Читать книгу Die boek van toeval en toeverlaat - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Ek sê vir Sof ek wil Ladybrand toe gaan, ek wil gaan kyk wat die dorp oplewer. Sy vra of ek sal omgee as sy saamkom. Ek sê: Graag! Kom gerus saam!

Ons besluit ons sal die naweek gaan.

Vrydagoggend luister ek en Theo Verwey na Cimarosa. Andrew Riddle is die dirigent, sê Theo. Eers dink ek hy trek my been. Riddle, soos in raaisel? vra ek. Ja, soos in raaisel. Riddle het die Londense Simfonieorkes verlaat om hom by die Berlynse Filharmoniese Orkes aan te sluit, sê Theo, en daarin geslaag om dit weer op die been te bring.

Die musiek spreek nie vanoggend tot my nie. Ek buig oor my kaarte. Waar moet ek begin? Ek het dinge op die hart. Dringende kwessies waarvoor ek nie gepaste woorde vind nie.

Ons werk ’n ruk lank swygend langs mekaar.

Ek is besig met die woord dool. Doolgang, lees ek, die sifbeen se holtes is ’n doolgang. Figuratief is dit ’n dwaalweg. Die doolgange van die misdadiger se lewe. Ronddool. Die spoor byster raak in geestelike of sedelike sin, van die weg van die deug afdwaal.

“Wat verstaan jy onder die deugdelike weg?” vra ek vir Theo.

Hy lig sy wenkbroue vraend.

“Deug is die geneigdheid tot wat goed is, en die deugdelike weg is ’n metafoor vir ’n lewe waarin die goeie nage­streef word,” sê hy. Hy het helder oë. Hy is onberispelik hof­lik. Sy blik rus gelykmatig op my – sonder nuuskierigheid of aandrang. Dit weerhou my egter nie daarvan om my tot hom te rig nie. Wil ek hom uitlok? Naas sy belangstelling in woor­de het hy ’n groot liefde vir musiek. Ek het geen beswaar om saam met hom te luister nie. Ek hou van musiek. Ook hier kan ek baie by hom leer.

“Doolgang vind ek ’n mooi woord,” sê ek, “dit spreek my verbeelding aan. Ek kan my iets konkreets en iets poëties daar­by voorstel. Maar die deugdelike weg, daarby kan ek my min voorstel.”

Hy knik hoflik. “As begrip en as uitdrukking het dit waar­skynlik lank reeds sy geldigheid verloor,” sê hy. Hy dink oor iets na; sit ’n rukkie voor hom en uitkyk voor hy weer na sy werk terugkeer.

“Hoe het virtue deug geword?” vra ek.

“Virtue kom via die Latyn na die Oudfrans vertueux, deug is van Germaanse oorsprong,” sê hy (sonder om van sy werk op te kyk), “van die Nederlandse deugen, afkomstig van die Middelnederlandse dogen.” Hy is ook iemand met onderskeidingsvermoë, het ek agtergekom, hy hou van mooi goed. Ek het gesien hoe hy ongemerk ’n koppie lig om na die merk onder te kyk, en die teelepel omdraai om die silwermerk na te gaan. Dit het ek die dag gesien toe Matroos ons teetyd op koek getrakteer het. Matroos het naamlik sy eie teeservies, lepeltjies en koekvurkies saamgebring. Geen hal­we maatreëls vir Matroos nie – net die beste vir hom, het Sof teenoor my opgemerk.

Doolhof, lees ek. Iets waarin ’n mens jou pad nie kan vind nie; plek waar ’n mens (maklik) verdwaal; verby­ste­rende netwerk; labirint. Figuurlik is die betekenis ’n inge­wik­kelde saak, of die geheel van omstandighede, waarin dit moeilik is om die regte weg te volg; waaruit ’n mens moeilik iets wys word. Die fisiologiese betekenis is die gange en ruimtes in die temporale skedelbeen waarin die ewewig- en gehoorsintuig lê.

Deug en deugdelik. Ek sien Theo Verwey as ’n deugdelike man – ’n inagnemende eggenoot en ’n liefdevolle vader. Hy is terughoudend. Hy hou terug. Wat hy terughou, weet ek nie. Ek het my vermoedens oor sy innerlike lewe. Ek stel my voor dit is ordelik geliasseer soos sy kaartsisteem. Dit sal my verbaas as ek ooit moet hoor dat hy hom aan die een of ander buitensporigheid skuldig gemaak het. Dit is ’n man van wie die wil – of die deugdelike impuls – die aptyt, die plesiersoekende instansie, deeglik in toom hou. So lees ek hom. Ek mag verkeerd wees.

*

Vrydagmiddag vertrek ek en Sof na Ladybrand. Die landskap waardeur ons ry is van ongewone skoonheid, maar ek is af­gelei en neem nie veel in nie. Uit die hoek van my oog sien ek die goddelike winterse populiere, die gedempte, rokerige oker velde en die mistige dale verbyflits, ek sien die skake­rings van oker en pienk-oker in die bergkranse, maar die skoonheid laat geen blywende indruk nie. Ek is senu­wee­agtig, want ek het ’n plan en miskien is dit ’n verspotte plan. Ek het ’n adres van die enigste Steinmeiers in die dorp, en ek is van voorneme om môre besoek by hierdie mense af te lê. Ek weet nie wat ek daar sal aantref nie.

Ons gaan tuis in ’n gastehuis in die dorp – ’n oordadig getierlantynde maar basies onaantreklike dorpshuis. Ons eet die aand in ’n Italiaanse restaurant-pizzeria. Dit is binne-­in soos ’n Romeinse villa versier – ofte wel die eienaar se idee van so ’n villa. Daar is geskilderde fonteine, ge­skil­derde beel­de en ’n geskilderde weggetrekte gordyn met ’n blik op ’n Italiaanse tuin met sipresse. Aan die tafel langs ons sit ses Sjinese mans. Hulle verorber woordeloos hulle kos. “Ses Sji­nese eet tesame,” sê Sof. Sy leun vorentoe en sê sag: “Dit sal my niks verbaas as dit die Sjinese mafia is nie, hulle is glo baie aktief hier en in Lesotho. Hulle het dalk iets met die verdwyning van jou skulpe te doen.” Dankie, sê ek, ek hou dit in gedagte. Onderlangs hou ek die mans nou met selfs groter misnoeë dop. Toe hulle klaar geëet het, kom die personeel met ’n koek met brandende kersies te voorskyn. Al­mal wens Charlie, een van die mans, geluk, die koek word gesny en ewe woordeloos verorber as die hoofmaaltyd. Na afloop word die reste daarvan na die kombuis teruggestuur.

