Читать книгу Mieke rock uit - Jana du Plessis - Страница 7

3

Оглавление

Mieke klap die kattebak van haar Chico hard toe. Maar die ding spring terug en tref haar amper in die gesig.

“Kaylaaaa!” roep-skree sy. Kayla verskyn in die voordeur. “Jy sal jou koelsak voor by jou moet hou.”

Mieke maak die kattebak heeltemal oop, tel Kayla se drankvoorraad met ’n gesukkel uit.

Kayla tuit haar mond. “Maar Darling en al haar stuff moet ook nog inpas, onthou?”

Mieke asem stadig in. Hier staan sy, karretjie gepak vir die Siek Pad Partytjie (soos Kayla dit gedoop het), voor haar ouerhuis op ’n laatmiddag in Pretoria. Wat het met haar gebeur? Was dit omdat die onderhoudvoerder by die aanlyn-tydskrif haar duidelik laat verstaan het dat honderde ander kandidate vir die vertaalpos aansoek gedoen het? Of was dit omdat hulle haar nooit vir ’n tweede onderhoud gebel het nie? Was dit toe dat iets in haar brein uitgehaak het?

Want toe sy weer sien, loop sy in Kayla se kamer in en kondig aan dat sy ook ’n Band Bitch wil wees. Haar sussie het omtrent van haar bed afgeval – maar dit kon gewees het omdat sy ’n babelaas gehad het – en haar hande opgewonde saamgeslaan.

“Yay, Miekels die Band Bitch! Welcome to the club,” was haar presiese woorde. Sy het dadelik vir Darling ge-WhatsApp. Dié het terug laat weet dat Mieke “delicious” is en dat sy nie kan wag om haar “in te lyf” nie.

“Hoeveel flippen drank hét jy gekoop, Kayla?” sis Mieke deur haar tande terwyl sy sukkel om die koelsak op die agtersitplek in te pas.

“Huh?” Kayla kyk op van haar selfoon-getikkery.

Mieke skud haar kop. Hierdie gaan een siek storie wees. En nie die goeie tipe siek nie – no pun intended.

Hulle ma kom by die voordeur uit, flink op pad na haar Audi. “Is julle al op pad?”

“Ja, Ma,” antwoord Mieke styf.

Sy soen Mieke vlugtig op die wang. “Soet wees.” Sy wys met haar oë na Kayla. “En kyk mooi na jou sussie.”

“Ja, Ma.”

Haar ma skud haar kop. “Ek verstaan nie eintlik hoekom jy saamgaan nie … Maar nou ja, ek kan nie meer julle keuses vir julle maak nie. As jy terugkom, gaan jy ’n toekomsplan uitwerk, nè, Mieke?”

“Ja, Ma.”

“En as Marius dalk bel …”

“Ma!” waarsku Mieke.

“Hy besluit dalk om weer te probeer. Dit gebeur, Mieke. Wie weet.”

“Ma verstaan nie …”

“Ciao, Moedertjie!” Kayla gryp haar ma speels om die nek en soen haar.

Sy trek ’n gesig. “Jy moet daardie slegte gewoonte van jou los, Kayla-kind. ’n Ware dame rook nie.”

Kayla lag. Mieke sug verlig, glimlag dankbaar vir haar sussie.

Hulle ma lig haar wysvinger. “En dis die laaste keer dat ek en Pa julle sponsor. Pa gee reeds vir julle genoeg sakgeld; ek weet nie hoekom julle nou eintlik soveel meer geld nodig het vir hierdie belaglike storie nie.” Sy sit haar sonbril op. “Geld groei nie op ons rug nie, maar ek gun julle hierdie laaste lawwigheid. En dan moet julle grootword.”

“Aaaag, Mammie, jy rock!” skerts Kayla en maak die Chico se passasiersdeur oop.

“Baai, Ma,” groet Mieke.

Siek lyk só:

Liam, die hoofsanger en kitaarspeler, is presies wat Mieke verwag het van ’n voorsanger. Langerige donker hare wat oor sy gesig hang, skinny jeans, twee-dae-laas-geskeerde gesig, rokerige stem, voor op die wa. Hy is korter as sy medespelers, nie veel langer as Mieke nie.

