Читать книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Ons gaan voort met die letter D. Dit is die begin van Junie. Die obsessiewe, bykans perverse somerse getier raak minder. Soos iemand wat aan die einde van ’n maniese episode kom. ’n Paradyslike vredigheid sak toe. Dit raak koeler, hier en daar val selfs ’n blaar. Die poinsettias begin blom. Sedert die middel van Mei is daar reeds ’n versadiging in die lug, soggens vroeg en saans word die kleure dieper en ryker. Die aarde word geuriger. Heelwat ander plante blom ook in die herfstuin van my huisbaas. Dit is anders as die herfs en naderende winter soos ek dit ken. Die somer se bedreigende weligheid word afgelê soos ’n psigiese aantasting; daar is ’n nuwe voorneme van gevoeglikheid in die lug. Daar is die belofte van inkeer en rypheid. Selfs in hierdie provinsie, waar mens dit nie verwag nie.

Theo Verwey sit vanoggend agteroor in sy stoel gebalan­seer. Moenie, wil ek sê, jy sal agteroor val. Ek het hom nog nooit vantevore so sien sit nie. Hy is diep in gedagte. Sy handpalms is dig teenmekaar en sy wysvingers rus teen sy mond. Hou hy vanoggend ’n wag voor sy mond? Wil iets uitglip? Hy is nie dié soort man nie. Ek lees hom nie so nie. Al gee ek toe dat ek hom nie goed lees nie.

Ek sit met die dik pak kaarte in my hand, die woordeboeke oop voor my. Die boonste kaart in die pak is da. Die laaste kaart is dyvelaar. Tussenin is al die kaarte met doods­verbindings.

“Da,” sê ek, “vanwaar kom dit?”

“Da, of dè, is waarskynlik ’n verkorting van daar en is die eerste keer in Afrikaans deur Pannevis opgeteken as deh en in die Patriotwoordeboek as dé.”

“Dyvelaar,” sê ek (tergerig), “soos in twyfelaar?”

“Dy-vel-aar, of te wel, dyhuidaar.”

“Waar sou hierdie dyhuidaar loop?” vra ek. “Die dyvel­aar.”

“Dis ’n aar aan die onderbeen, die vena saphena,” sê hy, “nie te verwar met die dybeenslagaar nie, of die dyslagaar, die arteria femoralis nie.”

“Wat sou die dermbeen wees? En die dermbeendoring,” vra ek.

“Die dermbeen is die boonste, plat gedeelte van die heup­been, die ilium, en die dermbeendoring is enigeen van die puntige uitsteeksels aan die dermbeen.”

“Dermbeendoring,” sê ek. Ek herhaal dit ’n paar keer om die ongewone opeenvolging van klanke in my mond te voel.

Ons luister nog steeds na madrigale van Monteverdi, uitgevoer op historiese instrumente: Madrigali guerrieri et amorosi uitgevoer deur die Taverner Consort Players, ge­diri­geer deur Andrew Parrott. Dit is nie my gunsteling Monte­verdi-musiek nie, maar ek maak nie beswaar nie. Die volgende snit is wel wonderskoon, en ons luister in stilte daarna. “Su pastorelli vezzosi. Su, su, su, fonticelli loquaci.” (Ont­waak, babbelende fonteine.)

Theo leun agteroor in sy stoel, sy hande agter sy kop, en dit moet die uitwerking van die musiek wees, want ek raak onverwags oorval – oorspoel, oorrompel – van ’n seksuele ontvanklikheid teenoor hom soos ek nog nie vantevore ervaar het nie. Die sensasie is so intens dat ek effens naar voel en moet vooroorbuig. Die hemel behoed my, dink ek, ek sou my hande onder sy hemp kon ingly, oor die borskas, en in die okselholtes laat nestel.

Dit neem ’n tydjie voor ek my konsentrasie herwin. Ek blaai verder deur die oop woordeboek op my skoot. Ek lees die omskrywings van dood en lewe. Vanoggend het ek op­gestaan met ’n verhoogde gevoel van sterflikheid. Die sagte okselholtes, die kragtige manlike maag, die teer lies en wreef van die voet. Hoe sou dit wees, die seksuele liefde met hierdie man? Ek het Theo Verwey ’n dag of twee gelede vertel van die hartstogtelike ontmoeting tussen die man en sy vrou aan die einde van die boek. Ek het genoem dat hulle op staande voet verkeer. Ek het vertel dat sy haar bene om sy lyf geslaan het, maar wel nagelaat om te sê hoe driftig sy hom gesoen het. In die vroegoggend het ek gedroom van ’n verleier. Iemand wat uitsluitlik en obsessief op my gerig was. Ek het geaarsel omdat daar iets bedreigends in die man se attensies was. In die sagte, saamgeperste ruimte van die droom het hy hom met aanmatigende vrypostigheid aan my opgedring en hy was van ’n gloed omgewe. Ek het opge­staan en te gou het die inhoud en stemming van die droom my ontglip.

Vanoggend is ek geneig om te dink dit is die dood wat gisteraand so met my geflankeer en geflikflooi het. Waarom nie? Sou ek die dood nie op dié manier in my onbewuste kon inklee nie?

