Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal - Henk Viljoen - Страница 6
ОглавлениеOns almal ken storievertellers: mense wat stories vir hoorders, lesers en kykers vertel. Dit is ’n kuns om woorde te rangskik sodat dit ’n storie vorm en jy leer om jou gedagtes en emosies in woorde en beelde uit te druk!
Kyk jy na sepies op die TV? Indien wel, moet jy weet wat die kenmerke van ’n sepie is sodat jy jou eie sepie kan skryf. Lees ’n Persiese kwatryn vir genot en waardering en maak seker jy ken die kenmerke van hierdie soort gedig. Jy skryf ook ’n beskrywende opstel na aanleiding van ’n kortverhaal in die Piekfyn Afrikaans Leesboek.
Taalstrukture en -konvensies word nie agterweë gelaat nie. Brei jou kennis uit van lettergrepe en klankgrepe, klankleer, klankverskynsels soos assimilasie, ontronding, oorronding en vokalisering, die afkapping van woorde en afkortings, verkortings en akronieme.
Haal uit jou penne, potlode en woordeboeke en wys die storievertellers ’n woord of twee . . .
In hierdie aktiwiteit gaan jy
aandagtig luister
die formaat, doel en teikengroep van ’n sepieteks ondersoek
klankleer, klankverskynsels en die afbreek van woorde ondersoek
leer wat afkortings, verkortings en akronieme is.
Kom ons luister saam!
Jou onderwyser gaan nou ’n feitelike teks aan jou voorlees. Gaan soos volg te werk:
Luister eers aandagtig na jou onderwyser se voorlesing. Op hierdie stadium moet jy slegs luister en geen aantekeninge maak nie.
Daarna gaan jy die vrae deurlees, waarna die onderwyser die teks vir ’n tweede keer voorlees. Tydens hierdie voorlesing kan jy aantekeninge in jou werkboek maak.
Nadat jou onderwyser die teks vir ’n tweede keer voorgelees het, kan jy die vrae beantwoord. Jy mag van jou notas gebruik maak wanneer jy jou antwoorde voltooi.
Vrae
1. Noem vier redes, volgens die luisterteks, waarom tekste geskryf word. (4)
2. Noem die naam van een gewilde sepie. (1)
3. Wat noem ons die persoon wat die teks van ’n sepie skryf? (1)
4. Hoe het die begrip “sepie” ontstaan? (1)
5. Watter temas kom gewoonlik in sepies voor? Noem drie. (3)
6. Skryf of die volgende stelling waar of onwaar is. Motiveer jou antwoord.’n Sepie het gewoonlik een hoofkarakter wat die held van die storie is. (1)
7. Hoekom, dink jy, kry alle sepies dit nie reg om die regte lewe te weerspieël nie? Watter tipe inhoud is nié ’n weerspieëling van die werklikheid nie? Noem twee. (2)
8. Kyk jy graag sepies? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
9. Dink jy sepies is ’n goeie ding of ’n vermorsing van tyd? Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
Totaal: 15 punte
Groepgesprek
Bespreek die volgende in groepe:
Na watter tipe sepies kyk jy gewoonlik? Waarom?
Watter tipe temas kry ’n mens gewoonlik in sepies?
Noem karakters uit jou gunstelingsepies wat tipiese karakters is wat ’n mens in elke dag se lewe ook kry.
Prelees die draaiboek saam met ’n maat.
Kyk na die uitleg van die teks: lettertipes en lettergroottes, gedeeltes wat donkerder as die res is, teks wat in die middel van die bladsy geskryf is.
Lees die eerste vier reëls, alle gedeeltes wat in hoofletters geskryf is.
Kyk na die laaste twee reëls – wat is die ooreenkoms met die begin van die teks?
Hoe verskil hierdie draaiboekteks van ’n gewone storie? Hoekom verskil dit so?
Vir wie is hierdie vreemde inligting bedoel?
Gee terugvoering aan die klas.
Lees ’n sepieteks.
Bestudeer die volgende voorbeeld van ’n sepieteks. Kom ons kyk wat die draaiboek-skrywer eers aan die regisseur wil oordra en dan aan die kyker.
Kweper 37
EPISODE 1032
Opnamedatum: Donderdag, 5 Augustus 2013
Uitsaaidatum: Dinsdag, 5 April 2014
Skrywer: (c) Henk Viljoen
BEGINTITELS
1032/1 10:00 • DAG: BUITE • TWEELING SE HUIS
Panoramaskoot van tweeling se huis van buite. Sny na volgende toneel.
SFX: VERAF GELAG VAN KINDERS, MOTORS WAT VERBYRY.
1032/2 10:05 • DAG: BINNE • TWEELING SE SLAAPKAMER
PAUL EN PETER SIT OP DIE BED. VROLIKE LUIM. PETER SIT BY DIE KOPPENENT.
A/S KLANK VAN MUSIEK OOR RADIO.
10. PAUL (VERVEELD)
Hier gebeur wraggies niks in die straat nie. En hier sit ons tussen vier mure.
11. PETER (INSTEMMEND. DRUK AAN DIE AFSTANDBEHEER.)
Behalwe dat ek jou altyd wen . . .
12. PAUL
Dis pure geluk, bru.
13. PETER
Wat van Paula wat tydens die dans weggeraak het? En Felicity se katjie?
14. PAUL
Dis ook maar al. Moet sê dit was cool om die koerante en die televisie hier te hê.
