Читать книгу Wanneer water wyn word - Jacqueline Leuvennink - Страница 10
Hoofstuk 7
ОглавлениеSoms gaan sit ek sommer op my eie in die veld en dink. Augustusmaande troos. Soggens knyp die koue nog, maar ek sien hoe die skurwe, windgestroopte wêreld geleidelik om my begin verteder. Ons loop en suig surinkies. Vlaktes wat normaalweg droogvaal afkruip see toe, staan nou vol plate wit gousblomme. Ek raak ’n kleurversamelaar van vygies wat wit, pers, geel en rooi oor die rante son toe staar. Dit pla my as mense ruk, pluk, trap en druk aan die plante wat vir my so mooi is. Soms verbeel ek my ek is ’n seemeeu wat ver, hoog en vry bo als kan vlie. Ek sal daarvan hou om dinge van bó af te bekyk.
My oupa Salie het ’n sagte plekkie vir my, ek is so lief vir hom. Hy is goedgeaard en altyd opgewek. Ag, as hy oor die hotel se duin aangestap kom, bring hy altyd iets gelukkigs met hom saam. Hy speel graag met ons. Hy noem my sy Willemiena. Ek kan omtrent nie wag as ek hom sien aankom nie. Hy vra altyd dadelik waar is sy Willemienatjie. Dan begin ek hardloop en spring sommer in sy arms in.
Oupa het nooit gesê waarom hy my so noem nie. Dis eers jare later ná sy dood dat ek gehoor het sy ma se naam was Willemiena. Pa se jongste broer het eendag laat val dat ek baie soos sy lyk. Kyk, daai tyd het die mense mos geleef sonder om vir jou iets te sê. Hulle het net voortgegaan sonder om dinge te verduidelik. Sommige goed soos grootmeisie word en verhoudings oor die kleurgrense heen is ook net weggeswyg. Die apartheidswette het sulke verhoudings verbied en soms het die waarheid eers op ’n sterfbed uitgekom. Daar is nie gepraat oor die kinders uit sulke verbintenisse nie. Dit was soos iets wat op sokkies deur ’n huis loop. Almal weet daarvan, maar jy hang dit nie aan die groot klok nie.
Grêmma Annie is ook goed vir my. Dalk omdat ek en oupa Salie so erg is oor mekaar. Ek geniet dit om vir haar werkies te gaan doen soos om by miesies Pheifer se huis te help koekies bak. Sy leer my om die deeg aan te maak en die koekies met die rolmasjientjie uit te druk. Grêmma kyk na almal. Sy sien soos ’n ware matriarg om na haar kinders se behoeftes, sonder dat die een van die ander een weet, selfs al is hulle al getroud en uit die huis uit.
Party middae kry my ma nie haar draai met die wasgoed om betyds Pa se eenuur reg te hê nie. Dan moet ek by Grêmma gaan hoor of sy nie iets lekkers vir hom het nie.
Ek hou van mense wat na mekaar omsien en daarom gaan lê my ouma diep in my hart. Saterdae gaan sy “kombuis toe”. Dis wanneer sy by wit mense in hul groot kombuis gaan werk. Sy neem my dikwels saam. Gewoonlik kom waarsku sy my al die Vrydag sodat ek my beste rokkie kan aantrek om by die kinders te gaan speel. Soms help ek haar ook met die beskuit bak en die kopergoed skoonmaak.
Basaartyd en Kerstyd is dit ’n hele doenigheid. Dan maak Grêmma ’n klomp beslag met haar masjientjie aan en stuur my om van die bestellings vir haar by die mense te gaan aflewer.
Een Desember is Ma so siek dat sy moet dokter toe op Vredenburg. Sy neem my saam om voor die tyd sommer ons Kerskos te help koop. Ek moet help dra aan die wit broodrolletjies, kondensmelk, vrugte en ’n vleisie. Toe Ma uit die spreekkamer kom, is sy wat so lig van kleur is, geel in die gesig. Ek skrik toe ek sien hoe bitter siek sy lyk. Sy probeer nog praat, maar die wind vat haar woorde weg.
