Читать книгу Die troebel tyd - Ingrid Winterbach - Страница 6

Drie

Оглавление

Terug in die dorp aan die einde van Junie gaan Magrieta Prinsloo laatmiddag in die wingerd bo hulle huis stap. Sy stap gewoonlik saam met Willem, maar wanneer hy laat werk, stap sy alleen met die hond. Sy is nie veronderstel om haar op haar eie te diep in die wingerd te waag nie (die gevaar van ongewenste elemente), maar met die hond voel sy veilig. Sy verkies dit om soms alleen te stap, want wanneer sy met Willem stap, let sy minder op die omgewing.

Sy stap met die netjiese paadjies tussen die wingerde deur, en dan met een van die grondpaadjies aan die agterkant van die skoolgebou verby. Die hele omgewing hier is met rommel besaai. Sy weet nie wie hiervoor verantwoordelik is nie. Die leerlinge gooi sekerlik hulle tjipspakkies en lekkergoedpapiertjies hier, en leë koeldrankblikkies en papiere, maar waar kom die stukke gebreekte plastiekpyp, stukke asbes, stukke en brokke sement (een of ander iets afgebreek tot op die laaste baksteen), gebreekte drankbottels, leë plastiekbottels, afgewerpte kledingstukke, haarkrullers vandaan? Wie woon hier, wie swerf deur hierdie area, wie laat hulle hopies ekskrement, hopies vomeersel, bloedspore, liggaamsvogte, plastiekhouers en -sakke, kaalgevrete hoenderbeentjies, ou skoene, geskeurde onderklere hier agter? Sy kom af op ’n hoop gebruikte sanitêre doekies, en op ’n groot ashoop – alles onherkenbaar deur die vlamme verander. Net-net herkenbaar is ’n swartgebakte lemoen en ’n verkoolde wortel. Oral sien sy op hierdie staptogte laatmiddag tekens van menslike bewoning – oorblyfsels van vure, uitgeholde gate onder struikgewas – ’n aanduiding van lêplekke, maar nooit sien sy die bewoners nie.

Dit is winter, dit word steeds kouer. Hoe beskerm hierdie swerwers hulle teen die koue, teen die reënvlae wat soms dae lank aanhou? Nooit sien sy iets soos ’n tentskuiling, of ’n uitgegraafde gat in die grond wat met plastiek bedek is nie.

Hier word ’n ondergrondse lewe gelei onder die radar van die algemeen beskaafde middelklaslewe. Net hulle spore laat hulle – die enkele skoen, die kledingstuk halfpad met grond bedek. Iets nylonrigs ’n keer, in blou en pers met pienk skuinsstrepe. Sy skop daarteen met haar skoen, probeer dit met die punte van voorvinger en duim optel, gril daarvoor, ’n vrouebloes van sintetiese stof, halfpad bedek deur hardgekoekte modder.

Wat is die taal, die geheime argot wat hierdie mense besig? Sy dink sy hoor soms die naklank daarvan op die wieke van die wind – die geheime argot van die poes. Poes gán. Poes kóm. Poes vóétsek.

In die lug, ’n enorme poes, soos die oog van God.

Die troebel tyd

Подняться наверх