Читать книгу Vroue van die Bybel - Hester Careen Geldenhuys - Страница 5

Eva

Оглавление

Sy het haarself en haar ganse nageslag uit die tuin van Eden uit geredeneer.

Lees Eva se verhaal in Genesis 1–3.

Wat is nou lekkerder vir ons as vroue as ’n heerlike geselsie? Kry ’n groep vroue bymekaar om saam tee te drink en die geluide wat opklink, herinner ons aan die digter en skrywer Hester Heese se uitstekende beskrywing – “vinke by die water wat kwinkeleer en snater”. Ons het immers altyd iets om te vertel.

Klink dit bekend? Het jy jou al ooit probeer indink in die omstandighede van die eerste vrou van wie ons in Genesis lees, die vrou wat uit die rib van haar man geskep is? In die tuin van Eden was daar, buiten die baie mooi tuin vol eetbare vrugte, Man en Mannin en die Skepper. Dis al. Daar was geen boeke om te lees of uit te leer nie. Geen ander afleidings nie. Nie eens stokperdjies nie, want dit was nie nodig nie. Hulle het nooit kerk gehou of biduur toe gegaan of ’n kursus bygewoon nie. Daar was vir hierdie eerste vrou niemand anders om mee te gesels as haar maat en haar Maker nie. Die verhouding wat hierdie twee wesens met hul Skepper gehad het, was volmaak en beslis in alle opsigte voldoende.

Maar toe verskyn die ekstra “gespreksgenoot”. Die Woord verwys na hierdie gespreksgenoot as “listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het”. Wat tussen hulle gepraat is, was geen gewone gesprek nie. Dit was wel ’n besonder belangrike gesprek. Dit hét immers die ganse mensdom in sonde gedompel.

Dit is vir ons elkeen belangrik om te probeer begryp wat tydens hierdie ontmoeting gebeur het. Daar is ’n paar belangrike gedagtes om in ag te neem.

Ons almagtige God is die Skepper van alles wat bestaan. Hy doen alles wat Hy wil doen vanuit goeie beplanning; Hy het ’n plan vír alles en ’n plan mét alles. Daar is niks wat Hom kan ontglip nie. Hierdie Skepper het dit goedgedink om Man en Mannin aan te stel om te heers oor alles wat Hy geskep het. Man kon selfs name gee vir die diere wat God geskep het. Wat ’n voorreg, maar ook groot vertroue in hierdie wese wat na die beeld van God geskep is.

Daar was egter baie duidelike reëls oor wat Man en Mannin mag geëet het. Alles wat geleef het, mens en dier, sou van plante leef. Dink net daaraan, tot in daardie stadium is niks ooit doodgemaak nie. Geen dier het selfs ’n ander dier doodgemaak om dit te eet nie. Daar was geen bloedvergieting nie. Alles wat moes eet, het van die plante in die tuin geleef. Dít is dan ook ’n baie belangrike gedagte: Niks in daardie tuin het doodgegaan nie. Alles het bly leef. In daardie tuin was daar lewe, nie dood nie.

Vir Man en Mannin was daar baie duidelike instruksies oor watter bome se vrugte hulle mag geëet het, en watter nie. Daar was “die boom van lewe” in die middel van die tuin. Of hierdie boom letterlik in die middel van die tuin gestaan het en of dit profeties of simbolies die middelpunt van belangrikheid ten opsigte van “lewe” was, sal ons nie weet nie. Die belangrikste, ook vir ons, is egter om te weet dat lewe in ons Vader vir Hom die heel belangrikste is. Dit is ons Skepper en hemelse Vader se begeerte dat ons sal leef en dan lewe in Hom sal beleef.

Die ander boom word beskryf as “die boom van die kennis van goed en kwaad”. Kennis van reg en verkeerd. Hierdie boom was ook in die middel van die tuin. Twee bome sentraal in die tuin. Kyk hoe word die keuse reg van die begin af voor die mens neergesit. Die mens moet bedag wees daarop dat hierdie boom van reg en verkeerd teenwoordig is, anders kon hulle dalk ’n fout maak en van sy vrugte eet.

Die waarskuwing wat saamgegaan het met die verbod op die vrugte van hierdie tweede boom was baie ernstig: “… die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” En dit is presies wat met Man en Mannin gebeur het nadat hulle van hierdie boom se vrugte geëet het. Hul lewe in die tuin van Eden het tot ’n einde gekom. Hulle moes weg uit die tuin. Waarom?

Dit is ook vir ons vandag baie belangrik om na te dink oor hierdie “waarom”, want dit raak ons steeds elke dag. Dink gerus ’n bietjie hieroor na:

Ons Skepper-God heers oor alles wat Hy geskep het. Hy het gesag oor sy ganse skepping. “Ek is die HERE, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie … Ek is die Here, daar is geen ander nie” (Jes 45:5-6).