Wat weet ek nou éintlik van Sofia Benadé, wonder ek ty­dens die maal, behalwe dat sy in ’n pastorie grootgeword het, dat sy getroud is, tweelingseuntjies het, en dat sy jaarliks op Die Kerkblad ingeteken is. Ons is nog besig om ’n manier te vind om met mekaar oor die weg te kom. Maar vanaand is ek uit ewewig. My aandag is elders. Ek span my nie in om gedeelde terrein te vind nie; ek probeer nie be­sonder hard om ’n verstandhouding te bewerkstellig nie. Sy laat haar dit skynbaar welgeval (sy maak op my die indruk van iemand wat haar nie te veel teen omstandighede verset nie). Sy drink haar wyn en rook haar sigarette en hou die mense dop.

Na afloop van ons maal sê Sof nou gaan ons die naglewe van Ladybrand verken. Ek dink: as Sof ’n duidelike idee het van wat ons moet doen, dan neem ek op my beurt genoeë daarmee. Dit is koud buite. ’n Bytende koue, en die nag­hemel is hoog en wyd. Hier is veel meer sterre as in die stad waar ons vandaan kom. Ons stap met ’n paar verskillende strate op en af in die bykans verlate dorp, totdat ons by ’n kafee met die naam Die Rooi Lantern, skuinsoor die Spar, kom. Die binnekant is rooi verlig en voor die venster hang ’n bruin kralegordyn.

“Dit lyk na ’n skaflike plekkie,” sê Sof.

Binne is ’n paar tafeltjies en ’n kroegtoonbank met uitgebreide rottangwerk en rottangkroegstoeltjies. Die plek is nog halfvol.

“Oordag vergader die plaaslike tak van die Vroue-Land­bouvereniging hier,” sê Sof.

’n Kelnerin met hoogs geronde dye in ’n styfpassende broek neem ons bestelling. Vir eers is dit warm en weldadig hier binne. Ek kyk rond. By een van die tafeltjies sit ’n man en ’n vrou, by die res van die tafeltjies sit meesal jongmense.

“Hulle werk almal in die bank,” sê Sof.

’n Man en ’n vrou kom in. ’n Ordentlike paartjie, karakter­vas en welopgevoed. Die vrou het kort, donker hare waar­aan sy selfbewus vat. Die man stuur haar liggies met sy hand op haar rug na hulle tafeltjie in die hoek.

“Die prokureur met die Latyn-onderwyser se vrou,” sê Sof, “hulle het mekaar by die tennisklub ontmoet.”

“Waar is haar man vanaand?” vra ek.

“Hy sien opstelle na,” sê Sof. “Hulle het twee seuns. Die oudste is stil en ernstig en die jongste het bleekgroen oë en te veel energie.”

Die kelnerin met die geronde dye vra: “You girls still okay?”

“Ons is waxed, sista,” sê Sof, en gee ’n klein kuggie.

“En die prokureursvrou?” vra ek.

“Sy het hoofpyn vanaand, maar dis net ’n verskoning, want sy hoop die magistraat sal in haar man se afwesigheid langs kom. Hulle het twee dogtertjies, twee dun, bleek meisietjies.”

Geleidelik vul die plek op. Die musiek begin. Donna Sum­mer sing ’n ou treffer: “Hot Stuff”. Ek sien hoe Sof se mond woordeloos die woorde agterna vorm. “Hot stuff. I want some hot stuff baby tonight.” Haar uitdrukking verraai niks, net haar mond vorm die woorde. Ook die woorde van die volgende lied sing sy sag saam. “I will survive,” sing sy woor­deloos. Sy maak die kleinste, allerkleinste beweginkies met haar skouers. ’n Koel klant, Sof, al noem sy haarself ’n deluded doos. Ons bestel nog wyn.

’n Skraal jong man met kortgeskeerde, krullerige hare, be­sonder donker wenkbroue, intense oë en ’n ontwykende blik kom binne. Hy lyk nie op sy gemak nie. Hy gaan by ’n tafeltjie in die hoek sit. Hy bestel ’n bier. By hom het hy ’n donkerblou sportsak. Hy kyk kort-kort op sy horlosie. Dit lyk of hy op iemand wag. Hy haal ’n klein boekie uit die sak en maak daarin ’n aantekening. Hy bêre die boekie en kyk weer op sy horlosie. Hy kyk ’n tyd lank onrustig om hom rond. Dan haal hy weer die boekie uit en skryf iets daarin.

“Nog nie geleer om ’n pen behoorlik vas te hou nie,” sê Sof.

Ek hou die jong man onderlangs dop. Daar is iets in sy ge­sig wat my dwing om na hom te kyk. Veral die oë is inte­res­sant – hy wil-wil soetskeel wees. Die gesig kan na een van twee kante gaan: na onderduimsheid of na ondeundheid. Sy baard en snor is ylerig – nog nie heeltemal gevestig nie: don­ker melkbaard. ’n Aantreklike jong man, as mens hom sou kon vertrou, as daar nie iets so geagiteers was aan sy manier nie.

“Die kêreltjie ly duidelik aan aandaggebreksindroom,” sê Sof, wat hom ook dopgehou het. “’n Kursus Ritalin sal geen kwaad doen nie.”

“Of hy ly aan ’n slegte gewete,” sê ek.

“Es war spätabends,” haal Sof aan, “als K. ankam. Das Dorf lag in tiefem Schnee. Vom Schlossberg war nichts zu sehen, Nebel und Finsternis umgaben ihn, auch nicht der schwächste Lichtschein deutete das grosse Schloss an.”

“Dink jy Kafka het so ’n liggewig, skigtige jong mannetjie in gedagte gehad?” vra ek.

“Waarskynlik nie,” sê Sof, “maar dis die Afrika-weergawe van K. dié.”

“Nat agter die ore en van gemengde afkoms?”

“Waarom nie.”

“Eintlik moes die storie vir die arme K. daar geëindig het,” sê ek.

“Op vyftien het ek Kafka liefgehad,” sê Sof. “Ek het ’n bio­grafie oor hom gelees en diep getreur toe hy dood is.”

“Dit kan ek goed begryp,” sê ek.

