonnet

Die Engelse sonnet word verdeel in drie kwatryne en ’n rymende eindkoeplet.

 In die drie kwatryne (met vier versreëls elk) word ’n waarneming of beskrywing/beeld van iets uiteengesit. Elke kwatryn kan ’n ander sienswyse oor die bepaalde saak/aspek/probleem waaroor die gedig handel, bekendstel. Daar vind progressie vanaf die eerste kwatryn tot die tweede kwatryn plaas. Vanaf die derde kwatryn vind verdieping plaas. Die kwatryne kan los van mekaar of aanmekaar geskryf word.

 Die rymskema (abab cdcd efef – kruisrym) is kenmerkend van die kwatryne van die Engelse sonnet.

 Die koeplet word ook ’n rymende eindkoeplet (gg – paarrym) genoem. Die eindkoeplet vat die hoogtepunt of keerpunt van die gedig saam.

Kenmerke van die Italiaanse sonnet

Die Italiaanse sonnet het die volgende strofebou:

 Die oktaaf (8 versreëls) bestaan uit twee kwatryne (vier versreëls elk). In die oktaaf kom gewoonlik ’n natuurbeeld of ’n verskynsel uit die alledaagse lewe voor, of dit bevat ’n uiteensetting wat tot ’n hoogtepunt in die agste versreël oploop en afsluit. Die wending volg daarna.

 Die oktaaf van die Italiaanse sonnet het kenmerkend omarmende rym in die kwatryne.

 Tussen die oktaaf en die sestet kom ’n definitiewe skeiding voor. Die sestet (ses versreëls) bestaan uit twee tersines (drie versreëls elk). Die beeld van die oktaaf word in die sestet op die lewe toegepas.

 Die sestet se rympatroon kan verskil. In die sestet word die beeld op die lewe toegepas.

 Die Italiaanse sonnet se rymskema is: abba; abba; cdc; cdc. Daar mag afwykings wees.

Beeldspraak: Metafoor

Die metafoor stel een saak direk in die plek van ’n ander. Dit is dan ’n nuwe, oorspronklike woordskepping, byvoorbeeld: Sy woorde is ’n pleister vir my siel.

Prelees gedig saam met ’n maat.

Lees die titel en kyk na die illustrasie.

 Watter soort gedig is dit hierdie? Hoe weet jy dit?

 Waaroor dink jy handel hierdie gedig?

 Is jy links- of regshandig?

 Hoe “slim” is jou “dom” hand?

 Wat alles kan jy vir mense van jou hande vertel?

Sonnet

Elisabeth Eybers


My hande was van altyd af onpaar:

skraal, vroulik en beskeie is die linker,

haar maat is ferm, grofgekneukeld, flinker,

maar net so links met greep, groet of gebaar.

Verwonderdheid, besinning, wanhoop, angs,

die dinge wat die bloedstroom plotseling strem,

dryf hul soms saam in asemlose klem,

maar dan los elk, verleë, gou sy vangs.

Selfs in die voorgeboortelike vog

het hulle onafhanklik rondgeroei

en was nooit waarlik aan mekaar verknog.

Ek twyfel of hul ooit behoorlik tuis

kan raak of tot eenparigheid sal groei

vóór iemand hulle oor my borskas kruis.

(Uit: Groot Verseboek 2000. Tafelberg. 2000)


Beantwoord die volgende vrae oor die gedig in jou werkboek.

Vrae oor die inhoud

1. Lees die gedig eers aandagtig saam met jou onderwyser deur. Waaroor handel hierdie gedig? Skryf slegs twee woorde neer. (1)

2. Watter hand is flinker as die ander? (1)

3. Lees versreël 2 en 3. Is die spreker linkshandig of regshandig? Motiveer jou antwoord. (2)

4. Strofe 2 verwys na verskillende emosies.

a. Na watter emosies verwys sy? Sê dit in jou eie woorde. (1)

b. Watter uitwerking het hierdie emosies op die spreker se hande? (1)

Maak afleidings

5. Wat bedoel die spreker met “onpaar” in versreël 1? (1)

6. Verduidelik die funksie van die dubbelpunt in versreël 1. (1)

7. Skryf versreël 3 neer en onderstreep die allitererende klanke wat voorkom. Wat is die funksie van die alliterasie in hierdie versreël? (2)

8. In versreël 4 noem die spreker dat die linker- en regterhand by tye maar dieselfde dom dinge doen. Skryf die ooreenkoms oor in jou eie woorde. (1)

9. Kyk weer na die eienskappe van die sonnet in Pitkos.

a. Gee twee redes waarom hierdie gedig ʼn sonnet is. (2)

b. Is hierdie gedig ʼn Engelse of Italiaanse sonnet? Gee ʼn duidelike rede vir jou antwoord. (2)

Tot watter gevolgtrekking kom die spreker aan die einde van die gedig? (1)

10.Hoe voel jy daaroor?

11.Die tema van hierdie gedig is dat volledige samewerking (byvoorbeeld tussen mense) net in die dood moontlik is. Sy gebruik haar hande as voorbeeld – hoe werk haar hande saam as sy dood is? (1)

12.Stem jy saam met wat die spreker in die gedig sê? Hoekom?/Hoekom nie? (2)

13.Is die sonnet vir jou ’n moeilike digvorm? Hoekom?/Hoekom nie? (1)

Totaal: 20 punte

Skryf ’n paragraaf.

Lees weer In ’n Neutedop en skryf ’n paragraaf van ongeveer 140 tot 160 woorde oor die innerlike en uiterlike bou van die sonnet.

Totaal: 5 punte


Verryking: Joernaalinskrywing

’n Joernaal is soos jou persoonlike notaboekie. Deur jou joernaal gaan jy met jou onderwyser kommunikeer oor persoonlike indrukke en gevoelens wat jy wil deel.

