Читать книгу Die troebel tyd - Ingrid Winterbach - Страница 5
Twee
ОглавлениеIn Junie stuur Markus Potsdam Magrieta Prinsloo na die Oos-Kaap om daar ’n nuwe medewerker te werf en met ’n bestaande medewerker te skakel (hy verwys na hulle onderskeidelik as agente Oliver en Green). Voorts is daar ’n ander medewerker, ’n meisie by wie Magrieta moet uitvind of sy nog die mas opkom, dit lyk of sy sukkel.
Magrieta sien op teen die reis, sy is nie seker of haar nuwe antidepressant werk nie. In die Baai wag ’n man en vrou haar in toe sy aankom. Die man hou ’n rekenaartablet omhoog met haar naam daarop. Die vrou dra ’n grysblou jas van ’n goedkoop stof. By haar regtermondhoek het sy ’n onooglike letsel. Dit lyk soos ’n stuk geskeurde materiaal wat slordig toegewerk is sodat die lap op een plek vreemd plooi. Magrieta sit agter, die man en vrou sit voor. In haar regteroor, sien sy, het die vrou ’n wattepluisie. ’n Oorinfeksie of permanent beskadigde oordrom, raai sy.
In Albany-Wes word sy by ’n gastehuis in die dorp afgelaai. Die eienares, ’n bekommerde jong vrou, bied tee en beskuit aan. Sy waarsku Magrieta dat sy nie water uit die kraan moet drink nie, en dat die watervoorraad soms onverwags afgesny raak. Dis koud. Die wind waai. Teen halfses die aand is dit buite so nat en blou dat die wêreld soos ’n enorme akwarium lyk. Sy ontvang ’n whatsapp: Alles is pandemonium. Niemand weet wie in die bed is met wie nie. Xander is skynbaar terug uit Pretoria, minus sy geheue en sy sanity. Maar steeds bruikbaar as ’n figurehead. Sy het nie die geringste idee van wie dit kom nie.
Dis ’n koue nag vol wind en reën. Magrieta spoedlees ’n roman wat sy op die boekrakkie in haar kamer aantref. Dit speel in Tokio af. Sy slaan Endgame van Samuel Beckett oop soos mense die Bybel oopslaan vir ’n rigtinggewende teksvers. Haar oog val op die volgende woorde: “I say to myself the earth is extinguished, though I never saw it lit.”
Ondanks ’n goeie nagrus voel sy die volgende oggend nie goed nie. Sy ontmoet agent Oliver soos afgespreek by ’n coffee shop in die dorp. Sy naam is Jerry Oliver, hy is ’n paleoklimatoloog. Hy is reeds daar toe sy inkom, besig om iets op sy Kindle te lees. Hy is in ’n rolstoel. Markus Potsdam het dit nie genoem nie. Sy het ’n keer ’n roman gelees waarin ’n terreurgroep almal in rolstoele is. Baie gewelddadige groep. Politieke agenda. Sy gaan sit; skud agent Oliver se hand – koel en droog. Ylerige grys hare, snor en netjies getrimde grys baardjie. Hooded oë. Hy bestel wortelkoek en tee. Sy bestel koffie. Sy moet hom werf as medewerker. Hy sal onder meer vir ’n module oor klimaat verantwoordelik wees.
Wat lees hy? Hy lees Heidegger. (Al wat sy van Heidegger weet, is dat hy Nazi-simpatieë gehad het.) ’n Rolstoelterroris met ’n klap weg van die filosofie, dink sy. Sy probeer nie laat blyk dat sy onkant gevang is nie. Nie net daardeur dat agent Oliver in ’n rolstoel is nie, maar ook omdat sy verwag het dat hy dadelik gaan wegval met ’n uiteensetting van sy spesialisgebied – hoe ’n ondersoek na die klimaat van die Kambriese ontploffing lig kan werp op toekomstige klimatologiese verwikkelings op aarde. (Sy’s goed vertroud met die trieks van akademici – steek dadelik hulle kleim af en verdedig dit tot hulle laaste asem.)