15. PETER (DINK ’N OOMBLIK. HOU OP SPEEL)
Wil jy nie weer op TV wees nie?
16. PAUL
Natuurlik. Maar hoe?
17. PETER
Jy weet mos wat sê Ma altyd.
18. PAUL/PETER (SPEEL-STAMP)
Eet jou spinasie en was agter jou ore . . .
19. PETER
Nee, man. Sy sê altyd twee koppe is beter as een. As ons hard genoeg probeer, sal ons iets uitdink.
STAAN OP. STAP NA BUITE.
TITELS, TEMAMUSIEK
1032/3 10:30 • DAG: BUITE • TUIN
Beantwoord die volgende vrae wat op die draaiboekteks gebaseer is.
1. Een episode kan uit verskillende tonele bestaan. ’n Toneel is ’n aksiegedeelte wat op een plek afspeel, byvoorbeeld: die Oppiekoffie-koffiewinkel in 7de Laan.
a. Uit hoeveel tonele bestaan die uittreksel?
b. Waar speel elke toneel af?
c. Watter tyd van die dag speel toneel 2 af?
2. Sepies se storielyne strek oor ’n aantal episodes en verhaallyne word na volgende episodes oorgedra.
a. Die hoeveelste episode is hierdie sepie?
b. Wat dink jy beteken “1032/2”?
3. Rekwisiete is al die bykomstighede wat ’n toneel of akteurs nodig het.
a. Hoe verskil dekor van rekwisiete?
b. Maak ’n lys van die dekor en rekwisiete wat vir die tweede toneel nodig gaan wees.
4. Verskeie mense help om ’n sepie te maak. Kies uit kolom B die posbenaming wat by die werksomskrywing in kolom A pas.
Kolom AWerksomskrywing | Kolom BPosbenaming |
a. Dit is die persoon wat oorspronklik met die idee of konsep vorendag gekom het. | Regisseur |
b. Dis die werk wat almal op stel graag sou wou hê! Die persoon het seggenskap oor elke aspek van die sepie, berei elke episode na goeddunke voor en leer die akteurs en tegnici na sy/haar hand. | Vloerbestuurder |
c. Dis die persoon in beheer van die kameras, ’n kuns op sy eie. Daar is gewoonlik helpers op stel, assistente wat onder andere help om kabels te verskuif terwyl tonele geskiet word. | Skepper |
d. Die persoon kommunikeer deurentyd met die beheerkamer. Dis die stem wat bevele soos “3 . . . 2 . . . 1 . . . Aksie!” en “Sny!” uitroep en verantwoordelik is vir dissipline op stel. Die persoon moet seker maak dat sowel die akteurs as tegnici presies weet wat elke oomblik op stel moet gebeur. | Kameraoperateur |
5. ’n Sepie word gewoonlik 3 tot 5 maande voor die werklike uitsaaidatum opgeneem.
a. Waarom dink jy is dit die geval?
b. Wanneer is hierdie sepie opgeneem?
c. Hoe lank na die opnamedatum is hierdie episode uitgesaai?
6. In toneel 1 en 2 kom die woorde “SFX” en “A/S” voor. “SFX” is vir Special effects en A/S vir Audio sound.
a. Gee Afrikaanse terme vir hierdie Engelse beskrywings.
b.Watter tipe special effects en audio sounds sal by hierdie tonele gebruik word?
Soos ’n skrywer woorde gebruik om sy storie te vertel, gebruik die regisseur die kamera in samewerking met sy kameraman om ’n idee of beeld oor te dra. As die regisseur en kameraman deur die lens kyk, manipuleer hulle die beeld op so ’n manier dat ons die toneel sien soos hulle graag wil hê ons moet dit sien.
Dit is belangrik om te weet hoe om woorde reg af te kap (in grepe te verdeel) sodat dit nog sinvol is.
In ’n neutedop bespreek klankleer, die afbreek van woorde en afkortings.
Klankleer
Die manier waarop ons woorde uitspreek, verskil van hoe ons hulle spel.
Klankgrepe is die manier hoe woorde volgens uitspraak/asemstote verdeel word, byvoorbeeld: verrassing – ve/ra/sing.
Lettergrepe is die manier hoe woorde volgens hul spelvorm/skryfwyse verdeel word, byvoorbeeld: ver/ras/sing.
Spraakklanke het te make met die klanke van woorde en nie die spelling nie.
Stemhebbende klanke spreek jy uit deur jou stem te gebruik, byvoorbeeld: b, m, o.
Stemlose klanke word uitgespreek sonder om jou stem te gebruik, byvoorbeeld: t, k, s.
Vokale is almal stemhebbend en laat die lugstroom deur sonder enige hindernisse, byvoorbeeld: a, e, i, o, u asook oe, ie en eu.
Diftonge is ook stemhebbend. Ons kry ’n diftong wanneer ’n vokaal, of kombinasie van vokale, oorgaan na die klank van ’n ander vokaal sonder dat die klank onderbreek word, byvoorbeeld: ei, y, aai, eeu, ooi, ai. Spreek die volgende woorde hardop uit en luister of jy die diftong kan hoor: paadjie (K D K V); otjie. Die aa word as ai uitgespreek en die o as oi.
Konsonante is stemhebbend (n, l) en stemloos (k, p). Wanneer ’n konsonant uitgespreek word, word die lugstroom versper of versteur, byvoorbeeld: b, d, t, l, n, r, f, g, s, v, w, z.
