Читать книгу Mieke rock uit - Jana du Plessis - Страница 5
1
ОглавлениеGeskei op vyf-en-twintig. Wie, om vadersnaam, is geskei op die ouderdom van vyf-en-twintig? Die meeste meisies begin dan eers dínk aan sluier-of-geen-sluier, trou-venues en wortel of sjokolade vir die troukoek.
Maar vir Mieke du Randt née Germishuys is dit andersom. Waar sy in haar ma se sitkamer sit, is sy nie besig om oor ’n ivoorkleurige Marianne Fassler-trourok te fantaseer nie. Nee, sy sit reg, pen in die hand, om die egskeidingsdokumente te onderteken wat soos ’n waaier voor haar oop lê.
“Teken hier en hier.”
Haar ma se prokureur wys na die stippellyn. Sy naels is skoon en netjies. Soos sy klere en gesig.
“En hier, asseblief,” beduie hy.
Sy teken. Daar, daar en daar. Haar pen steek vas toe sy die laaste handtekening maak. Die ink vorm ’n poeletjie om die krul van haar nooiensvan se laaste letter.
“Is dit reg dat ek my nooiensvan geteken het?” Sy kyk nie op nie. Die inkkol swel en swel. Sy lig die pen eindelik.
“Doodreg, juffrou Germishuys.” Hy sit die dokumente in sy aktetas, knip dit toe en staan op.
Mieke se ma, wat heeltyd oorkant hulle gesit het, staan ook op. “Dankie, Etienne. Ek loop saam met jou.”
Mieke kyk haar ma agterna. ’n Mens kan haar soos altyd deur ’n ring trek, terwyl sy wat Mieke is nie kan onthou wanneer sy laas in ’n klerewinkel was nie.
Sy draai na die venster, maar haar oog val op die familiefoto’s teen die muur. Daar is ’n gat waar haar en Marius se troufoto eens gepronk het. Genadiglik het haar ma dit reeds afgehaal.
Mieke kry lag vir haarself. Maar dis ’n bitter lag. Haar ma is immers ’n perfeksionis. Perfeksionis. Sy het tien teen een die foto verwyder die dag toe Mieke gebel het om te vra of sy ’n paar dae by haar ouers kan kom bly terwyl Marius kastig op ’n rugbytoer moes gaan. Sy kom amper nooit in hierdie koue vertrek nie – dis waar besoekers en die dominee onthaal word, het haar ma altyd geraas toe Mieke nog klein en nuuskierig was – en sal ook nie weet wanneer die foto verwyder is nie.
Langs die oop gat teen die muur is ’n foto van haar gradedag. Sy lig dit van die hakie, draai dit sodat die lig van buite teen die goudkleurige lapel van haar jas weerkaats. BA Manvang. Wat ’n grap.
Sy probeer haar asemhaling reëlmatig hou. Dink zen. Dink joga of iets, paai sy haarself.
Sy hoor skaars die slag toe muur en glas kontak maak. Glasstukke reën soos haelkorrels op die designer-mat neer. Haar ma verskyn in ’n japtrap, soos ’n hond wat deur die geritsel van ’n leiband gelok word.
“Mieke!”
Sy ignoreer haar ma, staar na die gemors op die mat, haar woede wat sy in elke stukkie glas gechannel het.
Haar silwer Apple MacBook Pro gaap voor haar oop. Waar begin mens werk soek? Iemand wat nog nie ’n steek werk in haar lewe gedoen het nie?
Sy laat sak haar kop stadig tot teen die koue toetsbord van die rekenaar. Sy haat vir Marius. Háát. Met ’n wrewelrige haat. Wat begin in die krop van haar maag en groei soos ’n siekrooi roos tot by haar gemanikuurde vingernaels, soos Marius daarvan gehou het.
Sy kap haar voorkop liggies teen die rekenaar. Hoe en wat en waar moet sy werk kry? ’n Nuwe lewe kry? Haarself kry?
Dis sý skuld dat sy nooit gaan werk het nie. Die sportman uit die oude doos wou niks weet van sy joolkoningin se ambisies nie. Hy het sy pop raakgesien, haar opgeraap, toegegooi met blomme en presentjies, toegespin in ’n kammawêreld van getroud wees. En haar weggestoot toe hy sien sy pop het emosies, begeertes en behoeftes.