Sy moet die gesprek aan die gang hou. Agent Oliver fokus op sy wortelkoek en tee. Effens vyandige uitstraling, as sy dit nie mis het nie. Hoe is die koek? Nie sleg nie. Binne die vertrek is die lig gedemp. Buite is die lug grys. In haar hart en kop is alles ook grys, dink sy. Dalk die nuwe pil. Die grysheid daal uit die hemel neer en sypel die coffee shop geleidelik binne. Dit gaan lê op alles: op agent Oliver, op die ander kliënte, op al die uitgestalde eetware op die rakke, op die tydskrifte, die dag se koerante, die mure, die plakkate van verskillende soorte kase teen die mure, op die vloer, die plafon. Die gewig van die insypelende grysheid dreig om haar longe plat te druk. Sy neem aan Markus Potsdam was al met hom in verbinding, sê sy. Hy knik. En hoe voel hy oor moontlike medewerking? vra sy.
Agent Oliver dep sy mond met sy servet, vou dit op, sit dit versigtig neer en sê: Met alle respek, juffrou, sê jy vir Markus Potsdam, hy kan sy Buro in sy gat steek. Magrieta is ’n paar oomblikke heeltemal uit die veld geslaan. Hoekom het jy dan ingestem om my hoegenaamd te ontmoet? vra sy. Om persoonlik die boodskap oor te dra, sê hy. En nou, as jy my sal verskoon, en hy tel sy Kindle op.
Magrieta staan op, haar bene effens bewerig. Sy gaan sit weer. Wat het jy teen Markus Potsdam? vra sy. Vra hom as jy hom weer sien, sê die man. Jy’t my tyd gemors, sê sy. Hy haal sy skouers op. Sy staan weer op, groet hom nie, en verlaat die coffee shop vinnig. Toe sy buite kom, kyk sy links en regs, en kies ’n roete. Af met die straat, regs op by ’n systraat tot in die hoofstraat, verby King Pie, Checkers, ’n bank, apteek, verby straatverkopers wat horlosies, pette en allerlei ander ware verkoop, bedelaars, vroue met babas op hulle rûe voor die poskantoor.
Tot in die onderdorp hardloop sy, regs van die katedraal verby, voor die sypelende grysheid uit wat dreig om haar in te haal. Haar asem jaag. Daar is iets gewelddadigs in die atmosfeer aan die broei. Die wind begin in rukkerige vlae waai. Die lug is ’n verraderlike pienkgrys, met swaelgeel ondertone. Hierdie deel van die dorp is veel besiger as die bodorp; sy’s op pad na die klein Woolworths-tak om daar ’n reiniger of iets te koop – enigiets. Reiniger, ’n jas, ’n trui, enigiets. Sy haas haar verby winkels soos Edgars en Foschini (met ’n versameling knalrooi, koningsblou en mosterdgeel sintetiese truie in die vertoonvenster), PEP en Jet. Mense, oorwegend swart, drom plek-plek saam op die sypaadjie en stuit haar gang. ’n Vrou sit by iets soos ’n omgekeerde skottelploeg waarop sy wors en uie gaarmaak, die worse soos onbesneë penisse. By ’n deuringang wat lei na ’n trap hou ’n man ’n plakkaat vas met foto’s van goue tande en tande met goue insetsels. Die man lyk nie Suid-Afrikaans nie – Nigeries? (Alle swart verdagtes is altyd Nigeries.) ’n Morose tiener met enorme dye skuur by Magrieta verby. ’n Man wil ’n selfoon aan haar verkoop.
Toe sy gille agter haar hoor, draai sy om, net betyds om saam met ander uit die pad te spring van ’n man in ’n rolstoel wat tierend op hulle afgepyl kom. Magrieta en ’n vrou in ’n mus met faux fur-oorflappe beland byna in mekaar se arms. So ver as wat die man met die sypaadjie afbeweeg, spring mense opsy, skree op die man en vloek hom uit in Xhosa. Hy steur hom nie daaraan nie en verdwyn om die hoek. ’n Oomblik lank het Magrieta gedink dis agent Oliver wat haar verbete agtervolg het, maar besef dit was ’n veel jonger man, met wange pienk van die koue.
Sy gaan terug na die gastehuis en slaap. Sy het ’n afspraak halfvier die middag met agent Green. Sy wag vir hom by ’n coffee shop – ’n ander een as die een waar sy die oggend vir agent Oliver ontmoet het. Ná ’n uur het hy nog nie opgedaag nie, en sy kan hom nie op sy selfoon bereik nie. Die wind waai steeds sterker. Magrieta waai behoorlik deur die dorp – jaspante en serp wapperend in die wind. Vyfuur waai sy by die gastehuis in. Die windsterkte neem toe. Dit begin hard reën. Die wind waai weldra so sterk dat dit lyk asof die bome horisontaal gebuig word. Dit reën onophoudelik. Sy wag vir agent Green om met haar in aanraking te kom. Halfsewe klop die eienares sag aan Magrieta se deur. Hulle het Thaise kos voorberei, wil sy dalk saam eet? Sy is dankbaar vir die uitnodiging.