Hoe dood en lewe in die woordeboeke omskryf word, sê my min. As kind het ek dikwels lank sit en kyk na dooie insekte. Of ek sou ’n mier doodmaak om te sien wat dit is wat ek beëindig het. Ek sien nou dat ek die geheim van lewe met my kinderverstand probeer deurvors het.

“Het jy ’n duidelike idee van wat lewe is, van hoe dit ontstaan het?” vra ek vir Theo.

“Dit moet jy vir Hugo Hattingh vra,” sê Theo.

“Sal hy weet?”

“Hy sal weet, neem ek aan. Hy behoort te weet hoe die eerste lewe ontstaan het.”

“Hoe ’n soort man is hy?” vra ek.

Theo Verwey maak ’n vreemde kop-en-skouer-gebaar. Ontkennend, afwysend, geringskattend? Ek kan nie sê nie.

“Ek ken hom nie,” sê Theo. “Het jy al die kaarte alfabeties begin rangskik?” vra hy.

Nee, ek het nie. Ek kyk deur die stapeltjie kaarte in my hand. Doodaf, doodbabbel, doodjakker, doodlukas.

“Doodlukas?”

“Gewestelik. Doodonskuldig.”

“Mooi,” sê ek.

Doodluters as variasie van doodluiters, lees ek, doodmoor, doodsjordaan, doodsmare, doodswind, doodswym, dood­boek, doodbaar, doodbus, dooddag, doodeens, doodellendig, doodflikker, doodgaan-en-weer-opstaan, dood­gaan­skaap, dood­gaanvleis, doodgeboorte, doodgegooi, dood­geld, doodgetroos (gelate), doodgewaan, doodgooier, dood­grawer, doodhouergoggatjie, doodhoumetode.”

“Dit hou nooit op nie,” sê ek, “die doodsverbindings.”

“Daar’s mooi dinge daar,” sê Theo, “doodhoumetode – waarby die voorkoms van die dood nageboots word, jy weet, deur ’n slang, of ’n goggatjie; doodgegooi – baie verlief; doodkiskop – die kopvorm wat kenmerkend is van die Afrikanerbees; doodskloppertjie; doodtrapper; doodvalsiekte vir vallende siekte. Om maar ’n paar te noem. Soveel van hierdie vorms het verlore gegaan.”

“Die wêreld verander,” sê ek. “Ons gaan nie meer op dieselfde intieme manier met die dood om nie. Ek het nog nooit ’n doodsmare ontvang nie. Of die doodswind voel waai nie. Ek ril trouens effens by die gedagte.”

Theo lag effens. “Doodswind, ja. ’n Onaangename ge­dagte.”

“’n Onwelvoeglike gedagte,” sê ek. Hy glimlag.

Ek kyk verder deur die kaarte in my hand. Doodkis­be­slag, doodkiskleed, doodkiskop, doodkisvoete, doodknies, doodlallie.

“Doodlallie!” sê ek. “Waar kom dit vandaan?”

“’n Gewestelike woord.”

Ek bepaal my weer by die kaarte. Doodloopgroef, doodloper, doodnegeer, doodop.

“Doodop?”

“Totaal uitgeput.”

Doodsbaar, lees ek verder, doodsbeen, doodsbekerswam, doodsbenouenis, doodsdal, doodseën, doodsgekla, doodstoot, doodsgraad.

“Doodsgraad. Asof die dood grade het!”

“Die graad waarbo of waarbenede protoplasmiese lewe nie kan bestaan nie.”

“Protoplasmiese lewe,” sê ek. “Sou dit die eerste, of mees basiese vorm van lewe wees?”

“Vra dit ook maar vir Hattingh,” sê Theo.

“Sou dit die oerslym wees?”

“Dit sou kon wees, ja.”

Doodshemp, lees ek verder, doodshuis, doodsit, doodsjaar, doodskamer, doodsklok, doodskloppertjie, doodskop­aap, doodslaaf, doodslaer, doodsmuur.

“Ek klee my in my doodshemp en gaan lê op die be­stemde uur in die doodskamer. Buite hoor ek die doodsklok lui,” sê ek.

Theo Verwey glimlag.

Doodsê, doodsnood, doodsreën, doodsrilling, doodstaar, doodsteken, doodstraal, doodstrek, doodsuie, doodsuur, dood­tuur, doodvis, doodsveld, doodsvertreder.

“Doodtuur.”

“Jou byvoorbeeld doodtuur op wat onontwykbaar is.”

“Soos die doodsuur,” sê ek.

“Soos die doodsuur,” sê hy.

“Doodvis vind ek ook mooi. Dat ’n stuk water doodgevis kan word.”

“Ja,” sê hy, “dit is ’n besonder effektiewe verbinding.”

Doodsvlek, doodsvuur, doodvalsiekte, doodvlag, doodvreter, doodverwonder, doodwaterpas, lees ek.

“Wat is die oorsprong van die woord dood?” vra ek.

“Waarskynlik van die Middelhoogduits Tod, die Oud­hoog­duits Tot, van die Goties daupus, waarvan die letter p soos die Engelse th uitgespreek word – waarskynlik gevorm op die Germaans dau,” sê hy. “Vergelyk die Oudnoorse vorm deyja, om dood te gaan.”

