Читать книгу Katryn - Jan Huisamen - Страница 7
. Hoofstuk 3 .
ОглавлениеDie kamertjie waarin Katryn vir die advokaat sit en wag, ruik benoud. Die vensters is oop agter die tralies, maar steeds druk die benoudheid swaar op haar bors.
Dit moet vrees wees, dink sy. Haar pa het altyd gesê vrees het ’n ruik. As jy vir ’n hond bang is, dan ruik hy dit en dan byt hy. In hierdie kamer het die vrees van baie mense in die tafel en die stoele en die mure ingetrek. Sy hoop die man kom gou.
Sy wonder nogal hoe hy sal lyk, dié advokaat. Sy hoop hy is groot en fris met ’n diep basstem. As hy praat, moet almal met respek na hom luister.
En sy hoop hy sal haar met ordentlikheid behandel. Hoe verlang sy nie na ’n bietjie vriendelikheid nie. Van sersant Koekemoer en daai platneuskonstabeltjie haar agter in die vangwa geboender het, al die pad van Diepdrif af tot hier in die Kaap, was geen mens nog vriendelik of beleefd teenoor haar nie.
Sy maak haar oë toe en bid saggies: “Ag, Here, asseblief, as hierdie man vanoggend met my kom praat, laat hy glo dat ek vir hom die waarheid vertel. En laat hy tog mooi met my praat.”
Die deur gaan oop en sy ruk of ’n horingsman haar gepik het. Sy moet keer om nie hardop uit te roep nie. Nee, Here, jy kan nie dít aan my doen nie. Dis dan ’n kind! Hoe moet ek my lewe in sy hande sit?
“Goeiemôre, mevrou Jonis,” sê die jong man toe hy oorkant haar kom sit.
“Goeiemôre, meneer. Kan ek vir meneer sommer aan die begin iets baie vriendelik vra?”
“Vra maar, mevrou.”
“Moet tog asseblief nie vir my mevrou sê nie. Sê vir my op my naam, Katryn. In die wêreld waar ek vandaan kom, word ons nie ge-mevrou nie. As meneer nou vir my mevrou sê, dan werk dit op my senuwees.”
“Goed, Katryn, as dit sal help dat ons makliker met mekaar praat, doen ek dit met graagte.”
“Is meneer nou die enigste man wat my kom help?”
“Ja, Katryn, dit sal net ek wees. Ek is deur die staat versoek om pro Deo namens jou in die hof te verskyn.”
“Ek ken nog nie eers meneer se naam nie.”
“Ek is advokaat De Villiers.”
“Dankie, meneer. Ek wil nie meneer se tyd mors nie, maar sê tog vir my wat meen daai pro-ding waarvan meneer gepraat het.”
“Pro Deo beteken vir God, en vanuit ’n regsoogpunt beteken dit dat die staat die advokaat betaal. Al wat vir jou belangrik is, Katryn, is dat ek die werk gaan doen en dat jy my nie daarvoor hoef te betaal nie.”
“Daarvan weet ek nie so mooi nie, meneer. My oorle’ pa het altyd gesê jy moet oppas vir vernietgoed, want dis baie maal duurder as betaalgoed.”
“Ek verstaan. Jy is volkome geregtig daarop om ’n advokaat van jou eie keuse aan te stel om jou saak te behartig. Dit gaan jou egter baie geld kos.”
“Hoeveel geld?”
“Dit hang af hoe senior jou advokaat is en hoe lank die saak gaan duur. Die totale fooie mag honderde pond beloop.”
“Se moer! Ag, askies, meneer, maar honderd pond, dis mos afgryslik, meneer! Waffer mens het soveel geld? Dit sal alles opvreet wat ek en Salmon oor die jare bymekaargemaak het. Nee dankie, meneer, meneer moet maar aangaan.”
“Nou goed, Katryn, dan kan ons maar begin. Ek dink die beste manier sal wees om by die begin te begin. Ek gaan nou vir jou pen en papier gee en dan wil ek hê jy moet alles neerskrywe wat op daardie Vrydagmiddag van Koos Klink se dood gebeur het.
“Jy moet ook vir my neerskrywe al die goed wat voor die tyd gebeur het, alles wat te doene het met die saak voor die hof.”
Sy skuif agtertoe op haar stoel en trek ongemaklik aan haar kopdoek. Vee eers tydsaam haar rok oor haar bene plat.
“Ai, meneer . . . Die ding werk mos so: ek kan nie skrywe nie. Al skrywe wat ek ken, is my naam, Katryn Jonis, gebore Goosen. En meneer, om dit te skrywe, vat vir my lank.”