Quinn “The Base” verbaas haar. Skoolseungesiggie, blonde krulhare, oop glimlag, mooi tande.

Ben op dromme het – behalwe vir sy deur-jou-kyk-oë – arms wat enige meisie na haar asem sal laat snak. Sy T-hemp sit so styf dat Mieke kan sweer sy spiere gaan enige oomblik daardeur bars. Hy is besig om die laaste van Siek se tasse en toerusting in sy pa se kombi te laai. Sy kort bruin hare is deurmekaar – hy gaan seker vir die uit-die-bed-look. Sy jeans span om sy mooigevormde agterstewe. Nie dat Mieke eintlik kyk nie.

En Thalia, vioolspeler en agtergrondstem, is mooier as wat Mieke met hulle eerste ontmoeting gedink het. Sy is slank, haar kleredrag is sexy tog vroulik, en haar hare … Haar hare is iets om van te huil. Wie behalwe die vrouens in Pantene-advertensies het sulke glinsterende hare? wonder Mieke waar sy teen die Chico leun en wag vir die res van die Pad Partytjie om klaar te pak sodat hulle in die pad kan val.

Ben staan nader, steek ’n sigaret aan. “Is julle seker julle wil nie saam met ons ry nie?”

Mieke skud haar kop. Dis die een ding waarop sy aangedring het. Sodat sy kan wegjaag as Siek vir haar te veel word.

Ben skop-skop die voorwiel van haar karretjie. “Jy sal eintlik ’n beter storie kry as jy saam met ons ry. Al die kak wat ons praat sal jou kop laat spin.”

Mieke weet nie of sy moet lag of huil nie. Die storie. Jinne tog! Wat as sy elke oomblik van hierdie gedoente haat en niks geskryf kry nie?

Ag, dan is dit maar tot daarnatoe. Sy is nie hier om Siek gelukkig te maak nie. Sy skuld hulle niks.

“Ek is seker daar sal genoeg tyd wees om iets te kry om te skryf.”

Hy knik. “Is jy reg vir die party van jou lewe?”

Sy probeer glimlag, maar weet sy lyk eerder soos ’n hamster met hardlywigheid. “Ek moet seker wees.”

Darling en Kayla kom al giggelend uit die kommune wat Siek deel, hulle hande oorlaai met Darling se bagasie. Sy het glo gisteraand hier in Hatfield by Party Central – soos Kayla dit noem – oorgeslaap, sodat almal van dieselfde punt kan vertrek. Nie dat hulle vandag baie ver het om te reis nie. Cool Runnings in Melville en ’n woonstel van een van Liam se vriende is hulle eerste stop.

Mieke kyk na Darling se oorgroot hemprok, luiperdmotief-tights en oranjegeverfde toonnaels. ’n Kleurvolle serp is om haar nek gedrapeer, ’n military type-baadjie om haar skouers. Sy en Kayla, uitgevat in ’n über-kort rompie, sykouse met gate, ’n los trui en plat bootsies, lyk soos iets uit ’n Rolling Stone-tydskrif.

Mieke kyk af na haar eie boring jeans, Foschini-bloes en truitjie van Woolies. Sy moes na Kayla geluister het en saam met haar gaan shop het vir die Pad Partytjie. Maar sy was nie lus vir Kayla se klerekeuses nie. Sy sal self regkom, oukei. Sy is dan ouer en wyser.

Sy het darem probeer. Op haar budget. Mr Price het oulike hempies gehad. En Woolies gemaklike jeans. Sy sal van môre af eerder die Mr Price-nommers aantrek. Al moet dit al wees wat sy die res van die tyd dra.

“Halloooo, Bitch!” groet Darling vir Mieke. Gelukkig is haar hande vol tasse en spring Mieke die soenery vry.

Sy maak die kattebak oop. Kyk na Darling se tasse. Slaan die kattebak weer toe en maak die agterdeur oop.

“Jy moet maar bo-op jou bagasie sit. Of,” sy kyk vir Ben, “saam met die band ry.”

“No way, Bitch!” Darling druk haar tasse in die motor. “Ek ry saam met die Bitches. Dis hoe dit is.” Sy gooi haar kussing en ’n slaapsak in. “Besides, dan kan die band my bietjie mis en uitgehonger raak vir my geselskap tot by die volgende pit stop.”