’n Piepgeluid van haar rekenaar laat haar wip van die skrik. Oeps. Sy het per ongeluk die find-knoppie te lank ingedruk en nou waarsku haar Appeltjie haar. Ja, die find-knoppie. As dit maar net so maklik was om dinge te vind. Apple F en daar gaat jy! Soek jy werk op ouderdom 25, Mieke? Geen probleem nie, kom ons vind dit gou vir jou! Soek jy blyplek sodat jy so gou as flippen moontlik onder jou ouers se dak kan uitkom? We’re on it! Soek jy vriende wat vir jou omgee vir wie jý is en nie vir die man aan jou sy nie? No problem! Soek jy betekenis en rigting in jou lewe? Daar is dit, my skat! Soek jy ’n werkgewer wat jou sal aanstel al het jy zilch ondervinding? Ag, Mieke, ons vind dit graag vir jou! Sit jy net terug met ’n koppie tee en Appeltjie vind dit als vir jou in ’n japtrap.
Sy skud haar kop. “Wat staan my te doen, Appeltjie?” fluister sy.
“Miekieeee!”
Ugh. Sy is nie nou lus vir Kayla se geselsies nie. Sy draai haar duvet stywer om haar. “Ga’ weg, Kayla,” mompel sy.
Haar kamerdeur gaan dadelik oop. “Ek het jou meer as ’n maand laas gesien, en jy wil my wegjaag, jou ou koei!” raas Kayla.
Mieke skuif regop, trek ’n gesig vir haar jonger suster. “Jammer, Kay, maar ek’s nie nou lus vir gesels nie.”
Kayla plak haar klein agterstewe op die punt van Mieke se bed neer. “Too bad, want ék is lus vir chat.”
Mieke sug innerlik, val terug teen haar kussing, kyk vir die plafon.
“Ek is gister uit die koshuis geskors … Not that you care,” maak Kayla die pap lekker dik aan.
Nou sug Mieke nie meer innerlik nie, maar hard en aspris. “Ek gee om, man! My aandag was net bietjie op ’n ander plek.”
Kayla se oë rek groot. Dieselfde oë wat haar al uit soveel moeilikheid gekry het, maar wat duidelik nie op die koshuismoeder of -vader gewerk het nie.
“Ja, shit, Miekie, is jy orraait ná die hele, like, divorce?”
Mieke kyk na haar suster. Al verskil hulle net vier jaar in ouderdom, voel dit partykeer vir haar asof sy met ’n alien gesels. Sy het gehoop haar sonskynsussie sou grootword as sy eers op universiteit is, dat hulle meer vir mekaar te sê sou hê as hulle koshuis- en universiteitstories kon deel, maar dis asof Kayla die ewige hippy op ’n planeet van haar eie woon. ’n Planeet waar dit aanvaarbaar is om drie keer jou studierigting te verander, jou boyfriend meer kere te verander as jou haarkleur, en waar dit nou maar oukei is as jy uit die koshuis geskors word. Hulle ouers sou haar wat Mieke is se gatvelle afgetrek het as sy net een keer in die rigting van ’n ander kursus gekýk het.
Sy haal haar skouers op en probeer glimlag. “Jy’t van die begin af nie van Marius gehou nie.”
Kayla trek haar bolip op. “Uh-já! Wat ’n boring Blou Bul-loser.”
Mieke lag. ’n Bitter lag.
Kayla se selfoon vibreer in haar broeksak, Mieke hoor dit waar sy sit. Die foon verskyn vinniger as wat jy BBM kan sê en Kayla se vingers beweeg oor die knoppies soos ’n geoefende pianis s’n oor die klawers. Mieke dink aan haar eie selfoon wat sy ongelaai in haar bedkassie gegooi het toe sy nou die dag teruggetrek het na haar ou kamer. Haar maag trek op ’n knop as sy dink aan die moontlike stemboodskappe wat vir haar wag.
“Anyway,” gesels Kayla terwyl sy ongesteurd tik-tik op haar selfoon, “ek’s nogal keen om jou meer te sien. Veral aangesien ons nou weer albei onder Ma-hulle se dak gaan bly. Ons moet saamstaan, jy weet.”
Mieke dink aan al die kere wat sy vir Kayla moes opkom, en wonder skielik of sy ’n enkele dag saam met hierdie sirkus gaan oorleef. Sy trek haar duvet oor haar kop. “Maak asseblief die deur toe as jy uitgaan.”
Wie is in elk geval lus vir opstaan in die middel van die winter? ’n Winter wat lyk asof hy nooit gaan eindig nie.
