Читать книгу Vroue van die Bybel - Hester Careen Geldenhuys - Страница 8

Rebekka

Оглавление

Hierdie vrou was allesbehalwe ’n onbetroubare ma wat haar een kind bo die ander wou bevoordeel; Sy was ’n profetes wat aan God se woord gehoorsaam was. Wat sê God vir jou oor jou kinders en kleinkinders? Weet jy hoe om hulle binne en vir sy beloftes te beskerm?

Lees Rebekka se verhaal in Genesis 24–27.

Rebekka was ’n dapper meisie.

Stel jou ’n jong meisie voor, jonk genoeg dat sy nog ’n oppasser as metgesel gehad het. Sy klim saam met ’n vreemde man op een van sy tien kamele en skommel-skommel ry sy saam na ’n ver land. Toe sy daar aankom, ontmoet sy skaars haar bruidegom of ’n besonder eenvoudige huwelikseremonie vind plaas toe hy haar na sy ma se tent neem en haar sy vrou maak. Geen ouers van die bruid of bruidegom was daar teenwoordig nie; geen bruidsmeisies of selfs iemand wat hulle in die huwelik bevestig het nie; geen bruilofsfees waarvan ons lees nie … nie eens ’n skoonma vir wie sy kon raad vra of vir wie sy haar kon vererg nie.

Net Rebekka en haar oppasser. Hoe sou enige meisie dit kon regkry?

Daar is ’n paar merkers in hierdie gebeure ingebou wat vir ons lig werp en ’n antwoord gee op die vreemde verslaenheid wat hierdie meisie se huwelik by ons laat.

In die eerste plek was daar die plegtige belofte wat Abraham van sy kneg gevra het en wat hy moes verseël deur te sweer – ’n gewone belofte was nie voldoende nie. Abraham se versugting het twee kante gehad. Eerstens moes hierdie kneg belowe dat hy Isak nie sou terugneem na die land of stede waar Abraham vandaan gekom het nie. Tweedens was daar die absolute verbod om vir Isak ’n vrou uit die Kanaäniete te kies. In hierdie versoek hoor ons net een ding: Abraham se gehoorsaamheid aan die opdragte en versugtings van die almagtige Skepper-God. Dit is ter wille van die verhouding wat Abraham met die Skepper-God gehad het dat sy kneg selfs met sy hand onder Abraham se heup moes sweer. Dit was ’n ernstige saak hierdie.

’n Tweede kosbare merker is dat hierdie kneg in Haran, die regte land, die regte stad, aangekom het. Maar waar sou hy nou die regte meisie vind?

Daar is een waarheid wat ons almal moet ontdek. Wanneer jy by die punt kom waar jy ’n belangrike besluit moet neem, maar jy het geen idee waar om te begin of hoe om die besluit te benader of te hanteer nie, doen in die eerste plek wat jou hand vind om te doen. Dit is presies wat Abraham se kneg gedoen het. Sy kamele moes water kry ná die lang tog en hy het hulle na die openbare put geneem waar hy hulle laat kniel het sodat hulle kon drink.

Is dit nie die mooiste prentjie wat jy jou kan voorstel nie! Tien kamele op ’n ry op hul knieë. En wat maak hul begeleier? Hy bid! Hy het egter sy tyd goed gekies, want dit was net mooi die tyd dat die vroue uitgegaan het om water te gaan skep.

Volgens Genesis 24:12 het Abraham se kneg gebid: “HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.”

Wat ’n eenvoudige gebed, wat weer bevestig dat opregtheid nooit by ons Vader verbygaan nie. ’n Omhaal van woorde is nooit nodig nie. Praat sommer net met die HERE oor presies wat in jou hart is.

Hierdie kneg se gebed word dubbel en dwars beantwoord. Hy ontmoet die meisie, sy oorweeg sy aanbod en besluit om saam met hom te gaan.