In ’n joernaal kan jy ook alles skryf wat vir jou belangrik is – nuwe idees, iets wat jy nie verstaan nie, jou opinie, iets wat met jou gebeur of wat jy beleef en voel. Gereelde inskrywings help jou om kreatief te skryf.

Jy gaan na elke aktiwiteit ’n kort joernaalinskrywing maak. Sekere vrae oor die betrokke aktiwiteit gaan jou help om jou joernaalinskrywings te beplan, te redigeer en as ’n finale produk aan te bied.

Aan die einde van die module gaan jy jou inskrywings vir jou maat gee om te assesseer. Jou joernaalinskrywings moet altesaam ongeveer 140 tot 160 woorde wees.


Pitkos

Joernaalinskrywing

Wanneer jy ’n joernaalinskrywing maak, is dit veral tyd vir persoonlike besinning. Daar bestaan verskillende soorte joernaalinskrywings en daarom sal jou onderwyser telkens aandui watter soort inskrywing by ’n aktiwiteit pas. ’n Joernaal het twee belangrike voordele:

 Dit dwing jou om te skryf en na te dink oor wat jy geskryf het.

 Hierdie “bêre” van stukkies kennis, inligting en ervaring gaan jou veral help wanneer jy weer aan soortgelyke onderwerpe aandag moet gee of moet voorberei vir ’n belangrike toets of eksamen. Bêre dus wat jy skryf vir toekomstige gebruik.

Skryf nou ’n joernaalinskrywing vir aktiwiteit 1. Gebruik die volgende vrae as riglyn:

 Hoe voel jy oor jou eie hande?

 Hoe sal jy optree as jy die gebruik van een of albei jou hande verloor?

 Watter sukses lê daar vir jou hande voor?


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 hoofgedagtes in ’n teks identifiseer en ’n opsomming maak

 los- en vasskryf asook woordorde korrek gebruik

 ’n volgende joernaalinskrywing maak.

Hoe lyk jou selfbeeld? Aan die begin van jou hoërskoolloopbaan is dit dalk nodig om meer hiervan te leer, want ’n mens weet nie altyd waar jy inpas nie. In graad 7 was jy mos die grootste en al die “kleintjies” het na jou opgekyk. In die hoërskool is jy weer die “kleintjie” en dan is dit wanneer ’n mens begin dink: Waar pas ek nou in?

Dit is daarom baie belangrik dat ’n mens in tye van aanpassing ’n stewige en positiewe selfbeeld moet hê.

Wat is jou selfbeeld?


Jou selfbeeld is dit wat jy van jouself dink.

Indien ’n mens ’n realistiese selfbeeld het, kan jy jouself soveel makliker aanvaar. Jy sal dan minder vatbaar wees vir groepsdruk en ook nie so maklik keuses maak wat ’n negatiewe invloed op jou en op ander sal hê nie.

Hier volg nou ’n aantal wenke om te help om ’n realistiese selfbeeld te ontwikkel:

1Hou op om negatiewe dinge oor jouself te sê en oor jouself te dink. Verwyder onmiddellik ander mense se negatiewe opmerkings oor jou uit jou gedagtes. Sê elke dag mooi en goeie dinge oor jouself.

2Gebruik positiewe opmerkings wat ander mense oor jou maak om goeie eienskappe van jouself te ontdek en bou daarop voort. Leer jouself om ’n positiewe gedagte te dink en te sê die oomblik wat jy wakker word. Laat jou laaste gedagte aan die einde van die dag ook positief wees. Jy sal gou agterkom hoeveel beter jy oor jouself voel.

3Verwyder onmiddellik negatiewe idees oor ander mense uit jou gedagtes. Moenie negatiewe opmerkings teenoor ander maak nie. Leef positief!

4Skinderpraatjies is in die meeste gevalle onwaar. Dit breek ander mense af en laat jou dikwels self skuldig en ongelukkig voel. Probeer liewer ander mense opbou – dit werk positief in op jouself.

5Probeer om positief na omstandighede te kyk. Al is dit nie altyd gunstig nie, probeer kyk wat jy uit die minder gunstige omstandighede kan leer en wat dit dalk vir jou kan beteken.

6Leef positief en kyk hoe ander mense dit gaan begin navolg. Soek positiewe dinge om vir ander te sê en bou so aan hulle selfbeeld. Lees positiewe boeke en deel dié gedagtes met ander.

7Onthou: deur ander mense goed oor hulleself te laat voel, bou jy ook aan jou eie selfbeeld. Hierdie mense kan dalk net van waarde of hulp in die toekoms wees.

(Verwerk van: cnx.org/content/m28984/latest en attie.wordpress.com2007/10/14/selfbeeld)



Pitkos

Opsomming

Wenke om ’n opsomming te skryf

 Lees die leesstuk eers aandagtig deur sodat jy presies weet waaroor die teks handel.

 Lees nou elke paragraaf deur en skryf die hoofgedagte van elke paragraaf neer. Probeer altyd om jou hoofgedagte as ’n enkelvoudige sin te gee.

 Vul nou die belangrikste ondersteunende gedagtes by elke hoofgedagte aan.

 Die aantal woorde wat jy moet gebruik, is baie belangrik. Jy mag nie meer as die toegelate aantal woorde gebruik nie.

 Maak seker wat die opdrag van jou vereis. Moet jy jou opsomming puntsgewys of as ’n paragraaf skryf?

 Jy mag nooit van telegramstyl gebruik maak nie. Telegramstyl beteken dat jy nie volsinne gebruik nie en lidwoorde uitlaat. Jou opsomming moet altyd in volsinne geskryf word.

Skryf ’n opsomming.