Hy sit haar ’n tydjie stil en aankyk. Sy moet sê, hy’s nogal ’n aanvallige jongetjie. Oop gesig, die wange kaalgeskeer, die geel hare netjies agteroor gekam. Deftig met die pak klere aan, wit hemp en streepdas.
“In daardie geval sal ons ’n ander plan moet maak, Katryn. Maar sê my eers: is daar enige getuies wat ons vir jou moet laat kom?”
“Van getuies weet ek nie, meneer. My man en my kinders was daar in die omte, maar daar’s niks wat hulle kan vertel wat ek nie self vir die hof kan vertel nie. Hulle sal dan die hele ent pad verniet gekom het, meneer, en dis mos bitter ver. En die lamtyd kom nou aan, so hulle kan nie van die plaas af wees nie. Ek dink ons los hulle maar net waar hulle is.”
“Nee, Katryn, in die hof werk dit nie so dat jy jou storie kom vertel en almal sal jou glo nie. Maar kom ons wag eers met die getuies. Laat ek meer agtergrond oor jou saak kry en dan sal ek besluit.”
Sy kyk af na haar hande, vryf oor die eelte in haar palms. Dis net die ding waaroor sy nog heeltyd wonder: of die hof se mense haar sal glo.
“Wanneer begin die saak, meneer?”
“Oor ’n week van vandag af. Dis volgende Maandag.”
Sy kyk op na hom toe. Nou sal sy moet mooipraat voor hierdie witman.
“Ai, meneer, kan hulle my dan nie na ’n enkelsel toe skuif nie, asseblief ? Die bewaarderes het vir my gesê daar is sulke selle. As die saak begin, wil ek nie tussen ’n klomp raserige skollievroue wees nie. Ek moet dink, ek moet stilte in my ore hê.”
Hy lag ’n bietjie, ’n vriendelike lag wat sy oë laat nou trek.
“Ek verstaan, Katryn. Ek sal my bes doen om jou oorgeplaas te kry. Ek kan niks belowe nie, die hofselle is baie vol, maar ek sal tog ’n woordjie by die hoofbewaarder laat val.”
“Baie, baie dankie, meneer.”
Hy trek die bruin koffertjie nader wat nog heeltyd langs hom op die tafel lê, knip dit oop en haal ’n bondeltjie papiere uit.
“Katryn, daar is ’n baie belangrike keuse wat jy moet maak voor ons verder gaan. Verkies jy om deur ’n regter en ’n jurie verhoor te word, of verkies jy om deur ’n regter en twee assessore verhoor te word?”
“Nou sal meneer eers die storie vir my moet uitlê. Ek weet net van ’n regter, maar van daai ander twee het ek nog nie gehoor nie.”
“ ’n Jurie is gewone mense wat aangesê word om na jou saak te luister en dan moet hulle aan die einde uitspraak lewer. Die assessore is twee persone, gewoonlik ook regsgeleerdes, wat deur die regter gevra word om hom by te staan met die verhoor en die uitspraak.”
“Die jurie, meneer, is hulle almal witmense?”
“Ja, Katryn.”
“En hoeveel is hulle?”
“Nege altesaam.”
“Dan vat ek die regter en nog twee manne.”
“Is jy seker?”
“Ja, meneer, ek is doodseker.”
“Mag ek vra hoekom?”
“Sien meneer, dit werk só: ek vertrou nie die witman nie. My eie oupa was ’n witman en hy was die eerste mens wat my geleer het dat ’n bruinmens nooit ’n witmens kan vertrou nie, al is daai witmens ook sy eie bloedfamilie. Nou as ek moet kies tussen nege witmense wat ek nie kan vertrou nie en twee witmense wat ek nie kan vertrou nie, dan kies ek die twee. Ek kan nie skrywe nie, meneer, maar ek kan reken.”
Hy kyk op van die papiere in sy hand en lag slegweg.
“Ek hou van die reguit manier waarop jy met ’n ding uitkom, Katryn. Ek hoop as hierdie saak verby is, sal jy kan sê dat advokaat De Villiers darem een witmens is op wie jy kan vertrou.”
“Ek hoop ook so, meneer.”
Hy skuif ’n papier oor die tafel na haar en haal ’n pen uit sy binnesak, skroef die doppie af. “Hierdie is net ’n vorm wat verklaar watter soort verhoor jy verkies: regter en twee assessore. Jy moet hier jou naam teken,” beduie hy en gee vir haar die pen aan.