Wanneer die familie haar roep voordat hulle haar vaarwel toeroep, spreek Laban ’n seën oor haar uit. En dit is hier dat die laaste en verstommendste merker voor ons opspring. Die seën wat Laban oor Rebekka uitspreek, is woordeliks dieselfde seën as wat die almagtige Skepper kort tevore oor Abraham uitgespreek het.

Hierdie seën bevat twee gedagtes: Dit bevestig dat Rebekka ingesluit is in die verbond wat met Abraham gesluit is, en dit bevestig ’n uitreik, ’n kontak – kan ons selfs sover gaan om te sê ’n verhouding? – tussen Rebekka en die HERE wanneer daar aan haar belowe word dat haar nageslag die poorte van sy vyand in besit sal neem. Gaan lees hierdie twee tekste in Genesis 22:17 en 24:60.

Dit is egter vir ons belangrik om ook na ’n ander interessante feit te kyk. Die HERE maak die keuse om vir elk van die drie groot volksvaders, Abraham, Isak en Jakob, vrouens te gee wat nie sommer maklik swanger raak nie. Sara moes wag totdat sy 90 jaar oud was. Toe kom Rebekka, en ook sy raak nie swanger nie. Volgens Genesis 25:21 het Isak gebid en gesmeek dat sy sou swanger raak. Later het ook Jakob en Ragel hul oomblikke beleef waarin haar onvermoë om swanger te raak erge spanning meegebring het.

Isak het gebid … en sy gebed is beantwoord toe Rebekka swanger geraak het. Sonder die moderne wetenskap was dit onmoontlik vir haar om te weet dat sy ’n tweeling verwag het. Maar tegnologie is nie nodig vir ’n swanger vrou om te weet dat daar wild en woes in haar skoot gestoei word nie. Sy voel dit. (Met ons laaste swangerskap het ek waarlik ’n tussenribspier-besering opgedoen as gevolg van my baba se geskop.)

Rebekka het geweet wat in haar skoot gebeur, het te doen met iets wat sy moet verstaan. Sy het na die enigste ware plek vir hulp en raad gegaan: Sy het haar Skepper gevra wat aangaan. Gaan lees hierdie mooi verhaal in Genesis 25:22-23. Dit is sterk woorde wat Rebekka oor die gestoei in haar skoot uitspreek: “As dit so gaan, waarvoor leef ek dan?”

Die antwoord wat sy gekry het, was nie slegs ’n antwoord op haar situasie nie; dit was ook ’n profesie oor die uitkoms van hierdie twee kinders se lewe en veral oor die plan wat die Almagtige met hul lewe gehad het. Is dit moontlik dat dit ook vir Rebekka ’n toets van gehoorsaamheid was?

In die antwoord was daar ’n duidelike opdrag waarvan net Rebekka geweet het. Sy het dit beslis nie met Isak bespreek nie, anders sou latere gebeure in hul lewe heeltemal anders uitgespeel het. Ook dit, moet ons aanvaar, was deel van God se plan. Soos sake verloop het, het Jakob immers self in Haran beland om vir hom ’n vrou, of vrouens, te gaan kry wat nie Kanaänitiese meisies was nie.

Dink mooi oor die antwoord wat sy gekry het. Twee nasies was in haar skoot. Uit hierdie twee babas sou twee volke ontstaan en die een sou sterker as die ander wees. Ons besef dit verwys na twee leiers van gehalte wat gebore sou word. En dan die baie belangrike opmerking wat die opdrag ingehou het – die oudste sal die jongste dien.

My lewe lank hoor ek al mense na Rebekka verwys as ’n vrou wat vir haar man gelieg het, wat hom gekul het en wat met haar lieflingkind saamgespan het om sy pa en broer te verneuk. Haakskeengryper, bedrieër. Dit is waarvoor hulle uitgeskel word. Toe ek op ’n dag die spreekwoordelike draaiboek oor hierdie gebeure skryf, was ek verstom om te besef watter onreg die mensdom aan Rebekka se nagedagtenis doen. Sy was ’n profetes. Sy het ’n intieme verhouding met haar God gehad, en sy het haar en haar kind se lewe op die spel geplaas in haar begeerte om aan God gehoorsaam te wees. Sy is waarlik ’n vrou om na op te sien.