Lees die teks “Wat is jou selfbeeld?” aandagtig deur en som die sewe wenke punts-gewys op.

 Skryf elke hoofgedagte in jou eie goeie volsin neer.

 Jy mag nie meer as een sin oor elke hoofgedagte skryf nie.

 Jou opsomming moet ongeveer 60 tot 70 woorde wees.

 Jy moet die getal woorde aan die einde van die opsomming aandui.

 Jy sal gepenaliseer word as jy die toegelate aantal woorde oorskry.

Formele assessering

Jou onderwyser sien jou opsomming volgens ’n memorandum na.

Maak seker dat jy die inhoud van In ’n neutedop deeglik onder die knie het voordat jy die vrae beantwoord. Raadpleeg ook die Taalgids as jy twyfel.


Skryfwyse: los en vas

Die volgende woorde word vas geskryf:

Bywoord + werkwoord: agterkom; binnekom; neerslaan; regkom; wegspring; navolg

Werkwoord + naamwoord: skinderpraatjies; baaibroek; eetgoed; kookwater; smeerkaas

Voornaamwoord + self: jouself; hulleself; onsself; myself

Onthou

 Woorde wat een begrip vorm, word vas geskryf, byvoorbeeld: Wetenskaponderwyser; Biologie-onderwyser.

 ’n Koppelteken maak twee of meer woorde een woord. Kyk na die gebruik van die koppelteken in Module 4.

Die volgende woorde word los van mekaar geskryf:

 Saamgestelde taalname waar die eerste deel verbuig word, byvoorbeeld: Kaapse Afrikaans.

 Woordgroepe, byvoorbeeld: in diens tree, op groot skaal, op pad.

 Verbindings van byvoeglike en selfstandige naamwoorde, byvoorbeeld: rooi rok; blou hemelruim.

 Rangtelwoorde, byvoorbeeld: 12de Laan; 27ste Straat.

 Die woord al saam met ’n telwoord, byvoorbeeld: Hulle al twee sing mooi.

 ’n Verbinding wat uit ’n selfstandige naamwoord en die woord toe bestaan, byvoorbeeld: Ons stap ná skool huis toe. Môre ry ons Kaap toe.

Woordorde

Woordgroepe en sinsdele of frases het ’n bepaalde volgorde waarin hulle in ’n sin gebruik moet word.

Jy weet dat ’n sin uit ’n onderwerp, gesegde en ’n voorwerp bestaan. Om egter ’n sin te bou wat uit verskillende sinsdele bestaan, kan soms ’n groot kopseer wees. Probeer die volgende frases/sinsdele in die korrekte woordorde plaas: Hulle vertrek (oorsee) (met die vliegtuig) (volgende week).

Woorde word in hierdie volgorde geplaas:

TYD – WYSE – PLEK

Die korrekte woordorde van die voorbeeldsin lyk dus só:

Hulle vertrek volgende week + met die vliegtuig + oorsee.

TYD – WYSE – PLEK

1. In die woord “onmiddellik” word twee verskillende letters gebruik om dieselfde klank aan te toon. Skryf die woord onmiddellik neer en onderstreep die twee letters wat dieselfde klank aantoon.

2. Verdeel die volgende woorde in klankgrepe en dan in lettergrepe.

a. negatiewe (wenk 1) b)

b. opmerkings (wenk 1)

c. eienskappe (wenk 2)

d. skinderpraatjies (wenk 4)

3. Skryf die verkleinwoorde van die woorde tussen hakies neer.

a. Elke klein positiewe (opmerking) kan ’n goeie invloed hê.

b. Elke idee, hoe nietig die klein (idee) ook al is, kan baie beteken.

c. Elke nuwe dag in jou lewe is nie ’n geringe (dag) nie.

d. Mense dink dikwels hulle voorbeeld is ’n klein (voorbeeld).

e. Deel elke klein positiewe (gedagte) met ander.

4. Kies die regte spelling van die woord wat tussen hakies gebruik is.

Sorg dat jy ’n (navolgingswaardige/navolgenswaardige/navolgendswaardige/navolgindswaardige) voorbeeld stel.

5. Verander die woordorde van die onderstaande sinne deur met die woorde tussen hakies te begin.

a. Hou op om negatiewe opmerkings oor jouself te maak. (Moenie . . .)

b. Sê elke dag mooi goed oor jouself. (Elke dag . . .)

c. Moenie skinder nie. (Jy . . .)

d. Probeer om positief na omstandighede te kyk. (Kyk . . .)

6. Kies die regte skryfwyse in die volgende sinne.

a. Hulle wil altyd (hulleself/hulle self) help.

b. Jy sal (agter bly/agterbly) as jy nie nou vinniger loop nie.

c. Ek hou van (perd ry/perdry), want dit maak my altyd positief.

d. (Ys skaats/Ysskaats) laat ’n mens so vry en gelukkig voel.

e. Sorg dat jy (jouself/jou self) altyd met positiewe gedagtes (besighou/besig hou).

f. Die persoon wil ’n goeie (indruk/in druk) op die onderhoudvoerder maak.

g. Hou spelreëls altyd (in gedagte/ingedagte) wanneer jy skryf.

7. Skryf die regte vorm van die byvoeglike naamwoord tussen hakies.

a. Ons voel (baie gelukkig) oor die omstandighede, terwyl ander weer (baie ongelukkig) daaroor voel.

b. Hy eet ’n (baie ryp) piesang om beter te voel.

c. Hy is minder vatbaar vir kritiek, maar sy is die (min) vatbaar daarvoor.

d. Een negatiewe mens is (slu) as baie ander mense.


Verryking: Joernaalinskrywing

Skryf nou ’n joernaalinskrywing vir aktiwiteit 2. Die volgende vrae kan jou help.

