Читать книгу Soen - Jan Vermeulen - Страница 9

Оглавление

Die twee polisiemanne in uniform lyk kinderlik onderdanig in die geselskap van pastore Tim en Ryna Rautenbach. Sersant Plaatjies en konstabel Green kan nie genoeg jammer sê dat hulle net hulle opdragte uitvoer nie.

“Waarop alles neerkom, is dít,” verduidelik die pa aan sy seun wat stil eenkant sit. “Die polisie kom waarsku jou as jy dit weer naby juffrou Reynolds se woonstel waag, sal sy en meneer Blom ’n klag van teistering lê.”

niks van die krap teen die tt nie

“Verstaan jy die situasie?” vra sy pa.

“Heeltemal. En ek’s baie jammer oor als.”

“Die ding is net,” sê konstabel Green, “die stad is op hol oor die koerantstories van die meisies wat verdwyn het. Almal sien nou net serial killers in almal.”

“Wel, ons het niks daarmee te doen nie,” sê pastoor Ryna. “En ek is seker Peet het nie bedoel om moeilikheid te maak nie.” Haar groen oë roer van gevoel.

“Natuurlik nie.” Sersant Plaatjies styg orent. “Ons teken aan dat Peet beloof om nie weer die dame by haar woonstel te besoek nie.”

Die twee uniforms laat ’n polisie-sweetreuk agter toe hulle vertrek.

“Is daar iets waaroor jy met my en jou ma wil praat?” Die pa se blou oë is ondersoekend op sy seun gerig. Sy hoekige ken is uitgestoot soos altyd wanneer hy ’n ernstige vraag vra. “Onthou ons ooreenkoms in hierdie huis. Geen geheime word onder ons matte gevee nie.”

“Ek onthou, Pa. En ek’s jammer dat die polisie hier moes aankom.”

“Polisiemanne se oë gee my altyd koue rillings,” sê sy pa. “Maar ons glo jy is jammer. Nè, Mamma?”

“Hoe dan anders,” beaam sy.

“Daarom wil ons weet of ons vir jou mag bid,” sê sy pa.

’n Krieweling woel in Peet se maag. “Julle hoef mos nie te vra nie.”

“Wat ons in gedagte het,” vervolg sy pa, “is om gebedsberading vir jou te reël.”

“Ekskuus?”

“Ons doen dit privaat en diskreet,” probeer sy pa hom gerusstel. “Net jy en ons en ’n paar vertrouelinge.”

“Hoekom?” Sy wange vat vlam soos ’n magnesiumlint wat aan die brand gesteek word.

“Net om seker te maak daar is nie enige bindinge op of in jou nie,” verduidelik sy pa. “Want daar is iets vreemds aan jou. Of in jou. Nè, Mamma?”

Sy knik sonder om in haar seun se rigting te kyk.

“Het jy ’n deur vir die vyand oopgemaak?” vra sy pa. “Of selfs ’n venstertjie? Soos op die internet.”

“Julle kan enige tyd my internetspore nagaan.”

Sy pa se slanke hand word na hom uitgesteek. “Gee jou selfoon dat ek sien of daar onrein dinge op is.”

“Nee.” Peet se hand klem sy foon in sy broeksak vas. “Ek is nie meer heeltemal ’n kind nie.”

Die pa se skraal hand wag uitgestrek. “Ek wil net sien watse foto’s jy op jou foon het.”

Moira!

“Pa, laat ek net eers drie foto’s delete.” Hy haal sy hand uit sy sak, die foon in sy palm. “Asseblief, net drie.” Hy word met ’n frons gekonfronteer. Daarom verduidelik hy: “My meisie het foto’s van haarself vir my gestuur. En as ek julle laat kyk … nee, sy verdien dit nie.”

“Naakfoto’s?”

“Soort van, ja.”

Die uitgestrekte hand word onttrek. “Ons respekteer jou dat jy haar eer beskerm.” Die hand vorm ’n vuis met wit kneukels. “Nè, Mamma.”

“Absoluut.”