Slegs God kan oordeel oor alles waaroor Hy gesag het. “Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die HERE, en weer: Die HERE sal sy volk oordeel” (Heb 10:30).

Sonde vind in ons sielsdimensie plaas. Adam, of Man, is gewaarsku dat hy beslis sou sterf as hy van die boom van kennis van goed en kwaad sou eet. Hierdie dood dui nie op ’n liggaamlike dood nie, maar op ’n geestelike dood wat voortspruit uit die sonde van ongehoorsaamheid in sy sielsdimensie. Die dood wat intree, kom uit die siel en hierdie dood sny op geestelike vlak ons verhouding met die Vader af. Dit belemmer ons verhouding met God. Ons ken vandag nog hierdie geestelike dood wat intree. Kyk weer na die kosbare waarskuwing wat ons Vader deur die profeet Jesaja aan ons gerig het:

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sonde wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie (Jes 59:1-2).

Wanneer mense hul aandeel in hierdie verbreking van die verhouding erken en met berou bely, sal ons Vader van sy kant af die herstel bring wat ons nodig het. Net Hy kan hierdie herstel bewerk, en Hy doen dit op grond van ons gesindheid, ons erkenning en ons berou. Dit is dan ook wat Hy in 1 Johannes 1:9 vir ons belowe.

Wat het gemaak dat daardie vrug waarvan Adam en Eva nie mag geëet het nie so dodelik was? Die naam van die boom is gekoppel aan goed en kwaad, en hierdie goed en kwaad word beoordeel in ons vlees-mens, ons siel. Die gevaar is dat hierdie oorheersing vanuit ons sielsdimensie so ver kan gaan dat die mens uiteindelik beheer word deur vleeslike begeertes wat in ons binneste broei. Dit is wanneer ons nie “nee” vir ’n antwoord kan aanvaar nie, wanneer ons oë altyd nog iets sien wat ons net moet hê, en wanneer ons onafhanklik, trots, sélf wil regkom sonder erkenning aan of afhanklikheid van God.

Hou dit alles in gedagte terwyl jy daaraan dink dat Man en Mannin byna ’n “weet-weet”-verhouding met die Skepper gehad. Hy het vir seker geweet wat hulle geweet het, maar omdat hulle in die gees een met Hom was, was hulle in Hom “versadig” ten opsigte van wat Hy wou hê hulle van Hom moes weet. Hulle het niks kortgekom nie, nie in hul wese nie en veral nie in hul gees nie. Tevrede. In alle opsigte tevrede. Versorg. Gebaai in die oorweldigende, vredevolle teenwoordigheid van die almagtige Skepper van alle dinge. Dít is wat hul bestaan gekenmerk het.

Dit was nie soseer die mooiste plek waar hulle geleef het en die voldoende kos wat hulle gehad het om te eet wat aan hulle hierdie totale vervulling in die lewe gegee het nie; dit was veral die onafgebroke, direkte teenwoordigheid van die almagtige Skepper.

En al wat Hy van hulle gevra het, was dat hulle aan Hom gehoorsaam sou wees. Net gehoorsaamheid. Dis al.

En hulle was gehoorsaam … totdat die slang hierdie spesifieke gesprek met Mannin kom voer het … en sy voor sy oortuiging geswig het. Die slang het net twee sinne vir haar gesê. Eerstens het hy ’n vraag gevra: “Is dit so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome in die tuin nie?” Mannin antwoord toe dat hulle mag eet van alles behalwe daardie een spesifieke boom, want dan sou hulle sekerlik sterf.

Tweedens maak die slang ’n uitspraak: Hy sê hulle sal beslis nie sterf nie, maar dat God weet hul oë sal oopgaan en dan sal hulle, soos God, die verskil tussen goed en kwaad kan ken. Dan volg daar ses baie belangrike woorde: Mannin sien die vrugte is ’n lus vir die oë, iets om te begeer om verstand te verkry. Sy neem en eet en gee ook aan haar man by haar (Gen 3:1-6).

Let op die slang se strategie: Hy maak nie eerstens ’n stelling nie; hy vra ’n vraag. Daarmee bevraagteken hy reeds baie subtiel die opdrag wat God aan hulle gegee het. Met sy tweede spreekbeurt weerlê hy die opdrag wat van God af gekom het. Onmiddellik is die slang en Mannin nie meer in ’n gesprek gewikkel nie, maar hulle redeneer oor die groot vraag wat die uitkoms van die gesprek sal bepaal: Wie is reg en wie is verkeerd?

Mannin het tweede gekom.

