Читать книгу Die troebel tyd - Ingrid Winterbach - Страница 8
Vyf
ОглавлениеMagrieta vind Markus Potsdam interessant. Hy is gereserveerd. Streng selfs, en ’n bietjie bot soms, maar met ’n effense onbeholpenheid wat sy strengheid temper. Miskien is hy selfs skaam. Hy maak nie graag geselsies nie. Soveel verrassender dus sy laid-back, ironiese sms-boodskappe, en sy soms onverwagse, subversiewe tersydes. Omdat sy niks van hom weet nie, pols sy mevrou Beetge versigtig. Maar die vrou is nie uit te lok nie. Dit was nog altyd haar beleid, sê sy, om haar nie met die persoonlike lewens van haar werkgewers te bemoei nie. En sy en meneer Potsdam werk in elk geval nog nie so lank saam nie. Kan sy ten minste sê of hy getroud is? vra Magrieta. Nee, sê mevrou Beetge, nie sover sy weet nie.
Hoewel die dae in Julie ná die wintersonkeerpunt reeds elke dag ’n bietjie langer word, voel dit nog nie so nie. Dit word nog steeds vroeg donker, en Magrieta en Willem stap dikwels met die hond in die ryk skemer; die wingerdstokke, pas gesnoei, is kaal, die berge soms in slierte mis gehul. Wanneer hulle in laat Julie ná sonsonder op ’n bewolkte dag stap, is die berge donker, vastig, die oorheersende kleure is donker bloue en groene, geen sweem van geel en rooi tinte meer nie, hoewel die kaal wingerde ’n gryspers skynsel het.
In Augustus kry sy opdrag van Markus Potsdam om met professor Deneys Swiegers te skakel. Hy is verbonde aan die departement ingenieurswese, ’n kenner op die gebied van kunsmatige intelligensie en neurale netwerke. Hy is besig met die bou van ’n eend – ’n sagte robot, verduidelik hy, met die beheerstelsel gebaseer op die beginsels van neurale netwerke, wat ooreenkomste toon met die manier waarop die brein funksioneer. Magrieta hou daarvan om daaraan as ’n meganiese eend te dink (wat dit natuurlik nie is nie). Waarom nie eerder ’n sagte robot-vrou bou nie, wonder sy, dit sal tog veel interessanter wees as ’n eend. Deneys Swiegers het ’n oop gesig, ’n hoë voorkop en helder oë.
In Augustus moet sy voorts, ook in opdrag van Potsdam, met twee van hulle belangrikste donateurs eet. Sorg dat jy sexy lyk, sê hy, die mense maak groot skenkings. (Teen dié tyd is sy gewoond aan sy deadpan-uitsprake.)
“Blow jobs vir albei ná afloop?” vra sy.
“Jy hoef nie so ver te gaan nie,” sê hy.
Die een donateur het ’n groot kop en dik nek, maar sy gelaatstrekke sit heeltemal te na aan mekaar in sy groot, vlesige gesig. Iets reptielagtigs. Die ander een is een van daardie Afrikanermans wat Magrieta assosieer met die ooms uit haar kindertyd: bruusk, patriargaal, besnor, met ’n maag, ’n bruingebrande nek, dik, harige vingers – die ooms wat sy assosieer met haar ontluikende erotiese gewaarwordinge – verwarring, weersin, fassinasie, seksuele prikkeling. Sy onthou een so ’n geval. Op die plaas van ’n tannie van haar. Die tantes, volwasse vroue, het onderlangs onder mekaar gesê: Grillerig, ’n pervert. Sy’t nie begryp op watter manier nie, miskien is dit nie eens uitgespel nie, maar iets afwykends is gesuggereer; haar belangstelling is daardeur geprikkel. Snags het sy gefantaseer. Die volmaan het die werf verlig. Daar was ’n intensiteit van ongeartikuleerde seksuele verlange (wat miskien nooit weer in haar volwasse lewe geëwenaar is nie). Die een donateur se massiewe fortuin is gebou op selfoontorings wat in die res van Afrika opgerig word, en die ander s’n op die uitvoer van blikkieskos en sigarette na Afrikalande (’n Lucky Strike-empire). Hulle praat besigheid. Wanneer hulle op haar fokus, is hulle oordrewe galant. (Die hand soms op haar been.) Hulle skink vir haar te veel wyn, bestel nog geregte terwyl sy al lank reeds versadig is, maak onsubtiele seksuele innuendo’s, raak dan weer opgeneem in hulle eie besigheidsgesprek. Sy is sjarmant en koketterig (nou’s ek ’n glorified PR en ’n hoer, dink sy, hoekom eet Potsdam nie sélf met die belangrike donateurs nie?).
