Читать книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Die rykste erfenis en grootste bate wat ons as gelowiges het, is die waarhede wat in God se Woord vervat is. Waarhede is beginsels, en wanneer ons dit prakties uitleef, sal ons altyd daarby baat. Dit is altyd tot ons voordeel.

Psalm 23 is sekerlik die heel bekendste psalm in die Bybel. Ongelukkig word hierdie wonderlike, ryk Skrifgedeelte meestal by begrafnisse gebruik en aangehaal. Dit lyk asof dit met die dood geassosieer word terwyl dit in werklikheid ’n psalm oor die lewe is.

Goedheid en guns sal ons volg, al die dae van ons lewe.

Hierdie belofte uit God se Woord het Jenna-Leigh duidelik haar eie gemaak. Die Psalm 23-verhouding tussen haar en God beskryf sy sonder skroom in hierdie boek as ’n intieme verhouding tussen haar (die skapie) en Christus (haar Herder). En die hele tyd jaag sy die lewe in oorvloed wat Christus aan die kruis vir haar bewerkstellig het daadwerklik na.

In die bladsye van hierdie boek kom haar verhouding met God duidelik na vore. Haar geloof in sy goedheid en leiding is kinderlik en aansteeklik. Sy het die verrassende vermoë om die leser haar wêreld deur haar oë te laat sien, byna asof jy self daar is.

Terwyl ek haar storie gelees het, kon ek haar kleintyd in Bonnievale saam met haar familie sien. Ek kon die kos en die lug daar ruik. Die passie wat haar ouma vir God en God se waarheid gehad het, kon ek saam met haar ervaar.

Ek kon hierdie boek nie neersit nie. Jenna-Leigh het ’n droom om haar einddoel te bereik. Van doodgewone meisiekind-uit-die-vallei tot ’n uitsonderlike jong vrou, een wat vandag ’n impak op duisende ander mense het. Dit is Jenna-Leigh.

Haar storie, soos baie van ons stories, sluit ook ’n tyd in toe sy haar paadjie alleen gestap het. Omdat sy gedink het sy weet beter as wat ons ouers ooit sou kon weet. Halsstarrig het sy geglo dat dinge vir haar anders sou wees. Ai, die dom en lawwe keuses wat ons soms maak … Ons kan die genade van God soms soos ’n rubberrekkie miskien net ’n bietjie té ver rek.

Jenna-Leigh is openhartig en gee hier ’n eerlike vertelling van haar lewe. Ek het haar beter leer ken deur die bladsye waarin sy haar hele hart duidelik en pynlik uitstort om haar lesers aan te spoor.

Enigeen wat dalk glo hulle ken haar reeds deur RSG of eNuus, sal haar deur hierdie boek nie net beter leer ken nie; jy sal ook liewer vir haar word. Jy sal saam met haar reis, vanaf haar kleintyd, deur haar skooljare, tot waar sy vandag is.

Daar sal oomblikke wees dat jy lag; daar sal oomblikke wees dat jy huil. Tog sal jy deurentyd opmerk hoe haar Herder die hele pad by haar teenwoordig was en steeds is.

Jenna-Leigh se humor in hierdie boek is verfrissend. Haar anekdotes oor die swirlkous, maar veral die analogie daarvan, is eenvoudig briljant. Wat ’n pragtige Suid-Afrikaanse storie is dit nie!

Wilma Olivier

Senior pastoor

Rivers Kerk, Sandton, Johannesburg

Goedheid en guns

Подняться наверх