Wat het jy uit die teks “Wat is jou selfbeeld?” geleer?

Hoe kan jy dit wat jy in die teks geleer het, met jou eie ervaring in verband bring?


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 stellings in groepe bespreek en na mekaar se menings luister

 ’n tydskrifartikel lees en vrae beantwoord

 werkwoorde en voegwoorde in sinne gebruik

 voortgaan met jou joernaalinskrywings.

Daar is baie mense wat nie daarin slaag om positief oor hulleself te voel en te dink nie. Dit lei dan daartoe dat hulle in depressie verval. Dit is daarom ook nodig dat ’n mens bewus moet wees van hierdie probleem wat dikwels as die “siekte van die moderne tyd” beskou word.

Daar bestaan soms verkeerde opvattings by mense oor wat depressie is. Gesels in julle groepe oor die moontlike verkeerde idees wat ’n mens oor hierdie probleem het. Gebruik die onderstaande tabel met vrae en kyk of jou siening verander nadat jy die teks gelees het. Gaan soos volg te werk:

Groepbespreking

 Bespreek eers die stellings in groepe.

 Besluit of julle as groep met die stellings saamstem of verskil. Gee redes waarom julle so sê.

 Luister na mekaar se menings en neem dan julle finale besluit.

 Lees dan die teks “Daar is hulp vir depressie”.

 Bespreek nou weer die stellings en kyk of julle van opinie verander. Gee redes waarom jul nou verskil/nie verskil nie.

Voordat jy begin leesStellingNadat jy gelees het
Stem saam./Stem nie saam nie.Daar is nie werklik hulp vir depressie nie.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Neerslagtigheid en depressie is dieselfde.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Almal raak een of ander tyd neerslagtig of terneergedruk.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Depressie is oorerflik.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.’n Positiewe mens kan nie depressief raak nie.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Slegs volwassenes raak depressief.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Depressie kan aan sekere simptome uitgeken word.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Dokters weet presies hoe om depressie te hanteer.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Mense is soms bang om depressie te erken en hulp te vra.Stem saam./Stem nie saam nie.
Stem saam./Stem nie saam nie.Daar bestaan dikwels verkeerde idees oor depressie.Stem saam./Stem nie saam nie.

Lees die tydskrifartikel aandagtig deur. Skryf die woorde in skuinsdruk in jou persoonlike woordelys. Slaan die betekenis na in ’n woordeboek.

Daar is hulp vir depressie


1Depressie moet nie met terneerge-druktheid verwar word nie. Volgens Health24 se kuberkopdokter, prof. Michael Simpson, is dit heeltemal normaal om soms neerslagtig te voel. Dit moet net nie te lank aanhou en met jou alledaagse leefwyse inmeng nie. Wanneer slaapversteurings en eetlusveranderings voorkom, kan dit op depressie dui.

2Die presiese oorsaak van depressie is nog nie heeltemal duidelik nie. Wanneer die werking van breinoordragstowwe versteur word, kan depressie ontstaan. Breinoordragstowwe is chemikalieë in die brein wat die oordrag van boodskappe tussen senuselle beheer. Persone wat ’n nabye familielid met dié probleem het, is soms meer vatbaar vir depressie. Onhanteerbare omstandighede in ’n mens se lewe kan hierdie probleem ook verder aanhelp. Jou eie persoonlikheid kan jou ook vatbaar vir depressie maak. Daarom is dit belangrik om van vroeg af te leer om ’n positiewe lewensuitkyk te handhaaf en om vaardighede te ontwikkel om stres te beheer.

3Ontstellende statistiek toon aan dat twee persent van 12-jariges en agt tot veertien persent van 15- tot 18-jariges aan depressie ly, volgens dr. Graham Emslie van die Universiteit van Texas in Amerika. Die simptome is partykeer anders as by volwassenes. Kleintjies is soms buitengewoon traag om skool toe te gaan, terwyl tieners weer swak vaar op skool, dwelms gebruik, begin rondslaap of van die huis af wegloop.

4’n Traumatiese gebeurtenis is dikwels die oorsaak van ’n eerste aanval van depressie. ’n Volgende stresvoorval kan ’n verdere aanval veroorsaak. Volgens prof. Piet Oosthuizen van die Universiteit van Stellenbosch word depressie dikwels deur ’n stresvolle gebeurtenis soos die dood van ’n geliefde veroorsaak. Hulp is dus dringend nodig.

5Met die regte behandeling sal tagtig persent van depressielyers verbeter en sestig persent sal ten volle herstel. Die regte medikasie en terapie sal die oplossing vir die probleem wees. In sekere gevalle is antidepressante nodig. Dié middels lewer ’n bydrae dat die breinoordragstowwe langer hou of doeltreffender werk. Dit is baie noodsaaklik dat die medikasie vir die regte tydperk gebruik word. Daarom is dit noodsaaklik dat die persoon saam met die dokter werk en dat die dokter se instruksies uitgevoer moet word. Behandeling moet nie sommer skielik gestaak word nie, want dan kan die goeie werk wat reeds gedoen is, dikwels ongedaan gemaak word en die probleem kan weer terugkeer.

6Terapie werk in sommige gevalle beter. Dit help die persoon om die waarheid in die oë te staar en die werklike emosionele probleme aan te spreek. ’n Mens moet leer waarom jy negatief op slegte situasies reageer en saam met jou terapeut nuwe maniere aanleer om trauma en verlies te hanteer.

7Die behandeling van depressie is ingewikkeld en baie navorsing moet nog gedoen word. Daar is egter ook bewys dat hoe vroeër die probleem aangepak word, hoe groter die kanse op sukses is. Die belangrikste raad aan depressielyers is: Wat ook al jou aksieplan is, kry so gou as moontlik hulp. Moenie probeer om die probleem alleen op te los nie. Praat daaroor en vertel vir iemand hoe jy voel. Kry hulp by mekaar. Daar is hulp. Moenie ’n groter probleem veroorsaak deur die probleem op verkeerde maniere te probeer oplos nie.