Ná ete lees sy ’n paar gedigte in ’n klein William Blake-versamelbundeltjie wat sy op die boekrakkie in haar kamer vind. Sy lees onder meer die gedig oor die siek roos. Sy en haar gewese man het na Benjamin Britten se toonsetting daarvan geluister. Sy dink dis ’n gepaste gedig vir die stormagtige nag buite. Sy het per slot van sake ’n spesiale band met die wurm, of dit nou die hart van die roos metafories binnedring of te not. Die wurm bly steeds haar ding, al het sy dit tydelik probeer afsweer.
Die wind waai steeds onverpoos stormsterkte. Die nag waai dit so erg dat sy vrees die dak gaan afwaai. Sy slaap onrustig. By tye dink sy, nou, nóú vlieg die dak af, in hierdie huilende storm, met die onsigbare wurm wat iewers vlie, op soek na die roos se bed van karmosynvreugde.
*
Die volgende oggend is alles stil. Die storm het bedaar. Agent Green antwoord steeds nie sy foon nie. Sy sms vir Markus Potsdam: Green het van die aardbol verdwyn en agent Oliver lees Heidegger.
Potsdam laat weet: Moet jou nie deur die manewales en twyfelagtige leessmaak van agente van stryk laat bring nie.
Haar laaste afspraak is met agent Jansen van Rensburg, in dieselfde coffee shop waar sy agent Oliver ontmoet het. Die ruimte is minder grinterig as wat sy dit die vorige dag agtergelaat het, maar die stemming word by die halfminuut meer desolaat. Deur die venster sien sy hoofsaaklik bedelaars, karwagte en jong mense wat lyk soos studente verbystap. Op die smal stoep is ’n wit bougainvillea in ’n pot. Oorkant die straat, direk in haar gesigsveld, is ’n witgekalkte gebou met ’n toegeboude fasade. Magrieta was al van vroegoggend in die dorp; sy weet sy moet aanhou beweeg. Agent Van Rensburg het laat weet sy sal ’n rooi serp dra.
Tien oor drie kom daar ’n blonde vrou in met ’n rooi serp. Hare hofknaapstyl. Baie maer. Aankapknieë. Sy pyl uitasem op Magrieta af. Sy stel haarself voor as Nonki Jansen van Rensburg. Wil sy iets drink? Ja, asseblief. Sy vryf haar hande, rooi, in vingerlose handskoene. Sy’t ’n boek by haar – Bizarro Fiction: An Introduction. Daar’s vanaand ’n lesing hieroor by die Engelsdepartement, as Magrieta sou belangstel. Ja, waarom nie? Okay, Nonki sal haar kom oplaai. Hulle tee kom. Nonki eet hongerig. Sy praat baie. Sy’s verantwoordelik vir ’n geletterdheids- en dramaprojek in die township, onder die beskerming van die Buro. Sy’t grootgeword in Modimolle. (Die plek waar die monster sy gruweldade gepleeg het, onthou Magrieta.) Haar ouers was anti-apartheidsaktiviste. Hulle het die plaaslike sel van die SAKP bestuur. Hulle wás die plaaslike sel. Toe hulle oor die grens moes vlug na Botswana, is sy kosskool toe op die dorp. Toe was dit nog Warmbad. Die pits, sê sy. Dit was die verskriklikste tyd van haar lewe. (Sy lyk jonger as wat sy waarskynlik is. Sy hou haar koppie met albei hande vas. Steeds die halfhandskoene aan. Haar vingers is rooi asof die bloedtoevoer nie goed is nie. ’n Algemene verskynsel by mense wat te maer is.) Die ander kinders – Afrikaanse kinders – het haar behandel soos ’n melaatse. Hulle het gesê haar ouers is kafferboeties en sy’t ’n kaffernaam. Ná ’n jaar is sy na ’n kloosterskool in Mbombela, die ou Nelspruit, toe haar ouers Mosambiek toe is. Twee dinge doen sy nie meer nie, sê sy. Die een is Afrikaans praat, en die ander is haar wend tot die Maagd Maria – been there, done that, got the T-shirt. (Klein tietietjies, raai Magrieta.) Haar ma het later haar been verloor in ’n bomontploffing in Mosambiek, maar nou is haar ouers reeds albei dood.
