Читать книгу Vroue van die Bybel - Hester Careen Geldenhuys - Страница 9

Lea

Оглавление

Die vrou wat nie liefde geken het nie …

Lees Lea se verhaal in Genesis 29–35.

Walter Wangerin het ’n kosbare boek geskryf met die titel The Book of God. In hierdie boek gee hy ’n woordskets oor die eerste oggend ná Jakob en Lea se huweliksnag. Volgens hierdie skets was Lea bang dat Jakob haar sou slaan. Gelukkig het hy nie. Wat wel volgens Wangerin gebeur het, is seker die diepste vorm van verwerping waaraan ’n mens kan dink. Volgens sy beskrywing het Jakob na Lea gekyk en al, ja, ál, wat hy kon sien, was dat dit nie Ragel was wat by hom was nie. Hy het Lea nie eens raakgesien nie, net besef: “Dit is dan nie Ragel nie.”

Die betekenis van Lea se naam spreek boekdele. Dit beteken “vermoeid, moeg en afgerem”. Ragel beteken “lam”, soos ’n skaaplam. Dalk ’n dierbare en sagte lammetjie met pragtige lam-ogies? Albei het Jakob se vrou geword. Ragel is êrens langs die pad oorlede, en Lea is by Abraham en Sara, Isak en Rebekka en haar man, Jakob, begrawe.

Wanneer ons so met een blik na Lea se lewe kyk en jy vergelyk die eerste woorde met die laaste woorde wat oor haar as mens opgeteken staan, besef jy daar het ’n geweldige omwenteling in haar lewe gekom. Wat hierdie omwenteling veroorsaak het, is wat ons by Lea moet leer.

Oudste kinders word gewoonlik met strenger dissipline grootgemaak, terwyl die jongstes met baie meer kan wegkom. Dit op sigself kon al ’n verskil tussen hierdie twee susters gebring het. Of dalk het Ragel meer aandag gekry en daarmee saam meer vrymoedigheid ontwikkel. Die een was “the bell of the ball” en die ander een die muurblommetjie.

Hoe dit ook al sy, dit lyk of Lea in haar jongste suster se skaduwee geleef het. Ragel was ouliker en mooier en sy was Jakob se keuse as vrou. In die sewe jaar wat Jakob vir Ragel gewerk het, het almal dit geweet. Dis vir Ragel dat hy gewerk het. Onthou, hy kon geen bruidskat aanbied nie; dit is hoekom Jakob vir Ragel moes werk. Vir Jakob het die tyd soos ’n droom verbygegaan omdat hy so verlief was. Stel jou voor! Sewe jaar lank smoorverlief terwyl hy vir daardie een dag wag – die dag wanneer Ragel sy vrou sou word.

En toe die dag aanbreek? Die 1953-vertaling gebruik die woorde: “En die anderdagmôre – daar was dit Lea!” (Gen 29:25).

’n Week later trou Jakob toe ook met Ragel. Binne een week kry hy twee vroue. Dit is goed om uit die hemelse verslag bevestiging te kry dat Lea in ’n uiters moeilike situasie geplaas is. In Genesis 29:30 lees ons dat Jakob vir Ragel liewer gehad het as vir Lea, dat Lea die nie-geliefde was. Ons Skepper-God het haar egter raakgesien.

Die res van die verhaal ken ons sedert ons kinderjare. Uit Lea se skoot word daar vir Jakob vier seuns gebore. Daarna gee Ragel haar slavin aan hom om namens haar kinders te baar. Nog twee seuns word gebore. Lea volg Ragel se voorbeeld en weer word daar twee seuns deur Lea se slavin tot die huishouding toegevoeg.

Dan volg die interessante insident met die liefdesappeltjies wat Ruben uit die veld bring. Ragel verruil dit sowaar vir een nag waarin sy Jakob aan Lea sou afstaan. Weer word twee seuns uit Lea gebore … en toe ook Dina, Jakob se enigste dogter.

Uiteindelik was daar ook die twee seuns van Ragel. Goddelik, is dit nie, dat presies 12 seuns gebore word wat die 12 stamme sou word! En 12 is ook die getal van Jesus se dissipels, die 12 apostels. In die boek Openbaring is daar die verwysing na die 12 poorte, asook die 12 fondasiestene van die nuwe Jerusalem. Ook die feit dat 7 van Jakob se kinders uit Lea gebore is, is interessant; 7 is immers die volmaakte getal.

Maar kom ons fokus op Lea. Wanneer ons oor Lea nadink, voel dit waarlik of alles altyd teen haar was. Soos Lea, is daar sekerlik baie vroue vandag wat beleef dat hulle eenvoudig ’n agterstand het. In Lea se geval moes die waarskynlike voortdurende vergelyking tussen haar en Ragel ’n groot rol gespeel het, al het dit dalk net in Lea se gedagtes gebeur.

Ons sien dikwels dat daar binne een gesin een lid is wat gemakliker is met woorde en antwoorde en mense en uitdagings … en dan ’n ander wat kies om stil te bly of terug te staan. Dit is nie noodwendig dat die vrymoedige een ’n slegte geaardheid het nie, maar weens die vrymoedigheid kan ander gesinslede met fyn dolkstekies begin reageer. Die blote samestelling van individue binne ’n gesin kan lei tot plofbaarheid en/of verguising. In Lea se geval is dit laasgenoemde wat ons raaksien.