Ek sou hom wou vra hoe hy oor die dood voel, noudat ons die doodsterrein so intensief betree, maar dit is ’n te intieme vraag. Doodintiem. So intiem soos die dood. Tot die dood toe intiem. Onwaarskynlik. So goed ken ons mekaar nog nie. So goed sal ons mekaar waarskynlik nooit ken nie.

Ek blaai verder deur die kaarte. Dader en daderes. (Is dit ek en Theo Verwey? In watter konteks is ons die dader en die daderes?) Dadelikheid. Dadedrang. Nog beter – dae­da­liese dadedrang. Daarstraks en daarenteen, dampig (haar slape van liefdesgenot). Dries (met astrante aanmatiging), driebou en driedop.

“Daktilomansie,” sê ek, “jy het seker geweet …”

“Waarseggery uit die vingers,” sê hy, “van daktilo, woord­element met die betekenis van vinger of toon, soos in daktiloskopie.”

“Die ondersoek van vingerafdrukke,” sê ek.

“Met die oog op identifikasie,” sê hy, “wat berus op die feit dat die uitstekende huidlyste op die vingers van geen twee persone ooreenkom nie – en dat hierdie patroon lewenslank onveranderd bly.”

“Huidlys,” sê ek, “vind ek een van die vreemdste woorde in die taal. Naas dermbeendoring.”

*

Ek beween my skulpe soos Rachel haar kinders. Ek is beur­telings moorddadig kwaad en terneergedruk. Ek bel konstabel Modisane kort-kort om te hoor of daar al iets gevind is. Dit kan my nie skeel dat hy dink daar is iets fout met my nie. ’n Vrou wat tekere gaan oor skulpe asof sy niks beters het om oor te treur nie. Ek het heelwat om oor te treur, maar op die oomblik treur ek oor die skulpe.

Ek het ’n kind, ’n dogter, en ek het ’n metgesel, iemand met wie ek die afgelope sewe jaar ’n verhouding het. Hoe­wel my dogter reeds ’n jong vrou is, met haar eie lewe, bly sy voortdurend in my gedagtes. Dit is dikwels met pynlike intensiteit dat ek haar vorm terugroep in al die fases van haar lewe – as klein kind, as jeugdige, en nou as volwasse vrou. Die reuk van haar hare digby die kopvel, die sysagte vel en bykans onmerkbare oorgang tussen nek en kakebeen, die delikate kronkeling van are oor haar bors net onder die sleutelbeen, die besondere toonhoogte van haar stem – wanneer sy bly is, of wanneer sy angstig is. Die hitte­graad van haar asem as sy koorsig is, as sy iets digby my oor sê. Dit kan ek alles met helderheid terugroep. Ek het groot geneentheid teenoor Frans de Waard, die man met wie ek ’n verhouding het. Hy verskaf my buitengewoon stigtelike so­wel as erotiese plesier. Hy is ’n veelfasettige man, solied so­wel as sexy, aantreklik, intelligent en viriel; ’n man wat nie op hom laat wag nie – ontvanklik vir die gee en neem van plesier. Maar ek staan die afgelope maande minder oop na hom. Ek is meer gerig op my onmiddellike omstandighede – die projek waarmee ek Theo Verwey assisteer, die boek waaraan ek begin skryf het, en nou die verlies van my drie en twintig skulpe.

En nou ineens presenteer Marthinus Maritz homself in my gedagtes – hoewel ek geen rede het om te glo dat die impetus van hom afkomstig is nie. Freek van As het my aan hom herinner – die man wat ek steeds met geen duidelikheid kan onthou nie. My skerpste en mees onmiddellike herinneringe aan Marthinus Maritz is sy sydelingse blik; die kragtige, effens vlesige torso; ’n uitstraling van sowel aggressie as behoeftigheid wat hy gehad het, en ’n rustelose ongeduld wat die tempo van sy liggaamlike en mentale bewegings be­paal het.

Ek bly steeds nadink oor die dooies – dié wat na aan my was en my ontval het, en sommige van die ander, soos Marthinus Maritz. Ek bly steeds met hulle omgaan in my gemoed. Ek dink ek sien sommige van hulle met groter helderheid – my moeder, my vader, my suster, Joets. Ek sien met groter duidelikheid die opsigte waarin elkeen van hulle se lewens verydel is. Hieroor sou ek byvoorbeeld kon treur, maar ek kies om my verdriet te fokus op die vermiste skulpe.

Haar naam is Judit, maar ek noem haar Joets. Desem­ber­maande kuier ons by my tannie-hulle op hulle klein plasie in die Vrystaat. Ek is nege, Joets is vyftien. Bedags stap ons ver in die veld, soms vang ons krappe in die droë loop van die spruit. Smiddae speel ek op my eie in die voortuin. Almal slaap, in die klein toegeboude stoepkamertjie agter my is daar voortdurend ’n lae suisgeluid – dit klink soos ’n woer-woer wat baie stadig beweeg. (Saans maak dit my bang.) Ek speel in die koelte op die gras by ’n klein ronde rotstuintjie. Ek speel ’n verbeeldingspeletjie met ’n klein selluloïedpoppie. Ek gaan volledig op in die spel. Saans slaap ek en Joets in ’n kamer vol onuitgepakte dose, my tannie-hulle het pas in die huis ingetrek. Die dose is tot teenaan die dak gestapel. Daar is nog geen elektrisiteit nie. Joets maak my een nag met ’n kers wakker en dreig om my tone te brand as ek nie sê wat sy vir Kersfees gaan kry nie. Die vertrekke het lae sakplafonne, daar is altyd vlieë, die kombuis ruik na melk en tydens die lang, warm somermiddae is dit warm en doodstil in die huis.