Klankverskynsels
Oorronding is wanneer klanke met oordrewe geronde lippe uitgespreek word, byvoorbeeld: bewe – beuwe; ma – mô; sweef – sweuf. In sommige gevalle kan die betekenis van die woord verander, byvoorbeeld: keer – keur; beer – beur.
Ontronding is wanneer geronde klanke met spleetvormige lippe uitgespreek word, byvoorbeeld: bus – bis. In sommige gevalle kan die woord se betekenis verander, byvoorbeeld: duur – dier; muur – mier; lus – lis.
Assimilasie is wanneer ’n klank die uitspraak van die vorige of daaropvolgende klank aanneem, byvoorbeeld: Hy sit voor die huis. Hy sit vorie huis./Ek is in die moeilikheid. Ek is innie moeilikheid./onbeheers, ombeheers/Stellenbosch, Stellembosch.
Nasalering en vokalisering
Wanneer ’n n-klank voorafgegaan word deur ’n vokaal en gevolg word deur ’n s of r, kry ons die volgende verskynsel in die uitspraak:
Die n word nie uitgespreek nie, maar die voorafgaande klinker word verleng en kry die eienskap van ’n nasaal.
Die klank wat so ontstaan, word gevorm terwyl die lugstroom deur die neus én die mond stroom.
Voorbeelde: dans, gons, mens, wens, aanrig.
Afbreek van woorde
In ’n geskrewe teks is daar soms te min plek in ’n reël oor om ’n volledige woord in te pas. Raadpleeg gerus die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.
Onthou dat eenlettergrepige woorde nie aan die einde van ’n reël afgekap word nie, soos skreeu; steeg; boom, ensovoorts. ’n Meerlettergrepige woord word afgebreek in die volgende gevalle:
Volgens betekenisvolle dele: her-enig; nooiens-van; reken-skap; eks-man; bio-kineties
Volgens lettergrepe: be-sproei-ing; ge-sel-se-ry; hui-ge-laar; tran-sak-sie
Tussen klinkers en tweeklanke: be-sproei-ing; bou-er
Tussen klinkers (vokale): ge-uiter; ski-uit-rusting
Tussen tweeklanke (diftonge): makou-eier; eeu-oue
Indien ’n kombinasie van twee verskillende konsonante waarvan die tweede ’n l of ’n r is, tussen die vokale voorkom, word daar voor die konsonante afgebreek: ba-klei; bi-blioteek; hi-draat; ka-trol.
Tussen identiese konsonantletters wat langs mekaar en tussen vokale staan: bak-ke; tak-ke; mon-nik; debat-teer.
Indien ’n s en ’n j langs mekaar staan en tot verskillende woorddele behoort en gewoonlik apart uitgespreek word, word daar tussen die s en j afgebreek: as-jas; dis-junk; plaas-japie.
Indien n en g langs mekaar staan, word daar altyd tussen hulle afgebreek: an-glisisme; en-gel; lan-ger; wan-gedrag; on-geluk.
Indien die stam van ’n woord op d of t eindig, en die verkleinwoord met -jie aangedui word, word daar altyd tussen die d of t en die -jie afgebreek: koord-jie; boud-jie; koerant-jie; lat-jie.
Ander woorde wat die verkleiningsvorm -tjie kry, word altyd voor die -tjie afgebreek: vou-tjie; koor-tjie; haan-tjie.
As ’n x tussen vokale staan, word daar ná die x afgebreek: Alex-is; Tex-as; pirox-een.
Afkortings, verkortings en akronieme
Eerste lettergreep + eerste letter van die daaropvolgende lettergreep, byvoorbeeld: Februarie – Febr.
Die eerste letter van die woord of die eerste en laaste letters, byvoorbeeld: sekonde – s.; krediet – kt.
Woordgroepe word afgekort deur die beginletters van die woorde te neem, byvoorbeeld: ten spyte van – t.s.v.; dit wil sê – d.w.s.
Akronieme is letterklankwoorde en bestaan uit die beginletters van twee of meer woorde of woorddele en word as ’n woord uitgespreek. Dit kan as hoofletters of kleinletters geskryf word, byvoorbeeld: PIN (persoonlike identiteitsnommer); PanSAT (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad); UNISA (Universiteit van Suid-Afrika); ABSA (Amalgameerde Banke van Suid-Afrika).
Onthou die volgende by afkortings:
Punte moet verkieslik by alle afkortings gebruik word.
Punte kan óf weggelaat óf gebruik word by titelafkortings soos: dr. J.J. van der Merwe of dr JJ van der Merwe. (Geen spasies word gebruik by die voorletters sonder punte nie.)
Die gebruik van punte by afkortings van grade soos BCom Regte is opsioneel.
Geen punte word by akronieme gebruik nie, byvoorbeeld: SATOER/Satoer (Suid-Afrikaanse Toeristekorporasie).
Geen punte word by die simbole van SI-eenhede gebruik nie, byvoorbeeld: cm – sentimeter; km – kilometer.
Punte kan óf gebruik word óf weggelaat word by afkortings wat net uit hoofletters bestaan, byvoorbeeld: SAVD (Suid-Afrikaanse Vervoerdienste).
Indien die afgekorte woord met ’n hoofletter begin, word die afkorting ook met ’n hoofletter geskryf, byvoorbeeld: Sy Edele – S.Ed.
