Читать книгу Mieke rock uit - Jana du Plessis - Страница 6
2
ОглавлениеMaandagoggend is Mieke voor haar ma in die kombuis. Sy het sleg geslaap: nagmerries van tydskrifte, Blou Bul-dansers en selfone met reuseknoppies wat nie gedruk kan word nie.
Sy maak vir haar koffie in die masjien wat haar pa laas jaar van China saamgebring het. Die koffie drup stadig in ’n beker terwyl sy met haar vingers op die kombuisblad tik. Vandag moet die dag wees dat sy ’n oproep kry vir ’n werksonderhoud. Dit móét net. Sy kan nie langer by die huis rondsit en wag vir haar lewe om te gebeur nie.
Met haar hande om die koffiebeker gevou wag sy vir haar e-posse om af te laai. Haar hart klop vinniger. Dalk het iemand op haar aansoeke gereageer.
Sy kyk op haar horlosie. Skuins ná sewe. Dis te betwyfel of iemand hierdie tyd van die dag vir haar e-pos gestuur het. Haar aansoeke dryf seker saam met honderde ander desperate aansoeke – en tien teen een van meer gekwalifiseerde kandidate – in die kuberruim rond.
Sy maak ’n nuwe tab op die internet oop. Dalk soek sy nie op die regte plek nie. Sy gaan na Facebook, maar toe sy die boodskappe in haar inbox sien, maak sy dit dadelik weer toe. Sy weet van wie dit is: Blou Bul-vrouens wat wil hoor wat tussen haar en Marius gebeur het. Wat voorgee dat hulle omgee, net sodat hulle eerste die smerige storie kan oordra. Sy ril as sy dink aan die vrouens wat sy eens gedink het haar vriendinne is.
Die koerante adverteer altyd werksgeleenthede, onthou sy skielik. Sy tik ’n webtuiste in en vind vinnig die job offers-knoppie. Sy lees deur die gelyste werkstitels. Sy mik dadelik vir die junior posisies en besluit om haar CV vir almal te stuur. Sy het niks om te verloor nie, reg? Iemand moet haar net raaksien en ’n kans gee.
En tel dit nie in haar guns dat sy op haar ouderdom bereid is om met enige posisie tevrede te wees nie? Dan praat sy boonop twee tale en is betroubaar, slim en aantreklik. As enige werkgewer moes sien hoe sy haar en Marius se huis bestuur, georden, versier en in stand gehou het, sou hulle sekerlik vir haar ’n werk aangebied het.
Sy sug saggies. Sy weet dat die werksoek-speletjie nie só werk nie. Werk val nie sommer in jou skoot net omdat jy ’n goeie tuisteskepper is nie. Ha! Dalk moes sy dít op haar CV aangebring het: Professionele tuisteskepper van ’n ongeskikte buffel se massiewe huis. Posisie beklee vir drie jaar, ten spyte van moeilike omstandighede.
Sy stuur haar CV, maak haar Appeltjie toe, staan op en strek haar arms bo haar kop uit. Gaap ’n lang gaap. Haar bed lyk skielik na die mooiste, beste, warmste plek in die wêreld. Sy sit haar selfoon op die bedkassie sodat sy sal hoor as dit vibreer en sak diep onder haar duvet in.
Sy word wakker van ’n geritsel in die hoek van haar kamer. Sy knip haar oë ’n paar keer, skuif regop in haar bed.
“Flip, Kayla, wat maak jy?”
“O!” Kayla druk iets terug in Mieke se kas. “Sorry, ek wou jou nie wakker maak nie.”
“Wat soek jy in my kas?”
Kayla wapper haar ooglede ’n paar keer, tuit haar mond. “Ek het niks om aan te trek nie.”
Mieke kyk suur van die balletstylskoene en skinny jeans na die hemprok en luiperdvelmotief-truitjie wat Kayla soos ’n tydskrifmodel laat lyk. Sy lig ’n wenkbrou.
