Читать книгу Soen - Jan Vermeulen - Страница 7

Оглавление

“Kom ek verduidelik vir jou hoekom juffrou Reynolds glo jy dreig haar met die dood,” sê Meneer Coetzer. Hy knip sy aktetas op die koffietafel oop terwyl Yuja Wang in die agtergrond Mendelssohn se Klavierkonsert driftig aanvoer.

Die hoof haal ’n antwoordboek uit die aktetas. Die rimpels oor sy hande verraai ’n veel hoër ouderdom as wat die swart hare en oordadige swart snor voorgee. “Herken jy die naam en handskrif, Peet?”

“Dis myne, Meneer.” Peet moet sy aandag wegdwing van die pendulum van oorlede oupa se staanhorlosie, wat hipnotiserend heen en weer agter die hoof swaai. “Dit was ’n toets van juffrou Reynolds.”

“Lees die sin wat in rooi onderstreep is,” sê meneer Coetzer.

“Ons moes sinne maak met woorde soos penetreer, byvoorbeeld.”

“Lees,” beveel meneer Coetzer.

Peet trek die boek nader: “Toe ek haar soen, penetreer my tong tussen haar sagte lippe deur tot diep in haar warm, nat mond.”

Sy ma snak na asem. Haar ooglede vou soos swaanvlerke oor haar groen oë.

“Daar’s niks met die sin verkeerd nie,” sê Peet. Sy tong kleef aan sy verhemelte.

“Toegegee,” stem meneer Coetzer in. Hy neem weer die antwoordboek en pak dit netjies terug in sy aktetas. “Die probleem is egter jou moontlike intensie. Jy’t geweet dis juffrou Reynolds wat die sin sou lees.”

“So?”

“Petrus,” berispe sy pa hom.

Meneer Coetzer vou ook ’n geel lêer uit die aktetas op die koffietafel oop. Die lêer bevat houtskool- en potloodsketse van juffrou Reynolds. Hy stal die sketse in perfekte gelid langs mekaar uit: Juffrou Reynolds in stywe jeans. Deursigtige japonne. Skrapse bikini’s. Kaalbolyf, met arms of hare net-net beskermend voor haar. Portretstudies met oop lippe, wit tande (nie heeltemal so oneweredig soos in die werklikheid nie), skalkse laggies, smeulende kyke. Op een skets lek sy met ’n krullende tong aan ’n draairoomys. In nog een suig haar lippe om ’n ysstokkie wat diep in haar mond gedruk is, haar wange effens ingeduik, haar oë dromerig.

“Peet?” Rooi en pers vlamme vlek oor sy pa se fynbesnede gesig.

“Ek het dit geteken,” erken Peet. Sy hart klop in sy droë tong. “Dit was ’n kunsopdrag van meneer Buthelezi. Waar kry julle dit?”

“Jy het dit in juffrou Reynolds se aktetas geplant,” sug meneer Coetzer.

“Nooit! Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Die sketse is altyd in my kunssak. Dit was vanoggend nog met kunsperiode daar. En dis net onskuldige sketse.”

Meneer Coetzer pak nog ’n skets langs die ander op die koffietafel uit, maak seker elke tekenvel se hoeke en lyne lê in gelid met die ander. Aan sy regterhand se pinkie pryk ’n robyn soos ’n vars bloeddruppel op ’n goue ring. “Is dié een ook onskuldig, Peet?”

Juffrou Reynolds stort. Hy het haar volronde kurwes effens oordryf, besef hy, en haar borsmaat effens vergroot. Haar oë kyk in afgryse na die hand wat met ’n vleismes bokant haar huiwer. Onderaan het hy in drukskrif geskryf: “As ek jou nie kan hê nie.”

“Dis uit ’n ou fliek,” verduidelik hy so vinnig dat hy hakkel. Sy wange vat vlam. “Ons kyk graag ou flieks in die huis.”

“Dis ’n Hitchcock,” bevestig sy pa. “Psycho, nè, Mamma?”

Ryna knik woordeloos.

“Norman Bates het ’n probleem met sy ou moeder,” verduidelik pastoor Tim. “Soos trouens die meeste manlike Hitchcock-karakters probleme met die moederfiguur het.” Peet probeer sy pa met sy oë stilmaak, maar die pastoor tik met sy wysvinger op die skets. “En die meeste Hitchcock-slagoffers is blond,” verklaar hy en lyk merkbaar verlig.