7. Dui die klankbou van die skuinsgedrukte woorde aan, byvoorbeeld draai sal wees: KKD
a.Stories van Mandela-rylaan
b.Uitsaaidatum : Dinsdag 5 April 2011
c.En Felicity se katjie ?
8. Verdeel die skuinsgedrukte woorde in klankgrepe en lettergrepe.
a.Hier gebeur wraggies niks in die straat nie.
b.En hier sit ons tussen vier mure.
c.Peter (Instemmend. Druk aan die afstandbeheer.)
9. In spreekbeurt 1 kom ’n woord voor wat ontrond kan word en waarvan die betekenis dan verander.
a. Skryf hierdie woord en sy ontronde vorm neer.
b. Maak ’n sin om die verskil in betekenis tussen die oorspronklike woord en ontronde woord aan te dui.
10. In spreekbeurt 1 is woorde wat oorrond kan word.
a. Skryf een van hierdie woorde en die oorronde vorm neer.
b. Maak sinne om die verskil in betekenis tussen die oorspronklike woord en oorronde woord aan te dui.
11. Klankbeeld en skrifbeeld verskil dikwels en dan gebruik ons verskillende letters om dieselfde klank voor te stel. Lees die volgende sinne.
Paul en Peter sit op die bed. Vrolike luim.
a. Skryf twee woorde neer waar dieselfde klank deur verskillende letters voorgestel word. Onderstreep die letters wat dieselfde klank voorstel.
b. Skryf ’n woord neer waar dieselfde klank deur twee verskillende letters voorgestel word in een woord.
c. Dieselfde letter kan ook twee verskillende klanke voorstel. Skryf twee afsonderlike woorde neer waar dieselfde letter twee verskillende klanke voorstel.
12. Skryf ’n voorbeeld van nasalering en vokalisering uit spreekbeurt 4 neer.
13. Skryf ’n voorbeeld van assimilasie by twee opeenvolgende woorde uit spreekbeurt 5 neer. Onderstreep die klanke wat geassimileer word.
14. Assimilasie kan ook in een woord voorkom. Skryf twee voorbeelde uit toneel 1 neer en onderstreep die klank wat geassimileer word.
15. Sommige woorde is by die volgende sinne verkeerd afgebreek. Skryf die sinne oor en breek die woorde op die regte plek af.
Gebeure in sepies word gedur-ig herhaal: hofmakery, trou-es, egskeidings, die afsterw-e van ’n geliefde, skinder, ongelu-kke. Verskillende int-riges word tegel-yk aangebied. | Intriges raak geïnteg-reerd en lei tot ver-dere ontwikkeling in die ver-haallyn. Storielyne en karakt-ers roteer gereeld.Die karakters is gewoonlik stere-otipes. |
16. Skryf die volledige vorm van die afkorting in die volgende sinne uit. Skryf dan ook of dit ’n afkorting, verkorting of akroniem is.
a.Die SABC is in Jhb gesetel van waar die meeste programme uitgesaai word.
b.MNet se kantore in Randburg is in Oakstr. geleë.
c.ABSA is die grootste bankgroep in die land.
d.Die bewonderaarspos word gewoonlik na die Pk. om die hoek langs prof . Ngwenya se kantoorblok gestuur.
17. Voltooi die volgende sinne deur die regte versamelnaam in te vul.
a.’n Versameling gedigte, verhale of ander prosawerke in een boek is ’n . . . gedigte, verhale of ander prosawerke.
b.’n Versameling wasgoed is ’n . . . wasgoed.
c. Al die mense wat saam na byvoorbeeld ’n opvoering, ’n uitvoering, ’n voorlesing of ’n toespraak luister, is die . . .
d. Al die mense wat saam na ’n radio-uitsending luister, is die . . .
e. Al die mense wat saam na ’n televisie-uitsending kyk, is die . . .
f. Al die mense wat saam na iets kyk wat werklik voor hulle gebeur, byvoorbeeld ’n straatgeveg, is . . .
18. Sommige s.nwe. het twee meervoude wat verskillende betekenisse het. Kies die regte vorm van die woord tussen hakies.
a. Die warmbronne het drie (baddens/baaie) waarin jy kan ontspan.
b. Die sepiesterre hou jaarliks drie verskillende (bals/balle) om fondse in te samel.
c. Vanaand sak die (gaste/gasse) weer op die restourant toe.
19. Selfstandige naamwoorde word ook in vaste uitdrukkings gebruik. Vul die regte selfstandige naamwoord in die volgende vaste pare in.
a. Die antagonis in die verhaal saai net haat en . . .
b. Oom Oubaas het ’n sagte hart en sê ja en . . . vir almal.
c. Dit gaan soms moeilik op ’n stel en dan geskied alles met . . . en stote.
d. Sjoe, die nuutste sepie gaan net oor . . . en doodslag.
20. Skryf die teenoorgestelde geslag vir die skuinsgedrukte woorde neer.
Die a) draaiboekskrywer het die teks geskryf en dit is die b) regisseur wat besluit watter tipe kameraskote hy/sy wil gebruik om die teks aan jou as kyker oor te dra. Verskeie c) vrouens wil graag teenoor die d) held speel.
21. Skryf die meervoud vir die skuinsgedrukte woorde neer.
a.Kykers put heelwat genot uit die wel en wee van die karakters in sepies.
b.Kinders moet nie te veel speelding hê nie.
c.Kyk na al die kalf op die plaas.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
vir verryking jou eie draaiboekteks skryf en ’n plakkaat ontwerp.
