Читать книгу Katryn - Jan Huisamen - Страница 6

. Hoofstuk 2 .

Оглавление

Vanoggend is daar net een ander vrou in die sel oor. Dié lê rugkant en slaap. Waar Katryn regop teen die koue muur sit, dink sy aan die Here. Maar haar gedagtes oor die Here is nie lekker gedagtes nie.

Sy is opstandig, en as die drang om te twis deurbreek, prewel sy: “Ag, Here, as jy net nie so van my af wil wegraak nie! Partykeers voel dit tog of jy hier rond is, maar as ek dan my hande na jou uitsteek, raak jy net so weer weg. Kom staan dan net een slag voor my dat ek jou met my oog kan sien en in jou oog kan kyk, dan kan ons mos hierdie ding wat jy oor my en my familie gebring het, uitpraat. Ek weet hoekom jy aanmekaar jou rug vir my draai as ek jou soek. Dis omdat ek vir jou kwaad is. Maar kom en kom sê nou vir my, Here: wie se skouers moet die skuld vir hierdie kwaadwees dra? Jy sal moet erken, Here, dat jy nie reg gemaak het met ons Jonisse nie. Eers het jy my en Salmon se harte laat oorloop van blydskap en geluk. Maar Here, jy kan mos nie stry dat ons Jonisse ook ons kant gebring het nie. Elke Nagmaal was ons in die kerk op Kuboes. Gaan vra maar vir eerwaarde Schmidt of Katryn ooit ’n Nagmaal gemis het. En Here, jy sal onthou ons het nie leëhand Kuboes toe gegaan nie. Van ons vetste lammers en kapaters het ons saam aangeja vir die kerk. Maar ons loop nog so die regte pad, die Godvresende pad, toe begin jy ons te treiter. Jy gaan haal eintlik daai gespuis Klinke Kortdoorn toe en jy kom sit hulle teenaan ons neer. So gee jy vir Abraham Klink die kans waarvoor hy vir twaalf jaar gewag het: om vir Katryn Jonis, nageslag van Willem Goosen, soos die duiwel te vervolg. Ek vra weer, Here, soos ek al so baie gevra het: Wat het ons gemaak om sulke haat te verdien? Jy weet my pa was ’n goeie mens, Here, en ek perbeer mos ook. Waar was jy toe alles net slegter en slegter gegaan het, tot op die dag wat ek in die poeliesbakkie van my mense af weggery is om hier in die tronk te kom sit en wag op die galgtou?

“Waarom, Here? Kom staan net ’n slag hier by my en dan vertel jy vir my wáárom. Is dit oor Joey se voorkind dat jy hierdie verskriklike ding oor my laat kom het? Ek weet ek het verkeerd gedoen, Here, maar niemand nie, veral nie jy wie se oog orals kan sien nie, kan my daarvoor verkwalik nie. Ek kon nie anders doen as wat ek gedoen het nie, en as die kans nou weer voor my gelê word, sal ek net dieselfde doen.”

Hulle het nog in Salmon se enkelkamer op Grootderm gebly toe sy die ontdekking gemaak het oor die oppratery. Die vrou wat die voorman se seuntjie oppas, was dié dag siek en toe laat haal die wit voorman haar van die lande af om sy vrou te gaan help met die kind. Katryn het dit al vantevore gedoen en het daar niks van gehou nie, want die kind was woelig en stout. Sy sou eerder die hele dag met ’n graaf in die warm son werk as om kind op te pas.

Met die intrap het die ma haar georder om buite te gaan loop met die kind. Sy is af rivier toe met hom en by een van die kuile het sy hom gewys hoe om kluite en stokkies in die water te gooi. Twee plaaswerkers het op die wal verbygeloop en toe sy omdraai en hulle groet, hoor sy ’n geskree agter haar. Sy was net betyds om te sien hoe die kind onder die bruin modderwater verdwyn.