*

Nege dae na die inbraak kry ek ’n oproep van konstabel Modisane.

“Your stolen goods have been retrieved,” sê hy.

“Where?!” vra ek.

“In Ladybrand,” sê hy.

“Ladybrand in the Free State?” vra ek.

“Yebo,” sê hy, “Ladybrand in the Free State.”

“Who took them?” vra ek.

“A mister Patrick Steinmeier,” sê hy. (Hy spreek dit Pa-triek uit.)

Ek aarsel ’n oomblik voor ek vra of meneer Patrick Stein­meier wit is.

Konstabel Modisane vra oor sy skouer. In die agtergrond is ’n geroesemoes hoorbaar.

“They don’t know,” sê hy.

“Where is mister Steinmeier now?” vra ek.

“Mister Steinmeier is dead,” sê hy.

“How did he die?!” vra ek.

“Mister Steinmeier hanged himself,” sê konstabel Modi­sane.

“I see,” sê ek. “Where did he hang himself?”

“In Ladybrand. When can you identify and claim your stolen goods?” vra hy.

Ek kan dadelik kom, sê ek.

“When you come I will show you the photographs,” sê die konstabel.

Nou is ek verward. Foto’s van die skulpe? “What photographs?” vra ek.

“The photographs were taken of mister Steinmeier when they found him,” sê hy.

“I don’t want to see them,” sê ek.

“Okay,” sê die konstabel gemoedelik, “I will show them.”

Ek meld my twintig minute later met bonsende hart by die toonbank aan.

Konstabel Modisane is ’n joviale kêrel. Hy hou my obses­siewe telefoonnavrae van die afgelope dae duidelik nie teen my nie. Ek merk pas nou dat sy hare in ’n soort borselkop gesny is, ’n styl soortgelyk aan een van dié waarvan ek al afbeeldings op haarkappersadvertensieborde in Nigeriese kuns gesien het. Toe hy omdraai om my goed te haal, merk ek dat sy boude en bobene volrond en lewenslustig swel.

Hy plaas ’n klein kartonboksie voor my op die toonbank. Dit voel of ek ’n dooie persoon se as in ontvangs neem. Eers tel ek die boksie op en skud dit liggies. Dit voel omtrent die regte gewig. Ek is so senuweeagtig dat ek sukkel om dit oop te maak.

Die skulpe is in ’n klein goiingsakkie binne die boks. Die sakkie het ’n sterk, onplaasbare reuk. Dit is effens klam. Ek pak met bewende hande die skulpe een vir een op die toonbank uit. Daar was twee en dertig skulpe weg, nege is teruggevind. Een van die periglyptas is terug, die kleinste Harpa major is terug, die Trochus maculata, die kleinste Conus figulinus en die Conus geographus. Twee tonnas en ’n helmskulp. En die een klein Nautilus.

Konstabel Modisane maak deurentyd begeleidende ge­luide: “… eh heh, eh heh,” sê hy, wanneer hy nie met van die ander konstabels oor sy skouer praat nie.

Die skulpe is vuil. Hulle is bedek met grond, as en iets vetterigs. Ek wil nie voor die konstabel aan hulle ruik nie. Wat het met hulle gebeur? Is hulle vir een of ander iets ge­bruik – ’n ritueel, ’n voorspelling? Is daar met hulle gedob­bel, het hulle in ’n vuur beland? Ek vee saggies oor die oppervlak van die kleinste Nautilus (die grote en die ander kleintjie is nie hier nie). Dit lyk beskadig. My oë voel trane­rig en in my keel stoot iets diks op.

“Are these your goods?” vra hy.

Ek knik. “There are still twenty three missing,” sê ek.

“Sorry,” sê die konstabel, en klik simpatiek met die tong. Hy draai om en haal agter hom op ’n rak ’n groot bruinpapierkoevert af.

“These are the photographs,” sê hy.

“I don’t want to see them,” sê ek.

Hy gly nietemin die pak foto’s behendig uit die koevert. Ten spyte van my vaste voorneme kan ek nie help om te kyk nie. Die foto’s is foliogrootte en in swart-en-wit op glanspapier gedruk. Daar is ’n aantal verskillende aansigte van meneer Steinmeier wat aan sy nek van ’n balk hang. Gelukkig is die beeld effens uit fokus. Dit is nogtans geen aangename gesig nie. Dit is trouens ’n baie skokkende gesig – dit is afskuwelik, ek kyk daarna met afsku. Dan is daar ’n paar digby-opnames van die dooie man se gesig, waarskynlik geneem in die lykshuis, want hy lê op sy rug. Sy oë is toegeswel, sy mond halfoop. Meneer Steinmeier lyk vir my van gemengde afkoms, maar wat het dit deesdae met die prys van eiers te doen?

