Читать книгу Wanneer water wyn word - Jacqueline Leuvennink - Страница 8
Hoofstuk 5
ОглавлениеEk is ’n gehoorsame kind, een wat hoog kan spring om uit die moeilikheid te bly. Dis soms of Pa seuns van ons wil maak. As hy hout vir die vuur nodig het, maak hy ons op ’n stomp sit sodat hy die hout kan saag. Partykeer stuur hy my ook vrugtetrok toe om te gaan kyk hoeveel kos die lemoene. Dan moet ek seker maak ek weet als wat op daardie trok aangaan. Om net te kom sê die lemoene is R5 vir vyf is nie goed genoeg nie. Jy moet kan vertel wat nog daar is en wat dit kos.
Ma leer ons ook om op te let. Sy sê altyd ’n mens moet oë agter jou kop hê. As iemand verby jou loop, moet jy weet wie dit is en waarnatoe hy gaan.
Ons gaan heeljaar kaalvoet skool toe, almal in donkerblou pleated rokkies met ’n girdle om die lyf en ’n koningsblou hempie. Ons loop selfs in die winter kaalarm. Ma laat net soms toe dat ons ons wit Sondagskool-jerseys aantrek. Sy is gesteld daarop dat ons altyd netjies lyk, hare gevleg dat jou kopvel daarvan span. Later, toe ek al ouer is, erf ek gelukkig ’n paar swart skoene by Karien Lenorie. Nou is my voete nie meer so dood van die winterkoue nie.
Pa en Aubrey Lenorie is vriende. Soms drink hulle ’n glasie wyn saam. Die Lenories is dierbare wit mense. Ek geniet dit om by Karien-hulle te gaan kuier. Hulle woon net ’n entjie van ons af. Op koue dae val die sonlig lekker warm in die vertrek waar ons smiddae skool-skool kan speel. Dit loop uit die kombuis uit. Mies Lenorie bederf ons graag met koekies of ander eetgoedjies. Dit ruik altyd lekker daar.
Somersdae wanneer die water spieëlglad lê en blink, speel ons op die voorstrand in die poeletjies water by die rotse. Daar is knobbelrige mossels en see-anemone waarin ons ons vingers kan steek. Niemand van ons leer juis swem nie. Ma sê altyd vir ons sy hou ons uit die huis uit dop en ons mag nie in die water gaan nie. Ons sal verdrink. Ek luister, want ek hou nie van pak kry nie.
Maar later kom ons agter Ma kan ons mos nou nooit van agter die huis sien waar sy wasgoed was as ons onder op die voorstrand is nie. En op ’n warm aand is omtrent die hele Paternoster in die water. Dis alte jolly. Jy sien net orals koppies by die water uitsteek. Dan kyk ons wat die ander kinders doen en vat ook maar ’n kans – die een hou die ander een dop lat jy nou nie sink of sak of kop onder die water gaan nie.
Ná die hitte van die dag is die koue soutwater al wat saak maak. Dit maak jou tot in jou kop in koel. Dis ’n vrolike gespat en geplas en almal om my is propvol skerts en lag en snaakse sêgoed. Ek dink daar word elke dag op Paternoster nuwe sêgoed gebore.
Vakansietye kan ons soggens eers ’n bietjie buitekant in ons pajamas speel voor ons moet gaan was en aantrek. Soms speel ons kennetjie. Dan is dit nie lank nie of een slaan die ander een met die stok op die been. As die een wat seergekry het ’n keel opsit, is daar kort voor lank moeilikheid. Ma dam ons sommer almal met die vadoek by.
Ma Dina se wasgoed is haar trots. Sy wil dinge perfek gedoen hê. Haar wasdag duur gewoonlik van Maandagoggend agtuur amper regdeur tot so Woensdagmiddag vyfuur. Een vakansie-oggend kry een van ons die blink plan dat ons almal aan die waslyn moet gaan swaai. Dan kyk ons wie kan die langste bly hang. Foutjie. Al ons kinders en my ma en pa se wit wasgoed hang reeds perfek vasgesteek. Meters daarvan.
Toe Ma uit die huis gestorm kom, lê haar wasgoed gesmeer in die grond. Jy sien net kinders spat. Ma tier en slaan almal deur die bank soos wat sy ons kan bykom. Ek lê oop. My voete klap op die grond. Ek hol verby die hotel tot my bors brand. Daar loop mense in die straat, maar ek sien nie eens wie hulle is nie. Ons sal vandag wye draaie om Ma moet gooi.
Ons word ondanks al ons ouers se streng reëls soos werfhoenders groot. Dis ’n wye wêreld met weinig versperrings. Jy kan ons nie in ’n boks sit en sê jy moet nou net daar bly nie. Ons wil verken en wyer rondskrop; selfs Ma kan ons nie heeltyd vashou nie.
Ons buurvrou Henna vra gereeld vir ons om saam te gaan hout pluk by die mooi klipkop agter die dorp. Dan soek ons droë stompiehout wat lekker kole kan maak vir vanaand se vuur. Almal is vrolik en ons sing elke liedjie wat ons ken. Ons bind toue om ons lywe vas waarin ons die drag hout kan pak. Later stap ons al singende terug. As ek moeg word vir die lewe in die stad vat ek die wandelpad … ek siiing my wandellied …
Maar ons is ook lugtig vir die koppie. Die grootmense maak ons bang met Sagvoet, die inbreker, wat hom daar versteek hou. Elke nou en dan hoor ons Sagvoet het ingebreek by ant Kort Joyce, net kort bokant ons huis. Hy het die kas voor die venster weggeskuif, ingebreek en in hul kaste gekrap. Gelukkig het hy nie die kinders seergemaak nie.
Ons weet dis nie heeltemal net ’n bangmaakstorie nie. Daar wás al inbrake en ons hét al mense daar sien beweeg. Genoeg om ons nagmerries te gee. Die grootmense probeer ons ook nie spaar nie. Hulle praat en doen en sê dinge waar ons in die rondte is. Ons leef te op mekaar.
Ons het nog nie orals ligkrag in die dorp nie. As die maan sy silwer oor die diep, donker see begin gooi, stuur Ma saans soms nog vir my en Dawn kafee toe. Ons word so in spanne van twee groot. Dan loop ons met ons arms by mekaar ingehaak om te gaan kyk of dit nog oep ve koep is. Partykeer loer Sella en Frances van An Kort Joyce by die deur uit en besluit om saam te loop. Dalk kry ons nog vir Tilla ook langs die pad. Almal haak by mekaar in. Dan sing ons enigiets wat in ons kop kom. Ebony and ivory, living together in perfect harmony …
In die maanskyn op die strand lyk als anders. Dis soos kerslig. Als lê geel gekleur. Ons voel iets aan van ’n groot, geheimsinnige wêreld buite Paternoster.
Daar is ook onheilsaande wanneer my kop paadjies kies waarop ek liewers nie wil loop nie. Dis of die maanskyn op die steenkoolblou watervloer my onrustig maak. ’n Mens kan jou versiek met sulke gedagtes. Soms pak die vrees my dat Ma iets kan oorkom. Wat sal dan van ons word?