En hoe gaan dit met haar projek in die township? Nonki haal haar skouers op, dis nie maklik nie, sê sy. Die omstandighede is uitdagend. Die mense kry swaar. Daar is ’n gebrek aan basiese lewensmiddele. Dis ’n stukkende gemeenskap. Sommige dae kry dit haar onder, maar sy hou nog net-net by.
Nonki kom laai Magrieta die aand op by die gastehuis. Die spreker is ’n gas van die Engelsdepartement. Sy kom uit Ysland (met die uitbarsting van die vulkaan Eyjafjallajökull ingewaai). Sy lyk soos Björk. Die lokaal is koud. Die studente staan koulik en handevrywend rond. Teen die mure is groot foto’s van Engelstalige Suid-Afrikaanse skrywers: onder andere Alan Paton, JM Coetzee, Nadine Gordimer en Bessie Head. Die Björk-dubbelganger praat oor Bizarro Fiction. Haar Engels is byna onverstaanbaar weens die magdom s-klanke, gerolde r’e, en die l-klank wat soos die tl-klank klink. Ná haar praatjie verkas almal na ’n partytjie by ’n studentehuis. Magrieta laat haar meevoer soos ’n blaar op water. Reënvlae, ysige wind. Op met ’n bult na die digs. In die sitkamer drom daar reeds ’n hele klomp mense saam. Daar is twee rusbanke met Lesotho-komberse bedek, vir die res plastiekstoele. ’n Tipiese studentehuis met ’n bont verskeidenheid plakkate teen die mure. In die kombuis is die skottelgoed in die opwasbak opgestapel. Die higiëne lyk nie waffers nie. Dis ’n nag van storms in die Oos-Kaap met die wurm wat vlie in die huilende wind.
Magrieta drink ’n paar glase wyn vinnig ná mekaar, want sy kry koud. Sy’t nie lus vir die grondboontjies en droë beskuitjies nie. Tussen die mensegedrang kom Magrieta die Yslandse skrywer teë. Sy sien nou duidelik dat die vrou niemand anders as Björk is nie. Soveel lyk sy na Björk, dat dit net sowel die vrou self kan wees. Magrieta vra haar of sy ook sing en die vrou sê, ja. Sy vra of sy soms plastiekrokke dra en die vrou sê, ja. Sy vra of die vulkaan steeds aktief is en die vrou sê, ja. Praat hulle net een taal in Ysland en die vrou sê, ja. Wat skryf sy? vra Magrieta. Sy herskryf die Oudnoorse en Yslandse sagas met ’n Bizarro-twist, sê die vrou. (Dis moontlik dat sy iets anders sê of bedoel.) Yslands se naby-isomorfisme aan Oudnoors beteken dat Yslanders sonder moeite die Eddas, sagas en ander Oudnoorse literêre werke uit die tiende tot die dertiende eeue kan lees (sy is weer nie heeltemal seker of dit presies is wat die Björk-vrou sê nie). Hoe fassinerend, sê Magrieta, wieg vorentoe en agtertoe op haar voete, en staar gehipnotiseer in die vrou se byna swart oë, bykans sonder ooglede, met die prominente epikantiese velvou, die ooghoekplooi, ook bekend as die mongoleplooi, so anders as die oë waaraan Magrieta gewoond is. Eet hulle mos in Ysland? vra sy.
Iemand kry haar aan die arm beet. Die vertrek is dig van die rook. Die persoon stel homself voor as Basil Green. Agent Green dus. Waar wás jy? vra sy, ons het ’n afspraak gehad. Klein mondjie, bolwange, sy lippe vasberade opmekaar geklem, asof hy ’n geheim bewaar. Ek was siek, sê hy, ek is jammer ek het nie met jou in aanraking gekom nie. Hy lyk inderdaad nie gesond nie. Sy gesig is bleek en sy vel is ongesond vlekkerig. Ons moet praat, sê sy. Hy knik. Sy mond gaan oop en toe. Dit lyk of hy iets wil sê, maar homself bedink.