Ons Skepper-God open egter haar skoot en sy baar haar eersteling. Sy noem hom Ruben, wat “sien” beteken. In die eerste plek spreek sy met hierdie naam haar dankbaarheid uit teenoor haar Skepper wat haar raakgesien het. Dit is ’n baie belangrike verwysing wat ons in Genesis 29:32 lees. Sy verwys na die HERE. Sy het Hom geken en geweet haar kind het van Hom gekom. Met hierdie naam het sy egter ook die begeerte uitgespreek dat haar man haar sou raaksien – uiteindelik net sou raaksien!

Dan word haar tweede kind gebore. Hierdie seun noem sy Simeon, wat “om te hoor” beteken. Daarmee sê sy weereens dat die HERE gehoor het sy is nie die geliefde nie. Weer is daar die alternatiewe waarheid dat sy ook met hierdie naam eintlik uitroep: “Hoor my! Ek is ook hier!”

Terwyl sy haar derde kind verwag het, moes daar iets in hierdie vrou se diepste wese gebeur het. Sy noem hom Levi, wat “vasgebind” of “ingevleg” beteken. Vasgebind in die sin dat daar nie meer skeiding kan kom nie. Is dit moontlik dat Lea haar in hierdie stadium van haar lewe so aan haar Skepper vasgebind en in Hom ingevleg was dat sy haar vierde seun Juda kon noem? “Prys die HERE” – dit is wat Juda beteken.

Let op hoe die naamgewing van haar seuns wegbeweeg van die fokus op haarself na die fokus op lof aan ons Skepper. Haar gemoed beweeg weg van die begeerte om raakgesien en tog net gehoor te word na die vaste voorneme om haarself in te vleg en vas te bind aan die enigste Een wat vir haar vrede, blydskap en vervulling kan gee. Die Een wat die lewe vir haar draaglik kan maak. Hy hét haar immers raakgesien. Hy het haar verlange en begeertes geken en daarin het Hy vir haar antwoorde gegee.

Kyk net hoe Lea se ingesteldheid verander het! Die eerste seun wat haar slavin Silpa vir Jakob baar, het sy Gad genoem, wat min of meer “ ’n groep, byvoorbeeld soldate, wat ter wille van oorwinning saamstaan” beteken. Die tweede seun wat Silpa namens haar vir Jakob gebaar het, het sy Aser genoem. Hierdie naam beteken “gelukkig”. In die Hebreeus is daar nooit net een betekenis vir ’n naam nie. So beteken Aser ook “om eerlik, voorspoedig, reg, in balans te wees, gereed om vorentoe te gaan”.

Hierna het Lea ook geboorte gegee aan Issaskar en Sebulon. Issaskar beteken onder meer “hy sal die beloning bring”. Dink daaraan dat die simbool van die stam wat na hierdie man vernoem is ’n donkie was, en jy kan nie anders nie as om te dink aan die geweldige “Beloning” wat op ’n donkie in Jerusalem ingebring is – ons Messias met sy laaste binnekoms in die stad.

Haar laaste seun het Lea Sebulon genoem. Dit beteken “woon”, maar dit kan ook verstaan word as “by my woon”. Die grondwoord van hierdie naam sluit egter ook die betekenis van ’n geskenk in. In Genesis 30:20 spreek Lea ná die geboorte van Sebulon woorde uit wat uiteindelik profeties word. Sy sê: “Nou sal my man eindelik by my woon.” Sy spreek in hierdie verse ook haar blydskap uit.

Stel jou voor: Ten spyte daarvan dat haar omstandighede nie verander het nie, beweeg Lea van totale verwerping en vernedering na geluk en blydskap. Wanneer ons na Ragel se lewe kyk, besef ons haar venyn teenoor haar suster het toegeneem. Aanvanklik lyk dit of Jakob sommige nagte by Lea deurgebring het, maar later moes Lea haar suster omkoop vir so ’n voorreg.

Niks in Lea se omgewing het verander nie. Daarom moet ons uit die name wat sy vir haar kinders gegee het, aflei dat haar lewe nuut geword het omdat sy in haar binneste besluit het om haar Skepper, ons HERE God, haar toevlug te maak. Sy het haar met Hom vervleg. Sy het haar aan Hom vasgemaak. Sy het Hom leer aanbid en verheerlik – en natuurlik het God daarop gereageer. Selfs Lea se woorde, haar manier van praat, het verander.

Waar sy aanvanklik die hoop uitgespreek het om gesien en gehoor te word het sy uiteindelik geweet haar man sou by haar bly. En hy het. Hulle twee is saam by die aardsvaders begrawe. Dit alles het gebeur omdat Lea geleer het om haarself te “levi” – om haar in te vleg by en vas te bind aan die almagtige Skepper-God.

Haar uiteinde? Lea, die eensame vrou wat nie liefde geken het nie, word die moeder van ’n ganse volk.

Onthou weer vir Eva, die moeder van alles wat leef, en Sara, wat die moeder van alle gelowiges sou word. Sien ons hemelse Vader se genade raak en weet: Dit geld ook vir jou en vir my. Die diepte van Lea se les lê in die verhouding wat sy ontwikkel het met die enigste God wat leef. Nie in godsdienstige rituele nie, maar in ’n verhouding gegrond op vertroue omdat sy Hom persoonlik leer ken het. Wat ’n voorbeeld om na te volg!

Neem hierdie woorde uit 1 Petrus 5:6 ter harte:

Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Vader, ek weet U is altyd reg, want U maak nooit foute nie. Help my om my volkome aan U te gee ten spyte van my omstandighede. Ja, Vader, in die Naam van Jesus vra ek dat ek, soos Lea, sal leer om in so ’n diep intimiteit met U te staan dat my vreugde in U groter sal wees as die ongemak van my omstandighede. Amen.

Vroue van die Bybel

Подняться наверх