Gelukkig was die twee manne goeie swemmers. Hulle het skoene en klere uitgepluk, ingeduik en na die kind begin soek. Dit was nie lank voor hulle hom gekry het nie, maar vir haar het dit soos ’n ewigheid gevoel. Toe die mans die liggaampie uitbring, was daar geen teken van lewe by die kind nie. En toe gebeur dit: sy kry die snaaksste gevoel oor haar hele lyf, ’n gloeiende warmte wat deur haar loop soos ’n stroom.

Sy het die kind se hande gegryp en met hom begin praat. Sy het gepraat en gepraat en vir hom gesê om teen die dood te stry en die lewe terug te vat. Een oomblik het die woorde deur haar tande gesis en die volgende oomblik het sy op hom geskel en woorde in sy ore geskree. Vir ’n lang tyd het sy aangehou sonder dat iets gebeur, en toe het sy skielik gevoel hoe die krag uit haar lyf na die kind toe begin vloei. Die kragstroom het al sterker geraak en eensklaps het die kind regop gesit en sy oë oopgemaak.

Die twee mans het die hele tyd stomverbaas gestaar. Sy onthou hoe sy teen die wal probeer uitklim het met die kind in haar arms, maar sy was te lam en haar knieë het onder haar geswik. Die mans moes haar daar uithelp.

By die huis het sy vir die witvrou gesê die kind se klere is nat omdat hy in die leivoor gespeel het. Die vrou kon sien sy is siek; sy het haar ’n kopseerpil gegee en haar huis toe gestuur. Daar het sy op die bed neergeval en geslaap tot Salmon die middag van die werk af gekom het.

Die nuus het gou deur die hele Richtersveld versprei: dat daar weer ’n opprater onder die Namavolk was. Dat sy, Katryn, met dié spesiale gawe gebore is, het sy in haar dag des lewens nooit kon dink nie.

Toe sy nog ’n kind was, het sy haar ma baie keer uitgevra oor die hele ding van die opprater – altyd net ’n vrou – en dan het haar ma gesê dis iemand wat met ’n baie sterke krag in haar gebore is.

“Watse krag?” het sy gevra.

“Dis ’n krag wat sterk genoeg is om ’n mens gesond te maak en uit die dode terug te bring.”

“Maar wie gee vir haar daai krag, Ma?”

“Niemand weet nie, nie eens die opprater self weet dit nie. Sy sal vir jare die krag met haar saamdra en nie daarvan weet nie, tot sy dit op ’n dag verskriklik nodig kry en ’n sterwende mens gesond sal praat. Van daai dag af weet sy dat sy ’n opprater is, en die volk weet wie hulle nuwe opprater is. ’n Opprater werk net met jong kinders, sy mors nie asem op ou en sieklike mense nie.”

“Is dit ’n soort kerkding?”

“Nee, dit het niks met kerk te doen nie. Hulle sê as jy hoor hoe die opprater raas en skel en die kind slegsê, sal jy weet dis nie ’n kerkpraat nie. Al ding van oppraat wat almal wat dit gesien het vir jou sal sê, is dat daai krag nie ’n bietjie krag is nie, hy’s soos ’n weerligstraal. Kinders by wie jy die oggend nie meer die asemhaling kon sien nie, speel teen die aand weer met hulle maters. Die gesond word is ook nie ’n halwe gesond word nie. Die kind blý gesond en hy raak groot.”

“Het Ma al self so ’n oppratery gesien?”

“Nee, maar jou ouma het my vertel hoe jou oumagrootjie haar broer se kind opgepraat het nadat ’n geelslang hom gepik het. Almal het gedink die kind is al dood, want die twee-twee gaatjies van die slang het so gesit in sy gesig en teen sy nek. Sy het die voormiddag begin praat en oor die middag gepraat en aangehou praat tot die son al begin koel raak het. Toe staan die kind net so op om by die ander kinders te gaan speel. Hulle sê sy was so moeg dat hulle haar huis toe moes help en sy het geslaap tot die volgende dag.”

Ná die storie met die voorman se kind is Katryn al oor ’n tyd gevra vir die oppraat van ’n sterwende kind. Dit was harde en senutergende werk wat haar gespanne en moeg gemaak het. Eenkeer het hulle twee kinders binne ’n week na haar gebring, en daarna was sy so swak dat sy ’n paar dae in die bed moes bly. Agterna het Salmon haar altyd vertel hoe dankbaar die ouers was. Daarvan het sy min geweet, want sy was te moeg ná die oppraat.