Die Latynonderwyser se vrou staan op om na die toilet, agter ’n tweede kralegordyn, te gaan. Die prokureur bel op sy selfoon.

“Ek onthou vriende van my ouers toe ek klein was,” sê ek, “hulle het op dieselfde klein dorpie as my ouma-hulle ge­woon. Die man was ’n Afrikaans-onderwyser. Hy het mooi foto’s geneem. Ons het soms saam met hulle langs die Suid­kus gaan vakansie hou. Hulle was bevriend met die Dippe­naars. Hulle het saam tennis gespeel. Ek het vakansies met die Dippenaars se twee dogtertjies gespeel: Engela en Moet­sie. Later blyk dit toe dat meneer Truter, die onderwyser, jare lank ’n verhouding gehad het met mevrou Dippenaar. Nou onthou ek mevrou Dippenaar nie as ’n baie aantreklike vrou nie. Haar bene was bietjie harig en het effens te ver uitmekaar gesit. Mevrou Truter, Santie, daarenteen, was ’n baie mooi vrou. Sy was ook ’n lewensgenieter. Wat het haar man in die arms van die onaansienlike mevrou Dippenaar ge­dryf? Ek kan dit steeds nie begryp nie. Mevrou Truter het later ’n beroerte gehad en haarself geskiet. Ek onthou haar in haar baaikostuum op die strand. Hoe sy oor haar skouer na die fotograaf kyk. Haar man. Die man het baie moesies gehad, oral op sy lyf. Wat hom presies seksueel aantreklik gemaak het, vir sowel sy vrou as vir mevrou Dippenaar, is nou nog nie vir my duidelik nie.”

“Die weë van mense is duister,” sê Sof. “My pa het altyd gegru vir die skynheilige vroomheid van sy gemeentelede. Hulle het konstant die kat in die donker geknyp. Dan moet hy die gegriefde eggenote en eggenotes pastorale begelei­ding gee.”

“Dan is hulle vol goeie voornemens en volgende keer kan hulle weer hulle hande nie van mekaar afhou nie,” sê ek.

Die jong man met die ontwykende blik het intussen op­gestaan en betaal. Hy het nie lank vertoef nie; sy bier is half­gedrink.

“Nou begin sy avontuur,” sê Sof, toe hy by die deur uitgaan, soos K., die koue nag in.

*

Ek slaap onrustig. Die hele nag skyn die ganglig in my oë. Ek droom van my en Felix du Randt. Ons is saam in ’n tuin. Ons het struweling. Daar is trane, maar die volgende oggend kan ek nie die presiese omstandighede van die droom ont­hou nie.

Ek en Sof eet ontbyt saam met sewe mans wat ’n kursus vir spoorwegbeamptes bywoon. Op elke tafel is daar kunsblomme. Die gastehuis is binne ewe prullerig as buite ver­sier. Op ons almal se borde verskyn daar roereiers, spek, en ’n worsie so pienk soos ’n hondepeester. Die vier mans by die een tafel praat Afrikaans met ’n Suid-Sotho-aksent. Hulle vel­kleur wissel van Van Dyckbruin tot ’n diep bloubruin. By die ander tafel het een van die mans ’n mullet met skouerlengtehare, oorbelletjies en ’n roesbruin snor. Hy dra ’n naas­wit broek, wit belt, wit sokkies en wit skoene. Die klein­ste van die drie het waterige oë. “Hy het ringwurm gehad as kind, en sy broers en susters het hom afgeknou,” sê Sof onderlangs vir my. Sy drink twee Panado’s, want sy het vanoggend hoofpyn. ’n Bietjie te veel gedrink en gerook gisteraand, sê sy, en lag haar klein, verontskuldigende laggie.

Twee vroue bedien ons. Die een is lank, met ’n klein kop­pie en ’n breë agterstewe. Sy dra ’n styfpassende broek van ’n rekbare materiaal. Sy is geklee in skakerings van beige; die kleur van haar lipstiffie asook die kleur van haar poeieronderlaag is beige; die twee kolle op haar wangbene is ’n warm blosbruinbeige. Sy het ’n klein, besliste mondjie en haar hare, die gordyntjie plat op die voorkop, is agter haar kop opgeklits in ’n woedende, roesrooi nes. Die ander vrou is klein, ’n skugter skoonheid, haar vel gelerig van glans, haar gelaatstrekke herinner aan dié van die aanvallige vrou-meisies van jagter-versamelaars.

Ek is senuweeagtig. Ek en Sof bespreek ons plan. Dit is ’n blinde skoot, maar ons gaan dit waag.

“Dalk is dit waansinnig,” sê ek vertwyfeld.

“Nee, man,” sê Sof, “ontspan. Wat kan nou eintlik verkeerd gaan?”

“Sê nou ons beland in ’n misdadigernes?”

“Ons kyk die saak eers uit voor ons inbeweeg,” sê Sof, en kug.

Die mans gesels uitbundig. Soms roep hulle oor en weer opmerkings na mekaar, van tafel tot tafel – hierdie opmer­kings is soos eggo’s wat liggies van krans tot krans kaats, met tussen die kranse ’n bosryke vallei. Teen die een muur hang ’n afdruk van ’n Andrew Baines-skildery in ’n groot, vergulde raam. Dit beeld Bloemfontein vanaf Naval Hill uit. Op die voorgrond is ’n rotsagtige heuwel wat ’n blik bied op ’n wydse plein en op ’n dorpie ver op die agtergrond. Ag, sê Sof, die verlokkinge van die grootstad. Sof, sê ek, ek ver­trou daarop dat jy my vandag sal ondersteun.

*

Daar is net een Steinmeier in Ladybrand. Ek het die huis­adres in die telefoongids nageslaan. Die huis is op die grens tussen die wit en gekleurde buurte, ’n onderskeid wat dui­delik in hierdie dorp nog van toepassing is. Ons hou stil. ’n Ou huis, maar goed onderhou. ’n Breë rooi sementstoep, lae sandsteen­stoepmuurtjies met pilare wat die stoepdak ondersteun. Die huis is – soos die meeste huise in die meer ge­goede wit buurt – van okerkleurige sandsteen. Die voortuin is klein, maar netjies, die grasperkie winters verdor, en aan die sykant van die huis is daar ’n hele aantal blaarlose vrugte­bome. Op die stoep is daar plante in blikke.

Ek klop.

“Fa-ak,” sê Sof sag agter my.