(Verwerk uit: Huisgenoot Pols)


Leesbegrip

Beantwoord die volgende vrae op jou eie.

1. Ondersoek die bou (struktuur) van die teks deur die hoofgedagtes van elke paragraaf in een woord neer te skryf.

2. In die eerste sin van paragraaf 1 word die verskil tussen depressie en terneergedruktheid genoem. Waarin lê die verskil volgens prof. Simpson?

3. Wat verstaan jy onder die woord “kuberkopdokter” (par. 1)?

4. Lees paragraaf 2 weer deur.

a. Wat is “breinoordragstowwe”?

b. Watter leestegniek het jy gebruik om die betekenis uit die teks te kry?

5. Skryf die vier moontlike oorsake van depressie volgens paragraaf 2 in jou eie woorde neer.

6. Is die eerste sin in paragraaf 3 ’n feit of ’n mening? Gee ’n rede vir jou antwoord.

7. Waarom word hierdie statistiek in paragraaf 3 as “ontstellend” beskou?

8. Verduidelik wat met ’n “traumatiese gebeurtenis” bedoel word.

9. Antidepressante het volgens paragraaf 5 voordele. Noem ’n voordeel.

10.Nadat jy die teks gelees het, wie dink jy sal in hierdie teks belangstel?

11.Ken jy iemand wat aan depressie ly? Verduidelik.

12.Dink jy mense wat aan depressie ly, moet gehelp word? Hoekom/Hoekom nie?

Lees In ’n neutedop om meer uit te vind oor die werkwoord, deelwoorde en voegwoorde. Raadpleeg ook die Taalgids.


Die werkwoord

Selfstandige (hoof-) werkwoorde dui handeling in ’n sin aan, byvoorbeeld: Die rugbyspeler skop die bal oor die pale./Die rugbyspeler het die bal oor die pale geskop.

 Dit kan oorganklik of onoorganklik in ’n sin gebruik word:Onoorganklik: Wanneer die werkwoord nie op ’n voorwerp oorgaan nie, byvoorbeeld: Ek eet elke oggend./Ek eet in die kombuis.Oorganklik: Wanneer die werkwoord deur ’n voorwerp gevolg word, byvoorbeeld: Ek eet my muesli./Ek eet braaivleis.

 Die deeltjiewerkwoord/skeibare werkwoord Dit is ’n werkwoord wat uit twee dele bestaan. Somtyds kan hierdie dele apart in ’n sin gebruik word, byvoorbeeld gelukwens: Ek moet die hoofseun gelukwens met sy verjaarsdag./Ek sal die hoofseun geluk moet wens met sy verjaarsdag.

Koppelwerkwoorde het nie selfstandige betekenis nie en het dus ’n ander sinsdeel nodig om dit te voltooi, byvoorbeeld: Hy is/was ’n rugbyspeler. Hy lyk/word baie sterk. Voorbeelde van koppelwerkwoorde: is, was, word, skyn, lyk, blyk, heet, klink.

Hulpwerkwoorde help die hoofwerkwoord om die volgende uit te druk:

 Tyd: Die verlede en toekomende tyd aan te toon, byvoorbeeld: Die meisie het hard gewerk (verlede tyd)./Die meisie sal hard werk (toekomende tyd).

 Vorm: Die lydende vorm aan te toon, byvoorbeeld: Die bal word geskop (deur die speler). Die woord “word” help die werkwoord skop en daarom is word die hulpwerkwoord.

 Wyse (modaliteit): Ek wil/wou, kan/kon, moet/moes, mag/mog, hoef te, behoort te . . .


Deelwoord

Deelwoorde word afgelei van werkwoorde en kan as verskillende woordsoorte in sinne gebruik word, byvoorbeeld:

Die babas huil (ww.) aanhoudend. > Die huilende (deelwoord as b.nw.) babas moet getroos word.

Die kinders skryf (ww.) in die saal. > Die skrywende kinders werk hard./Die geskrewe teks word in die museum bewaar.

 Teenwoordige deelwoorde: Deelwoorde met ’n -end of -ende as agtervoegsel is teenwoordige deelwoorde, want die handeling is nog nie afgehandel nie.

 Verlede (voltooide) deelwoordeSwak verlede deelwoorde: Wanneer die handeling voltooi is, kry die deelwoord ’n ge- as voorvoegsel en -te of -de as agtervoegsel. Voorbeelde: Hy het sy arm gebreek. > Hy het ’n gebreekte arm. Ek kerf die biltong. > Ons het gekerfde biltong. Sterk verlede deelwoorde: Soms vind daar by die verlede deelwoord klinker-wisseling plaas, byvoorbeeld: Die ervaring het hom gebreek. > Hy is ’n gebroke mens. “Gebroke” het hier ’n figuurlike betekenis.

Voegwoord

Voegwoorde verbind woorde, sinsdele/frases of sinne aan mekaar. Voegwoorde kan in drie groepe verdeel word en dít bepaal die woordorde (veral die posisie van ’n werkwoord) wat ná die voegwoord gebruik word. Om die regte leestekens (’n komma of ’n kommapunt) te gebruik, is net so belangrik.

Groep 1: Hy oefen gereeld, want hy wil goed presteer. Die woordorde na dié soort voeg-woorde verander nie. Onder hierdie groep ressorteer voegwoorde soos en, maar, want, of.