Sy is half bewus van Kayla wat ’n kombers oor haar voete gooi, maar dalk droom sy. Sy gee in elk geval nie om wanneer en óf sy weer gaan opstaan nie.
Vroeg Saterdagoggend slof-slof Mieke die kombuis binne. Sy kry haar ma – gebad, aangetrek en gegrimeer – by die kombuistoonbank, ’n koppie tee en die koerant voor haar. Mieke trek haar ou badkamerjapon stywer om haar lyf. Haar ma kyk op toe Mieke die yskasdeur doelloos oopmaak.
“O!” Haar ma vou die koerant toe. “Jy’s vroeg uit die vere.”
“Môre, Ma.”
“Daar’s kilojoulevrye ontbytpap in die kas. Gooi vir jou bietjie in ’n bordjie.”
Mieke maak die yskasdeur toe, trek haar lip op.
“Dis nou die tyd om jou figuur dop te hou, Mieke. Jy wil nie soos ander geskeide vrouens jouself sommer net laat gaan nie. Marius moet jaloers en spyt wees wanneer hy jou weer sien.”
Mieke maak haar oë toe, oorweeg dit om die yskas weer oop te maak en daarin te klim. Is die yskas groot genoeg vir haar en al haar baggage?
“Wanneer kom Pa terug van … Waar is hy nou weer op die oomblik?” verander sy die onderwerp.
Haar ma glimlag haar plastiekglimlag. Die een wat Mieke en Kayla net so goed ken soos die geluid van die voordeur wat laataand toeknip as hulle pa die sakeman op ’n aandvlug moet wees vir een van sy vele oorsese besoeke.
“Duitsland. Vir ’n hele paar maande.”
Haar ma kyk fronsend na Mieke. “Jou pa is bekommerd oor jou. Ek het vlugtig vir hom in ’n e-pos verduidelik van jou en Marius se egskeiding, maar hy wil self met jou praat. Jy kan hom gerus bietjie kontak.”
Mieke maak weer die yskas oop, haal ’n bakkie jogurt uit. “Wanneer hy terug is, sal daar mos baie tyd wees om te gesels. Ek is nêrens heen op pad nie.”
Ongelukkig, voeg sy in haar kop by.
Haar ma maak keel skoon. “Daarvan gepraat …”
“Ja?” Mieke daag haar ma met haar oë uit. “Vra maar wat Ma wil vra.”
“Het jy al ’n toekomsplan uitgewerk, Mieke?”
Sy lek die jogurt gulsig van haar lepel af. Sy weet presies hoe so ’n gelek haar ma irriteer. “Ek werk daaraan. Maar dis moeilik, Ma.”
Haar ma se nek verstyf. “Wat is so moeilik daaraan?”
Mieke vererg haar. “Waar sal ek begin, Ma? Met die feit dat ek nul werksondervinding het? Dat ek net ’n BA-graad het wat amper niks werd is nie? Dat ek ’n wit, vyf-en-twintigjarige, geskeide vrou is? Daar is mense wat jonger as ek is en meer kwalifikasies het.”
Sy skud haar kop. “Ek moes ten minste my honneurs gedoen het …”
Maar haar ma luister nie. Glimlag onskuldig. “Wie weet, dalk vat Marius jou eendag terug.”
Mieke se kop ruk op asof sy deur die gesig geklap is. “Ekskuus?”
“Moenie so verdwaas lyk nie. Ek moes vroeër ingetree het, ek weet. Vir jou gesê het dat jy ’n groot fout maak om van Marius te skei. Maar nou is dit te laat en hier sit ons.”
Mieke bal haar vuis dat die jogurtbakkie onder haar vingers knak. “Is dít wat Ma van my dink?”
Haar ma tik-tik haar op die skouer. “Toemaar, my kind, jy sal nog grootword en besef waaroor die lewe regtig gaan. ’n Huwelik is harde werk en mens gee nie sommerso op nie.” Sy kyk op haar horlosie, staan op. “Ek sal aanstaltes moet maak as ek betyds wil wees vir my vergadering.”
Natúúrlik. Al waarvoor haar ma leef, is haar vergaderings met die donnerse Waterkloofse Vrouevereniging.
Mieke asem stadig in, stadig uit. Probeer tel tot tien. Flip! Sy kan nie eens tot vyf tel sonder dat sy rooi sien nie.
“Ma.”