“Dis bleak buite, oukei! Ek wou ’n baadjie leen, maar ek sou dit dadelik terugbring.”
“Ek dog my klere is te preppy vir jou.”
“Dit ís, maar van jou goeters lyk nogal vintage.”
Mieke stut haar op haar elmboë. Sy het nie krag om met Kayla te baklei nie, knik net moeg vir haar.
“Regtig?” Kayla trek ’n baadjie uit die kas. “Kan ek hierdie een maar vat?”
“Vir vandag.” Mieke sak agteroor op haar kussing en gaap.
Kayla trek die baadjie gretig aan, gaan staan voor Mieke se vollengtespieël om haar uitrusting te bewonder. “Nie heeltemal my styl nie, maar not too bad.”
“Uh-huh.”
Kayla kom staan voor Mieke. “Ek gaan brunch saam met my band buddies. Wil jy saamkom?”
Mieke kyk in die neutbruin oë met ’n spatsel geel in die een oog. Dieselfde spatsel wat sy ook het. Die enigste fisieke ding wat hulle gemeen het. Dit en dieselfde skoengrootte.
“Hoe lyk dit, Miekels? Lekker bacon, eiers en croissants. Wie is in elk geval lus vir Ma se kak pap en vetvrye jogurt?”
Asof Mieke se maag vir haar antwoord, grom dit skielik hard.
Kayla lag. “Toe kom, Mieke.” Sy kry haar aan die arm beet en begin trek. “Jy kan nie heeldag hier lê en jammer voel vir jouself nie.”
Kayla kry dit reg om haar halflyf uit die bed te kry. Mieke begin giggel.
“Oukei, goed!” Sy lig haar arms om te wys dat sy oorgee. “Kan ek net eers gaan stort?” Sy staan op, kyk vlugtig na haar bleek gesig in die spieël.
“Yes!” Kayla lig haar hand vir ’n high five, maar Mieke ignoreer dit.
Kayla laat sak haar hand. “Gaan stort jy, dan kies ek solank vir jou ’n outfit.”
Mieke kyk onseker na haar oop klerekas, mik vir ’n denimbroek en bloes.
Kayla gryp dit uit haar hande, slaan haar op die boud daarmee. “No way! Fokol preppy klere. Nie met Kayla in da house nie. Kry jou ass in die stort, ek sal die klere uitfigure.”
Mieke hoor Kayla op haar selfoon praat toe sy die badkamerdeur toestoot.
“Jy hoef my nie meer op te laai nie, Bitch … Check jou later!”
Terwyl die warm stortwater teen Mieke se rug afrol, wonder sy of sy nou al haar varkies verloor het. Brunch saam met Kayla en haar bitches. Wat het sy gedink? Seriously. Hierdie is ’n slegte idee, sy weet dit.
En Kayla se keuse van ’n uitrusting was die slegste idee nóg. Sy het Mieke in een van haar toppies ingeforseer, darem ingestem dat Mieke haar eie denim aantrek – Kayla se broeke is in elk geval te kort vir haar. Toe het Kayla ’n paar van haar “cool” skoene aangedra. Mieke wou ’n trui oor die top aantrek, ten minste om haar cleavage toe te maak, maar Kayla het ’n ligte serp om haar nek gedrapeer en ’n leerbaadjie aan haar afgesmeer.
Mieke trek ongemaklik aan die toppie toe sy en Kayla in die koffiewinkel-cum-kroeg inloop. Kayla se posse sit in ’n hoek, koppies koffie – en is dit ’n bierbottel wat sy daar sien? – voor hulle.
Mieke kyk die drie vinnig deur toe Kayla hulle uitwys. Die een is cooler as die ander.