’n Ouerige vrou maak die deur oop. Ek groet geesdriftig, maar my hart bons hard. Sy bejeën my effens wantrouig. Sou dit Patrick se moeder wees?

Agter haar verskyn ’n jong vrou met ’n baba op haar heup. Sy herinner my aan Hazel, wat meer as twintig jaar ge­lede vir my ouers gewerk het. Sy was ’n lewendige jong meisie en ek onthou veral die markante op- en afwaartse intonasie van haar stem.

Ek en Sof het op vals name besluit. (Dat ons die mense so om die bos moet lei!) Ek stel myself voor as Dolly Haze, en Sof stel haarself as Anna Livia voor. (Anna Livia Plura­belle. O / tell me all about / Anna Livia! I want to hear all about Anna Livia.)

Ek vra die ouer vrou of sy mevrou Steinmeier is en sy sê ja, sy is Rosie Steinmeier en dis haar dogter Alverine, en sy beduie na die meisie agter haar wat die baba op die ander heup sit met dieselfde beweging waarmee Hazel dit twintig jaar gelede sou gedoen het. Ek sê dat ons van die Bybel­ge­nootskap in Durban is en dat ons Patrick Steinmeier se pak­kie bring wat hy by ons bestel het. (By Cum Boeke in die groot winkelkompleks naby ons het ek ’n Bybel en twee geestelike boekies gekoop. Ek het groot moeite gehad met die keuse van titels: wat is naamlik geskikte titels vir ’n dooie?) Die pakkie het ek netjies opgemaak en Patrick se naam op ’n etiket daarop geplak.

Die twee vroue wissel ’n vinnige onderlangse blik.

“Patrick Steinmeier woon nie meer hier nie,” sê Rosie Stein­meier, die ouer vrou.

“Dis vreemd, want dis die adres wat hy gegee het,” sê ek.

Weer wissel die vroue ’n vinnige blik.

“Patrick Steinmeier is onlangs oorlede,” sê die jong vrou, Alverine, en haar intonasie is soveel soos dié van Hazel in­dertyd dat ek ’n oomblik van algehele verwarring ervaar. (Sou dit sý wees, onveranderd, ná twintig jaar?!)

Ek sê dat ek baie jammer is om dit te hoor en vra die ouer vrou versigtig of sy die moeder van die oorledene is. Rosie Steinmeier bring haar voorskoot na haar oë en knik. Ek hoor ander stemme in die huis, agter hulle.

“Dan gee ek maar die pakkie vir u,” sê ek aarselend, “met die komplimente van die Bybelgenootskap.”

Ek weet skielik nie hoe om voort te gaan nie (dat ons die arme mense so moet bedriég), maar Sof vra oor my skouer of ons ’n oomblik mag inkom.

Die twee vroue kyk na mekaar. Woordeloos tree die ouer vrou opsy sodat ons kan binnekom. Ons betree ’n koel, skemerige gang. My hart klop onbedaarlik. Ek weet nie wat ek hier gaan aantref nie. My vier skulpe in die uitstalkabinet. Vier skulpe teen die suidewind, my swartoogvrou, my blond­haar­kind. Ek het my dalk heeltemal misgis. Patrick Stein­meier het waarskynlik lank geen kontak meer met sy familie gehad nie. Dat ons onder sulke valse voorwendsels die huis moet binnekom!

Uit die gang word ons in die sitkamer gelei. Daar is don­ker bal-en-klou-meubels, asook ’n sitkamerstel met ’n don­ker, geblomde patroon, en ’n magdom ornamente en gehe­kelde lappies. Die gordyne is diggetrek. Op die bank en een van die leunstoele is daar twee groot opgestopte speel­goed­tiere. In die halfskemer deins ek ’n oomblik terug – ek dag dis ’n hond of iets. Skrik my lam. Hart bonsend in my bors­kas. Teen die mure is afdrukke, sommige geraam in ornate rame. In een hoek van die vertrek is ’n blink donkerhout-vertoonkas. Ek wil nie te veel rondkyk nie, maar kan myself nouliks help. Sonder om te ooglopend te staar, neem ek elke detail van die vertrek met ’n brandende blik in.

Ek sit op die puntjie van die bank, langs die groot tier wat my dophou met sy gloeiende glasoë. Sof sit oorkant my, sedig en regop, haar bene by die enkels gekruis, onder ’n groot afdruk van ’n landskap in gloeiende sintetiese kleure, in ’n vergulde, oormatig versierde raam.

Rosie Steinmeier vra of ons ’n koppie tee wil drink, en sy sê Alverine aan om dit te gaan maak.

Ek is nou heeltemal van stryk en kan aan niks dink om te sê nie behalwe om mevrou Steinmeier te komplimenteer met die voorkoms van die vertrek, hoewel my geesdrif vir my gevoel besonder onopreg klink. Op hierdie punt kom Sof se pastorie-persona egter tot ons redding. Sy skuif vorentoe in haar stoel, maak keel skoon en vra ferm dog simpa­tiek, soos iemand wat gewoond is om daagliks die rondtes te doen, of Patrick oorlede is na ’n siekbed.

“Nee, mevrou,” sê sy moeder, “die omstandighede van sy dood is báie droewig.”

“Waarom dan so?” wil Sof weet.

“Hy het sy hand aan sy eie lewe geslaan, mevrou,” sê die vrou.

Sof sê sy is bitter jammer om dit te hoor; dit moet sekerlik vir die gesin ’n groot skok en beproewing wees.

“Nétso, mevrou,” sê Rosie Steinmeier.

Op hierdie punt kom Hazel-Alverine die vertrek met ’n skinkbord binne, en agter haar, sonder enige twyfel, die jong man wat ons gisteraand in Die Rooi Lantern gesien het. Herr K., op pad na die kasteel. Die jong man met die ontwykende blik, met die konsentrasieprobleem.

Ek en Sof gee mekaar ’n vlugtige hoewel dringende kyk. Die moeder stel hom voor as Jaykie, haar jongste kind. “En dis nou miss Dolly en miss Anna van die Bybelgenootskap in Durban,” sê sy. “Hoe is die van nou weer, miss Anna?” vra sy vir Sof.

“Livia,” sê Sof, en maak effens keel skoon.

“Ongewóón, mevrou,” sê Alverine (op ’n háár met Hazel se intonasie. Die eerste lettergreep van “mevrou” heelwat laer as die laaste.)