Peet laat verdwyn die foon weer in sy sak. “Ek sal alles wat onrein is, self afhaal.”

Die pa kom met ’n sagte glimlag orent. “Nou moet ek verder gaan voorberei vir Sondag.” Hy soen sy vrou teen die voorkop en loop fluitend – een of ander gospellied –studeerkamer toe.

“Soen hy Ma darem nog partykeer op die mond?” vra Peet.

“Koffie?” vra sy.

“Eerder koue melk, asseblief.”

Peet volg haar kombuis toe.

So ruik ’n volwasse vrou. Warm. Duur parfuum. Velroom.

“Hoe voel jy oor juffrou Reynolds?” vra sy terwyl sy die perkoleerder met filterwater vul en vir hom ’n glas koue melk skink. “Jy sit soveel gevoel in elke lyntjie wat jy van haar trek.”

Hy gaan sit op een van die hoë stoeltjies langs die toonbank en leun met sy elmboë op die swart marmerblad, dankbaar vir die kalmte wat altyd van sy ma na hom toe uitstraal. Genoeg kalmte dat hy met haar oor alles kan praat. “Ek gaan met juffrou Reynolds trou.”

Ryna skakel die perkoleerder aan. “Is daar iets tussen julle?”

“Nog nie, maar ek kan nie die gevoel verhelp nie. Nes ’n mens nie ’n griepgevoel kan verhelp nie.”

“Hoe lank voel jy al so?” vra sy.

“Van die eerste dag dat sy in die klas gestap het. Met klokkies om haar heupe.”

“Jy sal geduldig vir haar moet wag. Vir nog ’n paar jaar ten minste.”

“Ek weet nie of ek sal kan nie. Ek haat elke oomblik sonder haar.”

“Die liefde hoop en verdra alles,” gee sy ’n Bybelantwoord, maar klink nie prekerig nie, eerder deurleef. “Sien jy kans, Peet?”

“Dit voel of ek twee mense is, Ma. Die een sal hoop en wag, die ander wil breek en gryp en vloek en lieg om haar in die hande te kry. Ek raak bang vir daardie ek.”

Sy pak vir haar ’n koffiebeker uit.

“Dis iets reals, Ma. Soos iemand real.”

Sy trek die suikerpot nader. Vingers van fyn porselein.

“Ma weet, partykeer as ek gaan lê, dan voel dit of ek eers die ander ek aan die slaap moet maak, anders kan ekself nie slaap nie. Partykeer voel dit of die ander ek uit my gaan en vir my sit en kyk as ek wil slaap.”

Melk in die mikrogolf.

“Ek praat al letterlik teë met hierdie ander ek. En ek doen dinge. Vandag het Tom Kruger gesê juffrou Reynolds is ’n bitch en julle het my by die weeshuis opgetel. Voor ek my kon keer, slaan ek hom. Dis asof iemand in my kop my uitgedaag het om dit te doen.”

’n Pakkie soetkoekies verskyn uit die kas; die soort met die taai, rooi konfytgesiggies wat al van kleintyd sy gunsteling is. “Onthou jy nog vir James?” vra sy.

hier kom dit nou

“Wie’s James?” hou hy hom dom.

Sy maak die pakkie koekies oop. Skud ’n klompie in ’n kristalbak uit. “Jou denkbeeldige maatjie toe jy vier jaar oud was. Onthou jy, jy het gesê James is eintlik jou boetie wat presies nes jy lyk. Oral waar jy gegaan het, was hy saam met jou. As jy iets breek, het jy gesê dit was James.”

Hy kraak die eerste gesiggie-koekie tussen sy tande. “Ek kan net vaagweg so iets onthou.” Hy is seker hy oortuig haar nie. Hy sien dit in die groen bewegings van haar oë. “Wat het van hom geword?” vra hy nogtans en neem ’n sluk koue melk.

“Jou pa en ek en nog beraders het gebid.” Sy skink haar koffie. “Toe gaan James weg.”

Nog ’n koekie.

