Читать книгу Soen - Jan Vermeulen - Страница 8
ОглавлениеHy vind Jasmine Court maklik; ’n erg verwaarloosde drieverdieping woonstelblok in Port Elizabeth Sentraal. Hy parkeer sy Kawasaki reg langs die rooi TT in die parkeerarea. Sit en bekyk eers die omgewing. ’n Paar gestaltes snuf in die donker dele van die kompleks rond, veral rondom die vullisdromme. Op die naaste straathoek staan twee vroue in minirokke en visnetkouse. Hulle stoot hulle heupe uit na enige voertuig wat stadig aangery kom.
Is dit so ’n ma wat hom toegedraai in ’n koerant op die weeshuis se stoep gaan neersit het, wonder hy voor hy sy valhelm afhaal.
Volgens die adreslys bly juffrou Reynolds op die derde verdieping. Nommer 306. Sy oë volg die smal stel trappe na bo. Net in ’n paar vensters brand lig. Die gange lyk donker.
Hy maak seker die motorfiets se alarm is aan. Eers deur die ingang met die gekraakte ruite. By die verrinneweerde posbussies verby. Eerste stel donker trappe. Hier pak ’n gevoel van onveiligheid hom so erg dat hy die valhelm soos ’n wapen in sy regterhand klem voor hy die tweede stel trappe aandurf. Dis nouer hier as wat dit op ’n afstand lyk. Teen die derde stel skrik hy homself koud toe hy op die hand van ’n slapende mens trap, en dié met ’n hees kreun regop kom. Peet uiter ’n kreet en slaan woes met die valhelm na die figuur, maar mis gelukkig die bebaarde man se kop met sentimeters.
“Jammer!” Koue rillings hardloop steeds deur sy lyf. Hy skuur vinnig verby. Twee trappe op ’n slag. In die gang af. Die gangligte se gloeilampe skitter in hulle afwesigheid.
Eindelik staan hy voor 306. ’n Dowwe lig skyn van binne deur die geriffelde glas van die deur. Alles in hom is gespanne toe hy klop. ’n Beweging aan die binnekant. ’n Sleutel draai. Die deur gaan oop tot waar die veiligheidskettinkie strek.
’n Kaalbolyf meneer Blom loer deur die skreef. Die klos hare hang soos ’n nat stert oor sy voorkop. “Wie soek jy?”
“Ek moet met juffrou Reynolds praat,” stotter Peet.
“Wie is jy?”
“Peet Rautenbach. Asseblief, dis baie belangrik.”
Meneer Blom frons. “Is jy die kakhuis wat haar stalk?”
“Nee. Dis juis waaroor ek met haar moet praat.”
Die deur swaai oop. Meneer Blom het ’n handdoek om sy onderlyf gebind. Bofbalkolf in sy hand. “Ek donner jou hardegat gesiggie vir jou flenters.” Hy stamp die kolf teen Peet se bors. “Ons is nie nou by die skool waar jy kroonwild is nie.”
Peet steier tot teen die stoepreling. Die drie verdiepings suig soos dertig verdiepings aan sy rug. Hy dwing homself om nie af te kyk nie. “Ek wil net met juffrou Reynolds praat.”
“Nee.”
“Ek sal haar nooit dreig nie, Meneer.”
“Dit kan jy Maandag vir die polisie spin,” sis meneer Blom na aan Peet se gesig, die kolf hard teen sy keel, die lae stoepreling en die dertig verdiepings agter hom. Of is dit drie honderd?
Iemand beweeg in die deur. Sy het ’n lang, geblomde kamerjas aan. Kaalvoet. Haar hare is in slierte teen haar kop. Sy is sonder grimering. “Wat gaan aan, Dan?” vra sy.
Meneer Blom loer oor sy skouer. “Jou stalker het kom kuier.”
“Wie?”
“Daai fake pastoor se seun. Peet Rautenbach. Moet ek hom oor die reling gooi?”
“Nee, wag!”