Jaykie skud hand. Sy hand is koel en klam en sy handdruk nie baie stewig nie. Net ’n oomblik ontmoet ons oë. Ongewone oë. Donkerbruin, skelm. Donker, amper swartbruin om die buitenste rand van die iris en ’n effens warmer bruin na die middel toe. Effens skeel, soetskeel. Gekrulde wimpers, donker, welige wenkbroue. En hy ruik na naskeerroom. Halfelf in die oggend in Ladybrand ruik hierdie jong man na naskeerroom. Kan dit hy wees?! As hy van­oggend na naskeerroom ruik, en die skulpe is by sy broer se lyk ge­vind – kan dit wees dat hy ook by die diefstal betrokke was? Dra hy kennis van die inbraak? Weet hy van my gesteelde skulpe? Kon dit hierdie jong man wees wat óf my skulpe ge­vat, óf op my mat gekak het? Dit was geen onskuldige ge­baar nie. Dit was ’n daad van aggressie en intimidering. Weet hy wie ek is, sien hy dalk deur ons blufspel?

“Ja, mevrou,” sê die moeder, antie Rosie, “dis ’n vreeslike ding wat oor ons gekom het.”

Alverine skink die tee. “Hou vir miss Anna en miss Dolly die skinkbord!” sê sy vir Jaykie. Met oordrewe hoflikheid trek hy eers klein bal-en-klou-koffietafeltjies vir my en Sof nader. Dan hou hy die skinkbord met tee. Sy houding is die ene onderdanigheid. Sonder om té opsigtelik te snuif, leun ek effens vorentoe terwyl ek my teekoppie optel, om sy reuk weer op te vang. Ek kan in die gelade oomblik nie die reuk identifiseer nie. Toe ek die koppie by hom neem, mors ek in my piering. Hierdie man was dalk in my huis. Erger nog, hierdie man weet dalk wie ek is. Hy het lankal deur ons vals voorwendsel gesien.

“Het u enige idee, mevrou,” vra Sof in haar pastoriestem, “wat presies gebeur het?”

Ek byt in ’n lemon cream. Jaykie sit met sy oë neerge­slaan, die knieë teenmekaar, sy hande tussen sy knieë vasgedruk. Sy hele houding getuig van nouliks onderdrukte rus­teloosheid. Ek neem ’n slukkie van die flou, melkerige tee.

“Hy was in die moeilikheid, mevrou,” sê Hazel-Alverine, “ons dink hy het met gangs deurmekaar geraak.”

“Het hy in die stad gewerk?” vra Sof.

“Ja, mevrou,” sê die Hazel-suster, “dan het hy meesal na­weke huis toe gekom. Maar die afgelope maande ook nie meer so dikwels nie.”

Voor my teen die muur, bokant Sof, hang die landskap in die vergulde raam. ’n Vredige toneel van ’n waterstroom met welige oewers en skaduryke bome. Die kleure is sintetiese seegroene en skel, herfstige oranjes. My oë dwaal na die uitstalkabinet met die foto’s in die verste hoek.

Sof klik simpatiek met die tong. Sy neem ’n delikate sluk­kie tee. Ek durf nie haar oog vang nie.

“Wys vir die mevrou Patrick se foto,” sê die moeder vir Jaykie.

Jaykie spring op, haal ’n geraamde foto van die kabinet af, en oorhandig dit aan my. Weer ontmoet ons oë ’n oom­blik. Die oë is tegelyk guitig en slinks. Slinkse priesteroë. Ek het sulke oë al in religieuse portrette gesien. Die oë van hei­li­ges of vertroueswendelaars. Bedotters. Of epileptici.

Ek kyk na die foto.

“Dis ’n foto van Patrick op sy troudag,” sê die moeder.

Bruid en bruidegom is tot by die skouers afgeneem. Die bruid het ’n stywe, weerbarstige haardos en een lok is kuns­tig oor haar linkeroog geborsel. Haar kort sluier bol agter haar. Daar is konfetti op. Patrick dra ’n ligte pak. Sy hare is kort en krullerig, soos sy broer s’n. Hy het ’n lang neus, veel langer as dié van sy broer. Sy wenkbroue loop in ’n sterk, af­waartse boog na sy slape. Ek span my in om ’n ooreen­koms te sien tussen hierdie man en die foto’s van die lyk wat konstabel Modisane my gewys het. Ek dink ek sien iets, ’n vae ooreenkoms. Die lyk was ook dié van ’n lang, maer man, maar ek kan nie die neus onthou nie. Die foto’s was ook nie bepaald vleiend nie.

Dat ek hierdie mense so om die bos moet lei! Die man op die troufoto (waarmee ek nog in my hand sit) het niks te make met die man wat my skulpe gevat het nie. Of met die foto’s van die hangende lyk wat konstabel Modisane my laat sien het nie. Die konstabel het ’n fout gemaak! Iewers is daar ’n groot misverstand. Dit sal nie die polisie se eerste vergis­sing wees nie. Wat doen ons hier, op ’n Saterdagoggend in Ladybrand, in mevrou Rosie Steinmeier se huis? As iemand hier met die verdwyning van die skulpe te make het, is dit eerder Jaykie met sy walm van naskeerroom en sy verleidelike bedrieërsoë.

Dit dink ek alles terwyl ek op die bank sit langs die op­ge­stopte tier met die glas-oë. Terwyl Sof die gesprek aan die gang hou, en mevrou Steinmeier, die bedroefde moeder, kort-kort haar oë met haar voorskoot afvee, en Alverine deur­entyd die baba op haar heup sus, presies soos wat Hazel dit sou gedoen het twintig jaar gelede in my ouers se huis.

“Hy was ’n goeie man, mevrou,” sê die moeder. “Hy sou niemand kwaad doen nie. Hy was ’n Christenmens ook. Maar hy is verlei! Hy is deur skelms en booswigte verlei!”

“Skollies!” sê die suster. “Hulle het hom dit máák doen!”

“Wat?” vra ek. Ek is afgelei, ek is half verbouereerd. Ek is nie meer seker van my saak nie. Ek is oorweldig deur die ooreenkoms tussen Alverine en Hazel. Ek is oorspoel deur vreemde assosiasies en herinneringe. Ek het ’n gevoel van onwerklikheid.

Daar is ’n oomblik lank stilte.

“Hulle het hom die crimes laat pleeg, miss Dolly,” sê Al­verine, “ons dink hy het met gangs deurmekaar geraak, in die stad.”