Sy verskoon haarself, sy moet dringend toilet toe. Daarvoor moet sy deur die kombuis loop. Nie alleen loop die badkamer direk uit die kombuis nie (in stryd met die bouregulasies), maar hier hang daar, behalwe die oop draad waaraan die gloeilamp vas is, ’n hele paar ander los elektriese drade – lewensgevaarlik. Teen die muur bokant die bad staan geskryf:
If man does not take pleasure in killing, he becomes an animal
Daaronder het iemand anders geskryf:
What about women you cunt
In die kombuis is ’n vrou besig om iets op die stoof gaar te maak. Sy dra ’n lang swart romp en ’n swart trui, en sy het lang swart hare. Die gasvlam waarop sy iets in die pan gaarmaak (iets vegetaries?), is omtrent ’n meter hoog. Magrieta sidder. Hierdie huis is ’n death trap. In haar hand het die meisie ’n boek waarin sy lees terwyl sy die enkele patty gaarmaak. Magrieta vra haar wat sy lees. Woordeloos wys die meisie die boek se titelblad: Thus Spoke Zarathustra. Hoe vind jy dit? vra sy. Nietzsche is álles, sê die meisie, sonder om na Magrieta te kyk. Okay, sê Magrieta. (Sy stuur gou vir Potsdam ’n sms: Die mense neem hulle filosowe ernstig op in hierdie dorp. Hy laat weet: Nog ’n rede om hulle nie te vertrou nie.) Sy soek ’n skoon glas om water te drink, haar mond is droog en haar kop suis. Hier in die kombuis gaan dit alte jolig.
Toe Magrieta weer in die sitkamer kom, sien sy uit die hoek van haar oog, aan die oorkant van die vertrek, ’n man in ’n rolstoel. Nie agent Oliver nie, en ook, sover sy kan vasstel, nie die man wat gister teen volle spoed op die mense afgepyl gekom het op die sypaadjie in die onderdorp nie. Sy beweeg aan, tussen die mense deur, verby nog twee mans in rolstoele, toe iemand anders skielik haar weg versper. ’n Man, so donker van huid dat sy nouliks sy gelaatstrekke kan onderskei in die swak lig. Hy wil haar net gelukwens met haar werk, sê hy. Selfs sy oogwitte is donker. Sy mond is groot, beweeglik en uitdrukkingsvol. Magrieta het ’n oomblik lank geen idee waarvan hy praat nie. Ons dra jou op die hande in Venda, sê hy. My studente het die grootste bewondering vir jou navorsing. Jy moet ons kom besoek, sê hy. Ek stuur vir jou ’n uitnodiging. Haar wurmnavorsing, besef sy. Haar vorige lewe. Gráág, sê sy. Sy sê nie dat sy haar navorsing gestaak en die departement in oneer verlaat het nie. (Iemand anders sit nou haar gerespekteerde navorsing voort; speur nou die evolusie van die erdwurm se rudimentêre senuweestelsel na.)
Hy stel homself voor, professor Mogoerane, hoof van die dierkundedepartement by die Universiteit van Venda in Thohoyandou. Sy weet van hom, hy is ’n paleosoöloog. Sy skud sy hand. Soos wat sy in die gedempte lig sy gelaatstrekke beter begin onderskei, sien sy hy lyk na ’n gawe kêrel. Geen droë bokkom nie, nogal ’n skalkse flonkering in die oog. En die lieflike, groot, gul mond, waarvan die binnelip heelwat pienker as die baie donker liprand is. Sy staar gefassineer hierna. ’n Vasberade mond, maar ook die mond van ’n genieter.
En waarop werk hy? vra sy. Hy en sy studente is besig met ’n groot, nuwe projek, hulle is baie opgewonde hieroor. Dis eintlik nog nie algemeen bekend nie, maar hulle het ’n vindplek naby Makhado, aan die Soutpansberg. Hy kan byna met sekerheid sê dat dit dateer uit die Middel-Kambrium. Miskien ewe ryk as die Burgess Shale. ’n Eerste vir Suid-Afrika. Hulle is baie baie trots en opgewonde, sê hy weer.