“Is this the man that came into my house?” vra ek.

“We cannot say that with certainty,” sê die konstabel, “but we found the stolen goods with him.”

“How long had he been dead when they found him?” vra ek. Dit help seker nie om te vra of die oorledene na Boss Aftershave geruik het nie.

Die konstabel raak nou ongeduldig. Hy sit die foto’s te­rug. Ek kry ’n vorm om in te vul en te teken.

By die huis was ek die skulpe versigtig in seepwater. Die sand en as kom makliker af as die vetterigheid. Geeneen van die skulpe is ooglopend stukkend nie, maar van die meeste is die oppervlak geskraap, en een of twee het selfs ’n klein barsie in. Op die oog af lyk hulle ongedeerd, maar vir my is hulle onherstelbaar geskonde. Onteer.

*

Ek vertel vir Sof van die teruggevonde skulpe. Die volgende dag bel ek konstabel Modisane om uit te vind waar die oor­ledene (die dooie dief) vandaan kom; om dalk selfs sy huis­adres te kry. Maar so bereidwillig as wat hy ’n dag of twee vantevore was om inligting te verstrek, so min kry ek nou enigiets uit hom. Iemand het hom seker betig; hy was waar­skynlik nie in die eerste plek veronderstel om enige inlig­ting te verskaf nie.

“Wat moet ek doen?” vra ek vir Sof.

“Koop hom om,” sê sy, en kug effens.

(Ek onthou dat tannie Jossie, ’n vriendin van my ma, vir ’n verkeerskonstabel gevra het of hy van sjokoladekoek hou, toe hy haar stop. As kind het ek waardering gehad vir die ongewone manier waarop sy dinge gedoen en gesê het. Sy was minder voorspelbaar as die ander vroue wat ek geken het. My eerste kennismaking met ’n oneerbiedige vroue­karakter? Agter in die motor, as sy kom kuier het, het Gertjie met die bediende gesit. Gertjie was haar jongste seun, hy was vertraag. Hy was so bleek dat hy ’n groenerige skynsel gehad het.)

“Waarmee,” vra ek, “met sjokoladekoek?”

“Hoekom nie?”

“Die dae is verby dat mens geregsdienaars met tuisgebakte koeke omkoop,” sê ek.

“Probeer biltong,” sê Sof, en gee ’n klein hoesie.

“Wat ek waar kry?”

“By Checkers. Wat is die inligting vir jou werd? Wat van twee kraakvars honderdrandnote?”

“En as hy voor almal my bedrog aan die lig bring?”

“Dan sê jy jy wil kleingeld hê vir parkering.”

“Kleingeld vir twee honderd rand?”

“Hoekom nie? Wat wil jy met die inligting doen?”

“Ek wil net weet.”

Ek besluit om konstabel Modisane by die polisiekantoor te gaan sien. Die eerste keer is hy uit op patrollie, die twee­de keer tref ek hom agter die toonbank aan.

Waar het die man vandaan gekom wat homself opgehang het, wil ek by hom weet.

“I cannot disclose his identity,” sê die konstabel. Hy dra vandag sy pet en hou sy oë neergeslaan op die papierwerk waarmee hy besig is voor hom.

“But you have already given me his name! You told me that his body was found in Ladybrand,” sê ek, “you showed me the photographs! I didn’t even want to see them!”

“I cannot give you more information,” sê hy.

“Just tell me where the man came from,” sê ek sag. “Did he also come from Ladybrand?”

“Why do you want to know?” vra hy, agterdogtig. Hy is besig om inligting van een boek in ’n ander te kopieer. Die boonste litte van sy vingers is plomp, ewe uitbundig gerond as sy bobene.

“Because it will give me peace of mind,” sê ek.

Konstabel Modisane kyk vlugtig oor sy skouer (niemand kyk in ons rigting nie) en sonder om op te kyk, sê hy sag: “He came from Ladybrand. Same place where his body was found.”

“Thank you,” sê ek, en draai om.

Die man kom van Ladybrand, sê ek die volgende dag vir Sof, en ek wil gaan kyk waar hy gebly het. Sof is meer as bereidwillig om saam met my te gaan.

*

Ek drink graag met die museumpersoneel tee. Hulle ge­sprek­ke interesseer my. Ek beskou dit as ’n onverwagte bonus dat Theo Verwey se kantoor hier in die museum is (dit kom weens sy verbondenheid met die department streeks­tale, wat ook in hierdie gebou gehuisves word). ’n Tweede voordeel is dat ek Sof Benadé andersins nie sou ontmoet het nie.

Freddie Ferreira is die kurator van soogdiere. Hy is klein en skraal, met steil, olierige hare en klein, lewendige don­ker­bruin oë. Ek skat hom nie ouer as vyf en veertig nie. Hy raak gou ongeduldig en sy reaksies is soms onvoorspelbaar. Dit is moeilik om die inhoud van sy innerlike lewe te be­paal, maar van soogdiere weet hy alles.

