Читать книгу Soen - Jan Vermeulen - Страница 6

Оглавление

“Graadtwaalf, sal jy die liefde van jou lewe met die dood dreig as hy of sy nie jou liefde kan beantwoord nie?”

Juffrou Scarlett R. Reynolds kyk na hom terwyl sy die vraag vir die klas vra, maar die kilheid in haar andersins warm, bruin oë laat Peet Rautenbach voel sy stel slegs in sy antwoord belang. Sy staan so naby hom dat hy die wilde polsslag in haar nekaar kan sien, ook die voglagie op haar sensuele lippe. Die ronding van haar bors in die halfdeursigtige sigeunerrokkie laat hom na ’n stukkie houtskool en skilderkwas verlang.

komaan peet sy sal in jou gesig burp as jy vir haar sê hoe jy oor haar voel

Dis nie ’n helder stem nie. Dis eintlik geen stem nie. Tog ken Peet die stem al sy lewe lank. Hy verstel aan sy skooldas. Dis ’n drukkende warm somersdag. Boonop wurg die das hom en broei sy lyf in die verpligte langbroek en leerlingraadbaadjie.

Die veelkleurige rokkie hip-hop om haar knieë toe sy na die tafel voor in die klas loop. Die fyn stringe klokkies klingel met elke tree om haar heupe. By die tafel swaai sy om. Haar koringblonde kartels swiep om haar gesig. “Julle het seker almal hierdie berig in gister se Burger gesien.” Sy skakel die dataprojektor aan.

Teen die wit skerm verskyn die opskrif: NOG ’n BLONDE STUDENT VERDWYN.

“Wat dink julle het van haar geword?” vra juffrou Reynolds. Sy flits ’n paragraaf teen die wit skerm:

Chanté Locke

Port Elizabeth. – ’n Woordvoerder van die SAPD het bevestig dat ’n amptelike dossier by die Buro vir Vermiste Persone geopen is vir die twintigjarige Blossom Wait wat sedert ’n wilde Goth-partytjie verlede naweek by Willows soek geraak het.

“Die skindertonge sê haar vriend het haar dikwels met geweld gedreig wanneer sy aandag van ander mans kry,” gaan die juffrou voort. “Het hy sy dreigement uitgevoer? Of is hier ’n monster in ons stad wat jong, blonde studente opvreet? Voor julle besluit, kyk hierna.”

’n Volgende paragrafie verskyn teen die wit skerm:

Dit is hierdie week ’n jaar gelede dat nog ’n blonde PE-meisie, Lily Palmer, proefstudent by Algoa Hoër, spoorloos verdwyn het.

“My voorganger,” herinner sy die klas. Sy druk weer die knoppie op die afstandbeheer.

Die skoolhoof van Algoa Hoër, meneer Herman Coetzer, het aan ons redaksie gesê Lily Palmer se verdwyning word steeds deur die personeel en leerders betreur. Coetzer, wat self twintig jaar gelede ’n studentedogter in ’n grusame motorongeluk verloor het, het sy meelewing teenoor beide die meisies se ouers betuig. “Niks kan die verlies ophef nie. Die pynlike gemis raak net erger. Want die liefde vergaan nooit.”

“Wat kan die verband tussen Lily en Blossom se verdwyning wees?” vra juffrou Reynolds. Sy lyk bleek in die gesig. “Skryf vir my ’n opstel daaroor. Om julle kreatiewe denke te stimuleer, luister eers goed na hierdie liefdeslied.”

Sy skakel ’n CD-speler aan.

Peet herken die Meat Loaf-treffer die oomblik toe die kitaar soos ’n brullende motorfiets lostrek. Die klavier en ander kitare val ook in voor die agtergrondstemme opklink. Eindelik sing die blok van ’n Meat Loaf in sy operastem: “And I would do anything for love …”

Peet se selfoon vibreer teen sy bobeen.

Hy haal die foon onder beskerming van sy bank uit sy sak. Met sy duim vee hy oor die venstertjie. Loer. Dis ’n WhatsApp van Bennie Jantjies wat ’n paar banke skuins agter hom sit: Watter gogga het Reynolds se galblaas stukkend gebyt?

Peet antwoord met ’n glimlaggie.

Nog ’n WhatsApp land. Dié keer is dit Moira Kolyn: Hi luv. Jy ht nogi 1 keer uit jo eie gesê jy lief my ook ni. En ons is al 2 mnde saam besef jy?