Gelukkig kon sy al die kinders help wat na haar gebring is. Sy kon almal lewend en gesond aan hulle ouers teruggee . . . behalwe Joey Klink se dogtertjie.

Dit was die dag ná die verminking van die Jonisse se spogbokram, en die kwaad het nog soos ’n vuur in Katryn gebrand. Ant Sophy Klink het dié Sondagoggend met Joey en die meisiekindjie by hulle huis aangekom. Toe Katryn die bodeur oopmaak, was haar oë nog so geswel van die huil dat sy byna nie die twee Klink-vrouens herken het nie.

“Asseblief, antie Katryn,” het Joey gesmeek, “asseblief, asseblief, help gou!”

“Wat is dit?” het Katryn gevra.

“Dis my pa, antie. Hy’t vir Lenatjie op die melkwa gevat en sy’t uit sy hande onder die wiel geval. Maak gou, antie!”

Binne-in Katryn was dit ’n bakleiery. Aan die een kant wou sy die kind help soos sy nog elke kind gehelp het wat hulle na haar toe gebring het. Aan die ander kant het haar verbittering teen die Klinke soos sooibrand in haar keel opgestoot. Maande se treitering en lyding en vernedering het deur haar kop geflits. Sy sien weer haar bloeiende stoetram wat soos ’n hoender in die reën by die kraal staan, sy balle teen sy lyf afgesny.

Toe sê sy: “Waar’s jou pa? Hoekom het hy nie self met sy kleinkind gekom nie? Of wil hy nie op die werf kom waar hy ’n duur ram se teelkliere afgesny het nie? Vat jou kind terug na jou pa toe en sê vir hom hý het haar doodgemaak. En sê vir hom Katryn Jonis sal nie ’n woord spreek voor hy nie self voor haar kom staan lat hierdie kwaad uitgepraat kan raak nie.”

Joey het gehuil en gesmeek en ant Sophy het gehuil en gesmeek.

Toe het ant Sophy op Katryn begin skel en gesê: “Oppraatkrag is nie joune nie, dis die Namas s’n. Elotsê het dit vir jou gegee en jy mag dit nie van ’n Namakind terughou nie.”

Maar Katryn se besluit was finaal.

“Dit weet ek, en ek sal my krag van geen Namakind terughou wat voor my gebring word nie. Maar vir die kleinkind van Abraham Klink gebruik ek dit nie – dit kan julle maar sê vir enige Nama in die Richtersveld wat my wil aanhoor. En as Elotsê sy krag van my wil wegvat, moet hy dit maar doen. Ek het hom hoeka nie daarvoor gevra nie.”

Die volgende môre het hulle die tyding gekry dat Joey se kindjie gesterf het.

Die mense, en veral die ouer vrouens, het vir Katryn baie kwalik geneem. Hulle het vir ou ant Siena gestuur om met haar te kom praat. Sy onthou die antie se woorde asof dit gister was.

“Die oppraatkrag is nie joune om te gee en terug te hou soos jý wil nie, Katryn. Dit behoort aan al die Namas. Jy is net die uitgesoekte een na wie die mense kan kom as hulle hulp nodig het.”

“Ek stry nie, antie. Ek weet dat die krag aan al die Namas behoort, en ek sal dit gee aan elke Nama wat daarvoor kom vra. Maar solank die krag in my liggaam is, sal geen Klink iets daarvan kry nie.”

“Jirre, Katryn! Hoe kan jy met gevoude hande staan en kyk dat ’n onskuldige kind sterwe? Dis mos haat wat so praat!”

“Ja, antie Siena, haat uit die hel uit. En as jy wil weet hoe daai haat uit die hel uit losgekom het, gaan vra vir Abraham Klink. Hý het dit daar gaan uithaal.”