“Is James terug?” vra sy.

pas nou op wat jy antwoord

Hy lag sodat sy senuwees kan bedaar. Hy het nog altyd gedink hy kan enigiets met sy ma bespreek, maar nou strem iets hom. “Ek’s darem nie meer vier nie,” antwoord hy.

“Nee, jy is nie.”

“Het Ma ook ’n denkbeeldige maatjie gehad toe Ma klein was?”

“Maar nie toe ek klein was nie.” ’n Blos huiwer oor haar wange.

“O ja. Ek onthou vir Erika, Ma se babapop in die pienk rokkie. Sy het presies nes ’n regte mensie gelyk.”

“Dit was juis die idee dat sy werklik moes lyk.”

“Sy het mos haar eie babastoeltjie in die kombuis gehad.”

Ryna glimlag en knik. “En haar eie kamer.”

“Ek kan onthou hoe Ma haar altyd in die gesig gesoen het, soos vir ’n regte baba. Dit was soos dood in die huis toe julle haar weggegee het.”

“Ja, dit was.” Ryna gaan sit oorkant hom en neem self ook ’n koekie.

Hy voel verlig. Hy kon die gesprek swaai.

“Erika was die sielkundige se raad,” sê sy ma sag. “Maar jou pa glo nie in sielkundiges nie.”

“Sou die dogtertjie wat Ma verwag het se naam Erika wees?”

“Ek sou haar graag Erika wou noem, ja.” Sy doop die gesiggie-koekie met bewende vingers in haar koffie.

“Hoe het dit gevoel om op skool al ’n baba te verwag?” vra hy.

Sy antwoord hom nie.

“Sou Oupa-hulle nie dalk tog die kind aanvaar het as Ma net eerlik met hulle gaan praat het nie?”

“Ek wonder dikwels oor daardie vraag.”

Hy vat nog ’n gesiggie-koekie. “Waaroor ek wonder … het Ma haar dan nie liefgehad nie?” Slukkie koue melk.

“Ek sal nooit ophou om haar lief te hê nie,” antwoord Ryna.

“Al is sy nooit gebore nie?”

“Ja.”

Hy breek die koekie tussen sy vingers. “Toe my bloedma my op die weeshuis se stoep in die koerantpapier gaan neersit het …” Hy wou sê dis seker nie dieselfde nie. Hy was al gebore toe sy ma hom weggegooi het, maar hy kan skielik nie verder praat nie. Hy sien die trane in Ryna se ooghoeke.

“Jammer, Ma,” stotter hy.

Sy trek ’n sakkie appels nader. “Sal jy hou van toffieappels vir nagereg Sondag?”

“Ma weet mos. As daar nie pienk draairoomyse en rooi toffieappels in die hemel is nie, wil ek nie eendag soontoe gaan nie.”

* * *

In sy kamer, na hy in koue water gestort het, skakel hy die lugversorger, wat sy ma of iemand intussen kom aansit het, af en maak sy venster oop vir vars seelug. ’n Fris aandwind is besig om op steek.

Bennie laat reën ’n vlaag WhatsApps om hom te waarsku teen die hartseer wat juffrou Reynolds vir hom gaan veroorsaak. Hy antwoord geduldig, maar ignoreer later elke nuwe boodskap.

Dan gaan sit hy en tik op sy rekenaar: WAT EK SAL OFFER VIR (JOU) LIEFDE

Sy vingers raak berserk. Die woorde stroom eerlik en sonder om te sensor; twee-duisend-en-twaalf van hulle, volgens Microsoft se telling.

Hy klap sy rekenaar toe, skakel sy lig af en duik in die bed, maar hy kan nie slaap nie. Dis nie net die aandtemperatuur van 21 grade saam met die hoë humiditeit wat hom van kop tot tone laat sweet nie. Hy skakel sy selfoon aan en soek Moira in sy adreslys.

Hy tik vir haar ’n jammer-sê SMS, vee dit uit, tik weer een, maar wis dit ook uit. Hy begin met ‘ons kan nog vriende wees’ maar hy verwyder ook dié boodskap en vee al haar ander en haar foto’s van sy selfoon af.