Hy stuur vir haar ’n blommetjie. Oomblikke later kom Bennie se reaksie: Wel, as die juffrou se oë koeëls kon skiet, het jy nou vol lood in die lykshuis gelê en bibber.

Peet glip sy foon terug in sy sak, want hy sien juffrou Reynolds gluur hom aan. Hy probeer haar met sy oë kalmeer, probeer vir haar vertel hoe hy oor haar voel, soos wat hy al die afgelope paar maande elke dag vir haar met sy oë probeer oortuig. Sy bly so gevoelloos soos ’n sandbeeld op die strand na hom kyk.

Toe Meat Loaf sweer: “But I won’t do that!” skakel sy die CD-speler af. “Vertel my in jou opstel wat het van die twee blonde studente geword. Wie laat hulle verdwyn en hoekom? Skryf ook vir my jou definisie van ware liefde neer.”

“Hoeveel woorde, Juffrou?” vra iemand van agter in die klas.

“Duisend vyfhonderd.”

“Duisend vyfhonderd!” kreun Moira Kolyn.

Juffrou Reynolds ruk haar lyf regop. “Het ek gesê duisend vyfhonderd? Ek het twee duisend bedoel. Handgeskrewe.” Met elke woord sweepslag haar stem. Sy het sterk, helderwit tande wat effens oneweredig lê, maar selfs dít is vir hom mooi. “Die opstel is vir Maandag,” gee sy die opdrag ’n steiler opdraand.

“Bitch,” mompel Tom Kruger agter hom.

donner die vent

Peet se das kry lewe en krul soos ’n slang stywer om sy keel, so styf dat sy nekare swel. Hy pluk die boonste knoop van sy hemp los. Teen dié tyd is sy skraal lyf natgesweet in die baadjie. Hy voel sy lyf se wasem teen sy vel. Sy kop word ’n dobberende heliumballon. Hy smyt sy boeke in sy groen rugsak.

Juffrou Reynolds sweef by hom verby op pad na juffrou Bekker, bynaam Jumbo, die departementshoof wat haar van agter in die klas sit en beoordeel. Die alsiende blink ogies van die kringtelevisie se kamera teen die plafon volg haar, kan Peet sien. Blykbaar volg die hoof se oë haar ook van waar hy in sy kantoor agter sy massiewe lessenaar sit, want sy stem stuit haar oor die interkom: “Juffrou Reynolds. Na my kantoor toe. Dadelik.”

“Yes!” jubel Tom gedemp agter Peet. “Bitch!”

Juffrou Reynolds byt op haar onderlip terwyl sy haar handsak en aktetas voor in die klas gaan opraap. Sonder om na die graadtwaalfs te kyk, vlieg sy met die geklingel van fyn klokkies om haar heupe by die deur uit. Op dieselfde oomblik kondig die klok skril die einde van die skoolweek aan.

Dit donderweer soos almal boeke wegpak, stoele op die plankvloer terugskuif en aan die babbel gaan, met die getwiet van selfone en tablette tussenin.

Peet staan op. Hy draai om na Tom. “Het jy haar ’n bitch genoem, Tom?”

“Ja.” Die amateur swaargewig-bokskampioen van die Oos-Kaapse skole verrys tot sy volle 1.9 meter. Hy kyk af na Peet: “Want sy ís ’n bitch.”

“Tom.” Peet voel hoe sy mond uitdroog. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Bennie hom grootoog aangaap. Skuins agter Bennie hurk Moira in haar korter-as-wettige rokkie langs haar tas. Ook sy kyk op na hom. “Tom,” sê hy, “trek asseblief jou woorde terug.”

Tom het die breedste glimlag in die ganse skool. “Of anders?”

“Of anders kan ek jou harder laat val as wat jy nog ooit geval het.”

“Jy?” Tom koggel Peet met die wysvinger teen die voorkop. “Dink jy ek skrik vir jou omdat jou pa en ma pastore is, hoofseun? Ons almal weet jy het nie hulle heilige gene nie. Ons weet hulle het jou op die weeshuis se stoep opgetel. Kaalgat in koerantpapier.”

Peet hoor hoe word asems ingesuig.

nou eet hom nou

Tom skrik vir seker ook nie vir die vuishou wat na hom toe snel nie, of vir die groen what-would-Jesus-do armbandjie om Peet se dun gewrig nie, want hy probeer nie eens keer nie. Die vuis tref hom in sy diafragma. Hy knak dubbeld en blaas af soos ’n band met ’n skielike lek. Twee banke tuimel saam met hom om. Hy beland tussen die banke en voete wat wegskarrel.