Groep 2: Hy oefen gereeld; daarom presteer hy goed. Die woordorde verander na dié soort voegwoord. Onder hierdie groep kry jy voegwoorde soos dus, intussen, nietemin, inteendeel, gevolglik, derhalwe, al, tog, nogtans.

Groep 3: Hy oefen gereeld aangesien hy goed wil presteer. By hierdie groep voegwoorde skuif die werkwoord na die einde van die sin. Onder hierdie groep ressorteer voegwoorde soos dat, totdat, voordat, nadat, sodat, omdat, deurdat, as, indien, sodra, terwyl, asof, aangesien.

Gebruik die teks “Daar is hulp vir depressie” en beantwoord die volgende taalvrae.

1. In die teks word ’n aantal afkortings gebruik. Skryf die onderstaande afkortings voluit in woorde:

a. Prof. Simpson is ’n kuberkopdokter.

b. Dr. Emslie is van Amerika.

2. Skryf die afkortings van die skuinsgedrukte woorde neer.

a. Die Universiteit van Texas gee waardevolle advies aan ouers.

b. Die program, onder leiding van professore Botha en Jafhta, is uniek.

c. Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad het hul dienste beskikbaar gestel.

d. Sestig gevallestudies per maand se data word gereeld ontleed.

3. Foutiewe spelling kan in die meeste gevalle daartoe lei dat die betekenis van ’n sin verander. Kies telkens die regte spelling van die woorde tussen hakies:

a. Twintig (persent/present) van die (lyers/leiers) van ’n siekte sal nooit (persente/presente) waardeer nie. Hulle sal egter goeie (lyers/leiers) word.

b. Die (doktor/dokter) in chemie sal sy kennis aan die mediese (doktor/dokter) oordra.

4. Skryf die volgende sin oor en skryf al die selfstandige naamwoorde in die meervoud.

’n Persoon wat ’n nabye familielid met dié probleem het, is soms meer vatbaar vir depressie.

5. Gee die regte vorm van die woorde tussen hakies. Skenk aandag aan spelling.

a. Dit is noodsaaklik dat die persoon saam met die dokter werk. Daar moet dus (saam werk) tussen hulle wees.

b. Die dokter se instruksies moet uitgevoer word. Daar moet dus (uitvoer) aan sy opdragte gegee word.

c. Medikasie moenie skielik gestaak word nie. ’n Skielike (staak) kan probleme veroorsaak.

d. (Behandeling van depressie) is beslis ingewikkeld.

e. Daar moenie (verwar) oor depressie bestaan nie.

f. ’n Persoon wat dwelms gebruik, is ’n (dwelm gebruik).

g. Die probleem moenie (aanhou) voorkom nie.

6. Gee die wisselvorme (ander woord) van die volgende meervoudsvorme.

a. (Professore) kan ook ’n ander meervoudsvorm hê.

b. Die (middels) kan help met die genesing.

7. Kies die gepaste voegwoord om die volgende sinne te voltooi. Skenk ook aandag aan leestekengebruik. Gebruik die woorde wat hieronder verskyn.

en • omdat • sodat • maar • want • aangesien • nietemin • gevolglik

a. Depressie moenie te lank aanhou nie . . . dit kan jou leefwyse beïnvloed.

b. Groepterapie werk gewoonlik beter . . . mense saamwerk.

c. Baie navorsing moet nog gedoen word . . . dit ’n ingewikkelde siekte is.

d. ’n Traumatiese ervaring lei tot depressie . . . kan die skok vir ’n mens te veel wees.

8. Gebruik die voegwoorde tussen hakies om die sinne te verbind. Let op die woordorde en leestekens in jou sinne.

a. Depressie kan genees. Die mens soek betyds hulp. (mits)

b. Depressie kan nie genees nie. Die mens soek betyds hulp. (tensy)

c. Terapie help in sommige gevalle dadelik. In ander gevalle neem dit langer. (terwyl)

d. Dit is ontstellende statistiek. Mense ly al van vroeg af aan depressie. (dat)

e. Die dokter se instruksies moet uitgevoer word. Die pasiënt kan beter word. (sodat)

9. Voltooi die volgende sinne en let op die woordorde ná die voegwoorde.

a. Die oorsake van depressie is nog nie heeltemal seker nie, aangesien . . .

b. Die medisyne verbeter die toestand van die pasiënt, omdat . . .

c. ’n Positiewe houding help om die probleem te verbeter, want . . .

d. ’n Positiewe houding help om die probleem te verbeter, terwyl . . .

10.Bepaal of die volgende hoofwerkwoorde oorganklik/onoorganklik is.

a. “Dit help die persoon om die waarheid in die oë te staar.”

b. “Kry hulp by mekaar.”

c. “Terapie werk in sommige gevalle beter.”

11.In die volgende twee sinne word die woord is gebruik. In die een sin is dit ’n hulpwerkwoord en in die ander ’n koppelwerkwoord. Identifiseer elkeen.

a.Die behandeling van depressie is ingewikkeld.

b.Baie tieners is vir depressie getoets.

12.Skryf die hulpwerkwoorde neer in die eerste en laaste sin van paragraaf 1, asook die eerste sin van paragraaf 5.

Verryking: Joernaalinskrywing

Gebruik die volgende vrae om jou joernaalinskrywing oor aktiwiteit 3 te voltooi.

 Hoe het jou maats op die teks “Daar is hulp vir depressie” gereageer? Beskryf kortliks wat hulle gesê het, gedink het of selfs hulle gesigsuitdrukkings.

 Hoe kan jy die inhoud van die teks “Daar is hulp vir depressie” in die toekoms gebruik?


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 navorsing doen

 aan ’n forumbespreking deelneem

 jou joernaalinskrywing doen.