“Maar die meisie onder hierdie stort is nie sommer enige blonde meisie nie,” sê meneer Coetzer. “Hierdie is ’n naakte juffrou Reynolds.”

het hy haar dan al kaal gesien

“En wat bedoel jy met die woorde onderaan, Peet?” vra die hoof.

Peet voel ’n das stywer om sy keel span, al het hy ’n gholfhemp aan waarvan al die knope los is. “Dit was ’n kunsopdrag van meneer Buthelezi. Ons moes iets teken met daardie woorde, dis al.”

“Toe teken jy vir juffrou Reynolds. Kaal.”

“Maar ’n mens sien niks.”

“Niks lyk nie so nie,” sê die hoof. “Nogal met ’n mes dreigend bo haar.”

“Aan die ander kant,” sê sy pa. “Peet kon die mes se lem ingedryf in haar liggaam geskets het, maar hy het nie.” Die pastoor se oë glinster. “Hitchcock het eenkeer gesê: ‘There is no terror in the bang, only in the anticipation of it.’” Hy draai na sy seun. “Jou skets is in werklikheid ’n kunswerk. Well done.”

“Buitendien kan dit net sowel Scarlett Johansson in my sketse wees,” verdedig Peet ook.

“Scarlett Johansson?” Meneer Coetzer lyk nou effens van stryk af.

“Van Avengers, Meneer. Sy en juffrou Reynolds kon ’n identiese tweeling wees.”

“Toegegee,” sug meneer Coetzer. Hy suig sy wange diep in, asof hy nuwe woema soek. “Maar hierdie sketse is ongetwyfeld almal van juffrou Reynolds, en al hierdie dinge dui op ’n obsessie met haar. Selfs seksuele teistering en ’n doodsdreigement. Dit is haar interpretasie, met goeie reg.”

“Nee, Meneer.”

“Dis hoekom sy vandag in die klas gevra het of jy die liefde van jou lewe met die dood sal dreig as hy of sy nie jou liefde beantwoord nie. Dis ook hoekom julle die opstel vir Maandag met die hand moet skryf. Sy toets jou.” Meneer Coetzer lyk nou so beheersd soos ’n soplepel. “Juffrou Reynolds is van plan om ’n klag teen jou en die skool te lê. Ek moes vandag wal gooi om haar te kalmeer.”

Peet skuif rond op die bank. “Meneer, al word ek ’n miljoen jaar oud, sal ek haar nooit dreig of seermaak nie. Dis ’n moeder van ’n misverstand hierdie.”

Meneer Coetzer skuif die sketse een vir een terug in die lêer. Hy lyk verlig toe die laaste klanke van die klavierkonsert wegsterf. “Ek sê jou wat, Peet. Ek gee jou grasie tot Maandagoggend voor skool om goed oor alles na te dink. Dan kom spreek jy my in my kantoor. Onthou net, dreigemente van hierdie aard word in ’n ernstige lig beskou.”

drolneus

* * *

“Ek het nie die sketse in haar tas geplant nie.” Hy sit saam met sy pa en ma om die swart marmertoonbank in die kombuis, die pastasmaak nog in sy mond. Die perkoleerder gorrel soos oupa twee jaar gelede daar in die agterste kamer op sy sterfbed gedoen het. Die aroma van egte, vars moerkoffie vul die kombuis, maar Peet het vir hom ysige lemoensap geskink.

“Miskien wil iemand jou in die moeilikheid bring,” sê sy ma. “Dalk iemand wat jaloers is op jou. Of ’n vyand. Het jy vyande, Peet?”

Sy pa se blou oë flits. “Maar Mamma, Petrus hét die sketse gedoen en die suggestiewe sin in die juffrou se toets geskryf.”

Peet pluk sy glas so heftig nader dat van die lemoensap oor die rant spat. “Wel, ek kon ’n veel rowwer sin met penetreer gemaak het.”

“Peet,” sug sy ma en vee die toonbank voor hom droog.

“Sit jy in die klas met sulke gedagtes oor jou juffrou?” vra sy pa.

Peet hou die glas nou in albei hande vas. “Hoe ook al, ek het nie bedoel om haar te dreig nie. Pa het self erken dis ’n kunswerk.”