Die enigste man aan die tafel hang aan die bierbottel asof hy bang is die ding gaan ontsnap. As jy hom ’n man kan noem. Hy lyk meer soos daardie hybrid van man-met-baard-maar-nog-nie-veel-tussen-die-ore-nie-tipe. Sy oë skuil agter ’n groot sonbril. Seker ’n babelaas.
Die meisies weerskante van hom is mooi. Die een met die pixie-haarstyl sien Kayla eerste raak en spring op om haar te soen. Vol.
Mieke stop onseker langs die tafel. Sy vergaap haar aan die meisie wat Kayla pas gesoen het asof dit die normaalste ding op aarde is. Is dit nie net irriterende tannies en ou ooms wat mens so vol op die mond soen nie? Maar sy kan nie verder daaroor wonder nie, want die soener is op pad na haar.
“Hey, ek’s Darling. Jy moet Kayla se sussie wees? Ek’t so baie van jou gehoor en hier ontmoet ek jou nou uiteindelik.”
Darling laat nie op haar wag nie en maak van Mieke se ongemak gebruik om in te beweeg vir ’n soen. Haar lippe is warm.
“M- … Mieke,” stamel sy. En bloos. Sy weet sy bloos, sy voel die warmte in haar nekhare kriewel.
Darling lag. “Jy’s hotter as wat ek gedink het jy sal wees.” Sy kyk na Mieke se cleavage. “Nice.”
Vrek! Kan die Darling-meisie asseblief ophou om so vir haar te kyk? Mieke wens ’n aardbewing tref Pretoria op hierdie oomblik.
“Whatever, Bitch! Ek weet jy het net die hots vir my,” kom Kayla tot haar redding. Sy gaan sit tussen die ander twee en wys vir Darling om ook te sit.
“Dis Ben,” Kayla wys na die sonbril-man, “en Thalia.”
“Awe.” Ben lig sy bierbottel.
“Hi,” sê Thalia en bekyk Mieke op en af.
Mieke huiwer. “Hallo, julle.”
Sy voel soos ’n toet. Wat máák sy hier? Het sy nou waaragtig vir een oomblik gedink sy sal hierdie brunch oorleef? Sy is moeg vir die huis, maar sy sal wat wil gee om nou eerder onder haar snoesige duvet te lê. Sy is uit haar plek en hulle weet dit. Veral hierdie Thalia met haar langer-as-Raponsie-hare. Dit lyk asof sy vir Mieke lag sonder dat haar mondhoeke eers beweeg.
“Uhm …”
“Grab a chair, sus.” Kayla wys na ’n stoel by die tafel langsaan.
Mieke trek ’n stoel nader, maar niemand wend ’n poging aan om haar in die kringetjie in te sluit nie. Sy kyk na Ben. Wat die dinges is fout met die man? Het goeie maniere saam met nugterheid by die venster uit verdwyn? Nie dat sy dink hy is gesuip nie, maar iemand wat elfuur die oggend bier drink, kan nie veel van ’n opvoeding hê nie, of hoe?
Mieke skuif die stoel dat sy so half skuins tussen Darling en Ben sit.
Kayla trek ’n spyskaart nader. “Ek is dood fokken honger. Het julle al bestel?”
Thalia knik. “En reeds geëet, ja.” Sy wys na haar horlosie. “Omdat ons al ’n uur terug hier aangekom het, soos ons afgespreek het.”
“Cool,” sê Kayla en wink ’n kelner nader. “Julle breakfast special, asseblief.” Sy kyk na Mieke, lig twee vingers. “Twee daarvan?”
Mieke weet nie wat om van so ’n special te verwag nie, maar voor hierdie mense sal sy dit nie eers oorweeg om haar gunstelingontbyt van jogurt, muesli en vars vrugte te bestel nie.
Sy knik. “En koffie, asseblief.”
“En twee koffies, dankie, bokkie,” handel Kayla die bestelling af.