Hy kyk oor sy skouer, buig dan nader aan haar, sy gul mond by haar oor: Hulle is versigtig om dit nou al bekend te maak, maar een van hulle eerste vondste is ’n fossiel wat baie lyk op die Opabinia! Vyf oë, fluister hy in haar oor, kan sy dit glo, en dieselfde probiskussnoet! Kan dit wees?! roep sy verras uit. Hy glimlag triomfantlik. Sy moet kom kyk, sê hy. Hulle sal haar graag op die vindplek wil hê. Hulle het die hoogste agting vir haar kundigheid. Sy binnelip so ’n verrassende helderpienk, en die mond so buitengewoon stewig en welomlyn. Wonderlik, sê sy, sy sal graag ’n draai daar maak – sy was nog nooit in die Soutpansberg nie. Hy gee sy kaart vir haar. Sy glip dit in haar handsak, groet hom, en probeer Nonki se oog vang.
Dis tyd om huis toe te gaan. Sy is moeg. Maar Nonki is druk in gesprek met ’n seningrige kêrel met dreadlocks aan die oorkant van die vertrek. Die man maak vreemde slangagtige bewegings met sy lyf, dit lyk trouens of hy moeite het om regop te bly, terwyl Nonki passievol met hom praat. Selfs op hierdie afstand kan Magrieta sien sy gesig het die glasige uitdrukking van iemand wat gerook is. Sy kry Nonki aan die arm beet, dis laat, kan hulle asseblief huis toe gaan, maar Nonki is nie weg te skeur van die gerookte kêrel nie. Hy is roekeloos handsome, met die sleazy good looks van ’n pimp of ’n small-time dwelmhandelaar. Ranke lyf, ongefokuste oë. Hy rig sy glasige blik op Magrieta en sê: “What is this, my sister, come join us.”
Agent Green bied aan om haar ’n geleentheid terug na die gastehuis te gee. Dis ysig buite, maar ten minste reën dit nie meer nie. Wie is die kêrel met wie Nonki so ingenome is? vra sy. Dis Robert Raditsela, ’n digter, hoë profiel hier en in die buiteland. Hy dig in Setswana en Engels.
Sy moet haar een oog toeknyp om te fokus, haar kop buitensporig aangeklam deur die baie drank op ’n leë maag.
Hy is self ook ’n skrywer, bieg agent Green skamerig. Ag lieflik, sê Magrieta. Sy moet haar inspan om nie op te gooi nie, dit moet wees van die koue en die drank. Agent Green beduie met sy hande terwyl hy praat. Sy handpalms en eerste vingerlit is vlesig, die vingers sit wyd op die palm gespasieer en buig ver agtertoe. Sy hande herinner Magrieta aan die geïllustreerde hande wat sy in ’n boek oor Japannese tantras gesien het, toe sy in die verwoede fase van die eerste antidepressant was.
Wat is dit met al die mense in rolstoele in hierdie dorp? vra sy. O, sê hy, daar’s op die oomblik ’n konvensie van rolstoelgebruikers by die universiteit. Is agent – is doktor Oliver deel daarvan? vra sy. Nee, sê hy. ’n Konvensie van rolstoelgebruikers. Ag so. Die groep in die roman het van erg gewelddadige metodes gebruik gemaak. ’n Terreurgroep met ’n ingrypende politieke agenda. Agent Green beduie met sy tantriese hande, maar sy hoor nie ’n woord van wat hy sê nie. Sy’s te moeg, te naar, te koud, te gedrink, te ver heen op een of ander dwaalweg of onbegaanbare pad. Wat doen sy in die nag, in die Oos-Kaap, op ’n onbekookte sending? Al geruime tyd ver van haar goed, naby haar skade.
“Hou stil,” sê Magrieta. “Ek moet opgooi.”
Sy klim net betyds uit en gaan staan langs die motor. Sy buig vorentoe. Sy druk met haar hande op haar knieë. Haar ribbekas trek gewelddadig saam. Sy gooi ’n helder straal suur vloeistof op. Bo haar beleërde en belemmerde hoof is Spica, Arcturus, Vega en Altair prominent in die naghemel.