Verryking: Skryf julle eie sepie.
Werk saam met ’n maat. Blaai terug na aktiwiteit 1 en bestudeer die draaiboekteks. Let op hoe dit geskryf en uiteengesit word. Gebruik die volgende tekeninge as basis vir julle draaiboek – dit gee idees hoe julle die tonele moet indeel, wat die ruimte gaan wees, wie die karakters is, asook watter rekwisiete en byklanke nodig is. Maak gebruik van die stappe van prosesskryf.
Julle kan ook julle eie storielyn kies. Julle draaiboek-teks moet ongeveer 2 bladsye lank wees.
Verryking: Rolspeel die draaiboekteks.
Julle gaan nou kans kry om julle draaiboek-teks te beproef – rolspeel dit vir die klas en hoor wat hulle daarvan dink.
Verryking: Ontwerp ’n plakkaat.
Jou draaiboek is aanvaar en word binnekort as ’n sepie verfilm. Ontwerp nou die plakkaat om die sepie te adverteer. Hou die wenke van Pitkos in gedagte as jy jou plakkaat beplan.
Pitkos
Die plakkaat
’n Plakkaat is niks anders as ’n advertensie om kykers te lok om na jou sepie te kyk nie.
Die plakkaat moet aandag trek.
Die plakkaat moet mense se belangstelling wek.
Die plakkaat moet die begeerte wek om na die sepie te wil kyk.
Jou plakkaat moet die volgende bevat:
’n Totaal van ongeveer 90-100 woorde
Die titel van jou sepie
Die tydgleuf, dag en kanaal
’n Slagspreuk om die kykers se aandag te trek
Die hoofkarakter(s)/akteur(s) wat kykers sal lok
Die milieu van die sepie
Foto’s van die karakter(s)
Self- en maatassessering
Maak gebruik van die stappe van prosesskryf en stel jou eie kontrolelys uit Pitkos saam om jou eie en jou maat se plakkate te kontroleer.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
na Persiese kwatryne luister
die vorm en inhoud van die kwatryne bestudeer
die selfstandige naamwoord korrek gebruik.
’n Digter is dikwels ook ’n storieverteller. Ina Rousseau het Persiese kwatryne geskryf waarin sy ook telkens ’n “storie” vertel.
In ’n neutedop en die Letterkundegids agter in die boek gee vir jou inligting oor letterkundige terme wat jy vir ’n gedig kan gebruik.
Die Persiese kwatryn
’n Kwatryn bestaan uit vier versreëls. Die Persiese kwatryn het die volgende kenmerke:
Die rymskema is aaba. Die eerste twee versreëls rym, waarna ’n verwagting geskep word dat die volgende twee versreëls ook gaan rym, maar die derde versreël (b) word dan opgevolg met die aanvanklike a-rym soos in die eerste twee versreëls gebruik is.
Die kwatryn word dus klankmatig (deur die rym) tot ’n eenheid afgerond.
Die Persiese kwatryn bestaan uit twee hoofstrome:Die eerste deel maak ’n stelling of waarneming, gevolg deur ’n wending.Die laaste deel bring ’n kontras en groei tot ’n bepaalde beeld oor die lewe en die dood.
Die versreël wat rymloos is (b-rym), beweeg deur enjambement oor in die laaste versreël.
Rym
Rym is wanneer woorde dieselfde klink en op dieselfde plek staan – albei woorde staan óf aan die einde van ’n versreël óf albei staan in die middel van ’n versreël. Die funksies van rym is die volgende:
Dit verhoog die musikaliteit van die gedig.
Dit beklemtoon woorde wat in die rymposisies staan.
Dit sluit versreëls af.
Dit bind die gedig en strofes tot ’n eenheid.
Dit help om spanning op te bou of te verlig.
Daar is verskillende rympatrone:
Paarrym: aabb. Die eerste en tweede versreël rym; die derde en vierde versreël, ensovoorts.
Omarmende rym: abba. Die eerste en die vierde versreël rym, en die tweede en derde versreël rym.
Kruisrym: abcd. Die eerste en derde versreël rym, en dan die tweede en vierde versreël.
Gebroke rym: abcd. Geen versreël rym nie.
Alliterasie en assonansie
Dit is voorbeelde van halfrym wat binne ’n gedig kan voorkom. Alliterasie is die herhaling van dieselfde letters of klanke waarmee ’n woord begin. Dit kom voor in alledaagse uitdrukkings: nóg kind nóg kraai. Digters gebruik dit om ’n patroon van herhaling te skep. Hulle gebruik dit ook om woorde in ’n gedig te beklemtoon of om ’n sekere klankpatroon te skep.
Assonansie is die herhaling van klinkers/vokale in meer as een woord om ’n klankpatroon te vorm. Digters gebruik ook assonansie as bindmiddel tussen belangrike woorde, byvoorbeeld die o-klank in versreël 4 van kwatryn 10.
Ritme
Ritme is die natuurlike beklemtoning van lettergrepe by die uitspraak van woorde. In gedigte word dit beïnvloed deur woord- en sinsaksent, tempo, intonasie, natuurlike ruspunte in die gedig, enjambement.
Stylfigure
Ironie is die teenoorgestelde van wat jy sê of bedoel.