Haar ma tel haar handsak van die toonbank op, draai halfpad terug na Mieke. “Hmm?”
Mieke kyk stip na haar ma, maar die woorde in haar kop word rondgeskommel, teen haar verhemelte gegooi en stopgesit voor dit uit haar mond kan peul.
“Gaan maak bietjie daardie kleinsus van jou wakker en vra haar om saam met jou inkopies te gaan doen.” Haar ma wys na ’n vel papier teen die yskas. “Ek het ’n lysie gemaak van goed wat in en om die huis gedoen moet word. Noudat jy en Kayla terug is, sal julle ook julle deel moet doen.”
En met ’n wuif is sy weg.
Mieke bly doodstil sit. Sy hoor skaars toe Kayla later die voordeur oopstoot en die kombuis binneval vir munchies. In ’n walm van drank en sigaretrook verdwyn sy in die rigting van haar kamer.
Mieke se ou Citi Chico sukkel-sukkel teen die steil bulte van Waterkloof uit. Sy trap die petrolpedaal plat, maar die motortjie kruie teen twintig kilometer per uur oor die boggel van die laaste bult voor hulle huis. Sy onthou hierdie Chico-en-bult-stryd uit haar hoërskooldae. Sy was een van die gelukkiges wat al in graad 11 ’n motor gekry het, en haar klasmaats het gou besluit sy is ’n meisie om te bevriend.
“Kon jy nie vinniger gery het nie?” kla Kayla langs haar. Sy gooi haar sigaretstompie by die oop venster uit terwyl Mieke wag dat die sekuriteitshek oopgaan.
“En kon jy nie gewag het tot ons by die huis kom voor jy jou kankerstokkie aangesteek het nie? Jy weet hoe verpes ek sigaretrook in my motor!”
Kayla lag. “In Maaaarius se pretentious motor miskien,” tart sy, “maar hierdie is mos jou eie ride.”
Mieke kyk kwaai na haar suster, maar sê niks. Kayla het ’n punt beet. Marius was die een wat als verskaf het – en ook oor als gekla het. Mieke moes regstaan, skoonmaak, wegvee, als soos hy daarvan hou. Sy kan nie onthou of dit sy of hy was wat sigaretrook in sy motors verbied het nie. Maar sy onthou dat sy as student self ’n stoute sigaret saam met haar koshuisvriendinne in haar karretjie gerook het.
Sy sug, maak die deur oop. Dankie tog dat haar ma nie die Chico verkoop het nie. Kayla het natuurlik al haar hoeveelste motor deur haar dinges getrek, maar om die een of ander rede het hulle ma nooit die Chico aan haar probeer afsmeer nie.
Kayla se selfoon lui vrolik. Sy haal dit gretig uit haar handsak, druk die foon teen haar oor en wys vir Mieke met haar oë dat sy solank ingaan. “Hallooo, Bitch!” groet sy die persoon aan die ander kant.
Mieke wys na die inkopiesakke in die kattebak. “En wat van hierdie? Moet ek als alleen indra?”
Maar sy’t haar sussie verloor. Dié is al halfpad by die voordeur in.
Mieke kners op haar tande, skud haar kop.
Eers toe sy die laaste pak ryskoekies in ’n kas gepak het, maak Kayla weer haar verskyning.
“Miekels …”
O jinne, Mieke ken daardie stemtoon. Sy kyk na haar suster. Jip. Daardie onskuldige ogies werk weer oortyd.
“Wat is dit, Kay? En moenie dink ek gaan vanaand vir jou cover nie. Ons is nie meer kinders nie. Ek gaan boek lees, vroeg slaap en soveel as moontlik interaksie met Ma vermy.”
Kayla knip haar oë ’n paar keer. “Maar Miekels, wie sê ek wil jou vra om vir my te cover?”
“Wat anders kan dit wees? Ek ken jou langer as gister.”
Kayla lag. “Oukei, fine. Jy ken my soort van.”
Mieke vou haar arms. “En?”
“Ek wil graag vir hierdie cool nuwe band gaan kyk.” Haar oë rek groot. “Dis hulle eerste CD launch vanaand. Jy verstaan nie, ek móét net daar wees. Dis Siek.”
“Wat? Wie is siek?”
Kayla rol haar oë hemelwaarts, asof Mieke die domste vraag op aarde gevra het.
“Siek! Soos in die band. Bly jy onder ’n klip, ousus?”