Die antie het opgestaan om te loop. “Ek verstaan jou nie en ek verstaan nie die haat tussen jou en die Klinke nie. Maar onthou net: as daar ’n dag kom wat dit voel of die Here en al sy mense die rug op jou gedraai het en die eensaamheid jou wil doodwurg, dink aan wat jy aan Joey Klink se dogtertjie gedoen het.”

Dié woorde het haar groot laat skrik, en sy het soggens benoud opgestaan en holrug deur die dag geloop soos sy gevrees het vir die straf wat haar sal tref. Maar vreemd, in plaas van straf het die wonderlikste seën kort daarna oor die Jonisse gekom. Sy sal nooit die oggend vergeet wat mister Vlok, wat nou al bestuurder op Grootderm was, vir haar en Salmon na sy kantoor ontbied het nie.

Saam met hom in die kantoor was ’n vreemde man. Mister Vlok het hom voorgestel as ’n beampte van Kleurlingadministrasie. Volgens die man het die administrasie die eerste van ’n paar plase hoër op langs die rivier by Diepdrif uitgemeet, en hy het dié plaas vir hulle aangebied. Die administrasie sal hulle geldelik ondersteun om hulle daar te vestig.

Die man het nog lank gepraat en toe het hy gesê: “Maar Salmon en Katryn, daar is één ding wat julle moet weet: Alles wat ek vandag hier vir julle aanbied, sal tot niet gaan as julle nie bereid is om hard te werk nie. Ons is besig met ’n proefneming; ons wil kyk of kleurlinggesinne op hulle eie voete kan kom as hulle die kans kry. Ons begin by julle, en julle moet weet ek het nie sommer julle name uit ’n hoed getrek nie. Ons het lankal vir meneer Vlok gevra om vir ons ’n huisgesin uit te soek om mee te begin, en hy hou vol dat hy niemand anders ken wat hy so sterk kan aanbeveel as vir julle twee nie. Hy het gesê: ‘Los die klomp net vir Katryn Jonis. As harde werk ’n familie bo kan laat uitkom, sal sý toesien dat hulle bo uitkom.’ ”

Die man het ’n oomblik stilgebly om die heuning behoorlik te laat trek en toe gevra: “Wat is julle antwoord? Gaan julle die kans waag?”

Katryn glimlag as sy dink dat sy nooit eens sy vraag geantwoord het nie. Sy het so aan die huil gegaan dat sy nie ’n woord kon praat nie. En natuurlik was die beste van alles dat hulle kon wegkom van die Klinke af.

Sy maak haar oë toe en voel hoe die spanning uit haar lyf verdwyn as sy dink aan daardie eerste weke en maande op Diepdrif. Langs daai rivier het hulle sweet weggegooi. Die dae was te kort, en sy en Salmon en die kinders het groot stukke van die nag gesteel om die dae langer te rek.

Baie nagte het Pietertjie haar wakker gehuil as sy bene so pyn van heeldag agter die skraper loop om beddings gelyk te sleep vir die lusern. Dan het sy sy bene met bokvet en bloekomolie ingevryf en gesê: “Ek weet jou lyf is seer, my kind, maar onthou net, hy is seer omdat jy vir jouself werk. Dis nie die witman se lande wat jy gelyk maak nie, maar jou eie lande. Soos jou lyf nou pyn, het my en jou pa se lywe baie nagte gepyn van vir die witman werk. Ons het hierdie omtes gelyk gesleep solat die witman sý lusern kon plant en sý skape en bokke vet voer en sý sakke vol geld maak, terwyl die deel wat ons gekry het nie aldag genoeg was om van kos te koop nie.

“Hou aan en hou uit. Een van die dae, as die lusern blou in die blom staan, lag ons almal. En teen die tyd dat jy aan vrouvat dink, loop jy nie meer agter ’n skraper nie, maar ry jy op ’n trekker.”

Dit het elke jaar beter gegaan. Die reën het nie een jaar oorgeslaan nie, en elke winter kon hulle met hulle vee uittrek buiteveld toe. As die kos in die buiteveld min geraak het, het hulle teruggetrek Diepdrif toe. In die somermaande het die bokke aan die doringbome langs die rivier gevreet. Die slagvee wat hulle aan die myn verkoop het, het hulle met lusern vet gevoer. Hulle het ook met ’n karakoelboerdery begin, en die karakoeltroppie het so mooi aangekom dat hulle gou kon begin lammers slag vir die velletjies.