Sy pa neem sy hande met die glas en al in syne. “Daar is ’n Bybelteks wat sê die goeie wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die kwade staan my by. Kyk in my oë sodat ek jou gees kan optel. Peet, teister jy jou juffrou?”

“Nee, Pa.” Behalwe met my oë en my gedagtes.

“Is jy verlief op jou juffrou?”

“Pappa!” berispe Ryna haar man.

“Sou dit sonde wees?” vra Peet.

“Dit hang af.” Sy pa laat los sy hande. “Die liefde handel nie onwelvoeglik nie.”

“Ek het niks verkeerds gedoen nie, Pa.”

“Nog nie,” brom sy pa.

Sy ma pak die skottelgoed in die skottelgoedwasser. “Maar ek kan verstaan dat die juffrou bang is,” sê sy. “Verlede jaar verdwyn haar voorganger spoorloos. En ek lees in gister se Burger ’n student het ná ’n wilde partytjie verdwyn. Het julle dit ook gesien?”

“Ek het dit gesien,” sê Peet.

“En jy, Pappa?”

“Nie gesien nie,” mompel haar man.

Sy draai na hom. “Haar naam is Blossom Wait, Pappa.”

“Jy laat dit klink of ek haar moet ken, Mamma,” antwoord hy in sy hoë preekstem. “Maar nee, ek het eerlikwaar geen idee nie.”

Peet voel skielik dapper. “Terwyl ons so van eerlikwaar praat, daar’s iets wat julle vir my ook eerlik moet sê. Kyk in my oë, Pa.”

Ryna lyk soos Lot se vrou waar sy voor die skottelgoedwasser kniel en omkyk.

“Kon julle regtig nooit uitvind wie my biologiese ouers is nie?”

“Ons het wel probeer,” antwoord sy pa dadelik. “Die polisie het ook probeer. Dit was die koerante vol. Selfs oor die radio.” Hy kyk na sy vrou. “Maar ons kon nie uitvind nie. Nè, Mamma?”

“Nee,” bevestig sy voor die skottelgoedwasser.

“So julle kon ook nie weet watse soort mense hulle is nie, behalwe dat hulle die soort is wat ’n baba in koerantpapier op die weeshuis se stoep neersit. Julle het ’n groot kans met my gewaag.” Hy drink sy lemoensap met een teug op. “Ek bedoel, ek dra nie julle gene nie. So julle kon nie weet wat julle kry nie.”

’n Glimlag sprei oor die pa se gelaat. “God het jou vir ons gegee. Dis goed genoeg vir ons om te weet. En nou is jy wat ons betref ’n volbloed Rautenbach. Koninklike familie. Jy moet weet, Peet, die Rautenbachs was reg deur die eeue lojale, hegte familiemense. Jy kan Oostenryk se geskiedenis gaan oplees. Ons is vandag nog dieselfde familievoëls.”

“Peet, jy het lanklaas sulke vrae gevra,” merk sy ma op terwyl sy die skottelgoedwasser se deksel toeknip. “Het iets gebeur?”

“Sommer net iemand wat my probeer slegsê het.”

“Jy moenie jou laat boelie nie,” sê sy pa. “Jy is ’n koningskind.”

Peet staan bewerig op.

“Onthou een ding,” sê sy pa. “Ons is jou gesin. Wat ook al gebeur, wat jy ook al doen, of nie doen nie, ons bly jou gesin. Ons bly lief vir jou deur dik en dun. Ons is Rautenbachs.”

“Dankie. Dit weet ek darem vir seker. Al het julle my so amper laat twyfel in die sitkamer.” Hy stoot die hoë stoeltjie tot teen die toonbank. “Ek gaan nou huiswerk doen.”

Halfpad met die wenteltrap op land ’n WhatsApp op sy foon. Moira. Hy gaan sit op die trap en lees: Is dt oor ek jo nie sx wo gee ni? Ek wil. Ekt nt gesê dt mut special wees. Ekt gesê wag tot ek 18 is. Dis oor 3 weke. Kon jy ni eens so lank wag vi my ni hmmm?

Hy antwoord dadelik: Dis nie dit nie.

No wt dn? Is da imnd andrs? Sê my asb.

Nee. Nog nie, wil hy tik, maar bedink hom.