“Dis in die stád waar hy so mislei is,” sê die moeder. “Dis waar hy so die pad byster geraak het.”

“Het hy kinders gehad?” vra Sof (my steun en toeverlaat in hierdie verwarrende uur, hoe dankbaar is ek dat sy saam­gekom het).

“Ja, mevrou, hy het kinders, maar sy vrou is lankal vort met hulle,” sê die moeder.

“Ons het die foto’s gesien,” sê die suster sag. “Die polisie het vir ons die foto’s kom wys. Soos hulle vir hom daar ge­kry het.”

“Weet julle verseker dat dit hy was?” vra ek.

“Dit was hý, mevrou,” sê Alverine, en die moeder vee weer haar oë af.

“Ons weet tot vandag toe nie wat gebeur het nie, me­vrou,” sê die moeder, “die polisie het net vir ons kom sê.”

“En die foto’s gewys,” sê die suster. “Ons verstaan dit nie, miss Dolly! Die een dag is hy nog hier, die volgende dag bring die polisie vir ons die foto’s!”

Ek maak keel skoon. “Het dit hier gebeur,” vra ek, en ek maak ’n vae handgebaar, “hier in die omgewing?”

“Ja, mevrou,” sê die Hazel-suster, “daar net so skuins voor die afdraai na die grootpad, daar sal mevrou so ’n klein baksteengeboutjie sien, dis dáár waar hulle hom gekry het.”

Jaykie sit met die hande tussen die knieë, hy beweeg on­rustig vorentoe en agtertoe op sy sitplek. Dit lyk of hy enige oomblik gaan opspring. Ek vra of ek die toilet mag gebruik. Alverine beduie waar dit is. Dit is ’n groot vertrek met ’n ou­tydse bad, en ’n outydse medisynekassie teen die muur. Ek kyk vinnig in hierdie kassie. Geen teken van Boss After­shave nie. Of van ’n skulp nie. Ek sit ’n rukkie op die bad se rand. Die foto’s wat konstabel Modisane my gewys het, die bevuilde skulpe wat ek teruggekry het, my ge­steelde skulpe, die misdaad, my komplekse gevoelens van verlies, dit het alles niks te make met hierdie mense van­oggend in hulle voorhuis in Ladybrand nie. Iewers is ek op ’n groot dwaalspoor. En dat ek in die proses so vir die arme mense moet liég! Behalwe Jaykie. Hom vertrou ek nie. As daar ’n skakel is, moet hierdie jong man dit wees. Die kanse is goed dat hy kennis dra van wat met my skulpe gebeur het.

Toe ek terugkom, vra ek of ek bietjie in die vertrek mag rondkyk. Op die uitstalkabinet is daar, behalwe die trou­portret, ’n hele paar ander foto’s in raampies. Daar is ’n paar borde uitgestal met geskilderde pienk blomme daarop, ’n horlosiewyster is gemonteer op ’n deurgesaagde gedeelte van ’n boomstomp. Daar is twee glase met kunstig gevoude blou servette in, koperondersetters, en twee identiese glas­visse wat deur glasgolwe ondersteun word. Geen teken van ’n skulp nie.

Toe ons opstaan om te gaan, vra ek vir Jaykie of hy ook in die stad werk. Voor hy kan antwoord, sê sy moeder: “Jaykie is die artist in die familie, mevrou! Jaykie, gaan haal jou art works, wýs vir die mevrou!”

Jaykie kom terug met ’n klein kunsleggertjie. Gedienstig presenteer hy sy kunswerke. Dit is meesal potloodteke­ninge, meesal van vroue, sowel naak as gekleed. Jaykie is helaas nie baie vaardig met die potlood nie, en waarom verbaas dit my nie? Ek kan my voorstel dat hy moeite het om die potlood reg vas te hou en om lank genoeg op een plek stil te sit. (Het Sof nie die vorige aand al gewys op sy on­handigheid met die pen nie?) Die tekeninge, meesal met ’n soetige tematiek, het ’n ontroerende onbeholpenheid, soos van iemand veel jonger. In een van die tekeninge slaan ’n meisie haar oë dramaties op na die hemele – die heilige Theresa met ’n Barbie-haarstyl. Ek en Sof maak waarderende geluide, maar durf mekaar se oog nie vang nie.

“Studeer jy iewers kuns?” vra Sof.

“Nee, mevrou,” sê Alverine trots, “hy het homself geleer. Hy spaar sy geld om volgende jaar by die tech in die stad te studeer.”

Hierna groet ons. Ons word met groot gebaar by die deur afgesien. Ons word hartlik vir ons besoek en die pakkie be­dank. Ons word hartlik vir ons moeite en ons simpatie be­dank.

Toe ons in die kar sit, vra ek vir Sof: “Waar kom hulle aan daardie opgestopte tiere?”

“Mens kry dit gratis as jy ’n Sealy Posturepedic koop,” sê sy.

*

Ek sê vir Sof ek wil nie langer in die dorp bly nie. Ek wil nou onmiddellik huis toe gaan. Die plek maak my kriewelrig, sê ek. Ek wil huis toe gaan en alles gaan oordink. “Dit is dan wat Herr K. op pad na die kasteel betref,” sê ek, “dis nie uitgesluit dat daardie skynvroom jongeling moontlik óf my skulpe gevat óf op my mat gekak het nie. Alhoewel,” sê ek, “ek het my ernstige twyfels hieroor. Daar is tog iets in­nemends aan hom, en hy lyk nie vir my heeltemal die tipe wat op vreemdelinge se matte sal defekeer nie. Maar hy steek iets weg. Daarvan is ek seker. Dit sal my niks verbaas as hy iets weet van die skulpe nie.”

Ek sê vir Sof, nou moet sy praat om my af te lei. Ek sal bestuur, dit sal my goed doen om my oog op die pad te hou, maar sy moet praat. Die hele fokken episode, sê ek, het my onthuts en my nog meer op my senuwees gemaak.

Voor ons die afdraai neem na die nasionale pad, sien ons die geboutjie op regterhand waar Patrick Steinmeier homself van die dakbalk af opgehang het. Vermoedelik is dit daar waar die skulpe in ’n sakkie by sy voete aangetref is. (Ek het nog altyd aangeneem dit is by sy voete gevind.) Ek wil stilhou en kyk, maar die gebou het geen vensters nie, en dit word deur ’n stewige draad van die pad geskei. Ek dring nietemin daarop aan om uit te klim en ’n paar foto’s te neem.