Die eerste jaar op Diepdrif was sy bang vir die goedgaan met hulle. Sy het geglo dit kon nie so aanhou nie. Sy het by Salmon daarop aangedring dat hulle by elke moontlike geleentheid Kuboes toe moes gaan, na eerwaarde Schmidt se kerk toe.

“Ons moet nooit ophou om vir die Here dankie te sê nie, Salmon. Toe die Here Diepdrif vir ons gegee het, het Hy nie net vir ons voorspoed gegee nie, maar Hy het ons ook weggevat van die Klinke af. Hy het ons dubbeld geseën.”

Later het haar vrees verdwyn en sy het begin glo dat dit nooit weer sleg sal gaan nie. En toe dáárdie geloof op sy sterkste was, het die stroom teen hulle gedraai.

Dit het daai winter waterloop gereën. Die opslag het soos hare op ’n hond se rug gestaan en in die buiteveld was die blomme so dig dat jy nie kon loop sonder om op iets te trap nie: gansogies, gousblom, stinkkruid, sporrie, hoendermissies, hongerblom, pietsnotjies. Party dae het die blomme se soet reuk jou skoon kopseer gegee. En die vygies! Plate en plate pienk en geel en wit, só helder dat dit eintlik jou oë seermaak.

Die bokke was vet en die meeste van die ooie het tweelinge gelam. Sy kon sien hoe die kinders uitswel van bokmelk drink, en hulle het die wit bokmelkbotter op die asbrode geplak. Salmon en Pietertjie het eendag ’n vet heuningnes in ’n klipkoppie gekry en toe sê sy nou weet sy hoe dit voel om in die land van melk en heuning te lewe, nes in die Bybel.

Hulle het ’n bietjie vroeër as ander jare teruggegaan Diepdrif toe, want sy het gesê hulle moet betyds wees vir die groot Nagmaal op Kuboes. Pietertjie en die tweeling het hulle hande vol gehad met die aanjaag van die klomp vet hamels wat hulle vir die kerkbasaar gegee het.

Ná die basaar het eerwaarde Schmidt na hulle kampplek toe gekom en haar en Salmon spesiaal kom bedank vir hulle bydrae. Met dié ruim gawe, het hy gesê, was hy verseker van sy salaris tot aan die einde van die jaar.

Maar toe hulle daardie Maandag met die donkiekar van Kuboes af op Diepdrif aankom, het die skoknuus hulle voor die bors getref soos die skop van ’n steeks muil. Kleurlingadministrasie het Bruinwater, die plaas langs Diepdrif, aan Abraham Klink en sy familie toegesê.

’n Paar dae nadat die Klinke op Bruinwater aangekom het, het twee van die lusernmiedens op Diepdrif in die nag aan die brand geslaan. Nog twee dae later het al die afgeslagte karakoelvelletjies van die droogstellasie af verdwyn. Dié dag moes sy by Salmon en Pietertjie pleit en keer dat hulle nie die Klinke met kieries gaan takel nie.

“Dis net wat hulle soek, Salmon. As jy met ’n kierie se knop aan ’n Klink raak, sal Koekemoer uit die Port kom en julle kom oplaai en vir jare en jare in die tronk laat toesluit.”

Salmon was verby radeloos. “Maar Katryn, sê dan vir my wat ons moet doen. Moet ons stilsit en toekyk dat die duiwelskinders ons plaas onder ons uitbrand en ons profyt stuk vir stuk steel?”

“Ek weet, my man, ek weet hoe jy voel,” het sy geantwoord. “My hart sê ook vir my ons moet die vuilgoed gaan uitmoor, maar my verstand sê vir my ons moet ons inhou. Net één baklei met die Klinke kan maak dat ons alles verloor wat ons hier op Diepdrif opgebou het. Ons moet ons vee en ons lande beter oppas en op die Here vertrou. Eerwaarde het juis nou die Sondag uit Hebreërs gelees waar die Here sê: ‘My kom die wraak toe.’ Ons moet glo dat die Here die boosdoeners sal bykom.”