Hy is vanoggend in gesprek met Hugo Hattingh, ’n pa­leon­­toloog. Hugo is op sig ’n aantreklike man, maar bot, ongeneë om kontak van enige aard te maak. Hy moet in sy middelvyftigs wees, ongeveer Theo Verwey se ouderdom, miskien jonger. Briljant op sy vakgebied, sê Sof, met ’n smaak vir kinderpornografie. Hoe weet sy dit? vra ek. Sy trek haar skouers op: wat ook al – by Matroos of Vera gehoor, sê sy. Wat bedoel sy met wat ook al? vra ek. Of dit nou kinderpornografie of pedofiliese neigings is, sê sy, sy kennis is uitgebrei en altyd paraat. Anders as die geval met die meeste mense, is dit meesal die moeite werd om na hom te luister.

Dit is die man wat, volgens Theo Verwey, grondiger as die woordeboek sal kan verklaar wat lewe is. (Die misterie van die lewe tot in die droesem vir my sal kan opklaar. Tot in die eerste moer, die grondsop, die oerslym.)

Hy en Freddie Ferreira verskil vanoggend oor die geologiese tydskaal waarbinne been geëvolueer het. Sof Benadé vra hoekom been ontstaan het, wat die funksie daarvan is. Hugo Hattingh sit drie hipoteses vir die vroeë funksie van been uiteen. Dit moes onder meer as beskerming dien teen akwa­tiese roofdiere: waterskerpioene en nautilusagtige kefa­lopo­des. (Bloot die aanhoor van die woord nautilus ontstel my.)

Matroos kom die vertrek binne. Sy naam is Johannes Tal­jaard maar almal noem hom Matroos. Waarom hy so ge­noem word, weet ek nie. Hy lyk soos Flash Gordon, soos Sam Jones in die hoofrol van die filmweergawe. ’n Strokies­prentheld, met hoë wangbene, ’n kragtige kaaklyn, blou oë met blonde, gekrulde wimpers, ’n breë bors, lang bene en smal heupe. Hy is verantwoordelik vir die museum se uitstallings. Hy is die kurator van uitstallings.

Freddie groet hom met ’n gestileerde handgebaar in die lug, hulle is skynbaar goeie vriende. Hugo kyk net een keer vlugtig na hom, voor hy met sy gesprek voortgaan. Hy verwys na die voorkoms van endokondrale been in die uitge­storwe stekelrughaaie. Freddie verduidelik dat hulle nie egte haaie is nie, maar slegs ’n oppervlakkige oor­eenkoms met haaie toon. “Hoesit?” vra hy vir Matroos, sonder om na hom te kyk. Hy trap sy sigaretstompie onder sy hak dood.

“Is daar nie koek vanoggend nie?” vra Matroos.

“Hoekom sal daar wees?” vra Freddie.

“Wat ís been?” vra Sof.

“Been is ’n samestelling van anorganiese kalsiumfosfaat­kristalle, hidroksiapatiet en organiese kollageenweefsel. Die minerale inhoud van ’n been soos die femur van ’n soog­dier is ongeveer sewe en sestig persent. Dit verskaf rigiditeit en die kollageen bied weerstand teen druk,” sê Hugo.

Hiervan neem ek kennis. Ook dit is waardevolle inligting.

“Verjaar iemand nie vandag nie,” vra Matroos, “is daar nie iets wat ons kan vier nie?”

Mevrou Dudu het ook ingekom. “Wat is jy altyd so lus vir koek?” vra sy.

Matroos se glimlag is breed en sy tande is verbasend klein, merk ek, vir ’n man van sy lengte, van sy heroïese af­metings. Klein, opvallend vierkantig en gepoleer, soos vars­waterpêrels.

“Mevrou Dudu hou ook van koek,” sê hy, en rek sy arms behaaglik bo sy kop. Hy dra ’n waterblou syhemp en Diesel-jeans.

Mevrou Dudu lag guitig. Haar hare is kunstig gevleg. Dit laat my dink aan die vlegsels van wol wat ek vir myself as kind gemaak het.

“Het die gewerweldes in see- of in varswater ontstaan?” vra Sof vir Hugo Hattingh.

As Freddie Ferreira selde die spreker aankyk, doen Hugo dit nog minder. Hy het ’n swaar hoof – ’n forse leeuehoof – met skerpgebeitelde, diagonale vlakke. Hy is nie lank nie, maar hy maak ’n soliede indruk; kragtig in die skouers. Daar is iets strams, rigieds in sy liggaamsbewegings. Sy kortge­knipte baard is grys, sy hare donkerder, seunsagtig kort.

Slegs een van my pa se vier broers het swart hare gehad. Ek onthou die tekstuur daarvan – dik, harde hare, soos ’n borsel, as mens jou hand daaroor sou gly. Sy stem het ’n vreemde rasperagtige klank gehad, ’n skrilheid byna. Hy het van jong seuns gehou. Dit het my ma my later vertel. Hy het in ’n rondawel gewoon in die Laeveld en hy het dinge versamel: aalwyne, klippe, dalk selfs skulpe. As kind het dit my gefassineer. Ook sy manier van praat (effens krapperig) en sy humorsin (droog, sinies, effens wispelturig) het my ge­fassineer. Hy en my ma het goed oor die weg gekom, maar as hy met ’n vriend kom kuier het, het sy onmiddellik na hulle vertrek die lakens afgestroop en gewas. Aan hom dink ek skielik vanoggend.