Praat, sê ek vir Sof, en moenie ophou voordat ons in Durban is nie.

*

“Toe die oorlog in 1914 uitbreek,” sê Sof, “is James Joyce en sy gesin van Trieste na Zürich. Sou hy in Trieste aanbly, was die gevaar dat hy geïnterneer kon word. Daar skryf hy sewe jaar lank aan Ulysses. In die tyd het hy fits, ulcers, talle oogprobleme – daar is ’n daaglikse opbou van vloeistowwe in sy oë, sy sig gaan by die dag agteruit. Hy sit saans in ’n kamer met ’n tassie op sy skoot en skryf. Hy werk tien uur per dag. Na elke episode stort hy ineen. Nora verpleeg hom totdat hy weer op die been is. Hy skryf aan almal wat hy ken om vir hom inligting oor Dublin aan te stuur. Sy gargantuaanse verbeelding bring ’n duisend en een disparate dinge by­mekaar. Liedjies, kaarte, matroosgrappe, segswyses. Hy vra sy ant Josephine om dinge neer te skryf op stukkies papier. Hy is op soek na enigiets, want hy kan van alles en enigiets gebruik maak. Sy kop is soos ’n fabriek. Stel jou voor wat alles daarin aangaan!”

Maar ek val haar in die rede.

“Wie sou dit gedoen het?!” sê ek. “Is ek heeltemal op ’n dwaalspoor? Het die Steinmeiers miskien niks hiermee uit te waai nie? Nie een van die twee broers nie – nie die arme dooie en nie Jaykie nie. Geoordeel na sy tekeninge het hy nie ’n besonder sensitiewe oog nie, en ek weet ook nie of hy dit in hom het om so ’n drol te produseer nie.”

“Die menslike natuur, soos die menslike spysvertering­stelsel, is ondeurgrondelik.”

“Ondeurgrondelik?”

“Wel. Onvoorspelbaar,” sê Sof, en gee ’n klein hoesie.

“Van een ding is ek wel seker – dis nie dieselfde persoon wat albei dade gepleeg het nie. Ek kan nie sien hoe iemand met só ’n fyn oog vir skoonheid so ’n growwe en gewelddadige daad kan pleeg nie,” sê ek.

“Dis nie onmoontlik nie,” sê Sof.

“Dis nie onmoontlik nie – maar dis hoogs onwaarskynlik!” roep ek. “Nee, eintlik ís dit onmoontlik. Dis buite die kwes­sie. Dis onversoenbaar met my siening van die wêreld.”

“Dit sal nie die eerste geweldenaar met ’n verfynde oog wees nie,” sê Sof. “Neem die markies De Sade as voorbeeld.”

“Waarvan?”

“Van iemand wat nie sou skroom om op iemand anders se mat te kak nie, en ’n verfynde literêre sensibiliteit het,” sê Sof.

“Hy het nie na my wete op matte gekak nie.”

“Wat ook al,” sê Sof. Sy hou haar oog op die pad. Ons neem beurte om te bestuur.

“Ek praat onder korreksie,” sê ek, “maar niemand in De Sade kak op matte nie, hulle defekeer op mekáár!”

“Die manskarakters defekeer waarskynlik op die vroue­karakters,” sê Sof. “Maar ek kan ook met geen sekerheid sê nie. Ek het lanklaas De Sade gelees. Waarskynlik op hoër­skool laas.”

“In die pastorie?”

“Waar ook al. Miskien nie in die pastorie nie, miskien op universiteit.”

“Maar Jaykie dra kennis van die saak,” sê ek, “want hy kon my nie in die oë kyk nie, en die skulpe is by sy broer gevind.”

“So?” sê Sof.

“En hy het na naskeerroom geruik vanoggend. Jy moet dit ook geruik het.”

“Dit bewys nog niks,” sê Sof. “Jy kan nie beweer dis dieselfde man wat in jou huis was net omdat hy na naskeerroom ruik nie.”

“Tienuur die oggend in Ladybrand? Wie gebruik tienuur op ’n Saterdagoggend in Ladybrand naskeerroom?”

“Jaykie Steinmeier,” sê Sof, “omdat hy ’n artist is.”

“Sof,” sê ek, “moenie my treiter nie.”

En dit is net hier, weet ek ineens, waar ons vriendskap be­klink word.

*

By die huis aangekom is ek diep ontstig. My gedagtes be­weeg rusteloos van die een ding na die volgende. Ek moet liewer nie daaraan dink dat daardie jongeling met die aanvallige, soetskeel oë miskien op my mat gekak het (on­waar­skynlik), of erger nog, dat hy my doelbewus mislei het, en dat hy die res van my skulpe iewers wegsteek, of weet waar hulle weggesteek word (meer waarskynlik). Flitse van die lieflike landskap waardeur ek en Sof pas gereis het, verskyn voor my geestesoog. Ook die suster van die gehangde man – die herverskyning van Hazel na twintig jaar – bly my sterk by. En wat het van háár geword, van daardie lewendige jong vrou? Ek onthou haar met my kind op haar heup, hoe sy stil staan en luister, asof sy wag op ’n antwoord. Ek onthou Marthinus Maritz se brutale sydelingse blik. Hoe onthou ek my moeder, en my vader, en Joets? Watter neerslag het daar van hulle oorgebly in my gees? Ek het hulle met groot leed aan die dood afgestaan: my moeder nog meer as my vader. Sof het op die terugweg voortgegaan met die verhaal van James Joyce. Sy het vertel dat Joyce se moeder altyd in sy fiksie terugkeer om hom te vervolg. “Thou hast suckled me with bitter milk,” sê Joyce van haar. Ek het met min aandag geluister en met nikssiende oë gekyk na die lieflike winterse valleie en dale wat Sof aan my uitgewys het.

Ek kan nie slaap nie. Ek bel Frans de Waard, die man, my metgesel, met wie ek die afgelope sewe jaar ’n verhouding het (seksueel van aard en intensie). Hy hou laatnag-ure.

“Het jy enige idee,” vra ek hom, “of daar in De Sade op mekaar gedefekeer word?”

“Ja. Dit gebeur in een of ander stadium.”

“Wat gebeur presies – wie ontlas op wie?” vra ek.

“Ek kan nie onthou nie. Ek het dit te lank gelede gelees.”

“Jy wil nie sommer raai nie?”