“Nou wat het hierdie Siek se CD launch met my te doen?” Maar Mieke weet sy moet eerder nie vra nie. Sy kan die opwinding in Kayla se lyftaal sien, hoekom haar kleinsus nog aanhits?
Kayla trek haar oë en mond só dat sy skoon soos die kat in Shrek lyk. “Die ding is …” Mieke kan sweer sy sien ’n onderlip wat effens bewe, “ek het bucks nodig.”
A! Daar het sy dit. Kleinsus dink ousus is ’n onuitputlike bron van geld. As sy maar net geweet het hoe min geld Mieke in haar bankrekening oorhet. Marius was die geldfontein, nie sý nie. En sover sy weet, kry Kayla ’n stewige bedrag sakgeld van hulle pa. Heelwat meer as wat Mieke gekry het toe sy self ’n student was.
“Laat ek raai: Jou sakgeld het saam met die drank in jou keelgat af verdwyn?” vra sy. Bitchy. Hoe anders gaan Kayla leer?
“Moenie mean wees nie, Miekels. Ek wil net bietjie fun hê saam met my people … Asseblief.”
Mieke kyk na haar kleinsus, hoe sy haar hande om en om vou. Ai tog. Haar hart vermurwe. Dis haar sussie hierdie en daar is niks wat sy nie vir haar sal doen nie.
Sy trek met ’n sug haar handsak oor die kombuistoonbank nader. “Hoeveel?”
“Jippiee!” Kayla klap haar hande saam, swaai haar heupe heen en weer en gooi haar arms om Mieke se nek. “Jy’s die beste.”
Mieke kan nie help om te glimlag nie. Kayla weet ook net hoe om mense om haar pinkie te draai. Sy hou ’n paar note na haar sussie uit. “En as ek uitvind jy’t hierdie geld uitgegee op shooters vir al jou vriende, gaan ek jou nooit vergewe nie.”
Kayla skud haar kop onskuldig. “Nooit! Ek het net R20 nodig vir die entrance … En dalk ietsie vir een drink, you know?”
Kayla druk die geld in haar handsak. Toe sy opkyk, is daar ’n nuwe uitdrukking op haar gesig. Een van opwinding.
“Hoekom kom jy nie saam nie, Miekels?”
Hoe nou? “Wat? Waarheen?” vra sy half dom.
“Na die CD launch! Dis by Tings. Ag toe, ek’s seker jy sal moerse baie fun hê. En jy kan doen met ’n bietjie fun, dink jy nie?”
Mieke is so uit die veld geslaan, sy trap ’n paar treë terug. “Wat?”
“Ja, toe, man!” Dit lyk asof Kayla spoed gevang het, want sy beduie dramaties met haar hande. “Wil jy nou seriously sit en boek lees vanaand? Op ’n Saterdagaand? Terwyl al wat ’n jongmens is party in Hatfield? Come on, Mieks, join my en my people. Jy sal hulle almal love!”
Sal sy? Sy twyfel sterk! Wat weet Kayla van haar suster se lewe en van haar smaak? Mieke weet self nie waarvan sy hou nie, hoe sal haar snotneus sussie dan weet? Nee wat, sy sal in elk geval net ongemaklik voel tussen Kayla se vriende.
En ’n band genaamd Siek? ’n Spul raserige, drinkende, rokende jongmense om haar? Nee wat, inderdaad. Dis nie vir haar nie. Sy lees eerder Britney Spears se biografie voor sy na ’n band gaan kyk in ’n plek waar sy in elk geval soos ’n seer vinger sal uitstaan.
Sy kyk vlugtig af na haar blommetjiesbloes, denimbaadjie en snoesige serp. Sy weet die uitrusting laat haar soos ’n Pretoria-koek lyk. Die uitrusting wat Marius vir haar uitgekies het. Hoe kan iemand soos sy in ’n pub gaan uithang saam met ’n klomp hipsters? Al is sy nie veel ouer as Kayla nie, is haar klere en hare definitief nie rock-vriendelik nie.
Asof Kayla haar gedagtes kan lees, voeg sy by: “Ek sal vir jou iets sexy leen om aan te trek. Nie hierdie preppy stuff wat jy altyd dra nie.”
Mieke vererg haar effens, draai weg van haar sussie se smekende oë. “Nee wat.” Sy dwing ’n laggie uit. “Ek is dalk vyf-en-twintig, maar ek voel eerder veertig.”