Hugo Hattingh begin verduidelik dat die hoofvoorstan­ders van die varswaterteorie Alfred Romer, ’n paleontoloog, en Homer Smith, ’n nierfisioloog was, maar Freddie val hom in die rede en sê dat hierdie argumente so verouder is dat hulle nouliks meer ter sake is. Hugo Hattingh gaan egter on­gestoord voort om Romer en Smith se argumente uiteen te sit, waarop Freddie, wat steeds met sy elmboë op sy knieë na sy voete sit en kyk, sigaret in die hand, opmerk dat dit klink asof Hugo deur Romer en Smith se argumente oortuig is. Hugo Hattingh neem steeds geen kennis van Freddie se opmerkings nie en sluit sy uiteensetting af met die gevolg­trekking dat die bewyse vir ’n mariene oorsprong veel meer oortuigend as Romer en Smith se varswaterteorieë is (die teorie waarop Freddie in elk geval die hele tyd aangedring het), met as deurslaggewende bewys die fossielrekord, wat nou baie meer volledig is, en wat daarop dui dat alle be­kende fossiele uit die Kambrium en die Ordovisium ’n see-oorsprong het.

“Nou begryp jy, nè?” sê Freddie (half spottend) vir Sof.

“Ja, dankie,” sê Sof, “nou het ek min of meer ’n idee – ons het met groot moeite uit die see land toe gekruip.”

“In die sweet van ons aanskyn,” sê Matroos. Ek is verras, ek het geen Bybelse verwysingsraam van hom verwag nie – ek het verkeerdelik aangeneem dat dit vir hom bloot gaan om die uiterlike: om die body beautiful en om cheap thrills.

“Wat laat jou dink dit was so moeilik?” vra Freddie.

“Die Bybel,” sê Sof.

Hugo luister nie meer nie. Ek het ’n beperkte voorstelling van die aard van sy gedagtes en preokkupasies. Ek sou my graag deur ’n maneuver van die verbeelding in sy posisie wou kon plaas. Ek kan nie. Ek beny hom sy kennis. Om die drama van evolusie soos ’n film voor jou te kan sien afspeel – om dit soos ’n blom voor jou oë te sien oopvou – dit vind ek benydenswaardig. Om te weet hoe been oor miljoene jare ontwikkel het. Om intiem vertroud te wees met die oorsprong en ontstaan van lewe. Waardevolle kennis! Dit is nie vir hom genoeg nie. Hy het behoefte aan meer, aan iets anders. Die psige het ander behoeftes. Kennis is nie genoeg nie – die hart het sy eie onvoorskriftelike neigings en verlangens. Hierdie man het ’n smaak vir kinderpornografie, hy het pedofiliese verlangens, sy begeerte is na jong seuns, as dit waar is wat Sof beweer.

Dit is nie die eerste keer dat hierdie kennis my interesseer nie, maar vir die eerste keer met so ’n nadruklikheid. Ek sit regop, by wyse van spreke, en spits my ore. Los feite, flardes kennis (onsistematies verworwe) en ’n óú belangstelling word weer lewendig. Ek wil meteens weet wat die om­stan­dighede was wat gelei het tot die ontstaan van lewe. So­doende kry ek ’n beter begrip van die mens – ’n soogdier wat hoeveel miljoen jaar gelede uit ’n gewerwelde oerouer ontwikkel het. Om die mens in hierdie konteks te sien, moet lig werp op die funksionering van bewussyn, en gevolglik op die mens se bestaansdilemma as ’n dier met ’n ontwik­kelde intelligensie en ’n bewussyn van sy eie sterflikheid. ’n Bewussyn wat, as ek reg begryp, ontwikkel het rondom ’n anus aan die een punt, ’n mond aan die ander punt, en ’n ruggraat wat die twee verbind.

*

Die nege skulpe wat ek teruggekry het, het ek voorlopig weg­gepak. Ek kan nog nie na hulle kyk sonder om aan die verlies van die ander herinner te word nie. Wat het van die vermiste drie en twintig geword? Waarom is hulle nie saam met die nege teruggevind nie? Lê hulle nog iewers in die vertrek waar die dooie man aangetref is? Van watter waarde kan hulle vir enigiemand wees? Is hulle iewers vir ’n appel en ’n ei verkwansel, geruil vir tabak, vir brood, vir drank, vir ’n geweer, of pryk hulle dalk in iemand se vertoonkas? Wou die persoon wat hulle geneem het hulle vir homself hou, of as geskenk gee vir sy vrou, vir sy minnares, vir sy moeder, dalk? Hoe het die dief – of diewe – geweet van die skulpe? Het hulle doelbewus ingebreek om die skulpe te steel, of het hulle toevallig daarop afgekom en besluit dit is bruikbaarder buit as die meer opsigtelik waardevolle besittings in die huis? Alles ewe onwaarskynlik. Waarom het hy – het hulle – die mooi skulpe met ’n fyn oog gekies, en daarna op die mat ontlas? Gekák, om presies te wees. Wat moet ek daar­uit aflei, watter boodskap was daarin vir my opge­sluit? Watter waarskuwing? Waarom het die man, die arme Patrick Steinmeier, homself opgehang? Is hy die skuldige, wat uit bitter berou sy lewe geneem het, of is diegene wat met die res van die skulpe vort is, die aanspreeklikes?