“Nee,” sê Frans, “waarom sou ek wou raai? Laat ek lie­wer nie iets sê waarvan ek nie seker is nie. Goed so?”

“Ja,” sê ek, “goed so.”

Verbeel ek my of hoor ek iemand in die agtergrond fluister. Het ek hom betrap – in flagrante delicto betrap?! Nee, dit het meer met my eie fantasieë as met die werklikheid te make. Geen man het nog beter by my gepas nie. Hy is ouer as ek, ironies, erudiet, en vol verrassings in die bed. Hierdie man is die beste wat ek ooit op my lewenspad sal teëkom, dit het ek gou genoeg besef. Hy is verdiensteliker as enigiemand met wie ek voorheen in ’n verhouding was. Hy is soveel as wat ek ooit van ’n minnaar en metgesel kan verlang. Dit het my nietemin nie daarvan weerhou om aansoek te doen vir die assistentskap toe Theo Verwey dit geadverteer het nie. Ook al sou dit beteken dat ons ’n tyd lank uitmekaar sal wees en mekaar nie gereeld sal sien nie. Hy het my reeds veel plesier verskaf, en ek reken daarop dat hy dit steeds in die toekoms sal doen. En ek meen dat ek hom, op mý beurt, ook voldoening gegee het en nog sal gee.

*

Ek het op my rolletjie film vyf foto’s van die geboutjie waar­in Patrick Steinmeier homself opgehang het. Al was ek nie besonder op die landskap ingestel nie, het ek vier foto’s ge­neem van die manjifieke sandsteenkranse langs die pad. Ek het ’n foto van Sof geneem by die motor, met die berge in die agtergrond, en sy het op haar beurt van my ’n foto ge­neem. (Sof, van wie ek eintlik nog heel weinig weet, wat op die ingewing van die oomblik met my saamgegaan het op die verkenningsbesoek aan Ladybrand, en wie se pastorie-­persona die besoek aan die dooie man se ouerhuis aansienlik vergemaklik het.) Elf foto’s op ’n rolletjie van vier en twintig. Voor ek dit ingee om te ontwikkel, moet ek miskien die rolletjie volmaak. Ek het die film gekoop omdat ek voor­nemens was om die presiese opstelling van die skulpe langs my bed te dokumenteer. Daarby het ek nooit uitge­kom nie.

Ek het jare lank ’n voorkeur vir swaarder, groter skulpe gehad, veral vir die konusse – daardie groot verskeidenheid swaar vorms uit die tropiese waters. Maar die afgelope jaar of vier, vyf het ek met groter waardering en belangstelling na ander, ligter skulpe begin kyk, en my versameling met die tonnas, helmskulpe en harpas begin aanvul. Die twintig skulpe langs my bed was almal van middelslaggrootte (die swaarder konusse en dramatiese murekse het ek in die sit­kamer uitgepak). Hulle kleur het gewissel van sandwitte, ge­dempte okers en pienk-okers tot die donkerder bruinpienke van die harpas en die delikate bloue van die Tonna perdiks. Ek het hulle langs my bed in drie rye uitgepak. Soms het die lig so geval dat hulle daardeur van onder belig is, sodat hulle gegloei en bykans gewigloos gelyk het – met ’n anderwêreldse skoonheid, soos die leërskares van die heiliges, die rangordes van die engele. Hierdie skulpe was die laaste voor­werpe wat ek saans gesien het voor ek die bedlamp afska­kel, en die eers­te voorwerpe waarop ek my blik laat rus het soggens as ek wakker word. Deur na hulle te kyk, het ek my innerlik versterk gevoel. Hulle skoonheid het my ver­troue in die skepping herstel. Ek het my één gevoel met die oorwel­digende verskeidenheid lewensvorms op aarde, ’n klein ska­kel­tjie in die on­meet­bare ketting van toeval wat ons algar verbind.

Ek handig die filmrolletjie net so in. Ek kan aan niks dink wat ek wil afneem om dit vol te maak nie. Ek vertel nie vir Theo Verwey van my besoek aan mevrou Rosie Steinmeier in Ladybrand nie. Ek vertel hom nie van die gehangde man en die foto’s wat ek van die geboutjie geneem het nie. Ek vrees hy sal dit belaglik vind. Miskien ís dit belaglik – my pogings om op die spoor van die verlore skulpe te kom. Ek het ná die inbraak kortliks teenoor hom genoem dat my skulpe gesteel is, en dit daarby gelaat.

Ek sit met die kaarte in my hand. Ons is steeds besig met die letter D. Dorskuur (soos ’n hert in dorre streke). Dorslied en dorsnood. Dorsnood? vra ek. In minder gebruiklike same­­stellings soos dorsbrand, dorsdood, dorspyn, sê Theo, met die betekenis van veroorsaak deur dors. Sal ons iets gaan drink? vra ek. (Theo glimlag.) Dos. (Hoe sjarmant sien hy vanoggend daar uit, uitgedos in die fraai roomwit syhemp.) Gedos in die drag van die dodekleed, sê Leipoldt. Doteer. Dou­boog, doubos, doubraam. Douig – geen woord vir hier­die provinsie nie. Al die draadverbindings! Wie sou kon dink, sê ek vir Theo, dat draad, draag en draai soveel ver­bin­dings­moontlikhede sou hê! Draaihaar, sê ek, is dit jou ervaring ook dat mense met draaihare kwaai is? Theo glimlag kopskuddend. Draaihartigheid sou eintlik ’n karakter­eienskap moes wees, sê ek. Draais. (Soos jags.) Maar dit is veral droef wat my interesseer. ’n Neerslagtige stemming. Van leed getuigend. Wat leed veroorsaak of daarmee ge­paard­gaan. Wat ’n som­bere stemming wek. Bedroewend. Ook in verbinding met selfstandige naamwoorde ter aanduiding dat die genoemde kleur troebel, dof is en tot droefheid, treurigheid en neerslag­tigheid stem. (Droefrooi.) En droefheid is die toestand of hoe­danigheid van droewig, treurig, verdrietig wees; terneergedruktheid, neerslagtigheid; iets droewigs, treurigs; hartseer, teenoor blydskap. Is dit al? dink ek. So weinig woorde vir ’n emosie met soveel skakerings – die ganse kleurspektrum – van droefwit tot droefswart, van droefpurper tot droeforanje. (Droeforanje, droefblanje, droefblou.)

Die boek van toeval en toeverlaat

Подняться наверх