Toe sy klaar is, vee sy haar mond af met die agterkant van haar hand. Haar tande klapper opmekaar. Sy staan met haar een hand teen die dak van die motor aangeleun. Sy’t ’n fout gemaak. Sy hoort in die Soutpansberg, sy hoort op haar knieë saam met professor Mogoerane en sy spannetjie op soek na fossiele uit die Middel-Kambrium. Sy hoort in haar eie laboratorium, in ’n wit jas, agter ’n mikroskoop. Sy hoort haar te verdiep in die evolusie van die senuweestelsel van die filum Annelida uit die Ordovisium. Haar lojaliteit lê by die erdwurm. Dít is haar roeping, dit is waar sy hoort. In die Ordovisium, nie in die nag in die Oos-Kaap op ’n belaglike sending en op ’n useless antidepressant nie. Sy behoort haar aandag sonder weifeling stip gerig te hou op die ondeurgrondbaarheid van die Hadiese tydperk, op die miljarde jare wat dit vir die eerste multisellulêre organismes geneem het om te ontwikkel. Wat het haar besiel om dit alles op te gee? Sal sy die psigiater dagvaar? Sal sy nóú vir Markus Potsdam ’n sms stuur dat sy bedank?
Sy klim weer in die motor. Haar tande klapper steeds opmekaar. Is jy okay? vra agent Green besorg. “Ja,” sê sy. “Ry maar.”
*
Vyfuur die volgende oggend staan Magrieta op. Sy voel naar en benewel. Sesuur laai dieselfde man haar weer op wat haar hierheen gebring het. Dis nog donker, en dis koud. Sy meisie is weer by hom. Sy dra weer dieselfde jassie. Magrieta sien dis nie grysblou nie, maar ’n baie bleek blou, bleker as poeierblou. In die donker kan sy die vrou se mondletsel nie goed sien nie. Sy kan ook nie sien of sy weer ’n pluisie in haar regteroor het nie. Die jong man dra net ’n kortmouhemp, ten spyte van die koue. Die pad is besig vir hierdie tyd van die oggend. Hulle moet in ’n suidwestelike rigting ry, want skuins agter hulle begin die lug stadig verkleur. Magrieta sit-lê met polsende kop en lam nek agter in die motor. Soms rig sy haar uit haar bedwelmde halfslaap op en kyk deur die venster na die verbysnellende landskap. Uitgestrekte grasveld met klompies boom tussenin. Sy vra die man wat hy die res van die dag gaan doen. Hy gaan terug om nog een persoon in die dorp te gaan haal en by die lughawe af te laai. Dan gaan hy vir Cornelia (die beletselde meisie) vir ontbyt langs die see neem. Dan gaan hy neute koop vir sy eekhorings. Twee eekhorings wat hy in ’n hok aanhou, die een is makker as die ander. Wat is hulle name? vra Magrieta. Okkie en Akkie, sê hy. Sy hoop nie Akkie doen sy naam gestand nie, sê sy, maar die man hoor haar nie.
In Kaapstad neem sy die shuttle. Hy laai Magrieta by die huis af. Willem is nog in die bed. Sy gooi haar serp af, trek haar baadjie uit, haar trui, haar romp, sy trek haar stewels uit. Sy klim by hom in die warm bed met haar hemp, leggings en sokkies aan. Hy vou hulle toe in die duvet. Die hitte is weldadig. Haar koue hande warm vinnig op. Hy lê agter haar. Haar boude pas in sy bekkenkom. Hy gly sy hand onder haar frokkie in. ’n Dromerigheid kom oor haar, sy keer terug na ’n primitiewe staat. Saamgesnoer in die warm bed word hulle een organisme waarvan die metabolisme stadigaan traer word. Sy kan nie daaraan dink dat sy sal moet opstaan nie. Dit sal wees om van nuuts af wreed in die wêreld gewerp te word.
“Vergewe my,” prewel sy. Hy maak ’n klein liggaamsbeweging wat sy interpreteer as, dis goed, ons laat wat gebeur het agter ons.
Die volgende oggend gaan groet sy eers vir Markus Potsdam. Hy kom, soos altyd wanneer sy by sy kantoor inkom, half lomp agter sy lessenaar orent. Het jy hulle opgeskroef? vra hy. Vir seker, sê sy. Dis goed, sê hy. Agent Oliver het ’n boodskap vir jou. Ja? Hy sê jy kan jou Buro in jou gat steek, sê sy. Oliver is ’n kreupele met ’n chip op sy skouer, sê Potsdam, ongeërg. Is dit ’n polities korrekte uitspraak? vra sy. Hy ontmoet haar blik, glimlag net effens en sê: Ek het ’n broertjie dood aan politieke korrektheid. Sy voel opgelug toe sy by sy kantoor uitgaan, bly dat sy en Potsdam ’n bietjie veld gewen het.