Sy sukkel met die blink pen met die skerp nib, druk dit ’n slag regdeur die papier, maar hy wag geduldig tot sy klaar haar naam geskryf het. Hy vat die papier en sit dit saam met die ander papiere terug in sy koffertjie, druk die knippe toe en staan op.
“Ek moet nou eers gaan, maar ek sal vanmiddag weer ’n tydjie met jou kom gesels. Môre begin ons met die regte werk.”
“Reg, meneer. Dankie, meneer.”
Dis ’n ander bewaarderes wat Katryn die middag by die sel kom haal. Aan die son wat skuins deur die benoude kamertjie se vensters val, kan sy sien die son trek al water.
Die advokaat kom in met sy bruin koffertjie. Hy glimlag vriendelik vir haar en sy is geheel bly om hom te sien.
“Middag, Katryn.” Hy haal ’n boek en ’n pen uit. “Nou gaan ons ’n bietjie gesels en ek gaan ’n paar aantekeninge maak.”
Hy wag tot sy knik voor hy verder praat.
“Sê vir my, Katryn, hierdie Klink-familie: haat jy hulle?”
Die vraag vang haar half skrams in die wind. Nou sal sy moet kophou soos ’n dronk weeluis.
“Meneer, haat is nou nie ’n woord wat Katryn Jonis ken nie, want Katryn Jonis het nog nooit iemand behalwe haar wit oupa gehaat nie. Maar praat ons nou van die Klinke en hoe ek oor hulle voel, is haat nie die regte woord om te beduie hoe ek voel nie. Ek verpes die Klinke. Ek verpes hulle soos ek die tkamma verpes wat my lammertjies kom vang. Ek verpes hulle soos ek die koringluis verpes wat in ’n land inkom en alles opvreet solat jy nie ’n korrel oes nie. Ek verpes hulle soos ek die knopiespinnekop verpes wat onder die koringgerwe inkruip en jou aan die vinger byt as jy daai gerf optel. Ek verpes hulle soos ek die pofadder verpes wat in die voetpad in die stof lê en jou pik as jy daarlangs loop.”
Die advokaat het lankal ophou skrywe. Sy hand met die pen in hang in die lug.
“Dis gevaarlike woorde wat jy nou daar sê, Katryn. Ons sal maar versigtig moet wees dat jou gevoelens nie in die hof na vore kom nie. Dit kan jou saak ontsettend benadeel.”
“Meneer, net so min as wat die son wat opkom sy lig kan versteek, so min kan ek dit vir mense wegsteek hoe ek oor die Klinke voel.”
Hy sug en skud sy kop.
“Dit moet ’n ontsettende twis tussen julle gewees het. Waar kom dit vandaan? Wie het dit begin?”
“Abraham Klink het dit begin, meneer. Die nag toe my pa sterwend aan die bloedhoes gelê het, het hy klippe op ons huis se dak gegooi en my pa en sy nageslag tot in sy graf in vervloek. Maar dit was nog nie die ergste nie. Hy het my pa se graf geskend, sy nagvuil daarop uitgemors! Waffer soort mens doen dít, meneer? Dan praat ek nog nie van al die skades wat hy ons Jonisse aangedoen het nie. Waar Abraham Klink se haat vir ons vandaan kom, weet ek nie, dit moet jy maar vir hom gaan vra. Soos ek hier sit, meneer, kan ek voor die Here sweer dat ek en my familie nog niks aan daai mense gedoen het nie. Voorwaar niks nie, behalwe dat ek nie Joey Klink se voorkind wou oppraat nie. Maar meneer, as ’n mens aan jou doen wat die Klinke aan die Jonisse gedoen het, dan moet hy nie kom oppraat vra die dag as sy kind op sterwe lê nie.”
Hy kyk fronsend na haar. “Wat is oppraat?”
“Meneer, nou ja, dis ’n ding wat ek glo die mense hierlangs nie sal ken nie. Oppraat is ’n ding wat Elotsê, ons Namas se God, so een-een op ’n slag aan die Namavrouens gee. Dis ’n krag wat so sterk is dat jy ’n sterwende kind na die lewe kan terugpraat. Jy praat daai kind aan om te lewe en as jy praat en aanhou met praat, dan lig die kind sy kop op en raak hy gesond. Daai oppraatkrag is in my. Ek sal elke sterwende Namakind wat na my gebring word oppraat, maar vir Abraham Klink se kleinkind wou ek nie my mond oopmaak nie.”
Dis stil terwyl die advokaat in sy boek skryf. Toe sit hy sy pen neer en kyk lank na haar.
“Jy sê jy kan nie skrywe nie, Katryn, maar een ding is seker: jy kan praat. Môre sal ons moet praat oor die moord op Koos Klink.”