Haar volgende boodskap vlieg in: Ek sl vi jo wag ma nt vi 3 weke. Dn sl ek joue wees vi altyd + altyd. Ma as jy my nie kom vat ni, muni huil as ek my liefde vi imnd andrs gee ni.

Hy prop die selfoon terug in sy sak, hardloop verder met die spiraaltrap op en gaan kyk in die spieël teen sy kamermuur. Soos wie lyk hy, pa of ma? Wie se skraal lyf het hy? Wie se blou oë? Wie se swart hare? Wie se geaardheid?

Hy kyk die figuur in die spieël diep in die oë. Dieper. Hy sweef. Hy is in die spieël en kyk na Peet Rautenbach wat voor hom staan. Hy sien Peet se kamer. Die dubbelbed. Die lessenaar en die rekenaar. Hy sien die boekrakke en rye redenaarstrofeë. Hy sien Peet se skildery van die meeue oor die rowwe see. Die olifantkoei met haar kalfie …

Sy selfoon wat lui, en met die spoed van lig is hy terug in sy lyf.

Moira.

Hy stel die klank af, gaan sit by sy lessenaar en pluk ’n stel oorfone oor sy kop. Met Meat Loaf se “Bat Out of Hell” en “The Monster is Loose” dawerend in sy ore, begin tik hy met blitsige vingers aan die taak: Die wette van die natuur geld vir alle tye en ruimtes in die heelal. Daar is geen wet van die natuur wat waar is net vir die planeet aarde, of net vir hierdie eeu nie.

* * *

Bennie Jantjies daag net voor halfvyf op. Peet druk vir hom notas op sy drukker uit. Terwyl Bennie uitgestrek op die ligblou poef lê, vertel Peet hom van meneer Coetzer se besoek.

“Jisss, Petrus!” blaas Bennie deur sy lippe.

“Ben!”

“Ek het jis gesê.”

“Met ’n lang ‘s’. As my pa jou hoor, dryf hy die vloekdemoon uit jou uit.”

“Gelukkig is ek nie in julle kerk nie.” Bennie vou sy arms. “Iemand wou jou gat by haar toestop, maar nou ruk sy die ampsmotor onder die politikus uit as sy dink ’n serial killer maak die Baai se blonde studente dood. En sy dink dis jy! Nee, jisss.”

Uit ’n lessenaarlaai krap Peet ’n adreslys van die skool se onderwysers. Sy vinger verken tot hy haar naam vind. Scarlett R. Reynolds. “Ek moet die saak gaan regstel.”

Bennie se plat hand skiet op. “Nou wil jy op AVBOB se stoep speel. Meneer Blom knak jou nek kort duskant jou stuitjie af.” Sy stem vibreer skielik met bewondering: “Jy gesien hoe bult sy biseps?”

“Ek kyk nie so na ander mans nie.”

“Fair enough.”

“Ek sê weer Ben, Scarlett Reynolds is my trouvrou.”

“Maar sy’s ’n juffrou en jy’s in graad twaalf, face facts, Peet.”

“Sy’s ’n proefstudent. Seker net ’n jaar of twee ouer as ons.”

“Sy bly ’n juffrou.” Bennie swaai die pak notas voor Peet: “Tjomma, neem kennis van wat jy hier geskryf het. Wat fisies onmoontlik is, kan nooit ooit gebeur nie – nie vandag nie, nie môre, nie hier nie en ook nêrens in die heelal nie.”

“Wel, ek sal nog vir jou wys hoe ware liefde die wette van die natuur aflag.”

“Liefde?” lag Bennie. “Nee. Jy het maar net ’n ding vir blonde proefies. Laas jaar was jy en meneer Blom saam lus vir die blonde Lily Palmer. Ek kan nou nog nie glo jy het haar gesoen nie. Jy het ’n juffrou gesoen. Fokkit.”

“Proefjuffrou.”

“Punt is, jy het meneer Blom se stukkie gesoen.”

“En toe klap sy my dat my nekwerwels kraak.”

“En nou kwyl jy agter sy nuwe stukkie aan. Wens jy om dood te gaan?”

“Ben, dis anders met juffrou Reynolds. Ek en sy voel dieselfde oor dinge. Jy hoor hoe baie praat sy oor weggooi-troeteldiere wat ’n mens by die SPCA kan aanneem. Waar dink jy kom al die brakke en katte op ons werf vandaan? Sien? En sy voel ook vir bedelaars. Dis sulke dinge wat my lief maak vir haar.”