’n Retoriese vraag is wanneer die antwoord op die vraag reeds in die vraag vervat is, of ’n antwoord op die vraag nie eintlik verwag word nie. Byvoorbeeld: Is die reën nie te wonderlik nie? (Die feit dat die reën wonderlik is, is alreeds in die vraag vervat.)
Enjambement is die verskynsel waar een versreël in die volgende oorloop sonder enige leestekens aan die einde van die eerste versreël.
Funksies van enjambement:
Dit verleen soepelheid en vloeiendheid aan ’n gedig.
Dit maak eindrym minder opsigtelik.
Versreëls word saamgebind en dra by tot eenheid in die gedig.
Dit beïnvloed die tempo van die gedig.
In hierdie vier kwatryne vergelyk die spreker die lewe met ’n toneel wat op ’n verhoog afspeel. Kyk of julle verstaan wat sy vir ons wil sê.
Jou onderwyser gaan die onderstaande kwatryne aan jou voorlees. Luister noukeurig daarna en beantwoord dan die daaropvolgende vrae.
Kwatryne
Ina Rousseau
10
1Agter die skerms, lank reeds gegrimeer
2aanskou ek die verhoog se glans en kleur
3en wag dat u my toelaat om oplaas
4my rol te gaan vertolk, O Regisseur.
11
1As daar applous was vir die laaste maal
2en U die décor moeg na onder haal,
3sal U vir ons wat ons kostuums uittrek
4volgens ons moeite en geduld betaal?
12
1In hierdie klug vergeet soms ’n akteur
2heel onverwags sy reëls en loer versteur
3na die coulisses* links en regs
4maar geen souffleur se stem dring tot hom deur.
13
1Ofskoon die saal se ligte nie meer brand
2vra menigeen aan die verhoog se kant
3nog steeds: Is ek van hierdie klug die held
4of teen die agterdoek ’n figurant?
Uit: Versamelde gedigte 1954-1984. Human & Rousseau. 1984)
*coulisses: Die gordyne of die kantpanele op die verhoog; toneelskerms.
Vrae
Kwatryn 10
1. Wat is die “skerms” op ’n verhoog waarna versreël 1 verwys?
2. Wie of wat is die spreker in hierdie gedig?
3. Skryf twee woorde neer wat vir die leser sê dat die spreker al lank wag.
4. Waarom word “Regisseur” met ’n hoofletter geskryf? Wie dink jy is die persoon wat aangespreek word?
5. Dink jy hierdie gedig het dalk ’n dieper betekenis? Verduidelik.
6. Hoe weet ons dat hierdie ’n Persiese kwatryn is?
Kwatryn 11
7. In versreël 2 en 3 word die voornaamwoord “U” met ’n hoofletter gespel. Watter verband is daar tussen hierdie voornaamwoord en die woord “Regisseur” in kwatryn 10?
8. Skryf ’n voorbeeld van assonansie uit versreël 1 neer.
9. Op watter manier word die retoriese vraag in hierdie kwatryn beklemtoon?
Kwatryn 12
10. Wie of wat is ’n “souffleur” waarna versreël 4 verwys?
11. Watter woord in die kwatryn verwys na die akteur se woorde? Kies een van die volgende: coulisses/sy reëls/stem.
12. Haal ’n woord aan wat daarop wys dat die “akteur” ontsteld kan wees.
13. ’n “Klug” is ’n grapperige of verspotte toneelstuk. Wat wil die digter vir die leser sê? Kies een van die volgende: toneelspeel is nie maklik nie/in die regte lewe is daar nie iemand wat vir jou voorsê wat om te doen nie/die souffleur se stem is te sag.
Kwatryn 13
14. Watter ander voegwoord beteken dieselfde as “ofskoon” en sal in versreël 1 pas?
15. Wat beteken dit as die saal se ligte nie meer brand nie?
16. ’n Figurant is iemand wat nie ’n belangrike rol in ’n stuk het nie. Oor watter twee dinge wonder die akteur in die laaste twee versreëls?
17. As jy na die dieper betekenis kyk, waarom is die gebruik van die woord “figurant” in die slotreël gepas?
Piekfyn-woordeboek | |
Idiomatiese uitdrukkings | |
Hy is hart en siel in sy werk – gee al sy aandag aan sy werk. | |
Meer bek as binnegoed – baie praat, maar het min begrip/verstand. | |
Met bed en beddegoed uit huis uitjaag – met alles uitjaag. | |
Idiomatiese vergelykings | |
lieg soos ’n tandetrekker | so helder soos kristal |
so gereeld soos klokslag | so leeg soos ’n eierdop |
Idiomatiese benaminge | |
buffel – ’n onbeskofte persoon | |
lamsak – iemand wat ’n papbroek is, ’n ruggraatlose mens | |
remskoen – iemand wat ’n saak vertraag | |
voorbok – iemand wat die aanvoorwerk doen by kwaaddoenery | |
Vaste verbindings (Slaan die betekenisse na in die woordeboek) | |
dan en wan | pimpel en pers |
die kroon span | plagiaat pleeg |
hand op die hart | skalkse glimlag |
klinkklare bewys | stank vir dank |
mag en geweld | wis en onwis |
paal en perk aan iets stel | |
Wisselvorme | |
aanbiedinge; aanbiedings | aartappel; ertappel |
bedankings; bedankinge | gare; garings |
gimnasiums; gimnasia | maats; maters |
Selfstandige naamwoorde met meer as twee meervoudsvorme (die betekenis verskil) | |
maat – mate (wat jy meet); maats (vriende) | |
kus – kusse (soene); kuste (by die see) | |
skof – skowwe (rugkant van osse); skofte (werktye) | |
Leer die volgende | |
Toneelspelers repeteer (oefen) ’n stuk wat hul instudeer. Hierdie repetisies is baie belangrik. | |
Die onbekende akteur debuteer vanaand in die Staatsteater saam met die bekende virtuoos. |
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n vriendskaplike brief skryf
die stappe van prosesskryf toepas.