Mieke kyk na haar suster. Wie ís hierdie mens? Wanneer het sy hierdie straatwyse, heeltemal-te-sexy-en-wysneus vroumens geword? Vir Mieke is sy nog die klein dogtertjie wat saam met haar pop gespeel het. Sy wil sug, maar hou dit in.
“So, hoe was die res van Saterdagaand toe?” vra Kayla vir Ben. “Of sal ek eerder sê Sondagoggend?”
“Ons moes hierdie een weer daar uitsleep,” hy wys na Darling, “maar ek sou sê die launch was nie te kak nie.”
Darling giggel. “Nie te kak nie! What an understatement.”
Sy draai na Mieke. “Siek is die coolste band ever. Jy moes daar gewees het, girl, want een van die dae gaan al hulle shows sold out wees. Mark my words.”
Ben snork. “Dit wil ek eers sien.”
“Is jy in die band … uhm… Siek?” waag Mieke ’n vraag aan Ben.
Hy knik. “Yes. Drummer, baby.”
“En die beste ook daarby,” sê Darling.
Mieke sien hoe Thalia vir Kayla iets op haar foon wys. Kayla rol haar oë en kyk vlugtig na Darling.
Thalia vat ’n slukkie koffie, kyk vir Mieke. Sy kyk vinnig weg. Wat ís dit aan hierdie meisie wat Mieke so ongemaklik laat voel?
“En jy, Mieke?” vra Darling.
“Ekskuus? Ek?”
“Ja, like, wat doen jy vir ’n lewe? Kayla praat net altyd van haar ouer suster wat hierdie glamorous lewe het. Is dit waar dat een of ander Blou Bul-dude op jou gecheat het?”
Mieke verstik amper aan haar koffie. Sy moet keer of sy word op die spot naar. Sy is nie iemand wat vloek nie – of dan, sy probeer om nie te vloek nie – maar die woord “shit” ontsnap uit haar mond saam met ’n paar druppels koffie.
“Ekskuus.” Sy hoes, probeer haarself regruk. “Ek is op die oomblik werkloos. Ek soek maar.”
Darling glimlag vriendelik. “Soek ons nie almal maar nie, you know. Waarin stel jy belang?”
“Tale.” Mieke weet dit klink belaglik, maar wat sal sy omgee wat hierdie hipsters van haar dink? Maar sy gee om, sy weet net nie hoekom nie.
“Skryfwerk,” voeg sy by. “Ek het tale geswot, so ek soek werk in daardie rigting. Ek sal daarvan hou om vir ’n tydskrif te werk, of so.”
“Cool.” Darling knik. “As ek eendag groot is, wil ek ook ’n graad hê.”
Mieke wil nie vra nie, want sy kan sommer net dink. Darling is Kayla se vriendin. Dis mos waar dat voëls van eenderse vere mekaar altyd vind. Hierdie halfvrou-halfkind (wat sekerlik nie Darling gedoop is nie) val seker ook van die een partytjie na die ander.
Band-Aids, het Kayla haar en haar posse eendag genoem. Soos Kate Hudson en haar vriendinne in Almost Famous.
“Ons slaap nie noodwendig met die band members nie, maar ons support die musiek. Dis waaroor dit gaan – die musiek,” het Kayla haar verseker.
Die woord “groupie” mag nie genoem word nie, maar die naam Band Bitches is tans aanvaarbaar. Mieke sukkel om by te bly.
“Dude!” Darling klap met haar hand op die tafel dat die koppies skoon vibreer en Ben se bier amper op die vloer beland.
Mieke wip omtrent van haar stoel af. Thalia skuif haar koppie geïrriteerd, Kayla lag en Ben hou sy bier teen sy bors asof dit ’n pasgebore baba is.
“Hier kom dit. Darling het nou weer ’n brainwave gehad,” spot Kayla, maar sy knipoog vir Darling. “What’s up, my bitch?”
Tot Mieke se verbasing gooi Darling haar arm om haar nek. “Mieke!”