Sy draai na Ben en gee vir hom haar laaste sak. “Of hoe, Bennie?”

Hy lag, vat die sak by haar. “Ek neem aan dis julle tent wat ek moet laai. Soos altyd.”

“Jy’s darem maar slim, my favourite drummer boy.” En sy knyp sy boud.

Ben glimlag onderlangs vir haar, draai na Mieke. “Is julle reg om te gaan?”

Tent? Watse tent? wil sy vra. Sy het nog nie ’n woord oor enige tentblyery gehoor nie! Maar sy kry nie kans om Kayla iets toe te snou nie, want dié het haar klaar in die passasiersitplek tuisgemaak en die motorradio aangesit.

Mieke mik vir die motor se deur. “Dis seker nou te laat om om te draai.” Sy probeer lag, maar die klank wat uit haar mond kom, klink soos ’n papegaai wat aan ’n saadjie verstik.

“Sien julle in Joburg, Bitches!” roep Kayla en waai vir die res van die band, wat al gereed sit in die kombi.

Toe Mieke agter die stuurwiel inklim, sien sy hoe Thalia iets vir Ben sê en haar kop beslis skud.

“Het jy die stuff gepak, Kay?” vra Darling.

Mieke skakel haar karretjie aan, draai die truspieëltjie sodat sy vir Darling kan sien. “Watter stuff?”

Darling giggel en skud Kayla se skouer. “Het jy?”

Kayla draai halflyf in haar sitplek om. “Natuurlik, Bitch, hoe ken jy my dan?”

“Waarvan praat julle?” Maar Mieke weet sy moenie eens vra nie. Waarvan dínk sy praat hulle? Cupcakes?

Kayla buig vorentoe en haal ’n banksakkie en ’n tydskrif uit haar oorgroot handsak.

“Wat’s dit daai?” vra Mieke, maar sy weet presies wat dit is.

Toe die Rizla-papier te voorskyn kom, weet Mieke dat sy nie droom nie. Flippen Kayla gaan nou wragtig ’n zol in haar motor rol.

“Nie in my motor nie!” probeer Mieke raas.

Tevergeefs. Kayla is aan die rol en sy draai die radio se volume harder. Al singende steek sy die zol aan.

“Kan jy nie wag tot ons ten minste in Johannesburg is nie, Kayla? Moet jy nóú rook?”

“Ek wil buzzy daar aankom,” sê sy dik van die rook wat tussendeur haar tande ontsnap. Sy gee die zol vir Darling aan. “Want dis hoe ons rol.”

Mieke draai haar venster heeltemal oop. Die dagga se soet reuk maak haar naar. Kan sy nie maar net hier omdraai en vir Kayla en Darling langs die pad aflaai nie? Hoe het sy nou gedink – dat hulle heeldag gaan kaart speel en saans gaan tee drink wanneer die band klaar opgetree het?

Darling tik haar giggelend op die skouer. “Die bestuurder moet ook rook.”

Mieke skud haar kop, konsentreer op die verkeer. “Nie nou nie.”

Kayla vat die zol oor. “Les Nommer Een van road trips, Miekels, is dat jy oor niks mag worry nie.”

Mieke kyk vlugtig na haar sussie en dan na die snelweg voor haar. Sy sê eerder niks.

Darling gee vir hulle koeldranke aan. “My mammie het darem gesorg vir non-alkoholiese drinkgoedjies en snacks.”

Kayla maak ’n Fanta Orange oop en gee dit vir Mieke aan. Gaskoeldrank! Jig!

“Nee, dankie. Nie vir my nie.”

Sy sien hoe Kayla terugsit en na haar kyk. “You need to chill out, lady.”

“Gmf,” antwoord sy. Want wat meer moet sy sê?

Daar is net genoeg tyd om ’n halwe hartaanval te kry oor die feit dat die Pad Partytjie saam in die mini-woonkamer van Liam se vriend moet slaap, voor die hele gespuis Cool Runnings binneval. Mieke kry nie kans om vir Kayla te verwurg nie, want dié is hoog en hand op die blaas met Darling.

Mieke gaan sit onseker langs Ben by die groot tafel.