Skryf ’n informele brief.
Julle skool het ’n toneelaand gehad, wat ’n groot sukses was. Jy was ook deel daarvan en het die aand pootuit by die huis gekom. Jy is so lus om dit met iemand te deel. Skryf ’n brief aan jou vriend/vriendin om hulle van die aand te vertel. Maak gebruik van die stappe van prosesskryf. Jou brief moet 140-160 woorde lank wees.
Gebruik hierdie formaat wanneer jy jou brief skryf:
Maatassessering
Gee jou brief vir jou maat om deur te gaan en al die foute vir jou reg te maak. Gebruik die volgende kontrolelys:
Die vriendskaplike brief het . . . | Ja | Nee |
Die vorm | ||
Die adres staan regs bo. | ||
Die straatnaam is reg gespel/“Posbus” is reg gespel. | ||
Die straatnommer staan na die straatnaam/ Die posbusnommer staan na die posbus. | ||
Die poskode is ingevul. | ||
Die datum staan direk onder die adres. | ||
Die aanhef staan links. | ||
Daar is ’n reël oop tussen die aanhef en die inleidingsparagraaf. | ||
Daar is ’n reël oop tussen elke opeenvolgende paragraaf. | ||
Na die woord “Liefde/Groete/Liefdegroete” is ’n punt. | ||
Daar is ’n reël oop voor die slotgedeelte. | ||
Daar is geen punt of komma in die slotgedeelte nie. | ||
Die inhoud en taalgebruik | ||
Interessante, lekker geselstrant. | ||
Inhoud konsentreer op die onderwerp en wyk nie af nie. | ||
Goeie sinsgebruik. Wissel lang en kort sinne af. Elke sin begin met ’n hoofletter en eindig met ’n punt. | ||
Paragrawe is nie te lank nie. Elke paragraaf gaan oor een onderwerp. | ||
Goeie woordeskat. Gebruik interessante lekkersê-woorde. Wissel woorde af en gebruik nie dieselfde woorde oor en oor nie. | ||
Taalgebruik is suiwer. |
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n visuele teks (spotprent) bestudeer en interpreteer
’n informatiewe teks bestudeer
geïntegreerde taalvrae beantwoord.
Leesbegrip: Visuele teks – spotprent
Bestudeer die volgende spotprent en beantwoord die vrae.
1. Karakters:
a. Beskryf die karakters wat in die spotprent voorkom. (3)
b. Is hulle karakters in eie reg of verteenwoordig hulle stereotipes of karikature? Gee ’n rede. (2)
c. Dink jy die ma is regtig blind? Motiveer jou antwoord. (1)
d. Watter karakter is vir jou die snaaksste? Hoekom? (2)
2. Agtergrond/omgewing:
a. Waar vind die gebeure plaas? (1)
b. Is die situasie op feite of fiksie gebaseer? Gee ’n rede vir jou antwoord. (2)
c. Ironie is wanneer dit wat gebeur die teenoorgestelde is van wat jy verwag. Kan jy ’n voorbeeld van ironie in die spotprent raaksien? Verduidelik hoekom dit ironies is. (2)
d. Dink jy hierdie is ’n tipiese toneel in een van Suid-Afrika se stede? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
3. Taalgebruik:
a.Aan wie is die kennisgewing op Beeld se plakkaat gerig? (1)
b. Hoe beïnvloed leestekengebruik en hooflettergebruik die atmosfeer of stemming van die spotprent? (2)
4. Handeling/aksie:
a. Hoe versterk die karakters se handgebare en gesigsuitdrukkings die spotprent se boodskap? (1)
b. Hoekom dink jy is daar ’n voertuig waaruit skote gevuur word in die agtergrond? Wie is hulle? (1)
c. Hou jy van hierdie spotprent? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
Totaal: 20 punte
Taalstrukture en -konvensies
Lees die volgende teks deur en beantwoord die vrae.
Jy, jou kind en sepies
1Sepies is nie net daar om televisiekykers te vermaak nie; daar is ook heelwat lewenslesse en jakkalsstreke. Ja, daar is meer in TV-sepies soos 7de Laan, Binnelanders en Villa Rosa as seepborrels.
2Kyk jou kind alleen sepies? Moet ouers en hul kinders saam na sepies kyk of nie?
3“Deesdae se sepies beeld sosiale kwessies soos dwelmverslawing en selfmoord uit, en dit is die ideale geleentheid waar jy as ouer dit met jou kind kan bespreek,” sê dr. Naledi Zulu, ’n kundige aan die Noordwes-Universiteit. Jy as ouer kan die gevolge uitwys van Paula (Diaan Lawrenson) se optrede as sy ’n witleuentjie vertel soos dat sy “navorsing gedoen het”, terwyl sy eintlik ’n manikuur by Laura Lee se spa gehad het.