“Wat de hel …” Jumbo is eerste op die toneel. Haar lyf sidder soos sy haar dik enkels langs Tom plant. “Wat het gebeur, Kruger?”

Tom krul op soos ’n ietermago. “Ek het geval,” sê hy uitasem, rooi in die gesig.

“En hoe val jy sommer so jou eie wind uit?!” gil die departementshoof.

Tom trap teen sy rugsak. “My voet het gehaak. Toe val ek met my maag op die bank.”

’n Gelag bars los.

“Stilte!” beveel sy. Haar dubbele ken flap op en af. “Stilte, of ek soen julle almal met die skandvlek van Mamma Bekker.”

’n Stilte daal oor die klas.

Peet swaai sy rugsak oor sy skouer. Hy maak seker die kunssak is ook vasgegespe; omtrent ’n A3-grootte. Die blote herinnering aan Mamma Bekker se skandsoen laat hom ril; die soen wat jy nie van jou wang mag afvee voor die skooldag om is nie, anders skryf sy jou naam op die detensielys.

“Praat Tom die waarheid?” wil sy van die omstanders weet.

“Ja,” antwoord ’n spreekkoor.

“Ja wie?”

“Ja, juffrou Bekker.”

“Nou vir wat staan julle nog hier rond? Skoert uit my klas, julle hormoon-barbare.”

’n Vertrapping volg soos almal by die deur uitvlug.

“Jisss, Petrus,” keer Bennie Jantjies vir Peet in die gang aan die elmboog voor.

“Ben!” Peet kan nie sy lag inhou vir die ontstelde trek op die ronde gesig van sy kortgat vriend nie. Nogtans sê hy ernstig: “Nie die J-woord nie, Ben.”

Bennie vou sy hande asof in gebed. “Jammer, hoofseun, maar fokkit! Het Satan in jou gevaar? Ek het nog nooit gesien jy slaan iemand nie. En dit die onderhoofseun. Jy is in groot kak. Of het jy vergeet sy ma is Besemlip se sekretaresse en sy pa is ’n polieskaptein?”

Peet stryk weer aan. “Hy het juffrou Reynolds ’n bitch genoem en vir my ’n weggooikind. Hy het verdien wat hy gekry het, maak nie saak wie sy pa en ma is nie.”

Bennie fluit deur sy tande. “Maar face facts, tjoema. Vandag was daai proefie ’n bitch.”

“Iets het met haar gebeur, Ben.”

“Dalk het PMS met haar gebeur.”

“Ben!” Hy pluk Bennie aan die mou.

Bennie ruk weg. “Jy lyk soos ’n selfmoord-bomber wat net wil doef!”

“Sien ’n mens dit so maklik?”

“Jip. So praat met my. Kyk hierso, ek ís ’n darkie en my pa’le ís arm, maar ek kry ’n A vir Afrikaans nes jy. En ek ken vir jou. Ek kan sien jy moet praat.”

“Later.”

Uit al die klasse vloei rye blou skooluniforms soos systroompies in die hoofstroom wat in die gang af hekke toe beur. Baadjies en dasse word in rugsakke geprop ten spyte van luide protes van ’n paar onderwysers.

“Poepe teen die bergwind,” lag Bennie.

Moira wag reeds by die motorfietsloods. Selfs in die skadu van die ruie moerbeibome ruik die teer gesmelt. Peet sluit die ketting om haar scooter se voorwiel los en stoot die pienk rytuigie van sy stutte af.

Haar grys oë lag tevrede, so ook die gewillige mond. Sy gryp hom aan die arm en du haar onderlyf na hom uit. “Dankie, Superman.” Hy sien ’n nuwe bewondering in haar oë. Toe sy haar been wyd oor die scooter se sitplek swaai, flits ’n pêrelwit driehoek. ’n Wolwefluit klink op tussen ’n groepie juniors by hulle trapfietse. Sy skiet ’n middelvinger in hulle rigting.

“Moira.” Peet neem haar hande ferm in syne. “Daar’s iets wat ek vir jou moet sê.”

“As dit oor skoolreëls gaan, vergeet dit,” sê sy. “Ek sal aantrek wat ek wil, hoofseun.”

“Moira, ek’s ernstig.”

Haar oë blink. “Ek kom vanmiddag, dan kan jy jou tyd vat om vir my enigiets te sê. In daardie staalarms van jou op jou bed.”