Meneer Blom sleep hom aan sy baadjie se kraag deur toe, die kolf steeds teen sy keel. “Sê hi vir jou stalker.”
slaan hom met jou crash helmet one shot teen sy neus
“Peet Rautenbach?” Hy sien weer die skrik van vroeër vandag in haar oë.
“Ek moet met Juffrou praat,” stotter hy.
Meneer Blom beur hom teen die kosyn vas, sy gespierde voorarm stewig teen die bors. “Jy kan Maandag alles vir die polisie verduidelik, jou vieslike klein gemors.”
“Waaroor wil jy praat?” vra juffrou Reynolds.
“Oor die sketse. Ek het dit nie in Juffrou se tas gesit nie.”
“En ons moet jou glo?” blaf meneer Blom in sy gesig.
Juffrou Reynolds tree terug. “Ons lyk sleg so in die deur. Kom binne.”
“Jy’s nie ernstig nie,” keer meneer Blom.
“Jy’s mos hier om my te beskerm.” Sy loop voor hulle uit.
Uiteindelik het Peet genoeg durf om die onderwyser se arm weg te stoot en die kolf onder sy ken uit te druk. Hy volg juffrou Reynolds verlig in die kort gangetjie af, met meneer Blom in sy nek. Reguit tot in die sitkamer waar ’n musieksentrum se liggies in die donker op maat van sagte musiek flikker. ’n Reusedakwaaier sirkuleer tjir-tjir die vroeë-aand hitte deur die vertrek. Die matte ruik muf. Die mure lyk muf. Groot, geelbruin kolle slaan uit teen die lae plafon. Iewers lek die dak gereeld. Die reuk van ou hondemis hang in die lug.
Juffrou Reynolds skakel ’n dowwe staanlamp aan en gaan sit op ’n rusbank. Die japon val hoog oop oor haar bene. Meneer Blom gaan sit langs haar en vou die japon weer toe.
“Sit,” nooi sy kil en beduie na ’n bank oorkant hulle.
Peet gaan sit, die valhelm op sy skoot. “Dit was nie ek nie,” sê hy weer. Sy hartklop begin bedaar. Iewers agter ’n toe deur tjank ’n ontstelde hondjie.
“Maar jy het die sketse geteken.” Haar bolip trek styf.
“Ek neem mos kuns.” Selfs al sit hy oorkant haar, kan hy haar ruik. Haar nat hare. Haar lyfseep. ’n Vroulike warmte. Mondspoel.
“Ek weet,” sê sy. “Maar wie gee jou die reg om my so te teken?”
“Dit was vir ’n opdrag. Ons moes iets skets met die tema ‘As ek jou nie kan hê nie’. Soos dit in ons gedagtes is.”
Meneer Blom klap teen die kolf wat by sy kuit leun. Sy ander hand rus hoog op haar been. “En juffrou Reynolds is so in jou kop?”
“Ja, Meneer.” Hy voel die blos oor sy gesig versprei. “Nee, Meneer. Ek bedoel, ek het haar as reference gebruik. As meneer sal verstaan wat dit beteken.”
Sy glimlag onverwags. Dis ’n glimlag wat sy hart direk aan sy maag vasknoop.
“Jy’s siek,” sê die man met die nat bokstert bo-op sy kop.
“Dis hoe kuns werk, Meneer.” En die liefde werk ook so, maar hy sê dit nie. “Hoe die sketse uit my kunssak in haar tas beland het, weet ek nie.”
“Maar wanneer het jy haar in ’n bikini gesien?” vra meneer Blom. “Of onder die stort?”
“Net in my gedagtes, Meneer. Kuns is verbeeldingryk en kreatief, maar logies ook.” Hy voel nou so ontspanne, dat die woorde soos water oor klippers rol. “Soos die verhouding tussen skelet en spiere en senings en sulke goed.”
Juffrou Reynolds snork deur haar neus. Dan giggel sy.