“Wat drink jy?” vra hy.

“Savanna Light, asseblief.” Haar stem klink vir haar so vreemd soos die mense tussen wie sy sit. Sy wil huil. Sy sluk vinnig.

Hy bestel drankies vir almal om die tafel en draai na haar. “Is jy oukei?”

Moenie huil nie. Moenie huil nie.

Sy knik. Sluk. “Hoe laat tree julle op?”

Hy kyk op sy horlosie. En dan vir Thalia. “Agtuur. Ons drink net een drink voor ons set-up. En ons gig net, like, twintig minute of so. Daar’s iets soos vyf bands wat vanaand optree.”

“O.”

Mieke kyk vir hom. Sy oë is vriendelik. Sy wens sy kan daarin klim. Verkieslik om weg te kom van haar ongemak in hierdie plek waar sy nie hoort nie.

“Was jy al ooit by ’n live gig?” vra hy.

Sy proeslag. “Is dit só obvious?”

Hy lag, maar nie sarkasties nie. “Jy lyk of jy enige oomblik kan weghardloop.”

Die drank arriveer en almal klink vrolik glase.

Mieke vat ’n groot sluk Savanna. Sy kyk vir Kayla, wat met Darling en Thalia gesels.

Liam drink sy drankie met een teug klaar en staan op. “As ek klaar gepis het, set ons op. Cool?”

Thalia knik. “En moenie dink ek gaan nie weet as jy nog ’n drink by die bar gekry het nie.”

Liam lag. ’n Rockster-lag. Diep en rokerig. “You know me too well, babe.”

“Sien julle ná die gig, dan party ons verder,” sê Ben vir Mieke en staan op.

“Geniet dit,” groet sy.

Toe Siek weg is, wys Kayla sy moet nader skuif. “Jy kan nie so sour puss alleen daar sit nie.”

Mieke skuif tot sy oorkant Kayla en Darling sit.

“Geniet jy jouself, Mieke?” vra Darling.

Mieke kyk vir Kayla. “Nie regtig nie.”

“Oh no!” roep Darling uit. “Dalk moet jy iets sterker drink?” Sy wys na Mieke se Savanna.

Mieke skud haar kop. “Nee, dankie.”

Kayla steek sigarette vir haar en Darling aan, bied vir Mieke ook aan.

Mieke skud steeds haar kop.

“Waar gaan ons almal vanaand slaap?” vra sy vir Kayla. Sy probeer haar gesigsuitdrukking neutraal hou. Al wil sy oor die houtbankie klim en Kayla aan die nek beetkry.

Darling kyk van Mieke na Kayla. “Ek gaan gou … uhm … you know…” Sy staan vinnig op en verdwyn in die rigting van die bar.

“Kayla.” Een woord.

“Mieke.” Een woord.

Hulle daag mekaar uit met hulle oë.

“Ek weier om tussen ’n spul vreemdelinge te slaap. Hoekom het jy nie vir my gesê dit gaan so wees nie?”

Kayla lig ’n wenkbrou. “Wat presies het jy gedink, ousus? B&B’s all the way en five-star luxury? Hierdie is nie ’n Blou Bul-rugbytoer nie.”

Mieke se oë vernou. “Moenie met my praat asof ek stupid is nie. Jy’t gesê ons gaan op ’n road trip, maar nou is daar skielik ’n tent betrokke en ’n slapery op vreemde mans se banke?”

Kayla rol haar oë hemelwaarts. “Goeie fok, Mieke, ek het nie gedink ek sal dit hoef uit te spel nie. This is it!” Sy lig haar hande dramaties. “Ons gaan waar die wind ons waai. Kan jy nie bietjie meer open-minded probeer wees nie?”

Mieke vererg haar bloedig. Sy is so kwaad, sy kan iets breek. Soos haar suster se hand wat so fyntjies deur die lug waai terwyl sy rook.

Sy staan op. Sy haal haar motorsleutels uit haar handsak. Dankie tog dat sy self met haar Chico hiernatoe gery het. Al het Ben ’n lift aangebied in die kombi, nadat almal hulle bagasie in die superklein woonstelletjie ingedra het.

“Waar de hel gaan jy?” vra Kayla katterig.