Nog kan hy nie slaap nie.

Terug voor die rekenaar. Hy tik Profile of a serial killer in en raak verdwaal in al die inligting. Skuins na middernag klim hy terug in die bed en skakel sy bedlig af. Dis donkermaan, maar die melkweg skyn helder deur die oop venster.

Die somerdag se woede begin eindelik taan.

Sy selfoon vibreer op die bedkassie.

Dis ’n WhatsApp sonder profielfoto.

Onbekende nommer.

Wat doen jy?

Hy antwoord: Wie is jy?

Hang af. Jou grootste verrassing ooit. Of jou goorste nagmerrie.

Ek hou nie van die soort games nie.

Jammer vir jou. Speel gaan ons speel. Om mee te begin: I know what you did to Lily Palmer.

Ek het haar gesoen. Toe klap sy my. So?

En toe vererg jy jou. En toe?

Ek gaan nou slaap.

Ek sien daar is nie diefwering voor jou venster nie. Los jou venster oop. Dan klim ek in.

Is jy mal? Dubbelverdieping.

Ek skrik nie soos jy vir hoogtes nie. Ek is Cat Woman.

Jy raak boring. Los my nou uit.

Nee. Ek kom al te ver en ek is al te lank op jou spoor. Ek weet selfs waar jy was vanaand. Derde vloer, Jasmine Court. Scarlett R. Reynolds. Is ek steeds boring?

Dit voel of sy hart agter by sy rug wil uitbeur soos dit teen die matras onder hom klop.

Lelike krap teen daai Audi TT.

Hy vlieg regop en maak sy venster toe. Terug in die bed.

Die volgende WhatsApp land. Ek kon jou duidelik hier van onder af sien.

Wie ís jy?

Jou verlore tweelingsus.

?????

Ek stuur ’n pic van my. Dan praat ons weer.

Sy handpalms sweet rondom sy foon.

Hy wag.

En wag.

En dan … Got you! Met ’n foto wat sy binnegoed laat ruk.

Dis die blou oë wat eerste sy asem wegslaan, want dit is asof hy in ’n spieël in sy oë kyk. Die swart en wit grimering sorg vir die volgende snak na asem. Die ringetjies deur die neusvleuels, deur die lippe, deur elke oorskulp, die stokkerige, rooiswart hare en die Goth-band om die nek gryp hom verder om die keel. Wat hom die meeste wurg, is die feit dat hy na sy ewebeeld kyk; lyntjie vir lyntjie sy beeltenis ten spyte van die oordadige grimering.

Hy skakel sy foon af, skakel die lugversorger aan, gryp ’n gholfstok uit sy kas en duik terug op sy bed.

nou is ek ook wakker

“Shut net up.”

teen die tyd behoort jy te weet jy kan my nie stilmaak nie

“Shut up, James!”

wonderlik wanneer laas het ek my naam uit jou mond gehoor

Hy draai op sy sy. Die aandwind ruk aan die houtraam van sy venster, huil soos ’n walvis om die huis se hoeke. Hy trek sy kussing oor sy kop. Die ekstra donkerte en die lafenis van die lugversorger help hom om uiteindelik aan die slaap te raak.

Maar dan kom die luislang. Hy voel die koue reptiel oor sy bene seil, op teen sy lyf, oor sy bors. Om sy nek. Stywer, stywer, stywer, wurg die slang hom. Hy kan nie ’n vinger verroer om die ondier te verwilder nie.

* * *

“Jisss!” Saterdagoggend. Die reuk van ou visolie en asyn hang vandag selfs tot in Bennie se kamer. Iewers in die woonstel dreun die rusiestemme van ’n man en vrou. Bennie leun terug teen sy bed se kopstuk en hou Peet se foon voor sy oë. “Dit lyk tog soos jou identiese tweeling, geverfde gesig en al.”