“Nee.” Hy loer na Bennie, maar dié bly staan asof hy ’n betaalde lyfwag is. “Moira.” Hy sluk aan die knop in sy keel. “Ek’s jammer, maar dit werk nie.”

“Wat bedoel jy?” vra sy in ’n stem wat klink soos ’n eggo van die hadida wat juis klaend van die skoolgrond se grasperk opvlieg.

“Ons, Moira. Ons werk nie.”

Sy trek haar hande uit syne. “Drop jy my vir iemand anders?”

“Dis nie jy nie,” is al pap antwoord wat hy kan uitdink.

Sy pluk die valhelm oor haar kop. “Ek whatsapp jou.” Sy skop die scooter aan die brand en trek met ’n boog weg, die blou skoolrokkie hoog teen haar bruingebrande, atletiese bobene opgeskuif.

Bennie asem diep in: “Jy doen jou reputasie gestand. Jy’s al weer gemeen.”

“Dink jy dit was vir my maklik?” Peet trek die bande van sy rugsak stywer oor sy bors. “Ek moet waai.” Hy is op sy groen Kawasaki Ninja 150 RR.

“Help jy my nog met die wetenskaptaak?” vra Bennie en bestyg sy verbleikte rooi Honda CBR 150 R.

“Ja. Kom so halfvyf.”

Juffrou Reynolds verskyn asof vanuit ’n moederskip langs hulle. Die wind speel met haar krulle, speel met haar rokkie teen die heuwels en dale van haar lyf. Aan haar sy is die gespierde Besigheidstudies-onderwyser, meneer DanCarl Blom, in sy superstywe swart sportlangbroek, swart kortmouhemp en net ’n bossie swart hare bo-op sy blouswart kaalgeskeerde kop. Hy klou juffrou Reynolds aan die hand en trek haar agter hom aan na sy rooi Audi TT onder die skadunette.

“Besemlip het vinnig met haar afgereken,” sê Bennie. “Sy lyk bemoerd.”

Meneer Blom maak die TT se deur vir haar oop. Sy klim in en slaan die deur hard toe.

“Beslis PMS,” brom Bennie. “Punish men severely.”

Meneer Blom se tande skitter toe hy om die TT loop en sy sonbril oor sy gesig skuif.

“Dis iets ergers,” sê Peet en pluk sy das af en prop dit in sy baadjiesak. “Ek kan sien sy leef in helse vrees en dit krap haar om. Vir my ook.”

“Aha!” Bennie slaan sy hande saam oor sy mond. “Jy’s al weer verlief op ’n proefie.”

Peet laat sak die swart valhelm oor sy kop.

“Jy steek verniet nou daai husky-blou ogies van jou weg,” sê Bennie.

“Verlief is oppervlakkig,” antwoord Peet in die valhelm. “Scarlett Reynolds is my trouvrou.”

Bennie se mond val woordeloos oop.

Toe die rooi vuurwa stadig in die laning van akker- en moerbeibome afdreun, volg Peet op sy motorfiets. Die Audi se enjin brul skielik. ’n Paar duiwe vlieg takke toe. Die TT se breë bande skop fyn klippies op en laat die gevaarte deur die skoolhekke swenk.

By die hekpaal staan die opsigter, die lang, skraal oom Freek, oudergewoonte met ’n geboë nek en wag vir almal om te vertrek sodat hy die slotte weer kan sluit. Peet ry by hom verby en wuif met die linkerhand se vingers. Oom Freek groet nie terug nie.

Peet draai die versneller van sy Kawasaki oop. Die 1-silinder-enjintjie skreeu onder hom, maar die TT se agterstewe raak met gemak kleiner voor hom in die straat en voer juffrou Reynolds al verder buite sy bereik.

Die verkeer dam op naby die afrit van die universiteit in Admiraltyrylaan. Peet vleg met die motorfiets gefrustreerde koeksisters tussen die motors deur tot hy inswaai by die oprit van die dubbelverdiepinghuis waar pastore Tim en Ryna Rautenbach met hulle aangenome seun Petrus bly.

Hy skakel die enjin af. Die momentum neem hom tot onder die afdak waar hy dadelik sy kop uit die oond van die valhelm bevry.