“Ek weet nie. Ek wil net nie meer hier wees nie.”

Mieke maak nie oogkontak nie. Sy is bang sy gooi haar halfgedrinkte cider oor haar suster se fynbesnede gesiggie uit.

“Fine. Whatever.” Kayla vou haar arms. Asof sy ses is en nie die sweeties kan kry wat sy wil hê nie.

Mieke trek haar skouers regop en loop vinnig uit. Voor sy dalk vir haar suster wys presies waar sy haar Pad Partytjie kan opdruk.

Nadat sy ’n slaai geëet en ’n glas wyn gedrink het by ’n straatkafeetjie in die hoofstraat van Melville, voel Mieke beter. Nou kan sy weer dink. En haar opsies opweeg. Al hang die skaal heeltemal skeef, want sy weet reeds wat sy moet doen.

Sy moet haar kop regkry. Meer open-minded wees. Soos Kayla gesê het.

Maar hoe kan sy? Mieke Germishuys is nie van die open-minded skool nie. Sy doen haar lewe lank dinge soos die samelewing van haar verwag. En nadat sy met Marius getrou het, hoe hy van haar verwag het. Sy weet nie van beter nie. Kan Kayla dit nie verstaan nie?

Sy betaal haar rekening en kyk uit oor die straat. Teen hierdie tyd is Siek se gig al verby. Sy wens dat die hele aand – sommer die hele Pad Partytjie – al verby moet wees.

Sy ry terug na Cool Runnings, parkeer haar motor in die straat. Sy kyk vir haarself in die truspieëltjie. Boring Mieke.

Sy sug. Wat is een aand op ’n bank of die vloer nou? Jy kan dit doen, Mieke, komaan.

Kayla en Darling is op die dansvloer. Dronk. Kayla gooi haar arms om Mieke toe sy haar sien.

“Jy’s terug!” skree Darling bo die harde musiek uit.

“Het jy jou sour puss buite gelos?” vra Kayla, haar oë effens uit fokus.

Mieke glimlag vir haar sussie. “Ek werk daaraan.”

“Kry vir jou ’n drink. Dit sal jou vinniger in die mood kry.” Kayla wys na die bar.

Mieke bestel vir haar ’n glas goedkoop wyn.

Sy teug die res van die aand daaraan, terwyl sy wag vir Siek en die Band Bitches om klaar te kuier. Sodat sy kan gaan slaap. Op ’n vreemde man se bank. O, die vooruitsig!

Die nag slaap sy bitter min. Liam se vriend het vir haar en Kayla en Darling ’n kombers op die vloer in die woonkamer uitgegooi. Thalia en Liam is saam met die vriend na sy kamer. Ben en Quinn lê uitgestrek op die moeë banke.

Teen sonop gee Mieke op. Haar nek, rug, bene – flippen alles! – pyn. Sy draai haar duvet om haar en loop suutjies uit die woonstel, haar motorsleutels in haar hand. Haar karretjie staan binne die woonstelkompleks geparkeer.

Sy sluit die motor oop, klim in, verstel haar sitplek en probeer ’n gemaklike posisie kry. Dit werk nie. Sy skuif en skuif tot sy soort van kan lê.

Blerrie hel. Sy haat elke oomblik hiervan. Soos in háát.

Sy wil stort, skoon pajamas aantrek en in haar sagte bed in Pretoria inklim. Is dit te veel gevra? Boring Mieke hou van die boring lewe, oukei? Een wat gemaklik en skoon is, baie dankie.

Die son bak haar teen agtuur uit die motor. Sy wil skree! Sy loop sleepvoet terug na die woonstel.

Almal slaap nog. Wonderlik! Sy kan gou stort voor iemand wakker word.

Sy krap in haar tas tot sy haar badkamersakkie raakvat. Sy grou ’n skoon hemp en onderklere uit. ’n Handdoek.

Iemand sug. Sy vries. Kyk na die slapende lywe om haar. Ben maak een oog oop.

Sy hou haar asem op. Haar plan is om skoon te kom voor die res van die huis die badkamer stormloop. Ben kan nie nou kom en haar planne belemmer nie!

Ben se oë gaan toe, hy draai om.