4Die vervaardiger van 7de Laan, Danie Odendaal, verdedig Diaan se karakter. “Sy is ’n komiese karakter. Sy jok nie om iemand te na te kom nie. Boonop waarsku Aggie haar gereeld dat sy nooit in die hemel gaan kom nie.”
5’n Opvoedkundige sielkundige is van mening dat kinders jonger as 12 jaar nie na sepies moet kyk nie. Selfs 17-jariges sukkel met die identifisering van waardes. Hul waardes is nog onontwikkel en hulle is beïnvloedbaar. Gesinne moet hul liefde betoon deur daar te wees vir hul kinders.
6Ouers moet meer gehaltetyd saam met hul kinders bestee as om te probeer verduidelik wat is realiteit (die lewe) en wat is fiksie (sepies). Wat is die nut daarvan om vir ’n sesjarige te probeer verduidelik dat ’n volwassene op TV nie eintlik selfmoord gepleeg het nie?
1. In die titel kom twee selfstandige naamwoorde voor. Skryf hulle neer. (1)
2. Skryf ’n voorbeeld van ’n samestellende afleiding uit paragraaf 1 neer. Onderstreep die kern. (2)
3. In paragraaf 2 is ’n woord waarin assimilasie kan voorkom. Skryf die woord en sy geassimileerde vorm neer. (1)
4. Verdeel die volgende woorde in grepe soos jy dit sou uitspreek.
a. “jakkalsstreke” (par. 1)
b. “dwelmverslawing” (par. 3) (2)
5. Dui die klankbou van die volgende woorde aan. K=konsonant; V=vokaal; D=diftong
a. “ouer” (par. 3)
b. “leuentjie” (par. 3) (2)
6. Kies die regte woord:
As die woord “sewende” as seuwende uitgespreek word, is dit ’n voorbeeld van ontronding/oorronding/nasalering en vokalisering/assimilasie. (1)
7. Skryf die basisvorme van die volgende woorde neer.
a. “kundige” (par. 3)
b. “bespreek” (par. 3)
c. “beïnvloedbaar” (par. 5) (3)
8. Skryf “17-jariges” in woorde neer. (1)
9. Skryf die regte vorme van die skuinsgedrukte woorde.
Ouers se a) gemoed kan nogal die b) hoog inskiet as verskeie c) bioloog beweer sepies het ’n invloed op die d) lewenstadium van kinders. (4)
10. Skryf ’n voorbeeld van ’n abstrakte selfstandige naamwoord in paragraaf 5 neer. (1)
11. Voltooi die volgende deur die regte versamelnaam in te vul.
’n Versameling mense wat bloedverwante is (of deur ’n huwelik of huwelike heg aan mekaar verbind is), staan bekend as ’n a) . . . , maar ’n pa, ’n ma en hul kind of kinders vorm saam ’n b) . . . (2)
Totaal: 20 punte
In hierdie aktiwiteit gaan jy
preleesvrae beantwoord
’n verhaal uit die Piekfyn Afrikaans Leesboek lees
vrae beantwoord
’n beskrywende of verhalende opstel skryf.
Prelees saam met ’n maat.
Julle het die gedig “Sproeireën” van D.J. Opperman al gelees. Gesels oor die volgende:
Het julle al die skil van ’n nartjie/lemoen/suurlemoen/lemmetjie geruik? Ruik dit lekker of sleg vir julle?
Het jy al jou hande geruik nadat jy ’n nartjie geskil het?
Het julle geweet dat die skil van hierdie vrugte in kos gebruik word en jou pampoen en soetpatats baie lekker laat smaak?
Het jy al opgelet hoe die lug ruik na ’n lekker bui reën? Of hoe dit ruik as jou ma afval kook?
Begeleide lees
Luister terwyl julle onderwyser die verhaal “Geure” van Marelize Ras in die Piekfyn Afrikaans Leesboek voorlees. Beantwoord die vrae wat in jou leesboek verskyn.
Verryking: Skryf oor geure wat met jou praat.
Watter geur is vir jou lekker/sleg/roep herinneringe op? Lees weer die verhaal deur en let op hoe die skrywer die onderwerp benader. Skryf dan ’n beskrywende of ’n verhalende opstel oor geure wat ’n rol in jou lewe speel of gespeel het. Pitkos gee ’n paar wenke:
Pitkos
Wenke om ’n beskrywende opstel aan te bied
Maak jou beskrywing interessant en verwys na soveel as moontlik sintuie.
Skep ’n stemming deur middel van jou beskrywing.
Jy kan mildelik van beeldspraak gebruik maak.
Kontraste en woordordeverandering help om eentonigheid te vermy en jou beskrywing te laat leef.
Kyk met ’n ander oog na die gewone.
Gee aandag aan besonderhede.
Neem die volgende in ag:
Kry ’n treffende titel vir jou opstel.
Maak gebruik van die stappe van prosesskryf en beplan jou paragraafverdeling deur middel van ’n kopkaart.
Sorg dat jou paragrawe logies op mekaar volg.
Let daarop dat elke paragraaf se inleidende sin die kerngedagte bevat. Die ander sinne moet ondersteunende besonderhede verskaf.
Jou opstel moet 200 tot 250 woorde lank wees.
Maak gebruik van verbindingswoorde wanneer jy sinne en paragrawe by mekaar laat aansluit.
Wissel jou sinslengtes en ook jou sinsoorte af.