My vlegseltjies begin trek aan my kopvel. Dis sleg, báie sleg. Wat nou? Ma sukkel nog eers met my bushalte toe. My oë en mond huil nie, maar iewers diep binne-in my sit ’n groot verdrietigheid vas. Die wêreld is groot en ek nog skaars tien. Ek moet alleen terug huis toe met ons goedjies. Ma praat eenkant met ant Ruby. Sy sien toe dat ek al die sakkies by my voete pak.
Kaalgestroopte koringlande beweeg in die bus se vensterruit verby. Die oes is al af. Hier en daar stoot kaal, bonkige rotse uit die lande soos in die see. Die mense sê hier was ook vroeër see. Maar ek sien net Ma se gesig, die pyntrek om haar mond. En veral haar ongewoon pleitende, magtelose oë. Die bang oor wat ek nou vir die ander by die huis moet gaan sê, steek soos ’n graat in my keel. Ek sluk en sluk, maar kry dit nie afgewurg nie.
By die huis dop die nuus almal om. Sonder Ma voel als verkeerd. Ek gaan lê met my kop onder my kussing. My kopvel pyn. Ek bid: Here, maak vir Ma gesond, Here. Wees tog by haar, Here. En ingeval U dalk vergeet, tog by ons ook, Here. Ons kannie sonner Ma nie, Here.
Oom Jaffie kom klop een aand aan die deur toe ons almal al in die bed is. Buite gooi die wind ’n koue suidooster. Pa staan op en gaan praat saggies by die deur met oom Jaffie. Ag Here, wat is dit tog nou? Ma is al te lank weg en als voel onderstebo. Odelia is nog ’n baba en ons oudste suster, Carol, moet maar na haar omsien. Sy vat haar net soms na Outie toe. Dis of die dood oor ons huis gespoel het.
Dit voel vir my ek kan nie asem kry nie. Sê nou net?
Maar dan kom sê Pa vir ons oom Jaffie het net ’n boodskap gebring om te sê Ma is orraait. Sy kan net nie nou al huis toe kom nie. Ons lees die verligting in mekaar se oë.
Ma het geelsug. Dis eers later dat die dokter en sy agterkom sy is boonop weer swanger. Dis nog ’n hele ruk voor sy dit vir ons sê. Daar is nog nie voorbehoed nie.
Nurse Veronica kom sê later sy gaan sommer die baba by die huis vang. Wat beteken dit? Niemand verduidelik regtig iets vir ons nie en ons waag dit ook nie om te vra nie. Eendag hoor ons net daar word gesê dit is nou sulke tyd.
Hulle maak ons in die agterkamer toe. Ma en die vroedvrou is in die middelkamer waar ons gewoonlik slaap. Dis groter. Ons almal se ore is nou gespits vir die afluister. Toe dinge begin gebeur, gaan loer ons almal deur die sleutelgat. Dan sê die een vir die ander een: “Wag, dis nou eers weer my beurt, ek wil ook nou kyk!”
Ek sien ’n vriendin van my ma, ek dink dis antie Janet, is by om vir nurse Veronica te help en die kookwater in te bring. Pa moet ook soos ons buite bly wag. Hy moet darem net in die rondte wees, hoor ons die suster sê. Sy werk op Vredenburg, maar kom vang Paternoster se babatjies. Soms loseer sy by ons as sy by die kliniek oorkant ons huis moet kom werk. Ons help graag vir haar daar skoonmaak.
Ons meisiekinders staan nog tou om te probeer loer, toe gee die suster so ’n hoë gilletjie: “Dis ’n klong, dis ’n klong!” Ons giggel opgewonde onder mekaar, gryp mekaar vas. Maar dan hoor ons skielik ’n harde slag. Dis Pa. Hy het skoon vergeet die binneste deur is gesluit. Van pure haastigheid en gretigheid om by Ma en sy seun te kom, het hy reg teen die deur vasgehardloop. ’n Oomblik is ons tjoepstil. Toe begin een sommer proes. Dit laat almal uitbars van die lag. Pa gelukkig ook. Hy is duidelik verlig. En skoon uitgelate noudat die geboorte verby is; hy sukkel nog om te glo dis sowaar uiteindelik ’n seun. Die suster mag nie eens vir die baba ’n nappy aansit nie. Pa wil net aanhou kyk. Ma lyk moeg. Maar haar oë is sag.
Later die dag moet hulle glad vir Pa hospitaal toe neem. Daar het glo ’n aartjie in sy kop gebars van al die opgewondenheid.