Middagete vra ek vir Sof wat sy dink. Miskien was die dief of diewe op soek na iets spesifieks, sê sy. Miskien het hulle jou plek met iemand anders s’n verwar.

“En toe val een se oog op die skulpe, terwyl die ander een op die mat kak,” sê ek, “op die koop toe.”

Ek is onrustig. Die man by wie se lyk die nege skulpe ge­vind is (dokter Jekyll?), lê wel veilig in die doodshuis. (Moei­lik om te oordeel op grond van ’n paar swart-en-wit foto’s, maar die arme dooie het nie die voorkoms gehad van ’n boos­wig nie.) Gestel egter meneer Hyde verkeer nog op vrye voet? Of meneer Hyde en sy trawante – sy gewetenlose bende huisbevuilers. Toe ek by die huis kom, bel ek weer vir konstabel Modisane en vra of daar nie dalk ’n moontlik­heid is dat daar meer as een inbreker was nie.

“Because you did not report anything else missing and your stolen goods have already been retrieved, we have closed the docket,” sê hy.

“They have not all been retrieved,” sê ek, “there are still twenty three missing.”

“Eh heh,” sê konstabel Modisane. Die laaste sillabe eindig laag en melodieus. In die agtergrond hoor ek ’n allemintige lawaai.

Maar ek kan nie totsiens sê nie! Ek wil hom nie laat gaan nie! Ek wil praat oor die gehangde man, ek wil weet presies waar hulle die skulpe gevind het, ek wil alles weet wat daar te wete is!

“Constable Modisane,” sê ek (huiwerig), “I am worried …”

Die konstabel praat met iemand in Zoeloe oor sy skouer.

“What is it that you are worried about?” vra hy geduldig.

“I am worried,” sê ek, “because I do not know what happened precisely. Who came into my house. Who took the shells. What was he looking for. Was there more than one person. I would like to know these things.”

“Yee-hes,” sê die konstabel, nie onsimpatiek nie.

“I would like to know everything that happened,” sê ek.

“O-kay,” sê die konstabel in sy welluidende basstem.

“Are you sure you have no more information?” probeer ek weer, “were there no other burglaries in the neighbourhood at the same time?”

“No,” sê die konstabel, “nothing else.” Weer roep hy ie­mand iets in Zoeloe toe, en lag uitbundig.

“Well then,” sê ek. “Thank you.”

“O-kay,” sê hy gemoedelik.

*

My hart bly swaar, en dit het nie net met die verlies en ont­ering van die skulpe te make nie. Aand vir aand sedert die inbraak het ek moeite om aan die slaap te raak. Ek slaap met die bedliggie aan, want sodra ek die lig afsit, lê die donkerte soos ’n gewig op my bors.

Toe ek vyf jaar oud was, het die duiwel een aand in ’n droom aan my verskyn. Ons het pas in ons nuwe huis ingetrek, en die kamer waarin ek geslaap het, was blou geverf. My bed het teen die muur, teenoor die venster, gestaan. Die duiwel het in sy volle demoniese glorie van hoof tot toon voor my gestalte aangeneem en ek het so hard en paniekbevange geskree dat my pa sy toonnael stukkend gestamp het in sy haas om by my uit te kom. Ek was vyf jaar oud en daar was by my geen twyfel dat dit die duiwel was nie.

Die laaste keer dat ek die duiwel geloofwaardigheid ge­gee het, was toe ek nege jaar oud was. Ek het op ’n dag vir my pa gesê dat ek van daardie dag af nooit weer vir die duiwel sal luister nie. Ons het in die eetkamer gestaan, voor die teewaentjie met die vrugtebak op wat my ma van haar ma geërf het. My pa het geluidloos gelag. Sy innigste lag was ’n geluidlose lag. My opmerking het hom waaragtige plesier verskaf. Hy het gelag soos wanneer hy gelag het ten koste van iemand anders. In hierdie geval was dit ten koste van my. (My pa het nooit so lekker gelag soos wanneer hy dit ten koste van iemand anders gedoen het nie.) Ek onthou sy gesig in profiel soos hy gelag het. My mondhoeke trek op dieselfde hoë manier op. Ek was gekrenk. Van daardie dag af het ek die duiwel uit my verwysingsraam verban en my pa as vertroueling afgeskryf.

Na ongeveer veertig jaar het ek op ’n aand ineens weer ’n sterk gewaarwording van die duiwel. Ek vind dit verras­send. Hy is nie boos of bedreigend nie, maar ’n melanko­liese karakter wat ook aan die einde van sy pad gekom het. Ek staan saam met hierdie duiwel op die rand van ’n af­grond. Ons het albei ewe min seggenskap oor ons toebe­deel­de lot. Daarbenewens vind ek sy teenwoordigheid in my huidige toestand vreemd gerusstellend.

Die boek van toeval en toeverlaat

Подняться наверх