In aktiwiteit 3 het julle met depressie kennis gemaak. Uit die tydskrifartikel is dit duidelik dat baie tieners daaraan ly. Julle gaan nou ’n paneelbespreking van 15-20 minute daaroor hou. Lees eers Pitkos om uit te vind wat ’n forumbespreking is.


Pitkos

Wat is ’n forumbespreking?

 Die forum bestaan uit een verteenwoordiger van elke groep.

 Die forumlede moet voor in die klas gaan sit.

 Elke verteenwoordiger kry geleentheid om sy groep se standpunt te stel. Elke spreker sal oor ʼn ander aspek van hulle onderwerp praat. Hulle kan standpunt teenoor mekaar inneem en van mekaar verskil.

 Die voorsitter sal die sprekers bekendstel. Die sprekers word gesien as kundiges op hul gebied.

 Die voorsitter moet die hele proses fasiliteer. Hy mag ook vrae aan die sprekers stel, maar hy moet ook aan die einde die gebeure/onderwerp mooi kan saamvat of kan opsom.

 Ná elke groepverteenwoordiger se spreekbeurt kan ander leerders hom/haar met vrae peper.

 As hy/sy nie die vrae kan beantwoord nie, mag van die ander groeplede help.

 Die onderwyser kan as voorsitter optree om toe te sien dat elkeen ʼn spreekbeurt kry en dat julle mekaar nie in die rede val of mekaar se feite herhaal nie.

 Die forumbespreking moet 15-20 minute duur.

Elke groep sal verdere navorsing oor die onderwerp moet doen om seker te maak van hulle feite. Elke groep moet dan een verteenwoordiger kies wat die groep op die forum moet verteenwoordig. Laat die volgende vrae julle lei:

 Wat is die verskil tussen neerslagtigheid en depressie?

 Hoeveel leerders lei aan depressie?

 Weet leerders se maats dat hulle aan depressie ly of steek hulle dit weg?

 Wat is die kenmerke van depressie – hoe kan jy agterkom as iemand aan depressie ly?

 Hoe voel iemand wat aan depressie ly?

 Weet leerders wat by hulle maats se huise aangaan?

 Waar kan ’n skoolkind hulp vir depressie kry?

 Wat moet jy doen as jy dink jou maat ly aan depressie?

Formele assessering

Jou onderwyser gaan jou deelname aan die forumbespreking met behulp van ’n rubriek assesseer.

Verryking: Joernaalinskrywing

Skryf jou joernaalinskrywing oor die aktiwiteit wat verby is. Gebruik die volgende vrae om jou leiding te gee:

 Dink jy al jou maats weet nou wat depressie is en dat dit vir tieners ’n probleem kan wees?

 Waarom, dink jy, verval tieners in depressie? Wat is die oorsaak daarvan?

 Dink jy daar is van jou maats wat dalk aan depressie ly, maar waarvan niemand weet nie?


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 koerantberigte soek

 ’n onvoorbereide toespraak hou

 die hoofkenmerke en struktuur van ’n koerantberig saam met jou groep ondersoek

 deur middel van prosseskryf ’n koertantberig skryf.

Bring ’n interessante koerantberig saam skool toe.

Gaan fynkam julle koerante by die huis. Vluglees eers die berigte en kyk of daar iets is wat jou interesseer. Lees die berig dan aandagtig deur en besluit of die berig ook vir die res van die klas interessant gaan wees en bring dit saam skool toe.

Onvoorbereide toespraak

Julle gaan nou onvoorbereide toesprake oor die koerantberigte lewer. Elke leerder moet sy/haar koerantberig opvou en vir die onderwyser gee. Dit word dan geskommel en elke leerder wat moet praat, moet ’n berig trek – dit vorm dan die basis van jou toespraak. Gaan soos volg te werk:

 Lees die berig deur en kies enigiets daarin wat jy kan gebruik om ’n toespraak te maak: dit kan iemand se woorde wees, of die opskrif, of die onderwerp van die berig, ens.

 Voordat jy jou toespraak begin, moet jy vir leerders vertel hoe jy aan die onderwerp gekom het.

 Jou toespraak moet 2-3 minute duur.

 Hou jou koerantberig, want jy gaan dit weer gebruik.

Lees Pitkos om meer inligting oor die onvoorbereide toespraak te kry.


Pitkos

Die onvoorbereide toespraak

’n Paar wenke:

 Lees jou onderwerp aandagtig deur om seker te maak jy verstaan dit. Besluit waaroor jy wil praat.

 Maak gebruik van ’n kopkaart wanneer jy jou beplanning doen.

 Kyk ook hoe die onderwerp figuurlik toegepas kan word. Skryf neer sodat jy nie vergeet nie.

 Wanneer jy ’n stelling maak, moet jy daarop uitbrei deur ’n voorbeeld te gee. Dit gee jou geleentheid om ’n klomp interessante dinge te sê.

 Maak gebruik van vrae wat jy sê-vra aan die gehoor – direkte vrae en ook retoriese vrae.

 Onthou om jou stemtoon en jou tempo te verander. As jy die hele tyd op een trant praat, raak die gehoor gou verveeld.

 Konsentreer hard om nie onseker te lyk nie. Kyk jou klasmaats in die oë.

 Praat hard en duidelik sodat almal jou kan hoor.

Formele assessering

Jou onderwyser gaan jou toespraak formeel assesseer.

Skryf ’n koerantberig.


Pitkos

Koerantberigte

’n Goeie koerantberig moet in die eerste vyf paragrawe vyf basiese elemente bevat. Dit help om die leser se belangstelling te behou.

Die vyf elemente waarop jy moet fokus:

 Nuus – Vertel die leser wat gebeur het.

 Konteks – Gee die agtergrond en groter prentjie vir die leser.

 Gevolge – Wie trek voordeel en wie ly onder die gebeure? Wat kan aan die situasie gedoen word?