Bennie fladder sy lang wimpers. “Kyk hierso, ja, juffrou Reynolds is myle mooier as Lily Palmer of enige ander stukkie wat jy al gevry het, al sit haar tande ’n bietjie heen en dwars. So ek kan begryp dat jy oor haar fantaseer. Jou regterhand se naam is seker al Scarlett, maar raak realisties. Liefde?”

Die onderwysers se adreslys bewe so tussen Peet se vingers, dat hy die A4 bladsy liewer op sy lessenaar neersit. “Hoekom is dit vir jou so moeilik om te glo dat ek ook kan liefhê?”

“Peet, my pel.” Bennie vou sy hande saam. “Jy’s ’n bonatuurlike goeie mens uit die hemel, maar face facts, jy het een helse flaw. Jy maai onder die heksies, maar jy kry nooit genoeg geëet nie. Dis jou probleem. Op daai manier is jy wel ’n serial killer. Vandag is dit Moira. Wie sal dit more wees? Juffrou Reynolds? Selfde wat met Anna gebeur het. En met Carol. En Beth.” Een na die ander vinger wip regop. “Almal in hierdie kwartaal. Skrik jy nie eens vir virusse nie?”

Peet trek sy kitaar uit die kitaarsak. “Jy laat my nou dink aan ’n liedjie wat my pa partykeer só sing as hy potjie maak.” Hy konsentreer op die drukke en sing: “What do you get when you kiss a girl. You get enough germs to catch a cold. So I will never ever fall in love again.” Hy tokkel nog ’n paar snare. “Dis nie reg wat ek aan iemand soos Moira doen nie. So tot ek vir juffrou Reynolds het, hou ek my uit alle meisies.”

Bennie kantel sy kop agteroor en snorklag. “Maar hulle gaan hulle nie uit jou hou nie. Daai is die ding wat die probleem groter maak. Kyk hierso, jy het alles wat ’n harige heksie begeer, al is jy aan die maer kant. Feit is, jy lyk soos ’n filmster, maklik vyf en twintig. Jy het ’n IK wat nie soos jyself aan hoogtevrees ly nie. Jy het persoonlikheid. Jy het geld. So hoe gaan jy die aanslag hanteer, want face facts, jy ís ’n player en jy is wreed met meisies.”

Peet stamp die kitaar eenkant toe.

Bennie wip op sy voete. “Jammer ek roer so met my lepel in jou wurmpot, maar dis omdat ek vir jou meer omgee as wat Dawid vir sy vriend Jonathan omgegee het.” Hy hou die pak aantekeninge omhoog. “Jy red my lewe. Sê as ek iets vir jou kan doen, al is dit om juffrou Reynolds vir jou te ontvoer. Ek glo vas dis die enigste manier hoe jy ’n skroppie in haar nessie sal kan maak.”

“Voertsek, Ben. Dis nie waaroor dit vir my gaan nie.”

“Nè?” Bennie straal ondeund. “Ek moet nou skoert. Wens ek kon jou aircon saamvat na ons sauna waarin ek elke dag moet stoom. Kom soen my vaarwel.”

Toe Bennie met sy verbleikte Honda verkas, gaan Peet terug na sy kamer op die tweede verdieping van hulle huis. Hy skakel sy lugversorger af en maak sy houtraamvenster wyd oop sodat skoon namiddaglug van die see af kan instroom. Van hier het hy ’n strepie see-uitsig, maar hy staar lank na die beskutte hoekie waar sy troeteldiere in sy pa se pragroostuin in hulle onomheinde voorerf begrawe word.

Dan raak hy besig met sy wetenskaptaak, tot hy later die leeslamp moet aanskakel, tot hy met sy dwalende gedagtes moed opgee. Hy trek donkerblou jeans aan wat styf om sy middel en bene pas. Breë belt met duidelike gespe. Sy swart Caterpillar pull-on boots. Hy kies sy dun swart leerbaadjie uit die kas. Spoel sy mond. Spat naskeer aan. Kam sy hare agteroor.

Dis tyd om vir haar te wys hoe hy voel.

vat ’n wapen saam jy weet nooit wie of wat wag vir jou daar nie

Soen

Подняться наверх