“Ha-ha-ha, lag ek ook,” draai meneer Blom die sarkasme-kraantjie oop. “Jy moet dink ons is onnosel. Môre vra ek vir daai Zulu of dit die waarheid is.”
“So jy sal iemand doodmaak as jy haar nie kan kry nie?” vra juffrou Reynolds.
Hy verduidelik vinnig: “Nee, Juffrou. Ek kan dink die ding van juffrou Palmer wat verdwyn het stres Juffrou op, maar my sketse het niks daarmee te make nie. My sketse sê maar net hoe ek hierbinne voel.”
Juffrou Reynolds staan op en swaai haar hand. “Jy moet nou gaan.” Vir ’n oomblik is dit weer net kaal bene wat hoog wys. Hy kan nie sy oë belet om te kyk nie. In ’n oogwink staan meneer Blom egter voor hom, die kolf gereed vir ’n doodslag. Die handdoek om sy onderlyf sit darem nog stewig.
“Juffrou Palmer het miskien skielik oorsee gegaan,” probeer Peet nog steeds die situasie red, maar hy besef hy verongeluk alles net verder.
Meneer Blom tol in die rondte en slaan met die kolf een helse hou teen die tafel se poot. “Hou jou bek van Lily af!” skree hy. “Uit! Trap!”
Peet kom koes-koes orent. Hy hou die valhelm beskermend voor sy gesig.
“Maandag is dit jy en die polisie!” skel die meneer terwyl Peet na die deur mik.
Die naglug is gloeiend om hom toe hy met die nou stel trappe na onder hop. Dié keer trap hy die slapende boemelaar mis. Uit by die gekraakte hoofingang. Tot by sy motorfiets. In die flou lig van die parkeerarea sien hy duidelik die diep krapmerk teen die kant van die rooi TT. Vanaf die voorste modderskerm tot heel agter. Presies aan die kant waar sy motorfiets staan.
Hy slaan sy leerbaadjie se kraag op, skuif die valhelm oor sy kop en swaai sy been oor die sitplek. Een van die vroue op die straathoek wuif hom nader, maar toe hy haar ignoreer, steek sy haar duime tussen haar vingers deur en gil iets onverstaanbaars op hom.
* * *
“O hel, Petrus, jy moes nie gegaan het nie.” Bennie Jantjies lê plat op sy rug op sy bed, hande agter die kop. “Jy het al die verkeerde goed gesê. Ek sweer sy dislike jou nou meer as ooit.”
Peet sit op die ekstra enkelbed in Bennie se kamer, met sy rug teen die muur wat tot by die plafon beplak is met gespierde mans in eksotiese swemdrag, deurtrekkers en sommige sonder ’n stukkie klere. Van iewers in die bakoond van ’n woonstel kom die reuk van ou visolie, wat op ’n stoof warm word, aangesweef. ’n TV dreun gedemp.
“Ek het gedink ek doen die regte ding om met haar te gaan praat.”
“En jy ís die Oos-Kaap se kampioenredenaar. Maar toe vat jy nie dié keer die beker nie.” Bennie skuif orent. “En nou glo hulle nog meer dis jy wat die sketse in haar tas gesit het.”
“Iemand frame my, maar dis niks. Hel, Ben, wat my mal maak, is die idee dat daardie selfde iemand haar wil vermoor.”
“Ag nee, komaan, Peet. Vermoor?”
“Sê nou dis wat met juffrou Palmer gebeur het. Sê nou iemand vermoor hulle. ’n Reeksmoordenaar. In ons skool!”
“Nou wil jy baasspeurder Piet Byleveld speel.”
“Wie’s hy?”
“Piet Byleveld was Suid Afrika se baasspeurder. Een van die drie bestes ter wêreld. May his soul rest in peace. Lees jy nie koerant nie, baasredenaar?” Bennie trek ’n deurtjie van sy bedkassie oop. “Of wil jy kaptein Bennie Griesel wees.”
“En wie’s hy?”