Sy sug verlig.

Die badkamer is vuil en die stortgordyn werk nie lekker nie. Flippen great. Sy maak die toilet toe, vee die deksel met toiletpapier af, pak haar goedjies bo-op. Sy draai die stortkrane oop, wag ’n paar oomblikke voor sy haar klere uittrek en dit oor die enigste handdoekreling hang.

Sy toets die water se temperatuur met haar tone. Konsentreer om nie die vuil merke op die stortvloer te ontleed nie.

Sy hoor nie die deur wat oopgaan nie, maar sy sien dit. Sy roep verbaas uit, gryp na haar klere, maar dit val in ’n hoop op die vloer.

Liam se vriend is net so geskok soos sy. Sy oë is koeëlrond, sy mond hang oop.

“Gaan uit!” skree sy.

Die man staan gevries.

Sy kry haar handdoek beet, hou dit voor haar. “Gaan uit, gaan uit!”

Die man se mond gaan toe, dan weer oop. “Shit, sorry,” mompel hy. “Ek’t gedink die toilet lek al weer of iets. Ek’t nie gedink iemand stort nie.”

“Gaan! Uit!” roep sy woedend.

“Sorry, sorry, sorry.” Hy retireer, trek die deur agter hom toe.

Mieke staan en staar na die deur. Het hierdie pas gebeur? Regtig? Goeie genade, vrek en dêmmit! SHIT.

Sy beweeg na die deur en sluit dit. Flippen dom Mieke! Hoekom het sy nie daaraan gedink om die deur te sluit nie?!? Hal-lo! Wie is so onnosel soos sy?

Sy stort blitsvinnig, trek haar klere teen die spoed van wit lig aan.

Toe sy uit die badkamer kom, hoor sy stemme in die woonkamer. Neeee! Die hele huis is wakker en nou gaan almal vir haar lag. Sy wil hier uitkom. Weg. Nou.

Darling en Kayla lê op die vloer en lag, Ben sit regop en rook, Quinn en Badkamerman drink koffie. Sy weet die Band Bitches lag vir haar. Sy weet.

Almal raak stil toe hulle haar sien.

“Môre,” sê Mieke.

“Môre,” antwoord almal.

Sy pak haar goedjies terug in haar tas, haar rug na hulle gedraai.

“Het jy oukei geslaap, Miekels?” vra Kayla.

“My motor was gemakliker as die vloer.”

“Shame, het jy in jou kar gaan snooze?” vra Darling.

“Ek het probeer,” antwoord Mieke.

Sy staan ongemaklik rond. Waarnatoe nou? Daar’s nêrens plek om te sit of haar gesig in te druk nie.

“Wil jy sit?” kom Ben tot haar redding. Hy skuif op die bank om vir haar plek te maak.

“Of jy kan langs my kom sit,” sê Badkamerman. “Ons is mos nou verby die punt van formalities, right?”

Hy lag hard. Darling en Kayla giggel. Quinn glimlag skeef. Ben kyk vir haar.

Sy voel hoe haar gesig warm word.

“Moenie embarrassed wees nie, Mieke,” sê Darling. “As ek so ’n mooi lyf soos jy gehad het, sou ek heeldag naked rondgeloop het.”

Mieke voel hoe haar hele lyf gloei. As bloos die nuwe in-ding was, sou sy vir seker die trendyste vrou op aarde gewees het!

Sy wens dat sy nooit vir hierdie Pad Partytjie ge-RSVP het nie. En vandag is maar net Dag Twee.

“Gisteraand was ’n ripper, huh?” verander Ben die onderwerp.

“As julle gig net langer was,” val Darling ook in.

Almal trek los met ’n gelag oor die vorige aand en ’n bespreking van die opkomende gigs. Die volgende stop: Potchefstroom.

Mieke sit stokstyf en luister met ’n halwe oor. Die ander helfte van haar oor wil niks anders hoor as die stilte van haar kamer in Pretoria nie.

Maar dis te laat. Hier is sy nou. Ontblote boobs en al. In die middel van ’n Pad Partytjie wat nêrens heen op pad is nie. Behalwe na plekke waar sy vinnig van haar snob-kant ontslae moet raak.

Mieke rock uit

Подняться наверх