Toe sy na die toilet ontsnap, staan daar in swart koki-pen teen die agterkant van die deur geskryf: SLAAN AG OP DIE LEVIATAN. Met ’n vreemde, klein skematiese voorstelling onderaan – ’n soort piktogram – wat sy nie kan ontsyfer nie; iets tussen ’n Zeppelin, ’n amoeba en ’n walvis. Sy neem ’n foto daarvan op haar selfoon.
In September het Magrieta ernstige voorbehoude oor haar betrekking by die Buro. Sy dink nie sy sal dit lank kan volhou nie. Sy hou van Potsdam, hoewel hulle min persoonlike interaksie het (hulle het nog nooit eens saam koffie gedrink in die coffee shop een verdieping onder die Buro nie), maar die werk interesseer haar nie juis nie. Sy mis haar navorsing, sy mis die laboratorium. Sy hou die koerante fyn dop vir betrekkings in haar vakgebied iewers, maar voorlopig is daar geen vakante poste in die provinsie nie. Solank as wat die man wat sy so grondig beledig het die hoof van dierkunde bly, kan sy ook vergeet om dáár weer in diens geneem te word. In die wingerde word die eerste tekens van lewe sigbaar: die sap begin styg in die kaal wingerdstokke en hier en daar is al delikate uitlopers merkbaar.
Toe sy aan die begin van Oktober ’n keer koffie drink in die dorp by die Fynbos coffee shop, staan daar in die een toilet agter die deur, weer in swart koki-pen geskryf: GEDENK DIE LEVIATAN. Weer met die vreemde, klein piktogram daarby – die Zeppelin, amoeba en walvis.
In November stuur Potsdam haar na Gauteng om ’n kongres by te woon oor langafstandonderrig. Die streek is al weke lank in die greep van ’n uitmergelende hittegolf. Die referate is vervelig. Haar aandag dwaal. Sy droom sy val by ’n mynskag af en kom tot stilstand in die Hadiese tydperk waar daar niks is nie. (Waarom bloei die paradys en is die hel onvrugbaar?)
In die middel van November lees Magrieta in die koerant dat professor Eliot Mogoerane, hoof van die department dierkunde aan die Universiteit van Venda, in ’n motorkaping geskiet is en inderhaas per helikopter na ’n hospitaal in Pretoria vervoer is, waar hy om sy lewe veg. Sy is ontsteld. Sy het nog gehoop om vroeër eerder as later saam met hom en sy spannetjie op soek na fossiele te kan gaan: die suidelike ekwivalente van onder meer Anomalocaris – met die kringmondjie en tande op die binnerand, en Odontogriphus – die getande raaisel, met die spore van klein, konusvormige tandjies. In die daaropvolgende dae vind sy geen nuusberigte wat aandui of professor Mogoerane die kaping oorleef het nie. Sy aanvaar hy het wel, anders sou sy dood sekerlik vermeld gewees het.
Toe sy aan die einde van November met Willem eet by ’n deftige wynlandgoed net buite die dorp, met lieflike uitsig op olyfboorde en hemelhoë bergpieke, staan daar agterop die een toiletdeur (ontsierend in die vlekkeloos skoon state of the art-kleedkamer), weer eens in swart koki: LET OP DIE LEVIATAN. En weer eens met die klein piktogram.
Die jong groen druiwetrossies het reeds begin verskyn.
In Desember kry sy ’n groot bonus en drie weke vakansie.