Bennie se gesig lag opgewonde terwyl hy ’n dik boek uit die kassie haal. “Hoofkarakter in meeste van Deon Meyer se boeke. Aha, daar’s nou ’n bekwame Bennie. Hoewel ek dink Meyer het vir Piet Byleveld ge-study toe hy vir Bennie Griesel ge-create het.”
“Goeie hel, Ben. Ek het nooit gedink jy’s ’n Bennie Boekwurm nie.”
Bennie kekkel. “Wys jou net hoe sleg ken jy jou beste vriend na al die jare. Kyk my uit. Hier staan die meeste van Meyer se boeke. Ek kort net een of twee.”
Peet leun nader. “En François Bloemhof. Hoekom hou jy dit alles in jou kas?”
“Want ’n mens hoef nie met alles uit die kas te klim nie. ’n Man moet darem aan sy brose reputasie ook dink, jy weet. By sekere ouens.”
“Ek’s jammer, Ben. Ek praat altyd net oor myself as ek by jou is.”
Bennie skuif die deurtjie weer dig. “Dis niks daai nie. So wat is jou volgende plan?”
“Ek dag jy het raad vir my.”
“My raad is …” Bennie vou sy hande saam. “Kom uit met die waarheid. Die volle waarheid. Want hoekom? Die waarheid sal jou vry maak. Sien, ek lees Bybel ook.”
“Die volle waarheid?” Peet veg teen die drang om eenvoudig op te staan en te loop. “So jy glo my ook nie.”
Bennie pruil sy mond. “Want jy vang mal dinge aan. Wat hét met jou en juffrou Palmer aangegaan? Een dag spog jy met die soen en die klap van jou lewe, volgende dag soek die polisie haar.”
Op daardie oomblik land ’n WhatsApp in Peet se foon. “Kyk nou hier.” ’n Foto van ’n meisie se benerige kaal heup. Net die heup. Fyn donsies oor die magie word digter na onder.
Bennie fluit deur sy tande. “Daai ene lyk te maer om juffrou Reynolds te wees.”
“Nee man, dis Moira.”
“Sy raak desperaat. Wat sê sy?”
“Yours in three.”
“Wat de f … Of mag ek ook nie meer daai Bybelse woordjie uiter nie?”
“Oor drie weke is sy agtien. Dis wat sy bedoel met drie.”
“En dan’s alles joune. Gelukkige duiwel!” Bennie se stem loop oor van spot. “Hoewel ek lankal elke aand lê en sien hoe kap julle spykers in. Kap in, kap in.”
“Sy wou nooit. Maar nou wil ek ook nie meer nie. Ek het jou mos gesê geen meisie meer tot ek juffrou Reynolds het nie. Geen soene. Geen vry nie. Dis hoe lief ek vir haar is.”
“En jy glo daai klein offer waarborg dat sy jou eendag vir altyd sal liefhê?”
Nog ’n WhatsApp arriveer.
“Is dit ’n foto van jou beloofde land?” vra Bennie.
“Nee. Maar dié een kan ek nie vir jou wys nie.”
“Hoewel die foto my niks sou maak nie.”
“Doen dit jou heeltemal niks as jy na ’n sexy meisie kyk nie?”
Bennie skud sy kop. “Ek kan skoonheid waardeer. Maar dit doen my niks. Onthou jy vir Sheila de Ville?”
“Mejuffrou Hoërskool?”
“Mejuffrou Hoërskool sonder deeltekens. Wel, eenkeer het ek besluit om eens en vir altyd seker te maak. Toe soen ek haar lank oopmond en vroetel oral. Soos in oral. Ek gril nou nog as ek daaraan dink. En geen styftes by my nie, net disgust. So erg dat ek petrol wou suip om my mee te reinig. Nee dankie, nie weer nie.”
Nog ’n WhatsApp. Peet lees lank aan die boodskap voor hy sê: “Dié keer is dit my ma. Sy sê die polisie soek my.”