Читать книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) - Страница 4

Hoofstuk 1

Оглавление

In Maart aan die einde van die somer begin ek werk as Theo Verwey se assistent. In Oktober in die lente word hy dood aangetref in sy kantoor. Ek is die een wat om halfsewe die aand op hom afkom. Ek maak die deur agter my toe en beweeg versigtig vorentoe, maar daar is ’n drumpel wat ek nie kan oorsteek nie.

Almal is ontsteld oor sy dood; Matroos die opsigtelikste van almal. Dae lank is sy oë rooi gehuil en hy sê vir my: Hy was soos ’n vader vir my.

Matroos sit by my in die kantoor. Sy een lang been hang oor die armleuning van die stoel. Onder sy arms is groot sweetvlekke. Sy hare is deurmekaar. Sy gesig is rooi van die emosie. Selfs in hierdie ontredderde toestand sien hy daar besonder goed uit. Freddie staan in die deur. Agter hom staan die skropvrou. (Sy lyk na ’n verloopte skropvrou, maar sy is eintlik ’n kenner van fossiele, meer spesifiek fossiele uit die Kambriese Tydperk.)

Matroos sê: “Dis daai Indiese hond.”

“Watter Indiese hond?” vra ek.

“Die margarienmagnaat,” sê Freddie in die deur.

“Dis sy pa,” sê Matroos.

“Wie se pa?” vra ek.

“Die hond se pa,” sê Matroos.

“Die margarienmagnaat?”

“Ja, hy het sy geld met margarien en kookolie gemaak,” sê Freddie in die deur.

“Wie is nou die Indiese hond?” vra ek.

“Dis die hond se konterige seun,” sê Matroos.

“Matroos dink hy het Verwey afgepers,” sê Freddie, en trap sy sigaret onder sy hak dood.

“Geblackmail,” kerm Matroos.

“Sleg,” sê die skropvrou.

“Hy is stinkryk,” sê Freddie.

“Hulle het ’n TV-screen so groot soos ’n muur in hulle huis,” sê Matroos, “met sitplekke soos ’n bioskoop.”

“Hoe weet hy dit?” vra ek vir Freddie, want Matroos word deur ’n nuwe vlaag trane oorval.

“Hoe weet jy dit?” vra Freddie vir Matroos.

“Ek was dáár,” kerm Matroos.

“Gatver,” sê die skropvrou, en sy steek ook ’n sigaret aan.

“Het die pa of die seun hom afgepers?” vra ek.

“Die pa,” sê Freddie kopskuddend.

“Nee, die kont self,” sê Matroos.

“Is die kont die seun?” vra ek.

“Ja, die moerskont,” sê Matroos, “met sy lekker Indiese hol!”

Ek en Theo Verwey het na musiek geluister terwyl ons werk. Mahler, Schubert, Cimarosa, Gluck, Strauss, Schütz, Mozart. Ek het Theo Verwey gehelp met sy projek. Hy het alle woorde byeengebring wat in Afrikaans in onbruik verval het of selde meer gebruik word.

’n Paar dae ná sy dood kom mevrou Verwey haar ont­slape eggenoot se besittings uit sy kantoor verwyder. Ek help haar om die boeke in bokse te verpak.

Sien jy kans om hierdie taak namens hom te voltooi? vra sy my. Die projek was sy lewenslange droom, sê sy, en Theo het die grootste respek gehad vir jou kundigheid. Met my rug na haar toe, terwyl ek met ’n stapeltjie boeke in my hand buig oor ’n boks, sê ek vir haar: “Ek sal daaroor moet dink; ek weet nie hoe lank ek nog van plan is om hier te bly nie.”

Die boek van toeval en toeverlaat

Подняться наверх