“Die kreatuur sê sy is my sussie, maar identiese tweelinge is altyd van dieselfde geslag. Jy weet ek glo al van kleins af ek het ’n tweelingbroer êrens, nie ’n sussie nie.”

“Kyk hierso,” Bennie se wysvinger grawe teen die kant van sy kop, “ek dink nou net, miskien was julle ’n drieling. Jy, sy en ’n boetie. Ek wonder net wat het van hom geword.”

“Nee, Bennie. Ek dink eerder iemand het ’n foto van my ge-photoshop. Iemand probeer gekskeer met my.”

“Moontlik.” Bennie se oë vernou. “Maar volgens my ingebore gay-radar is hierdie wel ’n heksie, nie photoshop nie.”

“Wat’s haar storie dan met my?” Peet gryp die foon uit Bennie se hand. “Sy weet alles van my, selfs van my hoogtevrees. Selfs dat ek by juffrou Reynolds was. Ek dink dis sy wat die TT gekrap het. Maar hoekom?”

“The plot thickens.”

“En hoe weet sy van my en Lily Palmer?”

’n Vrouestem skel iewers in die woonstel. Kort daarna slaan ’n deur. Bennie rol sy oë. “Sê my, het jy en juffrou Palmer regtig net gesoen? Net een keer?”

“Ek het jou al ’n miljoen keer gesê. Dit was net een soen.”

“Miskien moet jy vir juffrou Reynolds ook soen sodat sy jou ook net een keer behoorlik kan regklap.”

“Sal niks help nie, Ben. I’m spoilt for life.”

“Maar jy het seker nog skaars twintig woorde met haar gepraat.”

“Ons praat genoeg met ons oë.”

“Ag, asseblief my lief!” Bennie wip weer regop. “So dink jy sy sal jou toelaat om in haar te finish wanneer julle die eerste keer ’n skroppie maak?”

“Ben, jou hormone jaag weer jou verbeelding op.” Hy glip sy foon terug in sy sak.

“Jy het nie ’n idee nie.” Bennie skuif rond op die bed asof dorings onder hom groei. “Hoe beland ons tog op die onderwerp? Sê my eerder, gaan jy jou venster ooplos vir jou Goth-sus?”

“Ek sal nog dink daaroor. En nou moet ek waai.”

Bennie lag geforseerd uit sy maag. “Amper sê ek vlieg dan in jou maai.”

Op pad huis toe ry Peet by Jasmine Court verby. Dis ’n vry land. Hy mag by enige woonstel verbyry. Niemand kan daaroor polisie toe hardloop nie. In die daglig lyk die gebou nog meer verwaarloos. Verf wat afskilfer. Geute en afvoerpype wat skeef hang. Lang gras. Rommel wat teen die muur gewaai lê. Die TT staan in die parkeerarea.

Hy draai die spoedkrane oop en ril toe hy aan gisteraand se slang-nagmerrie dink.

* * *

Saterdae is tuinmaakdag in die Rautenbachs se lewe. Peet sny die gras. Pastoor Tim spit kompos en roosvoedsel in die akkers van sy roostuin. Pastoor Ryna spuit organiese insekdoder aan die onderkante van die roosblare en sny rose, vir Sondag se kerkdiens, met ’n vlymskerp snoeiskêr af. Aan sommige takkies sit roosknoppies wat nog nie eens begin oopmaak het nie. Haar mondspiertjies trek met elke knip van die skêr, asof sy seerkry, hoewel geen dorinkie haar vingers deur die stewige leerhandskoene kan raps nie.

Al drie het koffiekleurige kuitbroeke en groen T-hemde aan. Tuinskoene.

Terwyl Peet die bak met grassnysels in die tuinsak uitskud, buig sy pa oor na hom. “Jou foon skoon?”

“Ja, Pa.”

en wat van cat woman

“Wil Pa sien?”

mooi jy vat wilde kanse

“Nee.” Die pastoor vee sy hande aan sy broek af. “Ek en Mamma het besluit dis tyd om jou met die dinge te vertrou. Jy moet jou eie eerbare, volwasse besluite begin neem.”