Salmon het brom-brom sy kierie langs die huis neergegooi en vir Pietertjie gesê: “Jy’t gehoor wat jou ma sê. Sit neer jou kierie.”

Dis in daardie dae dat sy met die Here begin twis het. Haar geloof dat Hy die Klinke vir hulle wandade sou straf, het al minder geword. Die Klinke het geen geleentheid laat verbygaan om die Jonisse skade aan te doen nie. Dit terwyl hulle boerdery gefloreer het soos die Jonisse s’n vroeër. En net soos op Kortdoorn was die Klinke gelief onder die mense, en Katryn het geweet daar was niemand by wie hulle kon kla of na wie hulle kon draai nie.

Keer op keer het sy haarself afgevra of die dag nou gekom het waarteen ant Siena haar gewaarsku het. Dan is sy maar weer af rivier toe, en in haar wegkruipplekkie onder die groot doringboom het sy haar oë styf toegemaak en die Here aangespreek.

“Here, dis darem nie mooi om so met ’n mens te maak nie. Met die een hand seën jy en met die ander hand slaan jy. Waarom het jy die Klinke so naby aan ons geplaas? Was dit dan nie van ons mooiste en vetste vee wat ons Nagmaal vir Nagmaal vir jou kerk toe gevat het nie?

“Here, as jy nog vir my kwaad is oor Joey se kindjie, hoekom het jy dan so lank gewag voordat jy ellende oor ons gebring het? Ek is jammer oor Lenatjie, Here, maar ek kan nie spyt wees oor wat ek aan die Klinke gedoen het nie. Hulle is nie jou kinders nie. Hulle sit nie eens hulle voete in jou kerk nie. En Here, jy kan mos nie vir my kwaad wees as ek ’n hou inkry op Satan se kinders nie.”

Ja, dink Katryn en versit op haar matras, ek was soos Job. Min het ek toe geweet dat die Here nog lank nie klaar was met Katryn Jonis en haar familie nie.

Dit was net ’n maand later wat Doempies Pieterse op Grootderm aangekom het. Hulle het hom ontmoet toe sy en Salmon hulle maand se goedjies by die winkel gaan koop het. Agterna het sy vir Salmon gesê sy hou niks van dié man nie, hulle moet versigtig wees vir hom.

“Hy’s te glad, my man, te glad van aangesig en te glad met sy bek. Het jy gesien hy kan jou nie in die oë kyk as hy met jou praat nie? Hy lyk vir my soos die soort wat jou dogter in jou huis sal kom oulik maak en ook nog die melk uit jou koffie sal steel. En Fluitjie begin juis al so rondkyk na die jongetjies.”

Hoe min het sy toe geweet dat haar woorde bewaarheid sou word.

Op ’n Vrydagmiddag kom vra Fluitjie of sy vir die naweek by Elsie Cloete op Grootderm kan gaan bly. Katryn weet van g’n sout of water nie, Fluitjie en Elsie is al van kleins af groot maters. Sy sê ewe ja. Sy vermaan Fluitjie om haar te gedra en te sorg dat sy Sondagmiddag terug is, want Maandag moet hulle weer hard inval.

Sondag net voor middagete kom Fluitjie daar aan met Doempies Pieterse. Net een kyk, toe weet Katryn haar kind is nie meer die onskuldige meisie wat Vrydagmiddag by die huis weg is nie.

Haar bors wil toetrek as sy dink aan die groot baklei wat daardie Sondag op Diepdrif baklei is. Sy en Salmon het mooigepraat en geraas, maar Fluitjie het voet by stuk gehou: sy is verlief op Doempies en sy gaan by hom intrek.

“Die skande, my kind!” het Katryn geskree. “Jy bring skande oor ons huis! ’n Jongmeisie trek nie by ’n man in voor sy met hom getroud is nie.”

“En hoor nogal wie praat nou,” het Fluitjie parmantig gesê. “Wat het Ma en Pa dan gedoen? Ek en Pietertjie was al gebore toe was Ma en Pa nog nie getroud nie.”