Sy onderkaak raak lam toe hy die swart Mercedes Benz voor die huis herken. Die skoolhoof klim soos ’n statige Mafiabaas uit, swart aktetas in die hand. Hy skud die pype van sy donkergrys pak reg en pik sy wynrooi das stywer.

hier kom heavy shit hy is nie vandag hier vir berading nie

“Dis duidelik.” Peet wag ’n paar minute na meneer Coetzer by die voordeur ingenooi is, voor hy ook by die huis inglip. Die koelte van die lugversorgers verwelkom hom met oop arms. Hy hardloop met lang hale teen die wenteltrap op na die boonste verdieping, in die gang af tot in sy kamer. Sy skoolklere vlieg deur die lug soos hy uittrek sodat hy sy oorverhitte liggaam onder ’n koue stort in sy badkamer kan lawe. Daarna ruk hy ’n donkerblou kortbroek uit sy klerekas.

Die rooi liggie van sy interkom op die lessenaar skiet met ’n ligte knal aan. Hy druk die knop in: “Wat?” Geen reaksie aan die anderkant. Daarom antwoord hy soos hy geleer is: “Ja, Pa?”

“Kom af sitkamer toe.”

ek sê mos besemlip het vir jou gekom nie vir berading nie

“Ek wil begin met my huiswerk, Pa.”

“Kom, Petrus.”

as hy jou petrus noem is dinge so ernstig soos die wet en profete self

Hy trek ’n wit gholfhemp aan wat losserig oor die kortbroek hang. Havaianas. En stoot sy kam deur sy nat hare, agteroor.

Die gang wat na die wenteltrap lei, is met skilderye in klassieke rame behang asof die huis ’n kunsmuseum is. Die digte mat laat hom geruisloos teen die stewige wenteltrap ondertoe seil. Duisende liggies skitter in die kristal van die kandelaber wat langs die trap hang en weerkaats in die gepoetste silwerkershouers teen die muur. In die ruim sitkamer met die antieke houtmeubels, silwerbakke en -ornamente onder die hoë versierde wit plafon, kyk pastore Tim en Ryna en die skoolhoof op toe hy instap.

Hy herken Mendelssohn se onstuimige Klavierkonsert No. 1 in G-mineur wat in die agtergrond speel.

Sy ma het ’n pastelkleurige rokkie aan wat oor die knieë reik. Kaal bene en Green Cross-sandale. Haar vosbruin hare is styf rondom die kop vasgesteek. Sy pa is in ’n swart katoenlangbroek, wit kortmouhemp, skoene van krokodilleer. Sy silwergrys hare is perfek agteroor gekam sodat die punte oor sy kraag vee.

Meneer Coetzer staan op van die rusbank. “Middag, Peet.”

Stewige handdruk.

poephol

“Middag, Meneer.”

“Sit, Petrus.” Sy pa beduie na die sofa. Hy het ’n fynbesnede gesig. Blou oë. “Meneer Coetzer het iets ernstigs op die hart.” Sy pa en die hoof se oë smelt saam. Peet sien vandag ’n diep band tussen die twee mans wat hy nog nie voorheen opgemerk het nie.

“Eerstens moet ek benadruk, Peet,” begin meneer Coetzer. “Jy is Algoa Hoër se mees voorbeeldige hoofseun in jare. Vanjaar verower jy nog die SA Beker vir Redenaars. Ons verwag van jou minstens sewe A’ s. En een vir kuns, volgens meneer Buthelezi. En dan weet ons almal van jou natuurlike musiektalent. Jy is voorwaar ’n uiters begaafde jongman.”

maar

“Maar vandag kom ek na jou toe met ’n netelige kwessie. Jy weet waarna ek verwys.”

“Ek het nie ’n idee nie, Meneer.”

“Peet.” Pastoor Ryna se oë raak sag soos gebreide groen klei. “Dink mooi.”

“Petrus,” val pastoor Tim ook in. “Ons verwag eerlikheid van jou.”

die drie span mos nou saam teen jou

“Meneer Coetzer moet vir ons sê waarvan hy praat.”

“Goed,” stem die hoof in. Aan die ringvinger van sy hand wat oor sy ken vryf, glim ’n breë troupand, al is hy reeds ’n paar jaar geskei. “Ek gee jou ’n leidraad. Juffrou Reynolds.”

“Juffrou Reynolds?”

Die hoof kyk so gevoelvol soos ’n skeurtandhaai na hom. “Juffrou Reynolds beweer jy het haar met die dood gedreig, Peet. Dat jy haar met ’n mes sal doodmaak as jy haar nie kan kry nie.”

Peet voel hoe ’n deksel aan die bokant van sy skedel oopklap. Hy gryp sy bobene vas in ’n poging om te verhoed dat hy deur die opening in sy kop vlug.

Soen

Подняться наверх