Daar is geskiedskrywers wat beweer die lensiesop wat Jakob voorberei en wat die prys vir sy eersgeboortereg geword het, ook ’n kinkel gehad het wat ons kan laat wonder. Daar word vertel dat die lensiesop-episode plaasgevind het in die tyd direk na Abraham dood was en dat Esau as eersgeborene glad nie daarin belanggestel het om eer aan sy oupa te bewys nie. Ná die ruiltransaksie – die sop vir die eersgeboortereg – het Jakob glo gretig wel die nodige eer aan sy oupa volgens hul tradisie uitgeleef.

Verder word daar in die Woord beskryf dat Esau reeds getroud was met twee Hetitiese vroue. Esau was baie lief vir die veld, en dit lyk of sy gesindheid baie oorgehel het na dié van ’n wilde esel. Oor Jakob word daar geskryf dat hy ’n vredeliewende man was.

Ons ken die verhaal van hierdie twee seuns en die seën wat die eersgeborene toegekom het wat uiteindelik oor Jakob uitgespreek is. Ons weet ook dat Esau so kwaad was dat hy vir Jakob wou doodmaak. Op hierdie punt het Rebekka wel na Isak toe gegaan en hy kon sy seun wegstuur Haran toe, wéér met die opdrag om met ’n vrou uit daardie familie te trou. Let op hoe die bloedlyn in hierdie proses bewaar is.

Wat kan ons by Rebekka leer?

Het jy kinders? Gesels jy met jou Vader-God oor jou kinders? En wat sê jy dan oor hierdie kinders? Dink net wat Rebekka alles oor haar kinders gehoor het: oor hul toekoms, oor hul rol as mans en – veral belangrik, spesifiek in die kultuur waarin hulle geleef het – oor wie die seën van die stamvader moes ontvang.

Besef jy dat ons voor die geboorte van ’n baba reeds vir ons Vader kan vra om met ons te gesels oor die kindjie se skeppingsdoel? Ons kan Skrif vra. Ons kan vra wat die kind se sterk punte sal wees, veral ten opsigte van die uitbouing van die koninkryk. Die oomblik dat ons hierdie dinge weet, sal ons ook besef “wie” jy in die gees ontvang om groot te maak en vir ’n Goddelike doel voor te berei.

In ons gesin het ons besluit om weg te breek van die gebruiklike ooievaarstee. Ons hou ’n verwelkomingstee. Ja, daar is geskenkies, maar daar is veral Woord, Skrif, profetiese woord … Dít is wat ons begelei in die proses om hierdie nuwe baba nie net aan die lewe voor te stel nie, maar veral vir sy of haar Goddelike rol in hierdie lewe.

Ons Vader het dit vir Rebekka gedoen. Hy wil dit vir jou ook doen. Dit is nooit te laat om oor hierdie dinge vir jou kinders te bid nie. Kom met ’n verwagting voor ons Vader en praat met Hom oor jou kinders. Hy sál saampraat. En onthou: Hou dit eenvoudig en opreg.

Neem hierdie woorde uit Jesaja 54:13-14a ter harte:

En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. Deur geregtigheid sal jy bevestig word.

Hemelse Vader, ek loof U vir ’n nageslag. Wat ’n voorreg om – soos ’n hen oor haar kuikens – te kan waak oor hulle wat U in u groot genade aan my toevertrou het. Vader, dit is my begeerte om voortdurend met U in gesprek te wees oor my kinders en my kleinkinders. Ek bid in die Naam van Jesus dat U my in hierdie gesprek sal lei. Leer my, verduidelik vir my wie hulle elkeen is, wat u doel en plan met hul lewe is. Help my, asseblief, Vader, om op U te wag en om instruksies oor hul menswees in gehoorsaamheid te volg. Vader, seën ons verhouding en seën elkeen by die naam. Ek loof U! Amen.

Vroue van die Bybel

Подняться наверх