“Dalk omdat jy soos ’n veertigjarige aantrek,” mompel Kayla.
Mieke kyk skerp na haar suster. Haar funky wolrokkie. Sexy tights aan die bene. Krale om die nek. Hip plathakstewels aan die voete.
“Ek het nie jou pity of jou klere nodig nie, dankie, Kayla,” sê sy styf.
Kayla lig haar skouers, vat ’n appel uit die bak op die kombuistafel. Sy byt daarin. “Suit yourself. Maar jy gaan binnekort besef dat jy nog lank nie oud is nie. En dat jy niks fun in jou lewe gaan hê as jy heeldag so moerig by die huis rondsit nie.”
Mieke kyk haar suster oopmond agterna toe dié uit die kombuis drentel. Sy wil agter Kayla aanhardloop en vir haar sê dat sy nie ’n loser is nie. Sy is dalk die teenoorgestelde van Kayla – blond, lank en sogenaamd preppy – maar hoe sal haar suster verstaan dat sy haar voorkoms volgens Marius se voorkeure beplan het? Dat sy haar hare gereeld laat sny en kleur het – altyd in layers, altyd met blonde highlights – omdat Marius dit so verkies het. Dat sy by die klerewinkels gekoop het waar Marius rekeninge vir haar oopgemaak het.
Sy sal wat wil gee om petite te wees soos Kayla. Met reguit donker hare, ’n oulike neusie en neutbruin oë. Maar nou lyk sy soos elke tweede vrou in Pretoria. Blond. Blou oë. 34C-boobs. ’n Truworths-klerekas. En deksels boring.
Die oomblik toe Mieke haar iPhone aanskakel, lui dit. Skril en deurdringend. Die naam flits voor haar soos ’n rits uitroeptekens.
Sy kyk vir ’n oomblik daarna, druk die silent-knoppie en sit die foon langs haar Appeltjie neer. Sy sal haar nommer moet verander, maar hoe kan sy? Dis die kontaknommer wat sy op haar curriculum vitae gesit het. Wat as sy ’n oproep van ’n moontlike werkgewer mis?
Nommer verander is nie ’n opsie nie. Sy sal nou maar net daarmee moet saamleef dat haar selfoon weer deel van haar lewe is. En sy het ’n gevoel dat die oproepe van hierdie spesifieke persoon nie lank gaan aanhou nie. Maklike mans vind vinnig weer nuwe uitdagings.
Sy sit haar rekenaar aan en maak Google oop. Wat sal sy vandag soek? Die vorige e-posse wat sy uitgestuur het, het niks opgelewer nie. Dalk moet sy intik: werk vir geskeide, gegradueerde, geen-werksondervinding Afrikaner.
Vrek! Haar lewe is ’n gemors! Hoekom het haar ouers nie ingespring en haar beveel om te gaan werk toe sy huis-huis wou speel nie?
Maar sy weet hoekom. Haar ma was maar net te verheug toe Marius die droomskoonseun kom “ouers” vra het. Haar pa was weer eens op een van sy buitelandse besoeke; dalk sou hy ’n stokkie daarvoor gesteek het. Of nie. Mieke se oë was vol sterre en niks sou haar gekeer het om op die ouderdom van twee-en-twintig voor die kansel te gaan staan nie.
Stupid, stupid, stupid! Dis wat sy was. Dom, dommer, domste, Mieke-dom.
Sy sien ’n advertensie vir ’n vertaler by ’n aanlyn-tydskrif in Johannesburg. ’n Junior posisie. Salaris van R4 000 – R6 000 per maand. Goeie genade! Is dít wat maatskappye juniors betaal?
Sy kliek op die skakel om ’n e-pos te stuur. Sy heg haar CV aan, skryf ’n kort briefie om haarself voor te stel. Sy huiwer ’n oomblik. Maak haar CV oop en verander haar huwelikstatus na geskei. Dis in elk geval onsinnig om te jok. Een van haar onderwysers het destyds nog gesê ’n mens moenie vals inligting in ’n CV gee nie, want as dit jou in die dinges byt, dan byt dit seer.
Sy druk die send-knoppie. Daar’s hy, Mieke. Dis ’n goeie begin. ’n Eerlike CV.
Sy maak haar oë toe, stuur ’n skietgebedjie vir die ontvanger van die e-pos. Sien my raak, asseblief! Lees tussen die reëls van my CV en besef dat ek nie ’n nikswerd geskeide, onervare vroumens is nie.