“Wat van my?” skerm Mieke. Sy trek-trek aan haar toppie. Darling hou haar skouer styf vas, sy het geen wegkomkans nie.
“Mieke kan ons join op Siek se road trip en daaroor skryf! Dis mos wat almal deesdae doen!”
Ben sit sy bier hard neer. “Fuckin’ A! Brilliant. Dit sal befok wees, bra.” Hy sit sy hand op Mieke se skouer. Sy ruik sy sweet.
“Uhm …” Mieke kyk dringend na Kayla. Red my, asseblief, smeek sy met haar oë, maar Kayla lag.
“Dis nie ’n slegte plan nie, Miekels. Hoe lykit?”
Het haar suster boom gerook toe sy nie gekyk het nie? Het sy nou heeltemal al haar varkies verloor?
“Ek … Nee, wag …”
“Ons vertrek eers oor ’n week. Daar’s oorgenoeg tyd om te beplan. Ons vat die pad vir ’n paar weke.” Darling verlos Mieke van haar greep, tel met haar vingers. “Dis ek, Kayla, die band, en dan jy! What do you say?”
Mieke weet nie hoekom sy na Thalia kyk nie. Vir aanmoediging? Sy oorweeg dan nie eens om te gaan nie, wat sal sy nou goedkeuring by die koningin-bitch soek? Vrek, sy moet haar kop laat lees.
“En Thalia?” vra sy tog.
“Ek’s in die band,” sê Thalia droog, sluk die laaste van haar koffie af. “En ons twee is laat vir practice,” sê sy vir Ben.
Hy sug. “Ja, ja.” Krap in sy beursie, haal ’n noot uit, gooi dit op die tafel.
Toe hy opstaan, lig hy sy sonbril en vat Miekse se hand in syne. Sy wil losruk, maar sy kyk vas in die mooiste paar blou oë. Van daai soort wat tot in jou siel kyk. Wat deur jou klere én onderklere sien. En wat Ben tien teen een help om diep in vrouens se onderklere te klim. Reg, hoekom sit sy hier en dink aan onderklere?
Hy lig haar hand en soen dit. Sy sit effens terug. Wat ís dit met hierdie vriendekring en hulle vrygewige soenery?
“Hoop ek sien jou op die pad … Kayla se suster.”
“Mieke,” help sy hom reg.
Hy lag. “Kayla se suster Mieke.”
“Move jou gat, Ben.” Thalia is langs hom, aan die tik op haar selfoon, haar een oog op hom. “Let’s go.”
“Ciao, ladies.” Hy waai vir Kayla en Darling en in ’n sweem van sweet en bier is hy weg.
“I think he likes you,” sing Darling.
Mieke skud haar kop vinnig. “ ’n Man soos daai hou van enigiets met boobs. En hy sal enigiets sê om nader aan daardie boobs te kom.”
Kayla lag kliphard. “Ek het nie geweet jy kan so funny wees nie, Miekels! Dalk is dit my top wat aan jou afgerub het.”
Mieke bloos. Ag nee, daai flippen bloserigheid al weer! Sy voel skoon omgeëllie. Vreemd. Uit haar plek. Hoe het sy hier beland? Sy wil uit hierdie klere klim en haarself diep in haar duvet toerol. Nou!
Die kelner sit die breakfast special voor hulle neer. Spek, twee loperige eiers, tjips, roosterbrood en varkworsies. Mieke ril.
Darling steel ’n tjippie van haar bord. “Girl, jy gaan super baie fun hê saam met ons. Die Band Bitches het die meeste pret, jy sal sien. Ons hoef nie all hours te practise nie en ons hoef nie met Thalia te deal nie.”
Sy kyk vir Kayla. “Well … Not always. Maar die punt is: We have all the fun and none of the crap!”
En al wat Mieke kan doen, is om haar vurk in ’n vet, olierige varkworsie te druk.