 Menslike aspekte – Hoe raak dit ander mense wat buite die gebeure staan? Hoe raak dit die lesers?

 Basiese inligting moet in die eerste deel vervat word: Wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe?

’n Paar belangrike dinge om te onthou:

 Die titel (kop) van ’n berig is baie belangrik omdat dit bepaal of die leser die berig gaan lees of nie. Hou dit kort, pittig en sorg dat dit die kerngedagte bevat. Jy kan stylmiddele soos alliterasie en assonansie gebruik. Woordspeling word dikwels gebruik.

 Gee aandag aan die inleiding – dit moet kort en kragtig wees. Breek lang sinne op in korter sinne wat makliker lees. Leesbaarheid begin afneem wanneer sinne langer as 25 woorde is.

 ’n Berig wat sake teen mekaar opweeg, moet albei kante van die saak verduidelik.

 Goeie berigte sluit menings in van mense wat direk daardeur geraak word.

 Let veral op na die spelling van name, titels en ouderdomme van mense.

Groepwerk

Vergelyk die wenke wat in Pitkos gegee word met die voorafgaande koerantberig en kyk of dit aan al die vereistes voldoen. Elke groep moet die volgende opdrag uitvoer en aan die klas terugvoering gee.

Lees weer die berig en besin oor die volgende vrae

 Is daar genoeg nuus vir die leser?

 Word die agtergrondprentjie deeglik ingekleur?

 Kan die leser agterkom wie betrokke is, wat gebeur het, waar dit gebeur het, wanneer dit gebeur het, waarom die eksperiment gedoen is en presies hoe dit gedoen is?

Lees die kop van die berig

 Weerspieël dit die kern van die berig?

 Is dit kort en pittig?


Lees die inleiding

 Is dit kort en kragtig? Is dit interessant en trek dit dadelik die aandag van die leser?

Kyk na die lengte van die sinne

 Word die sinslengtes afgewissel?

 Wat is die langste sin en hoeveel woorde bevat die sin?

 Wat is die kortste sin en hoeveel woorde het hierdie sin?

Ondersoek die inhoud van die berig

 Is dit regverdig teenoor alle partye? Word albei kante geleentheid gegee om hulle saak te stel?

 Sluit die berigte menings van mense in?

Formele assessering

Jou groepdeelname gaan deur jou onderwyser gekontroleer word.

Skryf jou eie koerantberig.

Jy moet nou self ’n koerantberig skryf wat formeel geassesseer gaan word. Jou koerantberig moet aan die vereistes van Pitkos voldoen en ongeveer 140-160 woorde lank wees. Maak gebruik van die stappe van prosesskryf.

Jy moet jou verbeelding gebruik en ’n voorval “skep”. Maak gebruik van die volgende agtergrondinligting wanneer jou verbeelding die loop neem:

 Plek: Wildsplaas in die Oos- of Wes-Kaap (Kies enige distrik, plaasnaam, naaste dorp.)

 Daar moet berge/kranse op die plaas wees.

 Die bobbejane het snaaks begin optree.

 Daar was vir ’n geruime tyd allerhande eienaardige geluide en vreemde ligte in die omgewing.

 Die mense van die omgewing het skielik eienaardige holtes in die kranse gemerk wat voorheen nie daar was nie.

 Die plantegroei/struike/bome/gras het óf doodgegaan óf skielik monsteragtig groot geword.

 Vreemde figuurtjies is opgemerk.

Maat- en formele assessering

Gebruik die wenke in Pitkos en stel vir julle ’n kontrolelys saam waarvolgens julle mekaar se berigte in die groep gaan assesseer. Jou onderwyser gaan jou berig formeel assesseer.

Verryking: Joernaalinskrywing

Skryf nou jou laaste joernaalinskrywing. Dit was seker nie maklik om telkens na te dink oor ’n teks nie, nè? Elke teks laat ’n mens dink oor ’n ander tema van die lewe: kindwees, jou selfbeeld en die “siekte” van ons tyd, naamlik depressie. Tog is dit net jy wat die verskil kan maak.

 Hoe voel jy tans oor jouself, veral na die aanpassing aan die begin van graad 8?

 As jy terugdink aan graad 7, hoe het die hoërskool en die inligting in hierdie module jou moontlik verander/nie verander nie? Motiveer.

Jy het nou al vier joernaalinskrywings gedoen. Onthou dat jou inskrywings altesaam ongeveer 140 tot 160 woorde moet wees. Elke inskrywing se opskrif verwys na die aktiwiteit en datum wanneer jy dit gedoen het, byvoorbeeld:

Aktiwiteit 1: 13 Maart 2015.

Ruil nou jou inskrywings met dié van jou maat om dit te redigeer. Nadat jou maat jou eerste poging geredigeer het, skryf jy dit finaal oor.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n volksverhaal in die Piekfyn Afrikaans Leesboek beurtlees

 die verhaal opsom.

Beurtlees ’n verhaal.

Lees die verhaal eers aandagtig op jou eie deur. Vorm dan groepe van vier en laat elke groeplid ’n gedeelte uit die volksverhaal “Die koning se ring” deur Jay Heale in die Piekfyn Afrikaans Leesboek hardop voorlees. Beantwoord dan die vrae wat in die leesboek verskyn.

Postlees

Som die verhaal op.

Kyk of jy dit kan regkry om hierdie verhaal in 10 tot 15 sinne op te som. Skryf dit eers puntsgewys en daarna in paragraafvorm. Lees dit dan hardop en luister of die verhaal nog steeds sin maak. Gee dit vir jou maat om deur te gaan. Skryf dit dan finaal oor en lees die opsomming vir die groeplede voor. Hoe stem die opsommings ooreen?

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal

Подняться наверх