Peet voel die verligting, maar probeer dit nie wys nie.

“Ons vertrou die Gees sal jou lei en jou sterk maak,” sê sy pa. “Maar ons sal nogtans die berading reël.”

Op daardie oomblik hou ’n polisiebakkie voor die huis stil. Twee polisiemanne klim uit.

Peet sien hoe sy pa eers verstar en dan saam met sy ma vir konstabel Green en sersant Plaatjies tegemoet loop. Peet loer onderlangs terwyl hy weer begin met die grassnyer. Hy sien hoe druk hulle gesels en dikwels in sy rigting kyk.

hier kom nog shit

Eindelik vertrek die vangwa. Die twee pastore kom doelgerig na hulle seun aangestap. Hy skakel die grassnyer af, gereed om te sê hy het mos net by die woonstelblok verbygery.

“Ken jy ’n Moira Kolyn?” verras sy pa hom egter.

Peet vee die sweet uit sy oë. “Baie goed. Hoekom?”

“Ons het slegte nuus vir jou.” Sy ma se sagte groen oë berei hom vir die ergste voor.

“Sy is gisteraand hier in die straat reg voor ons huis aangerand,” sê sy pa.

“Wat?” Die bloed dreineer uit sy gesig.

“Eintlik in die vroeë oggendure,” sê sy ma.

Hy leun teen die grassnyer. “Maar wat het gebeur? Wat het sy hier gedoen?”

“Dit is waaroor die polisie ook wonder,” sê sy pa. “Genugtig, hulle kyk na ’n mens met oë wat sê ons weet jy is skuldig, pastoor. Waaraan ook al. Ewenwel, hulle dink Moira is deur ’n satanis aangerand.”

“Wat volgens Moira uit ons tuin gekom het,” vul sy ma aan.

“En baie soos jy gelyk het,” voltooi sy pa.

“Maar dit was nie ek nie.”

“Ons weet,” verseker sy ma hom.

“Want ons deure was gesluit en die alarm was heelnag aan.”

Sy pa wink boontoe. “Net dié week laat ek daar ook diefwering aansit. Jou venster is ons huis se enigste swak plek, al is dit op die tweede vloer.”

“Asof ek ooit deur die venster sal klim met my hoogtevrees.”

“Maar iemand sonder hoogtevrees kan dalk inbreek by jou,” sê sy pa. “As hulle al tot in ons tuin kon kom om iemand hier aan te rand. Dink net as hulle onder ons dak kan inkom.”

Peet skud sy skouers. “Is Moira oukei?”

“Hulle behandel haar vir harsingskudding,” antwoord sy pa.

“Ek voel skielik nie lekker nie.”

“Jy is bleek.” Sy ma streel oor sy voorkop. “En koud. Gaan drink iets soets in die huis.”

Sy bene wankel toe hy instap en sy T-hemp, wat skielik te knap oor sy bors span, uittrek. Hy gaan sit met sy selfoon in die hand en soek na Cat Woman se WhatsApps. Daar’s ’n nuwe boodskap wat hy met die grassnyery nie hoor inkom het nie:

Sorg dat jou venster oop is vanaand.

Nee.

Kom ons probeer ’n ander game. Onthou, ek weet van Lily Palmer. En ek weet nou waar bly jou nuwe victim. Die keer word nie net ’n kar gekrap nie. So sien ek jou vanaand?

Sonder om te antwoord druk hy die foon in sy sak. Op dieselfde oomblik kom sy pa en ma ingestap. Sy pa het ’n bos rose in die hand; geel rose met pienk buitenste kroonblare. “Ek en Mamma wil die Golden Violettas vir Moira by die hospitaal gaan gee,” sê hy. “Dit gaan glad nie goed met haar nie.”

Sy ma hou haar snoeiskêr na hom uit. “Ontsmet asseblief dié vir my.” Amper soos ’n dokter sy instrumente na ’n operasie weer kiemvry vir die volgende pasiënt sal maak.

Soen

Подняться наверх