Wat het Satan met hierdie redevoering reggekry? Sowel Mannin as Man het nie meer op geestelike vlak geleef nie, maar vanuit hul sielsdimensie. Sonde vind plaas in ons sielsdimensie. Dit is waar hulle gefaal het. En dit het alles begin by die vraag: Wie is reg en wie is verkeerd?

Kyk om jou rond. Hoeveel huwelike beland op die rotse omdat mense hierdie rusie deurvoer? Nie net huweliksverhoudings nie, maar ook baie ander verhoudings sneuwel. Dit word verbreek deur woordgevegte oor wie reg en wie verkeerd is. Mense hou op werk aan ’n belangrike opdrag en maak verkeerde keuses omdat hulle selfs in hulself nie vrede oor reg en verkeerd kan kry nie. Dit alles gebeur in ons sielsdimensie waar wellus uit die vlees, wêreldse begeertes, ambisie en ’n gebrek aan afhanlikheid van ons Skepper-God ons dryfveer word.

God se antwoord op hierdie dilemma kry ons in Deuteronomium 30:19. Ons word dringend opgeroep om lewe bo dood te kies – dit is, lewe in ons gees.

Alles gaan oor lewe en dood. Onthou, in die tuin van Eden was daar tot in hierdie stadium geen dood nie. Man en Mannin het nie liggaamlik gesterf ná hulle ongehoorsaamheid nie; hulle het egter doodgegaan vanuit die geestelike toestand waarin hulle geleef het. Hulle vlees het letterlik en figuurlik deel van hul daaglikse bestaan geword. Hulle en hul nageslag sou voortdurend voor die keuse van reg en verkeerd te staan kom. Elkeen wat kon leer om hierdie keuse te vermy en te draai na die keuse tussen lewe en dood, kon die vleeslike neerlaag wat deur “reg en verkeerd” veroorsaak word, vryspring.

Die slang het vir Mannin gesê hul oë sou oopgaan as hulle van die vrugte eet. Watter oë? Omdat hulle geestelike wesens was, weet ons hul geestelike oë was reeds oop. Dit was dus hul vermoë om die begeerlikhede van die siel raak te sien wat hier geaktiveer is. Hul oë het oopgegaan vir liefde vir die wêreld en die wêreldse dinge.

Die groot lesse wat ons uit Eva se val moet leer, is eerstens dat ons glad nie van enige argument oor reg en verkeerd deel moet raak nie. Solank ons die vraag oor reg of verkeerd vra, hou ons net die argument wakker. Die vraag wat ons moet vra, is nie of iets reg of verkeerd is nie, maar: Lei dit tot lewe, of lei dit tot dood?

Tweedens moet ons leer om alles wat ons aanmoedig om te argumenteer in ons gees-mens en veral vanuit die beginsels van die Woord te evalueer. Kry jou antwoord uit die Woord van God. God het ’n antwoord op alles. Volstaan dan met God se beginsels uit sy Woord.

Derdens is dit belangrik om na te dink oor hoekom ons so graag “reg” wil wees. Streel dit ons ego? Wil ons ’n punt stel, of aandag trek? Gaan dit alles oor die “eie ek”?

Ons word opgeroep tot ’n verhouding met ons Skepper-God. Hierdie verhouding is ’n geestelike verhouding. Wanneer ons aan Hom ongehoorsaam is, struikel ons in die vlees. Elke keer wanneer ons op Eva se paadjie loop, beleef ons in ons gees verwydering van ons almagtige Vader. Mag ons daarom oefen om nie uit ons vlees nie, maar uit ons geestelike verhouding met die almagtige Skepper-God te reageer, maar ook te leef.

Ten slotte is daar ’n stuk Goddelike genade wat ons nie mag miskyk nie. Dink daaroor dat Mannin wat die ganse mensdom met haar keuse in ’n toestand van geestelike dood laat beland het, Eva word – omdat sy moeder geword het van alles wat leef.

Die God in wie ons glo, antwoord graag met verrassende teenoorgesteldes.

Neem hierdie woorde uit 1 Johannes 2:15 ter harte:

Do not love or cherish the world or the things that are in the world. If anyone loves the world, love for the Father is not in him. For all that is in the world – the lust of the flesh [craving for sensual gratification] and the lust of the eyes [greedy longings of the mind] and the pride of life [assurance in one’s own resources or in the stability of earthly things] – these do not come from the Father but are from the world [itself].

Vader, in die Naam van Jesus vra ek, wees my asseblief genadig. Ek kies om so wakker te wees in my gees dat ek sal weet wanneer ek, ter wille van reg of verkeerd, wegglip uit my posisie van LEWE IN U. Vader, ek kies lewe, nie dood nie. Mag die Gees van Christus in my my leer. Amen.

Vroue van die Bybel

Подняться наверх