“Ja, maar dit was anders. Ek het jou pa geken en ek het geweet hy’s ’n goeie man.”

Toe het Katryn klaar die praatjies oor Doempies gehoor, maar haar onderonsie destyds met sersant Koekemoer en Abraham Klink het haar geleer om liewers haar bek te hou.

“En wat laat Ma dink Doempies is nie ’n goeie man nie? Hy’s baie smarter as Grootderm se skurwevoetklonge.”

“Hy kom uit die Kaap uit. Die plek waar die skollies is.”

“Hoe weet Ma? Wie’t vir Ma daai storie vertel?”

“Jou oupa, my kind. Hy was daar in die tronk vir diamante.”

Fluitjie het spottend gelag. “Dan sou Oupa ook gedink het die mense in die Kaap is skollies. Die tronk is seker nie die beste plek om die goeie mense van die Kaap te leer ken nie. Los my uit, Ma. Moenie op my skel en vinger onder my neus hou terwyl jy self twee voorkinders gehad het nie. Ek en Doempies sal sorg dat ons getroud is voordat die eerste kinders aankom.”

Katryn se hart pyn sommer weer van die onthou. Ag, hoe goed was Salmon nie vir haar op daardie verskriklike dag nie. Hy het sy arm om haar skouers gesit en haar kamer toe gevat sodat sy nie hoef te sien hoe haar lieflingdogter met die Kaapse skollie die pad vat nie.

Toe sy toe-oog op die bed lê met ’n asynlap op haar voorkop, het hy by haar kom sit en haar hand vasgehou.

Ná ’n lang stilte het hy gesê: “Ons moet kophou, Katryntjie, ons moet kophou. Ons het hard vir ons kind baklei en ons het verloor. As ons elke keer wat ons vir Fluitjie sien vandag se baklei oorbaklei, sal ons ons kind vir altyd van ons af wegja. Ons moet gaan vrede maak en ons moet vir hulle sê ons voordeur is nie vir hulle toegemaak nie. Dan kan ons ’n oog oor ons kind hou en sorg dat die man haar nie rinneweer nie.”

“Jy is reg, my man,” het sy gesug. “Jou kop vat vandag beter as myne. Ek sal sountoe gaan en ek sal gaan vrede maak. Maar daar is een ding wat ek vanmiddag vir jou sê: Doempies Pieterse sal waaragtig nie met my dogter trou nie. Hy kan sy kinders by haar maak, maar voor hy haar kerk toe vat vir trou moet hy eers oor my dooie liggaam klim.”

Nadat sy gaan vrede maak het, het Doempies en Fluitjie byna elke naweek opgestap Diepdrif toe. Doempies het geweet hoe die Jonisse oor hom voel, maar hy het gekom. En as hulle Sondagmiddae die pad terug vat, het hulle genoeg kos vir die week saamgedra.

Hulle het ’n ongemaklike vrede gehandhaaf, tot die dag wat Fluitjie kom sê het sy verwag, en sy en Doempies beplan om met die volgende Nagmaal op Kuboes te trou.

Die woede wat Katryn maande lank opgekrop het, het op daardie oomblik oorgekook. Sy het Salmon se kalmerende hand van haar skouer af weggeslaan en vir Doempies voor die bors gegryp. Sy onthou die vrees in sy oë toe sy vir hom skree:

“Jy kan soveel kinders maak as wat jy wil, maar jy sal so waar as wat ek leef nie met Fluitjie trou en só by my familie insluip nie! Die oomblik wat julle trou, sit nie een van julle weer julle voete op Diepdrif nie.”

Fluitjie se dogtertjie is later gebore, maar van trou is daar nooit weer op Diepdrif gepraat nie.

En hoe dankbaar is Katryn nie vandag dat sy nooit kopgegee het oor ’n trouery nie. Want wanneer die hofsaak begin, sal Doempies Pieterse een van die vernaamste getuies teen haar wees. Hoe verskriklik sou dit nie wees as hy haar Ma moes noem nie.

Katryn

Подняться наверх